Christus roep die kindertjies na Hom toe!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-05-07
Text: 
Dordtse Leerreels 1,17-18
Preek Inhoud: 

Die eerste hoofstuk van die Dordtse Leerreëls eindig met indringende woorde (paragraaf 18):

“O mens, wie is jy wat teen God antwoord?” (Rom 9:20)

Gemeente, ook as ons na vanaand se preek gaan luister, doen ons dit met hierdie houding.

Wie is ek om oor sulke dinge te praat?

Laat ons ook vanaand bely: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! ... wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?” (Rom 11:33-36)

 

Tema: Christus roep die kindertjies na Hom toe!

1 Lojaliteit aan jong kinders

2 Oproep aan ouer kinders

 

1 Lojaliteit aan jong kinders

By die lees van paragraaf 17 oor jong kinders moet ons ook die aanleiding hoekom die Dordtse Leerreëls geskryf is, onthou.

Die Remonstrante het gewaarsku dat mens nie oor uitverkiesing kan praat as dit oor kinders gaan nie.

Kinders kan nog nie in die Here glo nie.

God kan nog nie enige geloof in hulle vooruitsien nie, omdat hulle al sterf voordat hulle met hulle lewe kan wys dat hulle glo.

Net so kan daar nie van verwerping sprake wees nie, omdat hulle nog nie die kans gehad het om bewus die Evangelie te verwerp nie.

Ook het die Remonstrante gesê dat die erfsonde, waarmee elke kind gebore word, nie genoeg rede vir verwerping is nie.

Dus het hulle gekonkludeer dat alle kinders wat vroeg te sterwe kom, hemel toe gaan, omdat hulle so goed as onskuldig is.

In feite is dit die ou dwaling van Pelagius, wat die erfsonde verwerp het, en beweer het dat mense slegs sondig word as hulle ander se slegte gewoontes naboots, maar dat elke mens soos ‘n skoon wit vel papier gebore word.

 

In paragraaf 17 bely ons as kerk wat ons, op grond van die Bybel, glo oor kinders wat op jong ouderdom sterf.

Let wel dat daar hier net geskryf word oor die verbondskinders.

Daar woord geen oordeel uitgespreek oor kinders buite die genadeverbond nie.

Dit is nie deel van die belydenis nie.

Daar was deur die eeue teoloë, ook Gereformeerdes, wat beweer het dat alle kinders gered sal word.

Maar in die Dordtse Leerreëls word nie ‘n mening hieroor uitgespreek nie.

Let wel, die Dordtse Leerreës sê ook nie dat kinders van ongelowige ouers ongetwyfeld hel toe gaan nie.

Laat dit duidelik wees: Die Dordtse Leerreëls sê niks oor hulle nie.

Die rede: Daar is nie genoeg Bybelse grond vir so ‘n bewering nie, hetsy hulle hemel of hel toe gaan.

In paragraaf 17 word daarom net oor die kinders van die gelowiges geskryf.

 

Natuurlik het die afgevaardigdes in Dordrecht gehoop dat sulke kinders van ongelowige ouers ook gered mag word, en net so hoop ons ook dat alle kinders wat jong te sterwe kom, gered mag word.

Maar in die Skrif openbaar die Heilige Gees vir ons nie genoeg hieroor, en ons moet altyd oppas om meer te sê as wat in die Skrif staan.

Hierdie beslissing laat ons in die hand van die hemelse Regter, wat ons ken as baie genadig.

 

Waar die Bybel swyg oor die ewige toekoms van die kinders van ongelowiges, is dit nie die geval oor die ewige bestemming van kinders van gelowiges nie.

Daar word dus ‘n onderskeid gemaak tussen gelowiges en ongelowiges se kinders.

Die Skrif sê duidelik dat die belofte gegee word vir die gelowiges en vir hulle kinders.

Hierdie frase kom uit Handelinge 2:39.

Dit volg direk op Petrus se oproep dat elkeen homself moet bekeer en gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes.

Dit is die belofte – vergewing van sondes.

En vergewing van sondes is sinoniem met die ewige lewe.

Want dit is wat mense skei van die ewige lewe.

Dink aan die sondeval in die paradys.

Nadat Adam en Eva gesondig het, het hulle die ewige lewe verloor.

Die belofte is dus vergewing van alle sondes, ook die erfsonde, dit wil sê die aangebore neiging om te sondig.

En hierdie belofte van vergewing gee die ewige lewe.

Hierdie belofte is dus vir die wat hulle bekeer en hulle kinders.

Nou beweer Baptiste soms dat mens hierdie vers nie mag gebruik om te sê dat kinders ook gered sal word nie.

Volgens hulle begin hierdie belofte eers ook vir hulle geld, sodra hulle hulle bekeer het.

As hulle jonk is, is die belofte net vir hulle teoreties beskikbaar, maar dit moet wag totdat hulle later hulleself bekeer het.

Maar dan kom daar by ons direk die vraag:

Sê nou ‘n baba sterf kort na geboorte, dan kon die baba mos nog nie blyk gee van bekering nie?

En dit was nie Petrus se bedoeling nie!

Christus se vergewing van sondes, die ewige lewe, word hier aangebied aan gelowiges en hulle kinders, ook kinders wat nog baba’s is.

As die baba van ‘n gelowige sterf, hoef daar dus nie twyfel te wees nie!

Is dit nie wonderlik nie, gemeente!

Vroeër, in die tyd toe die Dordtse Leereëls, het daar baie baba’s gesterf.

Maar ook vandag gebeur dit nog, ons mag dankbaar wees wel minder, maar tog dat ouers ‘n kind verloor wat nog baie jonk is.

In besonder vir hulle, en laat ons nie die boeties en sussies en grootouers vergeet nie, is hierdie paragraaf 17 baie troosvol!

En dit, tereg, op basis van byvoorbeeld Handelinge 2:38-39, waar gelowiges en hulle kinders ‘n baie troosryke belofte ontvang.

 

Paragraaf 17 verwys ook na 1 Korinthiërs 7:14.

Wat ons daar leer is dat selfs as net een ouer ‘n Christen is, ook dan geld die belofte, ook dan is die kind ‘n verbondskind.

Omdat hulle in ‘n gelowige gesin gebore is – al is dit slegs ‘n gesin met een gelowige ouer – ook dan is die kind geheilig.

Hierdie woord in Korinthiërs beteken: toegewy.

Heilig beteken nie sonder sonde nie, maar aan die Here toegewy.

Danksy ‘n gelowige ouer, is hulle ook van die wêreld afgesonder.

Ook vir so ‘n jong kind geld, as hy te sterwe kom, dat die belofte van vergewing van sondes en ewige lewe vir hom geld.

Gemeente, waar hierdie op neerkom is dat God vanaf dag 1 lojaal is.

As Hy by die doop sy verbond sluit, dan begin die belofte nie eers geld as die kind ‘n bekeerde lewe begin lei nie.

Vergelyk hierdie vir ‘n oomblik met ouers wat ‘n kind aanneem.

‘n Jong kind, ‘n baba.

Sê nou maar daardie ouers kom ‘n dag na aanneming agter die kind het ‘n gebrek, kan die ouers so ‘n kind dan weer terugbring?

Ons soek nie meer die kind nie ...

Dis nie wat ons van die kind verwag nie ...

So is ouers nie, altans betroubare ouers.

Hulle is vanaf dag 1 lojaal.

Ook al stel die adopsiekind teleur, bly hulle lojaal.

Selfs al sterf die adopsiekind na een dag, tog, omdat die kind die vorige dag hulle naam gekry het, sal dit hulle kind bly.

Sy naam sal nie meer verander word nie.

Want die ouers het met daardie kind ‘n verbond gesluit, hulle eie naam aan die kind verbind.

Dit is wat ons noem lojaliteit.

As adopsie-ouers lojaal is, hoeveel te meer ons troue Verbondsgod!

 

Kinders van gelowige ouers is dus afgesonder van die wêreld.

Hulle is nie meer heidene nie.

Ook al is daar nog nie wedergeboorte in hulle lewe sigbaar nie.

Hoewel ontvang en gebore in sonde, tog is hulle verbondskinders.

Die beloftes van die Evangelie is ook op hulle voorhoofde verseël met die doop.

Daarom is daar geen rede vir gelowige ouers om te twyfel aan die verkiesing en redding van hulle kindertjies nie.

 

In paragraaf 17 word spesifiek die woord Godvrugtige ouers gebruik.

Wat word daarmee bedoel?

Dit is ouers wat ernstig is oor hulle geloof, wat wil lewe met sekerheid oor hulle eie redding en die van hulle kinders.

Natuurlik moet ons nie die fout maak deur te dink dat die vroomheid van ouers die rede is dat hulle kindjie gered word nie.

Dit is hoegenaamd nie die bedoeling van hierdie paragraaf nie.

Dit is nie die vroomheid of gebrek aan vroomheid van ouers wat bepaal wat die ewige bestemming van ons kinders gaan wees nie.

Glad nie.

Wat wel so is, en daarom is hierdie paragraaf aan die Dordtse Leerreëls toegevoeg, is dat die Satan juis Godvrugtige ouers dikwels kan lastig val.

Juis hulle, vir wie hemel en hel ‘n realiteit is, kan worstel met die vraag waar hulle kind nou is.

Oppervlakkige ouers sal nie oor so ‘n vraag ‘worry’ nie.

Godvrugtige ouers wel, en juis daarom het hulle behoefte aan vertroosting.

‘n Vertroosting wat hierdie paragraaf wil bied, gebaseer op die Skrif.

Want Godvrugtige ouers sal nie tevrede wees met die antwoord van ‘n teoloog nie.

Hulle wil dit hoor uit die Skrif, uit die mond van die Here self.

Is die beloftes van die verbond ook vir hulle klein oorlede kind bedoel?

Ons het al na Handelinge 2 gekyk, waarin daar ‘n duidelike boodskap is vir sulke ouers.

En dit is ‘n groot troos as ouers by die oop graf van hulle eie kindjie staan met hierdie besef.

 

Nogmaals, die bedoeling is om te troos.

Juis Godvrugtige ouers het behoefte aan daardie troos.

Hulle word getroos met die wete dat as dit die Here behaag om hulle klein kind weg te neem, Hy soos ‘n goeie herder hulle kind soos ‘n lammetjie in sy arms sal neem.

Hy doen dit, nie omdat die ouers Godvrugtig is nie, maar slegs op grond van sy genade.

Hierdie belofte mag ouers toeëien, ook vir hulle jong kinders.

Hulle kindertjies is veilig in Jesus se arms.

 

2 Oproep aan ouer kinders

Nou is dit so dat sommige van ons, as ons hierdie boodskap hoor, verder dink, logies nadink, en probeer konsekwensies trek.

Want, soos ons weet, daar is ook verbondskinders wat, as hulle opgroei, nie Godvrugtig wil lewe nie.

Ongelukkig is daar verbondskinders wat opgroei en hulle rug draai op die God in wie se Naam hulle gedoop is.

Hoe werk dit?

Hoe weet ons dat ‘n kind wat vroeg sterwe, nie dalk later ook so sou uitgedraai het nie?

 

Gemeente, laat dit voorop staan, hierdie droewige feit dat daar inderdaad verbondskinders is wat later afvallig word, verander niks aan bogenoemde belofte dat kinders wat jonk sterf by die Here is nie.

Wat dit betref mag ons jong en ouer kinders nie oor dieselfde kam skeer nie.

As ons dit doen, dan verval ons in verbondsoutomatisme aan die een kant of verbondspessimisme aan die ander.

Verbondsoutomatisme, daarmee word bedoel dat gedoopte kinders altyd gered sal word.

Dat as ‘n kind kerklid is, so ‘n kind gered sal word, ongeag of daar vrugte van geloof sigbaar is of nie.

Ja natuurlik hoop ons dat die kerkjeug gelowig lewe, maar as dit nie duidelik is nie, as hulle maar heel wêrelds hulle gedra, ook dan as hulle sterf is ons maklik om te sê dat hulle hemel toe is.

Nou hierdie redenering is glad nie die bedoeling van paragraaf 17 nie.

Net soos hierdie artikel krities is op verbondspessimisme, naamlik dat ons nie weet wat met ‘n jong gestorwe kind sal gebeur nie, so moet ons net so krities wees op die houding dat kerkjeug per definisie hemel toe gaan.

En laat ons eerlik wees, dit is die algemene tendens deesdae in so baie kerke.

As iemand maar min of meer ordentlik geleef het, sal hy hemel toe gaan.

So maklik sê ons by ‘n begrafnis dat iemand nou by die Here is.

 

Hierdie is ‘n gevolg van geestelike oppervlakkigheid wat in kerke posgevat het.

Asof die hemelse heerlikheid vir ieder en elk bestem is, solank jy maar aan ‘n kerk behoort.

Dit was beslis nie die bedoeling van die troosvolle woorde in paragraaf 17 nie.

Om gered te word is ‘n groot wonder, dit is nie iets wat vanselfsprekend is nie.

In ons tyd besef baie kerkmense nie meer hulle eie doemwaardigheid nie.

En hulle is ook nie meer verbaas oor die feit dat aan hulle soveel genade bewys kan word nie.

Alles het gewoon, ja oppervlakkig, geword.

Dis selfs hoe daar oor God gedink word.

God is ‘n God van liefde wat nie iemand kwaad sal aandoen nie, natuurlik sal almal hemel toe gaan.

So ‘n oppervlakkige boodskap van redding vind ons nie in die Dordtse Leerreëls nie.

Die belofte van redding van jong kinders skitter teen die donker skaduwee van ons sondeval, ook die jong kind se sondeval, en daarom ons en sy doemwaardigheid.

 

Dus het hierdie paragraaf nie net ‘n boodskap vir ouers wat kinders verloor het nie.

Juis aan ouers wat kinders mag opvoed, klink die boodskap:

Wees ernstig met die geloofsopvoeding.

As jy dit verwaarloos, sal die Here jou later verantwoordelik hou.

Want soos wat ‘n kind groter word, neem sy toerekeningsvatbaarheid toe.

‘n Kind van 12 jaar of 15 jaar of 18 jaar, dit is anders as ‘n kleuter.

Van so ‘n ouer kind verwag God al ‘n antwoord, wat moet blyk uit sy lewe, in woord en daad.

Deur die jare groei ‘n kind na volle toerekeningsvatbaarheid, tot hy geloofsbelydenis aflê.

Laat ons as ouers, en die hele gemeente saam met hulle, erns maak met die opvoeding van ons jeug.

En julle, jongmense, besef dat jou redding nie outomaties is nie.

As jy wêrelds begin lewe, dan geld die belofte van paragraaf 17 van die Dordtse Leerreëls nie vir jou nie.

Toe jy nog ‘n baba was, was jou ouers vir jou verantwoordelik.

Jy was ook nog te jonk om te getuig van jou geloof in wat jy sê en hoe jy lewe.

Maar noudat jy byvoorbeeld ‘n tiener is, het dinge verander.

Nou mag die Here tereg vrugte verwag van die boom wat hy geplant en laat grootword het.

Nie net ou mense moet geloofsvrugte dra nie.

Daar bestaan nie ‘n tydperk in jou lewe dat jy van die lewe kan geniet in ‘n wêreldse sin van die woord nie.

Dan dobbel jy met jou saligheid.

Maar ons geniet die lewe in diens van die Here.

Dis die hoogste genot.

Dit is dus heeltemal tereg as ouers graag vrugte van geloof in jou lewe wil sien.

Hulle wil sien dat jy self inisiatief neem om Bybel te lees en te bid.

Hulle wil hoor dat jy nie net entoesiasties oor jou stokperdjie kan praat nie, maar ook oor die geloof.

En net so wil die dominee en die ouderlinge dit by jou hoor.

As jy 7 jaar is en op huisbesoek niks durf te sê nie, dan is dit verstaanbaar.

Maar as jy 17 jaar is en nog steeds met ‘n mond vol tande sit as ‘n geloofsvraag aan jou gevra word, dan is iets nie reg nie.

Het jy wel gegroei in die geloof die afgelope 10 jaar?

Wat ‘n groot vreugde is dit as ouers, predikant en ouderlinge waarneem dat ‘n jongmens bewus sy lewe aan die Here wy, ernstig is oor kerksake, oor geloofsake.

 

En nog veel groter vreugde is dit vir die Here.

Hy, die eienaar van die wingerd, wag met verlange na vrugte.

Jy is destyds gedoop in sy Naam.

Daarna het Hy buitengewone sorg aan jou spandeer.

Deur jou ouers se opvoeding, deur die kerkdienste, deur die katkisasie, deur die skool.

So is jy afgesonder van die wêreld en is jy geplaas op die pad van toewyding aan Hom.

Nou vra Hy tereg aan jou:

Begeer jy werklik om Jesus Christus te ken en alleen vir Hom te lewe?

As jy dit begeer, is dit ‘n pragtige vrug.

En dan is God vinnig om aan jou te beloof:

Jou begeerte om gered te word deur my Seun, is nog niks vergeleke by my begeerte om jou inderdaad te red deur die offer van my Seun!

Moenie dit uitstel nie.

Die Here beloof: Hulle wat My vroeg soek, sal My vind – Spreuke 8:17 (Engels KJV)

Vroeg, dit wil sê, as jy nog jonk is.

Aan sulkes, sê Jesus, behoort die koninkryk van die hemele (Matt 19:14).

Dit was die klein kindertjies wat deur hulle gelowige ouers na Jesus gebring is.

En dit geld ook vir opgroeiende kinders, wat al op jong ouderdom die Here liefhet en in hulle kinderhart besluit om vir Hom te lewe.

 

Ek sluit af.

Christus roep die kindertjies na Hom toe.

Dit is die tema van vanaand se preek.

Vanaf dag 1 wat Hy sy verbond gesluit het, is Hy lojaal.

‘n Verbondskind wat jonk sterf, sal Hy in sy heerlikheid opneem.

Net so is Hy ook lojaal aan ouer kinders.

Hy plaas hulle op die lewenspad wat na die ewige lei.

Hy gee hulle ‘n Godvresende opvoeding, deur gebruik te maak van hulle ouers, predikant, ouderling, onderwyser, ensovoorts.

En soos hulle groter word, begin Hy ook vir vrugte in hulle lewens soek.

Ja hulle word opgeroep om sy lojale liefde te beantwoord met hulle troue diens aan Hom.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 2:32-43 & Spreuke 3

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,17-18

Tema: Christus roep die kindertjies na Hom toe!

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat het die Remonstrante gesê oor die saligheid van klein kinders wat te sterwe kom?
  2. Watter tipe ouer sal geneig wees om te twyfel oor sy oorlede kindjie se saligheid?
  3. Hoekom kan Godvresende ouers seker wees van hulle kind se saligheid, as hy jonk te sterwe kom?
  4. Wat word daarmee bedoel dat God vanaf dag 1 lojaal is?
  5. Watter vrugte is sigbaar in die lewens van die jeug van ons gemeente?

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 78:2

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:32-43

Ps 147:5

Skriflesing: Spreuke 3

Ps 34:6,8

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,17-18

Preek

Sb 15:1-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 22:8-11

Kollekte

Ps 103:6,7,9

Seën