Die HERE gee herders na sy hart aan sy kudde

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-11-26
Text: 
Jeremia 3:15
Preek Inhoud: 

Preek: Jeremia 3:15

 

Die Bybelboek Jeremia getuig van die eerste tot die laaste hoofstuk dat God ‘n troue Herder is.

En soos ons teks sê, Hy gee ook herders.

Daaruit blyk dat Hy sy skape nie in die steek laat nie.

En soos ons in vandag se erediens mag meemaak, sy troue sorg duur steeds voort.

Want ook vandag gee Hy weer herders vir sy kudde.

 

Tema: Die HERE gee herders na sy hart aan sy kudde

- Hulle moet uitruk, afbreek en platslaan

- Hulle moet plant en bou

 

- Hulle moet uitruk, afbreek en platslaan

Jeremia was een van daardie herders.

In die eerste hoofstuk lees ons ‘n pragtige beskrywing wat Jeremia self gee van hoe die HERE hom geroep het.

Die HERE roep sy onderherders nie op die laaste minuut nie.

Sy regering is nie krisisbestuur nie.

Nee, sê Hy toe Hy aan Jeremia verskyn:

“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.”

Die HERE het hom toe al bestem vir hierdie taak: “Ek het jou ‘n profeet vir die nasies gemaak.”

Toe Jeremia dit hoor, het hy teengestribbel.

Hy was nog maar jonk en was nie die beste spreker nie.

Tog was dit skynbaar nie die vernaamste kwaliteite wat die HERE in sy profeet nodig gehad het nie.

Gemeente, ons stel soms eise aan wat vir ons ‘n goeie ampsdraer moet wees.

Hy moet goed kan praat, hy moet nie stotter nie.

Maar selfs die grootste profeet van die Ou Testament – Moses – het gestotter.

 

Die HERE het vir Jeremia moed ingepraat.

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red.” (Jer 1:8)

Toe het die HERE sy hand uitgestrek en sy mond aangeraak.

Dit was nie om sy stotter weg te vat nie, maar sê Hy:

“Hiermee lê Ek my woorde in jou mond.” (Jer 1:9)

Dit gaan nie net gerusstellende woorde wees nie, daar gaan ook gewaarsku moet word.

Daar gaan uitgeruk en afgebreek moet word, platgeslaan, en eers daarna gaan daar geplant en gebou moet word (Jer 1:10)

Die HERE het duidelike planne met Jeremia se bediening.

Dit sou ‘n lewenslange bediening wees.

Daar sou tye kom dat hy geensins gewild was nie.

Latere hoofstukke in hierdie boek vertel alles daaroor.

Jeremia was in die put – letterlik.

Maar die HERE beloof dat Hy altyd by sy onderherder sal wees.

Pragtige woorde in hoofstuk 1:18: “Ek, kyk Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad, ‘n ysterpilaar en ‘n koper stadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou, is die uitspraak van die HERE, om jou te red!” (Jer 1:18-19 2020-vertaling)

Dis nogal iets vir ‘n herder om te hoor.

Dit kan die moed in jou skoene laat sak.

Die feit dat jy die opdrag kry om af te breek, plat te slaan voordat daar geplant en gebou kan word, dit gaan hom nie gewild maak nie.

Die volk van die HERE gaan selfs teen hom veg.

Broers, julle sal wens dat dit julle bespaar bly, net soos Jeremia gewens het.

Maar daar is tye wat God sulke herders nodig het.

En Hy stel hulle aan.

Maar Hy beskerm hulle ook.

Die oproep vir elke herder is: Vrees God, vrees nie vir mense nie.

As jy na Hom opkyk, sal Hy vir jou ‘n versterkte stad wees, ‘n koper stadsmuur.

Al wat Hy vra, is dat jy bereidwillig sal wees om die woorde wat Hy in jou mond lê, uit te dra.

Hy is die troue Opperherder in die hemel.

Hy weet wat sy skape nodig het.

En ook vandag lê die HERE sy Woord in ons as ampsdraers se mond.

Laat ons sy Woord, sy Woord alleen, maar ook sy Woord heeltemal, uitdra.

Tydig en ontydig.

Dit met die vertroue dat sy Woord vrug sal dra.

Daar sal vrugte van bekering wees, daar sal ook soms die wrange vrugte van verharding wees.

Dit moet ons nie verbaas nie.

Maar sy Woord sal nie leeg tot Hom terugkeer nie.

 

In die tyd toe Jeremia die Woord bedien het, en dan dink ek spesifiek aan die hoofstuk waaruit ons teks kom – Jeremia 3 – sien mens ook die effek daarvan.

In vers 6 staan dat die HERE met hom gespreek het in die dae van koning Josia.

Uit ander Bybelboeke weet ons van koning Josia en wat die toestand van God se volk op daardie stadium was.

Dit was beroerd.

Israel, die noordelike ryk, was afkerig.

Hulle het gehoereer op elke hoë berg en onder elke groen boom.

In die Ou Testament dui die term hoereer dikwels op die aanbidding van die afgode.

Bo-op ‘n berg, of onder ‘n groen boom, dit was tipiese plekke daarvoor.

Die HERE het hulle opgeroep om na Hom terug te keer, maar hulle het nie.

 

Dan was daar Juda, die suidelike ryk.

Hulle het Israel se slegte voorbeeld gesien, en hulle het dit gevolg.

Hulle het ook self begin hoereer.

So is die land ontheilig.

Daar is owerspel bedryf met klip en hout.

Dit verwys na die afgodsbeelde, wat van klip en hout gemaak was.

Hulle hart was ver van die HERE.

Samevattend, die situasie van God se volk in Josia se dae was inderdaad beroerd.

Dit was nodig dat iemand soos Jeremia moes kom, met woorde van die HERE waarmee hy eers moes uitruk, afbreek, platslaan, voordat daar weer gebou en geplant kon word.

 

Die woord herder in ons teks kan verklaar word met ‘n breë betekenis.

In die Ou Testament was daar verskillende herders: die profete, die priesters, die konings.

So was koning Dawid ‘n herder na God se hart.

Maar daar was ook tye waarin al hierdie leiers, al hierdie herders van die volk – profete, priesters en konings – deur die bank afvallig geword het.

Dit het die volk op die rand van die afgrond gebring.

En hulle sou daaraf geval het, as die HERE nie nuwe herders verwek het om uit te ruk, af te breek, plat te slaan, en daarna opnuut te bou en te plant nie.

 

Gemeente, as ons na die tyd van Koning Josia kyk – ander Bybelboeke vertel ons meer daaroor (2 Kron 34) – kan ons daar lees dat dit inderdaad gebeur het.

God se Woord deur Jeremia het nie leeg tot hom teruggekeer nie.

Dit was die tyd toe die wetboek van die HERE weer in die tempel teruggevind is, nadat dit in vergetelheid geraak het.

Daar het toe ‘n terugkeer na die HERE plaasgevind.

Dit het daartoe gelei dat die tempel weer opgeknap is, die feeste wat in onbruik verval het, weer gevier is.

Maar dit het ook daartoe gelei, dit kan ons lees in 2 Kronieke 34, dat Josia die afgode en hulle altare verwyder het (vers 33).

Inderdaad, daar is afgebreek, platgeslaan, en uitgeruk.

 

Nou wonder mens soms, hoe was dit moontlik dat hierdie groot reformasie plaasgevind het – dit was aan die begin van Jeremia se bediening – maar dat ‘n paar dekades later die ballingskap tog plaasgevind het en die tempel tog verwoes is?

Het die reformasie net so kort gehou?

Ja, gemeente, dit is ‘n somber feit, ‘n rede vir God se kinders om hulle diep te verootmoedig.

Nie net toe nie, maar ook vandag.

Dit kan gebeur dat binne een generasie – dan praat ons oor ongeveer 25 jaar – die HERE se Woord in vergetelheid raak.

‘n Voorbeeld was wat in die Rigtertyd gebeur het.

Rigters 2 maak die bestek op: “die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat na Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het ... en toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag na hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE: hulle het die Baäls gedien.” (Rigt 2:7-11)

Binne een geslag.

En so iets kan ook vandag gebeur.

Ek sal nie name noem nie, maar ons kan almal aan voorbeelde dink hoe ‘n bruisende kerkgemeenskap binne een generasie kan verval, soos ‘n helder stroom water wat in ‘n moeras instroom en vertroebel.

 

Jeremia, wat lank as profeet gearbei het, moes dit alles beleef.

Hy moes selfs beleef hoe die ballingskap gekom het en die tempel afgebrand is.

Inderdaad, God het uitgeruk, afgebreek en platgeslaan.

Maar die HERE was met hom, Hy was vir hom soos ‘n versterkte stad, met ‘n ondeurdringbare kopermuur.

En wat die groot bemoediging is, ook vir vandag, is dat die Opperherder nie moed opgee nie.

Al is dinge hier op aarde gebroke, al is elkeen van ons van nature geneig om elke keer weer afvallig te raak, Hy bly herders stuur om sy kudde op te pas.

Herders na sy hart.

 

(Tema: Die HERE gee herders na sy hart aan sy kudde

- Hulle moet uitruk, afbreek en platslaan)

 

- Hulle moet plant en bou

Ja, onbegryplik maar tog waar, die HERE soek keer op keer die beswil van sy kinders.

In elke generasie is daar weer hulle soos Jeremia, wat die HERE al van voor die moederskoot geken en voorbestem het vir hierdie taak.

Hulle wat Hy laat opgroei en toerus sodat hulle herders kan wees na sy hart.

Ook vandag.

Dink aan jongmanne uit ons geledere wat tans opgelei word om predikante te word.

Dit is essensieel vir die toekoms van die kerk.

Calvyn skryf by ons teks: Waar die kerk beroof word van goeie leraars, verval dinge spoedig tot ‘n bouval.

 

En ook dink ons vandag veral aan hierdie broers wat in die amp bevestig gaan word.

Hulle is herders na sy hart.

Hulle kry vandag die opdrag om julle op te pas met kennis en verstand.

Kennis en verstand – twee woorde uit ons teks – dui natuurlik op Skrifkennis, wat hierdie broeders het.

Maar kennis dui ook op onderskeidingsvermoë, om te weet wat om – om die HERE se woorde aan Jeremia te gebruik – wat om plat te slaan, wat om af te breek, maar ook wat om te plant en op te bou.

Daarvoor is kennis nodig, onderskeidingsvermoë, wysheid.

Om die regte woord op die regte tyd te spreek.

 

En die HERE se werk deur sy herders sal nie sonder vrug bly nie.

Hy verseker ons, en julle as herders moet dit veral onthou, Hy verseker ons dat sy Woord dan ook sal vrug dra.

Die HERE se volk sal vermeerder, vrugbaar wees.

Selfs sal daar van buite af mense by God se volk aansluit.

Jeremia profeteer hier al van die nuwe verbond:

“In daardie tyd sal hulle Jerusalem die troon van die HERE noem. By haar sal al die nasies byeenkom ter wille van die Naam van die HERE.” (vers 17 2020-Vertaling)

 

Gemeente, ons Here Jesus Christus is ook deur die Vader as Herder na die aarde gestuur.

In Hom is ons teks volmaak vervul.

God het Hom na die wêreld gestuur as ons – soos die Kategismus dit saamvat – hoogste Profeet en Leraar, ons enigste Hoëpriester, ons ewige Koning.

Hy het sy lammers gewei.

Hy het dieselfde opdrag as Jeremia gekry: om plat te slaan en af te breek,

Dink aan hoe die Here Jesus die tafels van die geldwisselaars by die tempel platgeslaan het.

Dink aan hoe Hy geprofeteer het dat nie een steen van die tempel bo-op die ander gelaat sal word nie.

Die aardse Jerusalem en tempel wat vir die Jode ‘n afgod geword het, die het Hy afgebreek.

 

Maar ook het Christus die opdrag gekry om te plant en op te bou.

Hy het begin om ‘n nuwe kerk te plant, om sy volk van die nuwe bedeling op te bou, uit alle volke, tale en nasies.

Hy het as Herder self sy lewe opgeoffer vir die skape.

Maar selfs in die dood het Hy hulle nie in die steek gelaat nie.

Hy het die dood oorwin.

En nou lei Hy sy skape deur die dal van doodskaduwee, met die sekere wete dat daar weer lewe wag aan die ander kant van die dal, ewige volmaakte lewe.

 

Dalk het dit u opgeval, maar in ons teks praat die HERE spesifiek met Israel, dis nou die noordelike ryk.

Hulle was op daardie stadium al in ballingskap.

Bitter weinig van hulle het uit die ballingskap teruggekeer.

Tog het die HERE hulle nie vergeet nie.

Ook aan hulle beloof Hy herders na sy hart.

As mens jouself afvra, wanneer is hierdie belofte vervul, gemeente, dan dink mens al gou aan die Nuwe Testament.

Daardie Jode van die noordelike ryk was verstrooid oor die toenmalige wêreld, hulle was die Jode van die sogenaamde Diaspora.

Tog het die HERE hulle nie vergeet nie.

Op Pinksterdag was daar van hulle aanwesig in Jerusalem:

Daar was Jode uit Persië, Medië, Elam, Mesopotamië, Kappadocië, Pontus, Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte, Libië, Kreta, Arabië ... (Hand 2:10-11)

En dink aan die apostel Paulus.

Want in hom het God sy belofte vervul.

Die apostel Paulus was so ‘n herder na God se hart wat Hy na hulle gestuur het.

God het sy belofte ingelos, dink aan die vers voor ons teks:

“Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring.” (Jer 3:14)

Dit het letterlik so gebeur, as ons die boek Handelinge lees!

Uit elke stad waar Paulus eers na die sinagoge gegaan het, was daar Jode wat tot bekering gekom het.

 

En gemeente, dan word met Sion en Jerusalem nie letterlik daardie plekke geografies bedoel nie.

Wat baie opvallend is, is die vers na ons teks.

Daarin praat die HERE oor ‘n tyd waarin die verbondsark nie meer daar sal wees nie.

‘n Tyd waarin die ark selfs nie meer nodig sal wees nie.

En dan staan daar: Dit sal ’n tyd wees wanneer al die nasies na Jerusalem sal kom.

Die Nuwe Testament leer vir ons dat hierdie tyd aangebreek het toe die voorhangsel van die tempel geskeur het met Christus se kruisiging.

Voortaan was die ark en die hoëpriester wat bloed daarop moes sprinkel nie meer nodig nie.

Voortaan sou Jerusalem ‘n nuwe betekenis kry: Orals waar God troon op die lofsange van sy volk.

Sy stad sal steeds verder uitbrei oor die lengte en breedte van die aarde.

Wat ‘n ryk en verstrekkende profesie wat die HERE hier deur Jeremia gee!

Daarom is dit vandag nog steeds van waarde, en kan daar steeds met groot vrug uit gepreek word.

 

Hy, ons Opperherder op die troon in die hemel, bly toegewyd aan sy gemeente.

Ook vandag, al twee duisend jaar later, stel Hy herders aan om in sy Naam die skape te wei.

Die woord “oppas” in ons teks verwys na die werk van ‘n herder.

Die 2020-Vertaling vertaal: “weiding verskaf”.

Dus, Christus stel vandag weer herders aan om te sorg dat julle, gemeente, in groen weivelde kan bly wei.

Herders wat weet waar daar waters van rus is, en julle daarheen lei.

Daarom, gemeente, wees dankbaar met hierdie herders, aanvaar hulle leiding, volg hulle, want deur dit te doen volg julle die Opperherder wat hulle aangestel het.

 

Dalk gaan julle nie altyd met hulle saamstem nie.

Maar onthou wat ons teks sê: Hulle is nie eerstens herders na julle hart nie.

Die HERE sê: Hulle is herders na my hart.

En dit hou in dat hulle nie altyd julle wense kan vervul nie.

Soms moet hulle julle wegtrek by gras wat vir julle dalk aanloklik lyk, maar suur is.

Soms moet hulle julle verhoed om te drink by ‘n poeletjie wat vir julle verruklik lyk, maar hulle het die kennis om in te sien dat daardie water giftig is.

Sulke dae gaan kom, en daarom word vandag ook van julle as gemeente gevra om ‘n belofte af te lê:

“Aanvaar van harte hierdie ouderlinge as opsieners en herders van die gemeente ... Wees gehoorsaam en onderdanig aan u voorgangers, want hulle waak oor u siele en sal eendag daarvan rekenskap aan God moet gee.” (Bevestigingsformulier)

Maar daar gaan ook dae kom wanneer jy gaan meemaak hoe hulle, dalk met gevaar vir eie lewe, jou gaan beskerm teen roofdiere, soos Paulus skryf, “wrede wolwe” wat “onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.” (Hand 20:29)

En dan gaan jy hulle des te meer waardeer en die Here dank vir sulke herders.

Daar gaan dae kom dat jy in diepe rou gedompel gaan wees weens ‘n geliefde wat gesterf het, of die tyd wanneer jy self op jou sterfbed gaan lê, en dan sal hulle daar vir jou wees, om jou te troos met Woord en gebed, met ‘n luisterende oor.

Daarom is herders na God se hart ‘n baie groot geskenk.

Vandag, met die bevestiging van nuwe ampsdraers, staan ons in besonder daarby stil en dank ons die Here Jesus ons Opperherder vir hulle.

Hulle is herders na sy hart.

Ons bid dat hulle die moed sal hê om uit te ruk, af te breek en plat te slaan waar dit nodig is.

Ons bid hulle die krag toe om te plant en te bou aan hierdie gemeente.

Mag die HERE, deur hulle bediening, ons ‘n bruisende, gesonde, en groeiende gemeente maak.

Mag geen teëspoed hulle in hul ampswerk stuit nie.

Mag alles wat hulle begin, hulle voorspoedig uitvoer.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Jeremia 1 & 3:6-18

Teks: Jeremia 3:15

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoekom het Jeremia gedink hy sal nie ‘n goeie profeet wees nie?
  2. Hoe sou jy ‘n profeet na God se hart beskryf?
  3. Hoekom was dit nodig dat Jeremia as profeet ook moes uitruk, afbreek en platslaan?
  4. Wat bedoel Jeremia as hy skryf dat die mense nie meer aan die verbondsark sal dink nie (Jer 3:16)? Was dit positief of negatief?
  5. Dra in jou volgende gebed die ampsdraers van ons gemeente aan die Here op. Bid vir hulle en dank vir hulle.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 23:1,2 (2e beryming)

Wet

Ps 32:3,4

Gebed

Skriflesing: Jeremia 1 & 3:6-18

Ps 80:1,2,10

Teks: Jeremia 3:15

Preek

Ps 87:1-5

Ampsdraersbevestiging

          Formulier

          Vrae

          Seën

          Opdrag (ouderlinge)

          Opdrag (gemeente)

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 23:3 (2e beryming)

Seën