Stel jou die kerk in daardie tyd voor, waarvan die meeste nuwe bekeerlinge was. Grotendeels eerste-generasie Christene. Hulle het vanuit die heidendom gekom, dus het hulle nie 'n Joodse siening van die huwelik gehad nie. En die agtergrond van die paar Jode wat daar was, was nie veel beter nie.
Volgens die Joodse, Griekse en Romeinse reg kon ‘n man van sy vrou skei om ‘n verskeidenheid redes, en volgens die Griekse en Romeinse reg kon egskeidelik vrylik van weerskante geïnisieer word. Een navorser skryf: “dit lyk amper asof die idee van ‘n maat vir die res van jou lewe (lewensmaat) ‘n innoverende konsep was. ‘Om te bly soos jy is’ is geen konserwatiewe ‘status quo’-etiek nie, maar ‘n radikale en hoë evaluering van die Christelike huwelik.” Die Christelike siening van die huwelik het teen die stroom van die kultuur in geswem. Dit was radikaal en rewolusionêr. En dit is nog steeds.
In werklikheid was daar geen eenvormige wet vir die huwelik regoor die hele ryk nie. Daar was ook geen huwelikswette vir slawe nie. Burgers het dikwels net saam met verskillende metgeselle gewoon, en die edeles het dikwels 'n vrou vir die huis gehad, sowel as byvroue om aan sy seksuele behoeftes te voldoen. Moraliteit was laag, egskeiding was maklik en die getalle hoog. Onsedelikheid het hoogty gevier. Owerspel was wydverspreid.
Seneca, 'n Romeinse skrywer van daardie tyd, het gesê: “Dit lyk of min vroue bloos by egskeiding, en baie reken hulle jare nie volgens die aantal konsuls (jaarlikse heersers) nie, maar volgens die aantal mans wat hulle gehad het. Hulle verlaat hul ouerhuis om te trou en trou om te skei. Jy kan jou dus voorstel dat die Christelike siening van die huwelik absoluut radikaal was vir hierdie kerk, en kultuurverskuiwend – veral sy opdrag om te ‘bly soos jy is’.”
Om die waarheid te sê, teen hierdie tyd kan jy al insien hoe verskillende groepe verskillende vrae gevra het volgens elkeen se situasie: 1) die getroudes het gevra oor fisiese intimiteit; 2) die ongetroudes het gevra oor selibaatskap; 3) Christenpaartjies het gevra oor skeiding; en 4) diegene wat met ongelowiges getroud is, het pastorale raad gevra oor hoe om hul situasie te hanteer. Ons gaan vandag na vrae drie en vier kyk.
Paulus spreek hier allereers die huwelik as geheel aan in vers 10-11, en gaan dan oor na die kwessie van huwelike met ongelowiges in vers 12-16.
Die huwelik is vir heiligheid – bly getroud:
- Die heiligheid van die huwelik vir gelowiges
- Die heiligheid van die huwelik met 'n ongelowige
Die heiligheid van die huwelik vir gelowiges
10 En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie. Paulus praat hier met gelowiges en sê vir hulle dat 'n vrou of ‘n man nie van hul huweliksmaat mag skei nie. Dit is 'n opdrag wat die Here gee. Met ander woorde, dit is 'n opdrag wat ons kan terugvind in die woorde van Jesus terwyl Hy op aarde was. En neem kennis: dit is 'n opdrag. Dit is nie bloot 'n wens of begeerte nie, maar iets sterker.
Hoekom? Want die Christelike huwelik is 'n beeld van die evangelie. Van die verbonds-, onbreekbare, ewige liefde van Christus vir Sy kerk. En wanneer ons die Christelike huwelik betree, doen ons dit om die liefde van Christus en Sy bruid aan die wêreld te toon. Dit bewys Christus se liefde aan 'n wêreld wat toekyk. Jesus het nie van Sy vrou geskei nie. Hy het haar agtervolg, Hy het haar skoon gewas, Hy het haar afgesonder om haar te heilig. Die huwelik moet nie net so lank hou as wat die gevoel duur nie. Ons moet nie die ander persoon liefhê as gevolg van die manier waarop hulle ons laat voel nie, of omdat hulle so mooi is, of so wonderlik. Al dink jy dalk so. Die probleem is dat jou gedagtes kan verander, maar wat nie sal verander nie, is die liefde van Christus. Dit is 'n diepgaande begrip van die evangelie wat jou toelaat om jou huweliksmaat lief te hê.
Weer eens, dit was radikaal vir daardie tyd. Een Joodse rabbi van die skool van Hillel sê oor 'n man wat van sy vrou skei: “Hy mag van haar skei al het sy net 'n gereg (maaltyd) vir hom bederf ...” Maar Paulus verhef die huweliksband.
Nadat gesê is dat 'n Christen nie sal skei nie, kom die vrae na vore. Maar ‘wat as...’? En daar is so baie ‘wat as...’ Maar dit is nie waar ons moet begin nie! Hoekom? Want ons begin by die liefde van Christus – en ons dank God dat daar geen ‘maar wat as’ is as dit by Sy liefde kom nie. Maar Paulus erken hier dat, alhoewel egskeiding nooit goedgekeur word nie, dit wel gebeur.
Vers 11 sê: “…en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.” Indien dit wel in 'n Christelike huwelik gebeur, moet sy ongetroud bly. Dit is nou ‘n baie moeilike ding. Maar waarop dit neerkom is die vraag wie ons uiteindelike geliefde is. As dit Christus is, dan sal aan ons die krag gegee word om ook as 'n enkellopende te lewe nadat ons geskei is. God wil hê dat ons ons bevrediging, ons vreugde of tevredenheid bo alles in Hom moet vind, nie in 'n huweliksmaat of kinders nie.
Verder is Paulus hier baie konsekwent. Christene moet hulle met mekaar versoen. Hulle kan nie onversoend leef nie. Waar twee Christene ter sprake is, moet daar na versoening gewerk word. Dit sluit alle broers en susters in die geloof in. Ons kan nie in eenheid en vrede lewe terwyl daar verhoudings in die kerk is wat onversoenbaar is nie. Hy pas hierdie reël nou net op die huwelik toe. Onthou dat hy hier die huwelik van twee Christene aanspreek. Nie 'n Christen en 'n ongelowige nie. Dit kom volgende. Hoe kan twee mense wat werklik Christene is, onversoenbaar bly? Dit mag die geval wees dat een party hom- of haarself as nie-Christen bewys deur sy of haar konsekwente, onberouvolle gedrag, dan is dit anders.
Dit eintlike ding wat die Korinthiërs vra, word deur die apostel Paulus ontken. Hulle vra of, wanneer daar egskeiding tussen twee Christene is, hulle weer mag trou? En dit is moeilik om 'n manier buite-om hierdie opdrag te vind. Die kragtigheid van die woord "moet" is sterk. Een kommentator merk hier op dat "wat die vrou wou gehad het, was presies wat Paulus haar geweier het - 'n ander huwelik ... 'n egskeiding om met iemand anders te trou."
Maar tog, wanneer iemand hieroor preek, kom die vrae op: "Maar wat as ...?" Maar hierdie preek is vir ons almal. Toon ons huwelik daagliks die versoening en die liefde van Christus? Of gaan dit net so goed, omdat ons nog lief is vir die manier waarop die ander persoon ons liefhet?
Die Skrif gee basiese beginsels sodat ons deur ons daaglikse lewe bewys dat die Here Jesus die absolute Here van ons lewe is – Hy gaan nie in op al die ‘maar wat as’ nie.
Die heiligheid van die huwelik met 'n ongelowige
Een van die vrae wat opgekom het, was oor egskeiding en hertrou. Die tweede vraag waarmee baie in Korinte ook geworstel het, was: “wat gebeur as jy met ’n heiden of ongelowige getroud is? Wat moet in so 'n geval gedoen word? Sal die gelowige nie deur so 'n onversoenbare verhouding beïnvloed en besoedel word nie? Hoe kan 'n gelowige een vlees wees met 'n ongelowige? En wat van die kinders? Sal die kinders nie besoedel word deur die ongelowige maat nie? Dit is presies hierdie vrae waaraan ons nou aandag gee.
12 Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; 13 en as 'n vrou 'n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.
Weer eens, wat hy hier sê deur te sê "Ek – nie die Here nie" is dat dit nie 'n direkte lering van Jesus op aarde was nie. Maar dit is steeds gesaghebbend en geïnspireer. Deur "maar vir die ander" te sê, praat hy met die res van die getroudes, dit wil sê diegene wat in gemengde huwelike was.
En die antwoord wat Paulus eerste gee is dat, as die ongelowige bereid is om by jou te bly, bly. Moenie skei nie. Dit is ‘n opdrag (in die Grieks) wat beteken om in ‘n sekere sin jou vyand lief te hê. Want ’n ongelowige huweliksmaat is deel van die koninkryk van die duisternis, en in daardie sin dien hy die “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk…” (Ef 2:2).
Jy sien, ons is nie die eerste generasie wat met hierdie onderwerpe worstel nie, en ons sal ook nie die laaste wees nie. Maar die vraag is nou: hoekom in so 'n huwelik bly? Wel, ek is bly jy het gevra, want Paulus beantwoord dit in die volgende verse. 14 Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.
Sjoe! Dit is ongelooflik. En dit wys die kragtige implikasies van die Christelike geloof in die gesinslewe. Verre daarvan om deur die ongelowige huweliksmaat besoedel te word, soos sommige in Korinthe gedink het, was dit net die teenoorgestelde! Die ongelowige kry heiligmaking deur die gelowige.
Dit wys ons 'n paar dinge.
Eerstens wys dit die krag van die Christelike geloof en genade. Genade het in daardie huis gekom. In die ware sin het Christus in daardie huis gekom. En in daardie sin is hierdie huis in die voorste linie wat betref die krag van die genade van Christus wat in 'n persoon se lewe werk.
Tweedens wys dit vir ons iets van die manier waarop die verbond werk. Die grootste oorweging vir om te bly is die feit is dat hulle in 'n sekere sin die heiligmakende krag van God geniet, alhoewel nie in hulself nie, maar ten minste deur ‘n ander. Ons weet vandag dat klein Lisa geheilig word deur die geloof van haar ouers.
Uiteraard beteken die feit dat Paulus die huweliksmaat 'n ongelowige noem, dat die heiligmaking nie dié van wedergeboorte en werklike verlossing is nie. Hy sê nie dat die ongelowige huweliksmaat gered word as gevolg van die geloof van een nie. Alhoewel dit nie reddend is nie, is hierdie heiligmaking voordelig en genadig van karakter. Dit is 'n seën om die genade te geniet wat in die verbond teenwoordig is. En al bring dit nie direkte verlossing nie, plaas dit die persoon in die kanaal van reddende genade, en in die nabyheid aan die reddende genade van God. Die huwelik kan beskou word as 'n weg waarlangs die genademiddele beweeg.
Nou wil ek dit onomwonde stel dat dit geensins ‘n aanmoediging is vir gelowiges om met ongelowiges te trou nie. Trouens, Paulus is duidelik. “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie...” (2 Kor. 6:14). Hy sê vir die weduwees/wewenaars om “net in die Here te trou (v 39). Moet dus nie enige idees kry nie. Dit is gevaarlik, soos ‘n mens regdeur die Skrif kan sien – daar is baie voorbeelde: van Moses, tot Simson, tot Salomo.
Nietemin word die gelowige wat hom in 'n gemengde huwelik bevind, die versekering gegee dat genade kragtiger is as sonde, dat HY wat in die gelowige is, groter is as hy wat in die wêreld is. En hy sê dit omdat die kinders geheilig is. Dit wil voorkom asof Paulus net aanneem dat die kinders heilig is. Hy sê dus basies as gevolg van een gelowige ouer word die gesin in ‘n verbondsverhouding gebring.
Paulus sê: “want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.” Paulus sê in werklikheid: “Laat daar in sulke gevalle geen huiwering wees in gehoorsaamheid aan die goddelike opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder nie; die kinders is heilig deur een gelowige ouer." Weer eens sien ons die triomf van genade oor die korrupsie van die natuur. Sien jy hoe wonderlik die krag van die verbondsgenade van ons Here Jesus is? Die kinders van een gelowige ouer is in dieselfde posisie as die kinders van ouers wat albei gelowiges is. Daar is 'n solidariteit met die lewe in die gesinseenheid. Beteken dit dat almal gered sal word? Nee. Beteken dit dat hulle verbondsvoorregte geniet deur in ‘n verhouding met 'n gelowige te wees? Absoluut. Jy kan dit in hierdie gedeelte nie omseil nie.
Paulus sê dat die kinders wat een gelowige ouer het, gedoop mag word! Die ryke beloftes van God mag ontvang! Wat ‘n ongelooflike genade!
15Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. 16 Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?
Die bekende apologeet Justin Martyr vertel vir ons ‘n verhaal van so ‘n geval in die vroeë kerk. Sy Second Apology, gerig aan die Romeinse Senaat, vertel van die bekering tot die Christelike geloof van ‘n vrou in wie se huwelik beide die man en die vrou “los”, “onbeheersde” of “losbandige” lewens geleef het. Toe sy 'n Christen geword het, het sy haar lewenstyl verander en met haar man oor Christus se leringe gepraat. Hulle het mettertyd van mekaar vervreemd geraak, maar ten spyte van haar diepe begeerte om hom te verlaat, het haar vriende haar aangeraai om te bly om haar man te probeer wen. Sy het gebly, maar haar man wou niks daarmee te doen hê nie en het volgehou met sy losbandige lewenstyl, en op die ou end het sy vir hom 'n egskeiding toegestaan. Daarna het haar man haar by die owerhede aangemeld vir haar Christelike geloof. Dit het 'n reeks gebeure aan die gang gesit waarby later die nuwe keiser, Marcus Aurelius, betrokke geraak het.
Dit moet opgemerk word dat daar ‘n opvallende beslistheid en selfs erns in Paulus se oordeel is met betrekking tot hierdie geval waar die ongelowige huweliksmaat wegstap. Dit sê: “laat hom weg wees”. Die hardheid en strengheid van hierdie woorde spreek van die erns van die oordeel oor die verlate gade en dui op die afwesigheid van enige verdere verpligting in die saak van huweliksregte.
Die volgende beperkings moet raakgesien word:
- Paulus het te doen met gemengde huwelike en nie met die huwelik tussen twee Christene nie.
- Paulus hanteer die geval van opsetlike skeiding aan die kant van die ongelowige. Dit kan ook so wees as die ongelowige deur sy optrede wys dat hy skei, bv. deur owerspel. Maar hy verwerp uitdruklik skeiding of verlating van die kant van die gelowige. Die Christen moet geen inisiatief neem om van die ongelowige te wil skei of hom weg te stoot nie.
- Die skeiding vind sy wortel in die fundamentele godsdienstige onenigheid tussen die Christelike geloof en sy antitese.
Liewe gemeente, God het die huwelik so ontwerp dat ons heilig kan word. Dit is nie eerstens vir jou geluk nie. As jy van jou huwelik afhanklik gaan wees om altyd tevrede en gelukkig in die lewe te wees, moenie trou nie, want jou huweliksmaat sal nie die las kan dra wat net Christus kan gee nie. Wat Paulus hier vir ons skilder, is die beeld van Christus se liefde vir Sy kerk. En genade vloei van Hom na ons toe. Hy het ons liefgehad toe ons nog vyande was. En as ons uitgaan van die perspektief dat die huwelik 'n beeld is van Christus en die kerk, dan verstaan ons beter hoekom Paulus hier sulke sterk verbondstaal gebruik.
En dit is pragtig daarvan om binne hierdie verbond te wees – kinders is veilig. Hulle kan in hul moeder en vader die beeld sien van die verbondsliefde van Christus en die kerk wat in die bloed van Jesus verseël is. Dat God 'n God is wat belowe om Sy eie lief te hê, om Sy eie te was, en om Sy eie kinders te lei en te suiwer, en niks kan tussen daardie liefde tussen Christus en Sy kerk kom nie. Mag dit ook waar wees vir Lisa vandag.
Laat jou huwelik dus die beeld van Christus wees. Streef na eenheid in die geloof. En mag die genade van God nie net deur jou vloei nie, maar ook na jou kinders.
Amen.