Getel, getel, geweeg en te lig bevind

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-10-29
Text: 
Daniel 5:25
Preek Inhoud: 

Preek: Daniël 5:25

 

As mens hoofstuk vir hoofstuk uit ‘n profeet behandel, dan word bepaalde patrone sigbaar.

So is die boek Daniël veral ‘n troosboek.

Tydens die ballingskap word keer op keer die oppermagtige heidense koning van Babel verneder.

Elke keer moes hy vol skaamte die heerskappy van die Koning van die hemel bely.

In die vorige hoofstuk het die lewende God selfs vir Nebukadnesar teruggebring uit sy toestand van kranksinnigheid, slegs met die doel om hierdie belydenis af te lê.

En nou, in hoofstuk 5, is die volgende koning aan die beurt: Belsasar.

 

Tema: Getel, getel, geweeg en te lig bevind

 

Om hierdie hoofstuk te verstaan, moet ons teruggaan na Daniël 1.

In die heel eerste verse staan hoe Nebukadnesar die kosbare voorwerpe uit die HERE se tempel gesteel het.

Dit was voorwerpe wat uitsluitlik vir die tempeldiens toegewy was.

Hy het daardie voorwerpe as trofee in die skathuis van sy god gebring.

Later het hy selfs die tempel in Jerusalem verwoes.

Kortom, Nebukadnesar het die God van die Jode verneder.

Maar die eerste hoofstuk lig al ‘n tippie van die sluier:

Vers 2: Dit was die Here wat toegelaat het dat hy daardie tempelvoorwerpe kon steel.

Die berowing en later verwoesting van die tempel was skynbaar sy wil.

Daaroor lees ons baie in die ander profete.

Daniël fokus egter op die HERE se bemoeienis met die konings in Babel.

Belsassar is nou volgende aan die beurt om verneder te word.

 

Dalk raak u al bietjie moeg hiervoor.

Oor en oor preke met dieselfde boodskap.

Elke keer dieselfde patroon.

Babel se koning is hoogmoedig, God bring hom af aarde toe, en daarna bely hy die lewende God.

Gaan hierdie preek weer in dieselfde trant wees?

Nou voordat u verveeld begin raak, verplaas u self bietjie in die posisie van die Jode in ballingskap.

Vergelyk dit bietjie met u eie situasie.

Is dit nie ook so dat ons nie kan ophou kla oor die regering nie?

Dit lyk wel of ons nooit moeg raak daarvoor nie.

Ons hoor graag slegte nuus oor die regering.

Elke keer is dit weer hoofopskrifte in die koerante.

Dit omdat daar ‘n gevoel van onreg aan ons knaag, dat dit so duidelik is dat daar korrupsie op groot skaal plaasvind, maar ons voel magteloos, want steeds kan daar net nie iets aan gedoen word nie.

Net so het die Jode in ballingskap magteloos gevoel teenoor ‘n oormag.

En al het die vromes eerlik erken dat dit hulle eie skuld was dat hulle in Babel opgeëindig het, nog steeds was dit oorduidelik dat die konings van Babel net so skuldig was teenoor die God van die hemel.

Ja, God het hulle gebruik om sy straf uit te voer, maar dit het nie van hulle onskuldige mense gemaak nie.

En soos Babel se roem toegeneem het, so ook die arrogansie van sy konings.

God se volk moes dit magteloos aanskou.

So, dink net hoe gretig hulle moes geluister het na elke verhaal wat hulle vanaf Daniël bereik het, elke verhaal oor wat hulle God daar in die Babelse paleise gedoen het!

 

Juis in hierdie omstandighede gee die HERE vir hulle bemoediging deur sy profeet Daniël.

Nie net deur die profesieë wat hy uitgespreek het nie, maar ook deur hoe die HERE sy lewe gelei het.

Hoe hy ‘n senior raadgewer van die koning geword het.

En dit wat hy alles aan die hof meegemaak het.

Die HERE het aan Daniël ‘n lang lewe gegee, en onder verskillende konings het hy as raadgewer gedien.

 

Vandag se hoofstuk is ‘n voorbeeld daarvan.

Koning Belsassar het ‘n groot fees gehou.

Duisend maghebbers is uitgenooi.

Om ‘n groot staatsbanket te hou is nie verkeerd vir ‘n koning om te doen nie.

Waar dit hier oor gaan is dat Belsassar in sy arroganse spesiaal die goue en silwer bekers wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem gevat het, laat haal om daaruit te drink.

Dis nie dat hy te min goue bekers en borde en skale gehad het nie.

Hierdie was uit en uit ‘n daad van arrogansie, om die God van die hemel te tart.

Hy het daaruit gedrink, sy maghebbers, sy vroue, sy byvroue.

Terwyl hulle dit doen, het hulle hulle eie gode geprys.

Daniël skryf: hulle gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip.

Spottende opmerking.

So is daar in die magtige Babel feesgevier.

En soos die wyn ingeskink is, het die vrolikheid en spotterny toegeneem.

 

Tot daardie oomblik.

Die oomblik toe uit die bloute vingers op die witgekalkte muur begin skryf.

Teenoor die kandelaar, staan daar, dus helder verlig vir almal om raak te sien.

Die magtige selfversekerde Belsassar raak skielik lyksbleek, sy knieë klap teen mekaar, sy heupgewrigte raak los.

Ons sou vandag sê: sy bene was soos jelly soos hy daar staan en bewe.

Komies hoe maklik die God van die hemel ‘n aardse maghebber op sy plek kan sit.

Hy skreeu na sy besweerders, sterrewiggelaars, waarsêers.

Hulle moes onmiddelik kom om daardie misterieuse skrif te lees.

Watter skrif dit was, weet ons nie.

Mense het dikwels aangeneem dit was Hebreeuse skrif.

So het Rembrandt op sy beroemte skildery oor hierdie geskiedenis netjies Hebreeuse letters op die muur ingeskilder.

In elk geval, geen van die waaarsêers kon dit lees nie, laat staan uitlê.

Nou was die koning eers ontsteld, hy het nog bleker geword.

Al die gaste was verward.

 

Tussen hakies, gemeente, dit is opvallend in die Ou Testament hoe ernstig die HERE was oor sy huis en die voorwerpe daarin.

Dink aan die tyd toe die Filistyne die ark buitgemaak het.

Hulle het dit toe in die tempel van hulle god gaan sit.

Net soos by Nebukadnesar is dit gedoen as bewys dat hulle god sterker was.

Die HERE het dit egter nie geduld nie.

Die volgende oggend het die beeld van Dagon op sy gesig plat voor die ark gelê.

Nadat die Filistyne hulle god weer regop gesit het, het dit die tweede nag weer gebeur, hierdie keer was sy kop en hande afgebreek (1 Sam 5).

Ja, die volk mog nie die ark self aanbid nie, daarom het God toegelaat dat die Filistyne dit buitmaak.

Maar terselfdertyd moes die Filistyne nie dink hulle god was sterker as die HERE nie.

So het Hy gesorg dat die Filistyne doodsbenoud vir die ark geraak het.

 

Daardie selfde respek het God vir die ark van sy eie volk verwag.

Dink aan toe die ark na Jerusalem gebring is deur Dawid, maar nie op die voorgeskrewe manier nie.

Toe die ark van die wa begin afgly en Ussa dit keer, het Ussa gesterf.

‘n Moeilike geskiedenis vir ons om te verstaan.

Maar die HERE wou aan sy volk duidelik maak hoe heilig Hy was, en dit het die ark gesimboliseer.

Selfs die grond waarop die ark sou val, was minder onrein as Ussa se hand, al het hy dit met die beste bedoelings gedoen.

Geen mens op aarde, selfs geen gelowige, is uit homself rein genoeg om voor God te verskyn nie.

 

En nou weer in hierdie geskiedenis leer die HERE ‘n les aan Belsassar.

As Ussa al onrein was, hoeveel te meer nie hy met sy arrogante houding nie.

Gemeente, besef ons nog wel ons onreinheid voor God?

En dat ons nie voor Hom mag nader as die versoeningsbloed op die regte manier deur die regte persoon op sy ark gesprinkel is nie?

Wat ‘n voorreg dat ons nou met ‘n beroep op Christus se versoeningsbloed met vrymoedigheid tot sy troon mag nader!

Dit egter nederig en skuldbewus.

Trots, arroganse en selfhandhawing pas nie by ‘n sondaar wat vergifnis nodig het nie.

 

Nou lyk dit of Daniël, nadat die vorige koning, Nebukadnesar, van die toneel verdwyn het, bietjie in die vergetelheid geraak het.

Maar die koningin het hom onthou.

Die woord vir koningin kan hier eerder vertaal word met koninginmoeder.

In teenstelling tot die koningin, Belsasar se vrou, was sy nie deel van die partytjie nie, maar wel in die paleis.

Die moeder van die koning het in daardie tyd ‘n belangrike posisie beklee.

Dink ook aan Batseba se posisie in Dawid se paleis.

Die koninginmoeder het dus die eetsaal ingekom, moontlik nuuskierig waar die oorverdowende stilte ineens vandaan gekom het.

En sy het daardie uitsonderlike man onthou wat in Belsassar se pa se tyd die owerste van die geleerdes en besweerders was.

Vinnig is Daniël opgespoor, dit was nog bekend dat hy een van die Joodse ballinge was.

Ook aan hom word goud en purper belowe, selfs om die derde magtigste in die koninkryk te word.

 

Daniël bedank vir al die geskenke.

Geskenke kan die oë verblind (Deut 16:19), ‘n harde boodskap afswak.

Ag, koning, weet u, u hoef nie bekommerd te wees nie.

Ja, hierdie woorde kom van God af.

Maar onthou, God het u lief.

God is mos nie ‘n God van toorn nie?

Mens moet nie so oor God dink nie.

Hoe dikwels laat predikers nie die boodskap van God se regverdige straf agterweë nie?

Hoe dikwels word mense nie net gepaai met gerustellende boodskappies nie ...

 

Maar, soos ons reeds in die preek oor Daniël 1 gesien het, het God vir hom en sy vriende sterk gemaak.

Hy het hulle moedig en dapper gemaak, sodat hulle die druk kon weerstaan.

Daniël besef dit is weer sulke tyd.

God se tyd het weer gekom om die volgende koning van Babel op sy plek te sit.

Die skrif teen die muur, alhoewel dit maar enkele woorde was, het boekdele gespreek.

Daniël het nie bleek geword met knikkende knieë nie, teen hierdie tyd was hy al vertroud met die HERE se modus operandi, sy manier van werk.

Hy gryp die geleentheid wat hom gegee word aan om te getuig.

Daar voor die koning en die duisend belangrikste maghebbers van die ryk.

En voordat hy die letters op die muur ontsyfer, begin hy eers met ‘n berisping.

Belsasar, u het geweet wat met u pa gebeur het.

Al was hy hoe magtig, die oomblik toe hy hoogmoedig en arrogant geword het, is hy van sy troon gestoot.

Hy kon nie meer regeer nie, want hy het sy kop verloor.

Vir geruime tyd het hy saam met beeste en donkies gelewe.

En toe, ook uit die bloute, het hy ineens weer beter geword.

En toe het hy erken dat daardie God van Daniël die Allerhoogste is.

Dat Hy die koningskap kan gee aan wie Hy wil.

Desnieteenstaande het u, Belsassar, wat sy seun is en van hierdie dinge geweet het, u hart nie verneder nie.

U hoogmoed het daaruit geblyk dat u die arrogansie gehad het om hierdie God se tempelbekers te gaan haal.

 

Nou gemeente, soos ek genoem het, hierdie was nie vir praktiese redes nie.

Hier was simboliek agter.

Belsassar het gepronk met sy mag oor alle volke en selfs hulle gode.

Sy gode was sterker.

Wyn aan sy gode geoffer word nou gedrink uit die tempelbekers van die Jode se God.

Ja, selfs daardie God vir wie sy pa aan die einde van sy lewe tog ontsag getoon het.

Maar nie hy nie.

In sy oormoed met die nodige wyn binne het Belsassar vir God uitgedaag.

Kom ons kyk of hierdie God my ook kranksinnig kan maak – ha ha ha!

 

Belsasar het dit alles aspris gedoen.

Hy het van die God van die hemel geweet.

Wat geskryf word in Romeine 1:21, was ook op hom van toepassing:

“omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”

 

En ja werklik, weer totaal onverwags, gebeur dit toe.

God het ander planne met hom gehad, erger nog.

Belsassar het nie kranksinnig geword nie, wel lyksbleek.

En later die nag selfs ‘n lyk.

Ja dit sou sy laaste nag word.

 

Mene, mene, tekel, ufarsin.

Onleesbare letters, maar die woorde was wel ontleen aan Belsasar se taal.

Die betekenis: Getel, getel, geweeg, te lig bevind, en verdeel onder die Meders en Perse.

Hierdie is woorde afgelei van munte, betaaleenhede.

Neem byvoorbeeld die woord tekel.

Dit is verwant aan die woord sikkel, die betaaleenheid wat ons in die Bybel vind.

‘n Munt se naam was in daardie tyd verbonde aan ‘n gewigsmaat.

As mense betaal het, is munte afgeweeg, die gewig aan silwer hoe swaar hulle was.

So het God getel, Hy het geweeg, en Belsassar is te lig bevind.

Hy was die koningskap nie werd nie.

Die grootheidswaan van maghebbers lei tot hulle eie ondergang.

Deur die eeue was dit so.

Dink aan Koning Herodes in Handelinge 12.

Die volk het hom toegeroep: “’n Stem van ‘n god en nie van ’n mens nie!”

Hierdie verheerliking het hy self uitgelok met sy koninklike kleed, wat soos die son geskitter het.

Ook toe het God ‘n engel uit die hemel gestuur en hom getref.

En dan skryf Lukas: “hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Hand 12:23)

 

Vandag weeg God nog steeds die maghebbers van die aarde.

En nog steeds gebeur dit meer dikwels as nie dat hulle te lig bevind word.

As gelowiges sien ons dikwels die skrif aan die wand – die skrif aan die muur.

Pragtig dat hierdie ‘n spreekwoord in ons taal geword het.

So kan ons ook profeties die toekomstige val van hoogmoedige heersers in ons tyd voorspel.

Die geskiedenis herhaal homself keer op keer.

Maghebbers se ryke word van hulle af weggeneem en verdeel onder ander.

Die stryd vir die mag gaan steeds voort op aarde.

Maar daar sal ‘n dag kom, en dit bely ons as profete, dat alle magstryd op aarde tot ‘n einde sal kom.

Dit is as die koninkryk kom van Hom wat reeds soos ‘n klip van ‘n hoë berg af losgebreek het – Daniël 2.

Ons Here Jesus Christus.

Sy wederkoms wag ons in spanning af.

En laat ons, soos Daniël in Babel, sy Woord uitdra.

‘n Helder lig wat opgevlam het in die duisternis.

Daarna sou sy Woord van tyd tot tyd weer opvlam in hierdie heidense stad.

Vanuit hierdie gebied sou eeue later die wyse manne, die sterrewiggelaars, vertrek oppad na Betlehem, om eer te bewys aan die Koning van die konings.

Ons lewe nou in die nuwe bedeling.

God se Woord het uitgegaan na die uithoeke van die aarde.

Ons sien uit na die dag as sy Woord die aarde sal bedek soos die waters die bodem van die see.

Dan sal daar geen versterkte stad, geen goddelose stad, geen atheïstiese stad, nêrens meer wees waar God se Woord nie sal klink nie.

 

Belsasar se dae was getel.

Daardie nag het die Meders en Perse die stad binnegeval en is hy gedood.

Uit buite-Bybelse bronne weet ons dat die Perse inderdaad op daardie oomblik in die vlaktes buite die stad hulle kamp opgeslaan het.

Moontlik was Belsassar bewus daarvan, maar in sy grootheidswaansin het dit hom nie gepla nie.

Babel was mos onneembaar.

Die mure om die stad was so dik dat hulle bestand was teen die wapens van daardie tyd, soos die katapulte waarmee klippe teen die muur geslinger is.

Ook was daar ‘n dubbele ry mure om die stad.

Klippe en brandpyle wat oor die eerste muur geskiet is, kon nie ver genoeg trek om die stad te bereik nie.

Boonop het Nebukadnesar ‘n kanaal van 80 meter breed rondom die stad gegrawe.

Die stad was gewoon oninneembaar, so is gedink.

 

Tog het dit gebeur.

Ons weet ook uit buite-Bybelse bronne hoe dit gebeur het.

Die Eufraatrivier het naamlik middeldeur die stad gevloei.

Wat die Perse toe gedoen het, was om ‘n damwal te bou in die rivier bo die stad.

Na ‘n paar ure het die rivier ophou stroom en kon die Persiese soldate deur die modderige rivierbedding onder die mure deur tot binne-in die stad kom.

So is die stad daardie nag totaal onverwags ingeneem.

Dit terwyl Belsasar en sy maghebbers besig was om fees te vier.

Die betekenis van sy naam was: Bel beskerm die koning.

Maar Bel was onmagtig.

Dit was die koning se laaste fees.

Getel, getel, geweeg en te lig bevind.

Hoeveel keer het dit nie geklink in die geskiedenis nie.

Hoeveel keer sal dit nie nog klink in die toekoms nie.

Gelukkig maar!

Die Here se raad word nooit gekeer nie, ook nie deur die mees versterkte stede nie.

Laat ons dit bely, as ons sing saam met die laaste Bybelboek oor wat die uiteinde van hierdie aarde gaan wees:

“Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig”! (Openb 19:1,2)

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Daniël 5

Teks: Daniël 5:25

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe kan die boek Daniël as geheel beskryf word?
  2. Hoekom was die boek Daniël nie vir die Jode in ballingskap ‘n vervelige boek nie?
  3. Hoekom het die HERE aan die een kant toegelaat dat die tempel verwoes word en alles daarin was gesteel word, maar aan die ander kant was Hy baie ernstig oor daardie voorwerpe?
  4. Hoe is die stad Babel ingeneem?
  5. Besef jy dat jy onrein is voor God? Hoe kan jy dan naby Hom kom?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 96:1-3

Wet

Ps 115:1,3,5,8

Gebed

Skriflesing: Daniël 5

Ps 46:4,6

Teks: Daniël 5:25

Preek

Sb 29:1 (almal), 2 (almal), 5 (mans), 6 (vroue), 8 (almal), 9 (almal)

Gebed

Kollekte

Sb 31:1-3

Seën