Preek: Handelinge 2:42 & 20:7
Tema: Die voorreg om saam brood te breek
1 Handelinge 2:42
Op ‘n nagmaalsondag klink elke keer die volgende afkondiging:
“Vandag vier ons die Heilige Nagmaal. Alle belydende lede wat geregtig is, sowel as die gaste wat reeds by die kerkraad aangemeld het, word hartelik uitgenooi om die Nagmaal te gebruik.”
Hierdie afkondiging wys daarop dat ons ‘n, soos dit genoem word, geslote tafel het.
Nie elke gemeentelid of elke besoeker word uitgenooi om die nagmaal saam te vier nie.
Belydende lidmate is hulle wat reeds belydenis afgelê het, wat hulle lewe aan die Here toewy en ook voldoende kennis van sy wil het om te weet wat ‘n Godvresende lewe is.
En dan die woorde: hulle wat geregtig is ... dit verwys na belydende lidmate wat nie deur die kerkraad van die nagmaal afgehou word, omdat hulle in sonde lewe nie.
En dan word gaste wat reeds by die kerkraad aangemeld het, ook hartlik uitgenooi.
Dit is medegelowiges wat lid is van ‘n ander gemeente, waarmee daar ‘n susterkerkverhouding is, hetsy binnelands of buitelands.
Maar dit is dus nie ‘n oop tafel in die sin dat ieder en elk wat die erediens bywoon uitgenooi word nie.
In die vroeë kerk was dit selfs soms so dat die nagmaal in ‘n geslote byeenkoms gevier is.
Hulle het dit baseer op die feit dat ons Heiland, toe Hy die nagmaal ingestel het, dit saam met sy dissipels privaat gevier het, in ‘n geslote vertrek.
Wat sê die Bybel verder hieroor?
Is dit reg om ‘n geslote tafel te hê, is dit selfs noodsaaklik om dit in ‘n private ruimte te vier, dalk sonder die dooplidmate?
In ons teks lees ons hoe die eerste gelowiges nagmaal gevier het.
Dit was die dissipels saam met die omtrent drieduisend mense wat op Pinksterdag aan die gemeente toegevoeg is.
Ons teks sê dat hulle vier dinge gedoen het:
- volhard in die leer van die apostels;
- volhard in die gemeenskap van die heiliges – dit wil sê hulle het as gelowiges saamgekom;
- volhard in die breking van die brood;
- en volhard in die gebede.
Mens kan in hierdie vier dinge ‘n verwysing sien na sleutelelemente waaruit ‘n erediens opgebou is.
Onderdeel daarvan was dus ook die breking van die brood, ‘n verwysing na die nagmaal.
Verder lees ons in vers 46 dat hulle eendragtig volhard het in die tempel.
Hulle het dus bymekaar gekom by die tempel.
Onthou, dit beteken nie noodwendig binne-in die tempel, byvoorbeeld in die vertrek wat die Heilige genoem is nie.
Die tempel was ‘n groot gebouekompleks, met verskillende pilaargange, en meerdere pleine.
Maar ook lees ons dat hulle van huis tot huis brood gebreek het.
Of dit ook na die nagmaal verwys, is nie heeltemal duidelik nie.
Daar word bygevoeg dat hulle hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet het.
Uit hierdie verse is die indruk wat ons kry nie dat die eerste gemeente in afsondering, byvoorbeeld in ‘n geslote ruimte, die nagmaal gevier het nie.
Wat egter wel duidelik is uit hierdie eerste hoofstukke van Handelinge, is dat die nagmaal nie ‘n oop viering was, waaraan sommer enigiemand kon deelneem nie.
Telkens val die klem op geloof in Christus, erkenning van Hom as die Messias, bekering tot Hom, en lid word van sy gemeente.
Daar is ‘n duidelike onderskeid gemaak tussen hulle wat lid was van die gemeente en hulle wat nie was nie.
Dit was selfs so dat hulle wat lid geword het, maar nie opreg in woord en wandel was nie, weer afgesny is.
Dit is die boodskap wat die Heilige Gees ons leer met die dood van Ananias en Saffira.
So lees ons meer as een keer dat die volk agting gehad het vir hierdie gemeente.
Handelinge 5:13: Die volk het “hoë agting” vir hulle gehad.
En hoofstuk 2:47: “die hele volk was hulle goedgesind”.
Die gemeente was dus ‘n duidelik onderskeibare groep wat ‘n indruk op die omgewing gemaak het.
Gemeente, dit is in navolging van hierdie eerste gelowiges van die Nuwe Testament dat ons steeds die nagmaal vier, en dit steeds ooreenkomstig die Here se Woord.
Dit is ‘n groot voorreg om saam brood te breek, want dit is Christus se maaltyd waar Hyself die Gasheer is.
Almal word daarvoor uitgenooi, maar dit is wel langs die weg van geloof en opregte bekering en kerklidmaatskap wat die tafel vir iemand oopgemaak word.
Tydens ons nagmaalsdienste is daar hulle wat aktief en hulle wat passief saamvier.
Aktief is hulle wat aan tafel sit, die brood ontvang en dit eet en die beker ontvang en daaruit drink.
Hulle wat passief saamvier is byvoorbeeld die dooplidmate en die gaste wat nie by die kerkraad aangemeld het nie.
Net soos daar by die ander sakrament, die doop, ‘n onderskeid is tussen hulle wat direk en hulle wat indirek betrokke is.
Die kind ontvang die doop, en die doopouers het dit aangevra en lê ‘n gelofte af.
Die res van die gemeente sien egter wat gebeur, dit is vir almal aanwesig ‘n sigbare teken hoe Christus ons sondes afwas.
Net so is daar by die nagmaal hulle wat aktief vier, wat behalwe dat hulle die sakrament sien, dit ook proe.
Maar vir alle aanwesiges verder is die viering van die nagmaal ook ‘n sigbare teken hoe Christus sy liggaam en bloed aan die kruis vir sondaars geoffer het.
Almal, kinders, volwassenes, gaste, mag dit sien en daardeur vertroos word, en ook aangemoedig word om te verlang daarna om dit ook aktief saam te vier.
So is ‘n nagmaalserediens ‘n feestelike gebeurtenis vir elkeen, jonk en oud, in die kerk.
Saam prys ons die Here vir die boodskap van die nagmaal, vir God wat beloof dat Hy al ons sondes sal vergewe, elke keer as ons in die Naam van sy Seun tot Hom nader, Hy wat sy bloed vir ons gestort het, Hy wat die straf van ons af weggeneem het, Hy wat ons die ewige lewe skenk.
Kom ons prys Hom dan nou ook almal saam as ons sing: Ps 132:10:
“In Sion is my seën groot,
Hier red Ek armes uit die nood,
Hier is versadiging met brood ...”
Ja, dit is ‘n voorreg om saam brood te breek.
2 Handelinge 20:7
Ook in Handelinge 20 lees ons dat die gelowiges saam nagmaal gevier het.
Paulus was in Troas.
Hulle het op Sondag bymekaargekom om brood te breek en om na die apostel Paulus se prediking te luister.
Paulus was net vir een week daar, terwyl hy onderweg was na Jerusalem.
Vers 7: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek ...”
Die uitdrukking “brood te breek” kan ons verstaan dat hulle nagmaal gevier het.
Dit sien ons ook in die bekende hoofstuk oor die nagmaal, 1 Korinthiërs 11.
Daar skryf Paulus spesifiek oor die nagmaal (vers 20), en in dieselfde gedeelte verwys hy ook na die Here Jesus wat in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.”
Om brood te breek het ‘n vaste uitdrukking vir die nagmaal geword, en so word dit ook hier in ons teks gebruik, des te meer met die verwysing dat hulle dit op die eerste dag van die week gedoen het, toe al die gelowiges saam vergader het.
Terselfdertyd lyk dit of die uitdrukking om brood te breek nog steeds ook ‘n gewone uitdrukking gebly het.
Want, toe die jongman Eutichus vanaf die derde verdieping na sy dood val en Paulus hom weer lewend gemaak het, lees ons: Hy het weer “boontoe gegaan en brood gebreek en geëet” (vers 11).
Dit was ‘n buitegewone nag in Troas wat niemand ooit weer sou vergeet nie.
Ons moet onthou dat in die vroeë kerk die nagmaal en die gewone maaltyd nie van mekaar geskei was nie.
Dit sien ons reeds by die instelling van die nagmaal.
Dit was die gewone pasgamaaltyd wat Jesus met sy dissipels geëet het.
Tog was ‘n onderdeel daarvan ook die duidelik simboliese handeling van die breek en uitdeel van die brood en die rondgaan van die beker.
Dieselfde indruk kry ons van hoe die nagmaal in Korinthe gevier is.
Dit was ‘n maaltyd waar almal iets van die huis af saamgebring het, maar dan was daar ook die simboliese brood en wyn.
So leer ons uit die Skrif hoe die vroeë gemeentes ‘n hegte eenheid gevorm het, hoe hulle op Sondae bymekaar gekom het om te volhard in die leer van die apostels, om saam te bid, en om saam brood te breek.
Gemeente, en nou, 20 eeue later, sien ons dat presies dieselfde nog steeds op aarde gebeur.
Ook hier waar ons vanoggend bymekaar is.
Daar is ‘n goeie rede daarvoor.
Want net soos toe, is ons bymekaarkom nie net vir ‘n sosiale samesyn nie, maar ons kom bymekaar as dankbare onderdane van die Koning van die konings, wat in die hemel op die troon sit.
As die koning jou uitnooi om saam met Hom fees te vier, wie sal nie kom nie!
Dit is ‘n ongelooflike voorreg as Hy vir ons die brood breek!
Daarom het hierdie besondere maaltyd deur al die baie jare nie uitgesterf nie, maar word dit nog steeds gretig en dankbaar gevier, wêreldwyd, vandag nog net so dankbaar soos destyds in Jerusalem en Troas.
Ons vier dit in plegtige herinnering aan wat destyds op Golgota gebeur het.
Ons vier dit in gespanne verwagting van dit wat op koms is.
Want daar kom ‘n dag, en mag dit spoedig wees, wanneer Christus weer sal terugkom na die aarde.
Dan sal ons eers feesvier.
Dan sal ons nie net met ons geloofsoë nie, maar met ons fisiese oë ons Heiland sien, hoe Hy die brood saam met ons sal breek, hoe Hy die wyn opnuut saam met ons sal drink.
Mag daardie dag tog spoedig kom.
Maranata!
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Handelinge 2:37-48 & 20:1-16
Teks: Handelinge 2:42 & 20:7
Tema: Die voorreg om saam brood te breek
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Watter betekenis het die uitdrukking “om brood te breek” in die Nuwe Testament gekry?
- Waar het die eerste gemeente in Jerusalem bymekaargekom om nagmaal te vier?
- Wanneer het die gemeente in Troas nagmaal gevier?
- Hoekom het die viering van die nagmaal deur die eeu nie in onbruik geraak nie?
- Wie het vandag passief en wie het aktief nagmaal gevier?
Votum
Seën
Ps 122:1
Wet
Ps 119:61,63
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Nagmaalsviering:
1e tafel: Skriflesing: Handelinge 2:37-48 & preek (1e punt); Sing: Ps 132:10
2e tafel: Skriflesing: Handelinge 20:1-16 & preek (2e punt); Sing: Ps 23:3 (1e beryming)
3e tafel: Lofverheffing; Sing: Ps 103:3
Dankgebed
Kollekte
Ps 149:1,2
Seën