In die volgende paar preke gaan ons praat oor die huwelik, om enkellopend te wees en egskeiding. Dit is 'n onderwerp wat vandag baie aktueel is in ons samelewing en daarom sal ons hierdie onderwerpe ‘n bietjie meer in diepte behandel. Maar voordat ons dit doen, wil ek graag 'n paar opmerkings maak.
- Hierdie is nie 'n volwaardige verhandeling oor die huwelik, enkellopend wees en egskeiding nie. Ek preek oor die teks en gee nie 'n teologiese lesing nie. Paulus het te doen met kwessies waaroor die Korinthiërs hom gevra het. Dit is dus nie 'n top tien lys oor waarom jy enkellopend moet bly of waarom jy moet trou nie.
- Hierdie gedeeltes wys die waarde wat die Bybel aan ons fisiese bestaan en aan die liggaam heg. Dit is 'n tema in hierdie boek.
- Of ons nou oor ongetroud wees of die huwelik praat, hierdie preke is vir ons almal. Omdat hierdie hoofstuk uiteindelik toon dat die huwelik en om enkellopend te wees nie 'n doel op sigself is nie, maar 'n beeld is van die evangelie en die toekoms van ons almal. Deur enkellopend te wees, bring ons die toekoms na die hede toe, wanneer daar nie meer 'n huwelik sal wees of in die huwelik uitgegee sal word nie. Christus is alles in almal. En in die huwelik dui die hede op die toekoms, wanneer Christus met sy bruid getroud sal wees. Die kerk het beide beelde nodig. Beide die getroude lewe en die enkellopende lewe is 'n beeld van die evangelie.
Seksualiteit en huwelik: Lê jou lewe af vir die ander.
Dit is die tweede hoofgedeelte van die boek. In hoofstuk 7 begin hy om ‘n paar van hul vrae te beantwoord. Net soos wat 'n kerk dalk aan 'n professor raad vra oor 'n sekere kwessie, so het hulle vir Paulus 'n brief gestuur. Daarom lees ons in vers 1: "Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het." Die probleem is wanneer ons hoor hoe Paulus hierdie sake aanspreek, kan ons net na die een kant van die telefoongesprek luister, en ons kan nie met sekerheid sê wat gaande is nie. Wat ons wel weet, is dat die eerste vers waarskynlik 'n opsomming is van wat sommige in Korinthe gesê het: "Dit is goed vir 'n man om ‘n vrou nie aan te raak nie." Wat sommige in Korinthe dus gesê het, is: "Alle seksuele verhoudings is verkeerd."
Dit lyk asof daar twee uitdagings was. Eerstens was daar die mense wat gesê het dat die liggaam nie belangrik is nie, dis die geestelike wat saak maak. Hulle was almal uit op plesier. "Die liggaam is bedoel vir seks, en seks vir die liggaam en God sal albei vernietig," het hulle gesê. Paulus het hierdie mense aan die einde van hoofstuk 6 toegespreek.
Die tweede groep het gesê: nee, geensins, ons moet ons van alle plesier onthou. Hulle het immers reeds in die "koninkryk wat kom" geleef. Wat Jesus in Lukas 20:34-36 gesê het, het moontlik hulle verheerliking van selibaat wees aangevuur, selfs in die huwelik: "Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is." Hulle het nie net die tale van engele gepraat nie (13:1), maar deur die huwelik en huweliksverhoudings te verloën, het hulle soos engele geleef.
Die kerk in Korinthe het dus twee benaderings tot menslike seksualiteit gehad. Daar was diegene wat beweer het dat alle dinge wettig was (6:12; 10:23) en hulle oorgegee het aan 'n nuwe moraliteit van seksuele vryheid (vgl. 5:1-2). En daar was diegene wat aanspraak gemaak het op vryheid van seksualiteit en probeer het om selibaat te leef. Die losbandige en die wettiese. Die losbandige het gesê: "Jesus sal nooit my gedrag inperk nie, Hy het my lief. Hy sal my vergewe. Daardie sonde is nie so erg nie." Die wettiese brei die wetboek uit buite God se goeie orde. En in plaas daarvan om te sê dat seksuele intimiteit nie 'n groot probleem is nie, sê hierdie groep seksuele intimiteit is vuil. Ons moet dit ten alle koste vermy.
Die evangelie maak ons vry van hierdie uiterstes. Die kern van hierdie hoofstuk waarnatoe ons telkens sal terugkeer, is vers 23: "Julle is duur gekoop." Dit is presies dieselfde as die aanmoediging in 6:20: "Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam." Wat ons ook al doen, hetsy ons ongetroud of getroud is, ons moet ons liggaam in diens van Jesus gebruik. En ons kan dit pragtig doen in die huwelik en as enkellopende.
Die vraag is nou: "Hoe reageer 'n persoon wat deur Christus gekoop en geliefd is, in ons verhouding met mekaar?" Die antwoord is diensbaarheid. As Christus die Here is, het ons ons liggaam en siel aan Hom oorgegee as 'n lewende offer van dankbaarheid, en in Hom lê ons ons lewe af vir ander, net soos Hy sy lewe vir ons afgelê het. Ons moet toelaat dat sy lewe ons sonde in sy heiligheid verteer.
Dus, voordat ons begin, laat ek julle daaraan herinner dat Paulus nie soseer die huwelik aanspreek nie, maar wel die verhouding van die Christen met seks. Die rede waarom slegs die seksuele aspekte van die huwelik aangespreek word, is omdat dit die probleem is. En ek wil daarby voeg: dit is nóg dikwels die probleem. Mense dink die huwelik gaan oor seksuele intimiteit. Die wêreld sê as jou huweliksmaat jou nie bevredig nie, is dit tyd om jou beloftes te heroorweeg. Maar die Bybel sê vir ons hier dit gaan nie daaroor om bevrediging te kry nie, maar om jou lewe af te lê vir die ander persoon (wat jou liggaam insluit).
Paulus se antwoord op die Korinthiërs se opmerking dat alle seksuele verhoudings sleg is, vind ons in vers 2: "Maar vanweë die hoerery moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê." Met inagneming van die gevaar van seksuele onsedelikheid (altyd teenwoordig in die Korinthiese kultuur en ons eie), is dit gepas dat ‘n man en ‘n vrou mekaar in 'n seksuele sin het. Dit is een van die redes om getroud te wees. In die Bybel vind ons 5 of 6 redes, afhangende van wie tel, naamlik van plesier, kameraadskap, tot kinders kry en nou ook versoekings.
Getroude paartjies moenie selibate lewens lei nie. Wanneer 'n paartjie nie meer seksueel intiem is nie, sal daar stryd volg. Dit is 'n feit, sê Paulus. Daar is oral versoekings rondom ons. Satan sal dit gebruik om 'n manier te vind om daardie huwelik te vernietig.
Seksuele intimiteit is kragtig ten goede of ten kwade, en daarom het God dit 'n baie spesifieke plek in ons lewens gegee – slegs binne die Godgegewe verbond van die huwelik. Dit is soos vuur in jou huis, jy het 'n spesiale plek daarvoor; jy maak nie ‘n vuur in die middel van die huis nie, dit sal die huis afbrand. Jy begin ‘n vuur in 'n kaggel, en dan verwarm dit die hele huis. So is aan seksuele intimiteit 'n baie spesifieke plek in die huis van ons lewe gegee, en dit is in die verbond van die huwelik. As dit daarbuite geniet word, sal dit 'n huis afbrand. Maar 'n kaggel wat nooit 'n vuur daarin het nie, sorg vir 'n koue huis. Dus, 'n huwelik waarin daar geen seksuele intimiteit is nie, word koud. Satan sal alles in sy vermoë doen om jong paartjies voor die huwelik te laat saam slaap en alles in sy vermoë doen om huwelikspaartjies nie saam te laat slaap nie.
Daarom kom die opdrag in vers 3 en 4: "Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.”
Dit is 'n opdrag om die roeping waartoe God jou as 'n getroude persoon geroep het, uit te leef. Paulus bedoel dat mans en vrouens moet voortgaan met seksuele verhoudings. En wanneer ons vervolgens verder lees, vererg ons ons aan vers 4. Die Bybel is nie polities korrek nie. Maar vir die kultuur van daardie tyd was dit nie vers 4a wat skokkend was nie, maar 4b. Dit was nuut. Revolusionêr. Totaal skokkend. Dat die man sy liggaam in diens aan sy vrou sou onderwerp. Dat sý liefde en sorg en aandag waardig was. Dat die huwelik nie vir sy eie selfsugtige doeleindes was nie, maar sodat hy kon leer hoe om soos Christus vir haar te wees. Hierdie soort diensbaarheid van die man aan die vrou word nêrens anders in daardie samelewing gevind nie. Nêrens is vroue in die samelewing verhef soos in Paulus se briewe nie. Daar is nie meer van hulle verwag om hul man se aandag te soek nie; hul mans is beveel om dit te doen. Hulle moes Christus met hulle lewe eer deur hulle aan hul vroue te onderwerp. Daarom sê Paulus: "Onderwerp julle aan mekaar uit eerbied vir Christus."
Met ander woorde gesê, die man kan die vrou nie misbruik nie, want sy liggaam is nie meer sy eie om te gebruik soos hy wil sonder haar toestemming nie; die vrou kan nie permanent intimiteit vermy nie, want haar liggaam is eweneens nie hare nie.
Hierdie teks is so teen-kultureel en dit is belangrik om dit te besef. Seksuele intimiteit gaan in die eerste plek nie oor jou bevrediging nie, maar oor diensbaarheid! Ons moet seksuele intimiteit as diensbaarheid benader. Selfs hier moet ons ons eenheid in Christus uitleef.
Dit is die teenoorgestelde van dit wat die wêreld oor seks sê. Die wêreld sê: dit gaan alles oor my. My plesier. My wellus. My begeerte. Die wêreld sê: seks moet eroties wees of dit is nie seks nie. Maar vir die Christen is seksuele intimiteit diep teologies. Soos een teoloog verduidelik, "Seks gee ons subjektief 'n voorsmaak van die hemel, van selfverloëning, self-transendering, om jouself te gee, dit waarvoor ons gemaak is."
Dit moet 'n liefde vir die evangelie wees, en van ons verstaan van wat God ons gegee het, wat ons tot intimiteit dryf. Dit is die liefde van Christus, nie die begeerlikheid van die wêreld nie, wat die fondament van die huweliksbed is nie. Satan wil niks liewer hê as om hierdie beeld van die huwelik uitmekaar te skeur nie. Daarom word Satan in die volgende vers genoem: "Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreen-stemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie."
Satan sal alles in sy vermoë doen om enigiets aan te val wat goed en mooi en waar is! Veral iets wat die liefde van Christus so kragtig kan wys! Daarom is gebed die enigste rede wat Paulus vir selibaatheid gee, en dan net vir 'n tyd. Het julle as 'n egpaar julself al ooit aan gebed oorgegee? Wat hierdie teks weer beklemtoon, is die uiterste belangrikheid van gebed in die huwelikslewe, en tweedens die belangrikheid van intimiteit in die huwelik. God kom eerste.
As jy vandag moeites in jou huwelik ervaar, is dit dalk tyd om saam met jou gade te gaan sit en te bid dat God jul huwelik sal her-oriënteer, sodat dit 'n huwelik van diensbaarheid kan wees, van gee van jouself in Christus.
Kom ek sluit af met 'n paar opmerkings.
Eerstens: Dit is nie 'n verskoning vir manipulasie of mishandeling nie. NOOIT NIE. Onthou, jy behoort nie aan jouself nie. Julle lê ALBEI jul lewe af vir die ander. Dit gaan nie daaroor om van die ander te eis om sy/haar lewe vir jou af te lê sodat jy voordeel daaruit kan trek nie. Dan gebruik jy die Skrif op die teenoorgestelde manier as wat dit bedoel word, en sal jy geoordeel word.
Tweedens beteken dit om bewus deel te wees van die huwelik. Satan maak die lewe gou té besig. Sodat ons allerhande verskonings kan vind om ons nie by ons huweliksmaat te slaap nie. Onthou, Paulus gee nie hier ‘n besige lewe as 'n verskoning nie, hoewel dit vir 'n tydperk die geval kan wees. Die een rede wat hy gee, is gebed, met wedersydse instemming, en dan net vir 'n tyd, as gevolg van die onbeheerste seksualiteit wat in daardie tyd algemeen was.
Ten slotte, laat ek jou weer daaraan herinner, seksualiteit is net ‘n deel van die huwelik. Dit is waaroor die Bybel hier handel.
En ten slotte is dit nie net ‘n deel van die huwelik nie, maar dit is ook net 'n deel van wie ons is. Ons moet nooit seksuele intimiteit as die einddoel verhef nie. Dit wys op iets beters, iets mooiers – ons eenheid met Christus. Dit wys na die evangelie.
Die probleem is dat die wêreld God met seks vervang het, die goeie nuus is seksuele bevryding. En dus, eerder as om hul identiteit in Christus te vind, wat die goeie nuus is, moet hulle hul identiteit in hul seksualiteit vind. Bruce Marshall het geskryf: "Die jong man wat die klokkie by die bordeel lui, is onbewustelik op soek na God." Miskien het ons dit in die kerk gedoen wanneer dit by die huwelik kom.
Die punt wat Paulus maak is dat, of jy nou ‘n man of ‘n vrou is, getroud of ongetroud, slaaf of vryman, jy jou roeping getrou moet uitleef as iemand wat deur die Here vrygekoop is. Die huwelik of die ongetroude lewe moet nooit definieer wie ons is nie. Christus moet. Ons eenheid met Christus definieer al ons verhoudings. Getroud of ongetroud. In beide behoort ons liggame aan die Here, in beide offer ons onsself op. Volgende week sal ons meer hieroor sê wanneer ons verder in hierdie hoofstuk gaan delf.
Amen.