Preek: Daniël 3:17-18
Om gedoop te word, en om belydenis van jou geloof af te lê, is ‘n wesenlike dag in jou lewe.
Die eerste maak jy nie bewus mee nie, die tweede baie bewus.
Nou is dit so dat ons elke dag ons geloof bely, in wat ons sê, en in wat ons doen.
Tog is vandag ‘n spesiale dag.
Publiek staan julle hier voor in die kerk, en al hoef ons nie in die kerk ‘n eed af te lê nie, is jou ja-woord net so sterk.
‘n Ja-woord wat jy nie self kan waarmaak nie, maar waar jy staatmaak op die Here se seën, sy beskerming, sy almag en sy kragtige leiding van jou lewe – en dit alles sal julle vandag ontvang in die seën wat oor julle uitgespreek gaan word, direk nadat julle belydenis gedoen het.
En in vandag se preek, uit hierdie indrukwekkende Bybelhoofstuk, mag julle verseker word van sy trou, wat julle lewe lank by julle sal bly, ja selfs in die dag van julle sterwe.
Tema: Ons God kan en sal verlos in lewe en in sterwe
Die boek Daniël laat ons iets sien van die omstandighede waaronder God se volk geleef het toe hulle in ballingskap was.
Die vryheid om God te dien was nie meer ‘n gegewe, soos dit vir baie jare in die beloofde land was nie.
Die Jode moes hulle God dien te midde van ander mense wat verskillende ander gode gedien het.
Die owerheid het ook nie die godsdiens aan die HERE ondersteun nie.
Daar was ‘n ander staatsgodsdiens, en om nie daaraan deel te neem nie, is gesien as vyandigheid teen die koning.
Net soos vandag, was daar toe ook regeringsleiers wat geen kritiek geduld het nie.
Nou hoekom Nebukadnesar hierdie geweldige groot beeld gemaak het, staan nie daar nie.
Maar duidelik is wel dat om nie voor hierdie beeld te kniel nie, gesien is as vyandigheid, as miskenning van die gesag van die koning.
Hierdie beeld was regtig hoog, amper 30 meter, en dit was van goud gemaak.
Mens kan jou indink hoe ‘n indrukwekkende verskyning dit was.
En die inwyding van hierdie beeld moes ‘n onvergeetlike dag word.
Van heinde en verre moes die mense na die dal van Dura kom, in die provinsie Babel.
En die hoogtepunt van die dag sou wees as almal, alle volke, tale en nasies teenwoordig, plat met hulle gesigte op die grond moes neerval en die beeld aanbid.
Duidelik was daar nie godsdiensvryheid nie.
Daar klink nie net ‘n bevel nie, daar klink ook ‘n ernstige bedreiging:
“hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.” (vers 6)
So gesê, so gedaan.
Massas en massas mense het bymekaar gekom, onder leiding van die landvoogde, bevelhebbers, goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters, hoofamptenare, bestuurders.
Almal, van die belangrikste tot die onbelangrikste.
En al was daar wie weet hoeveel mense, toe die koning se orkes begin speel en almal plat met die gesig ondertoe op die grond gaan lê, ja toe was dit nie moeilik om daardie enkeles te sien wat regop bly staan het nie.
En in geval die koning hulle nie gesien het nie, was daar ander – Galdese manne – wat hulle direk gaan verkla het.
“Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednego; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.” (vers 12)
Gulde geleentheid vir hierdie Galdese manne om in die koning se goeie boekies te kom.
Sadrag, Mesag en Abednego was manne wat, soos Daniël, belangrike posisies beklee het.
Moontlik was hierdie Galdese manne jaloers op hulle posisies, was hierdie ‘n poging van hulle om bevordering te kry.
Hierdie verloop van sake is nie iets wat in ons tyd heeltemal vreemd is nie.
Al is daar dalk nie in ons land ‘n beeld van 30 meter hoog nie, tog gebeur in wese nog steeds dieselfde.
Mense is gemeen teenoor hulle naaste, hulle sal hulle medemens beswadder, beskinder, boelie, of op watter manier ook uit die pad probeer stoot om self beter te voel, om self vooruit te kom.
En meer nog, as jy ‘n opregte gelowige is, sal daar ‘n dag kom dat mense juis jou geloof, jou Godvresende lewenswyse, sal aangryp om jou te benadeel en hulleself te bevoordeel.
As jy op Sondag van jou daaglikse arbeid rus, sal iemand dit gebruik as rede hoekom jy nie in ‘n hoër pos aangestel kan word nie, en daardie persoon wel.
Daar kan nog meer soortgelyke voorbeelde genoem word.
In elk geval, jongmense, moenie verbaas wees as iets soortgelyks met julle gaan gebeur as wat met Sadrag, Mesag, en Abednego gebeur het nie.
Hulle besingsels is op die proef gestel.
En soos ek genoem het, hulle het hulle lewe geleef in ‘n omgewing waar die diens aan die ware God nie algemeen was nie.
In daardie opsig is daar ook ooreenstemming met vandag.
Op jou werk, by die universiteit, waar jy ook kom, is daar baie ander wat glad nie ernstig is oor hulle diens aan God nie, vir wie dit eintlik net tradisie is; en dan is daar ook nie weinig mense in ons land wat ander gode dien nie.
Jou Christelike lewenswyse, jou oortuigings, is nie vanselfsprekend nie.
Julle het baie jare katkisasie gevolg, nog meer jare geloofsopvoeding ontvang by die huis en op skool, julle weet wat die diens aan die ware God inhou.
Maar weet is nie genoeg nie, is jy ook bereid om daarvoor op te staan?
Of soos Sadrag, Mesag en Abednego, daarvoor te bly staan?
Ook as daar ‘n prys daaraan verbonde is ...?
Vir hierdie drie Jode was daar ‘n baie hoë prys aan verbonde, die prys was hulle lewe.
Ons teks wys duidelik dat hulle pal gestaan het by hulle geloof.
Hulle het vrymoedig voor die koning getuig.
Dit is duidelik in ons teks.
Nou mag dit voorkom in ons teks of hierdie drie manne onverskillig was, selfs of hulle nie heeltemal seker was of hulle God hulle wel sou kon red nie.
Daar staan: As onse God wat ons dien in staat is om ons te verlos ... maar so nie ...
Dit klink hier amper asof Sadrag, Mesag en Abednego onseker was of God hulle sou kon red uit daardie oond, wat so ongelooflik warm was.
Nou is dit so, gemeente, dat hierdie teks op twee maniere vertaal kan word.
Bogenoemde is naamlik nie die bedoeling van hulle opmerking nie.
Dit was nie dat hulle onseker was of God dit sou kon doen nie.
Daarom is dit beter om te vertaal:
As dit so is – naamlik as dit is wat daar gaan gebeur met ons – ons God wat ons dien is in staat om ons te verlos uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning.
En dan vervolg hulle met die woorde: maar so nie, laat dit dan aan u bekend wees dat ons dan ook nie die goue beeld sal aanbid nie.
Met maar so nie word nie bedoel dat God moontlik hulle nie sou kon red uit die brandende oond nie.
Met hulle opmerking – maar so nie – bedoel Sadrag, Mesag en Abednego iets anders.
Hulle bedoel: maar sou dit nie die wil van God wees om hulle uit die oond te red nie.
Dus dis nie dat hulle aan God se almag getwyfel het nie, maar dis so dat hulle as mense nie geweet het wat God se wil met hulle was nie.
Hulle het besef dat dit óók so kon wees dat God se wil was dat hulle as martelare sou moes sterf.
En ook dan sou nie net hulle lewens nie, maar ook hulle dood van God se krag getuig.
Mog dit so gewees het dat hulle gesterf het, sou die konklusie wat Nebukadnesar daaruit trek nie gewees het dat sy gode sterker was as hulle God nie.
Nee, eerder dat hulle God hulle die krag gegee het om tot in die dood standvastig te bly.
En so was daar ook baie gelowiges deur die eeue wat nie soos hierdie drie gered is, maar wat as martelare moes sterf.
Dink aan die martelare van die vroeë kerk.
Maar met hulle dood het hulle getuig.
Soos die ou gesegde lui, die bloed van die martelare was die saad van die kerk.
In elk geval, hierdie drie jong manne het besef dat hulle God nie voor hulle eie karretjie kon span deur van Hom te eis dat Hy hulle uit die brandende oond red nie.
Ook hierin was Sadrag, Mesag en Abednego opregte gelowiges.
Hulle het nie – soos dit vandag heet – ‘n ‘welvaartsevangelie’, ‘n sogenaamde ‘health and wealth gospel’ aangehang nie.
En dieselfde geld ook vir ons.
Moenie verwag dat jy vir jou geloof, vir die feit dat jy opstaan vir jou beginsels, beloon gaan word nie.
Dit is nie wat God aan sy kinders beloof nie.
Eerder geld vir ons dat ons deur baie verdrukkinge heen die koninkryk van die hemel sal ingaan.
Sadrag, Mesag en Abednego los die besluit of hulle gered gaan word, in God se hande.
In hulle lewens word waar wat Jesus later sou sê:
“moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)
Hierdie geskiedenis herinner mens aan wat met Abraham gebeur het.
Die HERE het Abraham se geloof op soortgelyke wyse getoets.
Abraham moes sy seun Isak gaan offer, dit was God se opdrag.
Abraham het nie geweet wat die uitkoms gaan wees, of God tog nog sou besluit om Isak se lewe te red nie.
Die HERE wou Abraham se geloof toets, Hy wou sien of Abraham Hom vertrou, dat, soos ons in Hebreërs lees, ”God mag het om selfs uit die dode op te wek” (Hebr 11:18).
Met daardie vertroue het Abraham sy seun Isak op die altaar gelê.
Jongmense, as julle vandag die kerk gaan verlaat as belydende lidmate, as julle elke dag van die week ‘n belydende gelowige gaan wees, wat nie skaam is oor jou lewensstyl en oor jou getuienis nie, moenie daarvan uitgaan dat dit jou elke dag ‘n aangename lewe gaan bring nie.
Maar vertrou op die HERE dat Hy alles vir jou sal laat meewerk ten goede.
En weet, selfs as jy soos hierdie drie kinders van God in die Ou Testament, op ‘n dag ‘n brandende vuuroond sal moet ingaan, dat jy geen enkele dag alleen sal wees nie.
Die HERE het koning Nebukadnesar se oë slegs oopgemaak vir wat elke dag en nag die geval was in Sadrag, Mesag en Abednego se lewe.
Soos ons in Psalm 91 sing: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” (Ps 91:11)
Sy engel was elke dag aan hulle sy.
En daardie dag toe die vuuroond nog sewemaal warmer gemaak is, het sy engel nie van hulle gewyk nie.
Ons het gelees wat met die sterkste soldate wat in die koning se leër was gebeur het, toe hulle vir die drie Jode in die vuur moes gooi.
Aan hulle sy was nie die HERE se engel nie, hulle het doodgebrand, net omdat hulle naby die versengende hitte gekom het.
Soms maak die HERE mense se oë oop dat hulle kan raaksien hoe nougeset Hy sy kinders oppas, hoe kosbaar hulle lewens vir Hom is.
Jongmense, onthou dit, in dae van voorspoed as jy dalk meen jy kan sonder die HERE se engel deur die lewe kan gaan.
Maar laat dit jou troos juis ook in daardie dae as dit swaargaan, as jou geloof vir jou gevoel jou agterop stel, of nog erger.
Daar is niks wat sonder sy wil gebeur nie, en alle skepsele is so vas in sy hand dat hulle hul sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (Sondag 10 Heidelbergse Kategismus).
Die gelowiges in die Ou Testament het gelewe met die bewussyn dat God se engele rondom hulle was.
Dink aan Psalm 91 waarna ek reeds verwys het:
“Hy sal sy engele aangande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.” (Ps 91:12)
Sadrag, Mesag en Abednego het hierdie Psalm geken.
Hierdie drie Joodse jongmanne, eintlik moet ons hulle by hulle regte name noem: Hananja, Misael en Asarja (Dan 1:6).
Dit was die name wat hulle by hulle besnydenis gekry het.
Dis eintlik erg, as mens weens omstandighede nie meer die naam kan gebruik wat jy by jou doop gekry het nie.
Nietemin, hoe ons hulle ook ken, hierdie drie Joodse jongmanne was verbondskinders.
Soos julle as verbondskinders Psalm 91 in julle jeug gememoriseer het so het hulle ook.
“Wie toevlug neem in veil’ge hut, en skuil by die Alhoë, hy word beskadu en beskut deur God se alvermoë.” (Ps 91:1 berymd)
Hierdie vertroue het in hulle hart geleef, toe hulle in die vuuroond gegooi is.
En toe hulle ineens ‘n vierde persoon saam met hulle in die oond sien, het hulle besef dis die Engel van die HERE.
En vandag in die Nuwe Testament weet ons nog veel meer oor hierdie Engel van die HERE.
Hy wat reeds in die Ou Testament sy skape beskerm het.
Hy het in die Nuwe Testament na die aarde gekom, en dit het duidelik geword dat Hy die eniggebore Seun van God is, Jesus Christus, ons Verlosser, ons Here.
Hy was nog soveel sterker en gehoorsamer as Sadrag, Mesag en Abednego.
Hy het selfs die krag gehad om nie voor Satan neer te val en hom te aanbid nie, iets waartoe ons nie uit onsself in hierdie lewe in staat is nie.
Jesus Christus was getrou in elke aspek, in elke detail van sy lewe.
En julle het op katkisasie geleer hoe betroubaar Hy is.
Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (HK Sondag 1).
Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond gekom sonder dat hulle hare geskroei het – vers 27 (Dan 3:27).
Dit is die vlak van beskerming wat Hy aan sy kinders bied.
Ook aan julle.
In lewe en in sterwe behoort julle aan Jesus Christus.
In lewe en sterwe word julle bewaar.
Vir Sadrag, Mesag en Abednego het hulle dag gekom dat hulle moes sterwe, die een vroeër, die ander een later.
Maar ook toe was die HERE en sy Engel by hulle, en het hulle in sy hemelse heerlikheid opgeneem.
So is die HERE met julle ook in lewe en sterwe.
As ons sterfdag kom, is dit die dag wat die HERE bepaal het, dit sal nie te vroeg kom nie.
Ons mag met daardie vertroue ons huidige lewe leef.
En as elkeen van julle terugkyk, dan sal ons nie kan tel hoeveel keer die HERE ons lewe alreeds op wonderbaarlike wyse gered het nie.
As dit aan Satan gelê het, was ons, God se kinders, al lankal nie meer hier nie.
Maar selfs Satan kan nie roer of beweeg sonder God se wil nie.
En so sal die HERE vir julle toelaat om julle paadjie deur die lewe te stap, vir die een langer, vir die ander een korter.
Daar sal momente wees waar ons die HERE se beskerming baie tasbaar sal ervaar, soos hierdie dag in Sadrag, Mesag en Abednego se lewe.
Daar sal ander dae wees waarop ons nouliks bewus sal wees van God se beskerming, en tog beskerm die HERE ons in sulke dae net soveel.
Verseker van hierdie onwankelbare beskerming, roep Christus julle net op om Hom te vertrou en gehoorsaam die pad te stap wat Hy vir julle wys.
Doen sy wil van harte, ook al lyk dit ‘n dom keuse in hierdie teenwoordige wêreld.
Sy seën sal daarop rus, vertrou Hom maar.
En soos dit teen hierdie tyd duidelik geword het, die hoofrede hoekom julle glo is nie primêr om te sorg dat julle beskerming in hierdie lewe het nie.
Die hoofdoel van julle godsdiens is nie om ‘n versekeringspolis te wees vir hierdie lewe nie, om ons ryk en voorspoedig te maak nie.
Soos Jesus ons waarsku: “elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Matt 16:25)
Toe Sadrag, Mesag en Abednego besluit het om nie neer te val nie, was hulle motief nie om daardeur bevordering te kry nie.
Inteendeel, dit was gewoon gehoorsaamheid aan die HERE se eerste en tweede gebod.
En toe hulle aan die einde van hierdie dag tog deur die koning bevorder is (want dit is die betekenis van vers 30), was dit enkel genade.
En dit is die belangrikste boodskap wat hierdie geskiedenis ons leer.
Sadrag, Mesag en Abednego se lewens was nie op hulleself gefokus nie.
Hulle lewe was gerig op die eer van hulle God, hulle Skepper, Bewaarder en Verlosser.
En dit is die pragtige van hierdie geskiedenis.
Deur hulle lewens is sy Naam verheerlik.
God het getrouheid in hulle lewe gewerk, en daarin het Hy sy Naam verheerlik.
Die uiteinde van hierdie drie jongmanne se vertroue, se beginselvastheid, was dat God se Naam verheerlik is, selfs deur die heidene.
Dat dit so duidelik geword het dat hulle God die ware God is, die God wat regtig lewe.
Nebukadnesar se afgodsbeeld, sy gode was dood, doof en stom.
Nog erger, sy gode was minder magtig as hyself.
Hy het sy gode beheer, nie andersom nie.
Sy gode was nietig en onmagtig.
Maar deur hierdie geskiedenis het duidelik geword wie die ware God is, en dat Hy almagtig is!
En Hy het hierdie drie jongmanne se lewe gebruik om dit aan die heidenwêreld duidelik te maak.
Nebukadnesar se gevolgtrekking na hierdie dag was ondubbelsinnig:
“Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.”
So sorg God self dat sy Naam selfs verheerlik word onder die heidene.
En al was Nebukadnesar magtiger as sy eie gode, hy was nie magtiger as die ware lewende God nie.
God gebruik hom om sy eer op aarde te laat klink.
Hy sorg daarvoor dat Nebukadnesar die bevel uitreik, vers 29, “dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.”
Om die HERE te loof en eer, van sy Naam en heerlikheid te getuig, dit is ons lewensdoel.
Daarvoor gebruik God ons op aarde.
Daarin vind ons ons vreugde.
Daarvin vind ons selfs ons beskerming wat ons so nodig het, vir hierdie lewe en selfs vir die lewe tot in ewigheid.
Ja ons God kan en sal verlos, in lewe en in sterwe.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Daniël 3
Teks: Daniël 3:17-18
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Hoekom het wêreldleiers dikwels die neiging om so ‘n graad van lojaliteit van hulle onderdane te vra, wat neerkom op aanbidding?
- Hoe het Sadrag, Mesag en Abednego se Godvresendheid hulle aanvanklik duur te staan gekom?
- Hoe het God Sadrag, Mesag en Abednego gebruik om sy Naam onder die heidene te verheerlik?
- Hoekom het Sadrag, Mesag en Abednego die opsie oopgehou dat hulle God hulle moontlik nie uit die vuuroond sou reg nie?
- Verduidelik hoe die teks krities is oor die sogenaamde welvaartsgeloof of welwaartsteologie.
- Noem ‘n voorbeeld hoe die HERE sy Naam in jou lewe verheerlik het.
Votum
Seën
Ps 91:1
Wet
Ps 34:4,6
Gebed
Bediening doop
Ps 105:5
Skriflesing: Daniël 3
Sb 12:1-4
Teks: Daniël 3:17-18
Preek
Ps 91:5-8
Openbare Geloofsbelydenis
S: Ps 134:4
Gebed
Kollekte
Sb 17:1,2,5,6
Seën