Die enigste Troos wat jou dra, mag jy saam met jou dra

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2024-01-14
Text: 
Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 1
Preek Inhoud: 

Oor die nut en noodsaak van belydenisgeskrifte is daar deur die eeue diskussie gewees.

Sedert die eerste eeue het die ware kerk in belydenisgeskrifte rekenskap gegee van dit waarin hulle glo.

‘n Belydenisgeskrif het dikwels rondom ‘n spesfieke situasie ontstaan.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis het byvoorbeeld ontstaan vanuit die dooppraktyk in die vroeë kerk.

Bekeerlinge wat gedoop is in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, het daarmee hulle geloof in God drie-enig bely.

Die Geloofsbelydenis van Nicea het ontstaan hoofsaaklik in reaksie op Arius, wat Chrisus se Godheid van ewigheid af ontken het.

Die Geloofsbelydenis van Athanasius het onder andere ontstaan in reaksie tot mense wat na die ander uiterste gereageer het, en Christus se volledige mensheid ontken het.

Dan het ons uit die eeu van die Reformasie die Nederlandse Geloofsbelydenis ontvang, wat geskryf is as apologie aan die koning omdat die Protestante hewig vervolg is.

Die Heidelbergse Kategismus is ook in daardie tyd geskryf, om die jeug en volwassenes weer te onderrig in wat God se Woord werklik sê.

Na jare van Roomse dwaalleer was ‘n nuwe kurrikulum in die hoofwaarhede van die Skrif bitter noodsaaklik.

En dan laastens het ons nog ‘n belydenisskrif ontvang, die Dordtse Leerreëls, wat opgestel is in reaksie op ‘n beweging in die kerke wat anders oor die uitverkiesing begin dink het.

 

Dit sou dom wees om hierdie belydenisgeskrifte, hierdie historiese dokumente, in die kas te los.

Die kans is bitter groot dat ons dan in die hede dieselfde foute uit die verlede gaan herhaal.

En dit sien mens ook keer op keer gebeur.

Mense wat die belydenisgeskrifte aan die kant skuif, val so dikwels vroeër of later vir ‘n dwaalleer.

Hulle beweer dan dat net die Bybel vir hulle deurslaggewend is.

Maar wat vergeet word, is dat elkeen van ons ‘n uitgebreide netwerk van gedagtes en vooroordele ontwikkel, waarmee ons die Bybel lees.

Of ons benader die Bybel deur bekende hedendaagse predikers en ons dink dat hulle die regte benadering het.

En so word, sonder dat mense dit dalk besef, ‘n MacArthur, of ‘n John Piper, of ‘n RC Sproul, ons belydenisgeskrif.

 

In die Gereformeerde tradisie het ons die gesonde gewoonte om die belydenisgeskrifte te gebruik.

Hulle is nie die menings van individuele teoloë nie.

Hulle het tot stand gekom na uitgebreide beraadslaging en toetsing deur die kerke gesamentlik, om te verseker dat hulle Bybels gebalanseerd is.

‘n Dwaalleer is so dikwels ‘n enkele aspek uit die Bybel wat oorbeklemtoon word, en dan raak dit hele ding uit balans.

Die belydenisgeskrifte help ons om die gesonde balans te handhaaf.

Baie onderwerpe, mens kan sê die belangrikste leerstukke uit die Skrif, kom aan die orde.

‘n Bondige samevatting daarvan word gegee.

So help hulle ons om vinnig in die Bybel in te kom, as ons ‘n leerstuk bestudeer, of dit nou die skepping is, die wederkoms, die kerk, die uitverkiesing, die gebed, noem maar op.

En net vir alle duidelikheid, ek het dit al dikwels beklemtoon, in die Gereformeerde tradisie preek ons nie uit die belydenisgeskrifte asof hulle soort van ook Bybelboeke is nie.

Ons gebruik hulle, soos ek gesê het, as ‘n poort om vinnig in die Bybel te kom.

As dit byvoorbeeld oor die leerstuk van die kerk gaan, gee Sondag 21 ‘n samevatting met teksverwysings van belangrike Bybelgedeeltes wat oor die kerk handel.

 

Daar is nog ‘n belangrike funksie van die belydenisgeskrifte.

Soos ek gesê het, hulle dek die belangrikste leerstukke van die Skrif.

En soos wat ons die belydenisgeskrifte gebruik, sorg dit daarvoor dat al hierdie ryke verskeidenheid van die Bybelse leer op gereelde basis in die erediens aan die orde kom.

As ‘n dominee self elke keer kan kies waaroor hy wil preek, kan daar eensydigheid ontstaan.

Daar kan iemand wees wat by voorbeeld nie van die tien gebooie hou nie, en dan preek hy nooit daaroor nie.

So kry die gemeente ‘n eensydige dieet.

Andersom kan dit ook gebeur.

As dit gemeente nie lus is vir bepaalde tema’s uit die Skrif nie, kan hulle die dominee onder druk sit.

Asseblief net die genade, dominee, los maar daardie hoofstukke oor God se toorn.

Kortom, die belydenisgeskrifte is een van die maniere hoe verseker word dat die hele breedte en diepte en rykdom van die Bybel in die eredienste aan die orde kom.

 

Vandag mag ons weer ‘n begin maak met die behandeling van die Heidelbergse Kategismus.

En weer eens, ek gaan nie die Heidelbergse Kategismus preek nie, maar die Heidelbergse Kategismus gaan ons help om die Skrif oop te maak.

Wat so opvallend is van die belydenisgeskrifte, is dat hulle deurdrenk is van die Bybelse spraakgebruik.

Ons hoor nie terme en benaderings en gedagtelyne van teoloë of sinodes uit die verlede nie.

Ons hoor deur en deur Bybelse begrippe.

 

Dit is al direk sigbaar aan die begin van die Kategismus.

Die woordjie waarmee dit begin: troos.

Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Hierdie Bybelse troos mag vanaand ook weer klink.

 

 

Tema: Die enigste Troos wat jou dra, mag jy saam met jou dra

 

Die woord troos kom direk uit die Bybel.

In totaal kom die woord troos meer as honderd keer in die Bybel voor.

Dikwels verwys dit spesifiek na dit wat Christus gedoen het.

Soos 2 Thessalonisense 2: “En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en 'n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het” (16).

En 2 Korinthiërs 1: “Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.”

Vir hierdie preek het ek spesifiek gekies vir die pragtige woorde uit Jesaja 40, waar ons ook hierdie woord vind.

Ons het dit gelees: “Troos, troos my volk, sê julle God.” (Jes 40:1)

 

Daardie woorde het natuurlik ’n historiese konteks gehad.

In die vorige hoofstuk word die ballingskap na Babel aangekondig.

“Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is ... na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE, van jou seuns wat uit jou sal voortkom ... sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.” (Jes 39:6-7)

Hierdie is toekomstige realiteite.

Daar is donker wolke oppad.

Dit is die volk eie skuld.

Die HERE is regverdig, ook daarin dat Hy die sonde straf.

Daar sal geen manier wees waarop Juda sal kan sê: Ons het die ballingskap nie verdien nie.

In feite moes dit al veel en veel eerder gebeur het.

God se genade het dit elke keer weer uitgestel.

Jesaja profeteer namens die HERE dat dit op pad is.

Maar, dieselfde profeet kry opdrag om nog iets te profeteer.

God wat ewig is, wat die toekoms ken, openbaar ook aan die volk wat daarna gaan gebeur.

Daar gaan ’n einde aan die ballingskap wees.

Daar gaan ’n terugkeer wees.

Daar gaan die blye boodskap kom, gebring deur die lieflike voete van die verkondiger van goeie boodskape:

Troos, troos my volk!

Daar is nou vir die skuld betaal.

Die HERE gaan nou ’n grootpad deur die woestyn maak, sodat julle kan terugkeer na die beloofde land.

Die HERE self sal hierdie dinge laat gebeur.

“Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie saggies lei.” (vers 11)

Inderdaad troosvolle woorde.

Die HERE vergelyk Homself met ’n herder, die volk met ’n kudde skape.

Soos ons weet, skape is baie kwetsbaar, en ook baie dom.

Sonder herder kom hulle nêrens nie.

 

Gemeente, hierdie vergesig openbaar die HERE dus ook aan die volk deur Jesaja.

Eerstens, daar kom ’n baie baie swaar tyd.

Dis soos ’n front met gitswart wolke wat op pad is.

Maar die front sal oortrek, en dan sal die son des te helderder skyn.

 

Hierdie wat ons in Jesaja lees, is eintlik ’n bloudruk van God se manier van werk deur die hele Skrif.

Neem byvoorbeeld die Nuwe Testament.

Ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus, bring net so ’n boodskap soos Jesaja.

Eerstens was dit op Homself van toepassing.

Eers moes die front van gitswart wolke kom oor sy eie lewe trek: sy lyding, helse angs en pyn, dood, begrafnis.

Maar daarna sou die son weer opkom en des te helderder skyn.

Dit het begin toe Hy uit die graf opgestaan het.

Daarna is Hy verhoog in die hemel en heers in heerlikheid.

 

En tweedens, hierdie bloudruk, soos ons dit by Jesaja vind, is ook op onsself van toepassing.

En soos Jesaja God se kinders in die Ou Testament daarop voorberei het, so doen Christus dit in die Nuwe Testament.

Vir die gelowiges wag daar ook lyding, hulle sal nog moet sterf.

Daar hang ook donker wolke oor hulle lewe.

Dit alles is honderd persent hulle eie skuld.

Maar ook al openbaar Christus dat daar daarna uitkoms sal wees.

Na die afsterwe sal die gelowige by Christus wees.

En daar kom ’n dag dat sy liggaam ook opgewek sal word.

 

Gemeente, hierdie bloudruk – eerstens die aankondiging van oordeel maar ook die vertroosting dat daar ’n nuwe tyd kom daarna – dit pas Sondag 1 op onsself toe.

Al hang daar tans ’n front van gitswart wolke bo ons koppe, al is ons nog in ’n dal van doodskaduwee, al staar ek die dood in die gesig, al hou – soos die Kategismus elders verwoord – my doodsvyande nog nie op om my aan te val nie, ek het ’n troos!

Die dag toe die Babiloniërs opdaag en Jerusalem verwoes en die tempel afbrand en die Jode as slawe na Babel gejaag het, het hulle in daardie haglike omstandighede tog ’n troos gehad.

Hulle het reeds Jesaja se profesie gehad, wat hulle met hulle saamgedra het.

Die dag as jy ongeneeslik siek is, as jy op jou sterfbed lê, dan het jy reeds ’n troos.

’n Troos wat jy selfs deur jou dood kan saamdra.

Niks op aarde kan jy saamvat in die graf nie.

Nie jou besittings, nie jou geliefdes, niks nie.

Maar wel hierdie troos.

Die ballingskap het God se volk van alles gestroop – hulle huise, hulle landerye, selfs die tempel.

Maar die Babiloniërs kon hierdie troos nie van hulle afvat nie, dit wat die HERE hulle reeds deur Jesaja gegee het.

Net so stroop die dood jou van alles.

Maar daar is een ding wat sterker is as die dood, wat die dood nie van jou kan afvat nie.

Dit is die troos – dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself oorgelewer is nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.

 

Broer, suster, glo jy dit?

Tien teen een het jy Sondag 1 op katkisasie uit jou kop geleer.

Is dit ook in jou hart?

Dra jy hierdie troos saam met jou?

In tye van voorspoed, welvaart, as alles voor die wind gaan, om jou te herinner dat aardse geluk nie jou blywende troos is nie.

En in tye van teenspoed, om jou te herinner en te bemoedig dat die gitswart wolke van die dood nie die laaste woord oor jou sal hê nie, maar wel die son van geregtigheid.

Broer, suster, leef jy bewus vanuit hierdie troos?

Die HERE se bedoeling tydens die ballingskap was dat die profesieë van Jesaja lewendig sou bly, dat die mense daaruit sou lees, daarna sou luister, dat dit hulle op die been sou hou.

Net so is die HERE se bedoeling dat die Woord van Christus ryklik onder julle sal woon.

Die Here roep ook ons op in Kolossense:

“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16)

Die troos, die blye boodskap wat die lieflike voete van die verkondiger van goeie boodskap gebring het, moenie in die argief gebêre word nie.

Dit moet ’n lewendige troos wees.

Dit moet ryklik in julle woon.

Dit moet elke Sondag vanaf die kansel klink.

Jy moet elke dag daarmee opstaan en daarmee gaan slaap.

Jy moet dankbaar daarvan getuig, aan jou medereisigers deur die lewe, medegelowiges en ongelowiges wat die Here op jou pad plaas.

Daarom laat ons die jeug Sondag 1 uit hulle koppe leer.

En dan bid ons die Heilige Gees dat Hy die geloof sal werk, sodat daardie woorde ook ’n plek in hulle harte kry.

Sondag 1 gee in kort die bloudruk van die Evangelie.

Die HERE gee dit, en ons mag daarmee deur die lewe gaan.

Ons lewe nie in onsekerheid nie.

Selfs al wag daar nog ’n ballingskap.

In ons geval, selfs al kan ons slegs deur baie verdrukking heen in die koninkryk van God kan ingaan, net soos Paulus destyds vir die gelowiges in Listre en Ikonium en Antiochië daarop voorberei het (Hand 14:22).

Die bloudruk van die Evangelie is nie vrede en welvaart gewaarborg op aarde nie.

Dit is wel ’n onwankelbare troos tydens ons huidige lewe, in voorspoed en teenspoed, met die weergalose vooruitsig van ewige saligheid.

Daarvan verseker die Heilige Gees my reeds in hierdie lewe – van die ewige lewe!

 

Ons vat vanaand hierdie troos, hierdie bloudruk van die Evangelie, saam huis toe.

Môre, as die gewone lewe weer aangaan, dra ons dit saam met ons.

Die Evangelie is nie net ‘n mooiweerpraatjie nie.

Daar is nog ‘n duiwel, wat rondgaan soos ‘n brullende leeu.

Ek moet steeds, tot my sterfdag, diep deurdronge bly van hoe groot my sonde en ellende is.

Ek begewe my môre weer in ‘n wêreld wat dikwels sonder God of gebod lewe, en wat my in daardie stroomversnelling op pad hel toe wil saamsleur.

Maar ek mag hierdie troos saamdra, deur dit alles.

Meer nog, hierdie troos dra my deur dit alles.

Al gaan ek selfs deur die doodskaduwee, ek weet verseker dat geen haar sonder die wil van my hemelse Vader van my kop sal val nie.

Weer so ‘n pragtige uitdrukking, direk uit die Bybel.

Dink aan Jesus se woorde: “van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” (Matt 10:30)

Al moet ek baie erge dinge meemaak, dalk ’n geliefde aan die dood afstaan, dalk my werk verloor, dalk ongeneeslik siek raak, ek weet dat alles uiteindelik tot my saligheid sal dien.

Selfs al val ek diep in sonde, hierdie troos sorg dat ek nie in die sonde bly lê nie.

Dit tel my op en dra my verder.

God sal sy goeie Gees nie weg van my neem nie (Ps 51:5 ber).

Christus se gees sal my weer van harte gewillig en bereid maak om vir Hom te lewe.

Hy sal die sekerheid van die ewige lewe weer terugbring.

 

Gemeente, ek mag u oproep om met dankbaarheid hierdie troos te aanvaar.

Die Heilige Gees maak jou van harte gewillig en bereid.

Moenie jouself daarteen verset nie.

Moenie die werk van die Gees blus nie.

Moenie ontken as Hy jou oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel nie (Joh 16:8).

Moenie teëstribbel as Hy jou in die hele waarheid lei nie (Joh 16:13).

As Hy na jou hart spreek (Jes 40:1), as Hy jou hart wil bereik, moenie jou hart vir Hom sluit nie.

Aanvaar dankbaar sy leiding van jou lewe.

Dra die troos saam met jou deur die lewe.

Die enigste Troos wat jou dra, mag jy saam met jou dra.

 

Gemeente, om af te sluit, die Kategismus begin baie persoonlik:

Wat is jou troos?

Dit is die vraag.

Maar met die antwoord verskuif die fokus direk na God.

Jou troos moet jy nie in jouself soek nie.

Antwoord 1 kyk op na my getroue Verlosser, Jesus Christus.

Antwoord 1 bied sekerheid, nie in jouself nie, maar in die werk van die Heilige Gees in jou.

Ook hierdie is die basiese bloudruk, die troos, uit die Skrif, soos ons dit in Jesaja 40 so mooi gelees het.

As God se volk maar net op Hom fokus.

Hy wat bo die kring van die aarde sit.

Hy wat die hemele uitspan soos ‘n doek.

Hy voor wie die heersers van die aarde nietigheid is.

Ja stoppels wat Hy wegblaas.

Hy wat die leërskare van die hemel, son, maan en sterre geskape het.

As God se volk maar net fokus op wie Hy is, dan kan hulle getroos lewe.

Hoeveel te meer geld dit nie vir ons nie.

Ons ken God nog soveel beter nadat Hy sy Seun gestuur het, in die lig van alles wat Hy oor die hemelse Vader vertel het.

Ons weet nou nog met soveel meer sekerheid dat niks ons van die liefde van God kan skei, wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie (Rom 8:39).

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 4:1,3,4

Gebed

Skriflesing: Jesaja 40

Sb 22:1-3, 9-11

Teks: nav Heidelbergse Kategismus Sondag 1

Preek

Ps 23:1,2 (1e beryming) 

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 75:1,2,4

ollekte

Ps 65:3,4

Seën