In die vorige preek na aanleiding van die Dordtse Leerreëls het ons aandag geskenk aan die aard van die prediking.
Wat is prediking?
Hoekom bestaan prediking?
Hoekom praat die Bybel oor die lieflike voete van hulle wat die evangelie van vrede bring, wat die Evangelie van die goeie verkondig? (Rom 10:15)
Ons het gekyk na wat die term bediening van die versoening beteken.
Want die prediking word bediening van die versoening genoem.
In die ou bedeling het die priester bloed gesprinkel om versoening te bewerk.
Dit was bloed van diere wat nie werklik versoening kon bring nie.
In die nuwe bedeling, soos Calvyn dit verwoord het, sprinkel Christus sy bloed deur die prediking.
Almal wat die prediking aanhoor, op hulle word Christus se bloed gesprinkel.
Hulle ontvang die aanbod van versoening, en die sekerheid van hulle uitverkiesing solank hulle na Christus bly kyk, oftewel elke keer terugkom na die prediking om telkens weer sy versoening te ontvang wat Hy op hulle sprinkel deur die prediking van die Evangelie.
Vanaand kyk ons na die vraag:
Tema: Hoe die saad van die Evangelie ontkiem in ‘n mens se lewe
1 Almal word geroep, maar nie almal aanvaar die Evangelie nie
2 Die wat dit aanvaar, dank dit nie aan hulleself nie
1 Almal word geroep, maar nie almal aanvaar nie
Artikel 9 gaan verder met hierdie onderwerp, maar dan die skadukant.
Daar is ongelukkig ook mense wat deur die bediening van die Evangelie geroep word, maar nie na Christus kom en hulle bekeer nie.
Die skuld hiervoor, word direk daaraan toegevoeg, lê nie by die Evangelie nie.
Dit lê ook nie by God, wat aan mense verskillende gawes gee nie.
Hiermee verwys die Leerreëls na die redenasie van die Remonstrante dat sommige mense hulle vrye wil, hulle natuurlike ingebore gawes, beter gebruik as ander mense.
Nee, die skuld lê vierkant by die mens.
Hulle is geroep, maar tog verwerp hulle dit.
Dit is uitermate tragies, in ag genome wat die inhoud van die Evangelie is.
Dit is die beste nuus van die wêreld, ‘n boodskap van oorwinning van die dood, dit wat mense so verdrietig maak.
Die Evangelie is ‘n boodskap wat geen mens kwaad doen nie.
Dit is ook ‘n boodskap wat geen mens uitsluit nie.
Hoe op aarde is dit moontlik dat mense dan tog negatief reageer?
Dit is slegs verstaanbaar as ons deurdronge is van die feit dat die mens sedert die sondeval van nature ‘n opstandige wese is.
Hy kan nie meer rasionele besluite in sy eie belang neem nie.
En dan noem paragraaf 9 verskillende scenario’s.
Dit laat mens baie dink aan die gelykenis van die saaier, of ander gelykenisse van Jesus, soos die mense wat vir ‘n bruilof uitgenooi word, maar bedank vir die uitnodiging, omdat hulle ander belangrike dinge het om te doen.
Daar is sommige, sê paragraaf 9, wat as gevolg van sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aanneem nie.
Hulle is traak-my-nie-agtig.
Die lewe is vir hulle ‘n lied, en hulle dink nie na oor wat môre kan gebeur nie.
Verder is daar hulle wat die Evangelie wel aanneem, maar nie in die binneste van hulle harte nie.
Hulle groei dalk op in die kerk, in ‘n gelowige gesin, gaan na ‘n Gereformeerde skool, na katkisasie.
Maar in wese dryf hulle saam met die stroom, hulle doen maar wat van hulle verwag word.
Hulle wil nie hulle ouers, of dominee, of onderwysers omkrap of teleurstel nie.
Maar soos wat hulle volwasse word, blyk al hoe meer dat die Evangelie nie werklik in hulle harte wortel geskiet het nie.
Hulle is nie van harte betrokke nie.
Daar is ander dinge wat hulle hartsnare laat roer, of dit rykdom is, klere, karre, vroue, vakansies, rugby, stokperdjies, noem maar op.
Uiteindelik leef hulle meer daarvoor as vir die Here.
Na ‘n kortstondige blydskap, sê paragraaf 9, val hulle weer terug.
Dink aan die dag wat hulle geloofsbelydenis doen.
Dit is inderdaad ‘n dag van blydskap.
Maar dit is kortstondig.
Want die mooi beloftes ten spyt, daarna blyk spoedig dat die liefde vir die Here nie brandende is nie.
Dit word sigbaar in dinge soos dat hulle nie die Bybelstudie bywoon nie, van die eredienste begin versuim, hulle tiendes nie betaal nie, of dalk net ‘n fraksie daarvan, ensovoorts.
Dit is ‘n oppervlakkige geloof, ‘n tydelike geloof, soos die Leerreëls sê.
‘n Oppervlakkig geloof is ook hulle wat elke Sondag braaf in die kerk sit, maar nie toelaat dat die Evangelie deurdring tot die skuilkamers van die hart, waar daar nog sondes toegelaat word nie.
Mense wat byvoorbeeld ‘n wrok bly koester, wat hulle nie met hulle naaste wil versoen nie.
Of mense wat kwaadstokers en lasteraars in die gemeenskap is, wat die goeie naam van sy naaste nie verdedig en bevorder nie.
Ook dit is ‘n oppervlakkige geloof, omdat hierdie mense keer dat die Evangelie daardie kamers van hulle hart skoonmaak.
Die ander groep mense wat paragraaf 9 noem, lê baie naby aan bogenoemde groep.
Met woorde uit die Bybel word dit verduidelik:
Soos ons Verlosser dit in die gelyenis van die saaier leer:
Die saad van die Woord word deur die dorings van die sorge van die lewe en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie (Markus 4).
Christus sprinkel sy bloed op sy gemeente elke Sondag deur die prediking, maar sommiges, sodra hulle die kerk weer uit is, vee as ‘t ware die bloeddruppels weer af, sodat Christus se bloed geen impak het op hulle lewe van Maandag tot Saterdag nie.
Dan is dit net die sorge van die lewe en die welluste van die wêreld wat hulle gedagtes besig hou.
Die woord welluste moet ons nie net interpreteer in seksuele opsig nie, dit ook uiteraard.
Maar dit kan ook vertaal word as: die plesiere van die wêreld.
Ons kan hier veral aan die Westerse samelewing dink, waarvan ons met ons lewensstyl ook deel uitmaak.
Die Westerse samelewing is gemiddeld uitermate welvarend.
Die gemiddelde Westerling leef meer welvarend as die konings en koninginne van die verlede.
Ons kan veel vinniger en verder reis, veel gemakliker reis, ons kan veel gesonder en lekkerder voedsel koop, ons kan veel meer klere koop, ons kan veel beter mediese sorg geniet, en so kan mens aangaan en aangaan.
Nog nooit was mense so ryk op aarde as in die Westerse samelewing nie.
Maar al hierdie plesiere kan ook ‘n versoeking wees wat die saad van die Evangelie verstik.
Dit sien mens in die Westerse samelewing massaal gebeur.
Miljoene mense verlaat die kerk, meen dat hulle Christus in hulle lewens nie meer nodig het nie.
Gemeente, hierdie woorde uit paragraaf 9 draai nie doekies om nie.
En dit is essensieel om nie te vinnig verder te lees nie, maar hulle te laat insink.
Want die prentjie wat hier geskets word, is dit vreemd aan ons gemeente?
Kan ons sê: Sjoe, dis erg, maar gelukkig herken ons dit darem nie in ons gemeente nie?
Die eerlikheid gebied dat hierdie beskrywing beslis ook van toepassing is op ons gemeente.
Daar is onder ons hulle wat nie ernstig is nie, in wie se harte die Evangelie nie baie diep wortel geskiet het nie, en dit word sigbaar deurdat hulle nie veel vrugte van ‘n toegewyde geloofslewe vertoon nie.
Daar is hulle wat bewus bepaalde kamers van hulle hart toesluit.
Christus sê: Baie is geroep, maar min is uitverkies.
Hierdie woorde moet insink, ons wakker skud.
Jy, elke gemeentelid, is geroep.
Is jy ernstig oor hierdie roeping?
En as jy self wel ernstig is, sien jy raak dat daar ander in die gemeente is wat nie ernstig is nie?
En dat dit inhou dat hulle in die gevaar is om ewig verlore te gaan?
Is jy begaan daaroor?
Maak dit jou bekommerd oor hulle?
Doen jy iets daaraan om hulle terug te trek, om hulle wakker te skud, of laat jy dit aan ander oor?
Inderdaad, die gelykenis van die saaier is nie ‘n verhaal oor ander mense ver weg nie, dit gaan ook oor onsself.
2 Die wat dit aanvaar, dank dit nie aan hulleself nie
Maar God sy dank, die bediening van die Evangelie is kragtig, en daar is mense – baie selfs – wat bekeer word.
En dit sien ons ook in ons gemeente.
Daar is so baie in ons gemeente wat regtig ernstig is oor hulle geloof, wat nie daarteen opsien op Sondag kerk toe te kom nie, maar daarna uitsien.
Wat deur die week blymoedige gelowiges is, en oog het vir hulle broers en susters, en ook vir soveel ander mense wat op hulle pad kom.
Wat ‘n wonder!
Wat ‘n voorreg, dat ons in so ‘n gemeenskap van gelowiges mag lewe.
Maar, en dit voeg paragraaf 10 dadelik daaraan toe:
Dit moet nie aan die mens toegeskryf word asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei nie.
Om so te redeneer, sal gelyk waar aan die hooghartige kettery van Pelagius.
Dit moet slegs aan God toegeskryf word.
Gemeente, kom ons vergelyk dit vir ‘n oomblik met hoe ‘n saadjie ontkiem.
Dit sal help om hierdie beter te verstaan, vir sover ons dit kan verstaan.
Die saad in die gelykenis is die Evangelie.
Dit is baie kragtig.
‘n Saadjie, al is dit hoe klein, het dit reeds alle genetiese eienskappe om ‘n groot boom te kan word, om die mooiste blomme te kry, om die lekkerste vrugte te kan dra.
So het die Evangelie die vermoë om ‘n wonderwerk in ‘n mens te verrig.
Dit bring ‘n mens tot geloof, dit sorg dat daardie mens selfs die dood oorwin en ewig sal lewe.
Maar, die mens waarin die saad van die Evangelie gesaai is, kan nie spog met hierdie wonderwerk, asof hy dit self teweeg gebring het nie.
Sy geloof is nie sy prestasie nie.
Dat hy ewig gaan lewe, is nie sy werk nie.
En dan dink mens aan die feit dat ‘n saad wat gesaai word, nie sal ontkiem solank dit nie die regte eksterne omstandige beleef nie.
Die grond moet vrugbaar wees, daar moet reën wees, water wat die grond natmaak, en daar moet sonskyn wees, hitte wat die grond op die regte temperatuur bring.
Solank hierdie dinge nie in plek is nie, sal die saadjie nie ontkiem en begin groei nie.
Soms kan ‘n saadjie jare lank in die grond lê, omdat die regte omstandighede nie daar is nie.
Ek lees laas ‘n artikel van mense wat sade van ‘n dadelboom gevind het op die berg Massada in Israel.
Die Jode wat op daardie berg geskuil het teen die Romeine, het dadels as voedselvoorrade daar gehad.
Daardie sade het vir 2000 jaar in die droë woestynsand gelê sonder om te ontkiem.
Toe hedendaagse bioloë die sade egter in hulle kweekhuis plant onder die regte omstandighede – vrugbare grond, water, regte temperatuur, het – glo dit of nie – daardie sade na 2000 jaar wel ontkiem en begin groei!
Dit was ‘n aantal jaar gelede, en daardie sade is nou al palmbome wat vrug dra.
Ons weet nou of dadels destyds dieselfde geproe het as wat hulle vandag proe.
So, gemeente, kan die Evangelie vir lank in ‘n mens se lewe dormant lê.
Iemand sit in die kerk, hy hoor die prediking week na week, maar tog ontkiem die saad van die Evangelie nie in sy hart nie.
Maar God sy geloofd as op ‘n dag dit wel begin ontkiem!
En dit is dan nie aan daardie mens te danke nie.
Dankbaar mag ons bely dat God die regte omstandighede geskep het.
Dis nie dat hulle hulle vrye wil en eie insig op ‘n stadium net reg begin gebruik het nie.
Dis wat die Remonstrante gesê het.
Nee, vol verwondering mag ons konstateer en bely:
Dit is te danke aan God se ondeurgrondelike raad en onpeilbare liefde, dat Hy my van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitgekies het!
Dit is die oorsaak.
Daarom het Hy my lewe so gelei dat ek onder die prediking van die Evangelie gekom het.
En terwyl die Evangeliedienaar gepreek het, het sy Heilige Gees in my hart en lewe gewerk, en die grond vir die aanneming van die Evangelie vrugbaar gemaak, gereed om die saad wat deur die prediking in my gesaai is, te laat ontkiem.
Hierdie waarheid kom in die Bybel tot ons in verskillende tekste.
Om enkeles te noem:
Christus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh 6:44).
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh 15:5)
Efesiërs 2:8: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.”
Soli Deo Gloria!
Slegs aan God die eer!
Hy het my kragdadig geroep, in die tyd, soos paragraaf 10 sê.
Sommiges het Hy al begin roep van hulle geboorte af, soos Lara wat vanoggend gedoop is.
Ander roep Hy eers op volwasse leeftyd, as ‘n sendeling in sy omgewing die Evangelie begin preek.
En op sy tyd, vir die een vroeër, vir die ander later, begin die saad van die Evangelie ontkiem, en word baie duidelik en konkreet sigbaar dat Hy nou besig is om ‘n mens uit die mag van die duisternis te verlos, en oor te bring in die ryk van sy Seun (par 10).
En die mense wat dit ervaar dat dit in hulle lewens besig is om te gebeur, roem nie in hulleself nie, verhef hulle nie bo ander sondaars nie, maar roem in die Here.
En hulle bly nie stil nie.
Soos paragraaf 10 sê, hulle verkondig die deugde van Hom, wat hule uit die duisternis tot hierdie wonderbare lig geroep het.
Ware gelowiges is nie selfingenome nie, hulle is Christus-ingenome.
Hulle bely nederig maar ook diep dankbaar:
God het uitverkies om wat dwaas is, wys te maak, wat swak is, sterk te maak, wat onedel is, edel te maak, om wat niks is, iets te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Maar deur Hom is ons in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
“Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” (1 Kor 1:26-31)
Hierdie wonderlike werking van die Heilige Gees wat ons harte en lewens gereedmaak, word in paragraaf 11 verder verduidelik.
Aan die een kant, sê hierdie paragraaf, laat God die prediking uiterlik aan ‘n mens verkondig.
Christus sprinkel sy bloed as die Evangelie bedien word.
Maar wat Hy ook doen is om vervolgens ons verstand te verlig deur die Heilige Gees.
Dalk het dit u al opgeval, maar in elke erediens in die gebed voor die prediking, bid ons vir die verligting van die Heilige Gees.
As ons dit nie doen nie, sal ons uit onsself in opstandigheid die verkondiging verwerp.
Verder doen die Heilige Gees, sê paragraaf 11, nog meer.
Hy dring ook deur tot in die binneste dele van die mens.
Hy open die geslote hart.
Hy versag wat hard is.
Hy besny wat onbesnede is.
Dink aan die profeet Jeremia se oproep:
“Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart” (Jer 4:4).
Die Jode moes nie net uitwendig tot God se volk behoort nie, hulle moes ook inwendig, van harte, die HERE dien.
Die doop, soos die besnydenis, is die uitwendige teken dat ons by Christus se gemeente hoort.
Soos wat ‘n kind opgroei, moet hy ook inwendig, van harte, al hoe meer sy lewe aan Christus wy.
En wanneer ons sien dat ons kinders soos wat hulle opgroei dit steeds meer begin doen, mag ons en hulle God dank.
Want dit sou nie gebeur het as die Heilige Gees nie eers die opstandige wil in ons, wat dood was, weer lewend gemaak het nie.
Ons wat van geboorte onwillig was, word gewillig.
Ons wat van nature ongehoorsaam was, word gehoorsaam.
So laat Hy die saad van die Evangelie ontkiem en groei, sodat dit selfs ‘n boom word wat vrugte van goeie werke dra.
Ek sluit af, gemeente, as prediker bid ek dat hierdie preek nie leeg sal terugkeer nie.
Dat die Evangeliebediening sal doen waarvoor dit bedoel is.
Dat die vermaning wat in hierdie preek deurgeklink het, nie ligtelik geneem sal word nie, maar dat ons daarmee sal werk.
Dat dit wat ons gehoor het oor die werk van Christus en sy Heilige Gees, ons sal bemoedig, sterk sal maak, seker sal maak, veral dankbaar sal maak.
Weer eens: Soli Deo Gloria!
Alleen aan God die eer!
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Markus 4:1-20; Efesiërs 2:1-10
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, 9-11
Tema: Hoe die saad van die Evangelie ontkiem in ‘n mens se lewe
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Wat word bedoel met die uitdrukking dat Christus deur die prediking sy bloed op die gemeente sprinkel?
- Die Evangelie word die saad genoem. Wat is nodig om hierdie saad in ‘n mens te laat ontkiem?
- Hoekom is daar in elke erediens ‘n gebed vir die verligting van die Heilige Gees?
- Noem voorbeelde waaruit blyk dat mense nie die Evangelie aanvaar nie.
- Noem iets wat jy kan doen om ‘n ander gemeentelid wat tans nie ernstig is oor die geloof nie, te help?
Votum
Seën
Ps 66:1,2
Gebed
Skriflesing: Markus 4:1-20; Efesiërs 2:1-10
Ps 27:4
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3&4, 9-11
Preek
Ps 92:3,6,7
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 24:1-3
Seën