Geloofd sy die God van ons verlossing!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-11-19
Text: 
Daniël 2:47 & 3:28-29 & 4:37 & 6:26-28
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 2:47 & 3:28-29 & 4:37 & 6:26-28

 

Die boek Daniël word grofweg in twee dele verdeel.

Die eerste deel tot en met hoofstuk 6 handel met name oor die hede.

Die tweede deel vanaf hoofstuk 7 bevat profesieë oor die toekoms.

Hierdie twee dele van Daniël het baie met mekaar te make, hulle speel in dieselfde tyd af.

Die bedoeling is dat die eerste deel, wat oor die hede handel, troos bied vir die toekoms.

As keer op keer ‘n volslae heidense koning die almag van die lewende God bely, en selfs bevele uitvaardig dat sy volgelinge geen kwaad aangedoen mag word nie, dan is dit ‘n bemoediging vir die toekoms!

Ook as daar in die toekoms swaar tye kom, en die tweede deel van Daniël is baie duidelik dat daar swaar tye gaan kom, ook dan moet die volk terugdink aan hierdie jare in ballingskap.

Want deur hierdie jare het die HERE hulle ook gedra, al moes hulle as slawe onder die heidene leef.

Gedurende daardie donker jare was daar ligpunte, momente van bemoediging.

 

Tema: Geloofd sy die God van ons verlossing!

 

1e Tafel:

Neem as voorbeeld Nebukadnesar en die droom wat hy gehad het.

Eers verneder die HERE al die koning se geleerdes, besweerders, towenaars, sterrewiggelaars.

Hulle is magteloos.

Daarenteen openbaar Hy die droom en die uitleg aan Daniël.

Daniël getuig dat dit nie aan sy eie skranderheid, ook nie aan die opleiding wat hy gehad het in die literatuur van die Chaldeërs te danke was nie, maar dat sy God dit aan hom geopenbaar het.

Die koning kon niks daarteen inbring nie.

Inteendeel, uit sy heidense mond kom daar ‘n pragtige belydenis:

“Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.”

Ons lees dalk maklik hieroor heen, maar besef u die impak van hierdie woorde?

Die koning van Babel, wat afgode soos Bel en Nebo aanbid het, hy sê hier iets wat sy gode woedend moes gemaak het – altans as hulle bestaan het.

Hierdie was nie ‘n geloosbelydenis in die sin dat Nebukadnesar tot bekering gekom het nie.

In die volgende hoofstuk laat hy vir homself ‘n goue beeld oprig en moet almal hom aanbid.

Nietemin, hy het hierdie woorde gesê.

Dit was ‘n riem onder die hart vir die ballinge.

 

En dan nog des te meer dit wat die koning gesê het in hoofstuk 3, nadat Daniël se vriende ongedeerd uit die vuuroond gekom het.

Nou loof hy selfs vir hulle God:

“Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het.”

In die uur van die waarheid, toe hulle geweier het om iemand anders te aanbid, het die lewende God hulle bygestaan.

Hy het sy engel gestuur.

Hierdie is, in die lig van die Nuwe Testament, profetiese woorde.

Het God nie inderdaad sy Engel, en dan dink ons aan Jesus Christus, gestuur om ons te red van die helse vuur nie?

 

Wat veral ook vir die ballinge ‘n riem onder die hart was, was die daaropvolgende bevel van die koning:

Vers 29: “Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.”

Die tempelskatte was geroof, die tempel in Jerusalem verwoes, die nasies het gespot: "Waar is nou die HEER, hul God?"  (Ps 115:2 berymd)

Dit het die HERE nie onbeperk geduld nie.

Hy het paal en perk gestel aan hierdie gespot, en dit selfs op bevel van die koning van Babel.

Voortaan moes die nasies van sy ryk ligloop vir hierdie God van Israel!

Inderdaad, die HERE het respek vir Homself afgedwing daar in die heidense stad en paleis.

Dink, behalwe vir die boek Daniël, ook aan die Bybelboek Ester.

Ook daar sien ons dieselfde patroon.

 

Gemeente, ons mag dankbaar bely dat God vandag nog steeds dieselfde doen.

En laat ons die HERE in ons gebede bly herinner om dit te doen.

Om ruimte te maak vir sy kerk.

Dat heidense, of goddelose, of ateïstiese wêreldleiers, tog godsdiensvryheid toelaat.

Dat die kerk kan funksioneer in die maatskappy as ‘n soutende sout.

Dat sy daarin nie gekeer word nie.

Laat dit ‘n gebed bly vir onsself, maar ook vir ons medegelowiges.

Ons kan vandag in vryheid in die kerk sit, saam nagmaal vier.

Ja, daar is dinge wat ons bekommerd maak.

Die kriminaliteit raak so brutaal dat sommiges selfs mense by die kerk begin beroof.

Al gee die regering godsdiensvryheid, die wetteloosheid in die land begin dit te bedreig.

Laat ons dit in ons gebede na die HERE bring, dat Hy Homself as die Almagtige sal betoon!

En dan bid ons nie net vir onsself nie, maar ook vir die gelowiges reg oor die wêreld.

Die president van China is tans besig om sistematies die godsdiensvryheid meer en meer aan bande te lê.

Na ‘n paar dekades van relatiewe vryheid lyk dit of daar weer moeiliker tye kom vir die Christene in China.

Laat ons hulle nie vergeet nie.

En ook nie, al duur dit al vir hoe lank, die gelowiges in Noord-Korea.

En die gelowiges in die Midde-Ooste.

En die mede-gelowiges in Noord- en Sentraal-Afrika, waar die Islam meer en meer militant raak.

En laat ons ook, net soos Daniël se vriende, met ons manier van lewe respek afdwing.

Dat diegene rondom ons raaksien dat ons werklik op God vertrou.

Laat dieselfde gebeur as destyds.

Dat ongelowiges, heidene, met verwondering praat oor die God van Daniël.

Laat mense vandag ook so praat:

Die God van ... en vul jou naam dan maar daar in!

Omdat jy trou Hom dien, gaan die wêreld Hom leer ken en respek vir Hom kry .

Ons lewe anders, omdat ons vir Hom lewe!

As Hy ons so liefgehad het, dat Hy sy eie Seun aan die kruis laat sterf het, wie sal dan nie uit dankbaarheid sy hele lewe aan Hom wy nie?

Geloofd sy hierdie God van verlossing!

 

Tema: Geloofd sy die God van ons verlossing!

 

2e Tafel:

Daar is uitleggers wat Daniël so verklaar dat daar drie opeenvolgende konings was, elkeen met die naam Nebukadnesar.

Ander hou vol dat dit net een persoon was.

Hoe dit ook sy, hy / hulle moes keer op keer deur God af aarde toe gebring word.

Hoofstuk 4 is weer ‘n staaltjie van die ongeremde hoogmoed van die koning van Babel.

“Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (vers 30)

Ongelooflik arrogante woorde.

Maar dit was dan ook die druppel wat die emmer laat oorloop het.

God het dit nie geduld nie.

Hy het Nebukadnesar al in ‘n droom gewaarsku, maar die wou nie luister nie.

Nou, terwyl daardie arrogante woorde nog in sy mond was, het daar ‘n stem uit die hemel geval:

“Koning Nebukadnesar, jou word aangesê – die koningskap word jou ontneem” (vers 31)!

Daarna het hy op ‘n manier kranksinnig geword en soos ‘n dier begin lewe, en dit, staan daar, vir sewe tydperke.

Die HERE het dit nie geduld nie.

En toe, na daardie lang tyd, God hom weer rehabiliteer, het hy uiteindelik die regte houding gehad.

Hy het sy plek geken en bely: “ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir hom kan sê: Wat doen U nie? (vers 34-35)

 

Dink net hoe hierdie woorde die gelowiges in daardie tyd bemoedig het.

Woorde wat net sowel uit een van hulle Psalms kon gekom het.

 

En dan, gemeente, die mees verregaande belydenis kom uit Darius se mond.

Ook ‘n heidense koning in Babel.

En dit was nie net woorde nie, hy het dit op skrif gestel.

Dit was ‘n bevel aan alle volke, nasies en tale.

Almal in sy magsgebied moes voor die God van Daniël bewe en sidder.

En dan gee hy die rede:

Want hierdie God bestaan in ewigheid.

Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie.

Sy heerskappy duur tot die einde toe.

Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde.

 

Hierdie woorde van Darius was profeties.

Woorde wat al op die Nuwe Testament gedui het.

Net soos by Bileam destyds, laat God hierdie heidense koning woorde uitspreek oor die koms van sy Seun, en die koms van die nuwe bedeling.

Want danksy die koms van Jesus Christus moes inderdaad alle volke, nasies en tale tot bekering kom en Hom as ewige Koning eer.

Darius se woorde dui op Christus: Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie.

Sy heerskappy duur tot die einde toe.

Dit weet ons vandag uit die feite van die Nuwe Testament, omdat Christus, na sy Middelaarswerk op aarde, opgevaar en plaasgeneem het op die hemelse troon langs die Vader.

Ons lewe vandag onder sy ewige heerskappy.

Steeds is dit sigbaar dat Hy verlos en tekens doen in die hemel en op die aarde.

So het die profesieë van die Ou Testament in vervulling gegaan.

Voorspel deur God se knegte die profete, maar ook geprofeteer deur heidense konings.

 

Daar is progressie in dit wat hierdie heidense konings bely het.

Aan die begin – hoofstuk 2 – het Nebukadnesar bely dat Daniël se God die God van die gode is.

Daarna – hoofstuk 3 – roep hy enige volk, nasie of taal op om nie oneerbiedig oor hierdie God te spreek nie.

En dan in hoofstuk 6 vaardig Darius ‘n bevelskrif uit, waarin alle volke, nasies en tale opgeroep word om vir hierdie God groot repsek te hê.

Elke keer is dit ‘n erkenning van ‘n heidense koning, en hulle belydenis word steeds sterker.

God vestig eerbied vir sy Naam steeds meer in Babel, en onder al die volke, nasies en tale.

 

Daniël is ‘n troosboek, ook vir vandag.

God hoor elke woord wat uit aardse maghebbers se monde kom.

As hulle laster tot die hemel styg, sal Hy ‘n einde daaraan maak.

Hy sal hulle laster omkeer in ‘n loflied, soos hier by Nebudkadnesar en Darius.

Ons kan daarom met vertroue die toekoms ingaan.

Ons kan ons kinders en kleinkinders aan hierdie God, die Vader ons Here Jesus Christus toevertrou.

Ook hulle sal onder Christus se heerskappy lewe.

As sy gemeente sal ons, die een geslag na die ander, nagmaal bly vier totdat Hy terugkom.

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Daniël 2:47 & 3:28-29 & 4:37 & 6:26-28

Teks: Daniël 2:47 & 3:28-29 & 4:37 & 6:26-28

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. In watter twee dele word die boek Daniël verdeel?
  2. Kan God heidene gebruik om profesieë uit te spreek?
  3. Hoe het Koning Darius oor die Here Jesus Christus geprofeteer?
  4. Hoe wys Koning Darius se woorde na die nuwe bedeling?
  5. Het jy dit al meegemaak dat mense, as gevolg van die feit dat jy ‘n standvastige en toegewyde gelowige is, die Here loof?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 148:1

Wet

Sb 10:1,2

Nagmaalsformulier (1e deel)

Ps 86:6

Nagmaalsformulier (2e deel)

Ps 86:8

Gebed (afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 22:11

1e tafel: Daniël 2:47 & 3:28-29, 1e punt van die preek; Ps 148:3

2e tafel: Daniël 4:37 & 6:26-28; 2e punt van die preek; Ps 148:4

3e tafel: Lofverheffing; Ps 148:5

Dankgebed

Kollekte

Sb 10:3-6

Seën