Die eindtye is op ons! God is vir ons in Christus Jesus. Hy het ons verlos van slawerny en van die slawerny van die kosmiese magte van die huidige duisternis. Hy het Homself in ons plek gegee – sodat ons regverdig kan wees voor God en erfgename van die koninkryk van sy Seun. Hierdie seëninge is die vervulling van wat Israel ervaar het toe hulle uit Egipte bevry is en God se kosbare besitting geword het. En tog kan hierdie groot seëninge so maklik as vanselfsprekend aanvaar word. Of eerder, ons aanvaar God as vanselfsprekend. Ons vergeet so gou wat Hy gedoen het en steun op ons eie vermoë. En ons begeer weer die kwaad waarvan Hy ons gered het, en nie die goeie waartoe Hy ons gered het nie.
Kom ons leer dan by die Israeliete van ouds en werp onsself op sy soewereine genade.
Leer van die Israeliete en slaan ag!
- Leer
- Let op
Leer
Die sleutelwoord in vers 1-4 is die woord “almal”. Luister.... WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
Die woord "almal" kom vyf keer na vore. Paulus maak die punt baie duidelik dat almal van hulle die ryk en oorvloedige geestelike seëninge geniet het wat kom deur in 'n verbond met God te wees. Hulle almal het dit ervaar om gedoop te word in Moses wat die middelaar van die ou verbond was – deur wie hulle gemeenskap met God gehad het. Hulle het almal dieselfde geestelike voedsel en geestelike drank ontvang. Hulle het selfs almal uit dieselfde geestelike rots gedrink en die rots was Christus.
Dieselfde as wat? Dieselfde as die Kerk van Korinthe. Julle geniet die sakramente van die Doop en die Nagmaal. Julle het almal die oorvloedige water van die lewe – Christus – ontvang, soos dit uit sy Woord vloei. Die volk Israel was geseënd. Hulle is gevoed, hulle het water gekry om te drink, hulle het selfs van Christus gedrink. Maar wat het van hierdie "almal" geword? Net soos die kerk in Korinthe. Net soos die kerk in Bellville.
In die volgende vers benadruk Paulus dit ten sterkste: Maar!! Almal van hulle het alles gehad! Net soos wat julle dink julle het alles, MAAR – “God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.” Paulus se punt tref raak: die Korinthiese Christene het hulself waarskynlik allerhande vryhede toegestaan (soos om in heidense tempels fees te vier, broers te laat struikel, seksuele vryheid), en gedink dat hulle "veilig" is as gevolg van seëninge uit die verlede en geestelike ervarings (veral doop en nagmaal). Daarom waarsku Paulus hulle om op hulle hoede te wees, want alhoewel Israel geseënd was en geestelike ervarings gehad het, het hulle steeds omgekom – en net so dalk sommige van die Korinthiese Christene ook!
Dit wil voorkom asof die Korintiërs gedink het dat dinge soos die Doop en die Nagmaal vir hulle redding sou verseker.
Trouens, Hy het toegelaat dat Israel hierdie dinge deurmaak as 'n soort voorbeeld, van wat die kerk sou deurmaak. Soos hy in vers 6 sê: " En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie." Letterlik staan daar: "sodat ons nie die kwaad sal begeer soos hulle dit begeer het nie." Dit begin met die begeertes van die hart. Waarna ons verlang. Wat ons wil hê. Is God genoeg of nie? Wat wil jy hê? Wat begeer jy? Dit is die eerste vraag.
Hierdie verhale in die Ou Testament funksioneer as 'n waarskuwing vir ons vir wie die eindtyd aangebreek het (vers 11b). Dit is interessant dat hy van begeertes praat. As ons God bo alles begeer, dan sal die prediking en die sakramente van die Doop en die Nagmaal nie funksioneer as dinge wat ons verlossing waarborg nie, maar iets waarna ons smag, om in afhanklikheid van Christus te groei. Met ander woorde, Paulus sê dit: As jy bose begeertes omhels (vers 6), sal jou Doop en jou deelname aan die Nagmaal jou nie meer red as wat die Israeliete gered is deur hulle deelname aan die wonderbare wolk en see, of deur hulle deelname aan die wonderbare kos en drank nie.
Paulus gee 'n paar voorbeelde van waar dinge vir die Israeliete skeefgeloop het. Afgodery, seksuele onsedelikheid, om Christus op die proef te stel en murmurering. Ek durf sê dat dit net so relevant is vir die21ste eeuse kerk in Kaapstad. Dit teister nog steeds die verbonds-gemeenskap deur die eeue heen. Kom ons slaan dan hierop ag en lees, mediteer en dink aan die verbonds-handelinge van God met sy volk in die verlede, sodat ons daaruit kan leer en groei.
“En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.” Waarna streef ons, na wat soek ons? Dis interessant dat die Bybel hierdie aanhaling gebruik. Hulle was ongeduldig toe hulle vir Moses gewag het om van die berg af te kom, en hulle het besluit om die tyd om te speel, waarskynlik in seksuele opwinding. Die ongeduld van die Israeliete in hierdie verhaal is een ding. Hulle het nie op die Here gewag nie. Maar ook hóé hulle hulself afgelei het. Hulle het opgestaan om te speel. Is dit nie hoe die wêreld optree terwyl ons op die wederkoms van Jesus wag nie? Ons staan op om te speel. Ons lei onsself af met pret.
Dit het waarskynlik 'n seksuele konnotasie, maar ek glo ook dat dit verder gaan. Dit is van toepassing op vermaak. Vermaak is 'n maklike en leë god. Het jy al opgehou wag vir God om iets te doen – om Homself in sy Woord te openbaar, om jou te help om 'n belangrike besluit te neem, om die genesing of versoening te bring waarvoor jy gevra het – en besluit om jouself eerder met iets lekkers af te lei?
Is jou lewe gevul met uitsien na die volgende vakansie, spaar vir die volgende huis, boot, motor? Vermaak is een van die grootste afgode van ons tyd. Ek verstaan dit. Mense raak moeg om op die Here te wag. Want dit is moeilik. Dit verg dissipline. Fokus. Die ander groot afgod wat hiermee verband hou, is seks.
“En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval.” (Numeri 25:9). Seksuele immoraliteit het toe nie minder hoogty gevier as nou nie. Vermaak en seksualiteit was die afleidings in daardie tyd in Korinthe. Om Christene weg te trek van die dinge wat regtig saak gemaak het. O geliefde kerk, hoor die waarskuwing – en drie-en-twintigduisend het op een dag geval. Dit is net 'n bietjie minder as die hele studentekorps op Stellenbosch. Almal dood as gevolg van seksuele onsedelikheid. Moses het gesê dat al daardie dooies ter wille van jou gebeur het – 'n spies deur 'n maag, 'n plaag wat duisende uitwis – sodat ek en jy die verskriklike oortreding van seksuele sonde sal voel en daarvan sal wegvlug. Voel jy die gewig van die verskriklikheid van sonde? Vandag is die dag om jou te bekeer!
Die probleem was dat hulle opgestaan het om te speel, seksuele onsedelikheid en om Christus op die proef te stel: “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.” Moses vertel die verhaal: "Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. En die mense het onge-duldig geraak op pad. En die volk het teen God en teen Moses gespreek...” (Numeri 21:4-5).
Hoe sou jy gevaar het op daardie lang, moeilike pad van Egipte na Kanaän? Voel jou lewe party dae (of maande of jare) so? Asof jy deur 'n woestyn loop? Die Bybel plaas die kerk dikwels in daardie konteks op pad na die beloofde land. God het Israel van wrede en geweld-dadige slawerny gered. En Hy het belowe om hulle in hul eie land van veiligheid en voorspoed in te bring. Maar hulle kon nie wag nie.
Hoe het God op hulle ongeduld gereageer? Hy het giftige slange in die kamp ingestuur, en baie het gesterf (Numeri 21:6). Hulle het hul bekeer (Numeri 21:7). Nadat ons deur God gered is van nimmereindigende oordeel en vernietiging, is ons bereid om nog 'n week, nog 'n jaar of nog tien jaar vir Hom te wag om ons gebede te verhoor?
En moenie murmureer, soos sommige van hulle gemurmureer het nie en hulle het deur die verderwer omgekom." Geliefde gemeente, ek dink kla en ontevredenheid vier hoogty in ons kultuur. Niemand is ooit tevrede nie. Mense wil meer hê. Hulle wil beter hê. Hulle begeer nie God nie, maar hulself. Hulle klaende harte wys dat hulle selfgerig is en meer besorg is oor hul eie begeertes as God se heerlikheid – dieselfde kwessies wat probleme veroorsaak by die Christene in Korinthe, wat nie hulle reg wou opgee, ter wille van 'n ander broer, om vleis te eet wat aan afgode geoffer is nie.
Hulle het vir hulself gelewe. Hulle wou nie die vleis wat aan afgode geoffer is, prysgee nie, maar was bereid om hul broers en susters te vernietig sodat hulle hul regte kon hê. In 'n era van regte praat ons selde oor die opoffering van daardie regte. Trouens, as jy so praat, kan dit jou swak laat lyk.
In 'n wêreld vol klakouse sal mense wat "bedroef, maar altyd blymoedig" is (2 Kor. 6:10), helder skyn en aandag trek tot eer van hulle Voorsiener en Bewaarder in die hemel.
Dit is vir ons geskryf! Lees ons hierdie verhale en mediteer ons nie net oor hoe hulle die genade van Christus verkondig deur nie die hele volk te vernietig nie, maar die reg en geregtigheid van ons Koning? Laat ons nie dink dat ons veilig is net omdat ons lidmate van hierdie kerk is, en die prediking, die Doop en die Nagmaal ontvang nie. Hy red ons tot heiligheid. Die evangelie gee ons verskillende begeertes. Sodat ons nie meer die kwaad begeer nie, maar heiligheid. Maar neem ons ook die waarskuwing ernstig op wanneer daar staan: “Maar God in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie."
Let op, sodat jy nie val nie (12-13)
Dit is 'n voorbeeld vir ons vir wie die eindtye aangebreek het! Die toekoms het in die hede ingebreek! Maar liewe gemeente, luister aandagtig, dit is nie hulle wat sukkel, of wat hulle eie swakheid verstaan waaroor Paulus bekommerd is nie. Dit is oor die selfversekerde, selfver-trouende. Diegene wat dink dit is genoeg om deel te wees van iets eerder as om iemand te wees. Om deel te wees van 'n kerk, eerder as om 'n lewende lidmaat te wees. Want sien, jy hou nooit op om van totale en absolute genade te leef nie. Dit beteken jy word nooit minder afhanklik nie. Jy besef jou afhanklikheid net meer namate jy groei in die Christelike lewe. En deur die besef hiervan sal jy groei in dankbaarheid en nederigheid.
“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Versoeking werk soos rotse in 'n hawe; wanneer die gety laag is, sien almal die gevaar en vermy dit. Maar Satan se strategie met versoeking is om die gety te verhoog en die gevare van versoeking te bedek. Dan wil hy jou graag laat neerstort op die bedekte rotse. As jy dink dat jy veilig is, hou hiermee op. Aan hierdie kant van die hemel is jy nie veilig nie. Jou vyande haat jou met 'n absolute haat en sal enigiets doen om die lig van die heerlikheid van Jesus Christus wat deur jou skyn, te verdof.
As jy wil weet hoe om te onderskei of jy een van diegene is wat dink dat hulle staan, eerder as om in nederige afhanklikheid te leef, kyk na jou gebedslewe. 'n Oppervlakkige gebedslewe beteken oor die algemeen dat daar geen begrip is van hoe onveilig jy is sonder die krag van die Here nie. Jou gebed verraai jou ware afhanklikheid van God. 'n Ander manier om te onderskei of jy een van diegene is wat dink dat jy staan eerder as om te val, is deur na jou houding te kyk. Sien jy ander se sonde gouer as jou eie? Is jy 'n dankbare mens? Want 'n dankbare mens weet dat daar niks is sonder die Gewer van alles wat goed is nie. Die volk Israel het gemurmureer. Hoekom? Omdat hulle gedink het dat hulle daarop geregtig was. Dit het oor hulle gegaan. Geliefde gemeente, weet dat God daar is vir jou – gaan na Hom toe in nederigheid en afhanklikheid.
Eers praat Paulus met die arrogantes, dié wat dink dat hulle staan. Nou gaan hy voort om die vreesbevangenes aan te spreek. Want albei het nodig om in groter afhanklikheid te leef en te besef dat dit nie oor hulself gaan nie. Die vraag hier is nie of jy vertrou dat jy staan nie, maar of jy bang is om te val. Versoeking is 'n roetine-deel van die lewe. Ons begeerte om te sondig kan soms soveel kragtiger voel as ons begeerte om te doen wat reg is voor God. Wat as ons die sonde nie kan weerstaan nie? Wat as God, soos sommige voorstel, ons in 'n posisie plaas waar weerstand onmoontlik is: 'n scenario waar ons geen werklike keuse het nie, behalwe om te sondig? Of, ten minste, geen hoop om die versoeking te kan weerstaan nie?
In reaksie op hierdie soort vrees bied die Bybel gerusstelling: om enige gegewe versoeking te oorwin, is heeltemal moontlik. Dit geld vir elke Christen.
Eerstens wys Paulus daarop dat nie een van ons op 'n unieke manier deur sonde versoek word nie: "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie;”
In 'n sin is ons begeerte om te sondig, watter unieke vorm dit ook al aanneem, algemeen en gewoon. Dit is deur die geslagte heen deur talle ander ervaar. Ons is nie minder of meer onderhewig aan versoeking as die wat voor ons gekom het of langs ons loop nie. Die ervaring van menslike versoeking is deel van dit wat Christus se verhouding met ons een van vertroue en hoop maak (Hebr. 4:14-16). Jy sien, wanneer ons dink dat ons versoeking uniek is en jy alleen veg, sal jy nie uitreik vir hulp nie. Jy sal alleen voel. Maar ons almal sukkel. Ons almal sondig. Ons almal word versoek. Dit gaan nie daaroor hoe moeilik dit vir jou is nie. Dit gaan oor belydenis, gebed en gemeenskap.
Tweedens sê hy: "God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo jul kragte versoek word nie, maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitweg gee, sodat jy dit kan verduur." Let op 2 dinge: hy praat nie van beproewings in die algemeen nie – soos lyding of dood – maar van versoeking. Dus, om te sê God sal jou nie meer gee as wat jy kan hanteer nie, is eenvoudig nie waar nie. Maar Hy sal jou nie meer gee as wat Hy kan hanteer nie!
En dit lei ons na die tweede ding om op te let: dit is God wat die krag van die versoeking bepaal en dit is Hy wat ‘n uitweg bied. Dit is 'n groot troos vir die kinders van God – agter daardie versoekings wat so sterk en so onvermydelik lyk, staan 'n Soewerein wat sorg dat die versoeking nie bo jou vermoë is nie en boonop ook nog 'n uitweg bied. Dit beteken dat jy nie self ‘n uitweg hoef te vind nie. Jou eie uitweg sal die verkeerde uitweg wees en sal daartoe lei dat jy óf aan daardie versoeking toegee óf selfregverdigend word. Maar wanneer jy op jou knieë val en bid, dan sal jy besef dat selfs versoeking in die hand van God is om jou te laat groei in nederigheid en afhanklikheid van Hom.
Oorlog verg volharding, en daarom sê Paulus: "Sodat julle dit sal kan verdra." Jy oorwin nie die sonde binne ‘n dag nie. Dit sal aanhou kom, jy moet jou oë op God hou. Dit gaan nie daaroor om harder te probeer nie, maar om te groei in dieper afhanklikheid van genade – van God se krag en belofte – en om weg te hardloop na Hom toe weg van die Sonde!
“Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.” Ons hoop is op Christus alleen. Ons kan nie dink dat ons staan nie. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor Hom. Nie ons krag nie, maar sy krag. Nie self-liefde nie, maar liefde vir Hom en ander. Nie oor hierdie teenwoordige bose era nie, maar oor die lewe vir die koninkryk van God. Die eerste vraag is altyd of dit God sal verheerlik.
"Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens." (1 Kor. 10:14). Hy sê dit aan die begin van die paragraaf (1 Kor. 10:7) en aan die einde (1 Kor. 10:14). Ons het in Eksodus en Numeri by Israel geleer dat afgodery vermaaklik kan wees. Dat dit jou kan lok en verlei. Dit kan jou ongeduldig en ongelukkig maak. En dit kan jou doodmaak. Vlug daarvan weg en vlug na God toe.
God is getrou. Hy staan gereed om saam met jou te stap en jou vas te hou deur alle omstandighede en ongerief. Hy staan nie net daar naby en kyk om te sien wat jy gaan doen nie, maar beloof om 'n uitweg te gee uit versoeking en in die vreugde om soos Hy gemaak te word. Hy skep die weg van ontvlugting en wag om ons met meer van Homself te beloon.
Hy is genoeg.
Amen.