Hoe dink ons oor hierdie boek - die Bybel? Is dit vir ons ‘n boek vol reëls? Is dit ‘n wonderlike boek vol geskiedenisfeite? Is dit ‘n geestelike boeke wat jou help met jou geestelike lewe? Of miskien ‘n baie praktiese boeke vol met nuttige voorstelle om die wêreld te verander, of die lewe beter te maak. Of ‘n gids op die pad na die ewigheid. Waar kom die Bybel vandaan? Het dit sommer net uit die lug geval eendag? Hierdie is alles vrae waarmee ons besig gaan wees in die volgende paar preke oor die NGB.
Wat is dit? Dis nie een van hierdie dinge nie. Uiteindelik is die Bybel heel eenvoudig die Woord van God. Die Skrif is God se stem. Dit is alles wat God sê, in mensetaal. Die Woord is geweldig kragtig - dit kan doen wat dit belowe, en kan alles waar maak wat daar in staan. Die Woord is kragtig genoeg om die kerk te vergader.
As jy besig is met die Bybel, en jy ontdek iets nuuts - dis nie dieselfde as wat jy Google gebruik om uit te vind hoe iets werk nie, of vir ‘n skool projek. Nee, die Bybel is die Woord van God en daarom is dit anders as enige ander bron wat jy gaan raadpleeg: want dis nie net jy wat die Bybel bestudeer nie, die Bybel “bestudeer” vir jou!
Bybelstudie is so belangrik want dis uiteindelik tyd wat jy met God self spandeer. God praat met sy kinders, sy kinders wat, met die hulp van sy Gees, met geloofs-ore luister na sy stem. Ons moet altyd weer dit besef: hoe dringend en hoe naby God se stem in ons midde is. Dit is wat gebeur wanneer ek preek uit die Bybel elke Sondag. En, terwyl God dan praat, dan is dit sekerlik op daardie oomblik nie nodig om gou te Whatsapp nie. Sekerlik kan jy dan jou foon afsit of net gebruik om sy Woord te lees. Terwyl God met jou praat, verseker is ons heeltemal in vervoering en wil ons niks anders as om dit te hoor nie.
Maar, ag, ek ken my eie sondige hart. Ek weet hoe maklik my aandag dwaal. Terwyl die dominee lees: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het…”, dan is my gedagtes al klaar by die werk of hoe dit met hierdie of daardie persoon gaan. Tot ek weer wakker skrik van die psalmboekies wat oopgemaak word, en ek soek gou die psalm op, en ek sing saam maar my gedagtes is weer ver weg.
Geliefde gemeente, God se Woord bring nie net iets nie, dit werk nie net die geloof in ons nie, maar op ‘n heel besondere manier werk dit nie net die geloof nie, dit is ook die geloof. Dit is God se asem. God blaas elke week sy asem in hierdie gebou in. Die asem van ons Skepper God, wat dinge wat nie bestaan sommer net so in die lewe roep. So ek wil julle aanmoedig om hierdie geleentheid aan te gryp elke Sondag. Koester dit, bewaar dit, bewaar jou gedagtes. Want hier is ons nou, God blaas sy asem oor ons, vervul met sy Woord, sy Woord wat sy asem is, sy Gees wat sy asem is.
Die Woord van God is God se Woord:
- Nie die mens se woord nie, maar
- God se Woord
1. Nie die mens se woord nie
Adam en Eva se versoeking was: “Het God rerig gesê?” Was dit rerig God se stem? Is julle seker julle het reg gehoor? Het God rerig gesê? Dot was die vraag toe. Dit is vandag nog die vraag. En dit is presies hoekom die geloofsbelydenis hier begin. As jy aan hierdie basiese teologiese veronderstelling twyfel, wel, dan kan jy dit net so wel los en nou ophou lees, want dan sal jy niks glo wat jy hierna lees nie. Die vraag vandag is: “Het God rerig gesê?” Is die Bybel rêrig die Woord van God - ‘n boek heeltemal bonatuurlik; of is dit die woorde van mense, ‘n klomp skrywers of duisende jare?
In artikel 3 bely ons (en dis alle gelowiges) “... dat die Woord van God nie deur die wil van ‘n mens voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die Heilige Petrus sê (1 Pet 1:21)”.
Ons het nie met hierdie boek vorendag gekom nie. Net so min die mense wat dit gehoor of geskryf het. Het dit jou ook opgeval: dit was nie net wat hulle geskrywe het nie, maar ook wat hulle gesê het wat geïnspireer was. Hierdie mense is gedra deur die Heilige Gees. Iemand het nie op ‘n goeie gaan sit en vir homself gesê: “Hey, wat van ek skryf ‘n Bybel”. Nee, God het deur hierdie mense gepraat. As hulle gepraat het, was dit eintlik God wat gepraat het.
En dan “Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe”.
Wow, dis nogal ‘n stelling daardie. Hierdie is God se eie woorde. Ek dink nie ons besef genoeg hoe “buitensporig” hierdie stelling is nie. Hoe kan ons so iets sê: dat dit nie mense woorde is nie maar God se woorde.
Daar is ‘n paar praktiese oorwegings wat ons kan help besef dat hierdie nie mense woorde is nie. Ek noem ‘n paar,
Eerstes, die mense wat die Bybel geskryf het was heeltemal te eerlik oor hulle eie sondes en gebreke. Dink vir jouself, as jy ‘n boek skryf wat opmaak, sou jy jou eie sondes en gebreke daar in skryf? Of sou jy jouself bietjie beter laat lyk? Wees gou realisties, hoekom sou Moses sy eie sondes noem? Hoekom sou Moses die geskiedenis van die volk Israel so droewig en vol skandale maak as hy dit alles uit sy duim gesuig het? Meeste geestelike boeke is so geskryf dat die foute van die hoofkarakters mooi weggesteek is. Nie in die Bybel nie. In die Bybel vind jy karakters met groot gebreke.
Tweedens, kyk bietjie waaroor gaan die Bybel. Die Bybel is nie ‘n boek oor mense nie, dit gaan oor hoe wonderlik die mens is nie, of wat die mens moet doen om gered te word nie. Bykans alle religieuse boeke gaan daaroor: wat is dit wat jy moet doen om gered te word. Wat presies is die stappe wat jy moet neem om Nirvana te bereik, of stilte en vrede, of die Moslem hemel, of net om gelukkige lewe op aarde te kan lei. Nie die Bybel nie. In die Bybel lees jy hoe God die mens red, God doen alles en die mens niks.
Die Bybel gooi die wêreldse beginsel op hulle kop. Dit probeer nie die invloedryke te beïnvloed nie, dit probeer nie die rykes en magtiges te bereik nie. Nee, dis ‘n boek vir die gebrokene, die moeë, die arme, die weduwee en die wees. Dit vertel van ‘n gekruisigde krimineel wat aan die kruis gesterf het vir hulle sondes. Dis dwaas! Dis dom, uit ‘n menslike oogpunt. Die Bybel se boodskap is heeltemal omgekeerd soos wat die mens normaalweg doen en dink. Ons dink in terme van mag, invloed, rykdom, prestige. Maar die Bybel dink niks van al hierdie dinge nie. Ons glo in iemand wat gesterf het sonder mag, sonder invloed, sonder rykdom, sonder prestige. Maar wat alle mag, rykdom en aansien gekry het. Ons glo in die weg van die kruis. Dis nie hoe mense dink nie, dis pure dwaasheid.
As dis nie so dat dit agteraf blyk dat hierdie nie mensewoorde is nie. Die skrywers van die Bybel maak dit deurgaans baie duidelik dat hierdie God se woorde is, nie hulle woorde nie. Paulus bedoel presies dit as hy in Gal 1:11 sê: “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.” Veel duideliker kan mens dit nie stel nie. Hy het dit nie self opgemaak nie, hy het dit nie van ‘n ander nie, niemand het hom dit alles geleer nie. Nee, dit is aan hom geopenbaar deur Jesus Christus. En dit bring ons by ons tweede punt.
2. Dit is God se Woord
Ons glo dat die hele Skrif die geïnspireerde woord van God is. Daarmee bedoel ons nie inspirerend soos Shakespeare of ‘n boek van Wilbur Smith nie. As dit so was, dan sou die Bergrede baie gewig gedra het en die nege hoofstukke geslagsregisters aan die begin van 1 Kronieke minder. Maar ons bely dat beide dieselfde gesag dra. Om geïnspireerd te wees beteken om iets in te asem. Miskien is dit nie die beste definisie nie, want dit was nie so dat die wwrde almal al daar as en God het op hulle geblaas nie. Dis meer soos: die woorde self is die asem van God. 2 Tim 3:16: “Die hele Skrif is deur God ingegee ” (in Engelse vertalings: “All scripture is God-breathed”). Het jy al ooit daaroor nagedink wat dit beteken? God het nie die woorde wat reeds daar was geïnspireer nie, Hy het daardie woorde gesê, Hy het dit gespreek. Dit beteken die woorde dra God se karakter. God en sy Woorde hoort bymekaar.
Nou sal daar sekerlik mense wees wat sê hoe weet ons dit is God se woord. Die eerste antwoord moet wees: omdat die Woord dit so sê. Die volgende vraag is dan dadelik: goed, hoe weet ek dat dit wat God se Woord sê waar is? My antwoord is dan: want dis die Woord van God.
Sommige van julle sal miskien dink dis ‘n bewys wat homself bewys, of ‘n argument wat na hom self verwys. En ja, dit is. Maar dis belangrik dat dit so is. Kom ek verduidelik. Veronderstel daar staan nêrens (of baie min) in die Bybel dat dit die Woord van God is nie. Dan, as ons sou sê dit is die Woord van God, dan kan mense daar is geen bewys nie. As die Bybel dit self nie sê nie, waar kom ons daaraan om te sê dit is. En as dit miskien net hier en daar sou staan, dan sou ons kan sê net bietjies hier en daar is die Woord van God. Maar, en dis nou rerig indrukwekkend, meer as dertig verskillende skrywers van meer as 60 verskillende boeke, sê almal dieselfde ding: hierdie woorde is geïnspireer, die profete glo dit wat hulle sê is God se woorde. As die Bybel dan self so sê, wel, dan glo ons dit.
Net so indrukwekkend is dat Jesus geglo het die Woord is geïnspireer, en dan kom daarby dat Hy goed besef het wat dit beteken. In Joh 10:35 haal Jesus Ps 82:6 aan as Hy sê: “Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit hulle gode noem tot wie die woord van God gekom het”. Hoor julle dit: “tot wie die woord van God gekom het”. Jesus het verstaan en geweet hierdie psalm is nie die woorde van ‘n mens nie, al is dit geskrywe deur ‘n mens, maar die woorde van God. En dan voeg hy heel kort daar by: “En die Skrif nie gebreek kan word nie”. Dis omdat dit die Woord van God is - dit kan nie gebreek word nie, want dis God self wat daar by staan.
Beteken dit dan nou dat daardie mense soos robots was wat maar net die woorde geskryf het wat hulle gehoor het? Soos ‘n vertaler, of ‘n soort masjien wat eenvoudig alles uittik wat die skrywer insit? En as hulle dan nie robots was nie, is die alternatief dan dat die Bybel wel deur mense geskryf is en nie deur God nie? Nee, inteendeel! Want God is die God van die geskiedenis.
Ons glo tog dat God alles volgens sy wil laat gebeur. Hy doen soos Hy goeddink, en niemand kan Hom keer nie. So is byvoorbeeld Moses gebore op ‘n spesifieke datum, is hy in die rietmandjie in die rivier gesit, is hy gevind deur die Farao se dogter, het hy die beste Egiptiese opvoeding ontvang, is hy die woestyn in gestuur om daar geduld te leer, en is hy so presies, in detail, voorberei deur ‘n sameloop van sy omstandighede, sy karakter, sy herkoms, alles het so saamgewerk dat Moses se karakter, sy manier van praat presies was soos God dit nodig gehad het om sy Woord te spreek. Een skrywer stel dit so: “Tussen Moses en God was daar ‘n band, ‘n enkele doel, ‘n samewerking, so dat die woorde wat Moses geskryf het beide God se eie woorde was en Moses s’n terselftertyd. Daar is ‘n eenheid tussen Moses en God”
Dis hoekom ons ook so ‘n unieke styl sien by elke Bybelskrywer. God gee nie net die woorde nie, Hy gee ook die persoon agter die woorde. Op so ‘n manier is die woorde en die persoon een, en tog, op ’n heel besondere manier is daar die selfde boodskap by elke ander skrywer, op elke tyd en elke plek.
Dit onderstreep maar net weereens dat dit God se Woord is. By God is daar geen teenstrydigheid, ooit. Net so met sy Woord. Geen ander boek is so “konsistent”, 66 boeke, 30 skrywers, duisende jare, een boodskap. Uiteindelik een boek, deur God self geskryf. Dis onvoorstelbaar, met byna geen teenstrydighede nie.
Die Bybel bevat dus geen teenstrydigheid, dis een boodskap, en dit is ‘n getuienis vir die waarheid daarvan. Maar dis nie al nie. Die geskiedenis getuig saam. In die laaste eeu is daar al so veel keer bewys dat die geskiedkundige feite klop. Meer en meer argeologiese bewyse staaf dit wat die Bybel sê. Daar kan nog baie hier oor gesê word maar kom ons lees dit vir ‘n ander keer.
Maar, al hierdie getuienis en bewyse help niks, as die Heilige Gees self nie in ons getuig dat die Bybel die Woord van God is nie. Sonder die Gees sal ons nooit die Bybel as Gods Woord aanvaar nie. Maak nie saak hoe baie bewyse daar is nie. Ons sien maar net weer en weer hoe kragtig God se Woord in ons lewens werk, en nie net by onsself nie maar by ander ook. Die waarheid van die Woord kan jy duidelik sien in mense se lewens wat verander, die sondigste sondaars word die heiligste heilige. Net God kan dit doen.
Voorwaar, God se woorde verander ons op ‘n fundamentele manier, dit maak gemeenskap met God moontlik. Christene ervaar die geestelik krag van die Bybel daarin dat die “Woord van God” nie maar net woorde is nie, nee. Jesus Christus is die Woord, die ewige Logos (die woord), die Woord wat vlees geword het vir ons redding.
En as dit dan die goddelike Woord van God is, dan het dit ook groot effek. Glo dit maar. Tydens die reformasie het hulle dit goed verstaan. Ek hou so van wat Luther ‘n keer gesê het: “Ek het <goeie werke ter betaling van sonde> en alle pape (kru vir Rooms Katolieke) weerstaan, maar nooit met geweld. Ek het eenvoudig net God se Woord geleer, gepreek, geskryf, anders as dit het ek niks gedoen nie. Terwyl ek geslaap het en gekuier het met my vriende (Wittenberg bier gedrink het my vriende Phillip en Amsdorf), het die Woord die Rooms kerk teengewerk en soveel skade aangedoen as wat geen prins of keiser ooit kon regkry nie. Ek het niks gedoen nie, die Woord self het alles gedoen”.
Die Woord het alles gedoen, want de Woord is die Woord van God, en die Woord van God is Jesus. In die Woord het ons die Woord wat vlees geword het, en dit is daardie Woord wat joune word (wat na jou toekom) wanneer die Woord verkondig word.
‘n Laaste paar gedagtes
Die vroeë kerk, en ook die kerk tydens die reformasie, het op ‘n gereelde basis uit die Bybel gelees tydens die eredienste. Die tradisie was so dat iemand ‘n hoofstuk uit die Bybel sou lees, dit nou bo en behalwe die teks gedeelte waaruit gepreek is. Hulle sou, byvoorbeeld, een hoofstuk uit die Nuwe Testament lees in die oggend en twee hoofstukke uit die Ou Testament in die aand. Op daardie sou die gemeente mettertyd saam die hele Bybel deurlees.
Tweedens, en ek haal hier ‘n teoloog aan: “‘n Geïnspireerde teks het as doelwit geïnspireerde mense. As ons biddend na God se doel vir ons lewens soek in die Skrif, dan sal ons beide God en onsself leer ken… Die regte plek vir die Bybel is nie in die akademie nie maar in die kerk.” M.a.w die Bybel is nie in die eerste plek vir teoloë en predikante en ouderlinge nie. Die Bybel is vir jou. Vir jou, jongmens. Vir jou, skolier, student. Vir jou by die werk, by die skool, by die huis. Hierdie Woord is joune om te lees. Dit is God se Woord vir alle tye, gegee op hulle tyd vir sy kinders. So kom vandag en die ewigheid bymekaar. Dus, lees dit, bestudeer dit. Sal dit altyd maklik wees? Nee. Mense van vroeër het dit wel vergelyk met grawe op soek na rykdom, of te myn vir kosbaarhede. Beide neem tyd en moeite.
Maar dit neem ook geloof en gebed. Die Fariseërs het die Bybel goed geken, maar tegelykertyd eintlik glad nie geken nie. In Joh 5 lees ons: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie. … Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig — Moses op wie julle gehoop het”. M.a.w hulle het nie eens Moses verstaan nie, die een op wie hulle al hulle hoop gevestig het. Hulle het getrou die Skrifte bestudeer, maar nie ‘n idee gehad waarvoor hulle eintlik gesoek het. Dit is iets wat hulle ‘n geestelike vlak moes soek. Daarom, bid voor lees, dat jy dit wat jy lees reg mag verstaan. En soek veral na Jesus.
Laaste gedagte: Jesus self sê: die Skrifte spreek van My. Bybellees is nie maar iets wat jy uit gewoonte elke oggend moet doen nie. 1 - opgestaan, 2 - gestort, 3 - Ontbyt geëet, 4 - Bybel gelees, ensovoorts. As mens alles op so ‘n manier doen sal jy mos niks rerig waardeer vir wat dit is nie, asof die lewe maar net ‘n kontrole lysie met ‘n regmerk by elke blokkie is. En ek bedoel dit nie as ‘n grap nie, die rerig so. Jy kan vir maande lank Bybellees en Christus nie een ‘n bietjie beter leer ken nie as jy net uit pure plig Bybellees elke dag. Hierdie boek gaan uiteindelik oor Jesus. Al die stukkies van die legkaart val in plek om ‘n pragtige skildery van Jesus Christus te maak.
Gaan soek Hom dan. Soek Hom in gebed, soek Hom op elke bladsy van hierdie boek, hierdie boek wat God se asem is.
Vat jou tyd, laat dit by jou insink, memoriseer dit, dink daaroor na.
Amen