Preek: Mattheüs 5:20
Daar is Christene wat dwalings aanhang wat veroorsaak dat hulle makliker begin lewe.
Hulle is dan nie meer so streng met hulle geloof nie.
Hulle neem wêreldse gewoontes oor.
Dit mag dalk na ‘n aantreklike opsie klink.
Ons godsdienstige pligte is soms veeleisend en ook duur, en as daar ‘n goeie rede is om dit bietjie makliker te vat ... hoekom nie?
Maar aan die ander kant is daar ook Christene wat ‘n dwaling aanhang wat veroorsaak dat hulle juis strenger begin lewe.
Al is dit dalk vir baie ander gelowiges nie ‘n aantreklike opsie nie, is dit wel iets wat respek afdwing.
Kyk net hoe ernstig is daardie persoon oor sy geloof!
Mens kan eintlik ‘n voorbeeld aan hom neem!
Tog, gemeente, het ons in beide gevalle met dwalinge te make.
En beide is gevaarlik.
Miskien is die tweede soort vir kerkmense nog gevaarliker, omdat sulke mense so ernstig is, omdat gelowiges wat vroom wil lewe, maklik deur hulle beïnvloed kan word.
Tema: Soek die alleroorvloedigste geregtigheid!
In ons teks is die Here Jesus in gesprek met die Fariseërs.
Wie was die Fariseërs?
Waar kom hulle vandaan?
Uit die geskiedenisboeke weet ons dat hulle ‘n eeu voor Christus se geboorte alreeds as ‘n groepering bestaan het.
In Jesus se tyd was hulle ‘n welbekende, gevestigde en gerespekteerde party onder die volk.
Dit is nie heeltemal bekend wat die oorsprong van hulle naam is nie.
Daar is historici wat meen dit kom van die woord perushim, wat iets beteken soos afgeskeidenes.
In hedendaagse terme, hulle was dalk iets soos die Puriteine, of ‘n godsdienstige groepering wat afgeskei het van die hoofstroom.
Hulle was puriste.
Die wet was hulle spesialiteit.
En meer spesifiek, hulle het hulle beywer om getrou te wees aan die tweevoudige wet, soos dit genoem is.
Eerstens die wet van Moses.
En tweedens het hulle ook geywer vir die bewaring van die voorvaderlike oorlewering.
Die tweevoudige wet dus.
Maar al het hulle moontlik as ‘n klein afgeskeide groep ontstaan, in die tyd van Jesus op aarde het hulle uitgegroei tot die grootste godsdienstige beweging onder die Jode.
Daar was verskillende godsdienstige bewegings onder die Jode.
Behalwe vir die Fariseërs was daar ook die Sadduseërs en die Essene.
Maar die Fariseërs was die grootste groep.
In Jesus se tyd was die Fariseërs baie invloedryke leiers onder die volk.
Volgens ‘n geskiedskrywer was daar ten tye van Herodes meer as ses duisend Fariseërs.
Hulle is opgelei deur wetspesialiste, waaronder sommige ‘n groot naam gemaak het, dink byvoorbeeld aan Gamaliël, Paulus se leermeester.
In ons teks lees ons van die skrifgeleerdes en Fariseërs.
Nie alle skrifgeleerdes was Fariseërs nie.
Onder die sambreelterm skrifgeleerdes kon daar ook ander val, soos byvoorbeeld Sadduseërs.
Ons ontmoet die Fariseërs in ons teks en op nog baie ander plekke in die Nuwe Testament.
Vir die lesers van die Mattheüsevangelie het hulle geen bekendstelling nodig gehad nie.
Toe Mattheüs die Evangelie geskryf het, het hy gewoon daarvan uitgegaan dat sy lesers geweet het wie die Fariseërs is.
Maar twee duisend jaar later is dit by ons nie noodwendig die geval nie.
Wie was die Fariseërs eintlik?
En hoekom het die gelowiges in daardie dae so teen hulle opgekyk, hulle so gerespekteer?
En hoekom kry ons die beeld uit die Nuwe Testament dat hulle miskien wel die grootste teenstanders van Christus was?
En is dit wel reg as ons deesdae iemand ‘n Fariseër noem?
Voordat ons in detail na ons teks kyk, kom ons fokus eers vir ‘n oomblik op ‘n ander godsdienstige groepering uit daardie tyd, die Sadduseërs.
Want in baie opsigte was hulle die omgekeerde van die Fariseërs, en oor verskillende sake het hulle wesenlik van mening verskil.
Tog lees ons ook soms dat hierdie twee groepe saamgespan het, in spesifieke omstandighede eensgesind was, veral as dit by die teenstand teen Jesus gekom het.
Wie was die Sadduseërs?
Die Sadduseërs se naam is oorsponklik afgelei van die priester Sadok.
Hulle was veral priesters.
In die tyd van die Nuwe Testament was die priesters oor die algemeen baie ryk.
Die tempel het gefunksioneer as die bank van die Jode, selfs internasionaal, en die priesters het al daardie geld beheer.
Hulle het ryk geword uit beslastings en rentes en kommissies.
Met al daardie geld het hulle dikwels ook eiendom gekoop, groot stukke grond.
Dus, in teenstelling tot die tyd voor die ballingskap toe die priesters geen grondgebied gehad het nie, het die priesters in Jesus se tyd baie grond, eiendomme en bates gehad.
Die Sadduseërs was daarom deel van die ryk elite van die samelewing.
Hulle was polities naby aan die oorheersende politieke bewind, die Romeine.
Onder hulle was daar ook dikwels ‘n neiging om hulle geloofsoortuigings aan te pas by wat gangbaar was.
In die opsig was hulle liberaal.
So het hulle byvoorbeeld die geloof in die liggaamlike opstanding verwerp, omdat dit vir die Romeine en Grieke ‘n belaglike idee was.
Omdat die Sadduseërs ryk en elitair was, het hulle oor die algemeen ver van die volk afgestaan.
Die groot massas het nie baie met hulle geassosieer nie.
Vandag is dit nog steeds so dat die rykstes van die aarde hulleself afsydig hou van die massas.
In die kerk is dit nie anders nie.
Dink aan die pous, wat vir die grootste deel van sy lewe ver van die gewone mense af lewe, en as hy die mense toespreek by die Vaticaan, ver bo hulle staan.
By die Fariseërs was dit egter anders.
Waar die Sadduseërs ‘n klein en elitaire groepering was, was die Fariseërs ‘n veel groter party, en breed gevestig onder en tussen die volk.
Populêr, maar veral ook geag.
Die volk het na hulle opgekyk, omdat hulle godsdienstig so streng was.
Maar, al het die volk hulle so gerespekteer, wat sê die Skrif eintlik?
Gemeente, alreeds Johannes die Doper was baie krities, nie net op die Sadduseërs nie, maar ook op die Fariseërs.
Hy het deur hulle uitwendige strengheid gekyk.
Ons lees in Mattheüs 3: “Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?” (Matt 3:7)
So gemeente, dis nie so dat mense wat baie ernstig is met hulle godsdiens soos die Fariseërs, dat hulle beter is as die wêreldgelykvormiges nie.
Inteendeel, in die Nuwe Testament waarsku Jesus aansienlik meer teen die Fariseërs as teen die Sadduseërs.
Juis hulle skyn van godsdienstige regsinnigheid was so gevaarlik!
Om ‘n voorbeeld te noem.
Die dissipels van Johannes die Doper het vir Jesus gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie?” (Matt 9:14).
Skynbaar is hoeveel keer jy vas deur hulle tog gesien as ’n maatstaf vir hoe ernstig jy oor jou geloof is, hoe ’n goeie gelowige jy is.
Dit het Johannes se dissipels laat twyfel.
In vandag se terme: Meeste gelowiges gaan maar een keer per Sondag kerk toe.
Ons gaan twee keer per Sondag.
En daar is selfs ander, dalk oud oud Gereformeerdes, wat drie keer per Sondag kerk toe gaan, of wat deur die week ook nog kerk toe gaan!
Is hulle die supergelowiges?
Is hulle beter as die ander?
As jou kind begin uitgaan met een van hulle jongmense, is dit iets om oor dankbaar te wees, omdat hulle so ernstig oor hulle godsdiens is?
Wel gemeente, Jesus waarsku juis des te meer teen die suurdeeg van die Fariseërs!
Nou wil ek nie beweer dat oud oud Gereformeerdes noodwendig gelyk is aan Fariseërs nie.
Maar ek waarsku dat ons nie hierdie soort redenering moet aanhang, wat mens by Johannes die Doper se dissipels gesien het nie.
Die vraag moet nie wees, hoeveel dinge doen jy as gelowige, hoeveel wette kom jy noukeurig na nie.
Die vraag moet wees: Is Jesus Christus Heer van jou lewe?
Ja, Jesus wys die beter weg.
Hy sê in sy Bergrede:
“Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” (Matt 5:20)
Hiermee bedoel Christus nie dat sy skape nog meer fanaties hulle godsdienstige pligte moet nakom as dit Fariseërs nie, maar wel dat hulle tog ‘n nog oorvloediger geregtigheid moet kry.
Hoe is dit moontlik?
Dit kry jy as jy besef wat die kern van die wet is, die kern wat die Fariseërs juis oor die hoof gesien het, naamlik: liefde vir God, en liefde vir jou naaste.
Dit moet jou dryfveer wees by die nakom van die gebooie.
In die praktyk kom ‘n gelowige soms voor ‘n dilemma te staan.
So het Dawid, omdat hy en sy manskappe op ‘n stadium amper omgekom het van die honger, van die toonbrode in die heiligdom geëet.
Jesus verwys self na hierdie voorbeeld in sy gesprek met die Farsiseërs (Matt 12).
Dawid het inderdaad ‘n wet oortree, want hy mog nie van daardie brode geëet het nie, net die priesters mog.
Nietemin, die liefdesgebod – hy wou sy manskappe red van ‘n hongerdood – het sy optrede bepaal.
Inderdaad, die nakom van God se gebooie vereis soms wysheid, want die praktyk is dikwels ingewikkeld.
Soms voel dit of mens moet kies tussen twee gebooie.
Die Fariseërs het die volk gelei op ‘n pad om die ingewikkelde praktyk baas te raak met honderde ekstra gebodjies en reëls en bepalings.
Maar langs daardie weg het die wysheid en die liefde soekgeraak.
Ja dit is nie die weg waarop sy volk moet gaan om God tevrede te stel nie.
Daaroor is die Nuwe Testament baie duidelik.
‘n Beter weg is nodig!
Ja bo alles is dit slegs moontlik om ‘n oorvloediger geregtigheid te kry, as iemand anders dit vir jou gee.
Want as jy eerlik is, moet jy erken dat jy nooit uit jouself die wet, en dan veral die kern van die wet, kan nakom nie.
Al het die Fariseërs so nougeset gelewe, tog was hulle blind, blinde leiers, en veral was hulle hoogmoedig, hulle het hulle oë gesluit vir die belangrikste van God se wet.
Hulle het hulle oë gesluit vir hulle eie ellende.
Aan die einde van die dag was hulle selfgesentreerd, hulle was daarop uit om aanhang en populariteit onder die volk te geniet, dat die volk na hulle sou opkyk, vir hulle agting sou hê.
Dit was een van die hoofredes hoekom hulle so met Jesus gebots het, omdat hulle gesien het dat Christus met gesag praat, ‘n gesag wat ver bo die van hulle uitgestyg het.
Hoe kan ons dan oorvloediger wees in regte dinge doen, ja aansienlik meer as die Fariseërs wat alreeds so nougeset was?
Wel, dit is waar die hele Nuwe Testament om draai.
Dit is wat Paulus, wat vroeër self ‘n Fariseër was, vir ons so mooi verduidelik.
As ons naamlik ‘n geregtigheid ontvang wat nie ons eie is nie!
As Iemand wat volmaak is se geregtigheid aan jou geskenk word!
Slegs dan kan ons geregtigheid oorvloediger as die van die Fariseërs wees, slegs as ons in hierdie Persoon glo en al ons geregtigheid van Hom verwag!
‘n Belangrike vraag is of daar ‘n leerverskil was tussen Jesus en die Fariseërs.
Daar is mense wat beweer dat die Fariseërs eintlik dieselfde leer as Jesus gehad het, behalwe dan dat hulle Hom nie as Messias aanvaar het nie.
Beide het mos hulle geloof op die Ou Testament gebaseer.
Wel, gemeente, kom ons kyk of dit so is.
Eerstens, soos ons hierbo gesien het, het die Fariseërs hulle geloofslewe nie net op die Ou Testament gegrond nie, maar ook op die oorleweringe, die tradisies van die voorvaders.
Die spreekwoordelike Sola Scriptura is nie deur hulle onderskryf nie.
Ons bely in artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis:
“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word.”
As dit van die Fariseërs afgehang het, was hulle addisionele wette en voorskrifte net so onmisbaar vir die volk om deur God aanvaar te word.
In die sin is daar nogal ooreenstemming tussen die Fariseërs se gebruik van Woord en tradisie, en die van die Roomse Kerk.
Nie vir niks het die Reformatore die Roomse Kerk in hierdie opsig van Fariseïsme beskuldig nie.
Ons gevolgtrekking dus: Op hierdie punt was daar ‘n ingrypende verskil tussen die leer van die Fariseërs en dit wat Christus geleer het.
Nie die menings en tradisies van die voorvaders nie, maar slegs sy Woord is bepalend!
En dan het ons nog nie eers oor die grootste verskil gepraat nie.
Die feit dat hulle die Messias nie erken het nie maar verwerp het, het nie net daarmee te make gehad dat hulle hoogmoedig was en jaloers op die gesag en aansien wat Jesus onder volk geniet het, juis ook as gevolg van al die wonders wat Hy gedoen het nie.
Ja, dat hulle jaloers was, is ‘n feit.
Toe Jesus ‘n duiwel uitgedryf het met die gevolg dat ‘n mens wat altyd stom was, skielik kon praat, het die Fariseërs die mense afgesnou met die opmerking:
“Deur die owerste van die duiwels dryf Hy die duiwels uit.” (Matt 9:34)
Ronduit ‘n lelike opmerking, gemotiveer vanuit jaloersheid, omdat die skare verwonderd uitgeroep het: “So iets is nog nooit in Israel gesien nie!” (Matt 9:33; sien ook Matt 12:24).
’n Pynlike opmerking vir die Fariseërs, wat graag belangrik onder die volk wou wees.
Maar, hierdie jaloesie was nie die enigste rede hoekom hulle die Messias verwerp het nie.
In die grond van die saak het hulle God se eie Woord verkeerd gelees, ja verdraai.
In die Ou Testament is die koms van die Messias hoeveel keer nie voorspel nie!
En wie die Ou Testament gelowig gelees het, moes die Messias herken toe Hy gekom het.
En inderdaad, daar was baie eenvoudige en opregte gelowiges in Israel wat die Messias inderdaad herken en toe ook erken het.
Maar die Fariseërs hulle vir hulleself ’n eie beeld van die komende Messias gevorm, deur selektief te lees in die Ou Testament.
Dis hoekom hulle nie kon verstaan dat God se Gesalfde ook moes sterf nie.
Dis hoekom hulle byvoorbeeld, en Paulus as gewese Fariseër skryf uitvoerig daaroor, hoekom hulle so gekant was teen die feit dat die Messias ook vir die heidene bedoel was.
Die Messiasfiguur wat hulle in gedagte gehad het, moes hulle juis kom bevry van die heidene, wat God se wet nie het en nie nakom nie.
Die Messias moes vir hulle die eertydse glorie van Israel weer kom herstel.
Die fokus op die primêre bevryding van die sonde het op die agtergrond verdwyn.
Christus het hulle daarom vermaan met die woorde: “Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.” (Matt 15:11)
Dit na aanleiding van die feit dat Jesus se dissipels nie hulle hande gewas het, volgens die oorlewering van die ou mense nie.
Gemeente, is dit ’n diepgaande leerverskil of nie?
Wel, dit is ’n totaal verskillende Messiasbeeld!
’n Totaal verskillende definisie van wie en hoe die Messias moes wees.
So, nie net omdat die Fariseërs hoogmoedig was en jaloers op Jesus nie, maar ook omdat Jesus nie aan hulle verwagtinge, hulle Messiasbeeld, voldoen het nie, daarom het hulle Hom verwerp.
Gemeente, die woord Fariseër het deur die eeue ‘n skeldwoord geword.
In die kerk is dit een van die mees verregaande beskuldigings, om iemand ‘n Fariseër te noem.
Soja, die woord alleen laat die rooiligte onmiddelik flikker.
Maar tog, los van die woord, laat ons onsself wel ondersoek of die suurdeeg van die Fariseërs onder ons is.
Suurdeeg is nie sigbaar nie, maar dit doen wel iets.
As hierdie suurdeeg werksaam is, dan stoot dit wysheid en liefde aan die kant.
Na wie kyk ons op?
Wie ag ons hoog in die gemeente?
Hulle wat so streng is en nooit een van hulle godsdienstige pligte mis nie?
En, op wie kyk ons neer?
Op hulle wat veels te min eredienste bywoon?
Gemeente, Christus het, so lees ons in die Nuwe Testament, saam met tollenaars en sondaars geëet, maar Hy het ook saam met Fariseërs geëet.
Hy het aan niemand aanstoot geneem nie.
Wysheid en liefde het sy optrede bepaal.
En ook uit die geledere van die Fariseërs het daar mense tot bekering gekom, waarvan Paulus die bekendste voorbeeld is.
En dink ook aan Josef van Arimathea en Nikodemus (Mark 15:43-44).
So versamel Christus sy skape, elkeen met sy eie verlede.
Destyds uit Fariseërs, uit Sadduseërs, ja selfs uit die heidene.
En so doen Hy vandag nog steeds.
Hy bou sy kerk, nie net uit hulle wat in die kerk gebore is en netjies in die kerk grootgeword het nie, maar ook uit die sondaars in die wêreld wat nog nooit ‘n kerk van binne gesien het nie.
Laat ons Hom volg.
Sy geregtigheid is oorvloediger as die van die Fariseërs.
Sy geregtigheid is vir ons genoeg.
Deur sy Gees mag ons groei in ‘n lewe van toewyding, waar ons met wysheid en liefde lewe nie net volgens sommige nie, maar volgens al God se gebooie (Heidelbergse Kategismus v/a 114).
Dit in lyn met wat Christus sê:
“voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” (Matt 5:18)
Die jota en titteltjie is die twee kleinste Hebreeuse letters.
Heel God se wet, maar let wel, ook slegs God se wet, nie tradisies, die voorvaderlike oorlewering, is die lig op ons pad.
Sy wet wil ons van harte nakom, aangevuur deur die Gees stap ons met dankbaarheid die pad van wetsgehoorsaamheid.
Maar hierdie wetsgehoorsaamheid, al is dit moontlik by troue kerklidmate selfs nog oorvloediger as die van die Fariseërs, tog is dit nie die grond van hulle saligheid nie.
Want slegs die alleroorvloedigste geregtigheid van Christus is voldoende, dit is ons geregtigheid voor God.
Ja gemeente, soek die alleroorvloedigste geregtigheid!
Dit is jou sleutel tot die koninkryk van die hemele.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Mattheüs 3:1-12 & Mattheüs 5:17-20 & Mattheüs 9:14-17 & 27-34
Teks: Mattheüs 5:20
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Noem enkele godsdienstige groeperings wat daar onder die Jode in Jesus se tyd op aarde was.
- Hoekom was die Fariseërs so geag onder die volk?
- Wat is die rede hoekom jy jou ‘godsdienstige pligte’ nakom?
- Hoe kan ons geregtigheid oorvloediger wees as die van die Fariseërs?
- Wat is jou sleutel tot die koninkryk van die hemele?
Votum
Seën
Ps 92:1,6
Wet
Ps 71:1
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 3:1-12 & Mattheüs 5:17-20 & Mattheüs 9:14-17 & 27-34
Ps 85:4
Teks: Mattheüs 5:20
Preek
Ps 40:5,6
Gebed
Kollekte
Ps 89:6,7
Seën