Die betekenis van die besnydenis van Jesus vir die Nuwe Testament

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2023-12-31
Text: 
Lukas 2:21
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 2:21

 

Almal van ons, wat hier in die kerk is, is deur ons ma verwag.

Vir min of meer 9 maande het sy ons rondgedra.

Meestal gebeur dit in hierdie periode dat ouers alle voorbereidings tref vir die dag van die geboorte.

Die babakamer, die wieg, die klere, ensovoorts.

Alles is gefokus op daardie een dag wanneer die baba kan kom.

Dan is die periode van verwagting voltooi en breek die geboorte aan.

 

Die geboorte van die Here Jesus Christus word dikwels die volheid van die tyd genoem.

Daarmee word meer bedoel as net dat sy ma Maria na ongeveer nege maande geboorte geskenk het.

Met die volheid van die tyd word eintlik die voltooiing van die hele Ou Testament bedoel.

Die hele periode vanaf die paradys, toe die moederbelofte geklink het – Genesis 3:15 – dit was die eerste keer toe die koms van God se Seun aangekondig is, tot en met die nag van Betlehem.

Die hele Ou Testamentiese periode was verwagtingstyd.

Tyd van die groot verwagting.

En op God se tyd het die beloofde Messias toe gekom.

Kerstyd was die volheid van die tyd.

 

Tema: Die betekenis van die besnydenis van Jesus vir die Nuwe Testament

  • Hoekom die baba Jesus besny is
  • Hoekom ons babas gedoop word

 

  • Hoekom die baba Jesus besny is

In die Ou Testament is elke babaseuntjie in God se volk op die agste dag besny.

Dit was die teken dat die kind voortaan aan God se volk behoort het en dat God vir hom sal sorg.

‘n Klein stukkie vleis is afgesny.

By hierdie operasie het daar bloed gevloei, maar nie soveel dat die baba daaraan gesterf het nie.

God het simbolies gesê: Eintlik moes al jou bloed gevloei het.

Eintlik moes jy sterf, omdat jy ook in sonde ontvang en gebore is.

Maar Ek is jou genadig.

Daar vloei maar net ‘n bietjie bloed.

En op my tyd sal Ek my eie Seun stuur.

AL sy bloed sal vloei.

En so sal Hy vir jou sondes betaal.

 

Maar hoekom moes die Here Jesus dan besny word?

Hy was mos nie sondig nie?

Tog het dit gebeur.

Hy is ook onder die wet gebore.

Daaroor lees ons in ons teks en die daaropvolgende gedeelte.

Op die agtste dag is Hy besny.

Dis wat die wet aan alle Joodse seuntjies voorgeskryf het.

“’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte.” – Genesis 17:12.

So is die teken van die verbond ook in Jesus se liggaam uitgesny.

Hy is ingelyf in God se volk, die volk waarmee God sy verbond opgerig het.

 

Daarna is Hy saam met sy ma gereinig, “volgens die wet van Moses”, staan daar in vers 22.

Ook is Hy as eersgebore seun voor die Here gestel soos voorgeskryf in die wet van die Here – vers 23.

Josef en Maria het al die pligte van die wet nagekom.

En, dan lees ons in vers 39:

“toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galilea”.

So is God se Seun dus gebore in die volheid van die tyd, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, soos daar in Galasiërs 4:4 staan.

Wat dit betref was Hy mens onder die mense.

 

Lukas het sy Evangelie geskryf het êrens na die hemelvaart van Christus.

En redelik kort na hemelvaart was al duidelik dat dit nie God se wil was in die nuwe verbond dat die bekeerlinge uit die heidene ook besny moes word nie.

In Handelinge 15 lees ons ‘n brief wat die apostels en oudstes vanuit Jerusalem geskryf het aan die bekeerdes uit die heidene, o.a. in Antiochië.

Daarin staan duidelik dat die besnydenis nie vir hulle noodsaaklik was nie.

Maar in die Lukasevangelie kyk Lukas terug na die einde van die ou verbond.

Jesus is naamlik gebore in die allerlaaste fase van die ou verbond.

Daarom is Hy ook besny.

Die feit dat ons vandag nie meer besny hoef te word nie, dit het gekom omdat Jesus Homself onder die wet gevoeg het, en dus wel besny is.

Hy is gebore binne die volk Israel.

Geografies in Betlehem, die stad van Dawid.

Maar ook juridies het Hy Homself gevoeg onder die wette wat God aan sy volk in die ou verbond gegee het.

Die Messias vir alle nasies is besny as ‘n Jood.

Dit maak Lukas baie duidelik in sy Evangelie.

Die Verlosser kom uit die hemel, Hy word in Israel gebore en ingelyf, maar Hy kom vir die hele wêreld.

Hy is Verlosser nie net vir hierdie volk nie, maar vir alle volke.

Dink aan die lofsang van Simeon in hierdie verband:

‘n Vors vir Israel, maar ook ‘n Lig vir alle volke.

 

Soos ek genoem het, eintlik het die Here Jesus die besnydenis nie nodig gehad nie.

Hy het reeds aan God behoort.

Hy is ontvang deur die Heilige Gees.

En Jesus het reeds die ewige lewe gehad.

Verder was dit in Jesus se geval glad nie nodig dat daar bloed moes vloei nie.

Hy is nie in sonde ontvang en gebore nie.

Hy is nie uit ‘n mens ontvang nie, maar uit die Heilige Gees.

By Hom hoef daar geen bloed te gevloei het nie.

Die simboliek dat Hy ook sy hart moes besny, was vir Hom eweneens nie nodig nie, soos dit vir sy volksgenote wel ‘n oproep was soos wat hulle opgegroei het.

Vir Hom was die oproep tot bekering nie nodig nie.

 

Tog het Jesus die besnydenis ontvang.

‘n Engel het nie nog ‘n keer aan Josef of Maria verskyn met die waarskuwing dat hulle nie vir Jesus mog besny nie.

Nee, Jesus het presies dieselfde ondergaan as elke Joodse seuntjie, volgens die eis van die wet.

Hieruit blyk dat Hy nie net in Israel gebore is nie, maar dat Hy ook self by Israel wou hoort.

 

Dit is die betekenis van ons teks.

Ons sien hierin reeds ‘n begin van sy Middelaarswerk.

Die eerste bloedverlies is al die begin van al sy kosbare bloed wat Hy later sou vergiet.

Om die sondes van die volk op Hom te neem, moes Hy in alle opsigte een word met sy volk.

 

Hy is die Middelaar tussen God en die mense, “wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal.” (1 Tim 2:5)

Dit is die betekenis van ons teks.

Dat Hy in alle opsigte gelyk geword het aan sy medemense.

Gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet (Galasiërs 4:4).

 

Maar ons teks het nog ‘n betekenis.

Aan die een kant was daar geen verskil tussen Jesus en alle ander babaseuntjies nie.

Maar aan die ander kant was daar ‘n groot verskil.

Dit blyk uit die naamgewing.

Dit was besonder.

Net soos sy voorloper Johannes word Hy nie vernoem nie, maar kry Hy die naam wat deur die engel meegedeel is.

Dit was al weer maande gelede, toe het die engel aan Josef die opdrag gegee.

Hy moes Hom Jesus noem, wat beteken: Verlosser.

Dis die naam wat Hy moes kry.

Uit hierdie opdrag blyk dat God direk betrokke was by hierdie geboorte.

Dit geld natuurlik vir die geboorte van elke kind, dat God direk betrokke is.

Maar by hierdie Kind is daar wel iets heel besonders aan die hand.

Watter ouers het al meegemaak dat ‘n engel aan hulle verskyn om te vertel hoe God wil hê die kind genoem moet word?

Duidelik dus dat God ‘n spesiale plan met hierdie Kind gehad het.

‘n Plan vir Israel, ja selfs vir alle volke.

 

Hierdie Jesus het ‘n spesiale taak op aarde gehad om te voltooi binne die besnede volk van die verbond.

Die teken op die agtste dag is vir sy aardse lewe daarom ‘n rigtingwyser.

Hy word in die eerste plek gestuur na die huis van Israel.

Eers vir die Jood, en daarna ook vir die Griek.

Enersyds dus kind onder alle ander Joodse kinders.

Geen verskil nie.

Andersyds wel heel anders.

Want sy oorsprong is nie in die Joodse volk nie.

Maar Hy daal neer tot die besnede volk van God se verbond.

Hy is ‘n geskenk uit die hemel, ten eerste vir hierdie volk.

Maar uiteinlik lê die reikwydte van sy lewensplan tot ver buite die grense van hierdie volk.

 

Gemeente, in die besnydenis van Jesus kom die sakrament en die werklikheid bymekaar uit.

Die Oud Testamentiese sakrament, dis wat Jesus ontvang.

Maar terselfdertyd is Hy ook die vervulling van hierdie teken.

Die besnydenis wat ook Hy ontvang, wys vooruit na wat Hy self moes gaan doen, sy lewenstaak, veral aan die einde van sy lewe op aarde.

Aan die begin van sy lewe het daar ‘n bietjie bloed gevloei.

Aan die einde van sy lewe het Hy al sy bloed gestort.

Nie vir Homself nie, maar vir ons!

In ons plek is sy lewe geneem.

Hy het vir ons die straf gedra.

So het Hy sy eie Naam, wat sy ouers aan Hom in opdrag van die engel gegee het, eer aangedoen.

Jesus, nie vernoem na sy voorouers in die lyn van die geslagte nie.

Deur hierdie Naam is daar vir ons redding!

Hy is ons Verlosser!

En die bewys dat jy by God hoort is nou nie langer die besnydenis nie.

Want, lees ons in Galasiërs, in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk (Galasiërs 5:6).

Daarom dat daar vandag geen besnydenis plaasvind nie, maar ‘n doopsbediening.

Geen bloed vloei nie.

Maar water vloei.

Geen herinnering aan ‘n dreigende dood nie.

Geen vooruitwysing na iemand se bloed wat eendag nog as soenoffer sal moet vloei nie.

Nee, water.

Water wat reinig.

Dis God se belofte in Christus aan elkeen wat gedoop word

Die doop is die teken van wat God doen.

Water wat die liggaam skoonmaak, vooruitwysing na die afwassing van sondes deur Christus se bloed.

Veelbetekenend noem die Bybel die doop juis die besnydenis van Christus.

Dit wil sê: die merkteken, teken van die nuwe verbond, waardeur jy by God se volk, sy kerk, ingelyf word.

Ons lees in Kolossense 2:11: Julle is besny met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, naamlik met die besnydenis van Christus.

Hy het sy liggaam aan die kruis laat spyker, asof dit sondige vlees was.

So het Hy ons vervloeking op Hom geneem.

Hy het ons besnydenis geword.

Deur sy kruisdood word ons sondige vlees, nie net die voorhuid nie, maar ook ons hart, ja ons hele sondige bestaan, weggesny.

Dit gebeur elke keer as ons op grond van sy kruisdood vergewing van ons sondes vra.

Sy kruisdood is dus ons besnydenis.

Sy kruisdood is ons redding.

Sy bloed is ons lewewekkende water.

Toe die Here Jesus as baba besny is, het sy Middelaarswerk begin.

Ons kan hierdie groot wonder nie met ons verstand begryp nie.

Maar tog is dit so.

As God het Hy Homself laat verneder om ‘n deur die sonde geplaagde mens te word.

Self nie sondig nie, maar Hy het wel deelgehad aan alle ellende van die sonde.

As God het Hy Homself as baba laat besny, toe daar ‘n bietjie bloed gevloei het.

As God het Hy Homself 33 jaar later laat kruisig, en toe het daar baie bloed gevloei.

 

(Tema: Die betekenis van die besnydenis van Jesus vir die Nuwe Testament

  • Hoekom die baba Jesus besny is)

 

  • Hoekom ons babas gedoop word

Vandag se doopsbediening het ‘n ryk betekenis.

Dit dui op Christus se Middelaarswerk, van die begin van sy lewe af toe Hy besny is, tot aan die einde toe, toe Hy gekruisig is.

Hierdie Middelaarswerk het dit moontlik gemaak dat julle seuntjie vandag die doop mag ontvang.

As gemeente bid ons vandag vir julle kindjie, dat as hy opgroei, dat hy hierdie groot wonder sal aangryp ook as sy enigste redding.

Julle as ouers het daarin ‘n groot verantwoordelikheid.

Leer jou kind die wonder van Christus se Middelaarswerk.

Leer jou kind om te sing vir sy Heiland,

Leer jou kind om Hom te prys vir sy Middelaarswerk.

 

‘n Verbondskind ervaar reeds die voorreg om te behoort aan ‘n gesin.

Hy deel reeds in die rykdom van julle gesin.

In die Ou Testament het elke kind in Israel ook daardie voorreg geniet.

Hulle Vader was die Heer van hemel en aarde.

En hulle mog van Hom vra wat hulle nodig gehad het.

Maak net julle mond oop.

Eis van My vrymoedig, op my trouverbond.

Dit het die klein kindertjies al gehoor.

Hulle was deel daarvan.

Hulle het in bevoorregte omstandighede opgegroei.

Ons ken in ons land goed die verskil tussen kinders wat in bevoorregte omstandighede opgroei, teenoor kinders wat in agtergeblewe omstandighede moet opgroei.

Daar is kinders wat in mooi huise woon, wie se ouers hulle na goeie skole kan stuur.

Kinders wat in die vakansie saam het hulle ouers kan weggaan, die land verken, hulle horison verbreed.

En dan is daar agtergeblewe kinders, uit gebroke gesinne, vir wie drie maaltye per dag nie vanselfsprekend is nie, wat na die naaste skool gestuur word waar die onderwysers nie gemotiveerd is nie, wat in vakansietye alleen tuis is, met die gevolg dat hulle hulle vakansies op straat deurbring, met alle gevare van dien.

En dan het ons nog maar net op die materiële kant gefokus.

As ‘n opgroeiende kind emosionele geborgenheid mag ervaar, is dit ‘n fondament van onskatbare waarde.

Dit vorm ‘n gesonde selfbeeld.

Daar vind, soos die Engelse sê, ‘bonding’ plaas.

Daardie Engelse woord stam van dieselfde woord af as ons woord verbond.

God se verbond gaan ook heeltemal oor om te mag behoort.

Hierdie is die mees basiese manier hoe God met sy kinders omgaan.

En dit het nie in die nuwe verbond verander nie.

Hy neem ons eers op in sy verbond.

En die wonderlike geheim hiervan is dat niks meer effektief is as dit is nie.

Ek het ‘n aantal weke gelede in Maranata ‘n paar woorde verduidelik, en die korrekte volgorde waarin hulle geplaas behoort te word.

Kom ek noem dit net weer kortliks.

Want dit verduidelik mooi die verskil in die Bybelse benadering, en ander benaderings.

Dit gaan oor die drie woorde, ek noem hulle in Engels, want dan rym hulle:

believe, belong, behave.

Wat is die regte Bybelse volgorde waarin hierdie drie woorde geplaas behoort te word?

Baie mense doen dit as volg.

Eers kom believe, dan kom behave, dan kom belong.

Dit wil sê, iemand moet eers tot geloof kom, dan moet hy reg begin lewe, en dan mag hy behoort by God se volk, dan word hy opgeneem as lidmaat van die kerk.

Dis nie moeilik om in te sien nie dat hierdie redenering lei tot die verwerping van die kinderdoop.

‘n Kind moet naamlik eers tot geloof kom, voordat hy aan die kerk mag behoort, en ‘n baba kan nog nie sy geloof bely nie.

 

Maar, gemeente, teenoor hierdie bely ons as Gereformeerdes ‘n ander volgorde.

En ons is oortuig dat dit in ooreenstemming is met die fundamentele manier hoe God in die Bybel werk.

Dit is die volgorde: eers belong, dan believe, dan behave.

God begin deur sy genadeverbond te sluit.

Hy adopteer, Hy neem ‘n baba in sy gesin aan.

Hy gee hom die voorreg om in die buitengewoon gunstige omstandighede van sy verbondsgesin op te groei.

Soos wat hy opgroei en steeds meer bewus word van wat om hom in die lewe aangaan, en soos wat hy steeds meer kennis kry, so word met die opgroei steeds meer van hom verwag om hierdie onvoorwaardelike liefde van God ook met wederliefde te beantwoord.

So begin geloof in sy kinderhartjie te groei.

Geloof wat ‘n vaste kennis en ‘n onwankelbare vertroue is, soos die Heildelbergse Kategismus dit saamvat.

En in die gesonde leefomgewing van God se huisgesin leer die kind ook om te ‘behave’, die laaste woord in die rytjie, dit wil sê, hoe om reg te lewe.

Gemeente, hierdie volgorde onderstreep net weer hoe goed God is, en Hy is ook die bron van alles wat goed is op aarde.

Met hierdie volgorde bely ons: Sonder Hom, sonder sy seën wat enigiets goeds in my lewe voorafgegaan het, sou ek tot niks in staat gewees het nie.

 

Daarenteen is die fokus by die ander volgorde, eers believe, dan behave, en dan eers belong, veels te veel op die mens.

Hy moet eers presteer voordat God in aksie kom, voordat God iemand goed genoeg vind om in sy verbond, in sy kerk, aangeneem te word.

Aan die einde van die dag bely hierdie volgorde nie die bekende sola’s van die Reformasie nie.

Soli Deo Gloria – alleen aan God die eer.

Sola Gratia – alleen deur genade.

Solus Christus – alleen Christus.

Selfs die Sola Fide – alleen deur die geloof, kom in gedrang.

Want die ‘behave’ word ook ‘n voorwaarde vir die ‘belong’.

 

Gemeente, hierdie wesenlike verskil in volgorde het ook ‘n wesenlike invloed op evangelisasie en sending.

Dis iets wat nie in hierdie preek aan die orde kan kom nie.

Dit is iets vir ‘n ander keer.

Die wesenlike verskil tussen gereformeerde evangelisasie en charismatiese evangelisasie.

So dikwels, nie net wat onsself en kinders betref nie, maar ook wat betref die mense wat ons met evangelisasie bereik, so dikwels gebruik ons die verkeerde volgorde.

Met die onvermydelike gevolg dat daardie mense dink dat kerkmense in ‘n ander liga is, dat hulle dink hulle is beter.

Maar, soos ek gesê het, ‘n ander keer meer daaroor.

 

Onvoorwaardelik word ‘n kind in die gesin opgeneem.

Sy ouers gaan hom opvoed om ‘n goeie kind te wees.

Maar al gaan hy in die toekoms dalk stout dinge doen, hulle gaan hom nie uit die gesin uitsluit nie.

Selfs al mog hy later, soos die verlore seun, die gesin die rug toekeer, sal van die ouers se kant die deur oopbly vir hom om terug te keer.

So werk ‘n gesinsverbond.

Dit is ‘n aardse weerspieëling van God se verbond.

Hy bly trou.

Nie alle verbondskinders sal salig word nie, maar dit sal nie lê aan ‘n gebrek aan trou van God se kant nie.

Met hierdie sekerheid mag ons kinders opvoed, kinders wat in sonde ontvang en gebore is.

God gee oorvloedig, maak gebruik daarvan, ouers, en leer julle kinders om ook daarvan gebruik te maak.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 98:1,2

Wet

Ps 119:3

Gebed

Skriflesing: Lukas 2:21-40

Sb 2:4,5

Teks: Lukas 2:21

Preek

Sb 3:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 103:7,9

Seën