Die Evangelie van sekerheid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-12-10
Text: 
Dordtse Leerreels 5, paragraaf 10-15
Preek Inhoud: 

Uitverkorenes is nie helde nie.

Dit het ons in die vorige preek na aanleiding van die Dordtse Leerreëls gesien.

Uitverkorenes ervaar wel heldedade in hulle lewe.

Heldedade wat verrig word deur ons Leidsman en Held, ons Here Jesus Christus.

 

Die Dordtse Leerreëls het ook begin verduidelik hoe hierdie heldedade plaasvind.

En daarmee gaan paragraaf 10 verder.

Ons kyk vanaand na die laaste paragrawe van die Leerreëls.

 

Tema: Die Evangelie van sekerheid

1 Die fondament onder ons sekerheid

2 Die sekerheid word nie altyd ervaar nie

3 Die sekerheid maak nie selfvoldaan nie

4 Die sekerheid maak nie sorgeloos nie

 

1 Die fondament onder ons sekerheid.

Een van die heldedade is dat mense sekerheid kry oor hulle uitverkiesing.

Hoe kry ‘n mens die sekerheid?

Paragraaf 10 beklemtoon dat dit nie gebeur deur enige besonderre openbaring nie.

Nie deur iets wonderliks wat sonder of buite die Woord om plaasvind nie.

Dit gebeur – en dan word beskryf hoe – deur te glo in die beloftes wat God in sy Woord gee.

Hier staan, gemeente, valse geloof teenoor ware geloof.

Valse geloof is byvoorbeeld as iemand beweer hy het ‘n droom gehad, waarin God direk met Hom gepraat en gesê het: Ek het jou uitverkies.

Of iemand so gedroom het of nie – dit bly sy eie droom.

Dit is ‘n wankel fondament om die sekerheid van jou uitverkiesing op te bou.

Ware geloof is egter om geloof te heg aan die beloftes wat in die Bybel staan.

En so ‘n pragtige belofte in die Bybel is byvoorbeeld Romeine 8:16-17:

“Die Gees self getuig ... dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Die Woord kom vanaand na jou toe, God spreek dit ook tot jou.

Met sy Woord spoor Hy jou aan, vermaan Hy jou, roep Hy jou op.

Met die sakramente onderstreep Hy dit ook nog.

Broer, suster – glo dit!

Dit gee sekerheid van jou uitverkiesing.

 

En, gemeente, dan is daar nog ‘n tweede manier, ‘n tweede heldedaad, wat vir ons sekerheid gee oor ons uitverkiesing.

Paragraaf 10 skryf: “uit die ernstige en heilige strewe na ‘n goeie gewete en goeie werke”.

Herken jy dit in jouself?

Hier staan nie: Jy het reeds in alle opsigte ‘n goeie gewete en doen in alle opsigte goeie werke nie.

Maar hier staan: ‘n ernstige strewe daarna.

Ook dit is ‘n heldedaad wat Christus deur sy Gees in jou werk.

Om ‘n goeie gewete te wil hê, om goeie werke te wil doen, is nie vanselfsprekend nie.

Van nature is elke mens selfsugtig.

Ek sal slegs goed doen as dit myself bevoordeel, al benadeel dit ander.

Maar die begeerte na ‘n goeie gewete en die doen van goeie werke is iets wat Christus deur sy Woord in ons regkry.

En dus mag ons ook, as ons hierdie strewe ervaar, en werke doen waaruit liefde blyk vir God en ons naaste, mag ons daaruit sekerheid kry.

Die Leerreëls herhaal hier die belydenis van die Heidelbergse Kategismus:

Dat “ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry”.

 

Hierdie is heldedade van Hom.

Hulle is die fondament onder ons sekerheid.

En daarom mag, selfs moet ons daaruit sekerheid put.

As ons dit nie sou doen nie, sou ons ondankbaar wees.

God wil nie dat sy kinders daarsonder lewe nie.

As dit so was, dat hulle Hom sou moes dien met die knaende onsekerheid oor hulle ewige bestemming, dan sou hulle – skryf paragraaf 10 – die ellendigste van al die mense wees.

 

Dus, daar is ‘n fondament onder die sekerheid.

Dit is sy heldedade in ons lewe.

 

2 Die sekerheid word nie altyd ervaar nie

Maar soos ons weet, is dit nie net God wat in ons lewens werk nie, ongelukkig is die Satan ook nog aktief.

Hy haat dit, dit irriteer hom verskriklik as daar mense op aarde is wat seker is oor hulle saligheid.

Hy haat die uitverkiesing, want hy besef hy kan niks daarteen doen nie.

Dit maak hom radeloos, dit maak hom soos ‘n gewonde leeu wat besig is om te sterf, maar desondanks solank hy nog kan soveel as moontlik skade probeer aanrig.

Daarom stook die duiwel die hele tyd in hulle lewens, met die doel om hulle onseker te maak.

Hy maak ook dat die wêreld die gelowiges bespot.

So sluip daar twyfel in ons gedagtes in.

Daarom, gemeente, is dit ‘n sekerheid wat steeds aangeveg word.

As gevolg van versoekings, strikke van die Satan, waarin ons soms val, vererger die situasie in die sin dat ons geloofsvertroue krake begin vertoon.

Vertwyfelings begin die oorhand neem.

Verskillende vorms van twyfel.

Soos die vraag: Is ek regtig ‘n kind van God?

Of die vraag: Sal ek wel die eindstreep haal?

Die Leerreëls noem dit sondige vertwyfelings.

Nogal ingrypend dat dit so genoem word.

Om te twyfel aan jou uitverkiesing is sondig!

Om te twyfel is nie goed nie.

Want ‘n ware geloof, soos die Kategismus sê, is ‘n seker wete en ‘n vaste vertroue.

Die Remonstrante, net soos die Roomses, het van twyfel ‘n deug gemaak.

Iets wat jou moes aanspoor om beter te lewe.

Maar nee, dit is nie ‘n deug nie, dit is sonde.

Hoekom?

Want as Christus ‘n heldedaad in jou lewe verrig, dan beledig jy Hom as jy dit nie erken nie.

 

Hierdie sonde van vertwyfeling oorval elkeen van ons van tyd tot tyd.

Maar, en dit sê paragraaf 11 met nadruk, die HERE se werk is sterker as ons twyfels.

Twyfel werp ons elke keer weer terug in afhanklikheid op ons Heiland.

Sy Heilige Gees maak steeds weer die sekerheid van die volharding in ons wakker, sodat die vlam van die geloof bly brand.

Die Gees doen dit deur die middele.

Daarom, moenie sê: As egte gelowige het ek die kerk toe gaan nie so nodig nie, in elk geval nie twee eredienste per Sondag nie.

Dit bring ons by die derde punt.

 

3 Die sekerheid maak nie selfvoldaan nie

Moenie sê: Ek is ‘n volwasse gelowige.

Ek kan maar minder kerk toe gaan.

Dit sal tog wel goed kom met my.

Ek het sekerheid, ek hou van die Here Jesus, en ek weet, Hy hou van my.

Dus kan ek maar bietjie minder van die middele gebruik.

Gemeente, hierdie is ‘n krom redenasie.

‘n Geloofswaarheid word met so ‘n redenasie verdraai tot ‘n logiese wiskunde sommetjie, tot sisteemdenke.

Op die manier van: 1 + 1 = 2.

Maar die geloof werk nie so nie.

Laat niemand sê: As ware en volwasse gelowige het ek minder behoefte aan kerkgang.

Ek ken al die Kategimus, ek hoef nie saans kerk toe te kom nie.

Sekerheid van die geloof lei nie tot vermindering van die gebruik van die middele nie.

Sekerheid van jou geloof lei juis tot die begeerte om nog meer die middele te gebruik.

Ook al hier op aarde wil ek soveel as moontlik by die Here wees.

En sing ons: Hoe lieflik is u wonings, Heer (Ps 84:1).

Ons is selfs jaloers op die mossies wat hulle nessies onder die afdak by die kerk kan bou.

En die sekerheid wat voortvloei uit die naby wees aan die Here, onder sy Woord Sondag na Sondag en ook by die huis, dit vermeerder ons vertroue, maar nie selfvertroue nie, maar vertroue in Christus.

So die sekerheid kom deur Hom.

Sekerheid maak dus nie selfvoldaan nie.

Sekerheid verminder nie, maar vermeerder die gebruik van die middele.

 

4 Die sekerheid maak nie sorgeloos nie

Paragraaf 12 gaan verder om te beklemtoon dat dit Christus se heldedade is.

Sekerheid maak nie van gelowiges hoogmoedige en sorgelose mense nie.

Juis die besef dat dit Christus se heldedade is, maak dat ons nederig is.

Dit maak dat ons van ons eie prestasies afsien, en net op Hom fokus:

Kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld in alle stryd, vurige gebede ...

Christus se werk spoor ons aan om dankbaar te wees en goeie werke te doen.

Dit is die wonder.

Sekerheid lei tot meer goeie werke as onsekerheid.

Remonstrante en Roomses redeneer dat onsekerheid aanspoor om beter te lewe.

Die Gereformeerdes mag die omgekeerde ervaar.

Sekerheid lei – teen menslike verwagtings in – juis tot ‘n veel beter, ‘n veel meer toegewyde lewe.

Dit is weer die vir ons onverstaanbare werking van die Heilige Gees, wat ons nie passief nie, maar aktief maak.

Die regte paaie, skryf paragraaf 13, is vantevore gemaak.

Soos daar in Efesiërs 2:10 staan: “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”

Die onlogiese, maar tog werklike ervaring wat ons beleef is inderdaad dat dit so gebeur!

Sekerheid maak nie sorgeloos nie, ons word juis meer aktief, gemotiveerd, gedrewe!

Die besef dat dit so is, dat die saligheid vir ons voorberei is, maak dat ons bewus self ook kies om daardie regte paaie in te slaan.

En soos wat ons op die regte paaie loop, in die lig van sy aangesig soos die Bybel dit noem, kry ons sekerheid van ons saligheid.

Paragraaf 13 noem ook iets van die geheim hoe dit moontlik is.

Om naby God te lewe, om te ervaar dat Hy ons liefdevolle Vader is, dit raak vir ons soet.

En om nie naby ons hemelse Vader te wees nie, te raak vir ons bitterder as die dood!

Dis net soos ‘n kind wat daarvan hou om by sy pa te wees.

Dis soos ‘n seuntjie wat Saterdagoggend vroeg opstaan, omdat sy pa vandag tuisbly en hulle lekker saam dinge gaan doen.

Hulle gaan dalk saam iets regmaak, hulle gaan dalk saam winkel toe, hulle gaan saam krieket speel of fietsry of wat ook al.

Maar as pa die hele Saterdag weg is by die werk, dan loop die seuntjie doelloos rond.

Dan is die Saterdag nie lekker nie.

Hoekom is dit so?

Omdat daar ‘n band is tussen pa en seun.

Hulle beteken baie vir mekaar.

 

Dit is die geheim.

Danksy Christus is God ons hemelse Vader, weet ons dat Hy ons liefhet, is daar ‘n band tussen my en Hom.

Dit is vir ons soet – aangenaam – om naby ons hemelse Vader te wees.

Dit is vir ons bitter om ver van Hom af te wees.

Daarom stap ons graag op die paaie waarvan ons weet dat ons Hom daar sal ontmoet.

 

Gemeente, aan die einde van die vyf hoofstukke van die Dordtse Leerreëls is daar nog ‘n besluit.

Verder is daar nog, in die nuutste weergawe van die Psalmboekie, die uitspraak van die sinode van Dordtrecht toegevoeg oor die Remonstrante.

Hierdie is nie amptelik deel van die belydenisgeskrif nie, maar dit skets wel die konteks.

Dit help om die Leerreëls beter te verstaan.

Ons het dit nie vanaand gelees nie, maar dit is beslis die moeite werd om dit by die huis te gaan lees.

 

In die Besluit word kortliks herhaal wat die aanklagte van die Remonstrante was, juis teen die Gereformeerdes se siening van die uitverkiesing.

Hulle het beweer dat die Gereformeerde leer ‘n sataniese oorkussing is, omdat dit kerkmense lui en sorgeloos maak, hulle nie motiveer om teen hulle sonde te stry nie, terwyl hulle hulleself verbeel dat hulle in elk geval salig sal word.

Dit sou verder God die outeur van die sonde maak.

Dit sou God se skuld wees as mense verlore gaan.

God sou mense wat Hy nie uitverkies het nie, maar wat tog beter as die uitverkorenes geleef het, desondanks hel toe stuur.

Die Bybelse leer word ‘n vorm van fatalisme, ‘n noodlotsdenke.

Maar mense moet, sê die Besluit, nie aan hierdie beskuldigings waarde heg nie.

Hulle word gemaak met kwade bedoelings.

Daarenteen moet mense eerder die Leerreëls lees, waarin verduidelik word wat die Gereformeerde leer wel is.

 

En dan is daar nog ‘n belangrike saak wat die Besluit aanspreek.

Dit is veral ‘n oproep aan hulle wat oor die uitverkiesing gaan preek, of hulle wat daaroor onderrig gaan gee aan die jeug.

Hulle moet dit met eerbied doen.

Eerbied staan byvoorbeeld teenoor ‘n koue akademiese behandeling, of teenoor die voer van ‘n debat daaroor.

Dit is nie ‘n gepaste manier om die uitverkiesing te behandel nie.

Net soos dit ook nie gepas is om oor God te debatteer, of net ‘n koue akademiese studie oor Hom te doen nie.

Ons moet met eerbied oor Hom te praat, nie net in die kerk nie, maar ook tuis, op skole, universiteite ensovoorts.

En dan, as ons dit doen, moet ons ons aan die Skrif hou.

Mens kan maklik begin filosofeer en fantaseer oor so ‘n komplekse onderwerp.

Nee, sê die Besluit, laat ons eerder eerbiedig naspreek dit wat die Skrif daaroor sê.

Niks meer, maar ook niks minder nie.

Mag die HERE so elkeen wat hiermee besig is, wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek.

‘n Duidelike oproep aan predikante, onderwysers, jeugleiers, noem maar op.

 

En dan, die sogenaamde Uitspraak van die Sinode, die heel laaste gedeelte, beklemtoon dit net weer.

Dit skryf: Op almal aan wie die versorging van siele of die onderwys van die jeug opgedra is, word ‘n beroep gedoen om nie meer die Remonstrante se vyf artikels te gebruik nie, maar hulle moet die gesonde leer van die Woord aan volwassenes en die jeug voorhou en verduidelik.

 

Dan staan daar nog iets opvallends.

Die sinode spreek die hoop uit dat die woorde Remonstrante en Teenremonstrante (ook wel genoem die Contraremonstrante) in ewige vergetelheid sal vergaan.

Dat hulle in die vergetelheid sal raak.

Nou gemeente, ons is vandag 400 jaar verder, en ongelukkig is hierdie woorde nog steeds met ons.

Hoekom eintlik?

Wel, uiteraard omdat ons die Dordtse Leerreëls het en dit steeds gebruik word om te onderrig.

Maar die hoofrede hoekom hierdie onderrig nog nodig is, is die feit dat hierdie dwalinge ongelukkig elke keer weer die kop opsteek.

Ons sal moet konkludeer dat hierdie hoop van die Sinode van Dordtrecht waarskynlik ‘n ydele hoop sal wees, tot die dag waarop Christus sal terugkom.

 

Geliefde gemeente, ons kom vanaand aan die einde van die behandeling van die Dordtse Leerreëls.

Ek het nie oor die Dordtse Leerreëls gepreek nie.

Die Leerreëls het my net gehelp om aan u die Evangelie van sekerheid te preek.

Dit is die doel van die belydenisskrifte.

“ Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom 8:38-39)

Sekerheid, dit is verseker Bybels.

My bede is dat hierdie serie preke u gehelp het, soos die Leerreëls dit self aan die einde verwoord, om as die Bruid van Christus die leer van die uitverkiesing en die volharding van die gelowiges as ‘n skat van onberekenbare waarde te bewaar en te verdedig.

 

En as prediker mag dit my troos, soos daar ook aan die einde staan, dat God self sal sorg dat die kerk hierdie Bybelse leer sal bly koester.

Aan hierdie God, Vader, Seun en Heilige Gees kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Romeine 8

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5, par 10-15

Tema: Die Evangelie van sekerheid

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die fondament onder die sekerheid van saligheid?
  2. Hoekom ervaar uitverkorenes nie altyd sekerheid nie?
  3. Hoekom maak sekerheid die uitverkorenes nie selfvoldaan nie?
  4. Hoekom werk dit so dat ‘n gelowige wat seker is oor sy redding, juis meer as minder kerk toe wil gaan?
  5. Hoekom maak sekerheid die uitverkorenes nie sorgeloos nie?

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 16:2,4

Gebed

Skriflesing: Romeine 8

Ps 89:1

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 5,10-15

Preek

Ps 84:1-4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 24:1-3

Kollekte

Sb 24:4-7

Seën