Die woord amen kom baie keer in die Bybel voor.
Meestal is dit in die ou vertaling met amen vertaal.
Hoewel sommige kere nie, soos wanneer Jesus telkens gesê het aan die begin van sy onderwys: Amen, amen, het die ou vertaling dit met Voorwaar, voorwaar vertaal – sien byvoorbeeld Johannes 6:26.
Die 2020-vertaling het deurgaans amen met amen vertaal.
Sowel in die Ou as Nuwe Testament word die woord gebruik, hoewel heelwat meer in die Nuwe Testament.
Trouens, oorspronklik is dit ‘n Hebreeus-Aramese woord, en in die Nuwe Testament het die gelowiges dit onvertaald bly gebruik, en so is dit ook opgeskryf in die Griekse Nuwe Testament.
Daar is enkele woorde wat so dikwels in die kerk gebruik is in die eerste gemeentes, dat dit ook deur Christene uit die heidene onvertaald oorgeneem is.
Nog so ‘n woord is byvoorbeeld Abba, wat Vader beteken.
In die Bybel word die woord amen in verskillende kontekste gebruik, en ek dink dit is goed om aandag daaraan te skenk.
Want dit sal ons help om hierdie woord vrymoedig en ten volle te gebruik.
En as ons nou deur die Bybel gaan, is dit natuurlik goed om die betekenis van hierdie woord steeds in ons agterkop te hou.
Sondag 52 vat die betekenis van hierdie woord, soos dit uit die Skrif tot ons kom, tereg saam deur te sê:
Amen beteken: “Dit is waar en seker.”
Tema: Die rykdom van die woord Amen
1. Eerstens vind ons die woord amen in die Bybel as die antwoord van ‘n mens, een mens of meer mense saam, op iets wat God sê of beveel, of soms wat ‘n priester sê.
Die mens moet antwoord dat hy gehoor het wat God sê, dat dit waar is, dat hy of sy dit sal doen, dat hy die konsekwensie besef van wat God sê.
So moes ‘n vrou in Numeri 6(:22) wat aan haar man ontrou was, amen sê op ‘n vervloeking deur die priester uitgespreek.
In Deuteronomium 27, as die HERE die verbond met sy volk vernuwe, waarsku die HERE hulle ook met ‘n reeks vervloekinge, in geval hulle ontrou is aan die verbond.
En op elke individuele vervloeking moes die volk amen antwoord.
Bedoelende dat hulle baie goed die konsekwensie besef, dat hulle deurdronge is van die feit dat hierdie vervloeking waar sal word as hulle ongehoorsaam is.
‘n Soortgelyke voorbeeld vind ons in Nehemia 5(:13), waar Nehemia ‘n vervloeking uitspreek en die volk daarop amen moes sê.
In die Nuwe Testament vind ons soortgelyke voorbeelde in Openbaring 1(:7), waar staan dat elke oog sal sien as Jesus terugkom uit die hemel, ook hulle wat Hom deurboor het, en dat al die geslagte oor die aarde oor Hom rou sal bedryf.
Hierdie waarskuwing of vervloeking word dat gevolg deur ‘n amen.
En in 1 Johannes 5(:21) klink die oproep aan die gelowiges: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.”
Hierdie bevel word gevolg deur ‘n amen.
Gemeente, broer, suster, staan jy soms daarby stil dat hierdie bedreiging van vervloekings ook vir jou gesê word?
Net soos daardie mense in die Ou Testament, is jy in dieselfde verbond.
Besef jy dat jy in die verbond verplig is om amen op daardie vervloekings te sê?
Al te dikwels leef ons asof die verbond met die HERE net aangename dinge behels.
Ons dink aan die verbond net as dit ons uitkom.
Maar hierdie bedreiging met vervloekings is net soveel deel van die verbond.
En juis deur daarby stil te staan, dit tot jou te laat deurdring, die implikasie daarvan te besef, en gehoorsaam daarop te antwoord met ‘n amen erkennende dat dit waar is, juis dit is ook ‘n manier hoe die HERE ons beskerm teen die kwaad.
Dit was sy doel toe Hy byvoorbeeld in Deuteronomium die verbond vernuwe het, en al hierdie baie donker scenario’s eksplisiet aan die orde gestel het:
Vervloek is elkeen wat ‘n afgodsbeeld maak (Deut 17:15).
Vervloek is elkeen wat sy vader of moeder verag (vers 16).
Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê (vers 17).
Vervloek is hy wat die blinde op ‘n dwaalweg lei (vers 18).
Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai (vers 19).
En so gaan dit aan.
En by elke vers apart moes die volk antwoord: amen!
Mens kan dit amper vergelyk met as ons die gewoonte sou invoer dat die gemeente na ieder en elkeen van die tien gebooie, eers amen sê.
Laat ons goed deurdronge wees van dit wat die HERE van ons in sy verbond verwag.
Want sy wil is waar en seker!
2. Ons kom by die tweede manier.
Tweedens word die amen nie net gebruik as antwoord op wat God sê, of ‘n ampsdraer namens God nie, maar ook as antwoord van mense op mekaar, as hulle met mekaar die Evangelie deel.
In die gemeente van Korinthe was daar die probleem dat sommige gemeentelede God gedank het, maar in vreemde tale, waardeur besoekers dit nie verstaan het en dus nie hulle amen op daardie danksegging kon sê nie.
Ook hierdie gebruik van amen moet nie onder ons uitsterf nie.
Ons is soms gewoond om vir iemand te antwoord: Dis waar wat jy sê.
Laat ons gewoon die woord amen gebruik, as iemand in die alledaagse lewe getuig van Christus en sy Evangelie!
Amen, dis waar en seker wat jy sê, want dit is wat God se Woord ons leer!
Hierdie gebruik van amen hou verband met die derde manier, en dit is as afsluiting van ‘n gebed of ‘n lofprysing.
Hierdie is seker die bekendste manier en die meeste waarvoor die woord amen in die Bybel gebruik word.
Die bekendste voorbeeld is natuurlik die Onse Vader, wat eindig met ‘n pragtige doksologie, ‘n lofprysing.
En dit word dan afgesluit, beaam, deur die amen.
Ons vind hierdie gebruik in sowel die Ou as Nuwe Testament.
Gelowiges prys die HERE deur te bely en te sing wie Hy is, hoe groot Hy is, hoe groot sy magsgebied is – want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid – en dit bevestig die bidder dan ekstra met die woord amen.
Christus het sy dissipels die volmaakte gebed geleer, en die onsmisbare afsluiting daarvan is dat wanneer hulle al die bedes van die Onse Vader klaar gebid het, asook die lofprysing, om dit dan nog ekstra te beaam, te bely dat dit waar is, met die woord amen.
Christus was nie die eerste wat dit so aan die gelowiges geleer het nie.
Ons vind dieselfde reeds in die Ou Testament.
In die Psalms is daar verskillende voorbeelde.
Nadat die volk ‘n pragtige lied vir die HERE gesing het, eindig hulle dit met ‘n doksologie, en daarna met ‘n amen.
Psalm 41(:14) byvoorbeeld: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen!”
En Psalm 72(:19): “geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.”
En Psalm 89(:53): “Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.”
En laaste voorbeeld, Psalm 106(:48): “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!”
So eindig verskillende Psalms met ‘n doksologie en ‘n amen, Psalms wat deur ‘n enkele persoon gesing is, en Psalms wat deur die hele volk saam gesing is; liedere wat in die beslotenheid van die binnekamer gesing is, en liedere wat deur die volk massaal by die tempel gesing is.
En nie net in die Psalms nie, ook in ander boeke in die Bybel vind ons die amen as afsluiting van ‘n lofprysing.
Soos Romeine 11(:36): “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Of 1 Timotheüs 1(:17): “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.”
Ek kan nog baie voorbeelde noem van lofprysings gevolg deur ‘n amen.
Dit is dus die derde manier hoe die woord amen in die Bybel gebruik word.
En hierdie manier, in navolging van die Skrif, is ook onder ons wydverbreid.
As ons in die kerk bid, dan eindig ons met lofprysing en amen.
As ons in die kerk ons amenlied sing na die preek, dan is dit hoe ons beaam dat sy Woord waar en seker is.
Daar is ander kerke waar die gemeente amen sê, sowel na die Skriflesing as na die prediking.
Dit is ook in ooreenstemming en in navolging van wat die Skrif ons leer.
En hierdie gewoonte bly nie tot die erediens beperk nie.
Elke dag klink uit die huise van gelowiges, en van Christelike skole, die amen na afloop van gebede en lofprysings.
God troon op die lofliedere van sy volk, op die amens van sy volk, 24/7, 365 dae per jaar, eeu in eeu uit, van nou af tot in ewigheid!
4. Ons kom by die vierde manier.
Daar is verskillende voorbeelde waar die HERE sy seën oor die volk uitspreek, waarna sy kinders daarop amen antwoord.
Romeine 15(:33): “En die God van vrede sy met julle almal!” (sien ook Rom 16:20 & 24).
En dan volg die amen.
Die baie bekende seën wat ons elke Sondag hoor, kom uit 2 Korinthiërs 13(:13):
“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.”
Ook hier bely God se kinders in geloofsvertroue: U seën is waar en seker.
U seën oorspan my hele lewe.
Ook in dae van teëspoed weet ek dat u seënende hande oor my bly, al verstaan ek nie altyd dit wat met my gebeur nie.
Daarom word die gemeente opgeroep: Ontvang in geloof die seën van die HERE.
Moenie dit onderwaardeer, minag nie, ag dit hoog.
Weet verseker dat die HERE se aangesig oor jou lewe skyn.
Weet verseker dat Hy jou genadig is.
Weet verseker dat Hy sy liefdevolle aangesig oor jou verhef, ook in tye van nood.
Weet verseker dat Hy jou sy vrede gee. (Num 6:24-26)
En beaam dit in geloof!
5. Ons kom by die vyfde manier.
In die Nuwe Testament eindig elke Bybelboek, behalwe die boeke Handelinge en 3 Johannes, met die woord amen.
Dit is nie net ‘n punt nie.
Dit is nie net ‘n teken dat die boek klaar is nie.
In die tyd van die Nuwe Testament is nie punte as leestekens gebruik nie, daar was geen leestekens nie.
Maar nogtans, amen is veel meer as bloot ‘n aanduiding dat die Bybelboek klaar is.
Dit onderstreep, bevestig, die waarheid van daardie boek: Dit is waar en seker.
Net so moet ons in ons alledaagse lewe die woord amen nie net as ‘n stopwoord gebruik, nie net as ‘n teken dat jy jou oë weer kan oopmaak na die gebed nie.
6. Die sesde en sewende manier staan baie naby aan mekaar.
Verskeie kere gebruik Jesus in sy onderrig ‘n dubbele amen, en dit dan nie aan die einde nie, maar juis aan die begin van dit wat Hy gaan sê.
Gewoonlik staan in die Bybel die amen aan die einde van ‘n gebed, ‘n psalm, ‘n boek.
Maar Jesus gebruik dit aan die begin, en dan ook nog ‘n dubbele amen:
Amen, amen!
Hy hamer dit in: Dit is waar en seker, luister aandagtig na wat Ek nou gaan sê!
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe” (Joh 5:24).
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.” (Joh 8:51)
Hoor net hoe oortuig is Jesus van wat Hy sê.
Dit staan rotsvas!
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.” (Joh 10:7)
Oorduidelik het die mense begryp: Hier praat nie net ‘n gewone profeet nie!
Soos Lukas skryf: “En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.” Lukas 4(:32)
Hierdie dubbele amen het Christus se gesag onderstreep.
Laat ons, gemeente, as Christus tot ons spreek deur sy Woord, ook hierdie houding aanneem.
Nou spreek Iemand met gesag, Amen, amen!, laat sak jou kop, luister eerbiedig!
Maar ook, drink in die woorde, want hulle is waar en seker!
7. En hiermee saam, die sewende manier, is baie besonder, waar amen naamlik gebruik word as eienaam vir Christus self!
Dink aan Openbaring 3(:14): “Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie”.
Die woord amen pas soos ‘n handskoen vir Christus, want Hy is uit en uit die Getroue en Waaragtige!
Alles wat Hy is en doen en sê is waar en seker!
Ons mag en moet Christus vandag nog steeds so in ons liedere en gebede aanspreek:
U is die Amen, U is die Getroue en Waaragtige, U is die Alfa en die Omega, wat is en wat was en wat kom ...
In ons Psalmboek is hierdie Bybelgedeelte ook berym, Skrifberyming 44:1: “Dis die woord van Hom, die Amen, die Getuie, trou en waar”.
Gemeente, geen mens kan homself die Amen noem nie.
Dit sal ‘n totale oorskatting wees.
Amen as eienaam is slegs iets wat vir God pas.
En Jesus Christus is God.
Daarom noem Hy Homself tereg die Amen.
En Hy kan, want Hy is nie net van gister nie.
Soos Hy die Laodisense aanspreek: “Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God” (Openb 3:14).
Christus is daar van ewigheid af.
Hy weet alles, Hy ken alles en almal.
Hy weet wat waar is.
En Hy was en is altyd dieselfde, daarom is Hy die Waaragtige.
Tot sover ses maniere hoe amen in die Bybel gebruik word.
Nou beweer ek nie dat dit die enigste maniere is nie, daar kan meer wees, en elke manier kan nog verder in detail uitgewerk word.
Waar dit my om gaan, is dat ons sal besef hoe ‘n unieke, hoe ‘n ryke woord amen is in die hele Skrif.
En hoe die Skrif ons voorgaan om hierdie woord vrymoedig en gereeld te gebruik, nie net eendimensioneel nie, nie net op een manier nie, maar in al sy ryke verskeidenheid, soos ons dit hierbo gesien het.
Gemeente, laat julle amens klink!
Op Sondae en deur die week.
In die eredienste en in julle binnekamers.
As geloofsgenoete bymekaar maar ook tussen vreemdes.
Amen kom telkemale in die Skrif voor.
Hoe gereeld klink dit uit jou mond?
Dikwels is amen die eerste woordjie wat ‘n verbondskind mag leer.
Dikwels is dit ook die laaste woord wat ‘n sterwende op sy sterfbed prewel.
En as dit goed is, lê daartussen, tussen geboorte en sterwe, duisende dae waartydens ons elke dag amen sing, sê, dink en uitroep.
En nadat ons gesterf het, gemeente, hou dit nie op nie.
Dan klink ons amen op verhoogde toon, met nog meer gejubel!
Dan val ons in by die 24 ouderlinge en 4 lewende wesens wat voor die troon neerval en God aanbid met die woorde: “Amen, Halleluja!” (Openb 19:4)
“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openb 5:13)
Amen.
Votum
Seën
Ps 136:1,3,4,5,18,20
Gebed
Skriflesing: Deuteronomium 27:10-26
Ps 106:2
Skriflesing: Romeine 16:20-27
Ps 106:20
Skriflesing: Johannes 10:1-18
Ps 89:17,18
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v/a 129
Preek
Ps 72:10,11
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 41:6
Kollekte
Sb 8:4,5
Seën