Aardse oppermagte sal die onderspit delf voor die Seun van ‘n mens

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2024-02-04
Text: 
Daniël 7:13-14 & 25-27
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 7:13-14 & 25-27

 

Daniël het hierdie visioen ontvang in ‘n tyd toe God se volk ‘n speelbal was van groot politieke magte.

Ons kan in sekere sin hiermee identifiseer.

In ons land voel ons dikwels ook ‘n speelbal van die politiek.

Dit kan mens onseker oor die toekoms maak.

Verder is ons land en die res van Afrika dikwels ‘n speelbal van die wêreld.

Hoe dit hier gaan, hang baie af van wat die grootmagte in die wêreld doen.

Soos die spreekwoord sê: As Amerika hoes, kry Afrika longontsteking.

‘n Klein dip in die ekonomie in lande soos Amerika of China het groot gevolge vir die armer lande hier in Afrika.

 

Nou het die ballingskappe destyds nie net gevolge gehad vir Israel as volk in nasionale opsig nie, dit het ook groot gevolge gehad vir die godsdiens.

In daardie periode van die heilsgeskiedenis het God ‘n spesiale verbond met Israel gesluit, met ‘n spesiale opdrag vir hulle met die oog op die koms van die Messias.

In daardie periode het sy kerk vir ‘n groot deel saamgeval met daardie volk.

Vir Daniël en die getroues in ballingskap was nie die nasionale vernedering, maar die godsdienstige veel erger.

Die feit dat die tempel verwoes was, die feit dat hulle die HERE nie ongehinderd kon dien in die ballingskap, die feit dat hulle nie kon nakom dit wat die HERE hulle opgedra het in Moses se wette nie – dink aan die offerwette.

Wat dit betref verkeer ons in gunstiger omstandighede.

Daar word nie eers ‘n stokkie gesteek voor ons eredienste nie, hetsy op Sondae, hetsy deur die week.

In ander dele van die wêreld is dit tans nie so nie.

Ek het gereeld kontak met ‘n predikant in die ooste van Indië, en daar verkeer die kerke in groot spanning.

Die regering vervolg hulle nie, maar die regering tree nie op teen rebelle wat hulle wel teiken nie.

Die gevolg is dat ‘n aantal kerke al afgebrand is.

As ons vandag luister na die HERE se Woord uit hierdie visioen wat Daniël ontvang het, laat ons dan ook aan hulle dink.

En ook aan die gelowiges in ander dele van die wêreld, soos in Islamitiese en kommunistiese lande.

Daar is die kerk regtig ‘n speelbal van magte wat oënskynlik baie sterker is.

 

Maar die bemoedigende boodskap wat uit die visioen kom wat Daniël ontvang het, is dat daardie oënskynlike oppermagte swak en weerloos is voor die God van hemel en aarde, Hy wat hulle Verbondsgod is.

 

Tema: Aardse oppermagte sal die onderspit delf voor die Seun van ‘n mens

1 Aardse heersers

2 Hemelse heersers

 

1 Aardse heersers

Dit gebeur meer in die Bybel dat diere ‘n rol speel in visioene.

Meer spesifiek, simboliese diere, wat nie letterlik so bestaan het nie.

Vier groot diere wat uit die see opgeklim het.

‘n Leeu met vlerke van ‘n arend en ‘n mensehart.

‘n Beer.

‘n Luiperd wat selfs vier vlerke op sy rug het en ook vier koppe.

En dan ‘n vierde dier wat nie ‘n naam kry nie, wat nie met ‘n bestaande diersoort vergelyk word nie, omdat dit so lelik was.

Dit was ‘n gedrog, ronduit verskriklik.

Ystertande, pote wat vertrap, tien horings met nog ‘n horing wat uit sy kop uit groei, waarop daar mensoë was en ‘n mond wat groot dinge spreek.

Ons sou vandag sê ‘n grootbek.

Onwillekeuring dink mens aan films soos Narnia of Lord of the Rings met die vreesaanjaendste wesens, diere, gedrogte, wat in die leër veg van die magte van die kwaad.

 

In Daniël se visioen, soos een van die engele vir hom verduidelik, het hierdie vier diere simbool gestaan vir konings en koninkryke op aarde.

Daniël was veral onrustig oor daardie vierde gedrog van ‘n dier, groter as die ander, en het verder daaroor uitgevra.

Die engel sê toe: Hierdie vierde dier sal regtig erg wees.

Hy sal die hele aarde verslind en vertrap en verbrysel.

Ook daardie tien horings op sy kop het ‘n betekenis gehad.

Dit staan vir tien konings.

En die nuwe horing wat uitgegroei het, is nog ‘n koning, en hy sal nog veel erger wees as die voriges.

Veral omdat hy die Allerhoogste sal laster en die heiliges van die Allerhoogste sal mishandel.

Hier gaan dit baie konkreet oor die vervolging van gelowiges.

 

Maar dan lees ons die bietjie raaiselagtige uitspraak: ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.

Waarop verduidelikend volg: Die gereg sal sit en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.

Hoe erg en magtig sy bewind ook is, dit sal tydelik wees.

God sy dank!

 

Samevattend, wat die engel vir Daniël duidelik maak, was dat hierdie visioen ‘n profesie is.

Dit is nie rooskleurig nie.

Daar kom bitter moeilike tye vir die kinders van die HERE.

Maar, soos dit altyd by profesieë in die Bybel werk, daar word ook geprofeteer oor ‘n verlossing daarna – selfs ‘n ewige verlossing.

Na die gitswart wolke gaan die son weer deurbreek.

Dit is – dink aan die onlangse preek oor Sondag 1 – die bloudruk van die Evangelie.

Die swaar tye word nie ontken nie.

God se kinders word voorberei op die oordele wat gaan kom.

Maar daar sal uitkoms wees, dit staan vas!

Hoekom?

Omdat daar Een is wat ver bo al hierdie oppermagte op aarde verhewe is.

 

En in hierdie visioen van Daniël kom dit veral na vore.

Daniël het dit noukeurig opgeskryf.

Daar is ‘n Oue van dae wat plaasgeneem het op die trone.

Oue van dae ...

In die Bybel vind ons ook sinonieme uitdrukkings, soos: Hy wie se dae van ouds is.

Soos in Psalm 93:2: “Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U”.

Die tipiese paralelle rymvorm in Hebreeus vind mens hier.

Van ouds af is dus net ‘n ander manier om te sê: Van ewigheid af is U.

Of dink aan die uitdrukking: Hy wie se uitgange uit die voortyd is (Miga 5:1).

As Daniël ‘n Oue van dae sien, is die betekenis dus: Iemand wat ewig is.

Sy oppermag is duidelik sigbaar in die tienduisende maal tienduisende wat voor Hom gestaan het.

Engele, soldate, gereed om direk sy bevele uit te voer.

Gemeente, tienduisend maal tienduisend is ‘n honderd miljoen.

Die grootste weermag tans in die wêreld is die van China, met twee miljoen soldate.

Dis maar klein vergeleke met ‘n honderd miljoen.

En dan neem ons nog nie in ag dat daar staan tienduisende – meervoud – maal tienduisende.

Elke weermag sal twee keer dink voordat hulle teen so ‘n oormag uittrek.

 

Wat ook geopenbaar word, is dat die Oue van dae op sy trone gaan sit het.

Die doel: Om reg te verskaf – sien vers 22 – nadat daardie verskriklike gedrog van ‘n dier teen die heiliges oorlog gevoer en hulle oorwin het.

Daardie sal ‘n verskriklike tyd wees.

Die HERE gee Daniël hierdie visioen om sy volk daarop voor te berei.

Hierdie horing sal woorde spreek teen die Allerhoogste.

Hy is brutaal, Godslasterlik.

Daardie horing sal die heiliges van die Allerhoogste mishandel.

Hy sal probeer om tye en wet te verander.

 

Gemeente, nou is daar deur al die jare al geprobeer om die details van hierdie visioen aan konkrete historiese gebeurtenisse te koppel.

Wie was daardie vier diere, wie was al die konings?

Wie was die brutale gedrog, die grootste dier?

Wat was dit wat hy so godslasterlik gespreek het?

Hoe en wanneer het hy God se kinders verdruk?

Oor die eerste drie diere is daar nie baie details nie.

Redelik algemeen is dat uitleggers hulle soos volg identifiseer:

Die leeu is Nebukadnesar en sy  Babiloniese Ryk.

Die beer is die ryk van die Meders.

Die luiperd is die ryk van Persië.

En dan is die vierde dier die Grieks-Macedoniese Ryk.

Oor hierdie vierde gedrog van ‘n dier staan daar meer.

Daarom is die fokus veral op hierdie dier.

Hierdie ryk het geduur vanaf Alexander die Grote in 336vC via Antiochus Epifanes die Vierde totdat die Romeine die heerskappy oorgeneem het, net voor die koms van Christus.

Hierdie ryk, sê vers 23, sou die hele aarde verslind, vertrap en verbrysel.

Die Grieks-Macedoniese Ryk was inderdaad kolossaal.

Dit het in die ooste byvoorbeeld gestrek tot aan die Indusrivier, wat deur die teenswoordige Pakistan stroom.

En hierdie ryk het geheers oor ‘n periode van maar liefs driehonderd jaar.

En binne hierdie periode van drie eeue, is die meeste uitleggers dit eens, val die fokus veral op die uiters arrogante Griekse heerser met die naam Antiochus Epifanes die Vierde.

Daar is naamlik dinge wat hy gedoen het wat pas by die details van hierdie visioen.

 

Hierdie Antiochus is die horinkie waarvan vers 8 praat, wat opgekom en drie ander horings ontwortel het.

Wat was naamlik die geval?

Hierdie Antiochus het die mag gegryp na afloop van sy pa, Antiochus die Derde, se bewind.

Hy was die jongste boetie en het nie reg gehad op die troon nie.

Maar hy het sy ouer broers uitgeskakel – drie ander horings ontwortel soos die visioen sê – om self die mag te gryp.

Daarna het hy ‘n ware skrikbewind uitgeoefen.

Hy wou die Jode helleniseer, deel maak van die Griekse Ryk, en onderdeel daarvan was om hulle godsdiens te verander.

Die tempeldiens in Jerusalem het hy vervang met ‘n heidense erediens.

Hy het beheer van die tempel in Jerusalem oorgeneem.

Hy het die vaste tye van die Mosaïese offerdiens afgeskaf; die feestye probeer verander.

Hy het selfs ‘n afgodsbeeld in die tempel geplaas.

Hy het die gelowiges verhinder om die HERE te dien.

Geloofsvervolging dus.

Dit was ‘n verskriklike tyd.

 

Maar, God sy dank, sy skrikbewind was tydelik.

Dit het ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd geduur.

Daarna het die gereg gaan sit.

Die gedrog is gedood, sy onooglike liggaam vernietig, met vuur verbrand sodat daar niks oorgebly het nie (vers 11).

 

Tyd, tye en ‘n halwe tyd word deur sommige uitleggers geïnterpreteer as:

‘n Jaar, twee jare en ‘n halwe jaar – in totaal drie en ‘n halwe jaar.

Dit word dan verbind aan die jare 167-164 voor Christus, toe hierdie Antiochus aan bewind was.

‘n Ander verklaring is om hierdie uitdrukking – tyd, tye en ‘n halwe tyd – simbolies te lees.

‘n Vervolging wat begin, dan veel erger word, maar dan halfpad skielik stopgesit word.

Dit dui op die ingrype van God, wat nie sal toelaat dat sy kinders eindeloos moet ly nie.

 

Voordat ons verder gaan, net nog ‘n opmerking oor hierdie vierde dier, die gedrog sonder ‘n naam.

Daar is naamlik eksegete wat dit anders uitlê, naamlik dat hierdie vier dier dui op die Romeinse Ryk.

‘n Belangrike argument wat genoem word is dat juis ten tye van die Romeinse Ryk die Seun van die mens, Jesus Christus, op aarde sy werk gedoen het.

Tog kies ek en baie eksegete nie hiervoor nie, maar wel daarvoor dat die eerste fokus val op die Grieke en op die verskriklike tyd onder Antiochus IV Epifanes.

Dit is die eerste fokus.

Maar, soos dit by die Bybelse profesieë werk, hulle kan meerdere kere vervul word.

Antiochus IV Epifanes was ‘n bloudruk vir wat ons gerus kan noem: die Antichris.

En so was dieselfde karaktertrekke ook aanwesig in die Romeinse Ryk, dink aan Keiser Nero byvoorbeeld.

En, lees ons in Openbaring die waarskuwing, daar gaan nog Antichriste kom!

Die Apostel Johannes sien ‘n dier wat uit die see opkom met sewe koppe en tien horings – Openbaring 13:1.

Dit herinner direk aan die gedrog uit Daniël 7.

Dieselfde makely, dieselfde sataniese resep.

Net soos Daniël God se volk onder Griekse heerskappy gewaarsku maar ook bemoedig het, so doen Christus met ons in sy Openbaring aan Johannes.

Julle moet daarop voorbereid wees!

Ook julle sal dit nie bespaar word nie.

Ook julle sal moet leef onder die regering van die Antichris.

Maar onthou, dit is slegs vir ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd!

Skep moed, dit sal skielik onverwags verby wees!

Alle aardse heersers se dae word getel.

Mene, mene, tekel, ufarsin.

Getel, geweeg, en te lig bevind.

Aardse oppermagte sal die onderspit moet delf voor die Seun van ‘n mens

 

Dit bring ons by die tweede punt.

Want in ons teks hoor ons ook van ‘n tyd waarin God se kinders verlos en vry sal wees.

 

2 Hemelse heersers

Meer nog, waarin hulle self sal heers!

Vers 27: Die heerskappy en grootheid van al die koninkryke onder die hemel sal aan hulle gehoorsaam wees.

Hierdie tyd is direk gekoppel aan ‘n majestueuse gebeurtenis.

Naamlik dat met die wolke van die hemel Een soos die Seun van ‘n mens sal kom tot by die Oue van dae.

‘n Mens dus wat opstyg tot by die troon van God.

Aan Hom word dan heerskappy en die koningskap gegee.

Al die volke en nasies en tale sal Hom vereer.

Sy heerskappy sal ‘n ewige heerskappy wees wat nie sal vergaan nie (vers 13-14).

 

Gemeente, waar sommige details in die visioen dalk nie so duidelik is nie, is dit baie duidelik wie hierdie Seun van ‘n mens is.

En die rede hoekom dit duidelik is, is omdat in die Nuwe Testament niemand minder nie as die Here Jesus Homself hiermee identifiseer.

Jesus haal aan uit Daniël 7:13 as Hy vir die Sanhedrin sê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matt 26:64)

Jesus noem Homself die Seun van die mens.

Hy eien hierdie titel uit Daniël Homself toe.

Jesus sê dus met eie woorde: Ek is die vervulling van daardie visioen wat Daniël ontvang het!

 

En dit is die rede, gemeente, hoekom hierdie visioen ook vir ons so relevant is.

Nie net vir die Jode wat onder daardie vier diere se skrikbewind moes oorleef nie.

Die visioen stel ‘n tyd in die vooruitsig waarin hierdie Seun van ‘n mens alle heerskappy sal ontvang.

En saam daarmee sal ook die heerskappy gegee word aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste (vers 27).

Dit wil sê: die volk wat bestaan uit die heiliges oftewel die wat aan die Allerhoogste toegewy is.

Die Koning met sy onderdane sal dus saam in ewigheid heers.

En as hierdie Koning Jesus Christus is, dan is sy onderdane nie net die Joodse volk van die ou verbond nie.

Sy onderdane – dit maak die Nuwe Testament baie duidelik – is die gelowiges, die geheiligdes, uit elke volk en stam en nasie.

Nou word in hierdie visioen nie presiese datums genoem wanneer dit alles gaan gebeur nie.

Dit lê in die toekoms en dit gaan beslis kom – dit word wel aan Daniël geopenbaar.

En soos ons weet, die begin van hierdie vervulling is toe Christus opgevaar en plaasgeneem het op die hemelse troon.

Die volledige vervulling sal wees wanneer Christus terugkom op die wolke, en alle gelowiges saam met Hom tot in ewigheid sal regeer.

Hemel en aarde sal saamsmelt, saam met Hom sal ons hemelse heersers word oor die ganse geskape heelal.

 

Geliefde gemeente, die boodskap van hierdie visioen kom ooreen met die res van die boek Daniël.

God bepaal die tye.

Hy stel konings aan en sit hulle af.

Selfs al waan ‘n koning homself as god, soos Antiochus Epifanes gedoen het, voor die God van die hemel is hy ‘n stoffie op ‘n weegskaal.

Mag maak mense dikwels korrup.

Gelukkig dat elke mens se dae getel is.

Hierdie visioen gee ons ‘n kykie agter die skerms.

In die hemel voor God se troon is daar ‘n leër met ontelbare soldate.

Vanaf daar kan en sal God ingryp.

In die hemel word besluit wat daar op aarde moet gebeur.

 

Vir Daniël en die gelowiges van sy dae word in die visioen die sluier al ‘n bietjie gelig oor wat daar in die toekoms gaan gebeur.

Groot en baie belowende vooruitsigte.

Vir ons vandag is nog veel meer reeds bekend.

Die eerste koms van die Seun van die mens, God se eie Seun ons Here Jesus Christus, is al agter die rug.

Ons aartsvyand het Hy al beslissend verslaan.

Hy het al weer teruggekeer na die hemel.

Hy het al plaasgeneem op die troon.

Hy regeer alreeds oor alle volke, nasies en tale.

Al wat ons nou nog te wagte staan, is die dag waarop Hy sal terugkom, waarop hemel en aarde verenig sal word.

Vanaf dan sal ons as gelowiges saam met Hom as konings en koninginne regeer.

‘n Vooruitsig om aan vas te hou, des te meer as die hede moeilik is.

Die tyd toe Daniël die visioen ontvang het – die eerste jaar van Koning Belsassar staan daar in vers 1 – was ‘n moeilike tyd vir die Jode, hulle was ballinge.

In daardie tyd gee die HERE troos met hierdie visioen.

En later, in die tyd van Antiochus Epifanes die Vierde het die Jode Daniël se profesie gehad, as houvas.

Daarin het die belofte gestaan dat dit slegs ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd sou duur.

Vandag is hierdie visioen steeds ons houvas.

Hierdie visioen is opnuut herhaal en bevestig in die Nuwe Testament.

Dink aan die Openbaring wat die apostel Johannes ontvang het.

Daarin word vir ons die sluier gelig oor wat daar in die toekoms Christus se kerk te wagte sal staan.

Dat daar ook swaar tye sal kom.

Maar Christus gee die versekering, ook in Openbaring: slegs ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd – Openbaring 12:14.

Broer en suster, bly standvastig in die diens van die Here.

Wees nie verbaas as daar beproewings kom nie.

Maar weet, hulle sal tydelik wees.

Dit bid ons ons geloofsgemeenskap reg oor die wêreld toe.

Dat hulle troos vind uit die belofte: ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd.

Skielik, onverwags, sal alles verby wees.

Skielik, soos ‘n dief in die nag, sal Christus terugkom.

Dan sal ons saam met Hom in sy ewige koninkryk regeer.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 93:1-3

Wet

Ps 93:4

Gebed

Skriflesing: Daniël 7

Ps 94:1,2,11,12

Teks: Daniël 7:13-14 & 25-27

Preek

Ps 99:1-5

Gebed

Kollekte

Sb 29:1,2,3,6,7

Seën