Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus. Wat is die verband tussen:
- die Here Jesus Christus, die Koning wat uit die hemel na hierdie wêreld gekom het en mens geword het om ons met God te versoen,
- die bedienaars van die Woord (dit is die herders),
- die gemeente wat die Woord van die bedienaars hoor en dit op haar laat inwerk?
Ons lees in ons Teks en Skrifgedeeltes van God en sy Christus en sy direkte leiding van sy gemeente. Ons lees van Christus se gemeente in Korinte en hoedat met die stuur van bedienaars van sy Evangelie Hy sy geroepe heiliges, sy gemeente onmiddellik, direk, lei en regeer om Hom en sy werk te ken en nie op mense nie, maar op Hom te vertrou. Ons lees van die dienaars wat Christus roep en stuur om die evangelie, dit is wat verborge was maar nou deur Christus se menswording in die volle lig kom vir sy uitverkore gemeente te bedien, om Christus te erken en Hom te omhels.
Tema:
Die goeie nuus dat Christus sy kerk op aarde kom versamel het en altyddeur lei en versorg, destyds vir sy uitverkorenes in Korinte en vandag vir sy gemeente hier en wereldoor
Jy kan die verband van die goeie nuus van Christus se koms na ons en ons wêreld destyds en sy werk vandag aan sy gemeente maklik trek. En dan vra jy hoe kyk ons, gemeente van Christus, en ons ampsdraers vandag na die gawe van Christus in sy direkte leiding en versorging van sy gemeente deur sy bedienaars van sy Woord?
Die Woord het vlees geword, en so het God onder ons kom woon, in die Messiaskoning, van ‘n ryk wat reeds deur Jesaja en ander profete in die Ou Testament verkondig is, ‘n ryk so groot, so omvattend, so lewensveranderend dat jy as sondige mens alleen deur die werking van die Heilige Gees met God se wysheid jou dit kan voorstel en persoonlik aanneem. Dit wat Christus op aarde kom doen het, alles wat nodig was om ons sonde en straf weg te neem en ons onderdane van Hom die koning, Lukas 19, en kinders van ons hemelse Vader te maak. Sodat God met blydskap deur ons gedank en geëer en geprys kan word oor sy magtige dade in en deur sy Seun, sy heilsplan wat eers versluierd was maar nou deur Christus se werk aan sy uitverkorenes in volle lig gekom het.
Op die derde sondag van Advent, 500 jaar gelede het Maarten Luther, die Hervormer, Jesus Christus verkondig vanuit die eerste brief van Paulus aan die gemeente in Korinte hoofstuk 4, wat vanoggend ons teks is. Ongeveer 1500 jaar voor hierdie preek van Luther het die hemelkoning sy hemelse woning verlaat en na die aarde gekom, gebore as baba in ‘n stal om ons sondes in ons wêreld voor God te kom dra. Luther het aangesluit by Lukas 19, ‘n gedeelte wat aanvaar is vir die eerste Sondag van advent, waar Lukas beskryf het hoe Jesus nederig op ‘n donkievul, maar tog koninklik, as koning van God gestuur, Jerusalem binnegery het. Dit beskryf sy vernedering en lyding op aarde wanneer Hy die stad van die koning, Jerusalem binnegaan. Hy die Seun van Dawid, die koning wat van God in die hemel aarde toe gekom het, het dit nie gedoen as aardse koning in ‘n koninklike gewaad op ‘n swierige perd met ‘n groot gevolg soldate en deur onderdane tegemoet getree en begelei nie. Hy is gebore in ‘n stal, en Hy het nederig op ‘n vul Jerusalem, die stad van die groot koning binnegery, Lukas 19:29-42, sodat Hy, as deur die mense veragte koning, ons skuld op Hom geneem het en aan ‘n kruis gesterf het, en so ons sonde en dood oorwin het om in ons plek vir ons sonde voor God te voldoen. Hy het die vul deur sy dissipels laat haal, en vir Homself as koninklike rydier toegeeien. Hy het die stad genader, sy dissipels het Hom aanskou en gehuldig. Sy saal was die klere van die menigte dissipels en die oopgerolde tapyt was ook klere wat hulle op die grond oopgesprei het. Die menigte dissipels het teen die afdraand van die Olyfberg God met blydskap geprys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het in Messias Jesus. Hulle het geroep 19:38: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! Hy moet as koning alle eer ontvang en as die Fariseers Hom wil verhinder antwoord Hy hulle dat as die dissipels sou swyg, sal die klippe uitroep. Die evangelie, die verborgenhede van God, sien ons, moet uit. Jesus huil oor die stad, wat gebeur is dat die vrede van God wat Koning Jesus vir ons bring, waarvan ons in Paulus se eerste brief aan die gemeente in Korinte lees as die verborgenhede van God, is vir die oë van hierdie stad se inwoners bedek, vers 42.
Luther het daarop gewys dat nie een van die dissipels nie, maar alleen Jesus Christus op die vul van die donkie as Koning binnegery het. Alleen aan Hom het die eer toegekom dat Hy die koning is wat die oë vir die verborgenhede van die verlossing deur God van sondige, skuldige mense deur sy lyding en sterwe geopen het, so ons God se liefde laat ont-dek het, alles vir sy uitverkore kinders, sodat God oor hierdie goeie nuus, verheerlik word.
Nou as opgestane, verhoogde en enigste koning wat oor alles in die hemel en op aarde regeer, roep Hy sy gemeente, roep Hy ook vir ons deur sy dienaars, die bedienaars van God se verborgenhede wat sy werk in Christus is om ons verhouding met God te herstel deur die hoor van die Woord en die geloof wat die Gees aan ons skenk. Vir tweeduisend jaar vanaf sy menswording is Hy steeds die Hoof van sy kerk oral waar Hy dit vergader. En regeer Hy steeds deur dienaars wat sy Woord bedien, sy kerk. En duld Hy geen menslike plaasvervangers soos ‘n eiesinnige pous of moderator of ‘n magtige sinode wat die kerke met ‘n kerkwet in dwingenlandy hou nie, of ‘n vroom groep in die gemeente met diepere insig of ‘n manipulerende voorganger wat ‘n dominokrasie in die gemeente oprig nie. Christus lei sy gemeente in Korinte direk deur die bediening van Paulus en sy mede bedienaars Apollos en Petrus, en deur die eeue waar Hy vir Hom uitverkore geroepenes by sy gemeente vir die ewige lewe gevoeg het.
1. Daar is slegte nuus van die gemeente in Korinte
Maar Paulus het slegte nuus van die gemeente in Korinte gekry. As dienaar van Christus skryf hy aan die gemeente in Korinthe in sy eerste brief, en veral in ons teks in 1 Korinthiërs 4 vermanend na aanleiding van wat hy van hulle gehoor het dat hulle volgens die dwaasheid van die wêreld optree en nie volgens die wysheid wat die Gees van God aan hulle geskenk het nie. Indien hulle gehou het aan die Evangelie sou hulle Christus en sy heerlike werk vasgehou en gekoester het. Christus het sy dienaars na hulle toe gestuur om die verborgenhede van God aan hulle te bedien, sodat hulle God en Christus en dit wat Christus vir hulle gedoen het en nou vanuit die hemel op aarde steeds vir hulle deur sy Gees doen helder voor hulle sien. En ja Christus gebruik voortgaande, mense, geroepe dienaars as instrumente in sy hand om God se heerlike werk te verkondig en so hulle tot geloof bring en hulle geloof versterk. Maar dit is en bly Christus wat self sy gemeente opbou in geloof en vertroue op Hom. Maar slegte nuus: Paulus kom te hore dat sekere mense in die gemeente in Korinte keuses maak vir die of daardie apostel of bedienaar van die woord wat hulle elkeen wil navolg. Dit het partyskap en onenigheid tot gevolg, want wanneer jy die een verkies, verwerp jy die ander en jaag jy mense se gemoedere op. En die gevolg hiervan is dat hulle nie na Christus kyk vir elke uitdaging en probleem in die gemeente nie, alles van Hom verwag in voorspoed maar ook in beproewing nie, maar hulle sig op Hom laat verdring deur hulle wêreldwysheid, wat dwaasheid by God is. In trotse selfingenomendheid en opgeblasenheid oordeel hulle die dienaars van Christus en soek hulle heil by of Paulus, of Apollos of Petrus. Soekend na die eer van ‘n persoon en in handhawing van hulle eie eer, het hulle vir Christus, die enigste Hoof van die kerk verbygegaan, en met mekaar in onenigheid geleef.
In die lig van hierdie onenigheid en Paulus se vermaning kan hulle vra: Wie is Paulus, wie is Apollos, wie is Petrus eintlik?
Gemeente, ons koning gee vir ons alle skatte van verlossing en heiligmaking wat Hy vir ons deur sy offer verkry het sodat ons Hom nou navolg en nie ons eie eer soek met die gesindheid van Jesus se dissipels in Lukas 22:24-30 nie: En daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ‘n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.
Die gemeente moet van Paulus leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, 4:6, sodat hulle nie een ter wille van die ander opgeblase sal wees teen ‘n derde nie. Die kerk word deur Christus regeer volgens God se genade vir sondaars. Alles wat hulle het, het hulle van Hom ontvang. Daaroor moet hulle roem. Hulle is deur Christus versadig en ryk gemaak, nou reken hulle hulle kan heers. Hulle oordeel is egter sodanig dat hulle nie kan heers nie. Christus heers nou, voor sy wederkoms. Hulle is van Christus maar dit is nog nie die tyd om gesag te voer en saam met Christus te heers nie. 3:18-23: Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang; en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is. Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge — alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.
Vel geen oordeel oor iets voor die dag dat die Here kom nie. Wag op die koms van die Heer. Eers dan sal die hele waarheid vir elkeen openbaar word. Eers dan kom die hele Paulus en die hele Apollos met hulle motiewe en dade aan die lig van die Here. Dan sal elkeen lof van God ontvang na mate.
As die dag van Christus maar aangebreek het sou die stryd vir die apostels ook verby gewees het. Sou hulle ook as konings met Christus regeer. Maar nou moet hulle verneder word en ly. Hulle is ‘n skouspel,9, Paulus gebruik die beeld van ‘n arena waar die generaal sy leermag ten toon stel, die buit wat hy verkry het daarna ingedra word, en dan die oorwonne gevangenes wat doodgemaak word in die arena kom. Dit is waarvoor hulle afgesonder is in Christus se diens.
Paulus spreek hulle geestelike hoogmoed aan sowel as hulle bevinding van die apostels as swakkelinge. Die gemeente jaag wereldse sukses en mag na. Terwyl die apostels werk met hulle eie hande. Al word hulle belaster en al ly hulle ontbering, vertroos hulle steeds die gemeente.
Die gawe van God kan slegs deur die hoor van die Woord van God, deur die geloof verkry word. Dit word deur Christus se geroepe en gestuurde dienaars, bedienaars van die Evangelie uitgedeel en deur die kragtige werk van die Heilige Gees in ons harte bevestig. Die hemelkoning het na ons gekom om God se welbehae, God se vrede aan sondaars te skenk. Daarvoor moes Hy aan die kruis verneder word.
Maar hierdie diens van Christus kon die Korintiers nie begryp vanuit hulle verkeerde verwagtings van die dienaar van die Woord nie. Hoe het die gemeente dan teenoor die bedienaars gestaan?
In die eerste brief van Paulus aan die gemeente in Korinte lees ons die vrede van God het deur Christus op aarde gekom, die versoening is deur Christus voldoen, verkry, en verkondig. Hy het aan God se geregtigheid voldoen, en ook aan God se barmhartigheid in sy medelye met ons en sy plekbekledende offer vir ons. Wanneer die Korintiers geroep word, en hulle laat vergader, is dit omdat hulle glo in Jesus Christus wat deur sy bedienaars die verborgenhede van God wat in die persoon en werk van Christus is, verkondig.
Hulle kan nie meer in dwaasheid onenig wees nie, en veral nie oor die bedienaars van Christus se evangelie nie. Want die bedienaars is rentmeesters van die verborgenhede van God, van dit wat God uit genade aan sy geroepenes geskenk het. Hierdie verborgenhede moet nie in kiste weggepak word nie, maar deur die bediening van die leer van die evangelie uitgedeel word. Christus word deur die dienaars verkondig want Hy is ons wysheid uit God, geregtigheid, heiligmaking en verlossing. Geen vlees mag voor Hom roem nie, die wat roem moet in die Here roem, 1 Korinthiërs 3:21. Omdat die gemeente aan Christus behoort, moet hulle Hom aanhang en van Hom alles verwag. Hulle moenie dienaars van Christus aanhang en teenoor mekaar afspeel nie.
2. Die gemeente van Christus word vermaan deur sy boodskapper om op Christus alleen te vertrou
Paulus en die ander bedienaars is vir die gemeente gestuur as boodskappers van Christus. Om aan hulle die goeie nuus van die verborgenhede van God te bring en hulle op te roep om te glo. Deur die werking van die Gees het hulle in die prediking die koning in sy heerlikheid aanskou en Hom gevolg. Die gevolge van wat hulle in Christus het, moet hulle aan die hand van die Woord deurdink en daarvolgens lewe met God en met mekaar. Deur die bediening van die bedienaars van die Woord, groei hulle in kennis van Christus en bedink niks bo of buite om van wat geskrywe is in die getuienis van die apostels aangaande die rykdom van die verborgenhede van God in die vleeswording van Christus. Die wese van die ampsdiens in die omvang van die ampsgesag moet erken word omdat die bedienaars van Christus aan hulle gegee is om met God se versoening die gemeente te bedien en te lei.
Watter vereiste word deur Christus aan sy dienaars gestel? Hulle moet betroubaar wees. Niks anders as Jesus die gekruisigde bedien nie. Hulle moet getrou in hulle diens bevind word. Wee hulle as hulle ontrou bevind word. Die doen is hier die beslissende. Nie die besondere gawes van Paulus of Apollos of Petrus nie. Wat mense van hulle vind en wat hulle van hulleself dink is nie beslissend nie. Die laaste gesprek is van God met die voorgangers.
Dit het niks met onverskilligheid te doen nie. Paulus se briewe is vol getuienis van sy pogings om misverstand uit die weg te ruim. Die gemeente se oordeel raak hom innig omdat hy hulle so liefhet. Hy is vol blydskap of hy is verdrietig oor die gemeente. In ons teks gaan dit egter oor die gunstige of ongunstige oordeel van mense oor die wyse waarop Paulus die Here dien in die uitoefening van sy opdrag. Hy weet sy Heer is die enigste wat bevoeg en in staat is en voor wie hy verantwoording doen. Sy Heer is die enigste regter sodat hy ook oor homself nie hoef reg te spreek nie.
Hoe sal die bedienaar van Christus se Woord die gemeente benader? Paulus se vermaning is in ‘n gesindheid van vaderlike liefde na die gemeente. Paulus is die Korintiers se vader, wat hulle help om die pad van God te bewandel. Hy spreek hulle in 14 aan as my geliefde kinders, 15 hy is nie ‘n tugmeester nie maar hulle vader, 16 daarom: word my navolgers, 17 hy stuur Timoteus as sy geliefde en getroue seun na hulle toe.
Hy het ‘n sterk band van liefde vir die gemeente, hulle is sy geliefde kinders. Hy is hulle geestelike vader. Bevoorregte posisie van hulle wat deur die geestelike saad van die verkondigde evangelie verwek tot nuwe lewe is. Hulle moes Paulus navolg in die lewe in die heerlikheid en mag van Christus waardeur en waarin hy leef en werk. As die Here wil sal Paulus gou na hulle toe kom.Die koninkryk van God bestaan nie uit opgeblase woorde nie, maar in krag. Hy wil daarom na hulle kom in liefde en in ‘n gees van sagmoedigheid en nie met ‘n stok nie.
Natuurlik het Paulus homself beproef. Het hy sy werk sorgvuldig en met getrouheid uitgevoer? Sy gewete kla hom nie aan nie “ek is my van geen ding bewus nie”. Maar hy kan Hom alleen op Christus verlaat. God se dienaars is alleen aan Hom verantwoording skuldig. Hoe maak ons as ander, selfs mede Christene ons optrede bevraagteken? Niemand kan ‘n dienaar van Christus wees en leraar van sy eie boodskap nie, sy eie insig en verstaan nie. Niemand kan ‘n dienaar van Christus wees as hy nie Christus se boodskap aflewer nie.
Die verdeeldheid van die Korintiers onder mekaar oor die boodskappers van Christus, en die ligsinnige roem en veroordeling van verskillende lede oor verskillende apostels het die gemeente in die hart getref. Elkeen het die apostel verhoog deur wie hy geleer of gedoop was of wat hy as die uitstaande gereken het. Paulus sê nee, niemand mag oor enige bedienaar van God se Woord roem nie, alleen Christus moet geroem word. Dit maak nie saak deur wie iemand gedoop is nie en geleer is nie, maar almal moet saam aan Christus en sy woorde hou en is alleen aan Hom lof en dank verskuldig. Paulus leer hoe moet die apostels beskou word. So kon Luther in sy preek oor ons teks destyds die pous en die kerklike hierargie afwys. Die apostels en die ander predikers was dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God, wat ons met Hom versoen, 4:1,2. Ons moet regdoen aan Christus, deur eensgesind na Hom te luister en in Hom te glo. Die diens van die Woord is die ware diens in die kerk tot heiliging en opbou van die geloof in Christus. Die gemeente word niks bevoordeel deur allerlei eise te stel en kategorië van gelowiges te maak en goeie werke as bewys van saligheid aan te moedig nie. Maar waar die verborgenhede van God bedien word aan die gemeente, word man en vrou, vader en moeder en kinders, die onderwyser en die leerling, die werkgewer en die arbeider, genadiglik vrygemaak om dienaars van Christus en kinders van God te wees.
Die woord wat in vers 1 vir dienaar gebruik word, is op sigself nie ‘n aanduiding van ‘n aantreklike werk nie. Alhoewel nie ‘n slaaf nie, tree die dienaar gewilliglik in diens van ‘n werkgewer wie se opdragte hy nougeset uitvoer. Hy betwyfel nie sy opdraggewer nie en doen verslag alleen aan hom. Kwalifikasies en diskwalifikasies deur gemeentelede van dienaars van Christus is uitgesluit en daarmee saam alle persoonsverheerliking. Paulus het in 3:22 geskryf dat die dienaars tot beskikking van die gemeente is, hulle is ‘n geskenk van Christus. As hulle aan die gemeente die evangelie verkondig, voer hulle die Koning se opdragte uit. Hy dra op en nie die gemeente nie omdat Hy dienaars in sy diens neem. Christus alleen beoordeel die dienaars se werk, as opdraggewer. Die gemeente kan nie as werkgewer optree en persoonlike kwaliteite en prestasies goed of afkeur nie. Dit gaan hier nie om die ontvangs van ‘n besondere apostel of dienaar nie maar om die bediening en ontvangs van Koning Christus. Dit gaan hier om die werk aan die gemeente om hulle vir Christus te wen en in Christus te anker. Dit is die bediening van die woord. Dit is nie wat mense aan God bewys nie. Dit is wat God aan mense bewys.
Bedienaars, rentmeesters van die verborgenhede van God, vers 2 verduidelik hierdie werk van Christus se dienaars, vers 1. Ons verstaan dat dit hier gaan oor die amp van bediening van die Woord nie. Paulus kon ook sê hulle is bedienaars van die wysheid van God, van die geregtigheid van God. 1 Korinthiërs 1, 30.
Aan sy bedienaars het Christus die beheer oor die geheimenisse, misterie, verborgenhede van God toevertrou. Hulle is rentmeesters, bedienaars daarvan. Bestuurders van Christus se huishouding. Die rentmeester of bestuurder het die welsyn en welvaart van die eienaar en sy huishouding op die hart gedra en aan hom verantwoording gedoen. Die klem in vers 2 lê egter nie op dit wat aan die rentmeester of bedienaar toevertrou is nie, en hoeveel wins hy kon maak vir sy eienaar nie, dus om in te bring nie, maar op wat hy moes doen. Hy moes die geheimenisse van God beheer, wat hier beteken om dit uit te deel. Die bedienaars van God se verborgenhede is vreemde ekonome van ‘n vreemde geheim. Hulle moet hulle boodskap aan die groot klok hang. Die geheim oor die onnaspeurlike rykdom van Christus word onthul deur die bedekking weg te neem en die skat te laat ontdek – alles deur die bediening van God se Woord. Efésiërs 3:1-9: Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is — as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle, dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie waarvan ek ‘n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag. Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus. Die omvattenheid van die werk van Jesus Christus om die enige God en Vader die heerlikheid vir sy geregtigheid te laat toekom in aanbidding en lofbetoning deur verloste sondaarmense, moet verkondig word. 2:1: Hierdie bedienaars kom verkondig Jesus Christus die gekruisigde. Paulus was van Christus opgedra om aan die volke bekend te maak wat God in Christus vir die mense kom doen het dat hulle in ‘n nuwe situasie voor God, dus in ‘n nuwe verhouding met God verkeer. Nou is die tyd om gehoor te gee aan die openbaring van God se geheimenis in Christus en oproep om te glo en hulle tot God te bekeer.
3. Jesus Christus wat mens geword het, lei en regeer vandag steeds self sy gemeente
In die tyd van advent word ons weer verseker dat daar net een Here is, wat mens geword het en na ons op aarde gekom het om ons van ons sondes te verlos, en ons te heilig vir God. Daar is geen ander Here en koning, as die hemelkoning wat nederig op ‘n vul Jerusalem binnegery het. Alles in die hemel en op aarde is onder sy voete gestel en Hy is die enigste Hoof van sy kerk. Die gemeente word vermaan om eenstemmig lojaal teenoor hulle enigste Koning te wees terwyl hulle Hom verwag. Die bedienaars preek nie hulle eie belange of onderrig hulle eie waarheid nie. Die gemeente is aan Christus gehoorsaam en word bedien deur bedienaars wat boodskappers en dienaars van Hom is en mededienaars van mekaar. Die bedienaars verkondig sy Woord, hou die geroepenes aan sy gebod, lei hulle in dank en gehoorsaamheid aan Hom. Dus gemeente moet niks meer van die dienaars verwag as om sy boodskap aan julle te bring nie. Geen ander woord, geen ander leer, geen ander gesag en regering nie. Daarom, skryf Paulus, ontvang Christus, en ontvang daarom ons, ons wie vir Christus verkondig. Sonde en dood is vir hulle wat op hulleself vetrou. Maar die verborgenhede van God wat bedien word gee uitsig op die lewe en redding deur Christus, en is vir ons ‘n venster op ons diens aan Hom. Die suiwer evangelie wat bedien word, die ware geloof wat versterk word, Christus is die enigste weg en moet geeer word, sy wysheid, krag, en heerlike redding van ons, moet geloof word. Ons self is sondig, verkeerd, veroordeeld, dood, maar in Christus verkry ons die genade en lewe. Ter wille van Christus voorsien ons hemelse Vader ons ryklik in sy barmhartigheid en liefde. Die gemeente is van die vleesgeworde en verhoogde Christus, vergader deur Hom deur sy Woord en Gees.
Amen
Bely ons afhanklikheid van God deur te staan en sing Psalm 121:1
Groet: Gemeente genade vir U en vrede van God ons Vader en ons Here Jesus Christus. Amen
Psalm 45: 1,2,3,5,6
Lees van die wet – Deuteronomium 5:1-21
Psalm 36:2
Gebed
Skriflesing Jesaja 9: 1-6, Lukas 19: 29-42, 1 Korinthiërs 3: 18-23
Psalm 96:1,2
Teks 1 Korinthiërs 4:1-21, fokus op 1-8
Preek
Amenlied: Psalm 2:3,4,6
Dankgebed
Kollekte
Psalm 131:1,2,3
Uitspreek van die seën
Gemeente: die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle. Sing Amen