Ons kom nou by die middelpunt, die kern van die bergpredikasie. Dit is ‘n perfekte meesterstuk van die een wat perfek in gebed was. Dit is perfek in beide struktuur en inhoud. Geen woord is gemors nie. Daar is geen gebabbel nie.
“Só moet julle dan bid”, sê ons Verlosser en Here. Bid. Laat jou gebede hierdie vorm hê. Ons is almal in die skool van gebed, en Jesus is ons Meester. Dit is Hy wat ons leer, selfs nou deur sy Gees. En Hy het ons die model-gebed, die voorbeeld gegee om mee te werk. Met ander woorde, dit is nie ‘n gebed wat gedagteloos herhaal moet word nie. Maar dit is ‘n gebed wat ʼn samevatting gee van alles waarvoor ons moontlik sou kon bid. Alles waarvoor ons bid val onder een van hierdie bedes.
Maar hierdie is nie slegs ‘n patroon vir hoe om te bid nie, maar ook ‘n patroon vir hoe om te leef. Gebed gee vorm aan ons lewens. Gebed is nie ‘n afgesonderde deel van ons lewens nie. Ons bid hierdie gebed omdat ons begeer om dit uit te leef. Dit is ‘n gebed wat die hele lewe omvat. Fisies en geestelik. Vir tyd en ewigheid. Dit is eenvoudig, woorde van ‘n kind tot ‘n Vader. Woorde van ‘n volk wat leef in die werklikheid van God. Gebede van ‘n volk wat God ken, en daarom nie self-gesentreerd is soos die skynheiliges wat graag deur mense gesien wil word nie, maar God-gesentreerd, wat begeer dat God se Naam, Koninkryk en wil vervul word. En hulle weet dat God dit moet doen.
En let op die gebed se skokkende (vir ons ore) gebrek aan enkelvoudige voornaamwoorde. Ons moet bid asof ons alleen met God is, maar ons bid nooit alleen nie. Jesus onderrig ons om te besef dat gebed ‘n korporatiewe dissipline is. Ons word daaraan herinner dat ons deur Christus verlos is ... in sy liggaam, die kerk, en dat ons God in hierdie wêreld verheerlik as ‘n liggaam verheerlik, nie slegs as individue nie. Maar saam. Ons is nie onafhanklik van mekaar nie. As een van ons in versoeking gelei word, ly die hele liggaam. As een verheug is, is die hele liggaam bly. Ons bid dus voortdurend nie net vir onsself nie, maar ook vir die liggaam. Wetend dat in hulle vreugde ons ook vreugde sal ervaar, en in hulle smart sal ons ook smart ervaar.
Ons bid dus:
Die gebed van die Christen bid vir
-
Die regte prioriteite
-
Die middele om dit te bereik
Die regte prioriteite
Onse Vader wat in die hemele is
As ons weet vir Wie ons aanspreek, dan val die kans dat ons sal bid om deur mense gesien te word, of soos die heidene te babbel, weg. Ons bid tot ons Vader in die hemel. Ons is kinders. Verenig in een Here, deur een Gees, met een Vader. Gebed is diep drie-enig. Ons bid tot ‘n drie-enige persoonlike God; ons bid in ‘n verhouding. Die Gees bid saam met ons deur die Seun tot die Vader. In gebed bid ons nie net tot God nie, maar ons geniet gemeenskap met hierdie God.
Die probleem met die gebede van die skynheiliges en die heidense babbelaars was dat hulle ‘n verwronge idee gehad het van die Een tot wie hulle bid. Hulle het gebid tot die God van hulle verbeelding. Ons bid tot ‘n persoonlike God. Hy is nie ‘n masjien waar jy jou gebede invoeg en geld en seëninge uitvloei nie. Hy is geïnteresseerd in ‘n verhouding.
Vader. Dit is ‘n woord wat dui op afhanklikheid. Ons is nie onafhanklik nie. Maar heeltemal afhanklik. In nood. Soos klein kindertjies wat nie sonder die voorsiening deur hul ouers kan lewe nie, so gaan ons na ons Vader. ‘n Goeie Vader.
‘n Vader wat in die hemel woon. Hy troon in die hoogte. Hy is almagtig. Alle eer en respek waardig. Hy is ‘n Koning. Die middelpunt van alle dinge. Die oorsprong en doel van alle dinge. Hierdie lewe gaan nie oor ons nie. Mag dit jou lewe vorm. Wanneer jy tot Hom bid en wegstap, mag jou hart vol rus en vrede wees. Hy is ‘n almagtige Vader. Hy wil die beste vir jou hê. En in Hom sal jy ook jou hoogste vreugde vind. Maar oor Hom bid ons dan ook: Laat u Naam geheilig word.
Laat u Naam geheilig word
Dit is ‘n versoek dat ons ‘n gevoel van God se totale afgesonderdheid sal kry! Aan die einde van Hebreërs 12, wanneer die skrywer oor aanbidding praat, sê hy nie: “ Gee aan God lighartige aanbidding, want jy weet mos God is so cool” nie. Nee! Hy skryf: “... laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees (wat beteken dat daar aanbidding is wat nie vir Hom welbehaaglik is nie). Want onse God is 'n verterende vuur.” Heeltemal Heilig. Heilig. Heilig. Heilig. Dit is die eerste en belangrikste van die goddelike bedes. Dat ons ‘n beter visie sal hê van wie God is. Dit beïnvloed alles. Hoe groter jou siening van God, hoe dieper die erkenning van jou sonde teen Hom, hoe meer sal jy jou in die kruis verheerlik!
In hierdie wêreld sê ons dat daar slegs een Naam in die hemel en op aarde is wat waardig is om afgesonder te word. Ons bevorder nie ons eie naam nie. Ons vra dat Hy sy Naam deur ons as ‘n gemeenskap sal bevorder, want ons weet dat ons eie hart geneig is om enigiets te doen behalwe om Hom as Here af te sonder. En as dit beteken dat ons eie naam beskaamd en belaglik gemaak word, laat dit so wees, want ons waarde, of identiteit, of alles is in Hom. Wanneer sy Naam geëer word, word ons saam met Hom verheerlik.
Dit is ‘n totale eksklusiewe eis. Dit is aanstootlik in ons samelewing, wat sê dat alle gelowe dieselfde god aanbid. Ons leef in ‘n samelewing waar alles gaan oor die bevordering van jou eie naam of groepsidentiteit. Beskerm jou eie reputasie, jou eie ras, jou eie identiteit. Maar nie in God se koninkryk nie. In God se koninkryk vind mense uit elke stam, taal en nasie, vanuit elke sosio-ekonomiese agtergrond ‘n nuwe doel, ‘n nuwe missie. Om God te verheerlik. Om sy Naam te heilig.
Die eerste en laaste ding wat ons doen is om Hom te eer en te verheerlik en sy Naam groot te maak in gebed. Hoekom? Want in die heerlikheid van sy Naam is ons hoogste vreugde. Kyk net hoeveel vreugde is daar in die teenwoordigheid van God se heerlikheid!
Is dit wat ons doen? Doen ons dit in gebed en leef ons hierdie gebed bewustelik uit? Dit is iets wat ons doelbewus moet doen aan die begin van ons gebed, aan die begin van elke dag, om ons hart en verstand weg van onsself af op Hom te fokus. Dit gaan oor prioriteite. As ons nie bewustelik bid nie, sal ons gebede geneig wees om meer self-gesentreerd te wees en so gaan: “Vader in die hemel, help my met hierdie eksamen, wees met my kinders, help hulle om te glo, help ons verhouding, ek bid vir my werk. Amen.” Maar Jesus leer ons om te bid dat ons hele lewe vir die Vader geleef word, en dat die ander dinge waarvoor ons bid, slegs in diens staan van hierdie een bede. Sodat alle mense ons Vader in die hemel mag ken en Hom verheerlik! Is dit jou prioriteit in die lewe?
Ons kan sê dat die heel eerste bede al die opvolgende bedes oorheers. Die hele lewe, die hele kerk, die heelal se doel is dieselfde: om die Naam van God te verhoog. Om Hom te verheerlik en Hom sodoende tot in ewigheid te geniet.
Laat u Koninkryk kom
Dit is ‘n Koninkryksgebed, wat ‘n werklike bedreiging is vir elke ander heer en koninkryk wat daarteen gekant is. En as jy nie die God en Vader van die Here Jesus Christus aanbid nie, is dit baie ondermynend, ontstellend en beledigend – vaaf die eerste frase tot die laaste. As dit daarop neerkom, is daar slegs twee koninkryke. Slegs twee. En uiteindelik sal daar net een wees. Want die koninkryk van God sal in alles wees, en sy heerlikheid sal die aarde oordek soos die waters die seebodem oordek.
Ons bid vir sy Koninkryk. Nie vir Suid-Afrika, Amerika, Rusland of China nie. Dit is ‘n politieke bewering dat die hele aarde aan Hom behoort. Dat elke nasie en elke heerser teenoor Hom verantwoording moet doen. Dat Hy die Koning van die konings is, en dat sy Koninkryk universeel regeer. En dat alles eendag ook in werklikheid aan Hom behoort, en aan die Seun vir wie Hy as hoof aangestel het. Alles wat aan ons behoort, sal in diens van sy Koninkryk gebruik word. Ons lewens: werk, tyd, energie, gesin en enigiets anders word onderhewig aan Hom en Hom alleen. Ons het ons koninkryk opgeoffer vir syne. Ons vra Hom om dit syne te maak, en om dit te gebruik om sy Koninkryk op te bou. Gebruik ons, o God! Om u Koninkryksheerskappy uit te brei, in argitektuur, in besigheid, in wetenskap, in ekonomie! Help ons om die Koninkryk in elke werksveld in te bring. En gee ons die moed om die goeie nuus van die Koninkryk te deel!
Want ons weet dat die dag kom wanneer die ruimte van God ons ruimte sal word. En die manier waarop dit sal gebeur en besig is om te gebeur, is teen-intuïtief. Ons word nie opgeneem in die hemel nie, maar die hemel kom na die aarde. Ons het hierdie pragtige beeld van die nuwe Jerusalem wat van die hemel na die aarde neerdaal. Die beeld van die nuwe hemel en die nuwe aarde in Openbaring vorm die kern van hierdie bede.
In die vierde eeu het keiser Julian die geloof laat vaar en probeer om die Christendom af te skaf en dit te vervang met die aanbidding van die Griekse en Romeinse gode. Op die hoogtepunt van sy mag, toe dit gelyk het of die afskaffing van die Christendom ‘n werklike moontlikheid kon word, is hy in die stryd dodelik gewond. Die geskiedkundiges vertel hoe hy gelê het, besig om dood te bloei, en ‘n handvol van sy bloed geneem en dit in die lug opgegooi en gesê het: “U het oorwin, o Man van Galilea!” Christus se oorwinning oor hierdie man was maar ‘n klein tree en ‘n antwoord op die gebed dat die Man van Galilea ten volle erken sou word as die Koning van hemel en aarde. Elke politieke mag sal eendag aan Hom onderwerp word. Julian verstaan dit nou heeltemaal. En so ook elke ander leier wat nou dood is.
Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde
Ons bid dat Sy wil geskied: Nie my eie nie. My eie wil, emosies en gedagtes moet aan sy wil voldoen. Hy is nie net Verlosser nie, maar ook Here. Daar is ‘n hoër wet as individualisme, of nasionalisme of enige wet wat hierdie land oplê. Die hoogste wet is die wil van die Vader. Alles moet uiteindelik buig en aan sy wil voldoen. Daar is geen deel van my lewe wat suiwer my eie is nie. Elke deel behoort aan Hom. En in alle dinge word ons geroep om te lewe in gehoorsaamheid aan sy wil soos dit duidelik geopenbaar is in die Skrif.
Die middele om dit te bereik
Van die verhewe hoogtes van die hemel kom ons af na die aarde. Hy neem ons van groot geestelike bekommernisse na alledaagse fisiese behoeftes. Die laaste drie bedes is in diens van die eerste drie bedes. Ons bid vir daaglikse behoeftes, vergewing, beskerming en verlossing omdat ons sy Naam wil heilig, sien dat sy Koninkryk gevestig is en dat sy wil in die hele lewe geskied. Wanneer Hy in ons behoeftes voorsien, ons vergewe en ons beskerm, dan word sy Naam verhef, word sy Koninkryk gevestig, en namate ons groei in heiligheid, word sy wil gedoen.
Die tweede drie bedes is ingewikkeld verbind. In die Grieks word die laaste drie bedes verenig deur ‘n “en”, terwyl die eerste drie bedes alleen staan. Dit is omdat God weet dat om net te vra vir daaglikse behoeftes nie genoeg is nie, ons benodig vergifnis vir die verled, en geestelike beskerming vir die toekoms. As ons dit nie het nie, sal ons daaglikse behoeftes ons net vet maak vir die dag van rampe. Ons het al drie nodig, en dit is amper asof hulle een bede is.
Gee ons vandag ons daaglikse brood
Ons bid: gee ons vandag ons daaglikse brood. Ons het Hom nodig vir alles. Letterlik. Ons is nie selfversorgend nie. Selfstandig, self-ondersteunend, onafhanklik en outonoom. Ons is behoeftig, afhanklik vir elke asemteug wat ons neem. Hy is die Voorsiener. Nie ons nie.
As ons genoeg kos vir ‘n week het, en geld in die bank vir kos, besef ons nie hierdie onmiddellike behoefte aan daaglikse brood nie. Maar vir baie werkers in die eerste eeu wat een dag op ʼn slag betaal is, en vir wie selfs ʼn paar dae van siekte ‘n tragedie kon veroorsaak, was dit ‘n ware gebed. Selfs vandag sien ons dit in ons land, waar baie mense sonder werk is, so baie van dag tot dag leef.
Die vroeë kerkvaders kon nie glo dat ons van sulke verhewe bedes soos God se koninkryk, wil en Naam kon gaan tot om net te vra vir daaglikse brood nie! Hulle het dit dus toegepas op die brood van die Nagmaal, of die Woord van God. Gelukkig het die hervormers, wat dalk ‘n bietjie meer plat op die aarde was, aangevoer dat dit oor fisiese behoeftes gaan. Hulle het geweet dat, as mense van vlees en bloed, om God se Naam te heilig en sy Koninkryk te laat kom en sy wil te laat geskied, sou hulle kos benodig.
Dit is oor die daaglikse behoefte. En ons moet nie bid vir gierigheid nie, maar vir behoefte. Soos Spreuke 30:8-9 dit so mooi stel: “... gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”
Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe
Ons bid om vergifnis: Ons is sondaars. Ons het genade nodig. Ons het Hom nodig om ons te verlos, om ons vry te maak. Vergewe ons.
Vergewe ons ons skulde. Jy het gedink die nasionale ekonomie en die regering is in die skuld. Jy het gedink die regering is dwaas om soveel skuld te maak met die SAA en Eskom en ander SBO’s. Maar het jy na jou eie morele skuld gekyk? Daardie triljoene is niks in vergelyking met die skuld wat ons het, persoonlik en korporatief, vir sondes wat nie teen ‘n nasie nie, maar teen die Skepper-God gepleeg word.
En wat doen ons? Ons vra om vergifnis. Skuldvergifnis. Van miljoene? Triljoene rande? Nee, baie meer. Iets so groot dat dit oneindig baie tyd sou neem om dit terug te betaal. Dink net aan die vermetelheid daarvan. Wat ons hier vra, is soos om die regering te vra om net die skuld te kanselleer. As jy persoonlike trots en eer het, lyk dit soos ‘n onbeskaamde ding om te doen. Maar dit is presies waartoe Jesus ons oproep om te doen. Ons sit ons trots eenkant en vra die Vader vir wat ons elke dag dringend nodig het. Ons skuld vergewe. Hier wys Jesus ons die einde van die evangelie. Dit is so sentraal tot die evangelie; dit is waarvoor Hy gesterf het. Hy het op die vooraand van sy dood gesê: “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Matt. 26:28) Die kruis. Ons skuld word net vergewe omdat Hy dit ten volle betaal het. Hy het dit betaal vir almal.
En daarom sou daar niks so verkeerd wees as om vergifnis te aanvaar en dan ander nie te vergewe nie. Hy lewer selfs kommentaar daarop in verse 14 en 15: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Soos Stott sê: “Sodra ons oë geopen is om die grootheid van ons oortredinge teen God te sien, lyk die beserings wat ander ons aangedoen het, in vergelyking daarmee onbenullig. As ons aan die ander kant ‘n oordrewe siening het van ander se oortredinge, bewys dit dat ons ons eie oortredinge geminimaliseer het.”
Met ander woorde: Ons verstaan eenvoudig nie die kruis as ons nie die sonde teen ons vergewe nie. Ons verstaan nie ons eie sonde voor God nie. Daar is die verhaal van John Wesley wat ‘n hardkoppige man met ‘n onbuigbare wil benader. Op ‘n oomblik van besondere trots spog hierdie man by Wesley en sê: “Ek vergewe nooit ander nie.” Wesley antwoord: “Dan hoop ek, meneer, dat u nooit sondig nie.” Die puriteinse Watson het gesê: “ ’n Man kan hel toe gaan omdat hy nie vergewe nie en nie glo nie.” Jy sien, die wat vergewe is, sal vergewe as hulle waarlik vergewe is.
Lei ons nie in versoeking nie
Ons harte is in die versoeking om in te gee. Ons is hulpeloos, versterk ons. Moet ons nie verlaat nie in die oomblik van ons beproewing nie. Wees genadig. Dit is ‘n gebed van ‘n swak persoon tot ‘n sterk God.
Daar is ‘n verhaal in Foxes Book of Martyrs van twee mans wat op die brandstapel verbrand sou word. Een was vol selfvertroue en het hardop gespog dat hy ‘n man sou wees as die tyd aanbreek. Hy het gesê dat hy so gegrond was in die evangelie dat hy nie kon dink dat hy Christus sou verloën as en wanneer hy die geleentheid kry nie. Selfs op die dag van sy teregstelling het hy gesê dat hy soos ‘n bruid was, gereed vir die troudag.
Die ander man was anders. Hy was ook vasberade om Christus nie te verloën nie. Maar hy het erken dat hy verskriklik bang was vir die vuur. Hy het gedeel dat hy nog altyd sensitief was vir lyding en hy was baie bang dat, wanneer die eerste vlam naby sy liggaam kom, hy sou uitroep en sy Verlosser sou verloën. Daarom het hy die ander man aangespoor om vir hom te bid, en sy tyd spandeer om oor sy swakheid te ween en tot God te roep vir krag. Die ander man het hom bestraf en tereggewys.
Toe die brandstapel kom, het die man wat so vrymoedig was, se moed hom met die eerste oogopslag van die vlamme begewe, en hy is vrygelaat en het nooit weer na Christus teruggekeer nie. Die ander man, die bewende, huilende en biddende een, wat gebid het: lei my nie in versoeking nie, het vasgestaan soos ‘n rots, terwyl hy ‘n wrede, maar dapper dood gesterf het.
Ons sal almal beproewings ondergaan. Ons word almal deur vuur getoets. Dus behoort ons gebed te wees dat ons nie verteer word wanneer ons beproef word nie.
En uiteindelik: Verlos ons van die Bose
Hierdie wêreld is onder die mag van die bose. Diegene wat nie glo nie, word deur hom gebruik en misbruik. Ons begin vanaf die punt dat alle mense verdorwe is. Verlos u kinders uit sy mag. Die woord hier vir ‘verlos’ is ‘n sterk woord. Soos om uit die vuur te ruk. Of om jou kind te gryp voordat hy oor die snelweg hardloop. Dit is wat ons wil hê dat God met ons moet doen! O God, hou ons vas! Gryp ons weg uit die greep van die bose en sy bose weë. Help ons, Here, om getrou te bly.
Hier sien ‘n mens weer in die laaste drie bedes hoe ons drie-enige God werk ten goede vir almal wat in Hom glo. As Vader en Voorsiener voorsien Hy ons van alles wat ons nodig het vir liggaam en siel, as Seun is Hy ons Verlosser en betaal Hy vir al ons sonde, en as Gees lei Hy ons in ons hele lewe, verlos ons en beskerm ons!
Inderdaad, aan hierdie drie-enige God behoort al die krag en heerlikheid tot in alle ewigheid!
“Want aan U behoort die Koninkryk en die Krag en die Heerlikheid”. Alhoewel hierdie woorde nie in die vroegste manuskripte voorkom nie, is hulle Bybels, goed om te bid en ‘n gepaste einde vir hierdie gebed. Al hierdie dinge behoort aan niemand anders nie. Geen ander God behalwe U nie. Geen Here behalwe Christus nie. U heerlikheid sal nie aan ‘n ander behoort nie.
En daarom eindig ons altyd hierdie gebed met ‘n kragtige Amen. Dit is waar, dit is seker. In ‘n wêreld wat nie in absolute dinge glo nie, stel ons ‘n kragtige Amen, omdat ons absoluut glo. Gee ons Koninkryksprioriteite en die middele om dit uit te voer!
Amen.