In verlede week se preek het ons aandag geskenk aan die wedergeboorte.
Ons het gesien dat dit ‘n geboorte van bo is.
Soos Jesus gesê het: Wie die koninkryk van God wil beërf, moet gebore word uit water en uit Gees.
Water verwys na die gewone geboorte op aarde.
Geboorte uit die Gees verwys na die Gees wat van ons nuwe mense maak.
Dit is ‘n onverklaarbaar wonderlike ding wat die Heilige Gees in ‘n mens se lewe doen.
Dit gebeur een honderd persent op sy krag.
Dit is ‘n geboorte wat eers voltooi is as ons hemel toe gaan.
In vanaand se preek kyk ons nader na hierdie kragtige werking van die Gees.
Spesifiek, soos die Skrif leer, hoe Hy daarvoor middele gebruik.
Tema: Die Heilige Gees behandel ons nie as willose domkoppe nie
Nou kan hierdie geheimsinnig klink.
Die Gees werk op ‘n onverklaarbare manier in ‘n mens, en dit gebeur maar net, mens kan nie veel daaraan verander nie.
So klink dit ...
Tog is dit nie so nie.
Daar is ‘n ander kant van die muntstuk wat die Skrif ook openbaar.
En die Dordtse Leerreëls vat dit saam met die treffende uitdrukking: “stokke en blokke”.
Om hierdie uitdrukking te verstaan, moet ons teruggaan na die Dordtse Sinode.
Onthou dat die mense in daardie tyd, ook tydens hierdie sinode, in Latyn gepraat het.
Latyn was in daardie tyd die internasionale taal, net soos Engels dit vandag is.
Geleerdes uit verskillende lande kon met mekaar kommunikeer omdat almal van hulle Latyn gepraat het.
So was daar op die Dordtse Sinode mense uit verskillende lande.
Daar was mense uit byvoorbeeld Brittanje, en hulle kon niee Nederlands verstaan nie, maar wel Latyn.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik wat hierdie twee woorde, stokke en blokke, in Latyn beteken het.
Beide woorde het in Latyn eintlik dieselfde betekenis.
Die eerste woord het boom of boomstam beteken – dis die Latynse woord truncus.
Die Engelse woord trunc is daarvan afgelei, Engels vir ‘n boomstam.
En die tweede Latynse woord het ook boomstam beteken.
So in Latyn staan daar eintlik: boomstam en boomstam.
Nou mag dit snaaks klink, maar tog is dit nie.
En dit is omdat altwee hierdie woorde in Latyn ook ‘n oordragtelike betekenis gehad het.
Dit was naamlik skeldwoorde: Truncus is gebruik vir iemand sonder verstand.
En die tweede woord – stipitibus – is gebruik vir ‘n domkop, ‘n imbesiel.
Om terug te kom by die Dordtse Leerreëls:
Die Heilige Gees werk dus nie met mense asof hulle onnosel, asof hulle willose domkoppe sonder verstand is nie.
Paragraaf 16 sê: Al het die mens in sonde geval, hy het nie opgehou om ‘n mens te wees nie.
Hy is steeds toegerus met ‘n verstand.
God het die mens nie as ‘n domkop geskape nie, maar as ‘n intelligente wese.
So, as God nou die wedergeboorte in ons werk, doen Hy dit nie asof ons sonder ‘n verstand is nie.
Ook nie asof ons dooie materie is wat geen wil het nie.
Nee, Hy verlig ons verstand, Hy buig ons wil om.
Hy herstel ons soos ons geskape is.
Deur sy wedergeboorte bring Hy die volle potensiaal in ons na vore, soos Hy ons bedoel het.
En hier pas dan ook die middele in wat God gebruik.
Paragraaf 17 sê: God se almagtige werking sluit nie die gebruik van die middele uit nie.
Daarvan staan die prediking voorop.
En wil ‘n mens die prediking volg, dan moet hy sy verstand gebruik.
God span die mens se verstand, sy verstand waarmee Hy hom geskape het.
As jy in die kerk sit, moet jy konsentreer, anders gaan jy nie die preek kan volg nie.
Jy moet jou gedagtes daarby hou, dat hulle nie afdwaal nie.
Net so as jy by die huis Bybel lees.
As jou ouers uit die Bybel lees, terwyl jou gedagtes elders is, dan het die middel wat God skenk nie effek nie.
God skakel jou verstand in om die middel optimaal te gebruik.
En daar is nog middele.
Paragraaf 17 noem die drie middele wat ons ken as die kenmerke van ‘n ware kerk uit die NGB artikel 29.
Ons lees: Die apostels en die leraars daarna “het dan ook die mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie.”
Hoor u die drie kenmerke?
So skakel die Heilige Gees ons hele menswees in by ons wedergeboorte en bekering.
Ons word opgeroep om die middele te gebruik.
Net soos met die gewone lewe, werk dit ook so met die geestelike lewe.
As ons liggaam gesond en lewendig wil bly, moet ons elke dag ons maaltye eet.
So is die prediking die voedsel vir die siel.
Wie nie reëlmatig daarna luister nie, wie nie reëlmatig sy Bybel oopmaak nie, veroorsaak dat sy siel sal verhonger.
En as ons kerk toe kom, dan moet ons ook van harte hier sit.
Iemand wat in die kerk sit maar nie na die preek luister nie, is soos iemand wat aan tafel sit maar nie sy bord kos opeet nie.
Dit gaan tot ondervoeding lei.
Ons moet ook nie net proe aan die prediking en dit dan weer uitspoeg nie.
Dit gaan tot anoreksia lei wat dodelik is.
Gemeente, die manier hoe die Gees werk, en hoe Hy ons volle verantwoordelikheid inskakel, dit kan ons nie logies verklaar nie.
Wie dit probeer uitpluis kom in die probleme, of kom by valse teenstellings uit.
Òf dat die Gees alles moet doen en ons maar net stokke en blokke is, onnosel en willoos.
Òf dat die mens alles moet doen, omdat hy van nature nog ‘n goeie wil het.
Beide is verkeerd.
Al verstaan ons nie hoe hierdie twee kante aan mekaar verbonde is nie, laat ons die Skrif volg, dan doen ons goed.
Nie alles in die Skrif is verstaanbaar vir ons nie, maar dit werk wel.
Die wat volgens die Skrif leef, sal dit ervaar.
Jy hoef nie te weet hoe elektrisiteit werk om dit te kan gebruik nie.
So hoef ons ook nie die weë van die Gees te verstaan om te ervaar dat Hy in ons werk nie.
Jesus vergelyk sy werk met die wind: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.” (Joh 3:8)
Hierdie twee kante van die Gees se werk, die geboorte van bo en dan die bekering wat die vrug daarvan is en waartoe ons opgeroep word, sien mens baie mooi in die brief aan die Efesiërs.
Aan die begin van hierdie brief beklemtoon Paulus keer op keer dat dit alles God se werk is, en net Hy kry daarvoor alle krediet en moet daarvoor geloof word.
Byvoorbeeld in Efesiërs 2: “God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde ... ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered” (Ef 2:4-5)
Dit neem nie weg nie, noudat God ons verstand en wil herstel het, dat ons opgeroep word om ons uitverkiesing vas te maak deur ‘n lewe volgens sy Woord.
Paulus roep die Efesiërs in die tweede helfte van sy brief daartoe op:
Julle moet die ou mens aflê (Ef 4:22).
Julle moet julle met die nuwe mens beklee (Ef 4:24).
Daarom, “Lê die leuen af ... spreek die waarheid ... moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie ... Laat die een wat steel, nie meer steel nie ... Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie ...” (Ef 4:25-29)
Die een bevel na die ander.
Waaroor dit alles gaan skryf Paulus in die volgende vers: “bedroef nie die Heilige Gees van God nie”.
Hy is besig om die geboorte van bo in julle te werk.
Moenie dit teenwerk nie.
Kies nou self ook bewus om die middele wat Hy gee optimaal te gebruik.
Ja, juis deur gehoorsaamheid aan sy bevele gebruik jy die middele.
Deur te kies om volgens die Bybel te lewe gebeur wat Petrus skryf, dat ons wedergebore word “deur die lewende woord van God ... En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Pet 1:23-25)
Gemeente, die geskiedenis van Rut – waarvan ons ‘n gedeelte gelees het – is ‘n pragtige voorbeeld hiervan.
Rut was ‘n heidense meisie, sy het opgegroei en geleer om die afgode te dien.
As die HERE nie deur sy voorsienige leiding mense van sy verbondsvolk haar lewenspad laat kruis het nie, sou sy so gebly het – ‘n heidin wat die afgode gedien het.
So sou sy gelewe en gesterf het.
Maar sy het getrou met ‘n verbondskind.
Vir ‘n rukkie was sy met Maglon getroud.
In hoeverre daardie gesin die HERE trou gedien het, weet ons nie.
Per slot van rekening het Elimeleg en Naomi besluit om Israel te verlaat en in ‘n heidense land te gaan bly.
Nietemin het die HERE dit deur sy voorsienigheid laat gebeur dat Rut so met die ware God in direkte kontak gekom het.
En so het die Heilige Gees in haar die wedergeboorte begin werk.
Soos ons in laasweek se preek gehoor het, die geboorte van bo.
Toe die gesin deur die een ramp na die ander getref is – Elimeleg en sy twee seuns het gesterf – besluit Naomi om terug te keer na Bethlehem.
Per slot van rekening, die hongersnood was daar verby.
Op hierdie oomblik sien ons die werk van die Gees in Rut na buite kom.
Die geboorte van bo deur die Gees werk in haar bekering, want sy – in teenstelling tot Orpa – besluit bewus om saam met haar skoonma te gaan.
Sy is nie ‘n stok en ‘n blok nie, sy is nie onnosel nie, sy neem self daardie besluit.
Naomi het geredeneer sy is onnosel, want sy verlaat haar eie mense en gaan ‘n onsekere toekoms tegemoet.
Tog kies Rut om dit te doen, en dit met ‘n baie duidelike motief, naamlik vanuit haar geloof.
Dit hoor ons duidelik toe sy sê: “u volk is my volk, en u God is my God.”
Vanuit dit wat ons later in Rut lees, kan ons daarvan uitgaan dat hierdie keuse gebaseer was op dit wat sy tot op daardie stadium geleer het by haar skoonfamilie oor die ware God.
Soos paragraaf 17 sê: God se werk in ‘n mens sluit nie die gebruik van die middele uit nie.
Die bonatuurlike werking van God waardeur die wedergeboorte plaasvind, sluit volstrek nie die gebruik van die evangelie uit nie.
Die woord evangelie is hier ook op die Ou Testament van toepassing.
En toe hulle terug is in Bethlehem, mog Rut ervaar dat daar in Juda mense was wat God se Woord in praktyk gebring het.
Dink aan Boas wat toegelaat het dat die armes op sy land are optel agter die snyers aan wat besig was om te oes.
Dit was gehoorsaamheid aan God se wet, om vir die armes te sorg.
En later lees ons van Naomi se plan.
Dit was ook gebaseer op die wet van die HERE, wat Hy deur Moses gegee het, naamlik oor die lossers, die lossingswet.
Naomi moes dit aan Rut verduidelik het, omdat Boas een van hulle familielede was.
Naomi se plan was op hierdie wet uit God se Woord geskoei.
Hoekom vertel ek dit?
Om te wys dat – in terme van die Dordtse Leerreëls – Naomi en Rut die middele gebruik het wat God gegee het.
So het die HERE vir haar ‘n toekoms oopgemaak.
Nie net ‘n toekoms wat weer vir haar sekuriteit gegee het, ‘n goeie lewe op aarde, ‘n man en kinders nie.
Meer nog, so het die Heilige Gees ook die geboorte van bo, die ewige lewe in haar gewerk.
Hy het haar selfs ‘n geloofsmoeder in Israel gemaak.
En selfs het Hy haar een van die voorouers van die Messias gemaak.
In die eerste hoofstuk van die Evangelie van Mattheüs lees ons haar naam (Matt 1:5).
Sy het die ma van Obed geword, wat die oupa van koning Dawid was, en soos ons weet, is die Messias uit die geslag van Dawid gebore.
So het die Heilige Gees groot planne in baie opsigte met haar lewe gehad.
En daardie groot planne wat Hy in en deur haar gewerk het, en dit het nie haarself, haar eie wil, haar eie verstand, uitgesluit nie.
Hy het haar wil vernuwe, met die gevolg dat sy self bewus gekies het om haar heidense verlede agter haar te laat en saam met haar skoonma na Israel te verhuis.
Gemeente, so werk die Heilige Gees vandag nog steeds.
Hy gebruik die middele wat Hy daarvoor uitgekies het, soos die nagmaal, en die prediking van die Evangelie.
Daarmee vernuwe Hy jou wil, wat van nature opstandig was.
Daarmee verlig Hy jou verstand, wanneer Hy deur sy Woord jou stap vir stap oortuig waaroor oor die lewe gaan, wat geloof is, wat die heilsfeite was en hoe dit ook jou lewe red van die hel, en hoe jy voortaan jou lewe uit dankbaarheid aan Hom kan toewy.
Moenie wag vir ‘n spesiale teken, ‘n spesiale gesig of droom, ‘n spesiale versekering van die Heilige Gees dat jy gered is nie.
Gebruik die middele, want as jy dit doen is dit ‘n feit dat die Heilige Gees op bonatuurlike wyse die geboorte van bo in jou lewe werk en jou voorberei op die ewige lewe.
Jy is nie ‘n stok en blok nie, moet dus nie passief op ‘n spesiale alternatiewe teken van die Gees wag nie.
Doen waartoe die Gees se middele jou oproep.
Daardeur werk Hy sekerheid in jou, ja selfs die ewige lewe alreeds in hierdie lewe.
In Rut se lewe het daar sekerheid gekom dat sy deel geword het van God se verbondsvolk.
En nie net dit nie, ook van hulle wat God uitverkies het vir die ewige lewe.
Daardie sekerheid het sy nie deur ‘n buitengewone alternatiewe openbaring gekry nie.
Daardie sekerheid het sy gekry deur die pad te stap wat God vir sy kinders op aarde wys, die lewe wat gestalte kry in gehoorsaamheid aan sy Woord.
Laat ons in die week wat kom weer dankbaar daardie pad stap, noudat die HERE ons vandag toegerus het met sy middele.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Rut 1
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, par 16-17
Tema: Die Heilige Gees behandel ons nie as willose domkoppe nie
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Wat bedoel die Dordtse Leerreëls met die uitdrukking stokke en blokke?
- In watter gedeelte van Efesiërs word op die wedergeboorte gefokus? En in watter gedeelte van Efesiërs word op bekering gefokus?
- Hoe het dit gebeur dat Rut tot bekering gekom het?
- Noem voorbeelde hoe Rut en Naomi die middele wat God skenk gebruik het.
- Hoe sorg jy dat jou gedagtes nie afgelei word tydens die erediens nie?
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 40:3
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)
Nagmaalsviering – Skriflesing: Rut 1; Ps 103:3,6
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, par 16-17
Preek
Ps 119:14,37,43
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 119:59,60
Kollekte
Ps 116:1-5
Seën