Preek: Daniël 1
Ek wil vanaf vandag in ‘n aantal preke aandag skenk aan die boek Daniël.
Dit is ‘n besondere boek.
Dit bestaan enersyds uit profesieë, maar andersyds is daar ook geskiedskrywing, met die gevolg dat ons heelwat weet oor die profeet Daniël se persoonlike lewe.
By die ander profete in die Ou Testament is dit nie altyd so nie, en dit maak hierdie Bybelboek des te interessanter.
Die HERE openbaar Homself in hierdie boek nie net deur die profesieë wat Daniël namens Hom uitgespreek het nie, maar ook in dit wat Hy in Daniël se lewe gedoen het, wat Hy in Daniël se lewe reggekry het.
Verder is die boek Daniël vir ons baie aktueel, in die sin dat ons as gelowiges vandag in soortgelyke omstandighede leef.
Ook ons lewe onder ‘n owerheid waar nie almal die HERE erken en dien nie.
In Daniël se lewe was dit nog erger, toe hy en sy vriende in ‘n volslae heidense omgewing in Babel beland het.
In die sin bevat hierdie boek vir ons kosbare onderrig hoe om te lewe vandag in ‘n samelewing wat al hoe meer sekulêr word, oftewel ‘n samelewing wat wil funksioneer sonder God en gebod.
En hoe dit ons lewe as gelowiges affekteer.
Die druk byvoorbeeld om aan te pas.
Die vraag hoe ver ‘n mens mag aanpas.
In hoeverre ‘n heilige lewe, dit wil sê ‘n toegewyde lewe aan die HERE, gekombineer kan word met die eise van die samelewing ...
En presies hierdie worsteling sien ons ook in Daniël se lewe, en in die van sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, alhoewel dit nie hulle regte name was nie.
Kom ons kyk wat die HERE ons leer wat dit betref met hierdie hoofstuk uit sy Woord.
Tema: Die HERE maak sy kinders sterk
Die HERE maak jou sterk om die samelewing se druk te weerstaan.
In Daniël en sy vriende se lewe sien ons hoe die HERE dit op verskillende maniere gedoen het.
In die eerste plek het Hy aan hulle Godvresende ouers gegee.
Nou ons weet nie wie Daniël se ouers was nie, dit word nie genoem nie.
Maar ons weet wel dat sy ouers vir hom ‘n naam gegee het waaruit ‘n sterk geloofsbelydenis spreek.
Want die naam Daniël beteken: God is my Regter.
‘n Naam waaruit groot respek vir God blyk.
Wat ‘n voorreg as mens ‘n naam mag hê waaruit ‘n geloofsbelydenis klink.
Vandag is daar ook baie name met ‘n duidelike boodskap.
Dink aan ‘n naam soos Christiaan, verwysende dat iemand ‘n Christen is.
Of Theo, wat beteken: aan God gewyd.
En so is daar nog baie voorbeelde.
Sommige van ons dra name van Bybelse persone, dis ook ‘n belydenis.
Uit Daniël se naam blyk dat hy gelowige ouers gehad het.
Dieselfde geld vir sy vriende.
Hulle oorspronklike name was Hananja, Misael en Asarja.
Hananja beteken: Jahweh is genadig.
Misael beteken: Wie is soos God?
En Asarja beteken: Jahweh is my Helper.
Dus al weet ons nie wie hierdie vier jongmanne se ouers was nie, feit is dat hulle Godvresend was, blykende uit die sprekende name wat hulle ontvang het.
Gemeente, alles dui daarop dat Daniël en sy vriende in ballingskap gevoer is . toe hulle nog tieners was.
Dit wil sê die eerste jare het hulle by hulle ouers opgegroei, is hulle opgevoed in die diens aan die HERE.
Met die gevolg dat, toe hulle in Babel kom en die owerste van die hofdienaars aan hulle ander name gee, hulle nie die God van hulle opvoeding vergeet het nie.
Want daardie nuwe name wat hulle gekry het, was nie onskuldige name nie.
Dit was ‘n bewuste poging om hierdie jong seuns se verlede uit te wis, om hulle te breinspoel en ‘n totaal ander rigting aan hulle lewe te gee.
Hulle moes hulle ou God, hulle ou godsdiens, vergeet.
Daniel moes nie meer so heet nie, sy nuwe naam was Beltsassar, wat beteken: Mag Bel sy lewe beskerm.
Bel was een van die gode van Babilon.
En net so het Daniël se vriende nuwe name gekry.
Asarja se nuwe naam was byvoorbeeld Abednego, wat beteken: Dienskneg van Nebo.
Nebo was ook ‘n Babiloniese afgod.
Gemeente, wat ‘n voorreg as ‘n verbondskind mag opgroei in ‘n gelowige gesin.
Dit is ‘n genademiddel wat die Here gebruik om jou sterk te maak.
Om jou toe te rus sodat jy die samelewing se druk kan weerstaan, jou te laat besef dat kompromieë met die sondige wêreld jou nie verder gaan bring nie.
Feit is dat versoekings elke gelowige se lewenspad sal kruis, een of ander tyd.
Dit gebeur meestal onverwags.
En as dit gebeur, wat ‘n voorreg is dit as jy nie onkant betrap word nie, omdat die HERE jou sterk gemaak het deur ‘n gelowige opvoeding.
Tuis het jy geleer dat Sondagsrus iets is wat buite diskussie staan.
Soos jongmense deesdae sê: Dit is ‘n no go om dit ter diskussie te stel.
Dit maak die lewe eintlik baie makliker.
Gewoon vertrouende dat wat die HERE beveel goed is, al mag dit in die hede moeilik wees.
Vervolgens, in die tweede plek was daar nog ‘n manier waardeur die HERE Daniël en sy vriende sterk gemaak het.
Dit is iets wat nie met soveel woorde in hierdie hoofstuk staan nie, maar tog kan ons dit met sekerheid uit die eerste verse aflei.
Daar vind ons naamlik ‘n datering.
Nebukadnesar het Jerusalem beleër in die derde jaar van die regering van Jojakim, koning van Juda.
Nebukadnesar het Jerusalem toe nie verwoes nie, maar wel van die tempelskatte geroof en ook, staan daar, jong seuns uit die koninklike geslag en uit die edeles saamgevat.
Daniël en sy vriende was dus uit die koninklike geslag.
Hulle het nie in ‘n plattelandse dorpie ver van Jerusalem opgegroei nie, hulle het in die hoofstad gewoon.
Hoekom vertel ek dit?
Omdat daar enkele jare voor Daniël se wegvoering, dan praat ek oor ongeveer 10 tot 20 jaar daarvoor, dus om en by toe Daniël gebore is, iets ongeloofliks in Jerusalem gebeur het.
Koning Josia, wat toe regeer het, het met ‘n groot reformasie begin (2 Kron 34).
Hy het al die afgode uit die land uitgeroei, die hoogtes, die heilige boomstamme, die gesnede en gegote beelde.
En wat hy ook gedoen het, was om die tempel van die HERE weer op te knap.
In 2 Kronieke 34 kan mens lees dat die tempel byna ‘n bouval geword het.
En daar was nie geld om herstelwerk te doen nie.
Maar onder leiding van Josia is die volk opgewek om weer van harte hulle tiendes vir die huis van die HERE te gee.
So kon die tempel weer opgeknap word deur skrynwerers, bouers en arbeiders (2 Kron 34:10-11).
En daar het nog iets wonderliks toe gebeur.
Met die opknap van die tempel vind die priester Hilkia toe die wetboek van die HERE, waar dit – glo dit of nie! – weggeraak het binne-in die tempel!
Verbaas het hy uitgeroep: “Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind!”
Ja, die wet van Moses het heeltemal in die vergetelheid en in onbruik verval.
Onthou, in daardie tyd het nie elke mens al ‘n Bybel gehad nie.
Die boekdrukkuns was nog nie daar nie.
Dit was die taak van die priesters en Leviete om die wet voor te lees en die volk te onderrig in die Woord van die HERE.
Ons lees in 2 Kronieke 34 dat nadat Hilkia dit gevind het, hy dit aan die skrywer Safan gegee het.
Die het die boek toe na die koning gebring en daaruit voorgelees.
Dit het ‘n geweldige indruk op koning Josia gemaak.
Ons lees: “En toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy kleure geskeur” (2 Kron 34:19).
Koning Josia gee toe opdrag dat die HERE se wet aan al die inwoners van Jerusalem voorgelees moes word.
En hy het die volk toe gelei om die verbond met die HERE te vernuwe.
Ook het hulle vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer die pasgafees gevier.
So het Christus sy kerk in daardie tyd weer laat opleef.
En al lyk dit soms nie so nie in daardie donker tye, tog het Hy sy kerk nie in die steek gelaat nie, maar sy kudde vergader, beskerm en onderhou.
Gemeente, hoekom vertel ek dit?
Omdat Daniël as jong seun in hierdie buitengewone omstandighede in Jerusalem opgegroei het.
Dit was die einste jare toe die reformasie gelei deur Koning Josia onder die volk sy beslag gekry het.
Wat ‘n bevoorregte tyd en omstandighede waarin Daniël mog opgroei!
Jerusalem het gebruis van die diens aan die HERE!
Nie dat alles volmaak was nie.
Reformasie is juis om in ‘n onvolmaakte tyd terug te keer.
Dis maar net ‘n begin te midde van baie dinge wat nog skeef is.
Dink aan die prediking van Jeremia, ‘n profeet wat ook in daardie tyd in Jerusalem geleef het.
Moontlik dat Daniël as jong seun nog onder sy gehoor was.
Ek kom terug by wat ek nounet genoem het.
Daar was ‘n tweede manier waardeur die HERE Daniël en sy vriende sterk gemaak het.
Naas hulle ouers het die HERE hulle ook laat opgroei by sy tempeldiens, en met die onderrig uit sy Woord.
Ons sou vandag sê: Hierdie jongmense mog opgroei in die kerk.
Ja die kerk is ook ‘n genademiddel wat Christus gebruik om ons by sy kudde, by sy diens te bewaar.
En dan nie sommer net ‘n kerk wat oppervlakkig en wêreldgelykvormig geraak het nie.
Maar ‘n bruisende kerk, wat sopas ‘n geweldige reformasie beleef het.
Met die gevolg dat toe Daniël na Babel weggevoer is, hy sy Verbondsgod geken het.
Nie net ‘n vae kennis van die naam van Israel se God en verder niks nie.
Maar Daniël en sy vriende het opgegroei in ‘n tyd toe die HERE se Woord in Jerusalem voorgelees is, en die priesters en Leviete weer daaruit onderrig gegee het, ‘n tyd waarin die feeste soos voorgeskryf in Moses se wet weer in ere herstel is, ‘n tyd toe daar weer lofliedere by die tempel geklink het.
Ons sal vandag sê, ‘n kerk wat erns gemaak het om die kenmerke van ‘n ware kerk uit te leef.
So het die HERE hulle sterk gemaak.
Toe hulle in Babel kom, en al is hulle name verander, tog het hulle nie vir die HERE vergeet nie, het hulle bly besef – soos ons later in Daniël kan lees – dat Hy en Hy alleen die ware God is, wat die hemel en die aarde geskape het.
Dink aan Daniël se belydenis in die leeukuil.
Dink aan sy vriende se belydenis voordat hulle in die vuuroond gegooi is.
Gemeente, wat ‘n voorreg as die jeug mag opgroei in ‘n bruisende gemeente.
‘n Kerk wat erns maak met die diens aan die HERE.
‘n Kerk waar hulle onderrig word in sy Woord.
Waar die Bybel nie ‘n geslote boek is nie.
‘n Kerklike gemeenskap waar daar lofliedere klink, op Sondag en deur die week.
So mag ons jeug groei en sterk raak in die diens aan die HERE.
Sodat hulle die druk uit die samelewing kan weerstaan, ‘n samelewing wat hom nie aan God of gebod steur nie.
En moenie dit onderskat nie!
Daniël en sy vriende het geweldige druk beleef om hulle denke, hulle hele wêreldbeeld te verander.
Ons lees in vers 4 dat hulle onderrig is in die skrif en die taal van die Chaldeërs.
Hierdie vertaling is eintlik te neutraal.
Hulle is nie net onderrig in hoe om Chaldees te kan skryf nie, nee hulle is onderrig in die boeke van die Chaldeërs, dis wat hier bedoel word.
In hulle boeke, dit is in hulle literatuur.
En soos dit vandag nog steeds is, uit ‘n volk se boeke, uit sy literatuur spreek ook sy wêreldbeeld.
Daniël en sy vriende se kurrikulum in Babel was om hulle te indoktrineer in die heidense wêreldbeeld, om hulle vaardig te maak in die wetenskap van toekomsvoorspelling, net soos die ander raadgewers van die koning, of soos hulle in hoofstuk 2:2 genoem word, al die geleerdes en besweerders en towenaars.
Ja dit was die doel van hulle opleiding.
Ook hulle moes geleerders, besweerders en towenaars word!
Sodat hulle die toekoms kon voorspel deur die sterre te bestudeer.
Sodat hulle die betekenis van drome kon openbaar deur na ‘n skaaplewer te kyk.
Dit klink snaaks, maar dit was ‘n baie algemene manier onder die heidense volke.
Esegiël skryf oor die koning van Babel: “hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.” (Es 21:21)
So probeer hy uitvind wat om te doen.
Nou al hierdie heidense praktyke was deel van Daniël en sy vriende se kurrikulum in Babel.
En so moet ons ook nie dit wat ons jongmense voorgesit kry onderskat nie.
Dink aan die kurrikulum van skole en universiteite.
‘n Geweldige druk word uitgeoefen om hulle te breinspoel, anders te laat dink oor die skepping, ewolusionisme in hulle koppe in te praat, om nog nie al die nuwe nonsens op die gebied van seksualiteit en geslagtelikheid te noem nie.
Gemeente, laat ons en ons jeug bly in Jesus Christus, Hy wat die ware wynstok is.
As ons naby sy Woord bly, die verkondiging van sy Woord, sal ons die sappe van die wynstok in ons lewe ontvang wat ons sterk sal maak.
Ons kom nou by die derde manier hoe die HERE Daniël en sy vriende sterk gemaak het.
En hierdie manier kan ons slegs verstaan as ons besef en erken dat die HERE die enigste ware God is, dat Hy almagtig is, dat Hy daarom alle omstandighede en alle gebeurtenisse op aarde persoonlik beheer en lei.
Ek dink dan aan wat ons in vers 9 lees:
“God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.”
Om dit eenvoudig te stel: God het in die hart van die hofdienaar gewerk, en ook in die hart van sy bediende wat die kos moes bedien.
God het hulle simpatiek gemaak teenoor Daniël en sy vriende.
Al was hulle verplig om die koning se bevele strik uit te voer, al het hulle ‘n swaar straf gevrees as hulle nie daarby sou hou nie, tog het hulle ingestem met Daniël se voorstel.
Sy eksperiment om vir tien dae lank hulle ander kos te gee.
Gemeente, dit was nie toevallig nie, dit was God wat hulle harte sag gemaak het.
Ja dieselfde gebeur vandag nog steeds, en dit talle en talle kere in elkeen van ons se lewens.
Soms lyk die diens aan die HERE baie moeilik, vra dit opofferings.
Maar hoeveel keer gebeur dit nie dat die HERE ons totaal verras met onverwagte gebeurtenisse, meevallers, dinge waaruit so duidelik blyk dat die HERE ons nooit bo ons vermoë sal beproef nie.
Nou, gemeente, hoe het hierdie situasie ontstaan?
Wel, hierdie episode met die kos word aan ons geopenbaar as die oomblik toe Daniël en sy vriende ‘n streep getrek het.
Ja, hulle is nou in Babel en sal moet aanpas, maar nie op hierdie punt nie.
Duidelik het Daniël en sy vriende die HERE se wet geken, ook wat betref die voedselwette.
En dus het hulle ‘n streep getrek.
Net om ‘n misverstand uit die weg te ruim.
Hierdie geskiedenis gaan nie daaroor dat ‘n vegetariese dieet gesonder is nie.
Daniël was nie ‘n voorloper van die hedendaagse vegetariërs of veganiste nie.
Later, uit Daniël 10:3, blyk dat Daniël ook vleis geëet en wyn gedrink het.
Waar dit hier oor gaan is, in die eerste plek, gehoorsaamheid aan die HERE se spyswette.
En tweedens, ‘n afkeer van die heidense afgodediens.
Want al daardie vleis, die kos van die koning se tafel, is in Babel eers aan die afgode voorgesit, in die afgode se tempel.
En, so het dit dan gegaan, alles wat oorgebly het, nadat die gode sogenaamd ‘geëet’ het, dit is op die koning se tafel voorgesit.
Daniël en sy vriende het geweier om vleis wat aan die afgode geoffer is, te eet.
Daar het hulle ‘n streep getrek.
Tot hiertoe en nie verder nie.
Die HERE het hulle die krag, die oortuiging gegee om dit te doen, deur die eerste twee maniere wat ek hierbo al genoem het – hulle gelowige opvoeding, en die onderrig wat hulle in Jerusalem ontvang het.
Maar derdens sien ons hoe die HERE die omstandighede direk beïnvloed het.
“Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spr 21:1).
En dit geld ook vir hulle amptenare en bediendes.
God maak Daniël en sy vriende sterk deur die hofdienaar se bediende se samewerking, en dat hierdie eksperiment van tien dae ander kos geslaag het.
En ook daarna was die HERE by hulle.
Ja God het hulle opleiding aan die hof van Babel buitengewoon geseën.
Toe hulle aan die einde daarvan voor die koning gebring is, lees ons:
“die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hananja, Misael en Asarja nie ... in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het.” (Dan 1:19-20)
Gemeente, die jare toe ek as sendeling in Soshanguve gewerk het, onthou ek dat een van die gemeentelede ‘n werk by Makro gehad het.
Sy was verplig om ook op Sondae te werk.
Toe sy dit met haar baas bespreek, het hy gesê: Daar is baie mense daarbuite wat graag jou werk soek ...
Sondag is seker een van die besigste dae vir ‘n winkel soos Makro.
As jy op Sondag daar verby ry, sal jy sien dat daar meer motorkarre staan as by enige kerk op Sondag.
Die vrou het vir my gevra wat sy moes doen.
As sendeling met ‘n vaste salaris en baie gunstiger omstandighede as sy, het ek besef dat dit vir my eintlik maklik was om te antwoord en vir haar die Bybelse norm voor te hou.
Ek het gedink aan haar gesin ...
Sy, alleenstaande moeder, ‘n paar kinders by die huis wat opgroei, wat kos nodig het, skoolgeld, medisyne, noem maar op ...
As sy haar karige inkomste sou verloor, as sy haar werk sou verloor, en dit in ‘n land waar daar soveel werkloosheid is ...
Wat sal van haar gesin word, wat sal van haar kinders word?
Ek het haar baie jammer gekry.
Sy was opreg, die 4de gebod wat sy in die kerk gehoor het, het sy goed verstaan.
Sy het self tot die besef gekom daar is ‘n konflik tussen dit en haar werk.
Sy het self besluit om na my te kom om advies te vra.
En ek het besef, my antwoord sou groot konsekwensies kon hê nie net vir haar nie, maar vir haar hele gesin ...
En ek, as sendeling, het nie vir haar ‘n alternatief gehad nie, ek het nie ‘n nuwe werk op sak gehad om haar aan te bied nie ...
Gemeente, ek het haar nie dadelik geantwoord nie, ek het gesê ek sal bietjie nadink en terugkom na haar.
En, broers en susters, uiteindelik het hierdie hoofstuk uit Daniël my daarmee gehelp.
Dit het my tot die besef gebring:
Ons beheer nie ons eie lewens nie.
Ons ken nie die toekoms nie.
Wie sê dat as ek haar jammer kry en vir haar sê, dit is dalk beter om jou werk by Makro te hou, wie sê dat sy in die toekoms wel inderdaad gelukkig gaan wees, dat alles vir haar en haar kinders voor die wind sal gaan?
Of andersom, wie sê dat as ek haar aanraai om by haar beginsels te staan en nie Sondag werk toe te gaan nie, wie sê dat dit ‘n feit is dat sy daarmee haar toekoms en die van haar kinders sal verwoes?
Wie is ek om sulke aannames te maak?
Hierdie hoofstuk uit Daniël leer ons, gemeente, om eenvoudig in die hede gehoorsaam te wees.
En om die toekoms aan die Here oor te laat.
Hy sal voorsien, op welke wyse dan ook.
Gemeente, die boodskap van hierdie hoofstuk is nie dat die HERE gehoorsaamheid altyd sal beloon met rykdom en roem nie.
Hierdie is nie ‘n voorspoedsteologie nie.
Daniël en sy vriende se lewens verder was ook dikwels nie voorspoedig nie.
Wat ons wel leer is dat die HERE sy kinders nooit in die steek sal laat nie.
Die boek Daniël leer vir ons dat God in beheer gebly het, selfs in die jare van die ballingskap.
In tye van verwarring, desillusie en vervolging.
En ons weet nog veel meer, God het sy Seun in die steek gelaat, Hy het as Middelaar vir ons sondes betaal, en ons mag verseker weet dat Hy ons daarom nooit in die steek sal laat nie.
Dit is nie net mooi woorde in die Bybel nie.
Broer, suster, as jy jou oë oopmaak, dan sal jy soveel keer sien dat dit ook in jou lewe waar is.
Kyk om jou heen, en jy sal die HERE se werk orals sien, in jou lewe, in die geskiedenis, ook in die hede.
Sy werke spreek uitbundig, nie net in die Skrif nie, maar ook in die werklikheid om ons heen.
Nie net in die kerk nie, maar selfs in die paleis van ‘n heidense koning.
Laat dit ons moed gee.
Elke keer as iemand in die kerk openbare geloofsbelydenis aflê, klink die kragtige seën uit 1 Petrus 5:10:
“mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”
Ja, die HERE sal jou sterk maak!
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Daniël 1
Teks: Daniël 1
Tema: Die HERE maak sy kinders sterk
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Noem drie maniere hoe God Daniël en sy vriende sterk gemaak het.
- Waaruit kan ons aflei dat Daniël en sy vriende Godvresende ouers gehad het?
- Wat het Koning Josia gedoen in die tyd rond Daniël se geboorte?
- Hoe het Koning Nebukadnesar probeer om Daniël en sy vriende te breinspoel?
- Watter druk uit die samelewing ervaar jy om jou beginsels aan te pas?
Votum
Seën
Ps 3:2
Wet
Ps 119:43
Gebed
Skriflesing: Daniël 1
Ps 27:6
Teks: Daniël 1
Preek
Ps 84:1,3
Gebed
Kollekte
Ps 68:9,13,16
Seën