Die antitese (teenstelling) wat die verbondsgeskiedenis kenmerk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2022-10-30
Text: 
Rigters 18:30-31
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 18:30-31

 

Die geskiedenis van Miga aan die een kant en die Daniete aan die ander, en die getoutrekkery oor die Leviet, het al in Rigters 17 begin.

Daar kan mens lees hoe Miga sover gekom het om ‘n privaatheiligdom in te rig, en hoe hy die Leviet as priester in diens geneem het.

In ‘n vorige preek het ek aan hierdie geskiedenis aandag geskenk, en ons het toe gesien tot watter ellende hierdie eiewillige godsdiens gelei het.

Die geskiedenis gaan in Rigters 18 verder, die hoofstuk wat ons vandag gelees het.

Ek verkondig u die HERE se Woord vandag met die volgende tema:

 

Tema: Die antitese (die teenstelling) wat die verbondsgeskiedenis kenmerk

 

Hoofstuk 18 begin weer met die refrein: In die dae was daar geen koning in Israel nie.

Daar was geen samebindende faktor tussen die stamme nie.

En dus, in die lig hiervan, verstaan mens die volgende sin: Die stam van die Daniete het nog steeds ‘n erfdeel gesoek om in te woon.

Dit was al baie jare na die intog in die land, baie jare nadat Josua oorlede is.

Aanvanklik, dit kan mens in Rigters 1 lees, het die Daniete gesukkel om hulle erfdeel in besit te neem.

In Rigters 1:34 staan: “Die Amoriete het die nageslag van Dan in die bergland ingedwing, want hulle het hulle nie toegelaat om af te gaan na die vlakte nie.” (2020-Vertaling)

En skynbaar was dit nou, jare en jare later, nog steeds die geval.

Mens vra jouself af: Hoekom het die ander stamme hulle nie gehelp teen die heidene nie?

Dit was mos die bedoeling van die begin af ... dat elke stam, dat almal vir almal sou help tot elkeen hulle erfdeel gekry het.

Skynbaar het die ander stamme lui geword, toe hulle hulle eie stukkie grond in die hande gekry het.

Hulle was nie meer lus om verder te veg nie, en het die Daniete dus maar aan hulle lot oorgelaat.

Die eenheid onder die volk, die samebinding, het uitmekaargeval.

En daar was nie ‘n koning om hulle bymekaar te bring nie.

 

Dit kan vandag ook gebeur onder God se volk.

Vroeër was die kerk dalk meer ‘n eenheid, het mense mekaar uitgehelp.

Vandag gaan dinge finansieel met ons soveel makliker as met ons grootouers destyds.

Word ons ook gemaklik, te lui om hulle te help wat dit moeilik het?

Is daar nog ‘n eenheid in die kerkverband, ‘n bereidheid om mekaar se laste te dra?

Ons kan nie die verskoning gebruik: In die dae was daar geen koning nie ...

Vandag is Christus ons ewige koning.

Hy vergader sy kerk.

Die wat ons medelidmate is, hier in Maranata, of in Pretoria, of in Mamelodi of Soshanguve is deur Christus bymekaar vergader.

As die Koning dit gedoen het, kan ons nie ongeïnteresseerd wees in hulle wel en wee nie.

 

Maar goed, destyds was die stam Dan aan hulleself oorgelewer.

Hulle situasie was redelik benard en hulle besluit om vyf spioene uit te stuur, om te kyk of daar êrens ‘n plek was waar hulle kon woon.

Op hulle reis ontmoet hulle toe vir Miga se Leviet, wat hulle skynbaar al geken het van vroeër.

Hulle vra toe vir hom om God te raadpleeg of hulle reis suksesvol sou wees.

Mens kan aanneem dat die Daniete hom hiervoor betaal het, en dus het Miga dit graag gedoen.

Hy het ook aan hulle die antwoord gegee wat hulle graag wou hoor.

“Gaan in vrede! Die pad waarop julle gaan, is voor die HERE.” (vers 6)

Die vyf spioene kom toe af op ‘n pragtige stadjie, Lais, vreedsaam, vrugbaar.

En ook, dit was belangrik, nogal afgeleë.

Dit wil sê, mog hulle onverwags oorval word, sou dit lank vat vir hulp om aan te kom.

Met hierdie advies is die vyf spioene toe terug na hulle stam toe.

Hulle span God selfs voor hulle karretjie toe hulle roep:

“God gee dit in julle hand” (vers 10).

Die Daniete ontplooi 600 gewapende manne om daardie streek in besit te gaan neem, amper ‘n paradys as mens die spioene kon glo.

Weer kom hulle by Miga se huis verby, en die spioene vertel die manskappe van die ‘heilige’ voorwerpe wat in daardie huis is, ‘n skouerkleed (efod), huisgode en ‘n gesnede en gegote beeld.

Vervolgens lees ons hoe dit geroof word.

Ook het ons die gesprek met die priester gelees.

Ons ken teen hierdie tyd al sy karakter, en vir hom het dit inderdaad aantrekliker gelyk om die priester van ‘n hele stam in Israel te wees, pleks van slegs een man.

Maar toe Miga agterkom hy is beroof van sy heiligdom en sy priester, het hy met sy dorpsgenote die Daniete agtervolg.

Opvallend hoe hy dit wat van hom gesteel is noem: “My gode wat ek gemaak het ...” (vers 24)

Eiewillige godsdiens ten voete uit.

Mense wat hulle eie gode maak, pleks van ‘n lewende God wat die mense gemaak het.

Maar gou het Miga en sy makkers eiers vir hulle geld gekies, toe blyk dat die Daniete veel sterker as hulle was, en dat hulle in lewensgevaar was.

Skynbaar was die gode wat hulle gemaak het nie soveel werd om voor te veg nie.

En hierdie gode van hom, asook sy priester, was duidelik nie in staat om hom te help nie.

Al te maklik het hulle Miga in die steek gelaat.

Dit is tipies vir afgode, ook vandag.

Broer, suster, moenie dink jou goud en silwer, jou geld en beleggings, gaan jou in oorlogsdae help nie.

Dit gaan verdamp soos mis voor die son.

 

En so staan Miga van die een op die ander dag alleen, alles van hom afgevat.

“... wat het ek nou oor?” vra hy wanhopig (vers 24).

Al wat hy kon doen was om om te draai terug na sy leë huis.

Terug ook na ‘n leë lewe, want God se seën rus nie op afgodediens nie.

 

Tog is dit nie waar die verhaal eindig nie.

Uiteindelik gaan hierdie geskiedenis nie oor Miga nie, maar oor iets wat nog veel tragieser was.

Daar is nog erger dinge wat gaan gebeur.

Miga verdwyn op die agtergrond, maar die storie oor die afgode gaan verder.

Die Daniete sit hulle reis voort na Laïs.

Hulle roei almal daar uit, herdoop die stad Dan, en, rig daar vir hulle ‘n gesnede beeld op (vers 30).

En nou kom ons, in ons teks, by die klimaks, eintlik die dieptepunt, van hierdie geskiedenis.

Nadat die Rigterskrywer al vir twee hoofstukke oor hierdie Leviet gepraat het, noem hy nou eers sy naam.

Sy naam was Jonatan, die seun van Gersom, die seun van Moses.

Hierdie mededeling kom soos ‘n mokerslag.

Die sleutel tot die verstaan van hierdie geskiedenis lê hier in ons teks.

Nou snap mens hoekom die Rigterskrywer hierdie bisarre geskiedenis in sy boek opgeneem het.

En dit is inderdaad uiters tragies.

Juis as mens kyk na die stamboom van hierdie priester.

Hy, Jonatan, was dus ‘n direkte afstammeling van Moses.

En, volg daar, hierdie nageslag van Moses was priesters vir die Daniete tot die ontvolking van die land.

Ons praat dan oor 450 jaar.

In hedendaagse terme, nog lank voor Jan van Riebeeck.

4 en ‘n half eeue, dit was dus totdat die noordelike ryk Israel in ballingskap gegaan het.

Mens kan nou die lyne, wat loop deur die geskiedenis, aan mekaar begin knoop.

Die gesnede beeld, die heiligdom wat begin het by Miga, was dus die voorloper van die heiligdom, die goue kalf, die afgodsbeeld, wat die eiewillige koning Jerobeam later in Dan opgerig het.

Onthou u die geskiedenis, toe Israel weggebreek het van Juda af, en Jerobeam ‘n goue kalf in Dan en in Bethel opgerig het?

Jerobeam se slim plan om sy volgelinge by die tempel in Jerusalem weg te hou, was nie iets wat uit die bloute gekom het, wat hy self uitgedink het nie (1 Kon 12:25-30).

Hy het bloot aangesluit by ‘n eiewillige afgodediens wat alreeds in Dan aanwesig was.

Dus kon die volk vanaf dag een identifiseer met Jerobeam se planne, want dit was vir hulle nie onbekend nie.

 

Gemeente, is dit nie vandag ook nog so nie?

As die kerk op ‘n dwaalspoor beland, gebeur dit so dikwels dat daar aansluiting gesoek word by dwaalleraars uit die verlede.

Soos die Dordtse Leerreëls oor die Remonstrante sê: “Hulle roep weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug.” (DL 2,3 – verwerping van dwalings)

Miga se gegote kalf is opgegradeer na Jerobeam se goue kalf, maar die res was dieselfde.

Wat erger was, was dat nie net die Daniete nou hierdie heiligdom gebruik het nie, maar soos daar staan in 1 Konings 12:30, die hele “volk het selfs tot in Dan gegaan om voor die een daar te aanbid.” (2020-Vertaling)

So het dit aangegaan tot die Assiriërs die land verwoes en hulle in ballingskap gevoer het.

Die Rigterskrywer trek lyne deur die geskiedenis.

Miga se nalatenskap was dat die hele volk deur sy afgodery besmet is, wat uiteindelik tot hulle ondergang gelei het.

 

En wat hierdie geskiedenis des te tragieser maak, is dat die Leviet Jonatan die seun van Gersom, die seun van Moses was.

Gersom was Moses se seun by Sippora.

En Jonatan was nie letterlik Gersom se seun nie, daar lê ’n aantal geslagte tussen Gersom en die tyd toe die Daniete Laïs ingeneem het.

Maar seun van kan mens ook lees as afstammeling van.

Die tragiese is dus dat hierdie Jonatan afgestam het van hom, Moses, deur wie God aan sy volk sy wet geopenbaar het.

Tragies dat Moses se eie nageslag so ver afgedwaal het.

Gelukkig dat Moses dit nie meer meegemaak het nie.

Dit laat mens net weer besef hoeveel genade dit is as ons nageslag in die weë van die HERE bly wandel.

 

Maar gemeente, nog steeds is hierdie geskiedenis nie ten einde nie.

Die Rigterskrywer maak nóg ‘n skokkende mededeling aan die einde van ons teks:

Hierdie gesnede beeld van Miga was daar “al die dae dat die huis van God in Silo was” (vers 31).

Nou die huis van God, dit is die tabernakel, is in Silo opgeslaan toe die volk in Kanaän aangekom het.

Dit was die sentrale, die wettige punt van aanbidding.

Dit was nie dat die HERE afwesig was onder sy volk nie.

Daar, in Silo, kon die volk Hom ontmoet.

Daar het die wettige priesters hulle diens verrig, die offerdiens van vergifnis en versoening.

 

Maar, langs die wettige diens aan die HERE, was daar dus nog ‘n heiligdom, al daardie jare.

Miga se heiligdom, wat oorgegaan het in die Daniete se heiligdom, was ‘n alternatief, ja ‘n aantreklike alternatief vir hulle wat nie so ernstig was in hulle diens aan die HERE nie.

Hierdie twee heiligdomme het simbolies teenoor mekaar gestaan, hulle was mekaar se antitese.

Die heiligdom in Dan was soos ‘n kankergeswel wat die noordelike deel van Israel al hoe meer geïnfiltreer het.

 

En gemeente, soos dit toe was, is dit vandag nog steeds.

Daar gaan altyd die opsie wees van ‘n ander ‘kerk’, ‘n makliker ‘kerk’, wat die diens aan die HERE nie so nougeset neem nie, en wat sy diens aanpas aan die eise van die tyd.

Dit was toe daar, dit is vandag daar, dit sal ook daar wees in die toekoms as ons nageslag op aarde gaan wees, ja solank as wat Christus nie terugkom nie.

Daardie verleiding gaan altyd daar wees.

Die suiwer diens aan die HERE gaan nooit vanselfsprekend wees nie.

Ons en elke nuwe generasie sal ‘n bewuste keuse moet maak.

Genadiglik was daar destyds ook gelowiges uit die noorde van Israel wat die regte keuse gemaak het, dikwels met groot opofferinge.

Ons lees in die Bybel dat, nadat Jerobeam die afgodediens in Betel en Dan ingestel het, priesters en baie ander mense uit Israel na Juda verhuis het, om sodoende die HERE by sy ware tempel te kan bly dien.

Hulle huise en landerye moes hulle agterlaat, maar die suiwer diens aan die HERE was vir hulle belangriker.

‘n Soortgelyke iets het gebeur, eeue later, toe die Hugenote hulle geboorteland en alles wat hulle dierbaar was moes verlaat, sodat hulle die HERE volgens sy Woord kon bly dien.

 

Eiewillige godsdiens is die halfwegstasie tussen die kerk en die afgodery van die wêreld.

Die verbondsnaam van die HERE was nog aan hulle bekend, maar in die manier hoe hulle Hom gedien het, het die een na die ander wêreldse gewoonte ingesluip.

Dit het van kwaad tot erger gegaan in die Rigtertyd.

Was daar ‘n pad terug?

Kon alles wat foutgeloop het weer herstel word?

 

Gemeente, die Rigterboek leer ons ook dat die HERE se genade, sy verbondstrou, verrassend lank geduur het.

Na die Rigtertyd het die volk ‘n koning nodig gehad, om die eenheid te herstel; om orde terug te bring te midde van alle chaos.

En God het dit so gelei dat dit ook gebeur het.

Dawid was die Gesalfde wat Hy gestuur het.

Dawid het Jerusalem ‘n duidelike spilpunt in die diens aan die HERE gemaak.

Die ark is daarheen gebring.

En sy seun Salomo het daardie proses voltooi deur ‘n skitterende tempel te bou.

Op sig moes dit nie nodig gewees het, dat Israel ook ‘n aardse koning moes kry nie.

God was tog hulle koning, dit moes genoeg gewees het.

Maar God was genadig, Hy het aan hulle ook ‘n aardse koning geskenk, en so het Hy hulle gehelp om weer eenheid en vrede binne die volk terug te bring.

 

Maar ook hierdie aardse konings se impak was maar beperk.

Veral toe blyk hoe sondig en afvallig hierdie konings ook kon wees.

Die koningshuis van Dawid, deur die eeue, was ook maar ‘n tragiese storie.

Die werklike oplossing het eers gekom toe God sy eie Seun, die groot Nakomeling van Dawid, gestuur het.

Hy is die ware, die volmaakte Gesalfde, die Christus.

Wie by Hom skuil, is veilig.

Wie naby Hom bly, word beskerm teen die suigkrag van eiewillige godsdiens, wat uiteindelik lei tot afgodediens.

Hy is ons ewige Koning, Hy is naby ons in sy Woord.

Gehoorsaamheid aan sy Woord bring eenheid onder sy skape.

Hy is die Goeie Herder.

Laat ons steeds op Hom gerig wees.

Laat ons na sy stem luister in ons lewe, sy stem herken en erken.

Dan sal ons nie afdwaal nie.

 

Gemeente, daar loop ‘n direkte lyn van Moses op die berg Horeb, waar die HERE aan hom verskyn het, na die priesterdiens van Aäron en die tabernakel eers in die woestyn, en daarna is Silo, waar die tabernakel in die beloofde land gestaan het, en vandaar na Jerusalem, waar Dawid en Salomo die tempel gebou het, en vandaar deur alle nakomelinge van Dawid en alle lotgevalle wat Jerusalem en die tempel deur die eeue getref het na Jesus Christus, toe Hy op aarde gekom het, en vanaf Hom gaan die direkte lyn verder deur die eerste gemeente in Jerusalem wat deur die Heilige Gees vergader is, en uiteindelik loop die lyn tot by sy kerk vandag, wat trou bly aan sy Woord.

 

Maar gemeente, daar loop ook ‘n lyn vanaf die heiligdom van Miga en sy eiewillige Leviet, die priester Jonatan, na die heiligdom in Dan, en vandaar tot by die goue kalwers van Jerobeam wat daar was tot die ballingskap, en vandaar na die afvalligheid wat ook tot die ballingskap van Juda gelei het, en vandaar loop hierdie lyn van die valse kerk verder deur die geskiedenis tot vandag toe.

Ja dis die lyn van die Satan, wat uit alle mag probeer om die skape op ‘n dwaalspoor te lei.

Laat ons die suigkrag daarvan nie onderskat nie.

Die antitese (die teenstelling) wat die verbondsgeskiedenis kenmerk.

 

“My kinders, beskerm julleself teen die afgode”, skryf die apostel Johannes in sy brief (1 Joh 5:21 2020-Vertaling).

En in die vers daarvoor skryf Johannes hoe ons beskermd kan wees teen die afgode, naamlik deur sy Seun Jesus Christus en sy Vader te ken, 1 Johannes 5:20: “En ons weet dat die Seun van God gekom het, en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken, en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus.”

 

So mag ek die preek afsluit:

Daar is vaste hoop vir elkeen wat skuil by Jesus Christus, die groot Koning wat deur ons troue hemelse Vader na ons gestuur is.

Hy regeer vanaf die hemelse troon, en Hy sal nooit sonder troue onderdane wees nie, vandag nie en ook nie in die toekoms nie.

 

Amen.

 

Vrae na aanleiding van die preek:

Skriflesing: Rigters 18

Teks: Rigters 18:30-31

Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.

  1. Hoe het die ander stamme vir die stam van die Daniete aan hulle lot oorgelaat?
  2. Hoekom was Jonatan nie ‘n wettige priester nie?
  3. Wat is so tragies aan die feit dat Jonatan ‘n afstammeling van Moses was?
  4. Watter antitese (teenstelling) loop daar deur die verbondsgeskiedenis?
  5. Watter boodskap het die feit dat daar in daardie tyd twee heiligdomme onder God se volk was, vir vandag?
  6. Sien jy vandag voorbeelde van kerke wat oorgaan op eiewillige godsdiens? Op watter punte ervaar ons ook daardie suigkrag?

 

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 4:3

Wet

Ps 81:9-12

Gebed

Skriflesing: Rigters 18

Ps 135:10,11

Teks: Rigters 18:30-31

Preek

Ps 16:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 66:7-9

Seën