’n Predikant het eenkeer gesê: “Gemeentes kry dikwels hul idee van hoe ’n predikant moet wees uit die kultuur, nie uit die Skrif nie: hulle wil ’n wenner hê; hulle wil hê dat in hul behoeftes voorsien word; hulle wil deel wees van iets ongeloofliks, die nuutste en die glansrykste. Hulle wil eintlik glad nie ‘n predikant hê nie – hulle wil ‘n bestuurder van hul godsdienstige maatskappy hê. Hulle wil ’n predikant hê vir wie hulle kan volg, sodat hulle nie meer moeite hoef te doen om Jesus te volg nie.”
In 'n sekere sin het dit met Paulus en die kerk in Korinthe gebeur. Hulle wou iemand met charisma hê, 'n leier, iemand vir wie hulle kon volg. 'n Petrus of ‘n Apollos. Maar hulle het 'n man ontvang wat in swakheid gekom het. En volgens sommige van hulle nie een van die oorspronklike 12 apostels nie. As gevolg hiervan, en miskien omdat hy reeds werk gehad het, het hulle besluit om hom ook as 'n mindere apostel te behandel, en het Paulus geen ondersteuning van hierdie gemeente ontvang nie. Hulle het hul minagting vir Paulus nie net in woorde getoon nie, maar ook met hulle beursies.
En dis waar hulle die punt gemis het. Hulle het nie gegee om die evangelie te ontvang nie; hulle was veronderstel om te gee in reaksie op die evangelie. Dit moet die begeerte van kerke wees om nie in die eerste plek die predikant nie, maar die evangelie te ondersteun. Hoekom gee jy? Om die begroting te laat klop, en die rekeninge te kan betaal, of as gevolg van wat God in Christus vir jou gedoen het?
Alles ter wille van die evangelie!
1. Ondersteuning van die evangelie is noodsaaklik
2. Om ondersteuning te weier ter wille van die evangelie
Ondersteuning van die evangelie is noodsaaklik
Paulus begin in hoofstuk 9: “Is ek nie 'n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie?” Dink aan hoofstuk 8 toe Paulus oor regte gepraat het. In hoofstuk 8 het hy gesê: "Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ‘n struikelblok word vir die wat swak is nie." Nou kom hy met 'n voorbeeld uit sy eie lewe; hy sê ek het die reg om geld te verdien uit die prediking van die evangelie. Trouens, as daar iemand is wat hierdie reg het, is dit Paulus. Daarom begin Paulus met hierdie vrae. Almal retoriese vrae, waarop ‘n positiewe antwoord verwag word. Natuurlik is Paulus vry! Natuurlik is hy 'n apostel! Natuurlik het hy die Here gesien! En natuurlik is die gemeente in Korinthe sy werk in die Here!
Julle, van alle mense, behoort dit te weet, Korinthiërs! Hy sê in vers 2: "As ek vir ander geen apostel is nie, is ek dit tog seker vir julle, want julle is die seël op my apostelskap in die Here." Met ander woorde, julle is 'n lewende bewys van God se werk deur my. Van alle mense wat glo as gevolg van die boodskap wat ek gegee het, moet julle my sien as een wat deur God gestuur is! Dit was EK van alle mense deur wie God deur sy genade vir julle verander het, sodat julle ewige rykdom in Christus ontvang het! Die feit dat daar 'n kerk is, is 'n seël van God wat my gekies het as 'n apostel vir die heidene.
En dan begin Paulus sy verdediging. Hy sê in vers 3: “My verantwoording aan die wat my beskuldig, is dít:” Hy staan tereg, en hy is die beskuldigde, en hy lê die getuienis af, uit sy eie lewe in vers 3-7, en uit die Skrif in vers 8-12.
“Het ons dan geen vryheid om te eet en te drink nie? Het ons dan geen reg om 'n suster as vrou met ons rond te neem net soos die ander apostels en die broers van die Here en Céfas nie?” Dit is amper asof hy die kerk aanhaal en dit in 'n vraag verander. Hulle het opgetree asof hy geen reg het om te eet en te drink nie, en geen reg om 'n gelowige vrou te neem nie. "Of het net ek en Bárnabas geen reg om die hande-arbeid na te laat nie?" Die ander apostels het blykbaar geen probleem gehad om die kerk te oortuig om die nodige aan hulle te gee nie, en om hulle toe te laat om ‘n huweliksmaat te neem nie. Hulle het net gegee wanneer hulle van die predikant gehou het. En opgehou gee toe hulle nie meer van hom gehou het nie.
Wat geen sin maak nie! Die kerk kan mense maklik betaal volgens begaafdheid, en nie volgens getrouheid nie. Hierop sê Paulus: kyk na julleself. Julle is Christene omdat God deur my gewerk het! Ek het vir jou geveg! "Wie dien as 'n soldaat op sy eie koste?" Ek het jou geplant! "Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrug nie?" Ek het jou opgepas! "Of wie pas 'n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie?" As soldate, boere en herders ‘n loon kry, moet ek dan nie loon ontvang nie?
Dit het gelyk asof hierdie Korinthiërs nooit aangebied het om te help nie. Solank as wat hy nie vir hulp vra nie, gaan ons dit nie aanbied nie. Hy moet vra. Tot dan kan ons ons geld beter spandeer op ander predikante wat dit nodig het. En dit is nie iets wat net gesonde verstand in elke bedryf is – naamlik dat 'n werker sy loon werd is – nie, maar dit is Bybels.
Dit is die punt wat Paulus in vers 8-9 maak. “Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: 'n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie.” Paulus sê dat hulle hul Bybels moet gaan lees. In Deuteronomium 25:4 staan daar dat 'n werker sy loon werd is. Hierdie wet is nie vir osse geskryf nie. Osse kan nie lees nie. Dit is gemaak vir mense om te lees. Om 'n punt te maak. Dit is wreedheid teenoor diere om hulle te laat honger ly wanneer daar reg voor hul oë 'n oorvloed kos is wanneer hulle die graan uittrap. En hier sê Paulus daar is 'n oorvloedige oes waarvan hy moet maai.
Hy gaan ‘n bietjie later voort om sy argument uit die Ou Testament te maak wanneer hy sê: “Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.” Hier word die reg prontuit gestel. Diegene wat in diens van die evangelie werk, insluitend Paulus, is geregtig op finansiële ondersteuning. Die argument is waterdig, en daar is geen uitweg nie. Dit was die kerk se verpligting. Maar hy sal nie daarvan gebruik maak ter wille van die evangelie nie. Nie ter wille van die predikant nie, maar ter wille van die evangelie! Dit bring ons by ons tweede punt.
Om ondersteuning te weier ter wille van die evangelie
Paulus is egter 'n man wat weet hoe om suurlemoene in limonade te verander. Die potensieel vernederende feit dat hy, in teenstelling met sy mededingers, nie steunwaardig geag is nie, is eintlik 'n teken van sy erns en toewyding aan die evangelie. Paulus maak dit sy roem – nie dat hy ondersteuning van die Korinthiese gemeente geweier het nie, maar dat hy nie gebruik gemaak het van sy duidelike reg om dit te eis nie (vgl. 1 Thess. 2:7-9).
Vers 12b: “Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie.” Hoekom? Nie omdat hy nie die reg gehad het nie, maar ter wille van die evangelie. Hy wou nooit 'n struikelblok in die weg van die evangelie plaas nie. Hoe kan dit gebeur? As die predikant iets vra, kan iemand dit verkeerd opvat en nie met dieselfde vryheid as voorheen na die prediking kan luister nie, omdat hy iets teen die persoon het. Die evangelie is reeds 'n struikelblok, Paulus wou niks anders in die pad daarvan plaas sodat mense dit ontvang nie.
Dus, niks moet ooit in die pad van die evangelie staan nie. Nie eers 'n gebrek aan vergoeding nie. Die evangelie geniet prioriteit. Dit is die tema van beide hoofstukke 8 en 9, en selfs hoofstuk 7. Die prioriteit is die koninkryk van God. Dit is die groot boodskap. Alles moet onderdanig wees aan die evangelieboodskap. Daarom het hy geen gebruik van die regte gemaak nie, en hy sou ook nooit nie!
Vers 15 sê: “Maar ék het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie. En ek skryf dít nie met die bedoeling dat dit so met my moet wees nie, want dit sou vir my beter wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel.” Hy sê ek wil nie julle geld hê nie – dit kan eintlik daarop dui dat finansiële sekuriteit vir my voor die evangelie kom! Glad nie! Ek sal eerder doodgaan. Dit is 'n predikant wat omgee vir een ding. Die evangelie. As daar enigiets anders daarbo gestel word, sou hy liewer sterf. Al was dit sy reg om sy loon te kry deur te preek, gaan hy al sy regte neerlê.
Die evangelie verwyder alle ander redes om te roem, sodat ons net daarin kan roem. Dit is hoekom dit in twee reëls lyk asof hy homself weerspreek: "want dit sou vir my beter wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel." Sy roem slegs in die evangelie wat geen ander rede laat om in homself of in enigiets anders te roem nie. Dit is hoekom hy in vers 16 sê: “Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie.” Die evangelie maak ons leeg – verneder ons. Dit spreek van ons behoefte nie, van ons grootheid nie. Dit word vrylik gegee. Totaal en al gratis. Daarom sê hy: “dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” Dit is die eie aard van die evangelie dat dit gratis is, wat die noodsaak daarvan op elke evangelieprediker lê! Wee my as ek nie preek nie.
In daardie sin is die verkondiging van die Woord 'n profetiese bediening. Soos Jeremia sê: “En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos 'n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.” Of Amos wanneer hy sê: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” Die Soewereine Heer het deur Jesus Christus in die evangelie gespreek – hy het Paulus opdrag gegee om hierdie goeie nuus te verkondig – en wee hom as hy dit nie doen nie!
"Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is 'n rentmeesterskap aan my toevertrou." Onthou, in 1 Korintiërs 4 het Paulus gesê dat die apostels as “bedienaars (rentmeesters) van die verborgenhede van God” beskou moet word. 'n Rentmeester is iemand aan wie die meester sy huishoudelike sake toevertrou.
Later in 1 Korintiërs 4 sê hy: “Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie.” Dit is God wat hom as rentmeester aangestel het, en dit is aan God wat hy geroepe is om te gehoorsaam.
Maar hy doen dit nie net omdat hy 'n rentmeester is en deur die koning verplig word om hierdie spesifieke roeping uit te leef nie, maar hy doen dit ook uit sy eie wil, en daarom sê hy: "Ek het 'n beloning". “Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie.”
Deur te weier om sy reg uit te oefen om finansiële ondersteuning te ontvang van diegene wat hy dien, kan hy in Christus roem dat hy in sy lyding kan deel! Hy gee wettiglik iets vir die Here prys. Hy sê ter wille van die evangelie lê ek my reg op finansiële ondersteuning eenkant.
Dit is nie 'n arrogante, selfdienende grootpratery nie. Dit is 'n vreugdevolle bewering dat hy iets opoffer wat hy nie vereis word om te gee nie. Het jy dit al ooit gedoen ter wille van die evangelie? Hy ontvang die toekenning van bevrediging deur die goeie nuus oor Jesus gratis weg te gee. Ons kan bly wees, liewe broers en susters, wanneer die evangelie ons iets laat prysgee. En dit sal. Maar ons sal dit met graagte en gewillig doen en dit as vreugde beskou dat ons die kans het om te deel in die lyding van ons Here!
Romeine 8:17 e.v. sê: “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” Dit word nog duideliker in Petrus gestel wanneer hy sê: “maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van 'n ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.”
Dit is presies wat Paulus sê. Ek is nie skaam dat ek niks van julle ontvang nie. Trouens, ek kan in hierdie saak roem, of beter nog, roem in God. Eintlik is dit hierdie lyding vir die evangelie wat wys dat dit waarlik die evangelie is wat in julle werk. As jy nog nooit iets prysgegee het wat jy wou behou nie, het jy nie die evangeliese oproep op jou lewe verstaan nie. Die evangelie is die pêrel van die groot prys waarvoor ons bereid is om alle luukshede van die lewe prys te gee indien nodig.
Ter afsluiting
Liewe gemeente, om af te sluit: Paulus praat met die kerk en sê dat, as die mense wat die evangelie ontvang nie wil bydra nie, dit 'n aanduiding is van hul lae agting vir die evangelie of die predikant. Wanneer Christus ons Here word, word hy Here nie net op 'n geestelike Sondagse soort van manier nie, maar op 'n baie praktiese (24/7) liggaam en siel soort van manier. Alles behoort aan Hom en moet gebruik word in diens van ons Here Jesus. Dus, wee die kerk wat die evangelie ontvang en niks doen in terme van die ondersteuning daarvan nie. Diegene wat die evangelie ken en die evangelie ontvang het, en die lewe uit die evangelie, sal ook die evangeliebediening oorvloedig wil ondersteun.
Aan die ander kant. Die verborgenheid waarmee Paulus toevertrou is, dryf hom daartoe om te preek ongeag die uitkoms. Hoekom? Omdat hy eenvoudig in Jesus se voetspore volg. Verlossing het Jesus alles gekos en dit kos ons niks. Die heerlikheid van die evangelie is dat dit totaal en al gratis is. Enigeen kan kom en die volle vergifnis ontvang wat deur Christus kom. Dwelmhandelaars, kerkmense, prostitute, almal kry dieselfde ooreenkoms: gratis vergifnis, verlossing en aanneming in Christus. Die evangelie is nie net goedkoop nie. Dit is gratis. Heerlik, heerlik, duiselingwekkend vry. Jesus het regtig ALLES betaal.
En op hierdie manier kan dit nie soos een of ander kommoditeit gekoop en verkoop word nie. Sommige sal dit so wil hê. Daar is die verhaal van Spurgeon wat eenkeer deur 'n ryk man genooi is om in 'n plattelandse kerk af te kom preek om hulle te help om fondse in te samel om skuld af te betaal. Die man het aan Spurgeon gesê dit staan hom vry om sy huis op die platteland, sy huis in die dorp of sy huis by die see te gebruik. Spurgeon het teruggeskryf en geweier om te kom en gesê: ‘Verkoop een van jou huise en betaal self die skuld.’
Die evangelie is nie te koop nie. Dit moet gratis gegee word. Dus, op hierdie manier betaal die kerk nie die predikant in die sin van soos wat ander vir dienste betaal word nie. Die betaling is bloot 'n gevolg van die evangelie. En die dominee preek nie omdat hy betaal word nie. Hy preek as gevolg van die evangelie. En dit is waaroor hierdie hoofstuk gaan. Die evangelie. Die kerk gee in reaksie op die evangelie. Die predikant preek vanweë die aard van die evangelie. Wat is jy bereid om vir die evangelie te gee?
Amen.