Die Dordtse Leerreëls is geskryf in die tyd toe die rasionalisme in opkoms was.
Daar was groeiende optimisme in die mens se verstandelike vermoëns.
Ek dink, dus is ek, het die Franse filosoof Descartes wat in Nederland gewoon het, gesê.
Die mens kan met sy denke rasionele, oftewel goeie keuses maak.
As daar ‘n keuse aan hom voorgelê word, kan hy al die voor- en nadele afweeg en dan die regte keuse maak.
Al ontken die Dordtse Leerreëls die mens se denkvermoë nie, vind ons hier egter nie ‘n optimisme nie.
Al het die mens ‘n kragtige denkvermoë, meer as alle ander lewende wesens, tog kom daar nie iets goeds uit voort nie.
Die rede is dat die mens as geheel, dus ook sy denkvermoë, slaaf geword het.
Hy is in ‘n staat van slawerny onder die duiwel, en hy kan nie meer daaronder uitkom nie.
En nog tragieser, hy het self gekies om homself in hierdie slawerny te stort.
Dis soos ‘n land wat se leier besluit het om oorlog te verklaar teen ‘n ander land, ‘n totaal onregverdige oorlog.
En die bevolking van daardie land ondersteun hulle leier, hulle aanbid hom.
Hulle stuur hulle eie seuns na die front, en stadig maar seker begin die hele ekonomie om die oorlog te draai.
Die hele bevolking se daaglikse arbeid word opgeëis om die oorlog te kan finansier, en om wapens vir die oorlog te vervaardig.
So kan mens sê dat ‘n land slaaf geword het van die oorlog wat hulle self verklaar het, en slaaf van die leier wat hulle omgepraat het dat die oorlog nodig is.
Net so, gemeente, het die mens slaaf geword van die Satan.
Die Satan het hom omgepraat, en nou sit hy vas in ‘n verdorwe sisteem en kan nie daaruit kom nie.
Alles wat hy het en wat hy is, ook sy denke, word opgeëis.
Hy het slaaf geword van sy verkeerde keuse.
Niks van hierdie wanhopige situasie was aan God onbekend nie.
Hy het vooraf geweet dat geen mens self kan ontsnap uit sy slawerny, laat staan betaal vir al die skade wat hy aangerig het nie.
Tog het God, soos die Leerreëls sê, uit oneindige barmhartigheid sy Seun geskenk, om in ons plek sonde en vervloeking aan die kruis te word.
Hy het sy Seun as Borg geskenk.
In hierdie preek gaan ons dieper kyk na wat dit beteken, dat Christus ons Borg is.
Tema: Jesus Christus is ons Borg
In die alledaagse lewe is ons bekend met die term borg.
‘n Jong man wat pas getroud is en die eerste baba is op koms, wil graag ‘n huis koop.
Maar hy het nog nie genoeg kapitaal om ‘n lening by die bank te kry nie.
Sy pa bied egter aan om vir hom borg te staan.
Die bank soek, soos hulle in Engels sê, ‘n ‘surety’, vir die geval die seun nie die lening kan afbetaal nie.
As die seun byvoorbeeld sy werk verloor.
Nou in ‘n veel dieper sin geld dit ook vir ons Here Jesus.
Christus is ons Borg, Hy gee voldoening as ons Plaasvervanger.
Hy het Homself aangebied in die plek van sondaars.
In die Bybel lees ons dat Christus vir ons gesterf het (bv. Rom 5:8).
Wat word eintlik met vir ons bedoel?
Dit is belangrik dat ons hierdie frase, wat so bekend klink, reg verstaan.
Want die Remonstrante het hierdie frase, vir ons, naamlik anders uitgelê.
Vir ons het hulle gelees as vir die beswil van die mensdom, ten voordeel van die mensdom.
Nou is hier ‘n kern van waarheid in.
Christus se kruisdood strek inderdaad ten voordeel van die hele wêreld.
Op grond van sy kruisdood is God nog geduldig, laat Hy goddeloses toe om op sy aarde te lewe, soms ‘n lang voorspoedige lewe te geniet, terwyl hulle gesien hulle sondes daar glad nie reg op het nie.
In die sin dus ten voordele, al is dit maar ‘n tydelike voordeel.
Maar, gemeente, met hierdie interpretasie van die Remonstrante is ons nog maar net die oppervlakte van wat die frase vir ons beteken.
Dit gaan veel dieper.
Want vir ons beteken veral in die plek van ons.
Christus het in ons plek gesterf, Hy het voldoen, Hy het Borg gestaan.
Ja, die frase vir ons dui dus op Jesus se borgskap.
Hierdie oppervlakkige uitleg van die Remonstrante het nie saam met hulle in die graf verdwyn nie.
Ongelukkig is dit ook nog in ons tyd lewendig.
In die hedendaagse sekulêre en onkerklike wêreld sal mense beslis ook positief oor Jesus praat.
Maar hulle sal dit dan byvoorbeeld soos volg verwoord:
Jesus was ‘n godsdienstige leier wat die mensheid bevoordeel het, beslis verder gehelp het.
Jesus het beslis ‘n positiewe morele invloed op die wêreld gehad.
Dit wat Jesus as geestelike leier geleer het, is beslis die moeite werd om na te streef.
En selfs Jesus se dood is waardevol, sal mense sê, in die sin dat dit mense aanspoor om ook hulle lewens op te offer vir ‘n goeie doel.
Of soos ander die waarde van Jesus se dood probeer verduidelik:
Hy as onskuldige persoon is wreedaardig vermoor, iets wat skokgolwe deur die wêreld gestuur het, skokgolwe wat tot vandag toe voortduur, skokgolwe wat lei verontwaardiging oor die feit dat onskuldige mense soms so wreed aan die einde van hulle lewe moet kom.
En hierdie verontwaardiging behoort dan te lei tot aksie, positiewe inisiatiewe om van die wêreld ‘n beter plek te maak.
Maar verstaan u, hierdie opmerkings plaas Jesus op dieselfde vlak as die tipe mense wat die Nobelprys vir vrede wen.
Dit bly oppervlakkig, dit bly op die menslike vlak.
Die raak nog nie aan Jesus se borgskap nie.
Weer eens, hierin is ‘n kern van waarheid.
Maar ons skraap nog maar die oppervlakte, dit raak nie die hart van wie Christus is en wat Hy gedoen het nie.
Hierdie eerbare opmerkings is naamlik veranker in ‘n veel dieper werklikheid.
En as mense dit nie sien nie, of nie wil erken nie, dan dobber hierdie edele intensies steeds rond op ‘n oseaan van relativisme.
Die hart van die saak is naamlik dat Jesus Borg was, dat Hy Plaasvervanger was.
Christus het naamlik nie net gelewe en gesterf as ‘n voorbeeld vir ons nie, maar in die plek van ons.
En dit gaan dieper as om te sê Jesus is as onskuldige ontereg om die lewe gebring.
Ja, natuurlik, as Persoon was Jesus onskuldig, Hy het geen enkele sonde gehad of gedoen nie.
Maar in sy posisie as Borg was Jesus nie onskuldig nie, Hy was wel skuldig.
Pilatus het Hom as persoon onskuldig verklaar:
“Ek vind geen skuld in hierdie man nie.” (Luk 23:4)
Maar bo Pilatus was daar nog ’n Regter, die hemelse Regter, wat Hom wel skuldig verklaar het.
Juridies is Hy wel as skuldig beskou, belaai met al die skuld van sy volk.
Dit omdat Hy na die wet die Borg, die Plaasvervanger, vir hulle geword het.
As ‘n pa vir sy seun borg staan, sodat hy ‘n lening kan kry om ‘n huis te koop, dan kyk die bank nie net na die pa as ‘n baie goeie mens, iemand wie se voorbeeld navolgingswaardig is nie.
As die seun sy werk verloor en sy paaiement nie meer kan betaal nie, dan gaan die bank nie net die seun aanspoor om net so vrygewig as sy pa te wees nie.
Inteendeel, die bank gaan die pa se geld vat.
En die pa gaan nie hom daarteen verset nie.
Hy het dit mos beloof, Hy was mos bereid om homself as borg beskikbaar te stel.
En so het Jesus ook nie teengestribbel toe Hy tog skuldig bevind en veroordeel is nie.
Gewillig het Hy, soos Jesaja al geprofeteer het, sy rug gegee vir die wat slaan, sy wange vir die wat sy hare uitpluk, sy gesig het Hy nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie (Jes 50:6).
Oor hierdie realiteit van Plaasvervanger wees word ook pragtig geprofeteer in Jesaja 53.
Ons krankhede, ons smarte het Hy gedra.
Ter wille van ons oortredinge is Hy deurboor.
Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.
Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Hy, soos die onskuldige lam wat na die tempel gebring is in die Ou Testament, Hy is tog mishandel.
En tog het Hy nie geskreeu dat Hy onskuldig is nie.
Nee, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
So profeteer Jesaja oor wat met Christus gebeur het.
Toe Jesus as aangeklaagde voor die Joodse Raad gestaan het, skryf Mattheüs dat Hy geswyg het.
“Maar Jesus het stilgebly” – Mattheüs 26:63.
Jesus het nie stilgebly omdat Hy opstropelis was nie.
Hy het nie dikbek daar gestaan omdat Hy onskuldig was en hulle Hom moes uitlos nie.
Hoekom het Hy nie geantwoord nie?
Dit was omdat Hy as Plaasvervanger daar gestaan het.
En daarom was Hy skuldig – nie persoonlik nie, maar juridies gesproke.
Daardie aanklagte was waar.
Want ons skuld was op sy skouers.
Hy het self nie godslasterlik gespreek nie – dit waarvan hulle Hom beskuldig het – maar ons het wel ons God gelaster.
Nie Hy nie.
Toe Hy uiteindelik praat en getuig dat Hy aan die regterhand van God sal plaasneem, was dit die waarheid en dit was nie godslastering nie.
Maar ter wille van ons godslastering is Hy veroordeel.
Toe die Joodse Raad verklaar: “Hy is die dood skuldig” (Matt 26:66), was dit juridies korrek, omdat God ons doodsondes op sy Seun se skouers gelaai het.
As Borg was Hy dus skuldig, daaroor bestaan geen twyfel nie.
Dis soos die regsisteem werk.
God het Hom beskou as die skuldige party, die Een wat sal moet betaal.
God was nie onregverdig en hardvogtig wat dit betref nie.
Ons het in verlede week se preek gesien dat God se liefde vir sy skepping juis daarin na vore kom dat Hy sy standaarde nie verlaag nie.
Hy doen dit nie, sy geregtigheid bly onwrikbaar, maar terselfdertyd gee Hy vanuit sy hemelhoë barmhartigheid ‘n Borg wat bereid is om vir ons in te staan.
En daarom lees ons in die Skrif sulke reguit stellings:
Christus het skuldig gestaan, Hy het ‘n vervloeking geword.
En van ons kant bekyk: Ons is gekruisig saam met Christus (Gal 2:20).
Saam met Christus is ons nou weer vry, ja het ons selfs al – regstegnies – opgestaan uit die dood.
In God se oë is ons nou nie meer bankrot nie, ons staan nie meer op sy swartlys nie.
In Christus is ons vry, in Hom is ons ryk.
Deesdae is daar mense wat beswaar opper teen hierdie sogenaamde leer van versoening deur voldoening, hierdie hele idee van borgstaan.
Laat ons egter vashou aan hierdie indrukwekkende Bybelse waarheid.
Hoewel persoonlik onskuldig, was Jesus juridies wel skuldig.
God se ewige straf het Hom getref – juridies 100% korrek.
Hierdie is nie ‘n vae wollerige morele voordeel wat Jesus as geestelike leier vir die mensdom gestel het nie.
Hierdie is akkurate boekhouding, swart op wit syfers wat moet klop, sorgvuldig geformuleerde juridiese aanklagte wat geverifieer en vervolgens, volgens die geldende regsorde, skuldig of onskuldig bevind moet word, en dan dienooreenkomstig gestraf moet word.
Dit is ernstige sake.
Dit gaan baie diep.
Dink aan die uitspraak in Galasiërs 3:13: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word”.
Dit is baie ernstige woorde – Christus ’n vervloeking – maar wel woorde met ’n geweldig bevrydende implikasie.
Broer, suster, dink jy nog daaroor na, dat Christus in jou plek ’n vervloeking geword het.
Moenie dat hierdie werklikheid vanselfsprekend raak nie.
Moenie net oppervlakkig daarvan kennis neem nie.
Laat dit jou lei na ’n dieper dankbaarheid, ’n dieper en meer toegewyde geloofslewe.
Reeds in die Ou Testament het God sy volk hiervan onder die indruk gebring.
Dit is ernstige sake.
Daar moes bloed vloei.
Terselfdertyd was daar barmhartigheid.
Die persoon wat ‘n dier by die tempel gebring het om te offer, mog sy hand op die kop van die dier lê.
So is sy skuld op die dier oorgedra.
Dit is presies wat ook op Golgota gebeur het.
Ons skuld is juridies oorgedra.
Ons wat weens ons opstand teen God geen enkele reg het om op aarde te lewe nie, ons wat vervloek behoort te wees van die aardbodem af.
Christus het daardie vervloeking vir ons geword.
Die volgende uitspraak van Jesus het daarom ‘n baie diep juridiese betekenis gehad:
“Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” – Mattheüs 8:20
Christus is deur sy Vader van die aardbodem af vervloek.
Aan die kruis het Hy gehang, tussen hemel en aarde.
Ja tot in die hel, die totale Godverlatenheid, is Hy verdoem.
Maar in teenstelling tot die offerdiere van die Ou Testament kon Hy regtig Borg staan, regtig betaal.
En, soos daar in Hebreërs 7 staan:
So het Hy van “'n beter verbond borg geword.” (vers 22)
Geliefde gemeente, as ons vandag na Christus se kruisdood kyk, is dit daarom nie net ‘n morele aansporing nie.
Dit begin veel dieper.
Dit bring ons tot diepe verootmoediging.
Want ek moes daar gehang het.
Ek moes die doringkroon gedra het.
Ek moes die sweepslae op my rug gevoel het.
Ek moes die spykers deur my polse gevoel het, en deur my voete.
Ek moes die swaard gevoel het wat in my sy steek.
So bring Christus se plaasvervangende lyde diepe verootmoediging.
Die besef hoe erg ons sondes was en is.
Dis ‘n besef wat ons nie vind in ‘n oppervlakkige wêreld wat Christus net as morele voorbeeld wil volg nie.
Ons besef hoe swaar las ons sondes op Christus se skouers was.
En onder die indruk daarvan, leer ons om die sonde te haat.
Die sonde raak bitter vir elkeen vir wie die kruis soet is.
En daaruit vloei dan ‘n diepe dankbaarheid.
‘n Dankbaarheid waaruit ‘n lus en liefde spruit om ook inderdaad ‘n morele lewe te lei.
En dis dan ‘n lewe wat diep geanker is, waaruit ‘n moraal groei wat nie verlep sodra dit nie meer in my eie voordeel is nie.
Geliefde broer, suster, gaan elke dag na die kruis.
Bid vir u Heiland: O Here, wil U ook vandag Borg staan vir die sondes wat ek vandag gedoen het?
Dit doen die Vader goed as Hy hoor hoe sy kinders hierdie vraag aan sy Seun vra.
Die Borgskap van sy Seun maak Hom trots.
Want daardeur het sy Seun ‘n nuwe toekoms vir ons, ja vir sy skepping oopgemaak.
En wat die Vader nog trotser maak, is as Hy deur die werk van sy Gees sy kinders hoor sê:
Ek dank U, o Heiland, dat U aan die kruis vir My gesterf het, dat U my Borg is.
Ja hierdie sekerheid mag ons, ook weer in antwoord op vanaand se prediking, onsself toeëien.
Dit is per slot van rekening hoekom die Vader dit so gelei het dat u, dat jy, vanaand hierdie boodskap hoor.
Hy wil sy kinders red, Hy het nie verniet sy Seun as Borg gegee nie.
En dit maak Hom trots as ook vandag, reeds in die 21ste eeu, mense nog steeds gretig van sy Borgskap gebruik maak.
Want dit is ‘n alleroorvloedigste fontein, wat nooit sal opdroog nie.
Soos paragraaf 3 skryf: Dit is so kragtig, “oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.”
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Jesaja 53 & Mattheüs 26:57-68
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,2-3
Tema: Jesus Christus is ons Borg
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Hoe verklaar die Remonstrante die Bybelse frase dat Christus vir ons gesterf het.
- Op watter wyse stel die wêreld vir Jesus Christus as ‘n morele voorbeeld?
- Hoe verklaar jy die stelling dat Christus sowel skuldig as onskuldig was?
- Wat hou Christus se Borgskap in?
- Dank in jou gebed die Vader dat sy Seun jou Borg geword het en vir dit wat dit beteken.
Votum
Seën
Sb 10:1-3
Gebed
Skriflesing: Jesaja 53
Sb 7:3,4,5,8
Skriflesing: Mattheüs 26:57-68
Sb 10:4-6
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 2,2-3
Preek
Ps 65:2-4
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 124:2-4
Seën