Preek: Psalm 126:4-6
Ons hou vandag Biddag vir Gewas en Arbeid.
Ons bid dat in die nuwe seisoen die Here alle gewasse, dit is koring, mielies ensovoorts, sal laat groei, sodat ons kos het om te eet.
Ons bid dat die Here arbeid, werk, sal voorsien, sodat daar inkomste is om ons en ons gesinne te onderhou.
Tipies vir die begin van ‘n seisoen is onsekerheid, trane soos ons teks sê.
Tipies vir die einde van ‘n seisoen is dankbaarheid, gejubel soos ons teks sê.
Maar dit is nie vanselfsprekend nie, dit berus op die HERE se seën.
Tema: Glo in die betroubaarheid van God se beloftes
Ons teks kom uit ‘n psalm wat waarskynlik oor die terugkeer uit die ballingskap handel.
Die HERE het Sion se lot verander.
Sion is die berg waarop Jerusalem gebou is.
Vir sewentig jaar het Jerusalem in puin gelê.
Sion was nie net nog ‘n berg nie.
Daarop is die tempel gebou, maar die is ook tot as verbrand.
Vir ‘n gelowige Israeliet was dit ‘n troumatiese saak.
Maar toe, asof uit die bloute, dekades later, kom daar die geleentheid vir die volk om terug te keer uit die ballingskap.
‘n Nuwe begin kon gemaak word.
‘n Deel van die volk het teruggekeer.
Dit het die aandag van die heidene getrek.
Hulle het daarvan uitgegaan dat die Israeliete vergoed uit die beloofde land verdryf is en dat die land nou net aan hulle behoort het.
Maar toe daar skielik groepe en groepe Jode terugkeer, het dit hulle wenkbroue laat lig.
Wat gebeur hier?
En, soos hierdie psalm sê, hulle was verbaas.
Hulle kon nie anders nie as om te sê: “Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” (vers 2)
Inderdaad, die gelowige Israeliete het dit so ervaar, en dit het hulle baie bly gemaak.
Hulle het gejubel:
Die HERE het groot dinge aan ons gedoen.
Ons was bly!
Ons mond is gevul met gelag, ons tong met gejubel!
En dan, gemeente, aan die einde van die psalm word hierdie onverwagte gebeurtenis vergelyk met twee voorbeelde.
Die eerste voorbeeld is die waterstrome in die Suidland.
Om hierdie voorbeeld te verstaan, is dit nodig om te weet dat die suide van Israel ‘n woestyngebied is.
Die noorde van die land is vrugbaar en het ‘n hoër reënval.
Maar soos mens suid ry word dit al hoe dorrer en droër, tot mens uitkom in die Negev woestyn.
Tog gebeur dit soms dat ‘n donderbui uitsak oor die woestyn.
En dan kan droë rivierlope skielik in waterstrome verander.
Ons ken hierdie verskynsel ook in ons deel van die wêreld.
Die droë rivierlope in die Karoo.
Dink aan die Laingsburg-vloed in die jare ’80, vir wie van ons toe al geleef het.
Ook in die Kalahari is daar droë rivierlope wat eens in soveel tyd kolkende strome kan word.
Daardie verskynsel het die Suidland van Israel ook al te goed geken.
Dit kon totaal onverwags kom.
Net so, vergelyk die digter, was die terugkeer uit die ballingskap.
Van die een op die ander dag is Israel se lot verander.
En soos water baie welkom is in ‘n dorsland, so ook die berig dat die Jode mog terugkeer na die beloofde land.
Daar is nog ‘n tweede vergelyking wat die digter maak.
Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.
Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring.
In Israel is daar dikwels aan die einde van die warm somer gesaai.
Die grond was nog droog, maar daar is gesaai met die hoop dat die winterreëns sou kom.
Op die regte tyd, en in die regte hoeveelhede.
Die reëns wat die versengende hitte van die somer sou breek, ‘n nuwe seisoen inlui, verademing vir die mens en die natuur sou bring.
En die regte omstandighede sou bring vir die saadkoring om te ontkiem.
Daar is met trane gesaai.
Trane is hier metafoor vir moeilike omstandighede, onsekerheid oor die toekoms.
Dalk was daar gebrek, so aan die einde van ‘n droë seisoen.
Die moeilike afweging moes gemaak word: Hoeveel sal ons hierdie jaar saai?
En daardie sakke koringkorrels wat jy saai, dit verdwyn in die grond, daarmee kan jy nie meer brood bak nie.
En jy weet nie of dit vrug gaan oplewer oor ‘n klomp maande nie.
So het die saaier, met sy leersak vol saadkoring oor die skouer, onseker oor die akker geloop.
Doen hy nou die regte ding of nie?
Maar, benadruk die digter, sy geloof in die toekoms sal beloon word.
Die dag sal kom dat hy oor daardie selfde akker gaan loop en gerwe dra, ja dat hy met gejubel sal oes.
En dit is dan nie net ‘n algemene geloof in die toekoms nie.
Dit is die geloof in die HERE wat trou is aan sy beloftes.
Hy het deur sy profete beloof dat die dag sal kom vir die volk om terug te keer.
Hy het beloof dat die tempel herbou sou word.
Die platgeslane volk het toe nie aandag aan daardie profesieë geskenk nie.
Hulle haglike omstandighede het hulle negatief gemaak, hopeloos.
Tog het daardie dag gekom.
Die HERE was betroubaar, Hy het sy tempeldiens weer in Jerusaelm herstel.
Gemeente, die HERE God het ‘n verbond gesluit met sy skepping.
Na die sondvloed het Hy belowe dat saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie sal ophou nie (Gen 8:22).
Tot vandag toe is Hy trou aan daardie verbond.
As gemeentelede het ons al die jare van ons lewe nog nie honger gely nie.
Dalk die oues onder ons wat nog die Tweede Wêreldoorlog meegemaak het en deur die laaste winter van die oorlog, die sogenaamde hongerwinter, moes kom.
Maar dit was nie God se skuld nie, dit was die mense wat daardie hongerwinter veroorsaak het.
Deur al die eeue het God gesorg dat die mense, en in besonder sy kinders, van die opbrings van sy skepping kon lewe, en dikwels selfs oorvloed geniet het.
As ons vandag Biddag vir Gewas en Arbeid hou, staan ons stil by God se verbond met sy skepping.
Dit is ons houvas.
God het daardie verbond nagekom, nou al duisende jare.
Ons mag vertrou dat Hy dit ook in die nuwe seisoen gaan doen.
In vertroue daarop gaan ons weer koring en mielies ensovoorts saai.
In vertroue gaan ons wag op die eerste reëns.
Baie boere het deesdae wat genoem word spilpuntbesproeïng.
Daardeur word hulle meer onafhanklik van die reëns, dit gee meer sekerheid van jou opbrings.
Tog is daardie besproeïngswater wat uit riviere of uit die grond gepomp word ook van die reën afkomstig, en sal ook dit na ‘n ruk opdroog as die reëns uitbly.
Hoe meer onafhanklik die mens van die onvoorspelbare natuurfaktore word, tog bly die afhanklikheid van God se voorsienigheid.
Water bly ‘n geskenk.
En behalwe vir die gebrek aan water, is daar nog soveel ander faktore wat die oes kan beïnvloed.
Dit kan ook te nat word, sodat die gewasse op die land vrot.
Daar kan ook pessiektes kom, insekte, swamme, noem maar op.
Aan die een kant veroorsaak tegnologie dat landbou-opbrengste baie meer gewaarborg is as in die verlede.
Iemand noem laas dat ‘n land soos Indië in die 1800’s baie hongersnode geken het.
Maar vandag word daar selfs voedsel vanuit Indië uitgevoer.
Daar is soveel meer voedselsekerheid.
En dit terwyl daar in die 1800’s 300 miljoen mense in Indië was, maar vandag 1.3 biljoen!
‘n Ongekende verbertering in voedselsekerheid, danksy nuwe wetenskaplike insigte in landbou, in bestryding van ongediertes, in voorspelling van weerpatrone, in nuwe tegnologie.
Dink ook aan hoe goed die sogenaamde megaboere in Suid-Afrika presteer.
Solank ons maar besef dat ook al hierdie dinge te danke is aan God se voorsienigheid.
Dit is Hy wat al hierdie moontlikhede in sy skepping ingeskape het.
Dit is Hy wat mense se verstand geskape het wat nuwe tegnologie ontwikkel.
Dit is Hy wat die doen en late van mense beheer.
Net soos Hy destyds Koning Kores se denke beïnvloed en hom op die punt gebring het om aan die Jode toestemming te gee om na hulle land terug te keer.
Maar al het boere al hoe meer sekerheid oor hulle oes, daar is behalwe vir natuurlike oorsake nog meer oorsake wat tog onsekerheid bring.
Dan dink ons byvoorbeeld aan menslike faktore wat tot onsekerheid lei.
In Ukraïene heers daar oorlog, dus al word daar geoes, die graansilo’s word gebombardeer.
In ons land is daar veediefstal.
In ons land is daar onsekerheid van elektrisiteitsvoorsiening, wat pryse opjaag vir boere om te produseer.
In ons land is daar sogenaamde grondhervorming, ‘n onsekerheidsfaktor wat bo boere se koppe hang.
En dan is daar nog ‘n menslike faktor wat vandag baie aandag kry:
Dit is die sogenaamde aardverwarming.
Die aanklag teen die mensheid van die 20ste en 21ste eeu dat hy besig is om die klimaat van die hele aarde te verander deur sy verbruikersmentaliteit, deur die ongekende hoeveelhede steenkool en olie wat hy verbrand.
Sommige beweer selfs dat die aarde se klimaat ‘n kantelpunt bereik het.
Dat dinge nou in ‘n stroomversnelling gaan raak, dat die klimaat onherroeplik gaan verander en selfs die mensdom se bestaan op aarde gaan bedreig.
Apokaliptiese waarskuwings wat wetenskaplikes en veral die media en politiek onophoudelik maak.
Wat doen ons daarmee?
Wat het dit met Biddag vir Gewas en Arbeid te make?
Wel, hierdie Psalm roep ons op om, as dit oor die toekoms gaan, te vertrou op die HERE se betroubaarheid.
Soos die terugkeer uit die ballingskap, soos water in die Suidland, soos die koringgerwe, so het die HERE al soveel keer uitkoms gegee, al het ons dit nie meer verwag nie.
Vertrou op die HERE se betroubaarheid!
Dit in die eerste plek.
Maar dit neem nie weg dat daar alle rede is vir verootmoediging oor dit wat die mens wel op aarde gedoen het en doen nie.
Daar was alle rede vir die ballingskap.
Israel wat van God soveel voorregte ontvang het, moes ‘n toonbeeld van vertroue wees, en ‘n morele voorbeeld vir die heidene.
Tog was hulle nie.
Dit was die rede vir die ballingskap.
So word gelowiges vandag opgeroep om ‘n voorbeeld van vertroue vir die wêreld te wees.
Al is daar alle rede om apokaliptiese toestande in die toekoms te vrees vanweë die mensdom se gebrek aan rentmeesterskap, tog bly ons vertrou in die betroubaarheid van God.
Feit is dat die mensheid hierdie aarde stukkend maak, en soos die hoeveelheid mense op aarde toeneem, gebeur die verwoesting in toenemende mate.
Afrika staan nog bekend as die kontinent van talle wilde diere.
Maar feit is dat vandag in die 21ste eeue die wilde diere in die grootste deel van Afrika ook al uitgeroei is.
Behalwe in suidelike Afrika waar daar baie wildparke en wildsplase is, het ons kontinent soos die ander kontinente geword, waar die mensheid die dierelewe uitgeroei het.
Is dit wat God bedoel het toe Hy die mens op aarde as rentmeester aangestel het?
As dinge aangaan soos nou, gaan die aarde die onderspit delf.
Biodiversiteit wat betref diere- en plantelewe gaan dramaties afneem.
Nogmaals, ja, die mens maak hierdie aarde stukkend.
En ja, besoedeling as gevolg van steenkool en olie is ook ‘n probleem.
Al is dit glad nie oortuigend bewys dat dit aardverwarming veroorsaak nie, veroorsaak dit wel besoedeling wat op sy beurt by miljoene mense in die wêreld se stede ernstige siektes tot gevolg het, om nie besoedelde lug in ons eie provinsie Mpumalanga te vergeet nie.
Gemeente, al koop ons nie al die doemscenarios oor aardverwarming as gevolg van Co2 verbranding nie, mag ons nie ons oë toemaak vir die werklikhede rondom ons hier op aarde nie.
Ons bly glo in die betroubaarheid van ons voorsienige God.
Maar onderdeel daarvan is dat ons ook opgeroep word om goeie rentmeesters te wees.
Ons bid en werk.
Biddag spoor ons aan tot arbeidsaamheid in diens van die koninkryk.
Hierin mag ons nie agterbly nie, maar juis ‘n voorbeeld wees vir die wêreld om ons heen.
Ons behoort aan Christus, daarom is ons nie slawe van die verbruikerskultuur nie.
As daar inisiatiewe is om lugbesoedeling teen te gaan, stede skoon te maak, die skepping en sy biodiversiteit te beskerm, dan neem ons daaraan deel, as gelowiges behoort ons selfs die leiding te neem.
Dit is ons opdrag om goed vir God se skepping te sorg, net soos Hy so uitnemend goed vir ons sorg.
Ons stel nie ons vertroue op die mensheid, dat die mens hierdie aarde sal kan red nie.
Ons kyk op in afhanklikheid na God.
Ons glo in sy betroubaarheid.
In die hede is daar inderdaad rede om te ween.
Maar ons huil nie sonder hoop nie.
Juis die herstel van die tempel na die ballingskap was die waarborg dat ons hoop op God nie sal beskaam nie.
Vanuit die nuwe tempel sal die lewende water vloei, wat die hele aarde sal genees.
Dink aan die pragtige visioen in Esegiël oor die nuwe tempel en dat daar ‘n rivier uitstroom wat selfs die soutwater van die Dooie See sal vars maak (Esegiël 47).
En dan dink ons vandag nie net aan die nuwe tempel van Serubbabel wat na die ballingskap gebou is nie.
Daardie tempel het ook weer afgebrand.
Maar met Christus se koms het Hy sy kerk geplant, met die opdrag om uit te brei oor die lengte en breedte van die aarde.
En daardie kerk bestaan uit gelowiges wat genoem word tempels van die Heilige Gees.
Ons as gelowiges is vandag tempels, waaruit lewende water stroom.
Ons is voorbodes van die herstel van alle dinge wat op koms is, met die wederkoms van Christus.
Ons boodskap aan die wêreld is een van hoop, daar is hoop vir hierdie aarde wat tans in barensnood is.
Hierdie boodskap klink in ons woorde, maar moet ook sigbaar wees in ons dade.
As Christus môre terugkom, plant ek vandag nog ‘n boom.
Vandag is daar dikwels nog trane.
Maar ons glo in die betroubaarheid van Christus se belofte.
Daarom jubel ons ook.
Hierdie jubel sal in die toekoms net nog sterker word, tot dit oor die hele aarde sal galm met Christus se wederkoms.
By die geboorte van ‘n nuwe baba kan mens bekommerd wees.
Wat sal die toekoms vir hierdie kind inhou?
Gemeente, laat ons onsself op hierdie Biddag verbind tot geloof in die betroubaarheid van God se beloftes.
In die nuwe seisoen gaan ons in geloof weer saai en plant, al ken ons nie die toekoms nie.
Ons gaan weer sake doen, ons produkte vervaardig en verkoop, ons kinders opvoed.
Dit alles omdat ons weet dat die nuwe seisoen ook aan God behoort, en dat Hy trou bly aan sy verbond met hierdie aarde en in besonder met sy kinders.
Daarom gaan ons in die toekoms ook dankbaar verder om aan die kerk te bou.
Lewende stene.
Die kerk, waar die Evangelie klink, openbaar in die hede al die toekoms.
Naamlik dat die aarde nie gedoem is nie, maar dat ‘n herskepping op koms is.
Dat dit nou nog genadetyd is, en dat God nou nog aan alle mense reën en vrugbare tye gee en hulle harte met voedsel en vrolikheid vervul (Hand 14:17).
Dit met die doel dat hulle steeds geleentheid kry om hulle tot Hom te bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel. (Hand 17:30-31)
Christus gee hoop vir hierdie aarde.
Hy het dit gedoen toe Hy opgestaan het uit die graf.
Hy het die ewige lewe op aarde teruggebring.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Psalm 126
Teks: Psalm 126:4-6
Tema: Glo in die betroubaarheid van God se beloftes
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Oor watter tydperk in die Ou Testament handel hierdie Psalm waarskynlik?
- Wat is die eerste beeld waarmee God se onverwagte uitredding in hierdie Psalm vergelyk word?
- Wat is die tweede voorbeeld waarmee God se onverwagte uitredding in hierdie Psalm vergelyk word?
- Al weet die mensheid nog so weinig oor die aarde en sy klimaat, watter taak het ons juis as gelowiges ten opsigte van die aarde?
- Noem ‘n voorbeeld uit jou lewe waaruit blyk dat God se beloftes betroubaar is.
Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 122:1,2
Wet
Ps 141:1-4
Gebed
Bediening Doop
Ps 8:1,3,4
Gebed
Skriflesing: Psalm 126
Ps 121:2-4
Teks: Psalm 126:4-6
Preek
Ps 126:1-3
Gebed
Kollekte
Ps 111:2-4
Seën