Die afgelope paar maande het ons na hoofstukke 1-4 gekyk. Dit was die afdeling wat praat oor wêreldse wysheid en wêreldse mag teenoor die wysheid en mag van God wat in die evangelie geopenbaar is. In hierdie hoofstukke 5-6 sien ons die vrug van wêreldse wysheid en mag. Dit lei tot trots, aanspraak en selfsug. Paulus se antwoord hierop is om die geneesmiddel van die evangelie toe te pas.
Die oordeel in die vorige hoofstuk was ’n oordeel wat gewys het op die toekomstige ewige oordeel van God, tensy die sondaar hom bekeer het. Die uitspraak in hierdie hoofstuk spreek oor tydelike dinge waarvoor hulle mekaar na die hof gesleep het.
In die gedeelte waarna ons vandag kyk, vind ons ’n hele klomp vrae regdeur tot in vers 9, wat ironies is as in ag geneem word dat Paulus van regsgedinge onder gelowiges praat. Hy tree amper op as die aanklaer terwyl die kerk in die getuiebank staan om al sy vrae te beantwoord. Soos ’n goeie aanklaer bou elke vraag op die laaste, sodat hy werklik die hoofsaak oor hul identiteit in vers 11 kan tuisbring. Weer eens, as hulle regtig verstaan het wie hulle was, sou hulle nooit die weg gekies het wat hulle gekies het nie, en nie ’n groot ophef gemaak het oor wat Paulus “onbelangrike gevalle” noem nie.
Voordat ons begin, wil ek ’n paar dinge noem: Eerstens, geen Christen of kerk mag ooit hierdie hoofstuk gebruik om ’n misdaad te verdoesel nie. Dit gaan daaroor om sonde onder die mat in te vee nie! Nee, dit gaan eintlik daaroor om dit op die REGTE manier te hanteer. Dit het al met gevalle van mishandeling gebeur dat ’n kerk, eerder as om na die owerhede te gaan, dit alles self probeer hanteer. Dit is verkeerd. As die regering iets as misdaad beskou, moet die kerk dit aanmeld.
Tweedens, wanneer oor hierdie gedeelte gepraat word, kom die volgende vraag soms na vore: “Kan Christene ongelowiges dagvaar?” En die antwoord is: die Bybel gee nie 'n ja of ‘n nee nie. Maar as ons dit vir ons eie gewin doen: NEE. As ons dit doen om iemand terug te kry: nee. Dit moet ter wille van Christus wees, wat die waarheid is. Onenigheid sal, en moet soms, gebeur. Maar in ons strewe om 'n argument te wen, kan ons ons verhoudings verbreek, en eerlikwaar, dit is nie 'n opsie in die familie van God nie.
Wanneer onenigheid ontstaan, herinner jouself wie jy is:
1. Misbruikte regsgedinge
2. Onthou wie jy is
Misbruikte regsgedinge (1-7)
Vers 1: “Durf iemand van julle wat 'n saak teen 'n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie?” Hulle het versuim om te oordeel wanneer hulle moes en nou gaan hulle na die regters wanneer hulle nie moes nie. Sy grootste droefheid is die getuienis wat dit aan 'n aanskouende wêreld gee! Hy is bedroef dat hulle na die hof gaan voor die “onregverdiges” (v. 1), voor diegene wat geen aansien in die kerk het nie (v. 4), voor ongelowiges (v. 6).
In die Grieks begin die hoofstuk met die woord “durf”. Hoe durf jy?! Wie dink jy is jy dat jy 'n saak voor die onregverdiges neem? Dit is ironies dat jy na die onregverdiges (dié wat nie reg-verdig is nie) sal gaan om te besluit wie reg is. Die onregverdiges is ook dié wat nie vergewe is nie, maar julle is heilig, en die vrug van daardie heiligheid behoort geregtigheid te wees. Hoe lyk dit vir 'n aanskouende wêreld wanneer hulle gedurig twis en stry oor tydelike dinge?
Paulus gaan voort met sy lys van vrae in vers 2 en 3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” Ja, jy het reg gehoor. Die heiliges sal die wêreld oordeel. Die heiliges sal engele oordeel. Dit is 'n argument van die meerdere na die mindere. Hulle sal regters wees in die grootste regshandeling denkbaar – die oordeel van die wêreld – maar tog is hulle nie in staat om as vrederegters op te tree in 'n klein hofsaal in ‘n agterbuurt nie. Nie net dit nie, maar hulle sal engele oordeel! Wat 'n reeks oordele sal die heiliges uitspreek! Miskien probeer Paulus sê dat om te oordeel in hierdie klein dingetjies, hulle sal voorberei om die groter ewige dinge te oordeel. Maar dit beteken dat hulle nie daardie plig moet ontduik nie.
As hulle eendag die wêreld en die engele sal oordeel, beteken dit tog dat hulle in staat moet wees om relatief geringe geskille onder mekaar te kan hanteer? En dit is ‘n kleinigheid in vergelyking met die oordeel van Satan en sy engele. Hier is die Korinthiërs wat dink hulle is wys, en hy sê: julle tree nie so op nie! Weet julle nie? Weet julle nie? Dit is die refrein 5 keer in hierdie een hoofstuk.
“Weet julle nie?” En tog, as dit nie vir hierdie einste gedeelte was nie, hoeveel Christene sou vandag weet? Dit is nie iets wat Paulus opmaak nie. Dit is iets wat uit die Ou Testament kom, waarna Jesus self verwys. In Daniël 7:22 staan daar dat oordeel gegee is aan “die heiliges van die Allerhoogste”. In Matthéüs 19:28 sê Jesus vir sy dissipels: “Julle wat My gevolg het [sal] ook op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel [...] oordeel.”
Liewe broers en susters, ons is burgers van die koninkryk van God. Ons is saam met Christus, die Koning, opgewek. Hierdie koninkryk sal oor alle aardse koninkryke heers. Ons is onder diegene wat die wêreld deur geloof oorwin het. As ons onder diegene is wat enige aardse regering en regstelsel sal oorleef, hoekom sal ons 'n beroep doen op daardie stelsel vir geregtigheid oor klein sake – dinge van tydelike aard? Ons is verenig met Christus. Die uiteindelike Heerser en regverdige Regter.
In ons gewone, dag-tot-dag geskille met medegelowiges, moet ons ons uiteindelike identiteit as mede-erfgename en mede-heersers met Christus onthou. Ons gebruik nie wêreldse metodes om wêreldse doelwitte te bereik nie. Ons moet eerder in alles afgesonder word as mense wat deur God se Woord beheer word en deur God se Gees bemagtig word. 'n Volk wat die kwaad deur die goeie oorwin. ’n Volk wat die ander wang draai. 'n Volk wat waarheid in liefde soek.
In Christus is ons as broers en susters verenig. Die apostel Paulus sê aan die gemeente van Korinthe: “MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Kor. 1:10). Paulus laat nie vir ons baie ruimte hier nie. Hy staan nie oop nie vir ons verskonings wat begin met: “Maar...”, “Wat as...”, “Maar, wat as... hierdie persoon REGTIG moeilikheid maak?”, “Wat as... hulle REGTIG verkeerd is?”, “Wat as... ek DUIDELIK reg het?”
Paulus gee ons nie die opsie om ons rug op ons broers en susters te draai nie, selfs nie wanneer ons nie saamstem nie. Daar is nie die opsie om ons speelgoed op te tel en huis toe te gaan nie. Ons is verbind aan mekaar. En in die kerk is familie letterlik vir ewig. Letterlik. Dit is wel moontlik dat 'n verhouding so skadelik kan word dat afstand van die ander persoon die enigste opsie is, maar dit moet altyd die laaste uitweg wees. Die heel laaste uitweg. En dit behoort nie 'n langtermyn-oplossing te wees nie. Dit is slegs in die geval van duidelike onbekeerlike, openlike sonde wanneer die kerk se ouderlinge betrokke raak, soos in hoofstuk 5.
Liewe gemeente – weer eens kom ons terug by die evangelie en die begrip van ons identiteit in Christus. As ons ons identiteit verstaan, dan kan ons Paulus se logika volg, dat dit nie sin maak vir diegene wat in Christus geregverdig is om na die onregverdiges te gaan nie. Vir dié wat vergewe is om na dié wat nie vergewe is nie, te gaan. Dit is sy punt in vers 4: "As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word." Hierdie mense het geen aansien in die kerk nie. Dit is beter dat jy beoordeel word deur die een wat die minste aansien in die kerk het as deur iemand wat geen aansien het nie. Iemand met die minste aansien in die kerk is 'n mede-erfgenaam saam met Christus. Soos hy sê: “Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?” Is daar niemand in die kerk wat ‘n uitspraak sal kan doen nie? Wat eenheid kan bring nie? Soos hulle oor die wysheid gespog het, behoort daar tog een te wees wat wys genoeg is. In plaas daarvan sê vers 6: "Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges?" Hier is die familie van God wat al hulle vuil wasgoed uitskud vir die wêreld om te sien.
Hier is 'n familie wat minder omgee vir eenheid met Christus en die eenheid van die liggaam as oor hul eie regte en vryhede. In die kerk, al is dit soms jou reg, sal jy dit prysgee vir die swakker broer. Die vraag in hierdie hoofstuk, geliefdes, is: wat is jy bereid om vir die ander prys te gee ter wille van Christus?
Die feit dat hulle aan regsgedinge deelgeneem het, wys dat hulle nie weet wie hulle is nie. Selfs al wen die persoon die regsgeding, sal dit steeds 'n nederlaag wees. Soos Paulus sê: “Dan is dit al werklik 'n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?” In plaas daarvan om toe te laat dat hulle verontreg word, vat hulle ander hof toe – selfs hul eie broers!! Dit is die kerk van Christus waarvan ons praat.
Wanneer laas is jy verontreg en het jy nie gereageer nie? Of soos Paulus sê: “Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?” En ek praat nie net daarvan om maar net te grynslag en uit te hou met ‘n ander nie, terwyl jy jouself regverdig en opgeblase raak daaroor teenoor jou broer nie; maar dat jy eintlik verontreg word ter wille van Christus. Want jy het Jesus lief, en in Jesus het jy die ander broer of suster lief. Hoeveel is jy bereid om ter wille van Hom te dra? Jesus het alles ter wille van jou gedra.
Daar sal 'n tyd kom wanneer jy selfs in die kerk verontreg word. Wat doen jy dan? Jou eerste reaksie is om kwaad en gefrustreerd te word en die ander te oordeel. En te reageer met iets soos: "Hoe kon daardie persoon dit doen en beweer dat hy 'n Christen is?!" Maar vandag wil ek hê dat ons almal in ons eie harte moet kyk. Want dis waar dit alles begin. In jou eie hart. As ons eerlik is met onsself, spruit die meeste van ons frustrasie met ander uit selfsug. Ons wil net hê dit moet end kry. Maar dit is nie die punt nie. Die punt is om mense daartoe te bring om Jesus en sy werk raak te sien.
Die punt is dat as 'n familie hof toe gaan in die wêreld, dan glo die wêreld dat daardie familie groot probleme het. Ons ken almal films waar 'n broer of suster die ander een hof toe vat. Dit raak ‘n groot gemors.
Ons het God as ons Vader; ons is lede van die Seun van God. Inderdaad, soos Paulus impliseer, dit sou beter wees om bedrieg te word en in die voetspore van ons Here te volg ter wille van die evangelie. Dit sou beter wees om verontreg te word. In die Christelike lewe is daar is nie so-iets as om iemand terug te kry, iets soos wraak, nie.
Die Christelike geloof gaan nie oor ons regte nie! Ons het ons regte prysgegee toe die Here Jesus die Meester van ons lewe geword het. En sodoende het ons burgers van die koninkryk van die hemel geword, erfgename van God. Hoekom sal ons baklei oor 'n aardse erfenis, wanneer ons erfdeel God is?
Wie is jy? (8-11)
Die kernvraag hier is: wie is jy? Wie is ons? Paulus gaan voort met die volgende vraag: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” Weet julle nie? Julle is erfgename van die koninkryk van God! Om te erf. Dit is 'n geskenk. Nie verdienste nie. Nie iets waarvoor jy werk nie. Hierdie koninkryk is die aktiewe heerskappy van die Here Jesus Christus. Hierdie koninkryk het gekom deur die omverwerping van Satan se bose oorheersing oor die wêreld. Hierdie koninkryk groei deur die verkondiging van die evangelie, soos wat God ons deur die Woord van Christus vrymaak van die duistere heerskappy van Satan in hierdie wêreld, tot in die heerlike vergadering van God se heiliges.
Heilige mense. Dit is belangrik. As jy in die koninkryk is, is jy deur Christus geheilig en is jy geroep om heilig te wees (1 Kor. 1:1-2). Hulle behoort van beter te weet, maar hulle tree op asof hulle nie weet nie, en bedrieg hulleself. Daarom sê Paulus: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” Dit is die mense vir wie hulle vra om hulle regters te wees, maar uiteindelik sal hulle geoordeel word! Wie is hierdie mense nou eintlik? Hulle is diegene wat in sonde lewe en onverskillig is teenoor die sonde. Dit gaan hier nie oor diegene wat sukkel, treur en berou het nie. Dit gaan oor diegene wat gewillig en uitdagend in sonde voortgaan.
As trots in julle harte opkom, kyk na wat hy sê: “En dit was sommige van julle!” Dit was sommige van julle. Almal van ons in hierdie gebou kan onsself iewers in daardie lys vind. Ons was wat hulle is. Ons het gedoen wat hulle gedoen het. Ons was verslaaf. Maar God sy dank! Dank aan GOD! Want kyk saam met my verder na vers 11: "maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God." Die woord “maar” word hier in die Grieks vir beklemtoning herhaal. MAAR jy is gewas! In die bloed van die Here Jesus Christus is daar die afwassing van daardie sondes. Vergifnis. Christus het nie gekom om 'n regsgeding teen ons sonde te bring nie, maar om ons van sonde te bevry. Hy het alle reg gehad om die regsgeding teen ons gelyk te maak!
Liewe gemeente! Ons het die toorn van God verdien. As God opgetree het soos wat ons soms teenoor mekaar optree en ons op ons regte staan, dan sou ons geoordeel word. Maar dit is nie wat Hy gedoen het nie. Hy het ons gewas. Hy het ons geheilig. Hy het ons van die wêreld geskei – hoekom sou ons soos die wêreld optree? Hy het ons geregverdig deur die Gees van ons Here Jesus Christus, en deur die Gees van onse God. Dit is in Jesus Christus, en deur sy Gees. Weer eens, dit is God wat alles gedoen het! Ons het niks gedoen nie! Ons het nie vir hierdie regte geveg en dit verdien nie. Ons het dit deur die kruis en opstanding ontvang! Hoeveel te meer sal ons nie in sy voetspore volg nie?!
Geliefdes, laat ek vandag 'n paar praktiese implikasies vir ons uiteensit.
- As jy iets teen 'n broer of suster het – kyk na die pad wat Jesus vir ons in Matthéüs 18 gee. Lees dit. Wanneer jy 'n broer en suster nader, vra jouself af: wat is my bedoeling? Om hom verkeerd te bewys en jouself reg, of om daardie broer of suster in Christus lief te hê? Dit is die punt. Hoe ontsnap ons uit ‘n “ons-teen-hulle”-ingesteldheid? Nie deur harder te probeer nie, maar deur te erken wie ons saam in Hom is. Paulus se antwoord op vers 1-10 is die evangelie in vers 11.
- Die tweede les vloei hieruit voort. ‘n Slegte geloof lei tot ‘n slegte lewe. As jy nie die evangelie reg verstaan nie, sal dit lei tot ‘n slegte lewe. Gebroke verhoudings. 'n Veroordelende houding. En onderdrukking van die swakker broers en susters.
- Dit beteken nie dat jy sekere kwessies nie moet hanteer en dit moet ignoreer nie. Maar hierdie gedeelte wys ons om daarmee om te gaan op ‘n manier waarin die integriteit van die liggaam van Christus en die eenheid van die liggaam ongeskonde bly. Hoe hanteer ons meningsverskille in hierdie kerk? Dit is die vraag.
- Die feit dat ons kwaad word en 'n persoon wat ons dalk kwaad aangedoen het, wil terugkry, sê meer van ons as van hulle. Dit gaan nie oor 'n hart wat gewas, geregverdig en geheilig is nie. Maar die hart van iemand van wie baie vergewe is, en dan eis dat almal hul skuld betaal.
Liewe gemeente, weet jy nie dat jy die koninkryk sal beërwe nie?! Dat jy gewas, geheilig en geregverdig is in die Naam van die Here Jesus? Mag ons verhoudings met mekaar dit uitstraal.
Amen.