Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Een van die uitdagings om deur die brief van Jakobus te preek, is dat dit naderhand voel asof jy week na week met jou vuis op die preekstoel slaan, en jouself en die gemeente oproep om dit beter te doen. Dit is asof Jakobus ons nie die tyd gun om terug te staan en eenvoudig op die genade en goedheid van God te reflekteer nie. Hoofstuk na hoofstuk hoor ons wat ons moet doen – dit is nie verniet die boek in die Nuwe Testament met die meeste imperatiewe (bevele) nie. Met die gevolg dat ‘n mens naderhand kan begin dink: gee ons net bietjie evangelie! Maar dit is Jakobus se styl, broers en susters – ‘n styl wat in die prediking oor hierdie brief behoort te reflekteer. En meer nog: dit is ook Jakobus se doel.
U sal moontlik onthou dat ek in die eerste preek in hierdie reeks alreeds gesê het dat dit nie Jakobus se doel is om die evangelie uitgebreid aan die orde te stel (soos, byvoorbeeld, die apostel Paulus) nie, maar eerder om te vra wat daardie evangelie aan ons doen; watter uitwerking dit in ons lewens vind. Dit is nie so dat in Jakobus se brief die evangelie nie dáár is nie, maar dit is baie meer onder die oppervlakte aanwesig. Nou, ons teks vir vandag is een van daardie min plekke waar die evangelie vir ‘n oomblik sy kop uitsteek, vir ‘n oomblik onder die oppervlakte uitloer, om ons daaraan te herinnner dat Jakobus nie ‘n moralis is nie, dat hy sy lesers nie met ‘n ondraaglike las wil opsaal nie, maar dat hy graag wil sien dat die evangelie van genade ons lewens verander en ons geloof heel maak.
Tema: die jaloerse God gee groter genade om Hom heelhartig te kan dien!
“Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” – so het ons gelees in hoofstuk 2:12. Spreek en doen; ons woorde en ons dade. Die eerste een – ons spreke – word deur Jakobus uitgewerk in die bekende gedeelte oor die tong (hoofstuk 3:1-12); en die tweede – ons dade – dié werk hy uit in hoofstuk 3:13-4:3. Ons het by albei gedeeltes alreeds stilgestaan in die prediking. En nou, in hoofstuk 4:4-12, bring Jakobus al die lyne bymekaar en knoop hy as’t ware die sakkie toe. En hy wys dat, wanneer dit kom by ons woorde en dade, ons nie ons brood aan beide kante gebotter kan hê nie. Ons kan in ons woorde en dade (dus, in ons hele lewenswandel) nie vriende van die wêreld én vriende van God wees nie. Nee, dit is óf die een, óf die ander. Vriendskap met die wêreld beteken immers vyandskap teen God (vers 4). Jy kan nie altwee wil hê nie.
Ek vra weer wat ek in die heel eerste preek in hierdie reeks gevra het: is dit nie een van die groot probleme van die kerk vandag nie? Dat ons nie heelhartig is in ons reaksie op die evangelie nie? Dat ons dubbelhartig is! Dubbelhartig – daardie unieke woord waarmee Jakobus die Griekse taal verryk het, wat ons nêrens anders in die literatuur van daardie tyd vind nie, en wat Jakobus in ons Skrifgedeelte vir die tweede keer gebruik (Jak. 4:8; sien ook 1:8). Dubbelhartig, verskeurd in ons lojaliteite – aan die een kant wil ons die Here dien, maar aan die ander kant wil ons steeds deelneem aan die dinge van hierdie wêreld. Ons sukkel om heelhartig die Here te dien. Is dit nie een van ons grootste probleme nie? Dink bietjie na oor jou eie lewe...
Oor jou woorde – jou taalgebruik (jongmense, ‘n mens hoor soms taal uit julle mond wat nie pas nie), jou praatjies ná die erediens (of enige ander tyd), jou woorde oor ander mense, jou ondeurdagte opmerkings, jou skerp reaksie wanneer iemand (met wie jy nie so goed oor die weg kom nie) iets vir jou sê, jou gebrék aan woorde wanneer jy eintlik behoort te getuig van Jesus Christus, jou snedige opmerking op Whatsapp... Dink verder ook ‘n bietjie oor jou dade – jou invulling van die Sondag, jou vryetydsbesteding, die aanwending van jou finansies, jou gebrek aan werksywer, jou gebare wanneer iemand voor jou inry in die verkeer, jou gebrek aan selfbeheersing wanneer jy eet of drink, jou verkeerde intensie wanneer jy na iemand van die teenoorgestelde geslag kyk, jou kleingeld in die kollekte wanneer jy baie meer sou kon gegee het, jou afwesigheid in die tweede erediens, die gebrekkige opvoeding van jou kinders... – om maar enkele voorbeelde te noem. Is ons nie maar dikwels ewe dubbelhartig as die gelowiges aan wie Jakobus sy brief skryf nie? Wil óns nie maar ook vriende van God wees, en intussen ook nog iets van ons vriendskap met die wêreld behou nie? Maar onthou dan, gemeente: wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God!
Hoekom is hierdie probleem vir Jakobus so ernstig, broers en susters? Wel, Jakobus wys die rede hiervoor vir ons in vers 5: “Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?” ‘n Moeilike vers, maar kom ons probeer dit uitpak. Dit lyk asof Jakobus na ‘n spesifieke Skrifgedeelte verwys wanneer hy sê: “Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê...”, maar die daaropvolgende aanhaling (“met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon”) vind ons nêrens in soveel woorde in die Ou of die Nuwe Testament nie. Dus, ons sal moet aanneem dat dit hier nie oor ‘n spesifieke téks gaan nie, maar dat Jakobus eerder verskillende dele van die Skrif saamvoeg om sy boodskap oor te dra. En dié boodskap word baie mooi verwoord deur die 2020-vertaling (dis ‘n effens ander vertaling as die Ou Vertaling, maar na my mening ‘n beter vertaling). Daar lees ons: “Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die Gees wat Hy in ons laat woon het?” Dus, God het sy Gees in ons laat woon; ons is wonings van die Heilige Gees. Maar met die gevolg dat God die mens, in wie Hy sy Gees laat woon het, ook volledig vir Homself wil hê – juis omdat sy Géés in daardie mens woon. Die mens wat ‘n woonplek van die Heilige Gees is, behoort homself volledig aan God te wy en homself volledig van die wêreld af te keer.
Maar waar sê die Skrif dit? Waar uit die Ou Testament (want dit is waarna die woord ‘Skrif’ deurgaans verwys) haal Jakobus hierdie gedagtes vandaan? Wel, as jy mooi na die lesing van die wet vanoggend geluister het, sou jy alreeds iets van die boodskap gehoor het: “want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God...!” (Ex. 20:3) En ‘n klompie hoofstukke later nog duideliker: “... jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy” (Ex. 34:14). En as ons sommer in daardie selfde omgewing van Exodus bly, dan lees ons dat God sy kinders vervul met sy Gees (Ex. 31:3 en 35:31). En dit is hierdie twee Skriftuurlike waarhede wat Jakobus saamvoeg: God laat sy Gees in ons woon, maar Hy is baie jaloers en besitlik oor daardie Gees. Hy gee nie maar sy Gees sodat ons Hom kan ignoreer en wegdruk nie. Nee, God wil sy Gees, wat Hy genadiglik in ons laat woon, in ons terugsien – in ons woorde en in ons dade. Dus, in hierdie – kom ons noem dit maar – saamgeflansde Skrifaanhaling wat Jakobus in vers 5 gee, gaan dit oor God se vurige verlange – die Ou Vertaling noem dit: “met jaloersheid begeer”; die 2020-vertaling praat van: “hunker met besitlikheid” – God se vurige verlange om die mens, waarin Hy sy Gees laat woon, eksklusief vir Homself te hê. Wanneer God Homself so intiem aan die mens verbind dat Hy selfs sy Gees in hom laat woon, dan wil Hy hierdie mens se onverdeelde hart en liefde hê. Hy wil hierdie mens nie met die wêreld deel nie.
Nou, ons weet dat die Ou Testament dikwels die beeld van die huwelik gebruik om hierdie eksklusiewe verbintenis te illustreer. God is ‘n liefdevolle en liefhebbende man, en die volk is sy vrou. Maar ongelukkig kan ons van hierdie vrou nie dieselfde sê as van haar man nie – sy is nie altyd so liefdevol en liefhebbend nie. Om die waarheid te sê – sy is soms liefdeloos, sy kyk maar al te graag na ander mans, sy pleeg soms selfs owerspel (dink aan die profesie van Hosea!). Nou, dit is hierdie agtergrond van ‘n owerspelige volk wat Jakobus in gedagte het wanneer hy sy lesers in die begin van ons teks (Jak 4:4) aanspreek as “egbrekers en egbreeksters”. Hy verwys hier geensins na seksuele oortreders nie – dit is, trouens, opmerklik dat seksuele sondes in hierdie hele brief, wat vol is met imperatiewe, glad nie aan die orde kom nie. Nee, dit gaan hier oor God se bruid, wat Hom nie heelhartig liefhet nie – wat sy vriende wil wees, maar intussen ook vriende met die wêreld wil wees.
God is lief vir sy vrou, Hy is jaloers met ‘n heilige en goddelike jaloesie wanneer hy sien dat sy vrou ontrou is, en Hy begeer met ‘n intense verlange na haar onverdeelde liefde. En Hy kry dikwels nie daardie liefde nie – nie van sy volk in die Ou Testament nie, nie van die gelowiges aan wie Jakobus sy brief skryf nie, en helaas... ook nie van ons nie. Dit is so skreiend dat ons, wat in die nuwe verbond lewe, wat lewe ná die vervulling van Christus se werk aan die kruis, wat lewe onder die stortvloed van die Heilige Gees (wat in ons woon!) – dat ons ook maar dikwels owerspelig is: egbrekers en egbreeksters, vriende van die wêreld, sowel in ons woorde as in ons dade. En daarom moet ons opnuut daaraan herinner word dat God met besitlikheid / jaloesie hunker na die Gees wat Hy in ons laat woon het. As liefdevolle eggenoot verlang God na ons onverdeelde harte! En wanneer ons dit nie vir Hom gee nie, dan bedroef ons daarmee die Heilige Gees (Ef. 4:30), wat God in ons laat woon het. Proe in hierdie heilige jaloesie God se liefde!
Maar, gemeente, Jakobus laat dit nie net daarby nie. Ja, dis waar, ons is dikwels dubbelhartig. Ons is soms owerspelig teenoor die Here. En ons sukkel om Hom heelhartig te dien en aan al sy eise te voldoen. Maar God gee groter genade! (vers 6). God se genade in Jesus Christus en deur sy Heilige Gees is groter as my dubbelhartigheid en my owerspel; God se genade is groter as sy goddelike jaloesie; sy genade is selfs groter as die eise wat Hy aan ons stel. Ja, Hy stel hoë eise aan ons – Jakobus se brief getuig daarvan: Hy eis dat ons Hom heelhartig moet dien – maar die genade wat Hy gee, is groter as die eise wat Hy stel. Sodanig dat die kerkvader Augustinus kon bid: “Gee wat U eis, Here, en eis dan net wat U wil!” Hoor jy dit: “Gee wat U eis, en eis dan net wat U wil” – die Here sal nooit meer van ons eis as wat Hy in sy genade vir ons gee nie. Dit wat Hy van jou vra, dit gee Hy ook vir jou! Immers, aan almal wat Hom bid, gee Hy eenvoudig sonder om te verwyt (Jak. 1:5). En elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte (Jak. 1:17). As die Here van ons heelhartige geloof vra (en Hy doen!), dan sal Hy ook ons harte heel máák! Deur sy Gees wat in ons woon. Moet daarom nie skaam wees om na Hom toe te gaan en van Hom alles te vra wat jy nodig het om te wees wie Hy wil hê jy moet wees nie.
Gaan na Hom toe, vra Hom, smeek Hom om jou hart heel te maak – dit is die houding wat die Here by jou wil sien. Want sy genade, so sê Jakobus verder in vers 6 (en hierdie keer gee hy ‘n baie duidelike Skrifaanhaling uit Spreuke 3:33 en 34), sy genade is juis bedoel vir die nederiges. Nie vir die hoogmoediges nie, nie vir die arrogantes nie – nee, hulle moenie op die Here se genade te reken nie. Immers, hulle reken mos dat hulle dit nie nodig het nie. Nee, God se genade is vir diegene wat hulleself met ootmoed, met selfkennis, met sondekennis aan Hom onderwerp. Onderwerp julle dan aan God – só roep Jakobus ons op in vers 7. Maak nie saak hoe groot jou geestelike owerspel is nie, maak nie saak hoe ver jy van Hom afgehoereer het nie, gaan na God toe, werp jou voor sy voete neer, en smeek Hom soos die tolenaar: “Heer, wees my, sondaar, genadig!”
-------------------------
Nou, dit is hierdie houding wat Jakobus in die res van ons Skrifgedeelte uitwerk. Die genade is bedoel vir diegene wat hulleself nederig aan God onderwerp – maar wat beteken dit? Hoe lyk dit? Hoe onderwerp ons onsself aan God? Met meer as tien oproepe wys Jakobus wat dit beteken om jouself aan God te onderwerp, om werklik nederig te wees. Kom ons kyk kortliks na hierdie oproepe...
Dit begin met die tweevoudige opdrag: weerstaan die duiwel en nader tot God (verse 7 en 8). Jy moet dus die afstand wat jou lewe tot die duiwel het, vergroot; en jy moet die afstand wat jou lewe tot God het, verklein. Dit is twee opdragte wat nou aan mekaar verbonde is – om die waarheid te sê, die een lei noodwendig tot die ander. Hoe groter jy die afstand maak tussen jou en die duiwel, hoe nader kom jy aan God. En hoe nader jy aan God kom, hoe meer sal die duiwel van jou af wegvlug. Want God (en die mens wat by Hom skuil) – dit is een te veel vir die duiwel. Dit is so eenvoudig, broers en susters: sorg dat jou lewe wegbeweeg van die duiwel en nader beweeg aan God. Verder, vers 8, “reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges.” Jy kan nie tot God nader met ‘n lewe wat besoedel is met allerhande onreinhede nie – reinig daarom die hande en suiwer die harte. En hoe doen ek dit? Wel, erken jou sondes, bely dit openlik voor die Here, en lê dit af. En dit beteken ook, vers 9, dat jy hartseer is oor die sonde in jou lewe: “Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.” Hierin lê daar ‘n geweldige stuk kritiek op die hedendaagse kultuur, broers en susters – ons lewe in ‘n kultuur wat altyd maar net soek na genot en gelag en genietinge, en wat trane en hartseer sover moontlik probeer weghou. Ons sosiale media status moet altyd wees hoe ons geniet, en watter plesir ons het! Maar Jakobus roep ons op om die innerlike verandering sigbaar te maak in rou en smart. Nee, Jakobus prys beslis nie die droefheid aan bo vreugde nie, maar dit gaan hier oor ons verhouding tot God. As daar fout is in ons verhouding tot God, dan moet dit sigbaar word – die innerlike smart oor ons dubbelhartigheid mag sigbaar word in ‘n uiterlike neerslagtigheid. En dit is beslis nie ‘n permanente neerslagtigheid nie, maar van tyd tot tyd moet dit deurkom. In vers 10 kom Jakobus weer terug by sy oorspronklike oproep om ons aan God te onderwerp – hy gebruik ‘n ander woord, maar die betekenis is dieselfde: “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” Om werklik heelhartig met die Here te kan lewe, moet jy jouself verneder, jou eie onwaardigheid erken, en jouself verootmoedig. En, ten slotte, in verse 11 en 12 werk Jakobus hierdie nederigheid nog uit met betrekking tot ons woorde, ons tong. Want onthou, Jakobus is in ons Skrifgedeelte besig om die sakkie toe te knoop oor ons woorde en ons dade. In beide ons woorde en dade wil ons soms nog vriende met die wêreld wees, in beide moet daar bekering plaasvind, in beide moet ons harte heel word, sodat ons God heelhartig kan dien.
Gemeente, al hierdie opdragte is ‘n uitwerking van die oproep om onsself aan God te onderwerp (vers 7), om onsself voor die Here te verneder (vers 10). En dit kan saamgevat word met die woord: bekering. Vir ons dubbelhartigheid in woorde en in dade, vir ons egbreuk (dat ons sowel vriende van God as vriende van die wêreld wil wees) – daarvoor moet daar bekering in ons lewens plaasvind. Daardie bekering wat ons in Sondag 33 van die Kategismus bely as die ware bekering: dit is ten eerste die afsterwing van die ou mens (‘n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het, en daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug); en ten tweede die opstanding van die nuwe mens (‘n hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe).
Broers en susters, so maklik kan ons lewens vashaak by die regverdiging deur Jesus Christus, maar stoot ons nie deur na die heiligmaking wat daarby hoort nie. Dan glo ons wel dat ons verlos is, maar wat dit aan ons lewens (aan ons woorde en dade) doen, dit word nie duidelik nie. Ek weet ons jongmense luister nie eintlik meer na cd’s nie, maar dit is soos ‘n cd wat gekrap is en vashaak. Jy is nog besig om na ‘n pragtige lied te luister, en skielik (op die hoogtepunt van die lied) haak die cd vas, en word dieselfde noot oor en oor en oor herhaal. Die lied van die geloof kan nie hiermee tevrede wees nie. Meer nog: die God van die geloof is nie hiermee tevrede nie. Hy neem nie genoeë daarmee dat ons ons geloof in Christus bely, en dat ons woorde en dade steeds lyk soos dié van die ongelowige wêreld om ons heen nie. Hy hunker met besitlikheid daarna om die Gees, wat Hy in ons laat woon het, terug te sien in woorde wat sy heerlikheid vertel en in dade wat sy liefde uitstraal. Hy hunker daarna, Hy smag daarna om sulke woorde en dade te hoor. En daarom die oproep aan almal van ons: bekeer julle! Onderwerp julle aan God – en sy genade, wat baie groter is as die eise wat Hy stel, sal aan ons die krag gee. Sodat ons in woorde en in dade heelhartige gelowiges kan wees. Nie volmaak nie – dit sal ons in hierdie lewe nie bereik nie. Maar wel heelhartig, verlos van ons dubbelhartigheid. Mag die Here dit aan ons skenk, mag ons dit in ons eie lewens begin raaksien, en mag ons dit by mekaar begin herken.
Amen
Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 46:1 en 6 (Hervormingsdag)
- Voor die wet sing Skr. 26:1
Wetslesing
- Sing Skr. 26:10 en 11
Gebed
Doopsbediening
- Lees formulier
- Vrae
- Bediening
- Sing Ps. 33:1
Lees & teks: Jakobus 4:4-12 (lees ook Jak. 2:12)
Preek
Amenlied Skr. 44:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.