Wees bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2023-03-26
Text: 
Nav Dordtse Leerreëls 1,8-11
Preek Inhoud: 

In die vorige preek oor die uitverkiesing was die tema:

Moenie vra nie: Is ek uitverkies? Maar vra: Het ek Christus lief?

Hierdie tema het gewys op die Skriftuurlike volgorde wat die Dordtse Leerreëls volg.

Dit begin nie in die ewigheid nie, maar daar waar die Skrif begin:

In die paradys met Adam en Eva wat volmaak geskape is, maar wat in opstand gekom het.

Daardeur het hulle die ewige dood verdien.

Hulle en hulle nageslag.

Ons word nie in die ewigheid geregverdig nie.

Ons word geregverdig elke dag as ons op grond van Christus se kruisoffer vergewing vra.

Langs hierdie weg word ons bewus en ook steeds sekerder van ons uitverkiesing.

As ons elke na Christus kyk, as ons vanuit sy genade lewe.

En as jy jouself dan afvra: Het ek Christus lief? dan wel die antwoord uit jou hart op.

Ja natuurlik!

Ek het Christus van harte lief!

Ek wil vir Hom lewe!

Dit is die Heilige Gees wat hierdie liefde vir Christus in jou werk.

En die Skrif sê: As God ‘n goeie werk in jou begin het, sal Hy dit ook voltooi!

Siedaar, daar is die sekerheid van jou uitverkiesing!

 

In vandag se preek kyk ons verder na die sekerheid van die uitverkiesing.

 

Tema: Wees bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is!

Ons kyk na twee vrae:

1 Is die uitverkiesing enkelvoudig of meervoudig?

2 Is die uitverkiesing ‘n beloning of ‘n geskenk?

 

1 Is die uitverkiesing enkelvoudig of meervoudig?

In paragraaf 8 fokus die Dordtse Leerreëls meer in detail op die aard van die uitverkiesing.

Dit is nodig, omdat die Remonstrante verskillende spitsvondige dinge daaroor gesê het.

Hulle het met ‘n nuwe onderverdeling voorendag gekom.

Hulle het hulle logika hierop losgelaat en sodoende van die Skrif af weggedwaal.

Hulle het naamlik beweer dat daar verskillende soorte uitverkiesing is.

Eerstens is daar volgens hulle ‘n algemene nie-gespesifiseerde uitverkiesing.

Eerstens het God besluit dat hy mense gaan uitverkies.

Daarom het God besluit om sy Seun na die aarde te stuur om te betaal vir die sonde.

Maar, wie hierdie regverdiging gaan ontvang, en of hulle wat dit ontvang sal volhard tot die einde toe, dit is nog nie duidelik uit hierdie eerste uitverkiesing nie.

Geen name is nog bekend nie.

En dan, eers later volg daar ‘n tweede soort uitverkiesing, meer spesifiek.

Dis nou as God vooruit sien in die tyd dat sommige mense ‘n gelowige lewe gaan lei.

Dit is die uitverkiesing tot geloof, ‘n sogenaamde proefverkiesing.

Want ook hierdie uitverkiesing is nog nie tot die saligheid nie.

Want, sê die Remonstrante, daar is mense wat glo maar wat later afvallig word.

Dus is daar ‘n derde soort uitverkiesing, bedoelende hulle wat ook volhard in die geloof en die wenstreep haal.

Drie soorte uitverkiesing dus volgens die Remonstrante.

 

Maar op basis van die Skrif sê die Leerreëls:

Die uitverkiesing is nie veelsoortig nie.

Dit is een en dieselfde.

In paragraaf 2 van die verwerping van die dwalings reageer die Leerreëls hierop as volg:

“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is veelsoortig: die een is algemeen en onbepaal, die ander is besonder en bepaal.”

Die Leerreëls sê dan hiervan:

“Dit is ‘n versinsel van die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is ... Dit verbreek die goue ketting van ons saligheid.”

En dan word verwys na die pragtige teks uit Romeine 8: verordinering lei tot roeping, roeping lei tot regverdiging, en regverdiging tot verheerliking – die bekende goue ketting.

 

Hoekom wou die Remonstrante eintlik al hierdie onderverdelings aanbring in die verkiesing?

Die agterliggende rede was dat hulle meer ruimte wou hê vir die mens se bydrae.

Dit was in die konteks van die denkgees van daardie tyd, die rasionalisme – ‘n groot optimisme oor die mens, oor sy denkvermoë, dat hy sy eie toekoms kan bepaal.

Maar die Leerreëls lei ons terug na die Skrif.

Is daar enigiets in die mens wat God in ag neem as basis vir sy keuse tot redding?

Enigiets wat die een mens het maar ‘n ander nie ...

Is daar enige goeie kwaliteit?

Ja want die gevolg van die Remonstrante se redenering is dat aan die einde van die dag iets tog van die mens afhang.

En laat ons nugter wees, gemeente.

Het die Remonstrante nie ‘n kern van waarheid beet nie?

Is dit nie so dat ons op baie plekke in die Bybel aangemoedig word om te glo en om onsself te bekeer nie?

Is dit nie so dat die feit op sig dat God ons oproep om ons te bekeer, dat dit impliseer dat ons ook in staat is om dit te doen nie?

Wel gemeente, hierdie vraag kan in twee rigtings beantwoord word.

Die Remonstrante het beweer: As God sê ons moet onsself bekeer, dan impliseer dit dat ons onsself ook kan bekeer.

God sal nooit van ons iets verwag wat ons nie kan doen nie.

Dus as Hy sê: Ons moet, dan kan ons ook.

Die punt is net of ons wil of nie.

Tot dusver die Remonstrante se antwoord.

Maar, gemeente, as Gereformeerdes beantwoord ons die vraag anders.

Is dit so dat as God ons oproep om ons te bekeer, dat ons dit ook kan doen?

Wel, in die eerste plek, dit is waar dat die Bybel ons telkemale oproep om ons onsself te bekeer.

Ons moet!

Maar terselfdertyd is die Bybel ook duidelik daaroor dat ons nie op eie krag dit kan doen nie.

Buite die genade om gaan ons onsself nooit kan bekeer nie, laat staan dat ons sal kan volhard tot die einde toe.

 

En is dit nie presies wat ons in ons eie lewens ervaar nie, gemeente?

Ja, jy kan baie effort insit om self vir ‘n rukkie ‘n sondige neiging in bedwang te hou.

Maar tog sal ons vroeg of laat weer val in dieselfde sonde.

Die geneigdheid in ons hart bly maar sleg, en dit is ‘n daaglikse stryd om dit na die goeie kant om te buig.

En dit is danksy God se genade dat ons begin besef dat ons eie inspanning heeltemal hopeloos is.

Daarom roep ons uit: O HERE, “Bekeer my, dan sal ek my bekeer” (Jer 31:18).

Vir ons bekering is ons aangewese op God.

Ons moet onsself bekeer, maar ons kan nie.

En daardie kan nie, daardie onvermoë, is sondig.

Want, “God het die mens so geskep dat hy dit kon doen.” (HK Sondag 4)

 

As mens dit besef, dan is die Remonstrante se konstruksie van ‘n driesoortige uitverkiesing eintlik glad nie ‘n vertroosting nie.

Dit maak ons juis desperaat, want ons word op onsself teruggewerp.

Terwyl dit tog so duidelik is, uit die Skrif en uit ons eie ervaring, dat ons gewoon nie kan doen wat ons moet doen nie.

Al wat vir ons ‘n troos sal wees, is die boodskap dat alles vir ons gedoen is deur Jesus Christus.

Ja dat God sondaars ontvang soos hulle is, met hulle totale onvermoë, met al hulle sondigheid en geneigdheid daartoe.

Niks daarvan is ‘n verhindering vir God om sondaars in genade aan te neem nie!

Wat ‘n heerlike boodskap!

 

Tot sover die eerste punt.

Is die uitverkiesing enkelvouding of meervoudig?

Dit is enkelvoudig, gelukkig maar.

Want as dit meervoudig was, sou daar iets van ons verwag word wat ons nie kan doen nie.

 

2 Is die uitverkiesing ‘n beloning of ‘n geskenk?

 

Dan is daar nog ‘n wanopvatting wat uit die weg geruim word in paragraaf 9.

Dit is direk in reaksie op die eerste stelling van die Remonstrante.

Onthou, die Remonstrante het ‘n dokument opgestel waarin hulle gepleit het vir ruimte om anders oor die uitverkiesing te dink – ‘n dokument wat die Dordtse Leerreëls bespreek en weerlê.

En in die eerste hoofstuk van die Remonstransie is die stelling gemaak:

God verkies en verwerp ja, maar Hy kyk vooruit in die tyd wie gaan glo en wie nie, en verkies en verwerp op grond daarvan.

Hierdie gedagte word verwerp in paragraaf 9:

Hierdie uitverkiesing is nie op grond van ‘n vooruitgesiene geloof nie.

As dit so was, dan lê die oorsaak van, die meriete vir die uitverkiesing, by die mens.

God verkies nie uit in reaksie op die feit dat sommiges op aarde hulleself goed gedra nie.

Dis andersom: Die uitverkiesing is die oorsaak van, soos paragraaf 9 sê, geloof en geloofsgehoorsaamheid en heiligheid ensovoorts.

Dit is die bron.

‘n Goeie lewe is die vrug daarvan.

Met verwysing na Efesiërs 1:4: God kies nie hulle uit wat heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde lewe nie.

Dis andersom: God kies uit sodat die Efesiërs heilig en sonder gebrek en vol liefde kan wees.

Sy ewige uitverkiesing het gelei tot die genade wat Hy besluit het om te bewys, en dit het gelei tot die weg van saligheid waarop Hy sy kinders plaas tydens hulle lewe, om daarin te wandel (Ef 1:4-5, 2:10).

Dieselfde word ook gesê oor die heidene in Antiochië (Pisidië):

“toe die heidene dit [die Evangelie] hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe” – Handelinge 13:48.

Die Remonstrante sal hierdie omdraai en sê:

Almal wat geglo het, is verordineer tot die ewige lewe.

Maar dis nie wat daar staan nie.

Die ewige lewe is nie ‘n beloning vir hulle wat geglo het nie.

Die geloof is ‘n vrug, ‘n uitvloeisel van die feit dat hulle verordineer, dit wil sê verkies is.

Dink ook aan wat Jesus sê, Johannes 15:16: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies”.

 

Die Remonstrante praat in hierdie verband ook oor die lig van die natuur wat mense reg moet gebruik – sien paragraaf 4 van die verwerping van die dwalinge.

Die lig van die natuur skyn in die skepping.

Dit wil sê, die skepping bring die mens tot die besef dat daar ’n God moet wees.

Mense wat daardie lig goed gebruik, hulle word volgens die Remonstrante.

Onderdeel van daardie lig in die natuur is die besef van goed en kwaad.

Dit is ook die besef dat die mens verplig is om op aarde ’n deugsame lewe te lei.

Hierdie mense wat die lig van die natuur goed gebruik, dit is hulle wat God bereid is om uit te kies.

 

In reaksie hierop erken die Leerreëls dat daar inderdaad lig in die natuur is.

Die skepping roep uit dat daar ’n Skepper is wat alles gemaak het.

Dat daar ’n God is wat alles in stand hou.

Hierdie lig skyn ook in die mens self.

Elke mens besef dat hy nie toevallig bestaan nie.

Dat daar Iemand moes gewees het wat hom gemaak het.

Dat daar Iemand moet wees wat hom en ander mense gaan oordeel op grond van hoe hulle geleef het.

Maar, en hier kom die verskil in.

Dis nie so dat dat hierdie lig, hierdie besef van God, hierdie besef van goed en kwaad, by sommige mense lei tot skuldbelydenis, tot geloof in God, tot aanbidding van Hom nie.

In Romeine 3 staan daar: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (vers 10-12)

Die verdrietige werklikheid is dat die mens hierdie lig van die natuur onderdruk.

Ja, hy sien dit, maar hy knyp aspris sy oë daarvoor toe.

Hy wil dit nie raaksien nie.

Hy kyk anderkant op.

En daarom, dit is so tragies, sal selfs die feit dat hy die lig van die natuur sien, teen hom getuig op die oordeelsdag.

So in kort, sê die Skrif, dit help nie vir jou op weg na die saligheid nie, maar dit verswaar jou oordeel.

Want nou kan die mens nie meer die verskoning gebruik:

Ek het nie geweet van ‘n God nie.

En, ek het nie geweet ek moet goed lewe nie.

Die mens het drommels goed geweet.

Hy het die lig gesien, maar het dit verwerp.

 

Al hierdie opmerkings pas nie in die straatjie van die Remonstrante nie.

Hulle lees eerder vinnig heen oor die Bybeltekste wat hieroor gaan.

Hulle fokus liewers op die goedheid van die mens.

Hulle wil optimisties wees.

En is dit nie vandag nog steeds so nie?

Die humanisme is nog orals rondom ons.

Politici, wetenskaplikes, terapeute, almal is so optimisties oor die mens.

Ten spyte van die feit dat eeu na eeu daar geen vrede op aarde kom nie, en die een oorlog die ander een opvolg.

Hoe blind is die mensheid nie, as dit optimisties oor homself is, en dink dat die mens van die aarde ‘n beter plek kan maak.

 

Nou deel ons as kerk nie hierdie optimisme nie, heeltemal tereg.

Tog kan ons ook mensgesentreerd wees, presies op ‘n omgekeerde manier.

Dit is as jy twyfel aan jou uitverkiesing, omdat – byvoorbeeld – volgens jou, jy nog nie diep genoeg berou oor jou sondes het nie, en jy nog nie genoeg begeerte het om die sonde agter jou te laat nie, dat jy nog nie nederig genoeg is nie, dat jy nog nie ‘n werklik vaste onwankelbare geloof het nie.

As jy redeneer: Sodra my boete meer opreg is, dan sal die Here my red.

Gemeente, ook hierdie redenering is mensgesentreerd.

Jou boetedoening, jou nederigheid, jou sondebesef, is nie voorwaardes vir jou uitverkiesing, vir jou redding nie.

Hou op om in jouself te grawe.

Vlug na Christus.

Jy mag Hom benader so oppervlakkig en kleingelowig as wat jy is.

Jy mag Hom benader, al dra jy nog geen enkele geloofsvrugte nie.

Hy het al vantevore geweet dat hoe diep jy ook in jouself grawe, jy niks gaan vind nie.

Maar sodra jy by Hom is, sal Hy sorg dat dinge verander.

Nederigheid, boetedoening, haat van die sonde, begeerte tot die goeie, en uiteindelik geloofstandvastigheid, dit is sal Hy gee, dit is vrugte van sy Gees.

En so kry Hy alle eer.

Hy is die enigste basis waarop ons saligheid rus, Hy is die begin en einde van ons redding.

“die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”, getuig Petrus in Handelinge 4:12.
Die Vader is trots daarop as Hy sien dat sondaars alles wat hulle nodig het, soek by sy Seun.

Dat sy Seun hulle waardig maak om die ewige lewe te beërf.

Die Vader is trots daarop dat sy Seun dit regkry!

 

Geliefde gemeente, hierdie boodskap moet ons oor en oor hoor.

Daarsonder neem ons weerstand vinnig af, en tree die ou mens weer na vore wat in homself grawe, wat op eie krag homself vertoonbaar wil maak.

Die Evangelie is soos vitamiene.

Jy het elke dag jou dosis nodig.

Jy kan dit nie net een keer verstandelik hoor en dan is dinge uitgesorteer nie.

Elke dag veg die vitamines teen die kwaadaardige elemente in jou liggaam.

En so het ons die Evangelie nodig, week in week uit, dieselfde Evangelie, oor en oor, sodat ons weerstand op standaard bly teen daardie kwaadaardige ou mens binne in ons.

 

Die Skrif roep ons op om ons verkiesing vas te maak:

“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (2 Petrus 1:10)

Dit doen ons deur elke dag uit te roep:

Here, daar is niks in my wat my meriete gee nie.

U is my enigste hoop.

Gemeente, so ‘n belydenis is nie die vrug van die ou mens nie.

Dit is die vrug van God se werk in ons deur die verkondiging van die Evangelie.

Hy gee sekerheid in sy Seun Christus.

En Hy neem mense nie kwalik, Hy is nie kwaad op hulle, as hulle daardie sekerheid vir hulleself toeëien nie.

Hy neem hulle nie kwalik as hulle direk Christus toeëien nie, al is hulle lewe en sondebesef nog so oppervlakkig.

Nee, dit maak Hom juis trots as Hy sien daar is mense op aarde wat leef met die sekere verwagting van die ewige lewe.

Mense wat dankbaar vashou die versekering wat sy eie Seun aan hulle gegee het:

Wees bly daaroor dat julle name in die hemel opgeskryf is - Lukas 10:20.

 

Geliefde gemeente, in Christus mag ek u beveel:

Wees bly!

Wees seker!

Gaan huis toe met ‘n opgewekte hart!

Maak die Vader bly deur elke dag alles te verwag van sy Seun.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Handelinge 4:8-14 & 13:44-49; Efesiërs 1:1-6 & 2:8-10

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,8-11

Tema: Wees bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is!

Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.

  1. Die Skrif roep ons op dat ons onsself moet bekeer. As God sê ons moet, impliseer dit dat ons ook kan? Sien Jeremia 31:18
  2. Is die uitverkiesing enkelvoudig of meervoudig?
  3. Is die uitverkiesing ‘n beloning of ‘n geskenk?
  4. Kan jy met ‘n oppervlakkige geloof Christus vra vir vergewing?
  5. Wat moet jy doen om die Vader in die hemel bly te maak?

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 135:2

Gebed

Skriflesing: Handelinge 4:8-14 & 13:44-49; Efesiërs 1:1-6 & 2:8-10

Ps 19:1,2

Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,8-11 (ook Verwerping van die dwalings 1,1-5)

Preek

Ps 33:11

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:1-5

Kollekte

Sb 24:1-3

Seën