Ons glo. Dit is ’n belydenis. Ons het reeds baie dinge saam bely soos wat ons deur hierdie belydenis werk. Dit is interessant dat elke artikel vanaf Artikel 10 met hierdie woorde begin: “Ons glo”. Het jy al ooit gewonder na wie daardie “ons” verwys? Dit is die kerk van Jesus Christus. Dit is jou broers en susters van al die eeue. Jou broers en susters oor die wêreld heen. Jou ongebore broers en susters. Saam glo ons. Ons staan verenig in die geloof. En hierdie geloof is nie net ’n idee of ’n gevoel nie; dit is gevul met inhoud. Hierdie belydenisse sit die inhoud van die geloof uiteen. Die geloof is ’n liggaam van kennis waaraan ons moet vashou.
En een van die dinge waartoe ons geroep word om aan vas te hou vandag en wat ook in ons kultuur dikwels aangeval word is die skepping van alle dinge, veral ook van die engele. Dit is ongelooflik dat hierdie dokument wat so lank terug geskryf is, tog steeds in ons era so relevant is. Dit is omdat die waarhede van God se Woord tydloos is. Satan probeer net verskillende punte van die leer aanval op verskillende tye, maar sy einddoel bly dieselfde: as hy een vangplek kry, sal die hele struktuur ineenstort. Hierdie leerstellings waardeur ons hier werk is almal onderling verbind, en is dikwels afhanklik van mekaar en bou voort op mekaar. Laat ons dus nie dink dat ons aan hierdie wêreld of aan Satan selfs ‘n klein bietjie skiet kan gee nie, want dan sal hy alles neem. Ons staan slegs op die Woord van God. Elke deeltjie daarvan. Insluitend die leer van die skepping. Want as ons ons sig hierop verloor, dan sal ons hele idee van die nuwe skepping ook verwronge word.
Die skepping van alle dinge
“Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.” Let op Wie geskep het. Die Vader deur die Woord. Nie God nie, maar ’n Vader. ’n God van verhoudings. Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Hier vind ons daardie God gedefinieer as Vader. Dit beteken dat daar vóór “in die begin” niks was nie. Daar was God. Die Nuwe Testament getuig inderdaad ook hiervan in Johannes 17:24 waar Jesus sê: “omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” Of in Johannes 17:5 waar Jesus die Vader vra om Hom te verheerlik “met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” Dus, voor “in die begin” het Christus bestaan en het Hy heerlikheid gehad saam met die Vader, en die Vader het Hom liefgehad. Ook is Hy ’n persoonlike God van denke en wil. Soos ons in Efesiërs lees: “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld”. Dieselfde word gesê van Christus se dood in 1 petrus 1:20: “wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld”.
Dit is ontsettend belangrik om te glo dat God nie net geskep het nie, maar dat ’n persoonlike God wat Vader is alle dinge deur die Seun in die krag van die Heilige Gees geskep het. Dus, wanneer ons lees: “In die begin...” sê ons dat iets voor daardie begin bestaan het, en dat daardie iets persoonlik was en nie staties nie, die Vader het die Seun liefgehad, hulle het mekaar verheerlik, daar was ’n plan, daar was kommunikasie. Daar is beloftes gemaak voor die skepping van die hemele en die aarde. En dit is hierdie God wat die heelal tot stand gebring het. Sonder dat die Drie-eenheid skep, sou die Christendom nie die antwoorde hê wat die moderne mens nodig het nie. Ons kan nie so besig wees om die leer van die skepping teen evolusie te verdedig dat ons vergeet om die leer van die God wat dit geskep het, te verdedig nie. Dit is Hy wat die verskil maak. Liefde, denke en kommunikasie - persoonlikheid was daar voor die skepping van die heelal.
Dit is ook wat ons belydenis beklemtoon wanneer dit sê dat alles dinge deur die Vader deur sy Seun geskep is. Die Vader het deur sy Seun alles uit niks geskep.
Uit niks. Dit is wat ons oor die skepping glo. Ex nihilo beteken dat daar niks was nie behalwe God. Natuurlik kan ons ons dit nie voorstel nie. Want ons is gebonde aan tyd en ruimte. ONS kan onsself nie voorstel hoe lewe sonder tyd en ruimte bestaan nie. Want dit is ’n lewe wat slegs aan God behoort. En aan God alleen. Hy staan bo tyd en ruimte.
In die boek van Romeine praat Paulus oor die uniekheid van God, wat op sy eie iets uit niks kan voortbring en die dode lewend kan maak (Rom. 4:17). Paulus vertel vir ons dat dit die opwekkende krag van God se Woord is wat ons uit die geestelike dood laat opstaan en ons van die koninkryk van duisternis in die koninkryk van lig laat oorgaan. God kan sy kerk verseker dat sy Woord nie leeg na Hom sal terugkeer nie, want dit dra sy krag (Jes. 55:11). Ons staan in verwondering dat ons Skepper die ganse heelal uit niks geskep het deur die blote opdrag van sy stem.
Ons leer uit die Skrif om nooit enige gedeelte van God se skepping met Homself te identifiseer nie. Om die Skepper en die skepsel te verwar is om in panteïsme te val, wat die duidelike onderskeid tussen die skepsel en die Skepper verberg. Tot voor die Verligting was die mees gevestigde artikel van die Christelike geloof in die sekulêre wêreld dié van die skepping. Dit is gevestig nie net deur openbaring nie, maar ook deur rede, nie net deur geloof nie, maar ook deur wetenskap. Vir Middeleeuse filosowe was die idee van iets wat uit niks voortgebring word absurd, onwetenskaplik en onlogies. As iets bestaan, moet dit òf die krag hê om op sigself te bestaan òf dit moet afkomstig wees van iets wat die krag het om op sigself te bestaan. Andersins sou niks kon bestaan nie. Hierdie punt is belangrik, want ateïste en sekulariste het die afgelope eeue hul aandag op die skepping gefokus. As hulle ons sekerheid dat ons in ’n geskape heelal lewe, kan ondermyn, dan kan hulle enige argument vir die bestaan van God ook ondermyn. As jy die skepping wegneem, neem jy ook die Skepper weg.
Tog bely ons saam met die apostel Paulus, wat Griekse digters aanhaal, dat “in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand. 17:28). God staan hierbuite, maar onderhou steeds alles. Ons bestaan is volkome afhanklik van die volhoubare krag van God. Dit wat Hy skep, hou God in stand. Ons is afhanklik van Hom, nie net vir die oorspronklike daad van die skepping nie, maar ook vir ons bestaan van die een oomblik tot die volgende. Daar is geen lewe buiten Hom nie.
In feite het Hy nie net lewe geskep nie, maar ons glo dat daar ’n rede is vir alle dinge. Soos ons gelees het: “Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien.” Dit is pragtig. Hy het die wêreld geskep sowel as elke skepsel met sy eie taak. Dit is geen wonder dat ekosisteme so interafhanklik is nie. Elke dier, elke insek, elke plant doen sy taak soos dit deur God ingestel is en vervul daardeur sy doel soos God dit ingestel het. Daar is geen lewe buiten Hom nie. Daar is net dood, agteruitgang en verderf. Ons sien dit selfs as ’n gevolg van ons sonde. En tog, ten spyte van ons sonde, onderhou en regeer God genadiglik steeds alle lewe volgens sy voorsienigheid en deur sy oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens ook sy God mag dien.
Dit is baie belangrik. Om die mens te dien sodat die mens God mag dien. As baie mense nie vir God dien nie, dan mag die skepping dalk wel sy doel dien, maar dit sal uitloop op ’n bose einde en tot vernietiging van sowel mens as skepping. Maar as die mens God dien, dan is hy ook ’n goeie rentmeester van die skepping. En so, onder sy sorg, floreer die mens en die skepping op die manier waarop God dit bedoel het.
Die skepping van die Engele
Alle dinge beteken alle dinge. Voor die skepping van die wêreld was daar eenvoudig niemand nie behalwe God. Dit beteken dat die totale geestelike wêreld ook ’n skepping van God was. Engele is skepsels net soos wat ons skepsels is. Hulle is egter net geestelik, terwyl ons liggaamlik en geestelik is. En dit was hierdie hemelse dimensie van wesens wat eerste veroordeel is. Dit staan in noue verbintenis met die leer van die skepping. Want in beide gevalle kom jy voor twee uiterstes te staan. By materialisme en naturalisme is daar ’n totale verwerping van alle geestelike dinge, insluitend God; en ons as Westerse mense kan op hierdie manier begin dink en leef in 'n soort gevaarlike onkunde oor die kosmiese stryd wat woed en steeds woed.
Aan die ander kant is daar ook die geneigdheid in sommige Christelike kringe om ’n bose gees agter elke sonde raak te sien en hulle skryf 'n soort alwetendheid aan Satan toe. Dat hy tegelyk orals kan wees. Satan is ’n skepsel. Hy ken nie die gedagtes en bedoelings van die hart nie, en hy kan ook nie tegelyk orals wees nie. Slegs God kan dit doen en so wees. Dit beteken nie dat hy 'n kragtige teenstander is wat duisende jare se ondervinding het nie; hy het 'n goeie idee van wat die menslike hart dink. Dit was hy wat die skepping van God die woestyn van die dood ingelei het, weg van die tuin van die lewe. Dit was hy wat Adam en Eva verlei het om saam met hom in rebellie op te staan en die mag van God te gebruik. Dit is hy wat nog duisende kinders vir homself bymekaarmaak. Jesus self identifiseer sommige van daardie kinders in die fariseërs. Hy noem hulle kinders van hul vader die duiwel, of addergeslag.
Daarom moet ons versigtig wees om nie ons kop in die sand te steek nie, maar ook nie die duiwel oorskat en dink dat alle skuld by die duiwel lê wanneer ons sondig nie. Miskien is dit net ons skuld.
Dus, wie is hierdie engele en wat doen hulle? Om die antwoorde te vind moet ons na die Bybel gaan. Hulle veg, hulle dien, hulle beskerm en hulle aanbid. In die Skrif vind ons wat boodskappers van God is, soos die engel Gabriël. Ons sien hulle beskerm, soos die keer toe Elisa vir sy dienaar bid toe sy dienaar bang is dat die vyand die stad waarin hulle is, gaan verower. Ons lees dat Elisa bid: “HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.” (2 Kon.6:17) ’n Groot leër van engele beskerm in hierdie geval selfs net een van God se dienaars. En ons sien hulle dien. Ons lees in Hebreërs: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Hebr. 1:14) Let op: ... vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe. Dit is ek en jy van wie hy hier praat.
Gestuur om jou en my te dien. Ons dien nie die engele nie; die engele dien die beelddraers van God wat tot die beeld van Jesus Christus hervorm is. Dit beteken nie dat die engele minder magtig is nie. Ons het altyd hierdie wêreldse idee dat die minder magtige die magtiger een dien. Maar in die koninkryk van God dien almal mekaar. Dit beteken dat selfs die magtigste engele soos Migael of Gabriël gereed staan om die swakste en broosste kinders van God te bewaar en beskerm. En ons het hierdie konstante beskerming nodig, want ons is in die middel van ’n kosmiese oorlog.
Soos ons in ons belydenis bely: “Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes.” Hulle vernietig en oortree, is gevul met kwaadwilligheid en haat. En al hul krag is gefokus op die volk van God.
Ons het ‘n werklike lewendige teenstander wat rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Petr. 5:8). Soos die apostel Paulus verduidelik: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes. 6:12). Die duiwel is daarop uit om Christene en hulle getuienis te vernietig en om die uitbreiding van die evangelie te keer. Dit is nie die wêreld waaroor hulle bekommerd is nie, dit is ons – die kerk van Jesus Christus – die Pilaar van waarheid, wat hy met sy leuens wil vernietig.
Daarom is dit belangrik dat ons nie met ons eie krag probeer veg nie – want ons sal onmiddellik val. Daar word vir ons gesê dat selfs die magtigste een van God se engele, die aartsengel Migael, nie met sy eie krag geveg het toe hy teen die duiwel geveg het nie, maar hy het God se naam aangeroep (Judas).
Mag ons hierdie geestelike oorlog volkome voorbereid betree, geklee met die wapenrusting wat die Here ons gegee het, en sterk staan wanneer ons die vyand in die gesig staar met die gordel van die waarheid, die borswapen van die geregtigheid, die skoene van die bereidheid vir die vrede van die evangelie, die skild van die geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees wat die Woord van God is. En mag ons in die Gees bid by verskillende geleenthede, met verskillende gebede en smeking. Want dit is slegs in die Here en sy magtige krag dat ons staande sal bly.
Want Hy is immers die Skepper – ook van die geestelike wêreld. Daar is geen krag waaroor Hy nie volkome beheer het nie. Die magte van die duisternis kan die heiliges van God nie aanraak nie. Dit is die groot punt in hierdie artikel. Daar is nie twee opponerende magte soos die yin en die yang in die Konfusianisme nie. Dit is nie asof God en die duiwel sedert die begin in ’n stryd betrokke is en dit onseker is wie die stryd sal wen nie. Hulle was in ’n oorlog, maar die oorwinning was altyd volkome gewaarborg. En dit wys net hoe blind die sonde en die bose werklik is. Hoe dwaas dat dit steeds baklei, selfs al weet dit dat dit geen kans staan om te wen nie. En Sy oorwinning is seker, geliefdes! Maar dit beteken nog nie dat ons al van ons oorlogvoering kan rus nie! Nee, hy brul steeds soos ’n honger leeu en soek wie hy kan verslind.
Geliefde broers en susters, laat ons bid vir die dag van sy wederkoms wanneer Hy hierdie bose en verdorwe wesens, wat so baie van ons geslag na die ewige dood gelei het, met hulle eie oordeel sal veroordeel – ewige verdoemenis en aaklige pyniging.
Tot daardie dag toe is ons elke dag van ons lewe in ’n stryd. ’n Stryd vir ons lewe. Engele bestaan. Demone bestaan. Bose geeste bestaan. Die oorlogvoering in ons harte, in die kerk en in die kultuur is teen die bose geeste van hierdie huidige bose era. En ons sal verloor as ons nie in God se krag stry nie, dus laat ons bid. Mag dit ’n jaar van standvastigheid wees. Van konstante gebed. Van oorwinning. Mag dit 'n jaar wees waarin jy voel dat jou Skepper-Vader jou in alle dinge onderhou, en mag jy veilig wees in sy mag en krag oor die hele skepping – selfs die bose engele.
1. 'n Vaste burg is onse God,
Ons skuil in Hom, die Sterke.
Hy is ‘n vesting in die nood –
Vir ewig staan sy werke.
Al kom die bose aan
In sy oorwinnaarswaan,
Ons weet by al sy lis,
Sy lot is reeds beslis –
God self stel aan hom perke.
2. Gord ons met eie krag ons aan
Dan is die stryd verlore;
Net Een kan Satansmag weerstaan,
Deur God daartoe verkore.
Vra u sy Naam, so weet
Dat Hy die Christus heet;
Gaan Hy voor in gevaar,
Heer van sy eng’leskaar,
Nooit is die stryd verlore!
3. Al storm hul ook van elke kant,
Die hel se leërmagte,
Die Een wat sterker is, hou stand,
Hy sterk ons swakke kragte.
Veg met geweld en lis
Die vors van duisternis –
Ons vrees geen dood of hel;
Sy vonnis is gevel,
Ons is sy val te wagte.
4. Gods Woord hou stand in ewigheid,
Geen mag kan dit laat wyk nie!
Beef, Satan, God voer hier ons stryd;
Sy trou sal nooit beswyk nie!
Al eis jy dan ons goed,
Ons dierbares, ons bloed:
Dit bring jou geen gewin –
Ons gaan die hemel in,
Jy roof ons nooit Gods Ryk nie.
Amen.