God maak sy kinders seker van hulle uitverkiesing

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-04-02
Text: 
Dordtse Leerreels, 1,12-14
Preek Inhoud: 

God maak sy kinders seker van hulle uitverkiesing.

Dit is waarna ons vanaand mag kyk.

Dit is ‘n sekerheid wat Hy skenk, nie wat sy kinders self kry nie.

Dink aan die gelykenis wat ons gelees het – die Fariseër en die tollenaar wat by die tempel gaan bid het.

Duidelik het die Fariseër sekerheid gehad.

Sy sekerheid was gebaseer op die feit dat hy twee keer per week gevas het, tiendes van al sy inkomste gegee het, en dat hy nie soos die rowers, onregverdiges, egbrekers of ook daardie tollenaar langs hom was nie.

Daarenteen het dit gelyk of die tollenaar geen enkele sekerheid gehad het nie.

Tog het hy uiteindelik huis toe gegaan met die wete dat hy geregverdig is.

Duidelik hoort sekerheid nie by hoogmoedige mense nie, maar juis by die nederiges.

 

Ek mag u vanaand die Evangelie bring van die sekerheid van die uitverkiesing.

 

Tema: God maak sy kinders seker van hulle uitverkiesing

1 Hoe Hy dit doen

2 Wanneer en waar Hy dit doen

 

1 Hoe Hy dit doen

Niemand word outomaties salig nie.

Niemand kom in die hemel sonder dat hy dit tydens sy lewe geweet het nie.

Daar is teoloë wat beweer dat die groot verrassing van die toekoms gaan wees dat die hele mensheid in die hemel gaan opeindig.

Dat God se genade so groot gaan wees, sy hart so ruim, dat Hy elke mens sal begenadig, selfs hulle wat sy Seun Christus verwerp het, selfs ‘n Hitler en Stalin en Poetin wat sonder berou derduisende mense vermoor het.

Hierdie opvatting strook nie met die Bybel nie.

Hulle wat salig word, verlang op aarde reeds daarna.

Hulle wat uitverkies is, word tydens hulle lewe op aarde daarvan deur God verseker.

 

Dit gebeur egter nie vir elkeen op dieselfde wyse nie.

Die een mag vanaf sy doop en kinderjare opgroei met die sekerheid dat die hemelse Vader oor hom of haar waak.

Die ander een kom eers op latere ouderdom tot geloof.

Byvoorbeeld nadat dit die Here behaag het om ‘n sendeling na sy dorp te stuur, ‘n kerk daar te plant, en hom so in aanraking met die Evangelie te bring – iemand wat eers op volwasse leeftyd tot geloof kom, gedoop word en by die kerk aansluit.

Wat egter dieselfde is, is dat die HERE hulle tydens hulle lewens tot Hom roep.

En dat Hy hulle ook sekerheid gee.

Hierdie paragrawe uit die Dordtse Leerreëls fokus op die sekerheid van die uitverkiesing.

Dat dit moontlik is om sekerheid te hê.

En dat dit nie net moontlik is nie, maar dat dit ook noodsaaklik is.

Dat ons opgeroep word om na hierdie sekerheid te streef.

Dink aan 2 Petrus 1: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak.” (vers 10)

Sekerheid van die uitverkiesing is ‘n integrale deel van ‘n gelowige se lewe.

Dit staan teenoor wat die Remonstrante beweer het, naamlik dat volledige sekerheid nie moontlik is nie.

Selfs dat dit nuttig is om aan jou saligheid te twyfel.

Die Roomse Kerk beweer dit ook.

As jy twyfel aan jou saligheid, dan motiveer dit jou om meer goeie werke te doen.

Hulle het gepraat van ‘n onseker sekerheid.

 

Ook onder sommige Gereformeerdes word as uitgangspunt geneem dat sekerheid nagenoeg onmoontlik is, vir die meeste kerklidmate buite bereik.

Hierdie opvatting vind ons regtig nie in die Skrif terug nie.

As Paulus tot die Efesiërs skryf, hoor ons nie in sy woorde ‘n pessimisme dat die meeste lidmate in die gemeente nie seker kan wees nie, inteendeel.

 

Maar sekerheid ontvang hulle nie deur op hulleself te vertrou, soos die Fariseër in Lukas 18 nie.

Sekerheid ontvang hulle net so min, soos paragraaf 12 sê, deur nuuskierig op soek te gaan na die verborgenhede, die vir die menslike verstand onpeilbare dieptes van God.

Dit wil sê, ons kry dit nie deur ‘n intellektuele soektog nie.

 

Ook kry ons dit nie deur ‘n bonatuurlike openbaring nie.

Ons moet nie streef na, ons moet nie verlang na, ons moet nie wag op ‘n bonatuurlike ervaring nie.

Let wel, dit is nie die manier waarop die Here sekerheid aan sy kinders wil gee nie.

Ons kyk in hierdie eerste punt na hoe die Here sekerheid gee.

Dus laat dit duidelik wees, ‘n spesiale ervaring, direk van Bo, is nie die manier hoe die Here sekerheid gee nie.

Soms vertel mense oor ‘n droom of ‘n visioen wat hulle gehad het, of ‘n unieke gebeurtenis wat hulle in hulle lewe ervaar het.

En dan redeneer hulle: Dit kan nie toevallig wees nie, God wou vir my daarmee iets sê.

Nou is dit so dat God inderdaad ook met sy kinders praat deur die skepping, deur sy voorsienige leiding van hulle lewens.

Maar weer eens, dit is nie die manier waarop Hy vir hulle sekerheid van hulle uitverkiesing wil gee nie.

 

Hy het ‘n ander manier gekies om vir jou sekerheid te gee.

Hy het ‘n baie gewone manier daarvoor gekies, gewoon, maar daarom nie minder wonderlik nie.

En daardie gewone manier is as Hy met ons praat in sy Woord.

Dit is in die Bybel wat Hy aan sy kinders openbaar wie hulle is en wat sy planne met hulle is.

Sy Woord is naby.

“Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (Deut 30:14)

En in die Bybel vertel Hy ook aan sy kinders op watter tekens hulle moet let, waaruit die sekerheid van hulle uitverkiesing kan ontvang.

Hierdie tekens word vrugte genoem.

Vrugte wat in jou lewe as gelowige begin posvat.

 

Dit Dordtse Leerreëls noem wat dit betref vier vrugte:

- ware geloof in Christus;

- kinderlike vrees vir God;

- droefheid oor die sonde;

- honger en dors na die geregtigheid.

Hierdie vier vrugte is nie almal nie, dit is vier baie belangrikes.

Daar kan nog meer vrugte genoem word wat ons in die Skrif vind.

 

Sekerheid ontvang ons dus as ons hierdie vrugte in ons eie lewens sien.

Hulle is ‘n bewys dat Jesus sy Gees ook aan jou gegee het om jou lewe te verander, sodat jy vrugte begin dra, soos ware geloof, droefheid oor jou sonde, kinderlike vrees en verootmoediging voor God, honger en dors na die geregtigheid.

Al hierdie vrugte laat die besef wakker word dat Christus ‘n goeie werk in jou begin het, en dit is ‘n teken van God se verkiesende liefde.

Anders sou Hy nie sy Seun aan jou gegee het om ‘n goeie werk in jou lewe te begin nie.

 

Kom ons kyk kortliks na elkeen van hierdie vier vrugte.

Eerstens, ware geloof in Christus.

Ware geloof beteken dat daar ook valse geloof kan wees.

Nie elkeen wat homself gelowig noem, is gelowig volgens die Bybel nie.

Ons ken uit die Bybel voorbeelde van mense wat net geïnteresseerd was in die wonders wat Jesus gedoen het.

Hulle het nie in sy woorde, in sy prediking, belanggestel nie, net in die spektakulêre wonders wat Hy gedoen het, en wat hulle daaruit kon kry, watter baat hulle daarby gehad het.

So is daar vandag ook mense wat ‘n voorspoedsgeloof het.

Hulle glo vir dit wat hulle daaruit kan kry.

Hulle glo nie omdat hulle werklik lief is vir die Here nie, maar net omdat hulle wil hê Hy moet hulle kanker genees, of Hy moet vir hulle ryk maak, of Hy moet vir hulle kinders gee, ensovoorts.

Ware geloof in Christus beteken egter liefde vir die Here, beseffende dat dit ook mag beteken dat ons ‘n kruis hier op aarde sal moet dra.

 

Net vir die duidelikheid, ‘n ware geloof kan wel swak wees van tyd tot tyd.

‘n Swak, ‘n wankelende geloof is nie noodwendig ‘n valse geloof nie.

Tot dusver die eerste vrug.

 

Die tweede vrug is kinderlike vrees vir God.

Eerbied vir God, beseffende hoe groot en almagtig Hy is.

Maar terselfdertyd wel kinderlike eerbied, nie slaafse eerbied nie.

Nie net God vrees omdat jy bang is dat jy andersinds hel toe gaan nie.

Ons eerbied is nie uit angs gedrewe nie, maar dis ‘n begeerte.

In ons eerbied vir die Here is daar ook liefde.

 

Die derde vrug is droefheid oor die sonde.

Gelowiges sondig ja, maar hulle kan nie meer sondig sonder dat hulle daaroor sleg voel nie.

Sonder dat hulle gewete hulle daaroor behoorlik pla nie.

Gelowiges leer om die sonde te haat soos God dit haat.

 

En dan is die vierde vrug honger en dors na die geregtigheid.

Hier gaan dit nie net oor in jou gebed vergewing vra en daarna inderdaad vergewing danksy Christus se geregtigheid ontvang nie.

Daarmee begin dit, inderdaad.

Maar dit gaan ook oor die honger en dors, dit wil sê die begeerte om vervolgens ook daadwerklik regverdig te lewe.

In die sin gaan dit hier dus ook oor die heiligmaking.

Hierdie heiligmaking, die feit dat jou lewe ten goede verander, is ‘n vrug waaruit jy sekerheid kry.

Soos Sondag 32 van die Kategismus sê:

“sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry”.

 

Vier vrugte, en so gesê, daar is nog meer.

Wat dit betref beklemtoon die Dordtse Leerreëls dat die uitverkiesingsleer mense nie onverskillig maak nie, hulle nie ‘n valse gerustheid gee nie.

‘n Oppervlakkige sekerheid wat lei tot ‘n losbandige lewe sonder om te ‘worry’ omdat jy tog uitverkies is, nee, dis nie waartoe hierdie leer lei nie.

Dit aan die een kant.

Aan die ander kant lei hierdie leer ook nie tot angs en twyfel nie.

Die Here wil dat ons ons geloof geniet.

Hy wil nie dat ons die hele tyd somber moet wees, bang dat ons dalk tog nie uitverkies is nie.

Dit is teen sy wil.

 

In beide hierdie twee gevalle – oppervlakkigheid aan die een kant of somberheid aan die ander – in beide gevalle word die uitverkiesingsleer verkeerd verstaan, verkeerd verkondig.

Want in die Skrif word dit geopenbaar tot troos en blydskap van die gelowiges.

Daar staan niks in die Skrif wat nie bedoel is om tot ons voordeel te strek nie.

As die uitverkiesing gepreek word, en dit geld ook vir as ons oor die uitverkiesing praat tydens ons Bybelstudies, dan moet ons dit goed in gedagte hou.

Die bedoeling van hierdie leer is die eer van God en die vertroosting en blydskap van sy kinders.

Moenie intellektueel daaroor filosofeer met die gevolg dat daar verwarring ontstaan nie.

Moenie so daaroor praat dat jy sien die mense om jou heen raak onseker en angstig nie.

Dan is jy soos die Fariseër wat die tollenaar minderwaardig laat voel het.

 

Dit bring ons by ‘n volgende belangrike aspek waarop die Dordtse Leerreëls ons aandag vestig.

 

Tema: God maak sy kinders sekerheid van hulle uitverkiesing

1 Hoe Hy dit doen (ons het gesien, nie met bonatuurlike openbarings, visioene, gebeurtenisse nie; ook nie deur filosofies op soek te gaan en probeer om God se diepe raadsplan uit te pluis nie; maar Hy gee sekerheid heel gewoon deur sy Woord. Deur die prediking van sy Woord begin daar vrugte in ons lewe te groei).

 

2 Wanneer en waar Hy dit doen

In paragraaf 14 herhaal die Dordtse Leerreëls die feit dat hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing iets is wat die Skrif aan ons verkondig, sowel deur die profete van die Ou Testament, asook deur Christus en die apostels in die Nuwe.

Omdat dit in die Bybel staan, moet dit daarom ook vandag verkondig word.

Maar, voeg die Leerreëls toe, wel op die regte tyd en plek.

Regte tyd, daarmee word bedoel in navolging van hoe die Skrif dit doen.

Ek het al ‘n paar keer verwys na hoe die Dordtse Leerreëls begin.

Nie in die ewigheid met ‘n filosofiese spekulasie oor die predestinasie nie.

Maar soos die Skrif begin, by die skepping, val en ongehoorsaamheid van Adam en Eva.

En daarna God se belofte van ‘n Middelaar om die verbroke band tussen Hom en die mensheid weer te herstel.

Die prediking begin altyd ook hier.

By skepping, sondeval en verlossing.

Op die sendingsveld is dit baie duidelik.

As ‘n sendeling met ‘n nuwe kerkplanting begin, en hy bring die Evangelie in die huise van die mense in daardie area, en op Sondag verkondig hy dit vir hulle wat opdaag, dan begin hy nie by die uitverkiesing nie.

Hy begin by die skepping.

Die feit dat hierdie mense deur God geskape is.

Dat daar ‘n God is wat alles geskep het.

Daarna skenk hy aandag aan die sondeval, nie net van Adam en Eva nie, maar die feit dat elke mens op aarde sondig en dus sterflik is, en in vyandskap met God lewe, en dat God hulle terugroep na Homself.

Dat daar ‘n oordeelsdag op koms is (Hand 17:31).

En direk verbonde hiermee mag hy Christus verkondig.

Die wonder dat Christus in ons plek gesterf het.

Dat Hy die straf gedra het.

Dat Hy die moontlikheid van versoening gebring het.

Dat in vertroue op Hom die band met jou God en Skepper herstel word.

En so kom die sendeling tot die oproep dat ‘n persoon homself, haarself, moet bekeer.

Dit wil sê, moet omdraai op sy lewenspad, teruggaan na God.

Die weg tot die ewige lewe inslaan, die pad met die naam Jesus Christus.

Hy wat die weg en die waarheid en die lewe is.

So gebeur dit deur God se genade dat sommiges op die sendingsveld tot bekering kom.

Daardie bekering word gevolg deur die oortuiging dat dit noodsaaklik is om by die kerk aan te sluit.

 

En dan, gemeente, kom die regte tyd.

Die regte tyd om aan die uitverkiesing aandag te begin skenk.

Nadat die persoon daardie eerste treë gegee het op die pad na die lewe.

Dan kom die tyd om hom of haar op hierdie heerlike leer van die uitverkiesing te wys.

Besef jy, dat nog lank voordat jy vir God gekies het, God reeds vir jou gekies het?

Dat Hy jou bekering fyn beplan het?

Terwyl jy nog in onwetendheid en ongeloof jou lewe geleef het, dat Hy ‘n sendeling opgelei het, en toe na jou dorp gestuur het?

Dat daar êrens ‘n gemeente was wat hom uitgestuur het?

En dat God dit gelei het dat hy op ‘n goeie dag op jou deur geklop het, en met jou die Evangelie gedeel het?

En so, gemeente, stap vir stap kom die Bybelse leer van God se ewige uitverkiesing ook aan die orde, dus op die regte tyd.

 

Paragraaf 14 sê ook dat dit moet gebeur op die regte plek.

En dan word daar direk bygevoeg: Die regte plek is die kerk.

Die leer van die uitverkiesing hoort nie tuis daardie eerste keer as die sendeling ‘n ongelowige se huis besoek nie, die leer van die uitverkiesing hoort ook nie tuis in universiteitslokale waar verstandelik geredeneer word nie, die leer van die uitverkiesing hoort nie tuis in koerante of webwerwe waar mense met mekaar debatteer nie.

Hierdie leer hoort tuis in die kerk, daar waar daar eerbied vir God is, daar waar die besef leef dat God soveel groter is as die menslike verstand, daar waar die bereidheid is, nie om jou verstand op te offer nie, maar te onderwerp aan God se openbaring.

Hier in die kerk word die uitverkiesing gepreek tot troos vir die gelowiges.

Net soos die nagmaal nie tuishoort op die markplein, of in ‘n winkelsentrum, of in ‘n universiteitlokaal of in die parlement nie, so ook nie die prediking van die uitverkiesing nie.

Hier in die kerk word die uitverkiesing verkondig, soos die Leerreëls sê, oordeelkundig, met gelowige eerbied, met heilige ontsag, sonder nuuskierige oneerbiedige ondersoek na die weë van die Allerhoogste.

 

Dit is, ten slotte om saam te vat, God se manier hoe Hy aan sy kinders sekerheid gee van hulle uitverkiesing.

Hy doen dit nie met bonatuurlike openbarings, visioene, gebeurtenisse nie.

Hy verwag ook nie van ons om filosofies op soek te gaan en probeer om God se diepe raadsplan uit te pluis nie.

Hy roep ons op om elke week te luister na die verkondiging van sy Woord.

Dit is hoe Hy dit doen.

Hy gee sekerheid heel gewoon deur sy Woord.

Deur die prediking van sy Woord begin daar vrugte in ons lewe te groei.

Soos die reën die aarde natmaak en plante laat uitspruit, so sal sy Woord nie leeg tot Hom terugkeer nie.

 

En wat sy Woord oor die uitverkiesing openbaar, soos ons in die tweede punt gesien het, dit word hier in die kerk verkondig.

Hier waar daar eerbied vir sy Woord is.

Gemeente, u het vanaand kerk toe gekom, nie na ‘n winkelsentrum, nie na ‘n universiteitslokaal, ook het u nie u rekenaar of telefoon aangeskakel om iemand se webwerf te lees of ‘n potgooi te luister nie.

Dis nie waar jy sekerheid van die uitverkiesing gaan kry nie.

U is op die regte plek.

En as u vanaand hierdie gebou verlaat, mag u dit in vertroue doen dat God se Woord vrugte in jou lewe sal dra, en so mag jy steeds meer groei en bevestig word van die feit dat God ook jou as sy kind uitgekies het.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Lukas 18:15-30; 2 Petrus 1:1-11

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,12-14

Tema: God maak sy kinders seker van hulle uitverkiesing.

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Wat is die verskil tussn die sekerheid van die Fariseër en van die tollenaar?
  2. Hoe maak God sy kinders seker van hulle uitverkiesing?
  3. Wanneer maak God sy kinders seker van hulle uitverkiesing?
  4. Waar maak God sy kinders seker van hulle uitverkiesing?
  5. Noem ‘n paar dinge waaruit blyk dat God vooraf beplan het om jou tot geloof te bring.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 1:1,2

Gebed

Skriflesing: Lukas 18:15-30; 2 Petrus 1:1-11

Ps 73:9-11

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,12-14 (lees ook Verwerping van Dwalings 1,6)

Preek

Sb 24:5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 92:2,3,6,7

Seën