Jesus sê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! ... En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo...” (Joh. 7:37, 39).
Soveel van die Psalms eggo ook hierdie diep begeerte. “Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!” (Psalm 42:2). Of Psalm 36:8: “... U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge” (Psalm 36:9). Hierdie vloeiende strome en hierdie water is niks minder nie as die lewe van God in Christus, aan ons gegee deur die Heilige Gees wat ons nuwe lewe gee.
O, om met die Gees vervul te word! “dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon...” (Ef. 3:16-17a). Of: “... sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Ef. 3:19). Om 'n Christus- gelykvormig, Gees-vervulde, God-verheerlikende lewe te hê. Die Heilige Gees van God gee 'n mens nuwe lewe – en daardie nuwe lewe is die lewe van die opgestane Christus. Beweeg in Hom, lewe in Hom. Dit is die lewe wat Paulus vanaf hoofstuk 4:1 beskryf, na een van die wonderlikste gebede in die Skrif.
Vandag vier ons die uitstorting van die Heilige Gees, en daardie Gees is die Een wat ons toelaat om God te smaak en te sien. Dit is deur die Gees dat ons hierdie oggend om die tafel vergader. Dit is Hy wat oortuig, wat bekering bring en ons was. Dit is Hy wat ons bemoedig, vertroos en opbou. Dit is Hy wat ons die volheid van vreugde en vrede gee, en die groei in geloofshoop en liefde wat ons so graag wil hê!
En uiteindelik lei die Geesvervulde lewe tot 'n lewe van aanbidding. 'n Lewe van lofprysing. En aangesien ons na die Psalms kyk by die nagmaal-dienste en vandag Pinkster vier, het ek gedink dit sal goed wees om na die Geesvervulde lewe van aanbidding te kyk deur die lens van Efesiërs 5:18-19.
Eerstens wat dit beteken om met die Gees vervul te wees, en tweedens hoe dit lei tot sang.
Eerstens sê Paulus in vers 18: “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” In plaas daarvan om beheer te word deur alkohol wat ons sintuie verdof – wat ons, soos een teoloog gesê het, onbeweeglike vrate in 'n aaklige moeras maak – moet ons vervul word met die Gees wat ons sintuie ophelder en ons stimuleer om 'n heilige en godvrugtige lewe in Christus te lei.
Wat is jou beherende agens in die lewe? Hierdie wêreld of die Gees? Jou inhibisies, en doen wat jy wil, of God en sy koninkryk? Jou luste, of God se wil? Die lewe wat die Gees gee is 'n nuwe lewe! So nuut is dit soos om wedergebore te word. ‘n Nuwe begin. ‘n Nuwe lewe. Hierdie keer nie om te sterf nie, maar om vir ewig te lewe.
'n Lewe gevul met drinkery en losbandigheid is 'n lewe gevul met afval, gekenmerk deur 'n gebrek aan selfbeheersing, duisternis en verdorwenheid - 'n lewe wat jou moeg en uitgebrand sal laat.
Die Heilige Gees doen die teenoorgestelde.
Hierdie gedagte van vervul word is een van vol wees of deurweek in die Gees. Dit is 'n produktiewe lewe, 'n lewe van vreugde en bevrediging, 'n lewe van energie en krag. Die Heilige Gees put nie uit nie, maar Hy bemagtig. Die energie wat deur die mens geproduseer word, raak droog, mense is uitgeput, maar nie dié van die Heilige Gees nie. Soos Jesaja sê: “maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Word vervul met die Gees. Dit is 'n opdrag. Hoe? Ons doen dit deur die middele te gebruik wat God vir ons gegee het, deur die Woord, sakramente en gebed. Maar om hierdie dinge te doen is nie soos 'n magiese toormiddel wat die Gees dwing om ons te vul nie. Nee, want hierdie werkwoord is 'n passiewe werkwoord – wat beteken dat dit iets is wat God moet doen – om ons met sy Gees te vul.
Verder is die woord in die teenwoordige tyd, wat beteken dat dit iets is wat aan die gang is. Dit is nie 'n vir-eens-en-vir-altyd-ding nie! Dit is iets waarna ons altyd moet soek.
Elke dag. Elke week. Elke jaar.
O, mag die Gees van Christus ons vervul! Nie net 'n bietjie nie, maar dat Hy die liefde van God in ons sal uitstort, ons in die evangelie sal deurweek, ons sal verlewendig. Daagliks. Nie net op Sondag nie, maar ook op Maandag, dat ons ons werk as gemeenskap met God sou ervaar.
Die Heilige Gees is 'n werklik aktiewe, persoonlike wese en Hy stimuleer elke vermoë van ons, van die verstand tot die hart tot die wil, sodat ons heel skeppings word, herskep na die beeld van God. Die Heilige Gees maak nie morele mense nie, Hy maak nuwe mense, en hierdie mense is nie net goed nie, hulle is vol vreugde.
Die Geesvervulde lewe word 'n melodie tot lof en eer van God. Die hele lewe is aanbidding. Maar hierdie aanbidding word veral in sang gesien. Wat ons vandag het, is woorde en dade van begeerte, uitbundigheid, vreugde. Woorde wat lei tot sang. Dit verbind die verstand met die hart.
En tensy jy die Gees van God het, doen jy dalk alles wat al die ander Christene doen, maar daar sal geen diepte in vreugde wees nie, geen ervaring van liefde, en geen rede om te sing nie.
“Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here.” Wanneer jy met die Gees vervul is, is jy nie net geheel en al herskep na die beeld van Christus nie, maar jy is ook intiem aan die liggaam van Christus verbind.
Dit is hoekom hy sê: "spreek onder mekaar". Ons sing vir mekaar. Daar is iets besonders aan die gemeenskap van Christene, die kinders van God wat saamkom, saam sing van hul groot verlossing en oor die nuwe lewe, en die salige hoop wat voor hulle lê; wat praat oor hul tuiste, praat oor die heerlikheid wat kom; wat gelukkig is saam, probleme saam in die gesig staar, mekaar help, mekaar versterk, mekaar stimuleer.
Wanneer jy na die liedere van die kerk kyk, vind al hierdie dinge plaas. Kyk ‘n bietjie deur die Psalms, kyk na die gesange van die kerk deur die eeue, daar is 'n lied vir elke situasie, 'n lied vir elke gebeurtenis. 'n Lied wat pas by elke stadium van die lewe van die siel. Dit is die Psalms wat die Gees geïnspireer het, maar wat die Gees gebruik om ons saam te bind. Sing vir mekaar.
Om die kerk vir jou te hoor sing kan 'n kragtige instrument van die Gees wees in ons geestelike bemoediging. Wanneer ons lewens buite beheer voel, sing ons Psalm 91: “O HEER, my Rots, op wie ek bou, by U is ’t my die beste; my toevlug waar ek stil vertrou, in nood my veil’ge veste.” Wanneer ons radeloos is, sing ons van die troos wat Christus bring in Skrifberyming 18: “Kom dan tot My, o almal wat vermoeid is en so swaar belas”. Wanneer ons ween, sing ons in Skrifberyming 24: “Ons sal, in lewe en in sterwe, Gods eiendom vir altyd wees”! En daar is soveel meer gesange wat deur die eeue geskryf is, waaruit die kerke kan kies.
Wanneer daar herlewing in die kerk is, word dit dikwels in die sang van die gemeente gehoor; aangesien die harte vol is van die evangelie, kan die monde van God se kinders nie daaroor swyg nie. Tydens groot herlewings in die kerk het ons ook 'n herlewing gesien van diep teologiese, God-verheerlikende, Christus-gesentreerde gesange. Inderdaad, selfs in hierdie gebou. Wanneer die Gees deur die prediking 'n besondere genadewerk in ons harte doen, kan ek dit in die sang hoor, en ek is seker julle kan ook.
Maar let op die dubbele gehoor van ons sang wat Paulus in vers 19 uitlig. Ons spreek mekaar aan, maar ons doen dit deur te “sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here”. Dit is vir die Here. Psalm 95 sê: “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig! Want die HERE is 'n grote God, ja, 'n groot Koning bo al die gode.” Ons moet tot eer van God sing! Hy alleen is waardig om te aanbid! Die liedere van die kultuur openbaar die afgode van die kultuur. Ons sing oor wat ons aanbid, daarom is daar so baie liefdesliedjies. Die kerk aanbid en prys God. Ons sing nie net oor Hom nie, ons sing vir Hom. Soos wat 'n liefdeslied nie net oor die persoon gaan nie, maar vir die persoon gesing word.
En soos 'n liefdeslied moet dit uit die hart kom. Ons liedere tot die Here kan nie uit 'n koue hart opgewek word nie. Ons woorde en stemme moet ontstaan uit 'n hart van diepe liefde vir die Here, 'n liefde wat borrel uit ons hart in aanbidding. As jy staan om te sing, ondersoek jou hart voor jy jou mond oopmaak. Sing nie omdat dit van jou verwag word nie, maar omdat jy die Here liefhet.
Want sien, dit is God vir Wie ons aanbid – dit gaan nie oor die gevoel wat ons kry wanneer ons aanbid nie. Ons kan kerk toe gaan vir die aanbidding – nie vir God nie. Ons kan ‘n kerk kies op grond van hoe dit ons in aanbidding laat voel eerder as op grond van die fokus van aanbidding. Die einddoel van aanbidding is egter nie om ons te laat goed voel nie, maar dit is om die Naam van ons God GROOT te maak. En in sy grootheid en heilige prag sal ons ons grootste vreugde vind. Ons fokus soveel op die ervaring van aanbidding, eerder as op die voorwerp van aanbidding. Ons fokus op die emosie in die lied bo die waarheid van die lied. Die Gees is uitgestort sodat ons ons oë op Christus kan rig, ons ore sy Woord kan hoor, ons harte Hom kan liefhê en, soos ons hier sien, Hy ons monde oopmaak om Hom te loof. As die Gees uitgestort is – sal jy Hom loof.
Dus, gemeente, moenie ligtelik oor jul sang dink nie. Ons word nie net beveel om God daardeur te loof nie, maar dit is die middel wat die Gees gebruik om ons as kerk te help om die volheid van God in ons lewe saam te ervaar. Mag die Gees van God ons op hierdie Pinksterdag so vervul met 'n liefde vir Christus en die evangelie, soos dit vir ons hier by die nagmaal uitgebeeld word, dat ons oorloop van lof en aanbidding aan God. Mag ons inderdaad so verwonderd en bly wees oor God se teenwoordigheid en sy werk in Christus, dat deur ons aanbidding die hemel kan weerklink, soos die engelekore dag en nag sing!
Amen.