Van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word.

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2023-03-12
Text: 
Nahum 1:2-8
Reference: 
Profete-Projek 14
Preek Inhoud: 

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

Gaan daar grade / vlakke van hel wees? Dis ‘n vraag wat afgelope Woensdag by die katkisasie opgekom het. Wel, dink jy moontlik, hel is hel, warm is warm! In die hel gaan almal ewe swaar moet ly. Is dit so eenvoudig? Kom ons formuleer die vraag ‘n bietjie anders: gaan die persoon wat in die woude van die Amasone of êrens in ‘n afgeleë gehuggie in Afrika gewoon het en wat nooit van die God van die Bybel gehoor het nie, ewe swaar geoordeel word as die persoon wat wel die evangelie gehoor het maar besluit het om hom nie daaraan te steur nie? Gaan die persoon wat die evangelie een of twee keer gehoor het en nie daarin geglo het nie, ewe swaar geoordeel word as die persoon wat dit vir dertig of veertig jaar lank elke Sondag gehoor het en toe besluit het om sy rug daarop te draai? As ek na die Skrif kyk, dan lyk dit vir my dat ons moet sê dat die persoon wat die evangelie gehoor het (en nie geglo het nie) swaarder gestraf gaan word as hy wat dit nooit gehoor het nie, en dat hy wat dit dertig of veertig jaar lank elke Sondag gehoor het (en sy rug daarop gedraai het) swaarder gestraf gaan word as hy wat dit een of twee keer gehoor het (en nie geglo het nie). En, so lees ons in Hebreërs 10:28-29, dat hy wat die Seun van God vertrap het en sy bloed onrein geag het en die Gees van genade gesmaad het, swaarder gestraf gaan word as die Ou Testamentiese gelowige wat die wet van Moses verwerp het. Sien u, die Here maak onderskeid.

 

Nou is die volgende vraag (en dit bring ons al nader aan Nahum): geld dít ook vir volke? Gaan die een volk swaarder gestraf word as die ander volk? Wel, die Skrif is in elk geval baie duidelik daaroor dat die volk van die Here, juis as gevolg van hulle bevoorregte posisie as volk van die Here, swaarder gestraf word vir hulle ontrou en ongehoorsaamheid as die omringende volke; juis omdat hulle so naby aan die Here mag lewe, is die hitte van sy toorn soveel nader (en soveel warmer) wanneer hulle daardie posisie misbruik. Maar wat van die omringende, heidense volke? Is daar ook onderskeid in die straf wat húlle kry oor hulle sonde? En met hierdie vraag beland ons reg in die middel van Nahum se profesie.

Nahum se profesie – kyk maar na die eerste woorde – is “’n Godspraak oor Ninevé”. Hierdie profesie gaan dus oor Ninevé, die magtige hoofstad van die Assiriese ryk, wat veral tydens die 8ste en 7de eeu voor Christus die dominante wêreldryk was. Maar... dis mos nie die eerste keer dat ons in die profete met Ninevé te make kry nie? Kan jy onthou waar in hierdie reeks oor die profete ons ook van Ninevé gehoor het? Natuurlik, Jona was in Ninevé! Jona – die heel eerste Skrifprofeet wat ons behandel het – was in Ninevé êrens tydens die eerste helfte van die 8ste eeu (tydens die regering van koning Jerobeam II van Israel, in die jare 793-753 vC [sien preekblad]). En hoewel Jona dit baie onwillig gedoen het, het hy daar gepreek van die Here se oordeel oor Ninevé: “Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes” (dis Jona se boodskap in Jona 3:4). En nog erger as sy onwilligheid om te preek, was sy ontevredenheid toe die koning en die inwoners van Ninevé onverwags tot bekering gekom het.

Dus, die Here, die God van Israel, doen om een of ander rede die moeite om een van sy profete 800 kilometer op reis te stuur na die hoofstad van die heidense Assirië om daar in persoon – persoonlik! – sy oordeel te gaan verkondig. En wanneer daar, wonder bo wonder, bekering kom, dan wend die Here sy straf van Ninevé af. Maar dit wil voorkom asof die bekering nie lank gehou het nie. Want skaars ‘n halwe eeu later – in die jaar 722 vC – kom hierdie einste Assiriërs en voer ‘n deel van die Here se volk, die tienstammeryk, weg in ballingskap. Waar die Here vyftig jaar tevore na húlle gekom het om aan hulle die geleentheid tot bekering te bied, kom hulle nou na sy volk toe om dit met geweld in ballingskap weg te voer. Dis skreiend, die verskil in optrede tussen die Here en die Assiriërs... En natuurlik is dit waar dat die Here dit so beskik het en natuurlik is dit ‘n regverdige straf oor die tienstammeryk, maar tog beteken dit nie dat die Assiriërs daarmee skielik onskuldig is nie – lees maar saam met my uit Jesaja 10:5-7 en 12-15 [lees]. Sien u, die Here het die Assiriërs as sy instrument gebruik om sy volk regverdig te straf, maar die Assiriërs sien dit anders – hulle wil nie net instrumente wees nie; nee, hulle wil heers, hulle wil verdelg, hulle wil uitroei: my krag, my wysheid, my hand!

Hierdie gebrek aan beskeidenheid kom skaars 21 jaar later wéér na vore – hierdie keer nie teen die tienstammeryk gerig nie, maar nou teen die tweestammeryk. In daardie tyd trek die Assiriese koning, Sanherib, teen die tweestammeryk op – en op sy pad van verwoesting neem hy 46 versterkte stede van Juda in, waarna hy hom ten slotte tot Jerusalem wend. Hy beleër God se stad! En hoor dan die arrogansie van Sanherib se verteenwoordigers, die rabsake in Jesaja 36:18-20 [lees]. Maar die Here laat hierdie arrogansie nie onbeantwoord nie – kyk maar na Jesaja 37:23, 29, 33, 36 [lees]. Honderd-vyf-en-tagtig-duisend dooies – dis wat gebeur wanneer jy die Here, wat jou volk minder as ‘n eeu gelede nog so genadig was in die prediking van Jona, wanneer jy hierdie Here uitdaag en tart. Honderd-vyf-en-tagtig-duisend dooies. Dit was in die jaar 701 vC.

En dan, rofweg 75 jaar later kom Nahum met sy “Godspraak oor Ninevé”. Vir die tweede keer staan die Here een van sy profete eksklusief af aan Assirië en sy hoofstad Ninevé! En gaan kyk maar weer ‘n slag deur die profete – ons vind daarin talle profesieë oor die omringende nasies, ook oor Assirië (ek het in vorige preke al daarna verwys). Maar Assirië en sy hoofstad Ninevé is die enigste omringende nasie aan wie twee profeteboeke, twee hele Bybelboeke, gewy word. Twee keer sonder die Here een van sy profete af om Assirië en Ninevé aan te spreek, op te roep, te waarsku. Twee keer – die eerste keer met Jona in die eerste helfte van die 8ste eeu vC, die tweede keer met Nahum in die tweede helfte van die 7de eeu vC. So het Hy aan geen ander heidense nasie gedoen nie. Maar met Nahum lyk dit asof bekering nie meer regtig moontlik is nie, en in die jaar 612 vC – waarskynlik slegs enkele jare na Nahum se profesie – word Ninevé deur die Babiloniërs, wat die volgende groot wêreldryk sou word, met die grond gelyk gemaak. Sodanig met die grond gelyk gemaak dat argeoloë vir baie lank gewonder het waar Ninevé oorspronklik geleë was. Vandag weet ons – teenoor die hedendaagse Irakse stad, Mosul, net aan die ander kant van die Tigris-rivier lê die ruïnes van Ninevé en wag vir verdere opgrawings. ‘n Stille getuienis van die Here se oordeel oor ‘n heidense nasies met wie Hy soveel bemoeienis gemaak het, maar wat hulle uiteindelik nie daaraan gesteur het nie. Dis so waar wat die Here Jesus eeue later sou sê: Van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word (Luk. 12:48). En dit is ten diepste die boodskap van Nahum.

Tema: Van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word.

 

Gemeente, Nahum val met die deur in die huis – geen inleiding, geen verduideliking, geen toeligting nie. Nee, onmiddellik kom hy tot by die kern van die saak, naamlik die Here se karakter! En die profeet doen dit met behulp van ‘n bekende gedeelte uit sy Joodse bybel, Exodus 34. Wanneer Moses in Exodus 34, ná die sonde met die goue kalf, vra dat die Here Homself aan hom sal openbaar, dan doen die Here dit soos volg: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Ex. 34:6-7). Nou, op hierdie einste beskrywing val Nahum terug wanneer hy reg aan die begin van sy profesie vir Ninevé verduidelik waarom die Here hulle gaan straf: “Die HERE is lankmoedig ... maar nooit laat die HERE ongestraf bly nie” (vers 3), en “die HERE is goed...” (vers 7), maar Hy is tegelykertyd ook ‘n wreker, ‘n wreker, ‘n wreker (driemaal in vers 2). Ervaar jy ook ‘n gevoel van teenstrydigheid wanneer jy na hierdie beskrywing van God se karakter luister – aan die een kant God se goedheid (sy barmhartigheid, sy genade, sy lankmoedigheid, sy goedertierenheid, sy vergifnis van sondes), maar aan die ander kant sy toorn en sy straf en sy wraak oor die sondes. Hoe kan God ‘n God van oneindige liefde en goedheid wees, én tegelykertyd ‘n God van oneindige toorn en straf wees?

Gemeente, ons moet verstaan dat in God self hierdie skynbaar teenstrydige beskrywings nie teenoor mekaar staan nie; hulle sluit mekaar nie uit nie. Hierdie beskrywings van (aan die een kant) God se goedheid, en (aan die ander kant) God se toorn en straf is twee kante van dieselfde muntstuk – hulle hoort bymekaar! God se toorn – luister mooi! – is die persoonlike en passievolle uitwerking van sy goedheid en liefde wanneer dit deur mense vertrap word. God se toorn is dus nooit ‘n teken van kwaadwilligheid, of van ‘n slegte humeur, of van irritasie of van wreedheid nie; sy toorn is nooit irrasioneel of onbeheersd of onregverdig nie; God se oordeel is nie gebaseer op onbeheersde woede nie, maar is gebaseer op sy oneindige liefde wanneer daardie liefde deur mense vertrap word. Dit is wat dit beteken wanneer vers 2 sê dat God ‘n jaloerse God is – God se jaloesie is nie soos ons sondige jaloesie wat die ander niks gun nie. Nee, God se jaloesie is die vuur van sy liefde wat ontvlam wanneer mense sy liefde nie beantwoord soos wat Hy verwag nie. Wanneer sy liefde vertrap word, dán word God ‘n wreker – tot driemaal toe in vers 2 beskryf Nahum God op dié manier: “’n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.” Ja, dis waar, die Here is lankmoedig (vers 3; dis ‘n term wat in Engels baie mooi vertaal word met: “slow to anger”, die Here stadig om toornig te word) – dus, Hy word nie gou kwaad nie. Maar wanneer sy goedheid vertrap word, dan laat Hy dit nie ongestraf nie.

En wat ons daarmee saam moet verstaan, broers en susters, is dat daar ‘n direkte korrelasie is tussen die hoeveelheid lankmoedigheid en goedheid wat die Here bewys, en die gewig van sy wraak en toorn wanneer daardie lankmoedigheid en goedheid afgewys word. Dus, hoe méér lankmoedigheid en goedheid die Here aan ‘n groep of ‘n individu bewys, hoe gróter is sy jaloesie en toorn wanneer daardie groep of individu dit in sy gesig teruggooi. Dis ‘n bewys van die Here se vertrapte liefde – immers, hoe liewer ‘n jongman ‘n meisie het, hoe groter sal sy hartseer en jaloesie en woede wees wanneer sy hom afwys en ‘n ander kies. Nog soveel te meer is dit die geval met die Here teenoor elkeen wat sy liefde ontvang... en dit afwys. En jy wil nie met sy gekrenkte liefde sukkel nie – immers, “sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof onder sy voete, Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog... Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg... Wie sal standhou voor sy grimmigheid? ... Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom (verse 3-6). God se karakter staan in direkte verbinding met sy krag – en die resultaat is angsaanjaend...

 

En nou het ons hier in Nahum ‘n heidense volk, die Assiriërs. Hulle is nie die Here se uitverkore volk nie, hulle is nie Israel nie. En tog verwerdig die Here Homself om twee van sy profete aan hulle af te staan. Twee van die sestien Skrifprofete! Die Here stuur eers (tweemaal – nadat hy die eerste keer wegvlug, word hy weer gestuur) vir Jona 800km ver om in Ninevé te gaan preek en die Assiriërs te waarsku – persoonlik loop God se profeet deur die strate van die groot stad. En rofweg 150 jaar later stuur God nog een van sy profete. En dalk, net dalk, was Nahum ook nie so ver weg as wat ons moontlik mag dink nie – immers, hy word in vers 1 ‘die Elkosiet’ genoem. En hoewel ons nie seker is waar Elkos was nie, is een van die teorieë dat Elkos baie naby Ninevé was, en dat Nahum daar gewoon het as een van die ballinge wat in 722 vC deur Assirië uit die tienstammeryk weggevoer is. Dus, dalk kom sy profesie nie van ver nie, maar kon hy dit sommer met die plaaslike koerierdiens in Ninevé laat aflewer het. Twee profete van die Here vir ‘n heidense volk; twee Bybelboeke – geskei deur ongeveer 150 jaar – wat die Here se goedheid en lankmoedigheid oor die Assiriese wêreldmag openbaar.

Maar daardie goedheid en lankmoedigheid bereik helaas nie sy doel nie; Assirië en Ninevé wil nie hoor nie, kom nie tot bekering nie. Hulle bly uiteindelik ‘n volk wat met wreedheid en bloedvergieting ander volke onderdruk en in ballingskap wegvoer (hulle was in die geskiedenis bekend vir hulle wreedheid en bloedvergieting); ‘n wêreldmag waarvan die hoofstad, Ninevé, in hoofstuk 3 beskryf word as die bloedstad wat louter bedrog en vol geweld en vol hoerery is, terwyl rowery nie ophou nie. En dan kondig die Here ten einde laaste sy straf aan – straf en verwoesting en vernedering; Hy maak ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in (Nah. 1:8). Want onthou: van hom aan wie baie gegee is, sal uiteindelik ook baie gevra word. Aan Assirië is baie gegee, daarom vra die Here ook baie wanneer sy liefde vertrap word. En gaan lees maar vanmiddag Nahum 2 en 3 – die val en verwoesting van Ninevé word in beeldende taal beskryf. En in die jaar 612 vC sou dit ‘n werklikheid word...

--------------------

Broers en susters, hierdie boodskap moes vir seker ook God se volk ter ore gekom het – dalk eers die tienstammeryk waar hulle in ballingskap in die dorpe en stede rondom Ninevé gewoon het, maar uiteindelik sou dit ongetwyfeld ook die tweestammeryk in Juda en Jerusalem bereik het. Vir die volk van die Here moes Nahum se profesie diep getref het – teenoor die Assiriërs, daardie heidense nasie, hoe baie het óns nie ontvang nie?! Nog honderde kere meer! Paulus beskryf dit eeue later in Romeine 9:4-5: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid...” So ryk geseënd – en wat het hulle daarmee gedoen? Daarom, só sê Jesus, sal dit vir Tirus en Sidon en Sodom verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir Gorasin en Betsaida en Kapernaum (Mt. 11:21-24). Want van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word.

En wat van daardie volke wat, deur die geskiedenis én vandag nog, baie meer ontvang het as ander? Die volke van Wes-Europa, wat die rykdom van die sestiende-eeuse Reformasie bo baie ander ontvang het – terug na die Skrif, terug na die geloof, terug na Jesus Christus. Maar wat is daar vandag – met alle sekularisasie, met miljoene moorde op ongebore babas, en met ‘n versiekte visie op geslag en seksualiteit – wat is daar vandag nog van hierdie erfenis oor? Die Nederlandse volk het ‘n samelewing ontvang waarin Christelike waardes en Sondagse eredienste sentraal gestaan het – maar met die huidige spoed van ontkerkliking in Nederland, sou mens dit nooit sê nie. Die Afrikaner-volk het van die Here baie ontvang, reg vanaf die begin van die volksplanting hier aan die Kaap – Jan van Riebeeck en die goewerneurs na hom het daarop toegesien dat almal die eredienste op Sondae besoek het; die kerk is hier geplant op grond van die Gereformeerde belydenis; die Voortrekkers het oppad gegaan met die Bybel in die wa-kis; die Afrikaners het in die twintigste eeu ‘n grondwet ontvang wat, met alle gebreke, nogtans kon begin met “in nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere.” Wat het verander dat ons vandag sit met ‘n grondwet wat begin met “ons, die mense van Suid-Afrika” (nie meer “die Almagtige God” nie, maar “ons, die mense...”)? Van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word.

 

En, gemeente, hoe diep moet hierdie profesie die kerk van vandag nie tref nie – die kerk wat in die periode ná Christus se koms en ná die uitstorting van die Heilige Gees lewe, hoe baie het die kerk van Jesus Christus nie ontvang nie?! Daarom is dit nie verniet nie, dat die apostel Petrus in 1 Petrus 4:17 sê dat die oordeel sal begin by die huis van God. Die kerk is die eerste plek waar God gaan oordeel, want van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word.

Maar bring dit nog nader aan onsself, aan ons eie tyd: as Vrye Gereformeerde Kerke – hoe baie het óns nie ontvang nie? ‘n Ryk erfenis van prediking en onderrig, van mondige gemeentes wat die Skrifte ken, van die psalms wat pragtig getoonset is in ons eie taal, van meerdere Bybelvertalings in ons eie taal, van sending en evangelisasie, van Gereformeerde onderwys wat honderde / duisende kinders toegerus het met kennis van en liefde vir die Here, van deeglike kategese, van pastorale én onderlinge sorg, van teologiese opleiding, van goeie boeke en ander lektuur, van goeie tye waarin die Here ruimte gee vir die verbreiding van die evangelie, van moeilike tye waarin die Here verdieping gee van die geloof... Wat doen ons met hierdie rykdom, broers en susters? Hierdie rykdom, hierdie oorvloed, hierdie genade – dit konfronteer ons met die Gewer daarvan, met die lankmoedige en goeie God enersyds, maar andersyds ook met die jaloerse God, die wreker, die Een wat nie ongestraf laat bly nie. Want van hom aan wie baie gegee is, sal ook baie gevra word. Ninevé is vir ons ‘n voorbeeld, en die ruïnes van Ninevé is vir ons ‘n wekroep: wat doen ons met die genade wat ons ontvang?

------------------

Gemeente, gaan daar grade / vlakke van hel wees? Vir seker! Die een wat baie ontvang het én dit afwys, sal vir seker swaarder gestraf word as die een wat minder ontvang het. Dis ‘n dringende oproep – ja, ‘n oproep om te vrees, maar meer nog ‘n oproep om te skuil by die Here (vers 7 van ons teks): want “die Here is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.” Skuil by Jesus Christus – die verpersoonliking van God se liefde en goedheid. As jy elke keer weer aan Hom vasklou, elke dag opnuut jou verlossing slegs by Hom soek, dan is jy veilig teen die oordeel. Dan sal jou lewe nie, soos Ninevé, ‘n ruïne word nie. Maar dan sal jou lewe bloei en groei en vrug dra tot in die ewigheid. Dan is jou lewenshuis veilig op die rots – en die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. Laat ons op daardie Rots bou. En laat ons die rykdom wat ons daarby ontvang, dankbaar en met vrug gebruik.

Amen

Liturgie: 

Votum en Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 101:1, 2, 4

Wetlesing

Sing Ps. 101:3, 5, 6

Gebed

Lees:   Nahum 1:1-2:2

            Exodus 34:1-7

Sing Skr. 54:1, 3, 5

Teks: Nahum 1:2-8

Preek

Amenlied Ps.Ps. 147:4, 6, 7

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 75:3-6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.