Preek: Daniël 2:44-45
In laasweek se preek, oor die eerste deel van hierdie hoofstuk, het ons gesien dat Nebukadnesar skepties geword het oor sy geleerdes, besweerders, towenaars en astroloë.
Hierdie keer wou hy hulle in ‘n hoek dryf om te sien of hulle hulle sout werd was.
Dit alles was God se leiding, omdat Hy vir Nebukadnesar onder die indruk wou bring van sy profeet.
En meer nog, om Nebukadnesar tot verootmoediging te bring, tot erkenning van sy opperheerskappy.
Vandag fokus ons op die droom en die uitleg wat God aan Daniël gegee het.
‘n Groot beeld wat indrukwekkend geglinster het.
Goue kop, bors en arms van silwer, maag en heupe van koper, bene van yster, die voete deels van yster en deels van klei.
Ons het ook die uitleg gelees, dat, na die goue kop wat Nebukadnesar se koninkryk was, nog meer aardse koninkryke sou opstaan, maar wat elkeen op sy tyd ook in mekaar sou tuimel.
En dan breek daar ‘n klip van ‘n hoë berg af los, sonder toedoen van mensehande, en dit word groter en groter, en dit verpulwer daardie majestueuse menslike beeld tot stof, soos kaf wat die wind wegwaai sodat niks daarvan oorbly nie, en die klip self word ‘n groot berg wat die hele aarde vul.
Tema: Die evangelie van die Klip wat van die berg af losgeraak het
- Boodskap vir Nebukadnesar
- Boodskap vir die Jode
- Boodskap vir ons
Gemeente, die algemene strekking van hierdie droom is baie duidelik.
Tog het eksegete deur die eeue geprobeer om die details ook nader te verklaar, in die lig van die geskiedenis soos dit daarna plaasgevind het.
Uitleggers het deur die eeue probeer om elke segment van die beeld aan ‘n spesifieke wêreldryk te koppel.
Maar in al hierdie pogings is daar tot op vandag nog nie eenstemmigheid bereik nie.
Die vraag bly: Op watter spesifieke aardse koninkryk het elke segment gedui?
Gemeente, kom ek noem ‘n paar voorbeelde.
Daar is hulle wat beweer dat, na die Babiloniese Ryk – die kop van goud, die Meders en die Perse die silwer deel verteenwoordig het.
Daarna het die Grieks-Macedoniese Ryk gekom, dit is die brons.
Daarna het die Romeinse Ryk gekom, dit is die yster.
Sommiges beskou die voete wat deels yster en deels klei was, ook as onderdeel van die Romeinse Ryk.
Sommiges sê dat daardie yster-en-klei ryk op een of ander manier tot vandag toe nog standhou.
‘n Ander benadering is om te beweer dat die Meders en die Perse eintlik twee koninkryke was.
Ons is gewoond om hulle saam te noem, maar kronologies het hulle eintlik op mekaar gevolg.
Dan is die silwer deel dus die Ryk van die Meders, die brons die Persiese Ryk, die yster die Griekse Ryk, en die yster en klei die Romeinse Ryk.
Nog ‘n ander uitleg beweer dat, behalwe vir die goud tot en met brons wat dieselfde as hierbo is, die ysterryk die Griekse Ryk is, maar dat die yster-en-klei ryk ook die Griekse Ryk is.
Daar word dan spesifiek verwys na die feit dat nadat Alexander die Grote oorlede is, die ryk Griekse Ryk uiteengeval het in vier magsgebiede, waarvan twee later dominant sou word.
Dit was die Seleucidiese konings, ook wel genoem die konings van die noorde, en die Ptolemeërs, oftewel die konings van die suide.
Hierdie uitleg word dan direk gekoppel aan die profesieë wat ons in die laaste hoofstukke van Daniël lees.
Nog een uitleg wil ek noem, gemeente.
Na Babel as kop van goud, die Meders as die silwer, Perse as die brons, Grieke as die yster, kom die Romeine as die yster en klei.
Die feit dat dit gemeng was, sou daarop dui dat die yster van die Griekse Ryk in die Romeinse Ryk sy voortsetting gevind het.
Rome het naamlik die politieke mag gehad, maar Griekeland het steeds ook ‘n sentrum van invloed gebly, godsdienstig en filosofies.
Twee magte wat tog nooit heeltemal een geword het nie.
Nou is dit nie my bedoeling om in hierdie preek vir een van hierdie uitlegte te kies nie.
Moontlik dat later uit die boek Daniël duideliker sal word watter uitleg die beste is.
Maar daar is een ding uit die droom, gemeente, waaroor daar geen onduidelikheid mag bestaan nie.
En dit is die klip.
Die klip wat sonder toedoen van mensehande losgeraak het uit ‘n hoë berg, en wat al hoe groter geword het en uiteindelik die ondergang van daardie kolossale menslike beeld veroorsaak het.
Daardie klip is Christus, en meer spesifiek, die koninkryk wat Hy vestig.
Dit is duidelik, daaroor mag geen meningsverskil wees nie.
Christus kry in die Bybel baie verskillende name, in Ou – en Nuwe Testament.
Ek vra soms vir my katkisante om soveel moontlik name op te skryf uit die Bybel wat vir Jesus Christus gebruik word.
Meestal vind hulle ‘n behoorlike lys van name en ook metafore vir Christus in die Bybel.
Maar hierdie beskrywing – klip – staan sover ek weet nooit daarop nie.
Snaaks eintlik, want hierdie is tog so ‘n bekende hoofstuk.
Inderdaad, hierdie is ‘n pragtige metafoor vir ons Heiland.
Uit die Skrif is daar baie ander benamings.
So word Hy ook ‘n rots genoem, of hoeksteen, of fondament.
Dit is benamings wat naby hierdie metafoor kom.
Maar tog beskryf die woord klip ook iets wat uniek is.
‘n Klip is in daardie tye dikwels as wapen gebruik.
As ‘n stad beleër is, het die vyand met katapulte klippe oor die muur geskiet, of teen die muur vas, om so die muur stelselmatig stukkend te breek.
Hierdie klip, wat loskom vanaf ‘n hoë berg, tel soveel momentum op dat dit nie net een nie, maar al die koninkryke verpletter, so grondig dat daar net stof of kaf oorbly.
Dit is duidelik die hoogtepunt van die droom.
Vir elke aardse koninkryk, ook Nebukadnesar se goue een, was dit ‘n finale oordeel.
Maar die bedoeling van die droom was natuurlik dat dit Nebukadnesar, en almal wat Daniël se uitleg gehoor het, moes laat wonder het wie daardie klip eintlik is?
Ons lees nie dat die koning hieroor uitgevra het nie.
Wel was hy diep onder die indruk van Daniël, en die God van Daniël.
Dus, Christus en sy koninkryk is die klip.
En die berg, want die klip groei uit tot ‘n groot berg wat die hele aarde sal vul.
‘n Berg, ook dit is ‘n metafoor wat hier vir Christus gebruik word, en vir sy koninkryk wat vir ewig sal standhou.
So het God ‘n heidense koning se droom gebruik om sy kinders te troos, en moed en perspektief te gee.
Gemeente, dit bring ons by die boodskap van hierdie hoofstuk, die droom en sy uitleg, vir Nebukadnesar, maar ook spesifiek vir God se volk, en ook vir ons, God se volk van die nuwe bedeling.
Die HERE het profete gestuur wat sy Woord verkondig het.
Daardie profesieë het verskillende doele gehad.
Eerstens was daar ‘n duidelike boodskap aan die adres van Nebukadnesar.
Die feit dat Daniël sy droom tot in alle details noukeurig kon oorvertel, dit het groot indruk op hom gemaak.
Hy het Daniël aanbid, staan daar, en hy het die God van Daniël verheerlik as die God van die gode en die Here van die konings.
Tog sou sy belydenis nie lank standhou nie.
Hierdie einste Nebukadnesar vir wie God laat droom het oor hierdie groot beeld, en ook vir hom die uitleg gegee het, hy laat bou in die volgende hoofstuk vir homself ‘n beeld.
En dan nie van allerhande metale nie, nee, heeltemal net van goud!
Vir ‘n kort rukkie het Nebudkadnesar Daniël se God erken, maar gou was hy weer vasgevang in sy eie grootheidswaansin.
Dit was asof hy in opstand gekom het teen die droom, toe hy vir homself ‘n beeld laat bou, 30 meter hoog, en dit heeltemal van goud!
Asof hy te kenne wou gee: Daniël se God kan maar sê wat hy wil, ek is die koning van goud, en ek gaan altyd regeer!
Weer, soos ons weet, het God hom verneder, sodat die boodskap van die droom nog dieper kon insink.
‘n Boodskap wat nog kragtiger is in die lig van hoe die droom geëindig het, die feit dat hierdie massiewe beeld verbrysel is deur ‘n klip wat van ‘n hoë berg afgestort het, en dit sonder toedoen van mensehande.
En dit bring ons by die tweede, naamlik dat daar ook in hierdie droom ‘n boodskap van bemoediging en vermaning vir God se eie volk was.
Daniël se tyd was ‘n tyd van ballingskappe.
Die Noordryk was reeds in ballingskap.
En die een na die ander sou die mense uit die Suidryk na Babel weggegevoer word, tot en met die jaar (586vC) toe Jerusalem verwoes is.
God se volk sou ‘n heel ander tydperk betree.
In hierdie baie stormagtige tye verskaf die HERE vastigheid, houvas.
Die droom van Nebukadnesar het ook vir sy eie volk ‘n boodskap.
Al is julle in ballingskap, onthou, Ek regeer, ook oor hierdie wêreldmagte wat julle gevange hou.
So berei die HERE sy volk voor vir die tye wat sou kom.
Hulle het op die drumpel van ‘n nuwe tydperk staan.
Die afgelope eeue – dan praat ons oor ongeveer 500 jaar – was ‘n tyd van selfbestuur.
Konings uit hulle eie geledere het op die troon gesit, vanaf die tye van Koning Saul en Dawid.
Nou staan ‘n nuwe tydperk voor die deur.
‘n Tydperk van groot wêreldmagte wat die een die ander gaan opvolg.
Wêreldmagte wat ook oor God se verbondsvolk gaan stoomroller.
Dit het nou begin met die Babiloniërs.
Maar die volk moes voorbereid wees, daar gaan nog kom.
Die goue eeu van Koning Dawid gaan nie in sy ou vorm terugkeer nie.
Die volk sal hulle moet skik onder vreemde heerskappye, so goed en kwaad as dit sal gaan.
Soms sou dit ook swaar gaan wat betref die tempeldiens, dink aan die Griekse tyd onder Antiochus Epifanes – Daniël sal later daaroor profeteer.
Maar die groot boodskap van die uitleg van die droom sal bly vasstaan, ook in die onstuimige tye wat op koms is, in die einste woorde van Nebukadnesar:
“Waarlik, julle God”, dit is die God van daardie klein volkie, maar wel die verbondsvolk van die lewende God, “julle God is die God van die gode en die Here” (dit is die Baas) “van die konings” (Dan 2:47).
‘n Kragtige en troosvolle boodskap wat uit hierdie droom gespreek het vir die Jode van daardie tyd.
Ja met hierdie droom gee God sy volk ‘n perspektief tot en met die koms van die Messias.
Dit sou nog eeue duur, verskillende koninkryke sou nog kom en gaan en hulle letsels agterlaat op die verbondsvolk.
Nieteenstaande sal God sy kinders nie vergeet nie.
Die dag sou onverbiddelik aanbreek dat die klip van die hoë berg af loskom.
So gee die HERE deur sy profeet Daniël vir sy kinders perspektief vir hierdie laaste fase van die ou bedeling.
En dit bring ons by die derde doel van God se profesie.
God het daarmee ook ‘n boodskap vir sy kerk van alle tye.
Die boodskap dat geen wêreldryk, geen regering of heerskappy, vir ewig sal bestaan nie.
Dit was ‘n illusie dat die Romeinse Ryk, of die Britse Imperium, of Nazi Duitsland, ewig sou regeer.
Dit is ‘n illusie dat enige huidige regering of heerskappy ewig sal regeer.
Hierdie droom se boodskap spreek nog kragtiger in die vervulling in Christus.
Want die dag het aangebreek toe Christus gekom het, soos ‘n klip wat van ‘n hoë berg af losgeraak het sonder die toedoen van mensehande.
Nogal ‘n baie beeldende beskrywing van Christus se koms na die aarde.
Dit laat mens dink aan hoe Psalm 2 dit ook voorspel het:
“U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf” (Ps 2:9).
Met Kersfees herdenk ons Christus se koms na die aarde, ons gebruik meestal Bybeltekste uit die Evangelies.
Maar Daniël 2 is ook ‘n Kersfeesteks.
Christus, wat ontvang is van die Heilige Gees, en gebore uit die maagd Maria, is die einste klip wat van die hoë berg af losgeraak het.
Uit die hoë hemel het Hy neergedaal.
Sy koms het ‘n totaal nuwe tydperk ingelui.
‘n Tydperk wat daarop sal uitloop dat alle aardse koninkryke verbrysel sal word.
Daar gaan definitief ‘n einde aan hulle kom.
En daardie Klip se heerskappy sal vir ewig beestaan.
Dit is ‘n koninkryk wat die God vanuit die hemel sal verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie – Daniël 2:44.
Dit is die finale doel van Daniël se profesie, ‘n boodskap vir alle eeue.
‘n Waarskuwing vir alle aardse magte, en ‘n troos vir sy kinders van alle tye en plekke.
En daarom is Daniël 2 vir ons vandag nog aktueel, en word daaruit ook vandag, in die 21ste eeu, in Suid-Afrika oor gepreek.
As ons dit hoor, skep ons weer nuwe moed.
Wat op aarde gebeur, is dikwels verskriklik.
Dink aan die oorlog in Ukraïene, waar daar jongmans by dosyne sterf, waar die Russiese Ryk in daardie deel van die wêreld weer probeer opstaan, na dekades van vernedering.
Ons pleit by die Koning van alle konings, wat sy troon in die hemel het, om vrede te herstel, om die magswellus en grondhongerte van mense op aarde stop te sit.
Hoe wrang is dit nie, die grootste land op aarde het nog nie genoeg grond nie.
Maar die Klip, die Ysterstaf, sal vir Putin ook tref, moenie ‘n fout maak nie.
So ‘n houding het Nebukadnesar ook gehad, en die Meders, en die Perse, en die Grieke, en die Romeine.
Kyk wat van daardie ryke geword het.
Bouvalle en vullishope waar deesdae opgrawings gedoen word.
Maar ons sien uit na die dag wat daardie Klip ‘n berg sal word wat die hele aarde bedek.
Pragtige beeldspraak.
Christus se Naam sal die aarde oordek, van die hoogste berge tot die diepste oseane.
Dit sal soos ‘n berg wees wat sal strek van oos tot wes en van noord tot suid.
Vandag is hierdie koninkryk in ons midde, en dit word groter en groter, in lyn met Daniël se profesie.
Dit het klein begin, soos Jesus self sê:
“Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.” (Matt 13:32-33)
Die afgelope twee duisend jaar het ons dit sien gebeur.
Tans het Christus sy onderdane in elke land op aarde, uit alle volke en nasies en tale.
Die dag sal kom dat dit, in lyn met die droom, soos ‘n berg die hele aarde sal vul.
Met die metafoor berg dink ons ook aan die Sionsberg.
In die Ou Testament was dit lank nie die hoogste berg nie.
Maar dit was besonder, omdat God gekies het om sy huis daar te bou.
Die volk sou binnekort egter moes meemaak dat die tempel verwoes word.
Maar dit sou nie die einde wees nie.
Christus sal sy Sion bou, om ‘n berg te word wat oor die aarde sal strek, ja God se huis sal die hele aarde vul, sy Gees sal woon in ontelbare mense wie se lewens Hy as tempels heilig.
Daarom, gemeente, het hierdie droom nie net perspektief vir die Jode gegee tot en met die Messias se koms nie.
Dit gee ook perspektief tot en met Christus se wederkoms.
Ons weet nie hoeveel aardse magte en koninkryke daar nog gaan opstaan nie.
Dat hulle sal opstaan, en dat Satan daardie aardse magte sal gebruik om die kerk in die kiem te smoor, dit staan vas.
Tog sal hy nie die momentum kan keer van die klip wat van die berg af begin rol het nie.
Christus het neergedaal uit die hemel.
Sy aardse taak het Hy as Messias glansryk volbring.
Hy het weer opgevaar.
Nou regeer Hy aan die regterhand van die Vader.
Alle aardse heerskappye is in sy hand en kan sonder sy wil nie roer of beweeg nie.
Geliefdes, dit is Daniël 2 se boodskap vir die kerk van alle tye.
En jy as gelowige is primêr burger van daardie koninkryk.
Die koninkryk van die hemel.
Koninkryk van die hemel beteken nie dat dit net in die hemel is nie.
Dit is juis ‘n koninkryk wat die hele aarde soos ‘n berg gaan vul.
Maar die hoofkwartier, die regeringsentrum is in die hemel.
Daar staan Christus se troon.
Soms word daar gepraat oor Washington, of London, of Moskou, maar dan word verwys na die hele land, waarvan Washington, London, of Moskou die hoofstad is, waar die regering gesetel is.
So is ons regeringsentrum die hemel, die troon is in die hemel, maar Christus se koninkryk strek uit oor die lengte en breedte van die aarde.
En dit is ook waar dit later vergoed gevestig sal wees, hier op aarde, met sy wederkoms, as hemel en aarde weer verenig sal wees.
Gemeente, hou hierdie perspektief vas, hierdie groter prentjie waarbinne jou lewe plaasvind.
Dit gee rigting, dit is ons anker, ons vaste hoop, dit laat ons uitsien.
Ons bid Maranata, kom Here Jesus.
Verpletter alle aardse ryke, en vestig u ryk vir ewig!
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Daniël 2
Teks: Daniël 2:44-45
Tema: Die evangelie van die Klip wat van die berg af losgeraak het
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Noem ‘n paar maniere hoe die beeld van goud, silwer, brons, yster en yster & klei al verklaar is.
- Verduidelik die betekenis van die klip in Nebukadnesar se droom.
- Waaruit weet ons dat die boodskap van die droom maar net ‘n baie tydelike indruk op Nebukadnesar gemaak het?
- Watter boodskap het die HERE via Nebukadnesar se droom vir sy volk van daardie tyd gehad?
- Watter verband is daar tussen die klip in die droom en die mosterdsaadjie van Mattheüs 13:32-33?
Votum
Seën
Ps 18:1,14
Wet
Ps 62:1,5
Gebed
Skriflesing: Daniël 2
Ps 9:3-8
Teks: Daniël 2:44-45
Preek
Ps 2:1-4
Gebed
Kollekte
Ps 2:5,6
Seën