Die prediking van die evangelie is die bediening van die versoening

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-09-24
Text: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 7-8
Preek Inhoud: 

In die vorige preek het ons aandag geskenk aan die funksies van wet en evangelie, na aanleiding van die vorige twee paragrawe van die Dordtse Leerreëls.

Ons het gesien dat sowel die wet as die evangelie ‘n eie unieke funksie het.

Ons het ook gesien dat hierdie twee funksies nie gemeng moet word nie.

 

In die twee paragrawe wat vandag aan die orde is, kyk ons verder na die evangelie.

Net vir die duidelikheid, natuurlik kyk ons elke Sondag, in elke preek, na die evangelie.

Wat ons egter in hierdie preek doen, aan die hand van die Dordtse Leerreëls, is om vir ‘n oomblik terug te staan en te fokus na die werking van die evangelie, hoe God, spesifiek God die Heilige Gees, die evangelie gebruik as ‘n instrument om geloof wakker te maak in sondige en opstandige mense, en meer nog, selfs sekerheid van hulle uitverkiesing.

 

 

Tema: Die prediking van die evangelie is die bediening van die versoening

- Die bediening van die versoening brei geweldig uit

- Die prediking sprinkel die bloed van Christus

 

1 Die bediening van die versoening brei geweldig uit

Ons is bekend met die feite van die evangelie.

Maar ons moenie vergeet, dit word tereg in die Bybel ‘n verborgenheid genoem.

Spesifiek vir die gelowiges in die Ou Testament.

In die Ou Testament het die gelowiges geweet dat daar iets op koms is, dat God iets beplan.

Maar die hoe, die wat, die wie, dit was nog grotendeels verborge.

En toe dit bekend word met Jesus se koms, gemeente, daardie feite het die mense as ‘t ware tussen die oë getref.

Daardie plan wat God gemaak het, niemand sou dit self kon uitdink nie.

Ja, dit is in die Ou Testament voorspel, maar dit was net die vae kontoere.

Nou dat die details duidelik geword het, het dit die mense in sekere sin totaal onkant gevang.

Die dissipels, wat gelowige mense was, het tyd nodig gehad dat hierdie plan van God kon insink.

Eintlik eers na Christus se opstanding, na sy hemelvaart, na Pinkster het hulle werklik al die implikasies begin besef.

Dus, inderdaad, daardie heilsfeite word met rede ‘n groot verborgenheid genoem.

Noudat die apostels – en ons ook – die heilsfeite ken, nou verstaan ons presies hoe God hulle reeds in die Ou Testament aangekondig het.

Maar ons het dus die voordeel van dat ons kan terugkyk, nadat die verborgenheid reeds bekend geword het.

 

Een van die grootste elemente van hierdie verborgenheid, hierdie evangelie, is die totale skaalvergroting van die Nuwe Testament.

Die Dordtse Leerreëls sê: In die Ou Testament is God se wil aan min mense bekend gemaak.

In die Nuwe openbaar God dit aan meer, ja baie meer mense.

Paragraaf 7, nou is die onderskeid tussen die volke weggeneem.

Waar dit ‘n groot uitsondering was in die Ou Testament dat God sy profete na heidennasies gestuur het – dink byvoorbeeld aan Jona – nou word dit die reël.

Die meerderheid apostels word na die heidene gestuur.

Na Pinksterdag het die apostels die wêreld ingevaar.

 

Maar, en dit beklemtoon paragraaf 7: Net soos dit by die Jode was, geld dit ook in die Nuwe Testament:

God stuur sy evangeliedienaars nie na spesifieke volke omdat die een volk waardiger sou wees as die ander, of omdat hulle die lig van die natuur beter sou gebruik as ander nie.

Dit lê slegs en alleen aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God.

Daarom moet elkeen vir wie die evangelie bereik, dit met ‘n nederige en dankbare hart ontvang, met die besef dat hy of sy dit aan niks te danke het nie, en dat ek uit myself net so verlore en verdorwe is as daardie mense wat nie die genade ontvang het nie.

God se oordele bly streng en regverdig, en ek kan nie sy keuses verklaar nie, laat staan bevraagteken.

Ek kan maar net bely dat daar alle rede was dat daardie streng en regverdige oordele ook vir my moes getref het!

Want realiteit is, en dit maak ons des te nederiger, nie almal ontvang die evangelie nie.

En hulle wat wel geroep word, nie almal beantwoord dit gehoorsaam met dankbare harte nie.

Dit is slegs God se welbehae as dit met my die geval is.

Die volke of individue wat God oorslaan, is nie omdat hulle slegter as ek is nie.

Ons is almal van nature ewe sleg en opstandig.

 

Die Dordtse Leerreëls benadruk dit, omdat die Remonstrante anders geleer het.

Hulle het gesê dat sommige volke die lig van die natuur beter gebruik as ander, en dus meer ontvanklik is vir die evangelie.

Hierdie Remonstrantse redenasie het ook in ons land invloed uitgeoefen, toe in die verlede sommige mense geredeneer het dat die evangelie nie vir die mense van Afrika bedoel was nie.

Hulle verstand was so verduister, hulle was so heidens, die lig van die natuur het so min tot hulle deurgedring, die kans dat hulle die evangelie sou aanneem was net te klein.

Daarenteen sou die mense van Europese afkoms meer aanvoeling hê vir die lig van die natuur.

Hierdie Remonstrantse redenering is allesbehalwe Bybels.

Die Bybel leer dat God in staat is om enigiemand uit vrye genade te kies.

En inderdaad, Hy kies ook die slegste, primitiefste mense, juis sodat sy krag en genade nog duideliker sal skyn!

Ja die primitiefste kannibale is en word ook tot bekering geroep.

Aan hulle word ook die evangelie verkondig met die opregte aanbod van die genade.

En deur die werking van die Heilige Gees kom daar ook uit hulle geledere mense tot opregte geloof, bekering en volharding!

Christus is soewerein, Hy skep vir Homself ‘n gewillige en toegewyde volk.

Hulle was eers nie sy volk was nie – haal die apostel Petrus vir Hosea aan – Lo-Ammi, hulle word nou volk van God.

Hulle wat eers nie ontferming ontvang het nie – Lo-Rugama, hulle ontvang nou wel ontferming (1 Petr 2:10).

 

Ons staan veel te min daarby stil hoe ‘n ongelooflike voorreg dit is om tot lidmate van sy kerk geroep te wees, en dat ons kinders ook hier mag sit onder die prediking van die evangelie.

Hier klink die woorde van die ewige lewe.

 

 

2 Die prediking sprinkel die bloed van Christus

Artikel 8 verduidelik vervolgens dat die prediking van die evangelie ‘n baie spesifieke karakter het.

God stuur nie net sy diensknegte om mense te informeer, om hulle net bekend te maak met die feite van die evangelie nie.

Agter die prediking staan ‘n God wie se hart brandende van liefde is, wie se hart bekommerd is.

En daarom gee Hy sy predikers opdrag om die mense met klem op te roep tot bekering.

Om hulle te waarsku dat hulle anders hel toe sal gaan.

Die Remonstrante het vir die Gereformeerdes gesê: As julle beweer dat nie almal uitverkies is nie, hoekom wil julle dan die evangelie aan alle mense verkondig?

As Gereformeerdes antwoord ons: Dit is God se opdrag in die Bybel.

Markus 16:16: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

God se roeping van sondaars is opreg.

En Handelinge 17:30: “God ... verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.”

Hy is begaan met sondaars se lot, Hy begeer nie die sondaar se dood nie, maar dat hy hom sal bekeer en lewe.

Met die prediking van die evangelie word mense dus, sê artikel 8, in alle erns geroep.

Die prediking het daardie funksie.

God roep nie iemand in ‘n droom of in een of ander bonatuurlike openbaring nie, Hy roep ‘n mens met die verkondiging van die evangelie.

 

Wat ‘n voorreg dus as die evangelie by my uitgekom het, as ek daardeur geroep word.

En inderdaad, as die evangelie aan enigiemand gepreek word, dan word daardie persoon in alle erns geroep.

En aan hulle wat dit dankbaar aanvaar en nie daarteen in opstand kom nie, beloof Hy rus vir hulle siele en die ewige lewe!

 

Dit is die karakter van die evangelie.

Nie net ‘n mededeling nie, maar ‘n ernstige oproep.

Dit is die prediker se taak om sy hoorders op te roep om die evangelie te aanvaar.

Dit is ons plig om die oproep te beantwoord.

Dit is ons plig om tot bekering te kom.

God vertel nie vir mense wat Hy lank gelede besluit het oor elke mens, hetsy of hy hemel of hel toe gaan nie.

Dit is nie die karakter van die evangelie om dit te doen nie.

Dis nie ons sake nie, ons het niks daarmee te make nie.

Ons moet fokus op sy geopenbaarde wil.

Sy geopenbaarde wil is soos Esegiël 18:23 sê:

“Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?”

‘n Prediker begin dus nie met die uitverkiesing nie, Hy begin met die prediking van die Woord.

En ons as hoorders begin met ‘n loflied, omdat God in sy genade die evangelie ook na ons gestuur het.

 

Dus, as God ‘n mens met die evangelie roep, lei Hy hom nie om die bos nie.

Hy bedoel dit.

Daar is baie tekste in die Bybel wat die predikers oproep om uit te gaan na alle mense.

“Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde!” (Jes 45:22)

Een van die laaste verse uit die Bybel is ook ‘n oop uitnodiging:

“laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” – Openbaring 22:17.

 

Desnieteenstaande is dit tog iets wat aan baie mense se hart knaag.

Ten spyte van al hierdie duidelike tekste, twyfel hulle steeds of die evangelie ook vir hulle bedoel is.

Hulle voel heeltyd die drang in hulleself om te sondig.

Hulle vang hulleself elke keer weer uit dat hulle sukkel om al die mooi en wonderlike dinge wat in die Bybel staan te glo.

Hulle redeneer dan: Is dit omdat ek nie uitverkies is nie?

Ander mense het wel geloofsekerheid ...

En dit lyk of ander mense baie minder geestelik lui is as ek ...

Dit lyk of hulle regkry wat ek nie regkry nie ...

Hulle kry dit seker reg omdat hulle wel uitverkies is, en ek nie ...

Maar, gemeente, hierdie is ‘n verstandelike redenering.

Dan hou jy nie rekening met die funksie, die doel van die Evangelie.

Daardie geheimenis, daardie verborge, dit wil sê vir ons onsigbare maar tog baie kragtige werking van die evangelie op hulle wat elke keer tog maar weer die plek opsoek waar die evangelie verkondig word.

As hierdie tipe gedagtes by tye oor jou kom en jou onseker, selfs wanhopig maak, is dit ‘n beproewing.

Dit is ‘n versoeking van die duiwel.

Maar dan mag jy vir die duiwel sê: As die HERE in die Bybel sê dat Hy vreugde vind in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy genade (Psalm 147:11), dan is ek geregtig om te sê dat die HERE ook in my vreugde vind.

Dit is die wonderlike werking van die evangelie.

Vir die Satan is dit verborge, in die sin dat hy dit nie kan verstaan nie.

In sy verwysingsraamwerk kan hy nie insien dat ’n mens sy lewe opoffer om vir ander se sondes te betaal nie.

Dit is iets wat hy nooit sou doen nie.

Toe Christus dit wel gedoen het, het dit hom totaal onkant gevang.

Maar deur die prediking is hierdie geheimenis van die evangelie wel aan jou geopenbaar.

Naamlik dat Christus gesterf het vir sondaars.

En dat Hy ook vir jou sê, sonder enige reserwes: Kom as jy dors is, en kom kry vir jou die lewende water verniet.

 

Dus, broer en suster, vestig jou hoop op Jesus Christus.

Moenie na jouself kyk nie, dan sien jy inderdaad sonde en onsekerheid en wanhoop.

Kyk op na Christus op ’n daaglikse basis.

Deur dit te doen kry jy opnuut sekerheid van jou uitverkiesing.

Marten Luther het gesê dat aanvegtinge onderdeel is van ’n ware geloof.

En soos ons uit die geskiedenis weet, hy het in sy lewe baie aanvegtinge gehad, baie twyfels.

As jy aan Christus behoort en ’n gelowige lewe probeer lei met val en opstaan, wees verseker dat die duiwel jou gaan teiken.

Wie nooit aanvegtinge kry nie, hulle moet juis bekommerd raak.

Skynbaar twyfel die Satan nie oor jou nie, skynbaar sien hy Christus nie werklik in jou lewe nie.

Dus hoef hy nie tyd aan jou te spandeer nie.

Dus gemeente, as jy oorval word met geloofstwyfels, moenie allerlei afleidings daaruit maak asof jy nie uitverkies is nie.

Kyk maar weer op na jou Heiland, luister nog maar ’n keer na sy woorde in die Bybel, en so kom die sekerheid van die uitverkiesing terug.

Hy gee daardie sekerheid, op grond van sy lewe, sy verdienste.

 

Johannes Calvyn het ’n keer gesê: In elke preek huil Christus oor sondaars, en sprinkel Hy sy bloeddruppels op die hele gemeente.

Elke keer as jy kerk toe kom, kom jy na daar waar gepreek word, daar waar sy bloeddruppels gesprinkel word, kom jy na, soos Paulus dit noem, “die bediening van die versoening” (2 Kor 5:18).

 

In die Ou Testament is bloed van diere gesprinkel.

Dit was nog verborge wat sou kom, al is wel meegedeel dat die bloed van diere nie blywende versoening kan bring nie.

Maar met die koms van Christus het God die geheimenis openbaar, sy finale oplossing.

Ons lees so mooi daaroor in Hebreërs:

“Want as die bloed van stiere en bokke ... wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak ... hoeveel te meer sal die bloed van Chirstus ... julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” (Hebr 9:13-14)

Sondaars, melaatses, almal wat onrein was, moes na die priester by die tempel kom, waar bloed gesprinkel is.

Daar mog hulle versoening ontvang.

Ons kom nie meer na die tempel nie, maar ons kom na die prediking van Jesus Christus.

Soos die apostel Petrus dit so mooi verduidelik:

Julle is “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader ... tot ... besprenkeling met die bloed van Jesus Christus” (1 Petr 1:2).

Daardie uitverkiesing word dus vasgemaak as jy met die bloed van Jesus Christus besprinkel word.

Daardie besprinkeling met die bloeddruppels van Christus gebeur as jy onder die prediking van die evangelie sit.

God die Heilige Gees werk die sekerheid van die uitverkiesing hier deur die prediking.

Wie die prediking hardnekkig en keer op keer verwerp en sy rug daarop draai, hy verloor die sekerheid van die uitverkiesing.

Dink aan daardie tipe mense soos die Laodisense, wat lou was.

Hulle het geriskeer, omdat hulle so ongeïnteresseerd was in die evangelie, dat Christus hulle uit sy mond sou spoeg (Openb 3:16).

Omdat hulle so ongeïnteresseerd was, het hulle nie ‘n idee gehad dat hulle ellendig, betreurenswaardig, arm, blind en naak was nie.

As jou hart nie Christus begeer nie, as jy nie Hom soebat vir sy genade nie, dan mag jou geloof ortodoks regsinnig wees, maar dit sal jou nie red nie.

 

Daarenteen besef hulle wat telkens weer die prediking opsoek, dat hulle wel ellendig, betreurenswaardig, arm, blind en naak is.

Die prediking oortuig hulle dat hulle met Christus beklee moet word, wil hulle gered word.

En soos wat hulle na Christus verlang en begeer om met Hom beklee te word, so kom die sekerheid van die uitverkiesing in hulle lewe in.

 

Dis nie dat mense wat uitverkies is, kerk toe kom, omdat hulle ervaar dat hulle uitverkies is, omdat hulle daardie sekerheid gewoon in hulleself het dat hulle uitverkies is, en daarom kom hulle kerk toe om te wys hulle is uitverkies nie.

Uitverkorenes bly in hulleself dikwels onseker, en hulle het dit nodig om elke keer onder die prediking te sit en te voel hoe die bloeddruppels van Christus oor hulle gesprinkel word, om so opnuut verseker te word.

 

Geliefde gemeente, so het die Heilige Gees ook weer vanaand sekerheid gegee, vir elkeen hier in die kerk wat gebroke van hart is, skuldbewus, onseker, maar wat desperaat opkyk na Jesus Christus as die Getroue Verlosser.

Aan Hom kom alle dank en eer toe, tot in ewigheid.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: 1 Petrus 1:1-2 & 2:1-10; Hebreërs 9:1-14

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3-4, 7-8

Tema: Die prediking van die evangelie is die bediening van die versoening

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die verborgenheid van God se wil wat in die Nuwe Testament bekend gemaak is?
  2. Het dit sin om die evangelie te verkondig aan mense wat nie uitverkies is nie?
  3. Wat word bedoel met die uitdrukking dat die prediking die bediening van die versoening is?
  4. Hoe sprinkel Christus sy bloed op gelowiges?
  5. Wat moet jy doen as jy onseker voel oor jou uitverkiesing?

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 99:1,2

Gebed

Skriflesing: 1 Petrus 1:1-2 & 2:1-10; Hebreërs 9:1-14

Ps 132:5,9,10

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 3&4, par 7-8

Preek

Ps 65:2-4

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 8:1

Kollekte

Sb 8:2

Seën