Preek
In die eerste preek oor die Dordtse Leerreëls, twee weke gelede, het ons gesien dat die uitverkiesing ‘n integrale onderdeel van die Evangelie is.
Evangelie en uitverkiesing staan nie op gespanne voet nie.
Hulle lê in mekaar se verlengde.
Daarom is ‘n preek oor die uitverkiesing ‘n preek oor die Evangelie.
En die Dordtse Leerreëls, wat vernaamlik oor die uitverkiesing handel, is ‘n belydenisskrif waarin die Evangelie klink.
Kom ons luister vanaand verder na die troosvolle Evangelie, wat ook in die leer van God se uitverkiesing tot ons kom.
Tema: Moenie vra nie: Is ek uitverkies? Maar vra: Het ek Christus lief?
Die Dordtse Leerreëls gaan in paragraaf 6 verder, nog steeds in die lyn van die Skrif.
Artikel 1 het met die absolute dieptepunt begin, die sondeval in Genesis.
Maar nou klim ons uit die dal boontoe, en in artikels 6 en 7 kom ons op die top van ‘n baie hoë berg, met ‘n uitsig so ver dat ons die einde nie kan sien nie.
Die uitsig gaan net ewig aan en aan, maar ons oë kan nie deur die deinserigheid sien nie.
Maar ons weet, die horison strek oneindig ver.
So is dit ook as ons hier in paragraaf 6 vir die eerste keer die woord uitverkiesing lees.
Dit is ‘n vergesig wat ons nie kan bevat nie.
Die Bybel openbaar aan ons iets uit die ewigheid, wat so ver is dat ons dit nie kan sien nie.
Ons kan dit nie verstaan nie.
Maar op hierdie bergtop staan ons met absolute verwondering en kyk na wat homself voor ons ontvou – van die diepste ravyne, tot die hoogste toppe en die mees eindelose vergesigte.
Artikel 6 skryf naamlik: God skenk die gawe van geloof aan sommiges wel en aan ander nie.
So gesê, die Dordtse Leerreëls volg steeds die Bybelse lyn.
In die vorige paragrawe het ons gesien hoe die belang van die prediking beklemtoon is.
Sonder dat die Evangelie verkondig word, kan daar geen geloof op aarde wees nie.
Mense moet die gepredikte Verlosser, Jesus Christus, aanneem, Hom omhels met ‘n ware en lewende geloof.
Hierdie geloof is ‘n geskenk, en dit volg uit sy ewige besluit.
Dink vir ‘n oomblik na hieroor.
Die feit dat God predikers van die Evangelie roep en bekwaam, en die feit dat hulle uitgaan om te verkondig, dit is genade, dit is ‘n geskenk.
Die feit dat hierdie verkondiging ook jou bereik, dit is genade.
As jy dit nie gehoor het nie, sou jy dit nie geweet het nie.
Jy kan jouself dus nie op jou geloof beroem nie.
Sonder die geskenk van die Evangelieprediking sou jy nie tot geloof gekom het nie.
En selfs noudat jy die Evangelie hoor, het jy nog steeds die neiging om jou daarteen te verhard.
Selfs noudat jy dit hoor, moet God jou hart ontvanklik maak!
Dus, selfs onder die verkondiging is elke mens – kerklik en onkerklik – se reaksie om sy hart daarvoor te sluit.
Ja ook in die kerk is daar hulle wat verlore gaan.
En dis nie God se skuld nie, Hy laat hulle oor aan hulle eie keuse.
Die Dordtse Leerreëls skryf hieroor:
Hieruit blyk “die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense, wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is.”
Ja, in paragraaf 6 lees ons ook die woord verwerping.
Dit is ‘n woord waar elkeen van ons een of ander tyd oor begin nadink.
Hoekom is dit so dat sommiges volhard in hulle ongeloof, terwyl ander wat net so verdorwe is, wel die gepredikte Evangelie glo?
Die Dordtse Leerreëls probeer in beskeidenheid hierop ‘n antwoord te gee, as dit noem dat sommiges die gawe van geloof van God ontvang, en ander nie, en dat dit te make het met God se ewige raad.
Dink aan Efesiërs 1:11: “Hy doen alles volgens die raad van sy wil.”
God het dus ‘n raadsplan waarvolgens alles gebeur.
Gemeente, ons hoef nie verbaas te wees oor die feit dat God ‘n plan het nie.
Mense maak ook planne.
‘n Argitek maak eers ‘n uitgebreide plan tot in die fynste details voordat daar gebou begin word.
Hoe komplekser die gebou, hoe ingewikkelder die plan.
Sonder ‘n plan sal die hele onderneming misluk.
En wat ook by die beplanningsfase hoort, is om reeds gebeurliksheidsplanne agter die hand te hou vir die geval dat daar onverwagte teenslae is.
As byvoorbeeld materiale nie betyds gelewer kan word nie.
Of as iemand ‘n fout maak.
Of as die weer nie saamspeel nie.
Sulke dinge word in rekening gebring, voordat ‘n verwagte einddatum aan die klant deurgegee word.
So geld dit ook vir God en nog veel meer, soos Handelinge 15 sê: “Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.” (Hand 15:18)
Van voor die grondlegging van die aarde.
In sy plan is alle gebeurlikhede opgeskryf.
Selfs as dinge fout loop.
En, waar daar ‘n groot verskil met die mens inkom, die mens word gekonfronteer met onverwagte teenslae.
Aan God is die teenslae reeds bekend.
Hy het besluit om aan die mens ‘n groot verantwoordelikheid te gee.
Maar Hy het ook besluit om, as die mens teleurstel in sy verantwoordelikheid, om die mens nie vooraf te keer nie, maar dat die mens die konsekwensies daarvan self gaan moet proe.
God is die Argitek, Hy is – dink aan die Bybelse beeldspraak – die Pottebakker, en ons die klei.
Wie gee ons die reg om die Argitek op die vingers te tik?
En so het die mens se sondeval nie as ‘n verrassing vir God gekom nie.
God is altyd een stap voor Satan.
En gelukkig maar.
Want toe Satan dit regkry om Eva en Adam te verlei, toe het God se gebeurlikheidsplan om hierdie geweldige teenslag te bowe te kom, alreeds reg gelê.
Sodat Hy direk die versekering kon gee:
Al byt jy hom in die hakskeen, Hy sal jou die kop vermorsel (Gen 3:15).
Dan gaan paragraaf 7 verder deur te stel dat God se voorneme onveranderlik is.
Hy het ‘n sekere aantal mense uit die hele mensdom uitverkies.
Die woord ‘sekere’ wat hier gekies is, mag misverstand opwek.
Dit gaan waarskynlik terug op Jesus se uitspraak: Baie is geroep, maar min is uitverkies (Mattheüs 20:16 & 22:14).
Maar ook lees ons in die Bybel dat hierdie getal ‘n ontelbare menigte sal wees.
In Openbaring 14:1-3 word gepraat van die 144 000.
Dit is ‘n simboliese getal wat op ontelbaar dui: 12 maal 12 maar 1000.
Die eerste 12 verwysende na die 12 stamme van die ou verbond.
Die tweede 12 verwysende na die 12 apostels van die nuwe verbond en almal wat hulle Evangelie aanneem.
En dan die 1000 dui op nog ‘n veelvoud hiervan.
God is nie suinig met sy uitverkiesing nie.
En wat ook allermins waar is, is dat Hy hulle sou uitkies wat beter of waardiger as ander is.
As dit so was, dan sou die getal piepklein, laat ons eerlik wees, ‘n ronde nul gewees het.
Maar in sy genade het Hy ‘n talryke kudde aan Christus toevertrou, om hulle salig te maak.
Danksy Christus se soenverdienste word hulle geregverdig en geheilig.
En dan verwys paragraaf 7 na die pragtige teks uit Efesiërs 1:
In Christus het God ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Ef 1:4-6).
En ook die pragtige teks uit Romeine, wat bekend staan as die goue onverbreekbare ketting:
“Die wat Hy vantervore verordineer het, die het Hy ook geroep, en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig, en die wat Hy geregverdig het, die het Hy oor verheerlik.” (Rom 8:30)
Steeds is God die onderwerp van die sin.
Dit is alles wat Hy genadiglik doen.
En Hy neem redes uit Homself daarvoor, redes wat net aan Hom bekend is.
Dit is ‘n waarheid wat baie diep is, en ons nooit sal kan verstaan nie.
En as opstandige ongelowige mense dit aangryp om God te verwyt, dat kan ons dit plaas.
Want ons het van nature ook daardie neiging.
Maar die Heilige Gees leer ons dan om ons hand op die mond te lê.
Geliefde gemeente, laat God se ewige raadsplan jou nie bangmaak nie, maar vind rus en vertroosting daarin!
Hy is ‘n hemelse Vader wat die gevaar al van ver af vir sy kinders sien aankom.
Op aarde sal ‘n pa en ma die koms van hulle baba tot in detail voorberei.
So word die kind in ‘n veilige omgewing gebore, en die kind voel geborge soos hy opgroei, want daar is sorgsame ouers wat oor hom waak, wat selfs ‘n plan het as daar iets verkeerd loop.
Des te meer geld dit vir ons hemelse Vader.
Nou wonder jy miskien:
Ja maar geld dit ook vir my?
Want daar is mos ook daardies wat God nie red nie, aan wie Hy verbygaan.
Wie sê, dalk gaan God aan my verby, en dan is Hy nog heeltemal regverdig ook.
Hoekom ek?
Geliefde broer, suster, as jy sekerheid soek, moenie na jouself kyk nie. Moenie dat jou gedagtes in jou kop bly rondmaal nie.
Maar kyk na Christus.
En sit jou gedagtes op sy Woord.
Soek Christus waar Hy Hom laat vind – in sy gemeente onder die prediking van die Evangelie.
Christus is die fondament van ons saligheid.
God het Christus uitverkies as die instrument waardeur daar vir ons redding bewerkstellig word.
God het ons opstand nie deur die vingers gesien nie, Hy moes dit straf.
Maar Hy het ‘n manier gevind wat voldoen aan sy Goddelike wesenskenmerke – sowel 100% regverdig as 100% barmhartig.
En sy raadsplan was dat Hy sy eie Seun gegee het om dit te doen.
En as jy ‘n lidmaat van Chrisuts is, dan kyk God eerste na Hom, as die Hoof van die liggaam.
Saam met Christus word die liggaam aanvaar.
Hoe kry jy deel aan hierdie redding wat Christus verdien het?
Gemeente, om hierdie vraag te beantwoord moet ons baie naby aan die Skrif bly.
Anders kan mens so maklik op ‘n dwaalspoor raak.
Kom ek noem twee dwaalspore, na links en regs.
Die een sal sê, om gered te word, moet jy Jesus aanvaar vanuit jou eie vrye wil.
God sit en wag vir jou beslissing.
Hy wil Jesus se redding aan jou gee, maar jy moet self besluit.
Dis die een dwaalweg.
Maar daar is nog ‘n dwaalweg na die ander kant:
Mense wat sê: Daar is geen vrye wil nie.
God se volk is van ewigheid af geregverdig en dit is so dat gedurende hulle lewe hulle bewus raak van hulle ewige uitverkiesing.
Hierdie is ook ‘n gevaarlik dwaalweg.
Want God se kinders is nie van ewigheid af geregverdig nie, maar na hulle sondeval.
Ja natuurlik, van ewigheid af lê God se gebeurlikheidsplan al gereed.
Maar Hy het dit uitgevoer eers na die sondeval.
Regverdiging het nie in die ewigheid plaasgevind nie, maar dit gebeur in die tyd, ja van dag tot dag.
As sommige mense al van ewigheid af geregverdig was, sou dit beteken dat die vloek van God nooit werklik op hulle gerus het nie.
Dalk net teoreties.
Want die vloek oor hulle is dan al in die ewigheid opgehef.
Dit is ‘n dwaalleer.
Mense wat soiets beweer, sal nooit diepe droefheid oor hulle sondes hê nie, sal nie ervaar dat God se toorn persoonlik op hulle rus nie.
Dit is alles net abstrak vir hulle, dis nie ‘n gevoelsmatige werklikheid nie.
Daarenteen leer die Skrif dat elkeen, ook elke verbondskind, ook elke uitverkorene, ‘n gevalle mens is en daarom skuldig voor God staan.
Ons lees in die Skrif, waar Paulus aan die Efesiërs skryf: Ons het almal vroeër gewandel in die begeerlikhede van ons vlees. Ons was van nature kinders van die toorn net soos al die ander (Ef 2:3).
Wat beteken dit?
Dat dit deel van ons lewe moet wees dat ons die toorn van God moet ervaar oor ons verdorwenheid.
Ons moet ook, net soos die Efesiërs, gewek word uit ons ellende.
As die uitverkorenes geroep word deur die Evangelieprediking, word hulle geroep as verlore sondaars.
Ook as uitverkorene is jy ‘n vyand van God en lê onder die vloek.
En net deur Christus wat jy in die Evangelieprediking ontmoet, word jou ewige uitverkiesing vasgemaak, word dit ‘n werklikheid wat joune word langs die weg van roeping, skuldbelydenis, bekering, regverdiging, heiligmaking, volharding en uiteindelik verheerliking.
Ja die uitverkorenes moet ook van hulle sondes oortuig word en opreg daarteen veg.
Hulle kan dit nie oorslaan met as verskoning dat hulle tog uitverkies is nie.
Dit is langs hierdie weg van intense berou wat hulle ook die soete ervaring sal proe hoe God in staat is om hulle hart van klip te verander in ‘n hart van vlees.
Dit werk Christus se Gees in ons.
En daarom kan ons geen sekerheid hê buite Christus om nie.
Ons is geneig om te vra: Is ek uitverkies?
En net die stel van daardie vraag kan mens onseker maak.
Veral in periodes in jou lewe wat jy weet dat jy te vriendskaplik geraak het met bepaalde sondes.
Dan kom jy in ‘n negatiewe spiraal.
Jy raak al hoe onsekerder, en jy het al hoe minder energie om teen die sondes te stry.
Daarom, vra eerder die volgende vraag:
Glo ek in Jesus Christus? Is Hy my enigste hoop?
Kyk na Hom!
Vlug na Hom as ‘n arme sondaar!
Want as jy dit doen, kom jy in ‘n opwaartse spiraal.
As jy na Hom kyk, raak die sonde buite beeld.
As jy aan Hom vasklou, kry jy die krag om daardie vriendskap met die sonde te verbreek.
So roep die Bybel ons op tot geloof in Jesus Christus.
Nêrens leer die Bybel ons om te vra: Is ek uitverkies? nie.
Maar vra eerder: Het ek Jesus lief?
Verlang ek daarna dat Hy my sal red?
As jy ja antwoord op hierdie vrae, dan is die vraag Is ek uitverkies, daarmee saam ook met ja beantwoord.
Want dis wat die Bybel ons leer.
Kyk verlangend na Christus, dan sien jy die boodskap: Uitverkies!
Die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê (Joh 3:15,16,36).
“wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie” (Joh 5:24).
Om te glo wys dat die Here reeds in jou werk.
Die Gees het reeds plek in jou hart vir Jesus gemaak.
Want jy is nie gelowig gebore nie.
As ons in ons hart verlang dat Christus ons tog asseblief van die oordeel sal red, dan is dit ‘n goeie teken.
Ons is geneig om te redeneer: As ek nou maar net ‘n bietjie meer sou bid, bietjie beter vertrou, dan sal ek weer durf om te vra: Is ek uitverkies?
Maar dan rig jy weer die aandag op jouself.
God kyk nie na ons om ‘n rede te vind hoekom Hy ons sal wil red nie.
Hy weet by voorbaat Hy gaan niks in ons vind nie.
Maar alle redes wat Hy soek om ons te red vind Hy in sy eie Seun Jesus Christus.
God het verder niks nodig van ons syde nie.
Ons hoef net vir Hom te sê: O Here, my hande is leeg, maar ek hou vas aan u Seun, my Here Jesus Christus!
God verklaar ons regverdig, omdat Hy Christus se offer aanvaar het.
As jy soebat dat Christus se verdienste ook vir jou beskikbaar gestel word, is dit ‘n bewys dat jy behoort by hulle wat die Vader aan sy Seun gegee het om te red.
Ja Christus praat ook oor jou as Hy sê: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Joh 6:37)
So mag ons dankbare gevolgtrekking wees dat die Skrif die uitverkiesing aan ons openbaar nie om ons bang te maak nie, maar om ons te troos.
Wie na Jesus kom, sal rus vind, ja selfs ewige rus, ewige sekerheid van die saligheid (Matt 11:28).
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Efesiërs 1; Johannes 5:16-25 & 6:35-37; Romeine 6:35-37
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,6-7
Hierdie vrae is bedoel om die preek te verwerk en verder daaruit te leer.
- Waar word die woord uitverkiesing die eerste keer in die Dordtse Leereëls gebruik?
- Hoekom staan Romeine 8:29-30 bekend as die goue ketting?
- Verduidelik die tema: Moenie vra nie: Is ek uitverkies? Maar vra: Het ek Christus lief?
- Kan mens sê dat die uitverkorenes van ewigheid af regverdig verklaar is?
- Wanneer het jy die eerste keer in jou lewe van die uitverkiesing gehoor?
Votum
Seën
Ps 143:8,9
Gebed
Skriflesing: Efesiërs 1
Ps 33:5,6
Skriflesing: Johannes 5:16-25 & 6:35-37; Romeine 6:35-37
Ps 81:14-15
Teks: Nav Dordtse Leerreëls 1,6-7
Preek
Ps 33:11
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Sb 43:6
Kollekte
Ps 145:5,10-12
Seën