Ons genadige God beloon ons goeie werke, al verdien daardie werke sy oordeel

Minister: 
Jakob Mars
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-07-10
Text: 
Heidelbergse Kategismus - Sondag 24
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Toe u die week in ‘n lang ry gestaan het in die winkel, wat was dit wat u teruggehou het om u humeur te verloor? Toe die krag vir die soveelste keer weer afgegaan het, wat het u teruggehou van daardie lelike gedagtes? Toe die kar by die buite-werking verkeerslig net ry wanneer hy wil, wat het u u woorde laat sluk? Toe u die bedelaar gehelp het met broodjies of ‘n appel, wat het u dit laat doen?

Verlede Sondag het ons gehoor dat ons slegs deur geloof in Christus geregverdig word. ‘n Baie bekende leerstelling. ‘n Leerstelling wat nie sonder opposisie in die kerkgeskiedenis ontvang is nie. So lees ons in V&A 64 die weerstand van die Roomse kerk – maar maak hierdie leer (dat ons slegs deur geloof regverdig is, en nie deur werke nie) nie die mense onverskillig en roekeloos nie? Het mense nie ‘n bietjie aanmoediging nodig om aan die gang te spring nie? As jy sê mense is regverdig deur net te glo, dan gaan hulle mos gewoon aanhou sonde doen en sê dat hulle glo! Hierdie aanklagte was tydens die reformasie niks nuut nie. Paulus het in Romeine 6 al daarteen geskryf. “Sal ons in die sonde bly (m.a.w. onverskillig en roekeloos wees), dat die genade meer kan word?”

In Sondag 24 het ons dus te make met ‘n eeu oue vraag. Dit is nie dat ons Gereformeerdes nie aan goeie werke glo nie. Net soos die Roomse kerk en die Fariseërs van oud glo ons in die doen van goeie werke. Maar tog met ‘n drastiese, en lewensbelangrike, verskil. 
En dis dit waarop Sondag 24 wil fokus. As ons slegs deur geloof in Christus regverdig gemaak is, wat is dan die plek van goeie werke? Wat is die verhouding tussen regverdiging en ons goeie werke?

Ek verkondig vanaand die woord van die Here onder die volgende tema:

Ons genadige God beloon ons goeie werke, al verdien daardie werke sy oordeel.
1)    Goeie werke is vir die Christen onvermydelik (V&A64)
2)    Goeie werke dra nie by tot ons geregtigheid nie (V&A62)
3)    Goeie werke word nogtans genadiglik beloon (V&A 63)

1) Goeie werke is vir die Christen onvermydelik (V&A64)

Laat ons in die eerste plek die aantyging dat die leer van regverdiging deur geloof alleen mense onverskillig en roekeloos maak, uit die weg ruim. In Johannes 15, nadat die Here pas die laaste Avondmaal saam met sy dissipels gevier het, is Hy nou besig om hulle, al wandelende na die tuin van Getsémané, te onderrig en voor te berei op die tyd wanneer Hy nie meer liggaamlik by hulle gaan wees nie.

En so hoor ons die Here se laaste “Ek is” uitspraak, wat vir ons duidelik maak wie Hy is, wie ons is in verhouding met Hom, en hoe ons werke in die prentjie pas. Jesus sê in Johannes 15:1 “Ek is die ware wynstok.”

Jesus skets ‘n maklik verstaanbare prentjie vir sy dissipels. Die beeld van die wynstok was baie bekend in Israel. Wingerde was ‘n algemene gesig, en sopas het hulle wyn, die vrug daarvan, in die bokamer gedrink. Israel self word ook verskeie male in die Bybel ‘n wingerdstok genoem. God se wingerdstok wat Hy uit Egipte uitgehaal het en in die beloofde land kom plant het (Psalm 80). ‘n Wingerdstok wat wild geraak het (Jeremia 2), en nie goeie vrugte wou dra nie (Jesaja 5). Die edel wingerd wat Israel was, het wild geraak en vrugte van afgodery en boosheid voortgebring.

In hierdie konteks sê Jesus, “Ek is die ware wynstok.” Waar Israel net slegte vrugte opgelewer het, het God in Jesus vir homself voorberei wat Israel geweier het om te doen. Jesus se hele lewe lewe op aarde, van konsepsie tot kruisdood, was vir die Vader aangenaam. Sy volmaakte gehoorsaamheid het die Vader behaag. “Ek is die ware wynstok,” sê Jesus. Maar Hy sê meer. In vers 5 sê Hy dat ons, wat in Hom glo, die lote is. 

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” U sien, dit is presies die rede hoekom die kategismus sê dat die leer van regverdiging alleen deur geloof in Christus, nie mense onverskillig of roekeloos maak nie.

“Want dit is onmoontlik dat ’n mens wat deur ’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.”

Jesus se metafoor is eenvoudig en kragtig. Geen loot kan vrug dra sonder dat dit in Hom ingeënt is nie. Jesus sê in vers 4, “net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.” ‘n Loot wat op die grond lê en verdroog kan nooit vrug dra nie. En dit is ons van nature. Van nature is ons nie siek of verlepte lote nie. Van nature is ons morsdood, kurkdroë lote. Net geskik om verbrand te word. Nie eens ‘n dwaas sal vrugte verwag van dooie lote nie.

Maar wanneer die Vader, die landbouer, hierdie dooie lote in Sy Seun inent, dan gebeur daar iets wonderbaarlik. Die lewensap van die wynstok, Sy Seun, begin vloei deur die lote. Elke sel in die loot word gevul met nuwe lewe. Die loot word groen en blare begin spruit. En dan, die ongelooflike. Die lote wat eens dood was begin vrug dra.

Die Dordtse leerreëls beskryf die poses so mooi wanneer ons deur die Gees met Christus verenig word:

Hy verlig ... [ons] verstand kragtig deur die Heilige Gees, om die dinge van die Gees van God reg te verstaan en te onderskei ... [en] deur die kragtige werking van dieselfde Gees, ... dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ’n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

So wonderlik soos dit is, dit kan nie anders nie. Die loot wat in die ware wynstok ingeënt is sal absoluut, sonder enige twyfel, noodsaaklik en onvermydelik, vrug dra. Daar is geen alternatief nie. Dit is die krag van die ware wynstok. Jesus sê, “wie in My bly ... dra ... vrug.” Meer selfs, “hy dra veel vrug.”

‘n Loot wat die vrugte dra wat uit ‘n ware geloof in Christus spruit, bewys dat hy die lewensap van die ware wynstok besit, en dus in Hom is. ‘n Loot wat geen vrug dra nie, bewys dat hy nie die lewensap van die ware wynstok besit nie, en dus nie in Christus is nie.

Hierdie stelling is so waar as wat Christus leef, en tog moet ons versigtig wees dat ons nie die kwaliteit van ander se geloof gaan beoordeel op die vrugte wat hulle dra nie. Jesus self leer ons om goeie werke in die geheim te doen.. Soos ons in die toekoms nog in Sondag 32 sal sien, is goeie werke wel nuttig vir sekerheid vir jou eie geloof. Wanneer u vrugte in u lewe sien wat spruit uit ‘n ware geloof in Christus, gee dit sekerheid vir u dat u in Christus is. Vandag in Sondag 24 is dit genoeg om te sien dat wanneer u in Christus is, goeie werke onvermydelik sal voortspruit. Dit kan nie anders nie. Geen aanhitsing of beloning is nodig as die lewensappe van die ware wynstok deur u vloei nie. 

Kan u hierdie onstuitbare, on-aangehitste, nie-beloning-soekende werk van die Gees in u eie lewe herken? Toe u die week in ‘n lang ry gestaan het in die winkel, wat was dit wat u teruggehou het om u humeur te verloor? Was dit die ander mense in die ry, of was dit die Gees? Toe die kar by die buite-werking verkeerslig net ry wanneer hy wil, wat het u u woorde laat sluk? Was dit u kinders in die kar, of was dit die Gees? Toe u die bedelaar gehelp het met broodjies of ‘n appel, wat het u dit laat doen? Was dit uit ‘n skuldgevoel vir u rykdom, of was dit uit dankbaarheid vir wat Christus u gegee het?

Dit is duidelik dat Christene vrugte van goeie werke gaan voortbring, anders is hulle nie Christene nie. Vir hierdie rede is die aanklag teen die leer van regverdiging alleen deur geloof in Christus ongegrond. Maar die belangrike vraag moet nog beantwoord word. Bring God hierdie goeie werke wat ons uit geloof doen enigsins in berekening wanneer hy ons regverdig verklaar? 

Of soos V&A 62 vra, “... kan ... dit nie die geregtigheid voor God of ’n deel daarvan wees nie?”

Na hierdie vraag gaan ons kyk in die 2de punt.

2) Goeie werke dra nie by tot ons geregtigheid nie (V&A62)

Die vraag wat in V&A 62 gevra word is baie subtiel. Die vraag is nie bloot, “waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God wees?” nie. Nee, meeste van die wat die etiket van Christen dra sal erken dat Christus darm nodig is vir ons geregtigheid.

Ons sal nooit sê dat ons goeie werke moontlik ons volle geregtigheid voor God kan wees nie. Nee, die gedagte is te radikaal, Godlasterend selfs, om op ons lippe te neem. Maar dalk tel dit vir ‘n deel van ons geregtigheid, soos V&A 62 vra? Dalk net ‘n klein gedeeltetjie? Daardie keer wat ek uit my pad gegaan het om vir God se Naam op te staan, toe niemand anders wou nie. Daardie keer wat ek my werk verloor het omdat ek standpunt ingeneem het vir God. Daardie keer toe ek die minste was en my mond gehou het toe ek beledig is. God sien dit tog alles raak. Sal Hy nie in hierdie lewe of op die oordeelsdag dit in berekening bring nie? Dra dit nie eens ‘n klein, klein bietjie by tot my geregtigheid nie?

As u soos ek is, sal u hierdie stemmetjie herken. Dit is ons sondige natuur wat altyd die guns van God op een of ander manier probeer verdien. Hierdie stemmetjie is dodelik. Dit fluister die gif van ‘n ander evangelie wat glad nie eens ‘n evangelie is nie. Dit is die “Christus plus” evangelie wat in die kerk van Galasië ingesluip het wat Paulus in Gal3 verontwaardig laat uitroep het, “O, Onverstandige Galasiërs, wie het julle [so] betower?” Inderdaad, die dwaalleer wat ingesluip het was so dodelik, dat Paulus in hoofstuk 1 gesê het dat hulle nie net die evangelie verlaat nie, maar God self (1:6).

Wat het in die kerk van Galasië gebeur? In Handelinge 13 en 14 lees ons die geskiedenis van die ontstaan van die kerk, waar Paulus op sy eerste sendings reis in Ikonium, Listra, en Derbe gepreek het. ‘n Groot menigte Jode en Grieke het gelowig geword (14:1). Dit is ook hier waar Paulus deur Jode gestenig is (14:19). Hy het letterlik sy lewe op die spel gesit om die evangelie van verlossing deur geloof in Christus deur die genade van God aan hulle te verkondig. Op al drie sendingreise het Paulus die gemeentes in Galasië weer kom bemoedig, die “siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly” (14:22; 16:5; 18:23).

Paulus skryf in die brief aan die Galasiërs hoe hulle hom ontvang het soos 'n engel van God, ja, as Christus Jesus self (4:14). En hoe hy onder hulle gepreek en die evangelie gebring het. Hy het Jesus Christus so duidelik voor hulle oë afgeskilder asof hy hier voor hulle gekruisig is (3:1). En deur die prediking het hulle die Gees ontvang (3:2).

Maar nadat Paulus daar weg is, het daar sommige Christene uit die Jodedom in die kerk ingesluip wat verkondig het dat daar geen verlossing vir die gelowiges uit die heidendom is nie, tensy hulle ook die Joodse tradisies aanneem. Die heidene sou hulleself moes besny en die Joodse feesdae onderhou (4:10). 

Vir ons klink hierdie dalk heel absurd. Wie verplig nou ander mense om hulself te besny. Wie heg nou regverdigheid voor God aan so iets simpels.

Maar gemeente, dit is nie so vêr van ons as wat dit aanvanklik lyk nie.

Gestel daar is gemeentes wat eenheid met mekaar soek, dan is daar ‘n stadium waar ons sê dat die kerke mekaar erken en herken as ware kerk. Daarvoor is dit natuurlik baie belangrik om beide mekaar se leer en manier van dinge doen te ondersoek. 

Nou, vra uself af, in die finale analise van of die or daardie kerk ware kerk is, hoe belangrik is sake soos die sê of sing van die “Amen”? Hoe belangrik is dit of hulle ‘n orrel het of nie? Wat as hulle kitaar speel en drom slaan? Wat as hulle tydens die sing van psalms, op Geneefse wysies, almal met die hande wuiwend omhoog staan? Miskien bestaan daar nie so ‘n kerk nie, maar die vraag is eenvoudig – hoeveel waarde heg ons aan tradisie? Soveel dat dit bepalend word vir saligheid?

Daarmee wil ek nie sê dat ons pragtige tradisie sleg is nie. Hoegenaamd nie. Maar as die vrae oor wysies en instrumente vir ons al belangrik lyk, dink net hoe belangrik was die vraag oor die besnydenis vir die kerk in Galasië. Die besnydenis en die feesdae was nie blote tradisies nie, maar verordeninge wat deur God ingestel is!

Waarom dan Paulus se harde uitspraak dat die verpligting van besnydenis onder God se vloek staan? Dit is omdat hulle ten diepste nie verstaan het dat Christus die hele Ou Testament met al die wette volledig vervul het nie.

Vir die gelowiges uit die heidendom het die apostels in Handelinge 15 eksplisiet geen ekstra las opgelê as slegs die dinge wat direk teen die evangelie ingaan nie. 

Deurdat die Jode iets wat in Christus vervul is afgedwing het en saligheid daaraan verbind het, het hulle die heidene onder die juk van die hele wet te bring. Dis of vryheid in Christus, of dis die totale juk van die wet.

Deur geloof alleen in Christus Jesus is daar vir ons regverdigheid voor God. Deur geloof in Hom deel ons aan Sy volmaakte werk. Dis of Christus en sy volmaakte werk, of ons staan alleen. Om iets naas Christus te plaas, maak nie saak hoe belangrik of onbenullig nie, is om dit in plek van Hom te plaas. Dis of Christus of niks. Of ons berus onsself op sy volmaakte gehoorsaamheid aan die eis van die wet, Sy volmaakte gehoorsaamheid toe hy die vloek van die wet op homself geneem het, of u moet self die wet ten volle nakom en die vloek daarvan dra as u dit nie kan doen nie. En niemand kan die wet nakom nie! Ons beste werke in hierdie lewe is almal onvolmaak en met sondes besmet. Ons beste werke, met die beste bedoeling, met die mooiste intensies word nog steeds besmet met ons sondige natuur sodat, as u dáárop wil steun, u onder die oordeel en vloek van ons allerheiligste God staan.

Dis waarom Paulus sê in 3:10, “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. Daarom dan sy verontwaardiging as hy hoor dat die kerk waar hy so hard gearbei het om hulle die evangelie van verlossing in Christus te bring, verruil vir ‘n “Jesus plus” evangelie. “Jesus plus” beteken dat die vloek van die verbond, God se oordeel, nog op jou rus.

Dit geld vir “Jesus plus besnydenis, anders kan jy nie gered word nie.” Dit geld ook vir Jesus plus ons moet absoluut ‘n orrel hê, of ‘n kitaar hoort absoluut nie in ‘n kerk nie, of die liturgie moet presies so lyk en mag nie daarvan afwyk nie. Maar nog dieper selfs, God se oordeel rus ook nog op die wat, nadat hulle deur Christus verlos is, in hul hart nog stééds God se guns probeer wen asof mens dit kan wen. Die vloek van die verbond rus nog steeds op almal wat deur hulle voorbeeldige lewe dink dat dit hulle ‘n stappie nader aan die hemel bring. Ons beste werke dra beslis, geheel en al niks by tot ons regverdigheid nie.

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. (Efésiërs 2:8-9)

Dalk luister u vanaand, en al het u dit al soveel keer gehoor, het u nogtans moeite met hierdie leer. Wat van al die plekke, veral in die Ou Testament, waar dit baie duidelik lyk of gelowiges God se guns, deur ‘n goeie lewe te lei, verdien?

Na die regte verstaan van hierdie vraag gaan ons kyk in 3de punt.

3) Goeie werke word nogtans genadiglik beloon (V&A 63)

U ken dalk die verse waarna ek verwys. Ek noem ‘n paar:
Spreuke 19:17 Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.
Ps 18: 21 Die Here het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.
Matt 6:3&4 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.

Nadat ons regverdiging deur geloof alleen in Christus alleen bely, mag sulke taalgebruik van vergelding volgens ons dade ons dalk ongemaklik laat voel. Sou dit nie eenvoudiger wees as die Bybel maar nie hierdie taal gebruik het nie?

Maar dit is tog die taal wat die Bybel gebruik, en hieroor hoef ons nie in die verleentheid te voel nie. Die Bybel gebruik hierdie taal omdat dit presies is wat God doen: al verdien ons dit nie in die minste nie, beloon ons genadige God ons goeie werke. Hier moet ons dus die verskil tussen verdienste en beloning uit genade baie mooi raaksien. 

Ons verdien niks nie. In Lukas 17:7-10 verduidelik die Here dat selfs al sou ‘n dienskneg alles gedoen het wat aan hom beveel is, dan moet hy nogsteeds aan die einde van die dag erken dat hy ‘n onverdienstelike dienskneg is wat net gedoen het wat hy verplig was om doen. Die heer bedank nie die dienskneg omdat hy doen wat hy moet nie.

So is God nie aan ons verskuldig om vir ons dankie te sê as ons ietsie goed gedoen het nie. Ons kan net sê, ek is verplig om dit te doen, ek is ‘n onverdienstelike dienskneg. 

En tog beloon God ons goeie werke uit genade in hierdie lewe en in die ewige lewe. Maar dit is ongelooflik belangrik om te sien dat dit onverdienstelik is. Dit is omdat die vrugte wat ons lewer nie uit onsself kom nie. Nog voordat ons enigiets kon doen is ons geregverdig slegs uit God se genade. Ons is eers deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke kon doen, anders sou daardie werke nie goed kon wees nie. Net so min soos ‘n dooie lote vrugte kan dra, kan geestelik dooie mense goeie werke doen. Die loot moet eers lewendig gemaak word voor dit kan vrug dra. En nadat God vir ons ‘n nuwe lewe gee dra ons vrug. Ons vrug is dus nie uit onsself nie, so ons kan nie daarin roem nie. Dit is uit God en tot God.

Maar dit is ook belangrik om te sien dat daardie werke wat uit ‘n ware geloof in Christus voortspruit, ook regtig goed en vir God welgevallig is - so leer ons in NGB art. 24. 

Hoe is dit moontlik? Omdat die werke wat uit ‘n ware geloof in Christus spruit deur God se genade geheilig is, en omdat dit Hy is wat dit in ons werk. “Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil2:13). Daarom is goeie werke ook goed en welgevallig vir Hom. Slegs as ons in Christus is en beklee is met Sy geregtigheid. En daarom beloon Hy ook ons werke. Hy beloon eintlik Sy eie werk in ons. Dit is nou genade op genade.

Laat ons dus hierdie volgorde goed onthou:
Ons word sonder ons wil in Christus ingeplant.
Ons word geregverdig slegs deur geloof in Hom en Sy werk.
Ons ontvang ‘n nuwe lewe in Hom in waarin ons onvermydelik vrug dra.
Hierdie vrug verdien vir ons niks nie. God is ons niks verskuldig nie, en ons is aan hom alles verskuldig.

Dit is God wat hierdie vrug in ons werk, dit heilig in Christus, en genadiglik beloon.

Laat ons dan nie roem in ons vrugte nie, aangesien ons nie in onsself kan vrug dra nie, en God ook nie hoef te beloon wat ons verplig is om te doen nie. Laat ons God, die landbouer loof wat ons in Christus geplant het, ons snoei, en versorg en vrugte in ons werk tot Sy eer. As alles goed is, net soos ‘n landbouer sy wingerd snoei sodat dit jaar na jaar meer volop vrug kan dra, so mag ons genadiglik groei in ons eie lewens observeer. As dit goed is het die Landbouer u so gesnoei dat u vandag meer vrug in u lewe kan sien as 5 jaar terug. 

As u vandag deur die Gees aangesproke voel deur ‘n gebrek aan vrugte, of ‘n oormaat slegte vrugte, onthou dat gebrek aan vrugte daarvan getuig dat die lewensap van die ware wynstok nie deur die loot vloei nie. Moet dus nie probeer aan die werk spring en goeie vrugte lewer, as u nie in Christus geplant is nie. Enige poging tot goeie werke terwyl u nie in Hom is nie, bring God se oordeel oor u. Luister liewers na wat Christus sê:
Bly in My, want julle kan nie vrug dra as julle nie in My nie is nie.
Bly in My – Dit is glo in Hom. Wees verbind aan Hom deur ‘n ware geloof. Moenie fokus op u vrugte of die tekort daaraan nie, maar fokus op Hom, dan sal u vrugte volg. 
“Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

As u vandag die vrugte sien wat die Gees in u werk, al is dit in u oë hoe klein, dank God vir Sy goedheid, en bid dat hy dit tot Sy eer mag vermenigvuldig, dat Hy u mag snoei al maak dit nou seer. Mag u met vreugde u vrugte lewer in die week wat voorlê, en mag dit tot ‘n seën wees vir almal wat God verby u, ‘n loot in sy wingerd, bring.

Amen

Liturgie: 

Sing: Psalm 32:1,3,7
Sing: Psalm 24:1-3
Johannes 15:1-8
Galasiërs 2:15-3:14 
Sing: Psalm 32:1
HK Sondag 24
Sing: Psalm 116:7-10
Sing: Skrifberyming 71
Sing: Psalm 113:1,2