Ons kyk vandag na die dood van drie mense. Al drie goddeloos. Hulle verteenwoordig die afwaartse neiging en die nagevolg van Josafat se sonde om ‘n huweliksverbond met die huis van Agab te sluit. Op die ou end word die huis van Juda net soos die huis van Israel. Die huwelik is 'n simbool van twee wat een word. En wanneer iemand geestelike owerspel pleeg, dan sal jy een of ander tyd God verlaat en een word met afgode. Diegene wat jy aanbid, soos hulle sal jy word. Maar tog is die laaste dood ook 'n teken van geestelike vernuwing en getrouheid. Dat God die sondes van die vaders tot die derde en die vierde geslag sal straf, maar sy standvastige liefde strek tot duisende.
God se getrouheid om Juda van die rand van die afgrond af te herstel:
- 'n Dood waaroor niemand spyt is nie
- 'n Dood wat niemand oorlaat om die koninkryk te regeer nie
- 'n Dood van goddeloosheid bring 'n verbondsvernuwing teweeg
'n Dood waaroor niemand spyt is nie
Vandag kom ons by die seuns van Josafat. Julle onthou dat hy 'n goeie koning was, maar met ‘n gebrek aan onderskeidingsvermoë. Ons sien dit weer aan die begin van hoofstuk 21. Hy gee geskenke aan al sy ander seuns, maar gee die koninkryk aan die eersgeborene, 'n bose man wat getroud was met Agab se dogter. In hoofstuk 21:13 staan daar selfs dat al sy broers beter was as hy. En as jy enigiets van Agab weet, dan weet jy dat jy nie wil hê dat jou kinders met koning Agab se kinders moet kuier of trou nie. Hierdie man was heeltemal goddeloos. En as jy met goddeloosheid speel, speel jy met vuur en brand.
En die gevolge hiervan is vernietigend vir die huis van Dawid. Die profesie van ouds word waar, die saad van die slang sal hom in die hakskeen byt, maar die saad van die vrou sal sy kop vermorsel.
Joram spring dadelik aan die werk en vermoor al sy broers en sommige van die prinse. In Agab se huis sien ons keer op keer dat geweld en afgodediens hand aan hand gaan. En albei het na Juda oorgespoel. Dit is die manier waarop die koninkryk van Satan gewerk het – deur die opposisie te probeer uitroei. Soos Kain met Abel gedoen het, soos Israel met die profete, soos Herodes met al die babas in Betlehem, soos die Jode gedoen het aan hul mede-Jood, Jesus.
Vers 6 sê: “En hy het in die weg van die konings van Israel gewandel soos die huis van Agab gedoen het, want hy het die dogter van Agab as vrou gehad...” Die huweliksverbond wat Josafat met Agab gesluit het, was nie net 'n huweliksverbond tussen twee mense nie. Maar die twee het een vlees geword. En in ‘n sekere sin was die twee koninkryke geestelik verenig. Die koninkryk van Juda het ontrou aan God geword met ander gode en soos Israel geword.
Tog is God getrou aan sy verbondsbeloftes. Vers 7 sê: “Maar die Here wou die huis van Dawid nie vernietig nie ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en volgens sy belofte om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee.” Dit is die beloftes van God wat die geskiedenis vorentoe beweeg. Dit is weens sy getrouheid dat ons nie vernietig word nie! Sy toewyding aan vorige geslagte het die lot van toekomstige geslagte bepaal. Hy het belowe om die lamp aan die brand te hou, en Hy sou dit doen totdat die son van geregtigheid sou opkom met genesing in sy vlerke.
Tog beteken dit nie dat God die sonde nie sal straf nie. Lees vers 8-10. Ons sien dit keer op keer, geestelike krag lei tot militêre krag, en geestelike bankrotskap lei tot militêre swakheid. In vers 8-10 sien ons Edom en Libna in opstand. Die nasies onderwerp hulle nie meer aan die seun van Dawid nie. Hoekom? “… want hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat.“ (v 10)
En as gevolg hiervan kry hy 'n brief van Elia. Elia is 'n profeet van die noordelike koninkryk. Maar die suidelike koninkryk het soos die noordelike geword, dus brei die bediening van Elia ook nou na die suide uit. Let weer op die taal van owerspel. Kyk na die grafiese taal in vers 11: “Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei.” Die werkwoord ‘Zanah’ (tree op soos ‘n hoer) word drie keer in twee verse (11, 13) gebruik.
Die koning en die volk was ontrou en het ander gode gedien en die enigste ware God verlaat. Daarom is daar oordeel aan die kom. God sal plae oor sy gesin en sy besittings bring, en hy self sal ly aan een of ander dermsiekte totdat sy derms uiteindelik uit sy lyf sal kom. Dit herinner ons aan die plae van Egipte. Eers sou daar plae wees en uiteindelik sou die eersgeborenes sterf. Juda was in geestelike gevangenskap, en die plae van God was 'n teken van oordeel. Maar dit was nie net ‘n oordeelsbrief nie, maar ‘n liefdesbrief, wat die volk na Homself teruggeroep het. Hy kon hulle net uitgewis het, maar in plaas daarvan waarsku Hy hulle! O, as hy tog net gehoor sou gee aan daardie waarskuwende stem.
Wat sou Joram doen? Hom bekeer? Hy kry die kans! God sê dat jou afgodediens jou sal doodmaak.
Gemeente, afgodediens maak dood. Om God te verlaat is 'n doodsvonnis, dis so eenvoudig soos dit. Joram kies om sy hart soos Farao te verhard – en daarom ly hy intens. Stel jou voor dat jy twee jaar aaneen 'n maaggriep het. En elke dag gaan dit slegter as die vorige. ‘n Daaglikse herinnering aan sy opstand teen God. Dit sou soos die hel gevoel het – maar 'n sondaar sal eerder die hel wil hê as God.
Nie net sterf hy nie, maar al sy besittings en familie word weggevoer. Die tempel en Jerusalem word gestroop. Heeltemaal leeg – ‘n teken van die geestelike toestand van die volk van God! Hulle is geestelik leeg en bankrot.
En sy dood is tot niemand se spyt nie. Kan jy jouself indink dat iemand dit by jou begrafnis sou sê? Niemand is spyt dat hy dood is nie. Daar is sekere politici of konings in die wêreldgeskiedenis waarvan jy dit sou kon sê. Sy god was hyself – hy het vir niemand anders omgegee nie. Hy wou krag hê. Hy wou sentraal staan. Hy het in vrees geleef, uit vrees dat iemand sy mag sou neem – daarom het hy alle opposisie doodgemaak.
Uiteindelik sit ons met 'n siek koning en 'n siek koninkryk wat lyk asof hulle bestem is vir die geskiedenisboeke. Om nooit weer van gehoor te word nie. Sonde lei tot die dood. 'n Dood waar alles wat jy ooit gedoen het, was om vir jouself te leef. Wil jy weet hoe om 'n lewe te lei waar jou dood tot niemand se spyt is nie? Leef net vir jouself. En niks anders nie. Draai jou rug op God – Hy in Wie alle skoonheid, goedheid, waarheid en liefde is.
Die lyn van Christus kom neer op een persoon. Net die jongste seun is oor om die koninkryk te regeer. Ons gaan dus van die oudste seun na die jongste. Sou hy enigsins beter wees?
'n Dood wat niemand oorlaat om die koninkryk te regeer nie
Eerstens was daar die oudste seun wat die slegste seun was, beïnvloed deur 'n huwelik met Agab se dogter; en nou het ons die jongste wat deur sy ma beïnvloed word. Die koninkryk word al hoe swakker... eers die oudste seun, nou is nog net die jongste oor, en binnekort sal dit lyk asof daar niemand oor is nie. Dinge lyk somber. Daar is geen vreugde, vrede of rus nie.
En die jongste seun is niks beter as sy pa nie. Vers 3 & 4 gee 'n donker beskrywing: “Hy het ook gewandel in die weë van die huis van Agab... hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here soos die huis van Agab...”
Hoekom? Wel, daardie verse verduidelik dit ook: “… want sy moeder was sy raadgeefster ...” Wie is die mense na wie jy luister? Wie is jou rolmodelle? Liewe gemeente, jonk en oud, die wêreld is vol mense met invloed. ‘Influencers’ is wat hulle op Instagram genoem word. En hulle het miljoene mense wat hulle navolg (‘followers’). Musiek, films, sosiale media... dit alles kan die Atália's van ons tyd wees – wat die kerk binnedring en probeer raad gee om ander gode te aanbid. As jy meer van jou tyd spandeer om ‘n ‘influencer’ te volg, sodat jy soos hulle kan aantrek, soos hulle kan praat, so suksesvol soos hulle kan wees, soos hulle kan kook – hou dan op! Spandeer tyd saam met goddelike ouers. Fisies en geestelik. Besoek die ouer mense, die vaders en moeders van hierdie kerk, en vra hulle hoe God in hul lewens gewerk het. Luister na hul raad. Goddelike grootouers. Spandeer tyd om voor te berei vir 'n ouderling- of diakenbesoek en pas die wysheid toe wat hulle met jou deel.
Wie is die mense wat aan jou leiding gegee het? Die wêreld het sy eie dissipelskapprogramme – sy eie indoktrinasieprogramme deur middel van hul musiek, hul literatuur, hul manier van aanbidding en gemeenskappe op sosiale media. Liewe gemeente, sorg dat jy leer, groei en jou verdiep in die verhaal van God – gelei word deur mense wat God ken – sodat jy jouself kan sien as deel van die verhaal.
Die Kroniekskrywer noem die huis van Agab goddeloos. Hierdie goddeloosheid is nie net die mislukking van individue nie – dit is die mislukking van ‘n volk. Dit word sistemies, geneties en aansteeklik, soos kanker wat die hele liggaam binnedring en vernietig, of ten minste probeer. Die huis van Agab het die huis van Dawid binnegedring, net soos die slang die tuin binnegedring het, tot hulle vernietiging. Die saad van die slang het probeer om die saad van die vrou te verstik.
Die dwaasheid van Josafat se besluit word oorgedra. En sy seuns herhaal die sondes van hulle oupa. Kyk na vers 5: “Hy het ook volgens hulle raad gewandel en met Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, saamgetrek in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram, by Ramot in Gílead.” Hy sluit 'n verbond met dieselfde mense om dieselfde stad aan te val. Dwaas.
Dieselfde uiteinde ook... die koning van Israel is gewond en sterf uiteindelik. Maar in plaas daarvan om huis toe te gaan na die vrede van Jerusalem, gaan besoek Ahásia die gewonde koning! En weer eens, net soos wat die voorsienigheid van God agter die pyl was wat Agab getref het, lees ons in vers 7 dat “die ondergang van Ahásia was van God, dat hy na Joram moes kom.” Want Jehu, 'n dienaar wat deur God aangestel is, wat gestuur word om die huis van Agab te oordeel, vang hom weg van die stad van Dawid en maak hom dood op die plek waar die hele gemors begin het – Samaria.
Ahasia het onsuksesvol in Samaria probeer wegkruip vir die wraak van Jehu. Maar hy het misluk, want God het geweet waar hy was, en hy het nie skuiling gaan vind by God in Jerusalem in die tempel nie, maar weg van Hom af.
Ons sien in die volgende hoofstuk 'n koning wat beskerm word wanneer hy skuiling soek in die tempel. ‘n Pragtige kontras. Jy kan nie van God af weghardloop nie. Jy kan net in Hom skuiling soek. Dit is die enigste veilige plek in die heelal. In die tempel van die Here, in die midde van Godse volk. Die kerk.
En hy word na Jerusalem geneem en daar begrawe, want, soos die Bybel sê: “hy is die kleinseun van Josafat, en Josafat het die Here met sy hele hart gedien.” Die enigste goeie ding wat oor hom gesê kan word is dat hy die kleinseun was van iemand wat die Here met sy hele hart gesoek het.
En dit eindig met die hartverskeurende sin: “En daar was niemand in die huis van Ahásia wat in staat was om te regeer nie.” Daar was niemand om oor die huis van Dawid te regeer nie. Dit het gelyk asof alles verlore is. Dit het gelyk of die saad van die slang oorwin het. O, hoe gereeld kom hierdie gevoel nie oor die kerk nie – dikwels as gevolg van hul eie sondes. Dit was donker tye in Israel as gevolg van hul geestelike owerspel.
Terselfdertyd is dit 'n groot bemoediging, want maak nie saak hoe sleg of donker dinge ook al is nie, God is getrou aan sy verbond! Hy sal sy belofte nakom! Daar is altyd 'n oorblyfsel. Maar ons het nog nie die onderste punt bereik nie. Die koninkryk van Juda sou nog 'n stap laer gaan, en basies die koninkryk van Israel word.
'n Dood van goddeloosheid bring 'n verbondsvernuwing teweeg
Dit gebeur wanneer iemand wat geen reg op die koninkryk het nie, dit met geweld neem. Atalia – die dogter van Agab. En dit voltooi die transformasie. Juda het Israel geword. Alles as gevolg van een huweliksverbond.
'n Ouma is gewoonlik versot op haar kleinkinders en spog met hulle prente. Maar nie hierdie een nie. Sy vermoor haar eie kleinseuns en enigiemand anders wat haar troon kan bedreig. Sy probeer doen wat God self nie sal doen nie weens sy verbondsbeloftes – die huis van Dawid vernietig. Die saad van die slang probeer die saad van die vrou heeltemal uitwis. Die geboorte van die Messias hang aan 'n draadjie. Die oorlog woed. Dit lyk asof die Dawidiese dinastie verdwyn het. Daar is net een ding wat oorbly: God.
Atalia kan nie die werk voltooi nie. Want 'n pleegmoeder red een van die klein kinders en steek hom weg. Dit is die kompetisie van die moeders. Die beskermende moeder teenoor die kannibale moeder. Josabat. Haar naam beteken ‘Jahweh belowe’. God gebruik hierdie getroue vrou om sy eed te handhaaf om die lamp van Dawid in stand te hou. Dit is deur die vrou wat die sonde in die wêreld gekom het, en deur die vrou wat die redding in die wêreld gekom het.
Atalia is die saad van ‘n slang. Sy is soos ‘n farao wat babas uit die koninklike familie van Israel slag, en Joas is 'n nuwe Moses wat die agent sal wees om die verbondswet te herstel.
Josabat, wat waarskynlik die kind se ma was en met die hoëpriester Jójada getroud was, verberg die seun in die huis van God. En vir ses jaar was daar een wat grootgemaak is in die huis van Agab wat oor Juda regeer, en 'n jong seun wat grootgemaak is in die huis van die Here, wat die regmatige Koning is.
Waar jy grootword en wat jou van jongsaf beïnvloed maak 'n groot verskil wat betref die rigting van jou lewe. Liewe gemeente, ons is die tempel van God – vaders, julle is die priesters in julle huise, geroep om julle kinders op te voed in die vrees van sy Naam.
Vir die eerste ses jaar lyk dit vir Atalia asof sy gewen het, en ek is seker dat baie van die regverdiges in die land dieselfde sou voel terwyl hulle toegekyk het hoe die huis van Dawid deur hierdie bose koningin uitgewis word. Hulle het miskien in hulle harte saam met Psalm 73 gesing: Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien... Daarom is die trots om hulle soos 'n halssieraad, die geweld bedek hulle soos 'n gewaad. Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor. Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte. Maar as hierdie mense net 'n blik op die gebeure in die huis van die Here kon kry, sou hulle die einde van die goddelose sien.
Na ses jaar word die hele vergadering byeengeroep (23:3). Pragtig. 'n Volk het bymekaargekom rondom die tempel en die priesterskap, en verhef hulle in die lyn van Dawid in aanbidding! Hierdie woord word slegs in Kronieke gebruik in die konteks van herlewing, hervorming en verbondshernuwing. Die magte van goddeloosheid het nie die laaste woord nie.
Jójada plaas die Leviete strategies by verskillende hekke, en hy gee aan hierdie manne die wapens van God wat uit die tempel van God gekom het. Die huis van God en die koning moet bewaak word! Want dit is heilig! Dit het nie oor Jójada of Joas gegaan nie, maar oor God en sy verbond. Sy eer is op die spel, en hier was sy soldate.
Wat 'n verrassing moes dit tog vir hierdie goddelose vrou gewees het toe sy die geskreeu hoor: "Lank lewe die koning!" Sy het gedink dat sy die Dawidiese koninkryk vir altyd doodgemaak het! Maar dit het weer opgestaan en hierdie koning sal die slang, Atalia, verpletter. Dit is presies wat soveel jare later gebeur het toe Herodes al die babas in Betlehem uitgewis het. Hy het geglo hy was veilig, net om uit te vind dat dit die Dawidiese koningskap is wat veilig is, omdat dit beskerm is deur die verbondsbeloftes van God.
In teenstelling met Atalia, is Jójada nie selfsugtig nie. Hy doen 'n beroep op die beloftes van God wat in die Dawidiese verbond geanker is (21:2). Want sien, in die koninkryk van God gaan dit nie oor eiebelang nie. Dit gaan oor God se belang. En dit is waarop Jójada fokus. Dit gaan nie daaroor om onsself eerste te stel nie, maar God eerste.
Atalia roep uit: Verraad! Wat natuurlik baie ironies is, want dit is sy wat al die seuns van Dawid doodgemaak het en die verraad gepleeg het. Dit is daardie mense wat mag verkry deur middel van onderdrukking en onreg, wat eerste uitroep: Dis nie REGVERDIG nie!!!
En Jójada beveel dat sy gedood moet word asook enigiemand anders wat haar gevolg het. Want dit was in werklikheid hulle wat verraad gepleeg het teen die Allerhoogste God! Die kwaad moes heeltemal uit die weg geruim word – almal wat verraad gepleeg het, moes onder die kinders van God uit gesuiwer word.
En dadelik sien ons hoe Jójada verder optree. Die priester het sy taak verrig van begin tot einde – om die sonde onder die volk uit te suiwer. En 'n verbond te sluit. Lees vers 16: “En Jójada het 'n verbond gesluit tussen homself en die hele volk en die koning, dat hulle 'n volk van die Here sou wees.” 'n Verbond – ‘n bindende ooreenkoms van getrouheid aan God! En dit beteken aksie! Wat presies besig was om te gebeur.
Alle valse aanbidding word vernietig en afgebreek, en ware aanbidding word herstel. In terme van opoffering, lofprysing en beskerming van alles wat heilig is. En daar is eenheid, soos ons in vers 20 lees – en die hele volk van die land het die koning gebring uit die huis van die HERE, en hulle het die koning op die koninklike troon laat sit! Dawid se troon is herstel! God se beloftes het nie misluk nie.
En die slotsom van die saak is: “Al die burgers van die land het gejuig en dit was rustig in die stad omdat Atalia dood was.” Soos die Bybel sê: die oordeel van die goddelose kom terug na hulle toe, en uit die hemel het U 'n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword (Psalm 76: 8).
Deur die geslagte heen sien ons dat sonde tot die dood lei. Ons word wat ons nastreef. Daar is nie gemeenskap tussen goed en kwaad nie. Ons moet die kwaad weerstaan, waar ons dit ook al sien, en nie 'n bondgenootskap daarmee sluit nie, anders vernietig dit ons. Kyk na die Verbondsgod in die donkerste tye, vertrou op sy voorsienigheid. Sy beloftes kan nie misluk nie. Die Koning het 'n verbond met ons gesluit. En ons kan die kwaad ontwortel waar ons dit ook al sien. Dan eers kan daar Vreugde en Stilte wees. Lofprysing. Aanbidding. En Vrede! Dit is wat gebeur wanneer goddeloosheid verdryf word en aanbidding van God herstel word.
Amen.