Vandag kom ons by die bevestiging van ampsdraers. Dit is manne wat veronderstel is om deurdrenk te wees van die Skrif. Vol van die Heilige Gees en wysheid. Nie net mense wat baie weet nie. Nie net mense wat van God weet nie, maar God ken en deur God geken word. As dit nie die geval is nie, kan hulle maklik die swakstes onder ons vernietig. Dit is iets wat ons vandag in ons teks sien. Die “sterkes” wat “weet” vernietig deur hul lewenswyse die lewens van diegene wat “swak” is.
Die vraag is: “Wat het ons meer lief?” Die “kennis van God” of “God”? Is ons meer passievol oor eenheid en die evangelie, of ons regte en vryheid?
Kennis op sy eie is geneig om opgeblase te maak, soos Paulus ook sê. Daarom het kenners oor die algemeen minagting vir die eenvoudiges. Soms sien jy dit by slim mense: hulle is slim, en hulle weet dit, en so ook al die ander. Jy voel soos ’n dwaas teenoor hulle. Daar is ’n groot gevaar in kennis wanneer dit nie in onderwerping aan die wet van Christus, wat liefde is, geplaas word nie. Dit is iets waarvan veral ouderlinge en diakens bewus moet wees. Die eerste vraag is nie: “Het jy al die antwoorde?” nie, maar, “Het jy jou skape lief met die liefde van Jesus?” Selfs in die Gereformeerde tradisie was daar al baie seerkry wat veroorsaak is deur die verkleinering van ander. Dit kan maklik wees om liefde gelyk te stel aan kennis in die Gereformeerde tradisie — dat mens dink: “as ek al hierdie dinge weet, dan sal ek outomaties gered word.”
Maar kennis is niks sonder ’n diepe en blywende liefde nie. Dit is die punt wat Paulus in 1 Korintiërs 13 maak wanneer hy sê dat as ek “al sou ek die geheimenisse weet en al die kennis hê, … en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.” Selfs al sou jy meer geweet het as al die grootste teoloë deur die eeue heen, sou dit niks beteken sonder liefde nie. En liefde vir Christus blyk uit die manier waarop ons die swakstes onder ons behandel. Liefde word nie gewys deur hoeveel jy het nie, maar deur hoeveel jy bereid is om te gee.
In die gemeente van Korinte was hulle nogal trots op hulle geestelike kennis — kennis wat goed en reg was. Maar hulle het dit nie op opbouende maniere gebruik nie. En hulle was nie bereid om hulle regte opsy te skuif ter wille van die broers nie.
Gebruik jou kennis van vryheid in Christus in diens van ander.
Paulus begin so : “En met betrekking tot die offervleis aan die afgode.” Met ander woorde, dit gaan nog ’n antwoord wees op die brief wat die kerk aan Paulus geskryf het. Hulle het gewonder: “Eet ons voedsel wat aan afgode geoffer is, of nie?”
Sommige het gesê: “Ons weet almal dat ’n afgod in elk geval niks is nie, so natuurlik word ons toegelaat om kos te eet wat aan afgode geoffer is.” Hulle was hulle hele lewe lank Christen, en het verstaan dat kos kos is, en ’n afgod niks. Daar is dus in beginsel — of volgens die kennis — niks verkeerd met die eet van voedsel wat aan afgode geoffer is nie. Hulle gewete het hulle nie beskuldig nie.
Maar daar was ander in die kerk wat hulself net nie so ver kon kry om dit te doen nie, as gevolg van die konnotasies wat dit met hul lewens gedra het voordat hulle na Christus gekom het. Hulle het pas uit heidense afgodery gekom. Hulle het voedsel geëet wat aan afgode geoffer is en het die eet van hierdie kos gesien as ’n manier om die valse gode te eer. Hulle gewete het hulle skuldig bevind.
So, wie is reg? Wel, albei is. Daar is niks verkeerd om kos te eet wat aan afgode geoffer is nie. Maar hy sê ook: “Alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” So wat nou? Wel, dit is waaroor hierdie hoofstuk gaan?
Kennis is gevaarlik
Paulus sê: “ons [weet] dat ons almal kennis het.” Ons het almal ’n sekere hoeveelheid kennis in die evangelie. As jy ’n Christen is, het jy kennis. Maar kennis oor God kan gevaarlik wees. Om baie Bybelse kennis te hê, kan ’n arrogante houding skep. Mense kan die Bybel duisend keer in hul lewens lees, maar as die Bybel hulle nie aangegryp het nie, staan hulle veroordeel.
Paulus verduidelik hier in vers 1, “Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ’n mens behoort te weet nie.”
Wat bedoel Paulus hier? Hy sê dat ons maklik die klem kan lê op die kennis, in plaas van op die verhouding. En om die waarheid te sê, hier is dit mense met goeie teologiese kennis wat eintlik medegelowiges vernietig wat minder standvastigheid het. Kennis en liefde moet saamwerk. Daarom sit Paulus dikwels liefde en kennis saam in gebed. Soos vir die Filippense, “En dit is my gebed: dat julle liefde meer en meer oorvloedig mag wees in kennis en diepte van insig, sodat julle kan onderskei wat die beste is en rein en onberispelik mag wees vir die dag van Christus”
Hy minag nie die kennis nie; hy sê bloot hulle ken nog nie soos hulle behoort te ken nie. Hulle gebruik nie die kennis vir die regte doel nie, en die kennis word dan net nutteloos. Die vraag is dan: hoe behoort hulle te ken?
Hulle het vergeet dat die verhouding en die waarheid saam hoort. Hulle is saamgebind in die persoon van Christus. Dit gaan nie oor die kennis van iets nie, maar die kennis van Iemand. Wanneer dit bloot net oor kennis gaan, is dit gevaarlik, want die waarheid is nie meer ter wille van opofferende liefde nie, maar die waarheid word gebruik sodat ons kan doen wat ons wil en misbruik om ons goed te laat lyk. Jy sien dit soms ook in die kerk. ’n Dominee het hierdie soort mense as volg beskryf:
“Daar is tekens dat iemand die Bybel bemeeester het as blote inligting eerder as buitengewone krag. Een teken is dat hy spiritueel eksentriek word. Dit is iemand wat altyd kla oor die klein verskille in leerstelligs, altyd neerhalend is in argumente oor Bybel-vertalings, of neerhalend is oor mense aan die die verkeerde kant van teologiese debatte. ’n Spiritueel eksentrieke mens beskou die Woord as iets wat jy gebruik, eerder as iets wat jou gebruik. Hy is opgeblase met intellektuele hoogmoed en sy teologiese tradisie.
Dit is iemand wat die Bybel kan bestudeer sonder om self opgewek te word om God te prys, of om bewoë te raak oor dit wat God van hom verdra het, of in bewondering te raak oor die skoonheid en wysheid van wat Christus vir hom gedoen het.”
Die waarheid van die evangelie is mos Christus, en Hom gekruisig? As ons ons kennis gebruik om te doen wat ons wil, word dit eenvoudig leeg. Om dit te illustreer kan ons kyk na die voorbeeld van alkohol. Daar is niks fout met drank nie, maar as dit jou broer laat struikel wat uit ’n agtergrond van alkoholisme kom, is dit beter om dit nie eens uit die kas te haal nie. Toe ek grootgeword het, het ons selde alkohol by ’n kerkbyeenkoms gehad, want daar was ’n alkoholis wat die kerkdienste bygewoon het. In ’n sekere sin het hy alkohol sy god gemaak. Daarom het almal, ter wille van die een persoon, hulle van drank onthou. Ter wille van daardie een het niemand gedrink nie. Dit is hoe ’n liggaam funksioneer. As een lid struikel en swaarkry, offer die ander lede iets op, ter wille van die gesondheid van daardie een.
Hier is ’n onderliggende tema van lyding ter wille van liefde. Liefde aan hierdie kant van die ewigheid vereis dat ons iets prysgee ter wille van liefde.
Paulus gaan voort: “Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” Ek dink Paulus stel dit doelbewus so. Hy sê nie “as enigiemand God ken, word hy deur God geken” nie. Hy sê: “As iemand God liefhet, word hy deur God geken.” Liewe gemeente, die vraag wat ek vir jou wil vra is nie: “Ken jy God?” nie, maar: “Het jy God lief?” Het jy Hom lief bo alles? Hunker jou hart na Hom? Verlang jy met jou hele lewe na Hom? Is daar ’n diep verlange in jou hart om die Geliefde te sien? Dan word jy deur God geken. Dit is nie die belangrikste dat jy God ken nie. Baie mense dink hulle ken God en sal hemel toe gaan en dan sê, “Here Here!” Maar die belangrikste is dat God jou ken. En wanneer jou kennis deur liefde omgord en omvat is, dan eers het jy die kennis soos jy behoort te hê.
Kennis is goed
Met dit in gedagte gaan Paulus nou in op die spesifieke vrae wat hulle gehad het. Hy bou op wat hy in verse 1 tot 3 sê. In vers 4 sê hy: “Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.” Paulus haal waarskynlik die lidmate aan wat opgeblase is met kennis, en sê, jy is heeltemal reg met wat jy sê, “’n afgod is niks nie, en daar is geen God behalwe een nie.” Hy gaan voort: “Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is — soos daar baie gode en baie here is,” met ander woorde, daar is baie verskillende dinge wat mense in die hemel en op aarde aanbid, en wat hulle as hulle heer behandel. Maar dit is alles “sogenaamde” gode. Op aarde is dit dinge soos geld, sukses, en roem, en in die hemel kan dit dinge wees soos die aanbidding van engele of voorvaders. Maar op die ou end is hulle nie werklik gode nie. Nie lewend, persoonlik, bonatuurlik en magtig om te red nie. Slegs God kan dit doen. Dit is hoekom Paulus die teendeel stel.
Paulus sê, “tog is daar vir ons maar een God , die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” Alhoewel dit nie die punt van die teks is nie, gee Paulus hier vir ons insig in die leer van die Drie-enige God. Uit die Vader deur die Seun is alles. Daar is niks wat bestaan en wat nie deur God gemaak en onderhou word nie. Hierdie kennis is belangrik. Niks in die skepping is van nature sleg nie, want God het dit gemaak. Die skepping is nie sondig nie. Niks in die skepping nie. Alles beteken alles hier. Hierdie kennis gee vryheid. Om hiervan oortuig te wees, is goed en reg.
Met ander woorde, Paulus sê, voedsel wat aan afgode geoffer is, is nie verkeerd om te eet as jy dit toevallig by die mark koop of by iemand se huis eet nie. Jy neem nie deel aan die aanbidding van die afgod of afgodsfees nie.
Let ook op die “ons.” Ons bestaan nie om onsself te behaag nie, maar ons bestaan vir die Vader, om deur die Seun te lewe.
Hier sien ons Paulus se sensitiewe, pastorale hart soos wat hy na al twee kante kyk en sê, julle al twee het iets om te leer. “Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.” Daar was sommige in die kerk wat grootgeword het met die aanbidding van afgode. En die eet van die vleis wat geoffer is, was deel van die aanbiddingservaring. Nou het hulle die lewende Christus ontmoet, en Hy het hulle lewe omgekeer. Maar wat gebeur wanneer iemand uit goddelose omstandighede kom? Hulle is geneig om niks meer met hulle vorige lewens te doen te wil hê nie. Dit sluit in om alle voedsel wat aan afgode geoffer is, te vermy. Wanneer hulle die voedsel eet, voel hulle dalk dat hulle hul eie geloof verloën, en so hulle gewete besoedel.
Paulus gaan voort, “Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie.” God gaan nie nog meer tevrede met ons wees vir enige rede nie. Voedsel bring ons nie nader aan God nie. As ons met kennis optree en die voedsel wel eet, is dit nie beter as wat ons nie die voedsel eet weens ons gewete nie. Sommige van ons is swak en ander is sterk. Net omdat jy sterk is, beteken nie dat jy nader aan God is nie. Waarvoor ons wel moet oppas, is dat ons eetgewoontes of ander gewoontes nie op een of ander manier ’n struikelblok vir die swakkes word nie.
“Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie.” Met ander woorde, wat gebeur as hierdie swakker broer sien dat jy daardie voedsel eet, en dink, “wel, as hy dit kan doen, kan ek dit ook doen.” Maar vir hom gaan hy, vanweë sy agtergrond, teen sy gewete in en so verontreinig hy homself. En hy sondig. En dit is waarteen Paulus waarsku.
“Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie?” “As iemand jou wat kennis het” – hier gaan dit veral oor diegene wat meer kennis het – die leiers in die geloof. Dit is diegene wat grootgeword het met die kennis van die Bybel. Hulle wat dalk ouderlinge of diakens is, diegene wat lewenslank Christene is. Ons neem die vryheid as vanselfsprekend, en leef net die Christelike lewe sonder enige respek vir ander – veral die swakkes. As dit die geval is, dan is dit nie meer ’n Christelike lewe nie. Christus het alle regte prysgegee om die swakstes te dien. As ons dit nie met ons lewens doen nie, is ons nie dissipels van Christus nie.
“En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis?” Wat beteken die “verlore” hier. Dit beteken dat hierdie broer maklik kan terugkeer na sy vorige lewenswyse. Al die vordering wat hy in sy Christelike lewe gemaak het, word deur jou vernietig. En dit alles omdat jy aangegaan het om jou eie ding te doen. Al was daar op sigself niks daarmee verkeerd nie, tog was dit só verkeerd! Hoekom? Want kennis wat nie deur liefde gedryf word nie, eindig in eiegeregtigheid. En om kennis te gebruik sodat jy kan doen wat jy wil, is vernietigend vir almal rondom jou. Liewe gemeente, waarheid het te make met verhoudings. Geregtigheid het te make met verhoudings, want Christus is die waarheid.
“Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus.” Dit is ’n kragtige stelling wat sy punt benadruk. Weer sien ons die eenheid van die kerk en vereniging met Christus wat so kragtig in hierdie brief blyj. Dit gaan oor ons eenheid in Christus. Om ’n broeder seer te maak, is om Christus seer te maak. Paulus sê op hierdie manier sondig jy nie net teen jou broeder nie, maar jy sondig teen Christus, aan wie hierdie persoon behoort.
Liewe gemeente, ons is geroep om mekaar te dien, en wanneer jy jou kennis gebruik om iets te doen wat goed en reg kan wees, en tog daardeur veroorsaak dat jou broeder of suster sondig – sondig jy! Jy sondig teen hulle. En jy sondig nie net teen hulle nie, jy sondig ook teen Christus. Dus, sonde gaan nie net oor reg en verkeerd doen nie, maar daaroor om God en jou naaste lief te hê. Die kern van sonde is om God en jou naaste te verwerp – om vir jouself te lewe.
“Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” Pragtig! Dit is ’n wonderlike stelling! “As iets soos kos, of drank of iets uiterliks my broeder laat struikel, sal ek dit nooit weer doen nie.” Hoeveel van julle sal nooit weer vleis eet nie ter wille van Christus? Ek hoop julle steek almal julle hande op in julle gedagtes. Alles wat ons nie kan prysgee nie ter wille van die liefde vir God en die naaste, is ’n afgod, al is daar op sigself niks fout daarmee nie. Dit word ’n afgod wanneer jy daardie ding en daardie ding alleen liefhet – meer as jou broeder en Christus. Ons moet bereid wees om alles prys te gee ter wille van Christus. Dit is waar die kerk werklik leer om ons eie kultuur neer te lê, in diens van die koninkryk. Dit is hoekom God ons in ’n gemeenskap plaas, sodat ons opofferende liefde kan beoefen.
Wie is Jesus vir jou? Dit is 'n vraag wat baie nou verwant is aan die vraag: wie is jou broeder en suster vir jou? Want hoe jy jou broeder en suster in die kerk behandel, gee ’n baie sterk aanduiding van hoe jy die Here behandel.
Die vraag vandag is nie: wat weet jy? nie, maar: wat het jy lief bo alle ander dinge? Jesus en sy bruid? Ons gebruik ons kennis in diens van dit wat ons die liefste het. As ons onsself liefhet, sal ons ons kennis gebruik om ’n manier te vind om te kry wat ons wil hê, of om onsself goed te laat lyk, of ander neer te druk. As ons God liefhet, sal ons ons kennis gebruik om die ander te dien, hulle beter as onsself te ag en hulle te verhef.
“Ek sal nooit vleis eet nie.” Kan jy dit sê oor drank, of oor sosiale media, of oor videospeletjies, of oor rook, of oor wat dit ook al is wat kan veroorsaak dat jou broeder of suster struikel in sy wandel met God? As jy vashou aan iets ten koste van jou naaste is jy nie meer lief vir jou naaste nie, en liefde is die vervulling van die wet.
Liewe gemeente, Christus het die heerlikheid van die hemel en sy regmatige plek aan die Vader se regterhand prysgegee. Hy het alle reg daarop gehad. Maar om daardie reg vas te hou, sou jou vernietiging beteken. Hy het dit alles prysgegee. Alles. Ter wille van ons. Sodat hy ons kan dien, kan liefhê. En sodoende het Hy ons vrygemaak van ons eie selfsugtige begeertes. Van die eis van ons regte. Kom ons volg Hom.
Amen.