Broers en susters,
Ons het aan die einde gekom van die brief van Jakobus. Nog net die slotakkoord het oorgebly. Nou, as ons hier met een van Paulus se briewe te make gehad het, dan het ons waarskynlik nog ‘n groet of ‘n seën as slotakkoord verwag – want dit is deurgaans hoe Paulus dit in sy briewe doen. Paulus eindig altyd met iets soos: groet dié en dié en dié, en dan nog heel laaste: die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle. Maar by Jakobus is dit anders. Jakobus het geen formele slot nie; inteendeel, dit lyk asof hy reg teen einde nog met ‘n nuwe onderwerp wil begin – soos wat blyk uit die aanspraak ‘broeders’ (in vers 19). Dus, Jakobus sluit nie af met ‘n seën of ‘n groet nie; Jakobus sluit af met ‘n werkopdrag. Hoe moet ons dit verstaan?
Wel, gemeente, ons moet onthou waaroor dit vir Jakobus in sy brief gaan. Ek het dit al verskeie kere herhaal, en ek hoop dat dit teen dié tyd al vasgesteek het: Jakobus se doel met sy brief is om by sy lesers heelheid van geloof te bewerk. Hy wil hê dat sy lesers die Here heelhartig moet dien, nie halfhartig nie – en dit het hy op verskeie konkrete punte in sy brief uitgewerk, tot en met die saak van die gebed, waaroor ons enkele weke gelede gehandel het. Gebed is die toppunt van ‘n heel geloof; niks maak die Here blyer as wanneer ons deur middel van gebed ons geloof uitleef nie.
En wat Jakobus reg aan die einde doen – in hierdie slotakkoord – is om vir sy lesers ‘n werkopdrag te gee: net soos wat ek deur hierdie hele brief daarna gesoek het om júlle geloof heel te maak, soek nou ook so daarna om mekáár se geloof heel te maak. Wanneer julle deur my brief (en die werk van die Gees) tot heelheid van geloof gelei is / word, rig nou jou aandag ook op jou broeder of suster wat dreig om af te dwaal. Dis Jakobus se werkopdrag: ek het julle na heelheid gelei, lei julle nou ook ander na heelheid! Want dit – dat ‘n enkele sondaar hom bekeer – dít laat die hemel juig!
Tema: soos wat Jakobus die heelheid van ons geloof soek, so soek ons dit ook vir mekaar.
- Dien die sondaar
- Ken daarin jou eie rol
- Sien raak wat die gevolge is
1. Ons vind in vers 19 van ons teks ‘n interessante konstruksie. Dit is twee voorwaardelike sinne (miskien weet u wat ‘n voorwaardelike sin is, dit is sinne wat begin met ‘as’: as... dan...); nou in vers 19 is daar twee van sulke voorwaardelike sinne: “as een onder julle van die waarheid afgedwaal het” – dis die eerste, en vervolgens... – “as iemand (bedoelende iemand anders) hom (dis die persoon wat afgedwaal het) bekeer”. Dus, ons het hier met twee persone te make. Daar is die persoon in die gemeente wat van die waarheid afgedwaal het – en die waarheid moet ons hier waarskynlik verstaan as verwysend na sowel die leer (die dogmatiese) as die praktiese lewenswandel; hierdie persoon het dus in leer en lewenswandel van die Here se Woord afgedwaal. En dan is daar die tweede persoon wat hierdie afgedwaalde persoon tot bekering bring. Twee persone teenoor mekaar – ‘n gelowige teenoor ‘n afgedwaalde, met die indringende vraag: is ek my broeder se hoeder? Is ek my suster se versorger? Jakobus sê: jy is! Jy kan nie net daaraan werk dat jou eie geloof heel word nie, jy moet ook dieselfde soek vir die geloof van jou broeder of suster.
In Mattheus 18 leer Jesus ons presies dieselfde. Nou, hierdie gedeelte staan onder ons dikwels bekend as “die weg van Mattheus 18” – ‘n soort prosedure vir onderlinge tugoefening. Maar ons moet dit in die breër konteks lees, want dit gaan oor baie meer as net ‘n prosedure. In die eerste verse van Mattheus 18 worstel die dissipels met die vraag wie die grootste in die koninkryk van die hemele is. Immers, in die verse net daarvoor het hulle geleer dat Jesus die vrye Seun van die Koning is (daarom hoef Hy ook geen tempelbelasting te betaal nie), maar ... as Hy die Seun van die Koning is, watter plek in die koninkryk gee dit dan aan hulle? Wie van hulle gaan die top posisie in die koninkryk beklee? Jesus antwoord hulle vraag deur ‘n kind in hulle midde te plaas; Hy wil daarmee ‘n kontras aandui – die kontras tussen hulle wat na die hoogste posisie strewe, en hierdie klein en (in hulle oë) onbelangrike kind. En Hy leer hulle dat hulle ten alle tye klein genoeg moet wees om tyd en werk en energie vir hierdie kleintjie in te sit, net soos wat die herder homself insit vir daardie een skaap wat weggedwaal het (Mt. 18:12-13). Want die koninkryk van Christus is ‘n koninkryk van liefde wat daarna soek om terug te bring, en daarom het die een afgedwaalde skaap vir daardie oomblik voorrang bo die negen-en-negentig. En as die dissipels bereid is om hulle vir hierdie afgedwaalde skaap in te sit, dán is hulle groot en dán sal hulle die koninkryk van Jesus Christus binnegaan.
Nou, hóé jy dít moet doen, dit werk Jesus vervolgens in vers 15 en verder uit – jy is groot in die Koninkryk wanneer jy bereid is om aan die broeder of suster wat teen jou gesondig het, die diens te bewys om hom of haar op te soek. Verstommend, nie waar nie? Nederig buig jy jouself neer om die sondaar op te soek en te help, selfs wanneer daardie sondaar jou te na gekom het! Die sondaar het vanweë sy sonde afgedwaal, net soos die verlore skaap, maar die gelowige roep hom of haar terug tot berou en bekering. En ja, dan is daar sekere stappe wat ‘n mens volg in jou diensbaarheid teenoor jou afgedwaalde broeder of suster – jy gaan vermaan hom eers alleen; en wanneer hy nie luister nie, dan vat jy nog een of twee saam; en as hy na hulle ook nie luister nie, dan vertel jy dit vir die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, dan word hy vir jou soos die heiden en die tollenaar. En selfs dan, selfs wanneer hy vir jou geword het soos die heiden en die tollenaar, dan nog steeds soek jy hom op. Want die evangelie is juis vir die heidene en die tollenaars bedoel. Dus, selfs dan sit jy jouself nog in vir die persoon wat van die Here se pad af weggedwaal het.
Gemeente, so maak die Here Jesus ons verantwoordelik vir mekaar en roep Hy ons op tot nederige diens aan mekaar. En net so plaas Jakobus elkeen van ons teenoor die ander, van aangesig tot aangesig. “As een onder julle van die waarheid afgedwaal het” – dit kan jy wees wat afdwaal, dit kan ek wees wat afdwaal. En “as iemand anders daardie afgedwaalde bekeer” – dit kan jy wees wat my bekeer, dit kan ek wees wat jou bekeer. Wat die situasie ook al mag wees, ons staan van aangesig tot aangesig teenoor mekaar, ons is verantwoordelik vir mekaar. Elkeen van ons is broeder-hoeders en suster-versorgers. As jy sien dat jou broeder of suster ‘n leer verkondig wat teen die Skrif en ons belydenis ingaan, dan kan jy nie jou rug op hom of haar draai en dink dis sy of haar saak nie; as jy agterkom dat jou broeder of suster in sy of haar lewe afdwaal – dalk ontrou is in die huwelik, dalk te veel drink, dalk pornografie kyk, dalk gedurig skinder – dan kan jy nie maar omdraai en dink dat dit beter is om maar liewer nie in te meng nie. Wie van die Here die gawe van ‘n heel geloof ontvang het, of oppad is na ‘n heel geloof, moet ook strewe na ‘n heel geloof by sy mede-gelowige. Anders is ons niks anders nie as die dissipels, wat net wou weet wie die grootste in die koninkryk is – dan gaan ons egoïsties om met die gawe van ‘n heel geloof. Maar Jakobus laat dit nie toe nie. Reg aan die einde van sy brief – net soos wat ons dalk kan begin dink dat dit in sy brief net oor my en my geloof gaan – wys Jakobus ons na die broeder of suster wat afdwaal.
En hulle ís hier, broers en susters – diegene wat besig is om af te dwaal. Maak jou oë oop, kyk om jou heen, kyk wie lanklaas hier in die eredienste was, kyk wie nooit na ‘n Bybelstudie of gemeentevergadering kom nie, sien die probleme in broeders en susters se lewens raak – en wees ‘n dienskneg vir hom of haar. Bewys hom of haar ‘n diens deur hulle op te soek en hulle tot die Here te bekeer. En wees so groot in die koninkryk van die hemele.
Maar, en dit is ons tweede gedagte, wat presies is dan ons rol in die bekering van die sondaar?
2. Want ek hoor mense al sê: ék kan tog nie iemand bekeer nie? Hoe kan Jakobus sê dat ons (dat enige mens) die sondaar van sy dwaalweg moet bekeer? Dis mos Goddelike werk! Ja, heeltemal reg. Die proses om mense om te draai, die proses om onsself om te draai – want dis wat bekering beteken: omdraai, 180 grade omdraai, weg van die sonde en terug na ‘n lewende verhouding met Jesus Christus – vir hierdie proses is God uiteindelik verantwoordelik (en pragtig word dit in hoofstuk 3/4 van die Dordtse Leerreëls vir ons beskryf). Maar die feit dat God die finale en beslissende oorsaak van bekering is, beteken nie dat ons nie ‘n rol daarin speel nie, dit beteken nie dat ons nie instrumente in God se hand is nie, dit beteken nie dat God ons nie as agente in hierdie proses wil gebruik nie.
Die feit dat Jesus gesê het dat niemand na Hom toe kan kom as dit hom nie deur die Vader gegee is nie (Joh. 6:65), beteken nie dat ons nie instrumente is om mense na Christus te bring nie. Immers, sê Johannes in Openbaring 22:17, die Gees én die bruid sê: “Kom!” Die feit dat Gód mense laat kom, beteken nie dat ons nie “kom!” moet roep nie. Ons ywer dus daarvoor dat mense kom! En ons gee gehoor aan die opdrag van die Here Jesus aan sy diensknegte in Lukas 14: “Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom...” (Luk. 14:23) En ons sien raak dat die mens ‘n instrument in God se hande is tot geloof van baie, want “hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” (Rom. 10:14-15).
En hierdie boodskap, broers en susters, vind ons op verskillende maniere in die Skrif verwoord – die boodskap dat, hoewel God uiteindelik vir bekering verantwoordelik is, Hy ons daarby inskakel. Luister maar hoe gevarieerd die Skrif oor bekering praat...
Bekering behels dat mense wat geestelik blind is, se oë geopen word en in staat gestel word om die heerlikheid van Christus raak te sien. Gód doen dit, Gód open die oë van diegene wat geestelik blind is. En tog stuur Jesus vir Paulus na die heidene om, volgens Handelinge 26:17-18, “hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God...” Vir Paulus om dan te sê dat dit nie sy doel is om mense se oë te open nie, sou ongehoorsaamheid beteken aan die opdrag wat Christus aan hom gegee het.
Bekering behels verder dat mense gewen word tot volle oorgawe aan Jesus Christus. God doen dit, God wen mense se harte sodat hulle Hom heelhartig sal dien. En tog kan Paulus sê dat dit ook sy doel is om mense vir Christus te wen: “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te wen; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te wen; vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet... om die wat sonder die wet is, te wen; vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakkes te wen” (1 Kor. 9:20-22). As Paulus skielik sou sê dat dit nie sy doel is om mense vir Christus te wen nie, sou hy sy Goddelike sending weerspreek.
Bekering beteken verder om die harte te draai – weg van wat sondig en verkeerd is, na die lewende God toe. God doen dit, God draai mense se harte na Hom toe (2 Thess. 3:5). En tog kry ook Johannes die Doper die taak om die harte van Israel na God toe terug te draai: “En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God ... om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ‘n toegeruste volk te berei” (Luk. 1:16-17). Dus, vir Johannes die Doper om te sê dat dit nie sy doel is om die harte van die volk na God toe terug te draai nie, sou hom ongehoorsaam aan sy roeping gemaak het.
Bekering beteken ook om weer gebore te word. God doen dit. God die Heilige Gees is die soewereine oorsaak van die wedergeboorte, want Hy waai waar Hy wil (Joh. 3:8). En tog kan Petrus sê dat die wedergeboorte plaasvind deur die verkondiging van die evangelie deur mense: “julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God ... en dit is die woord wat aan julle verkondig is” (1 Pet. 1:23). Vir die verkondiger van die Woord om daarom te sê dat die doel van sy prediking nie wedergeboorte onder sy hoorders is nie, sou hom uit pas met die Gees plaas en sou God se ontwerp vir hoe mense weergebore word, weerspreek.
Nou, gemeente, net so is bekering ook (volgens Jakobus) om mense terug te bring van die dwaalweg. Dit is God se werk, Hy bring mense terug vanaf die dwaalweg, terug na Homself. En tog kan Jakobus sy brief afsluit deur te sê dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood red en ‘n menigte sondes bedek. Om daarom te sê dat dit nie ons doel is om mense van hulle dwaalweg te bekeer nie, sou die teks weerspreek en sou impliseer dat die ewige dood van die afgedwaalde ons nie raak nie.
Daarom, broers en susters, hoewel God die soewereine bewerker van bekering is, is ons sy agente en word ons geroep om onsself by sy doel te voeg. En sonder om vir een oomblik te beweer dat bekering in ons mag sou lê, kan die Skrif ons nogtans oproep om blinde oë te open, om mense vir Christus te wen, om harte terug te draai na God toe, om mense opnuut gebore te laat word deur die verkondiging van die Woord, en – ons teks! – om die sondaar te bekeer van sy dwaalweg. Dis Gód se soewereine werk, en tog kry ons daarin ‘n geweldige groot verantwoordelikheid. Wie deur die Here se Woord en Gees gevorder het op die pad na heelheid, na heelhartige diens, mag nou self ywer vir die heelheid by die sondaar wat besig is om af te dwaal. Kom ons sit ons daarvoor in – klein, beskeie, diensbaar – maar nogtans met die verwagting dat God groot dinge in die sondaar se lewe wil doen! En die gevolge van hierdie werk is onbeskryflik skoon en mooi...
Dit is ons laaste gedagte.
3. “... laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek” (vers 20). Hierdie sondaar was dus op ‘n dwaalweg – ‘n weg wat, as hy nie daarvan sou terugkom nie, onherroeplik sou uitloop op die dood, die ewige dood, die ewige skeiding met God. Maar wanneer jy die sondaar van daardie dwaalweg terugbring na die smal pad van die lewe, dan word ‘n siel gered. Wie se siel? Jou eie siel? Nee, as héél gelowige is jou siel mos al gered – dit is die basis van Jakobus se hele brief. Onderliggend aan sy brief is die evangelie dat ons gered word uit genade alleen, deur Christus alleen, en deur die geloof alleen – en die doel van sy brief is om dié geloof – waardeur jy reeds gered is! – heel te maak op baie praktiese en konkrete maniere. Dus, as jy ‘n ware gelowige is, word jou siel nie gered deur ‘n ander tot bekering te bring nie. As dit so was, dan sou Jakobus ons reg teen die einde van sy brief weer terugbring by die verlossing deur goeie werke. En dis nie sy bedoeling nie. Nee, gemeente, dit gaan hier oor die siel van die afgedwaalde sondaar. Sy siel, haar siel word gered!
En dieselfde geld vir die laaste sinnetjie: ‘n menigte sondes sal bedek word. Dit gaan weereens nie oor jou sondes wat bedek sal word nie – immers, as ware gelowige ís jou sondes al bedek deur die geloof in Jesus Christus. Nee, dit gaan oor die sondes van die sondaar wat van sy dwaalweg bekeer is. Wanneer die sondaar van sy dwaalweg terukeer, dan kom daar ‘n bedekking oor die sondes. Gód plaas ‘n bedekking oor die sondes, Hy wil dit nie meer sien nie, Hy wil nie meer daaraan dink nie. Dis weg!
Dus, wanneer jy eenvoudig, liefdevol, diensbaar daardie broeder of suster opsoek wat dreig om af te dwaal; wanneer jy hom of haar bel om te sê: ons mis jou by die kerk!; wanneer jy hom of haar besoek en vermaan: besef jy, broeder/susters, in watter gevaar jy jouself begewe?; wanneer jy jouself diensbaar maak aan die persoon wat dreig om van die Here af te dwaal, dan wag daar op hierdie diensbaarheid ‘n groot beloning. ‘n Beloning wat net die heel gelowige werklik as beloning sal ervaar! Die onvolwasse gelowige sal sê: wat kry ek daaruit? Ja, sý siel word dalk gered, háár sondes word dalk bedek, maar wat kry ek daaruit? Maar die heel gelowige sal juig, die heel gelowige sal saam met die engele bly wees oor die bekering van een enkele sondaar. Prys die Here vir sy of haar bekering!
-----------------------
En so kom ons aan die einde van hierdie brief. ‘n Brief wat ons met onsself gekonfronteer het. Op ‘n stadium vra iemand vir my: wanneer gaan jy nou klaar maak met Jakobus, want ek voel elke keer so skuldig! Ja, so het die Gees met ons gewerk, ons met ons eie onvolmaakte en halfhartige geloof gekonfronteer. Luister mooi: die Gees het ons nie in die eerste plek gekonfronteer met die feit dat ons, byvoorbeeld, mense aanneem op grond van hulle uiterlike, of dat ons nie ons tong beheers, of dat ons planne sonder God maak, of dat ons te min bid nie – om maar net enkele dinge te noem wat Jakobus in sy brief aanspreek. Nee, die Gees het ons met ons gebrekkige geloof gekonfronteer. Dáár lê die wortel! Dáár lê dan ook die oplossing. Die oplossing is nie om nou ywerig aan die werk te spring en al die dinge wat Jakobus aanspreek te begin doen nie, maar om elke keer weer terug te gaan na Jesus Christus. Gee jou lewe aan Hom oor – neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees, meer en meer. Soek Hom, deur sy Woord en Gees. Wees ingeënt in Hom! Groei in jou verhouding met Hom! En laat vandaaruit die vrugte groei – mooi vrugte, goeie vrugte, gesonde vrugte. Want ‘n goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie. Sorg dat die boom van jou lewe geplant is by waterstrome (Ps. 1) – dan sal die vrugte volg op die regte tyd, die blare sal nie verwelk nie, en jy sal voorspoedig wees in alles wat jy doen.
Amen
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
Sing Ps. 108:1 en 2 (môrelied)
Wetslesing & Rom. 3:19-24
Sing Ps. 71:9, 10, 12, 14
Lees: Mattheus 17:24-18:20
Sing Skr. 15:2, 4, 6, 7
Teks: Jakobus 5:19-20
Preek
Sing Ps. 51:6 en 8
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 119:22, 26, 29
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.