Inleiding
Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.
Ons as VGKSA het ‘n sekere verhaal van wie ons is en waar ons vandaan kom, ‘n sekere storie hoe ons onsself identifiseer. Ons is ‘n kerk wat sy oorsprong, deur die vrymaking in die reformasie het. ‘n Kerk wat ontstaan het hoofsaaklik deur Nederlandse immigrante na SA. ‘n Kerk wat op die Woord van God alleen gebou is.
En daar is natuurlik niks fout daarmee om ‘n waardering vir mens se herkoms te hê nie. Waar dit verkeerd kan gaan, is wanneer mens jou identiteit so diep wortel in jou geskiedenis, dat jy sig verloor op ons identiteit in Christus, en ‘n verhouding met Hom, en daarmee saam ons objektiwiteit verloor.
Juda, die 2 stamme ryk, het ook ‘n geskiedenis gehad waarmee hulle goed bekend was. Dit was immers die storie van wie hulle is, en hoe hulle hier gekom het. God het ‘n verbond met ons, uit al die volke is ons sy spesiale besitting. Hulle het egter hul identiteit so diep in hulle herkoms gewortel dat hulle nasionale selfbeeld heeltemal verwronge was. Hulle was mos die uitverkore volk van God. God sal mos nooit toelaat dat sy volk verdelg word nie. Die verbond is onbreekbaar. God self woon hier in Jerusalem, hoe sal hy ooit toelaat dat die heilige stad val? Nee wat, ons is die veiligste mense op aarde, al staan die leërs van die doderyk voor ons poorte, ons sal nooit val nie.
En dan kom Esegiël. Hy vat die storie van die nasionale selfbeeld van wie Israel is, en hy vertel die storie oor, vanaf die begin. En hy doen dit met ‘n absoluut skokkende metafoor van ‘n weggooi babatjie wat in ‘n pragtige prinses verander, en dan in ‘n moordenaar en ‘n blatante hoer. Sy metafoor het ook die intensie gehad om te skok. Om wakker te ruk. Om versteende harte te breek. Soos die skielike klipharde slag van ‘n bliksemstraal wat reg bo jou kop breek. So skokkend, eksplisiet selfs, is die taal en beelde wat Esegiël gebruik, dat ons Afrikaanse vertaling dit effens moes versag. Vergelyk die 53 vertaling gerus by die huis met die 2020 vertaling om ‘n ietwat beter idee te kry van hoe die hoofstuk in Hebreeus geskryf is. As Esegiël se boodskap vandag nog skok, ons, mense wat deur die afgryslikhede van die sekulêre media gehard is, weet maar verseker dat dit die oorspronklike hoorders ook sou skok.
En dis in die lig van die volk se skokkende ontrouheid, dat God se radikale getrouheid so duidelik skyn
Tema: God bevestig sy ewige verbond met ‘n owerspelige volk.
Hierin sien ons Sy
1) Genade
2) Geduld
3) Getrouheid
1) Ons sien God se genade (v 1-14)
Die boodskap wat Esegiël in opdrag van die Here aan Jerusalem moet bekend maak, begin met Jerusalem se oorsprong. Die Here sê in vers 3 dat haar afkoms uit die land van die Kanaäniete is. Haar vader was 'n Amoriet en haar moeder 'n Hetiet. Wat bedoel die Here? Was die Jode nie afstammelinge van Abraham, Isak en en Jakob nie?
Onthou dat die Here, simbolies, met die stad Jerusalem praat. Deur met die stad te praat, wil God iets oor die inwoners sê. Jerusalem self het al lank voor die volk Israel bestaan. Die stad het eers aan die Kanaäniete behoort. En al het sy nie noodwendig aan die Hetiete of Amorite behoort nie, was hierdie volke wel van van die belangrikste heiden nasies wat Israel uit Kanaän moes verdryf. Hulle was vyande van God en van die volk. Hulle name was so te sê sinoniem vir die mees verdorwe kant van die menslike natuur, sinoniem vir alles gruwelik.
Dis waar die stad Jerusalem sy ontstaan het, tussen die heiden nasies.
Maar die Jode self het ook nie veel gehad om op te roem nie. Ja, hulle kan hulle herkoms terugtrek na vader Abraham, maar wat het Abraham in homself gehad dat God hom sou kies om ‘n verbond met hom te sluit? Is hy nie self vanuit Ur van die Chaldeërs geroep nie? Was sy vaders nie ook afgodsdienaars nie (Josh24:2&3)?
God sê hier dus heel eenvoudig: onthou waar jy vandaan kom, Jerusalem. Jy het geen rede om te roem nie. En om die punt duidelik tuis te bring, vertel God dan die tragiese verhaal van haar geboorte.
‘n Weggooi baba was sy. Nie eens haar ouers was lief vir haar nie. Niemand het die moeite gedoen om haar naelstring met die plasenta af te sny nie, wat nog te sê van enige ander sorg of liefde. Jy kan jouself inbeeld hoe die liefdelose ma, daar wegstap, sonder om eens terug te kyk na die kind wat sy so pas in die wêreld gebring het. Weggesmyt in die ope veld, “neergegooi uit afsku,” sê vers 5. Daar lê die kind, in die son, in ‘n plas bloed en spartel, met die plasenta nog aangeheg. ‘n Gruwelike beeld. ‘n Hartseer beeld. Die arme kind staan nie ‘n kans nie...
Maar dan kom daar ‘n vreemdeling verby, hy hoor iets, en die sparteling van die klein babatjie trek sy aandag. Hy stap nader en sien die verskriklike prentjie. Daar in ‘n plas bloed lê die baba met amper geen stem oor om meer te skree nie.
En dan hoor jy sy stem: Leef!
Dis wat die Here sê in vers 6:
Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
God ontferm homself oor hierdie kind wie selfs deur haar eie ouers gehaat is.
God kies hierdie weggooi kind, en Hy neem haar aan as Sy eie. Vir hierdie kind wat net so goed as dood was, bring God lewe.
Dis die ontstaan van die volk. Niks om op trots te wees nie. Sy het ‘n nietige, klein ontstaan gehad. Sy was onbeduidend en weerloos, niks merkwaardig nie. Maar God het die inisiatief geneem en gesê “Leef!” En as God sê “leef,” dan spruit daar ook lewe in oorvloed. Dis Hy wat hulle vermenigvuldig het, ontelbaar soos die uitspruitsels van die veld.
En dan gaan die metafoor aan (vers 7). Sy, die weggooi baba, het opgegroei in ‘n pragtige mooi meisie. Nogtans was sy kwesbaar en naak. Sy het beskerming nodig gehad, iemand om vir haar lief te wees en te versorg. Sy was kwesbaar. So maklik om misbruik te word as sy in die verkeerde hande beland.
En weereens is dit dieselfde verbyganger wat verbykom en haar red in haar nood, vers 8. In haar onskuld, onbevlek, ‘n maagd, het God sy vleuel oor haar gesprei. Hy het haar in sy sorg geneem en sy trou aan haar beloof, ‘n verbond aangegaan. “jy het myne geword” sê God.
Hier sien ons duidelik dat die verbond in die eerste plek ‘n liefdes verhouding is, hier uitgebeeld as die intieme verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou. Die man wat die vrou liefkoos, op hulle huweliksnag koesterend bad en met olie salf – vers 9. Hy trek haar aan met duur klere, fyn linne en sy. Hy maak selfs pragtige skoene vir haar. En sy lyk beeldskoon.
Hy stort sy liefde uit op sy vrou. Sy wat nie liefde geken het nie, het met die mees liefdevolle man getrou. ‘n Prins nogal! Sy wat by geboorte verwerp is, en aan die dood oorgelewer is, sy leef nou in die volheid en goedheid van haar wonderlike man. En haar sprankelende skoonheid, wat hy vir haar gee(!) is so asemrowend dat die gerug daarvan onder al die nasies versprei. Vers 14 sê haar skoonheid was volmaak, nie uit haarself nie, maar deur alles wat haar man haar gegee het.
Dit is die geskiedenis van die volk. Nie net het die volk haar ontstaan aan die Here te danke nie, maar haar bestaan, en skoonheid, en elke goeie gawe is van God. Hierdie verse kan nie anders as om mens terug te laat dink aan die volk se hoogtepunt onder koning David en Salomo nie. Die volk was op sy grootste en rykste. Daar was amper nie ‘n ding wat nie met goud oorgetrek was nie. Die Bybel sê dat goud, onder Salomo se regering, so volop soos klippe was. Daar was vrede reg rondom, en die gerug van Israel en die goedheid van haar God het tot heinde en verre versprei. ‘n Voorsmakie van hoe die belofte aan Abraham vervul sal word. Israel is daardie pragtige bruid, en dis God wat haar so mooi maak en versier. En dit uit genade, want daar is niks in haarself wat aantreklik sou wees nie.
Maar dit is ongelukkig nie die einde van die verhaal wat Esegiël vertel nie. Ongelukkig kan ons vanoggend nog nie hier Amen sê nie.
En so kom ons by ons tweede punt, waarin ons gaan kyk na God se geduld in die verbondsverhouding.
2) Ons sien God se geduld (v 15-34)
In vers 15 tot 34 volg die Here se hartverskeurende aanklagte teen sy vrou. Na dit alles wat ek vir jou gegee het, na alles het jy gaan vertrou op die skoonheid wat ek vir jou gegee het. Jy het hoogmoedig geword omdat jy ‘n naam gekry het, en jy het dit wat net myne is met ander gaan deel.
Hierdie vrou het haar man se liefde in sy gesig terug gesmyt. Al die geskenke wat haar man vir haar gegee het, het sy gebruik om sedeloos te wees. Sy het selfs haar liggaam skaamteloos gaan deel met ander mans. In detail word die vrou se sieklike sondes uitgespel. Die hoë beddens vir kultiese prostitusie, oorgetrek met die mooi kleurvolle materiaal wat sy by haar man gekry het (vers16&25), herinner mens aan die prostituut se bed in Spreuke 7. Sy het selfs die kinders wat sy vir haar man gebaar het verbrand. Verstommend! Onthou jy nie wie jy is nie?? Jy wat self deur jou ouers weggegooi en aan die dood oorgegee is, maak jy nou jou eie kinders dood? Die prinses wat so geseënd was, het in ‘n moordenaar en ‘n hoer verander. En dan nog een van die mees blatante en skaamtelose hoere denkbaar. Waar ‘n prostituut geld vra omdat sy dalk deur armoede gedryf word, het hierdie vrou nie ‘n gebrek aan enigiets gehad nie. Inteendeel, die absolute verdorwenheid van haar optrede word onderstreep deur die feit dat sy nie geld vra nie, maar geld betaal om te hoereer. Sy verwerp die beskerming van haar eie man en gaan soek dit in die arms van al haar bure, die Egiptenare, die Assiriërs, die Chaldeërs. Sy is daarop uit om haar man, na alles wat hy vir haar gedoen het, uit te tart, diep te pynig en sy liefde te vertrap.
So was Israel. In die boeke van Konings en Kronieke lees ons van die stelselmatige agteruitgang van God se volk na die dood van Salomo. Die volk was lief daarvoor om afgode te maak met die goud wat die Here hulle gegee het. En as daar nie goud was nie, sou ‘n stuk brandhout of klip ook werk. Hulle was lief daarvoor om die graan en wyn wat God vir hulle gee, vir die afgode te offer, asof dit hulle is wat beskerming bied, die oeste seën, en die reën bring. Hulle het oor en oor geweier om op God te vertrou, en het liewers verbonde met hulle bure gesluit, en God se goud gebruik om daarvoor te betaal.
Boonop was die hoogtes en die heilige boomstamme ‘n alewige probleem, en al was daar ‘n koning wat ‘n tipe van reformasie in die land gebring het (en hy ook daarvoor geprys word) weerklink die refrein oor en oor: Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het daar nog geoffer en rook laat opgaan.
En dan natuurlik die boosheid van die kinder offers, ‘n gruwel wat uit die heidennasies eers aan Israel oorgedra is, maar ook later na Juda versprei het onder koning Agas en Manasse.
En so sien ons hoe God se verbond, en al die aspekte daarvan, ondermyn en vertrap word.
Sy inisiatief word by die deur uitgegooi. Die volk sal self besluit hoe die verhouding sal lyk waarmee hulle met God staan.
God se ryke seëninge, alles wat Hy vir hulle uit genade skenk, word misbruik om vals gode daarmee te dien.
En die nageslag, God se grootste seën, die nageslag wat deel van die verbond is, die nageslag wat van God kom en aan Hom behoort, word vermoor. En u kan God se pyn hoor hieroor in vers 20 en 21, “was dit nie genoeg met jou hoererye nie, dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle ...deur die vuur laat gaan het?”
In die lig van die volk se radikale ontrouheid, en al die pyn en droefheid wat dit veroorsaak, sien ons God se ongelooflike geduld. Vir meer as ‘n millennium is hy al geduldig met die volk. Lankmoedigheid is deel van wie Hy is. Dis wat die Here van homself uitroep as Hy verby Moses in die rotsspleet stap:
Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. (Ex34:6)
God het in sy geduld profeet op profeet gestuur, maar die volk wou net nie luister nie. Jesus sê “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.” (Luk 13:34)
God is uitermate geduldig. Maar êrens is daar ‘n limiet aan geduld. Lankmoedigheid is dalk lank, maar dis nie onbeperk nie. Deel van die wese van geduld is dat dit kan “opraak”. As geduld onbeperk is en net altyd alles toelaat, kan jy dit noem wat jy wil, maar dis nie meer geduld nie. Dis nie liefde nie. Liefde plaas ‘n limiet op geduld. Daar kom ‘n tyd wat die sondaar, of sondaars aan hom of haarself oorgee word. Dis presies wat ons God in vers 34 -43 doen. Na haar lang lys sondes, na God haar vir eeue terugroep tot bekering, en sy net nie wil luister nie, volg die klimaktiese uitspraak in vers 35 “Daarom, o Hoer, hoor die woord van die HERE.”
En dan volg haar straf. Jy wil mos jouself uittrek en afsmeer aan jou minnaars, jy wil jouself mos nie bekeer nie, Ek sal jou nie meer stop nie (Vers 36-37). Gaan voort, doen wat jy wil. Gee jouself oor aan jou sonde.
Nie net sal God die volk oorgee aan haar luste nie, hy sal almal waarmee sy so graag sondig teen haar sal laat optrek dat sy sal walg in haar sonde. Hulle sal haar naak uittrek, stenig, in stukke kap, en verbrand. Omdat sy die verbond vertrap het, skei God sy geliefde bruid. Dis die gewig van verharding. Verwerp God, verwerp sy liefde, vertrap sy goedheid en spoeg in sy gesig, gebruik alle goeie dinge wat Hy jou gee om Hom mee te tart, sal jy nie noodwendig direk die konsekwensies sien nie. Maar Hy sal nie vir altyd toelaat dat Sy heilige Naam beswadder word nie. Hy sê in vers 41 – Ek sal ‘n einde aan jou hoerery maak. As jy nie jouself wil bekeer nie, sal Ek jou maak stop. Daar kom ‘n dag, ‘n afgryslike dag, dat God sy oordeel sal voltrek oor almal wat in hulle sondes volhard, en nie verlossing in Christus se bloed soek nie.
En hierin is God nie onregverdig nie. In vers 59 maak die Here dit duidelik: Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag het deur die verbond te verbreek. Die Here is in sy volste reg om sy volk die skeibrief te gee. Hulle bring die vloek van die verbond oor hulself.
As dit nie vir God se kolossale lankmoedigheid was nie, sou die volk al lankal uitgedelg gewees het.
Dit dring ons by die 3de punt. God bevestig sy ewige verbond met ‘n owerspelige volk, en hierin sien ons Sy getrouheid.
3) Ons sien God se getrouheid
Ten spyte van alles. Ten spyte van die volk se radikale ontrouheid, is en bly God wel getrou aan sy verbond.
Hy sê in vers 60 “Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug.” Klaarblyklik, self nadat Jerusalem verwoes, in stukke gekap en verbrand is, is daar ‘n toekoms vir haar, gegrond in die verbond wat God met haar gemaak het. Om dit te verstaan moet ons twee dinge in ag neem.
In die eerste plek sal u onthou dat God vroeër in sy verbond-sluiting met Abraham alleen deur die stukke vleis beweeg het. Hy het Homself onlosmaaklik aan sy beloftes verbind.
In die tweede plek is daar iets baie spesifiek wat God by Sinai aan die volk beloof het. U sien, God het al amper ‘n millennium voor Esegiël al presies verduidelik wat Hy in Esegiël se tyd besig was om te doen. In Levitikus 26 verduidelik God die 2 kante van die verbond. Hy stipuleer hoe Hy Israel sal seën met Sy eie heilige teenwoordigheid as hulle sy verbond hou. Maar as hulle ontrou sou wees, sou Hy hulle ontrouheid oor hulself terugbring met swaard en pestilensie, net soos God in Esegiël 16 sê. Dis wonderbaarlik hoe God dit so lank voor die tyd presies uitspel. Levitikus 26 verduidelik Hy verder hoe die volk onder die nasies versprei sou word as straf vir hulle sonde.
En dan sê God in Levitikus 26:42 en verder:
Ek [sal] aan my verbond dink.
... ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek 'n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die Here hulle God.
Dit is die verbond wat God in Esegiël 16:60 beloof om te onthou, en selfs te vernuwe. En die asemrowende wonder is dat God nie getrou bly aan sy verbond omdat die volk hulleself bekeer nie, maar die volk sal hulself bekeer omdat God getrou is aan sy verbond!
Ek sal met jou 'n ewige verbond oprig (vers 60), dan sal jy aan jou weë dink en skaam wees (vers 61)
Ek sal my verbond met jou oprig (vers 62), en jy sal weet dat Ek die Here is
sodat jy kan nadink en beskaamd staan (vers 63).
Dit is die wonderwerk van God se troue liefde in sy verbond.
Sy getrouheid bring bekering by sy bruid.
--------------------------
Ons as kerk is die bruid van Christus.
Nie omdat ons hierdie status as koningin enigsins verdien nie. Daardie weggooi baba van die begin van die preek is nie net Jerusalem nie. Dit is die hele menslike kondisie. Ons is ook daardie weggooi baba wat gered is uit ‘n plas bloed, vir wie God gesê het, “leef!” En as God sê “leef” dan spruit daar lewe waar dit daar voorheen slegs kurkdroë dorheid was. Ons het niks om op te roem nie. Partykeer sien ons dit nie so duidelik nie, omdat meeste van ons in die kerk gebore is. Maar gaan ‘n bietjie terug in jou geskiedenis, voor die vrymaking, voor die reformasie, voor die kerk in Europa gekom het, gaan ver genoeg terug en u voorvaders was rou heidene, so vêr van God af vervreem soos die Amoriet en die Hetiet wat hulle kind in die veld weggegooi het.
Maar dis nie net as ons na ons geskiedenis kyk dat ons duidelik sien dat ons niks het om op te roem nie. Ook in ons alledaagse lewe. God gee vir ons lewe. God versier ons.
As u die juwele van nederigheid besit, dan het God dit aan u gegee.
As u die juwele van sagmoedigheid besit, dan het God dit aan u gegee.
As u die juwele van lankmoedigheid besit, dan het God dit aan u gegee.
En as u groei in die juweel van enige goeie werk, dan bewerk God daardie groei.
God versier Sy bruid. En hy volmaak ook sy bruid. Hy beklee haar met die geregtigheid van Christus, en gee haar Sy Gees, sodat Sy in hierdie lewe al meer en meer in heiligheid mag lewe.
Geliefde gemeente, dit alles word aan ons gegee. Ons kan nie roem nie.
Laat ons dit duidelik onthou, want as die kerk dit vergeet is die konsekwensies duidelik. Hoogmoed. Selfbevredigende najaging van drekgode. ‘n Lus vir sonde wat nooit versadiging smaak nie.
As die kerk vergeet dat alles wat sy het, genade is, sal sy op haarself begin roem. Kyk wat het ons alles bereik. Ons het soveel lede, soveel Bybelstudies, soveel uitreike en sendings projekte. Ons doen goed, die Here moet seker trots op ons wees. Ons is darm nie soos daardie kerk nie. En terselfdertyd, omdat ons selftevrede is, sal ons blind raak vir die sondes wat ons in ons geledere toelaat.
Om hierdie klas van afvalligheid te weerstaan moet die kerk onthou wie haar God is, en wie sy is. U moet onthou wie u is. Ek moet onthou wie ek is. ‘n Ellendige sondaar wat nie God se goedheid verdien nie, en tog in die stortreën van Sy genade staan.
As ons vergeet wie ons is en begin roem in onsself, sal God met ons geduldig wees. Maar laat ons nie God se geduld beproef nie. Hy is ook ‘n jaloerse God wat nie ander minnaars duld nie. Hy sal nie vir altyd toelaat dat Sy heilige Naam beswadder word nie. Onthou dat God se passie net so vurig in toorn ontvlam, as wat dit in liefde brand.
Dit sien duidelik ons in die uitvoering van die tug proses. U het moontlik al iemand hoor sê, hoekom sloer die kerkraad so met die tug? Moes dit nie al lankal so en so nie?
En ja, sondige mense maak foute, maar geliefde gemeente, verstaan ons nog wat geduld is? Verstaan ons dit nog wat is om ‘n pad met iemand te stap, en keer op keer, weer en weer en weer en weer God se Woord te terwyl on geduldig smeek om bekering te bewerk, aangesien slegs Hy dit kan bewerk? Mag ons ook lankmoedig wees soos God self lankmoedig is.
Wanneer die limiet van geduld egter bereik word, moet ons ook onthou dat God ‘n getroue God is. Hy bly getrou aan sy verbond, al verbreek ons mense dit. Dit beteken dat daar altyd, altyd ‘n pad terug is na God.
Ons getroue Bruidegom het uit liefde vir sy bruid sy lewe afgelê sodat ons mag lewe. Deur Sy dood en opstanding beklee Hy ons met die klere van Sy eie geregtigheid, Hy verwyder elke vlek van hoerery waarmee ons bevuil is. Hy beklee ons met die mooiste juwele, die vrug van die Gees, en deur Sy Gees volmaak Hy ook hierdie juwele van goeie werke in ons. Mag hierdie juwele ook skitter en skyn in die lig van Sy goedheid, sodat al die nasies Hom mag loof.
Geliefde gemeente, U as bruid van Christus het die wonderlikste Bruidegom denkbaar.
Amen
Seën
Sing Ps. 92:1,2
Lesing van die Wet
Sing Ps. 38: 1,4,6,17
Gebed
Lees Esegiël 16
Sing Ps. 78: 20,21,22,23
Preek
Sing Ps. 45: 1,5,9,10,12,16
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 89: 1,6,7
Seën