Gemeente,
‘n Verstommende gedeelte – wat ons sopas gelees het. Een wat moontlik ons gereformeerde fondamente skud, dalk twyfel meebring, of op die heel minste vrae oproep oor hoe ons hierdie gedeelte met ander Skrifgedeeltes moet versoen. Maar oor een ding hoef daar geen twyfel of vrae te wees nie, en dit is Jakobus se boodskap in hierdie gedeelte. Jakobus herhaal dit ten minste vier keer op verskillende maniere. Hy begin alreeds daarmee in vers 14: geloof sonder werke kan mos nie red nie? Vers 17: geloof sonder werke is in sigself dood. Vers 20: geloof sonder werke is dood (of soos die 2020-vertaling dit het: geloof sonder dade is nutteloos). En vers 26: geloof sonder werke is dood. Dit is Jakobus se refrein in die mineur. En teenoor hierdie mineur, staan die majeur van vers 24: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Sjoe, hierdie is moeilik verteerbaar vir gereformeerdes wat die sola fide (die geloof alleen!) met moedersmelk ingekry het. So, ons gaan vandag hard moet werk om hierdie raaisel te ontrafel – en ek stel voor u hou maar u Bybel byderhand, want ons gaan bietjie moet rondblaai...
Tema: Geloof, regverdiging en goeie werke – hoe ‘n Bybelse dilemma opgelos kan word.
Ons gaan op vier pare persone let:
- Jakobus en Paulus
- Abraham en Ragab
- Gereformeerde duiwels en duiwelse gereformeerdes
- Christus en ek
1. Ons begin ons ontrafeling van die dilemma by die verhouding tussen Jakobus en Paulus, want dit is hier waar die knooppunt lê – as jy ‘n bol tou het wat gekoek geraak het, dan soek jy mos na die knooppunt, na daardie plek waar die gekoekery sy middelpunt het. As jy dáár kan ontrafel, dan sal die res ook loskom. Nou, die knooppunt van Jakobus se boodskap in ons teks, en wat ons moet probeer ontrafel, lê by sy verhouding met Paulus. So dikwels in die geskiedenis is Jakobus en Paulus téénoor mekaar geplaas, asof hulle radikaal verskillende boodskappe oor die verlossing verkondig. Sommige meen selfs dat Jakobus in vers 20 van ons teks ‘n venynige en bedekte verwysing na Paulus ingebou het, wanneer hy sê: “Maar wil jy weet, o nietige mens (o leë mens – dit sou dan Paulus wees), dat die geloof sonder die werke dood is?” Vanwaar hierdie veronderstelde vyandigheid tussen twee broeders wat mekaar in Galasiërs 2:9 nog die regterhand van gemeenskap gegee het? Hulle het mekaar se hand geskud, hulle het gesê: ons is broeders! Hoe kan hulle dan nou sulke verskillende boodskappe verkondig?
Wel, gemeente, op die oog af staan Paulus en Jakobus se boodskappe inderdaad radikaal teenoor mekaar. Blaai bietjie saam met my na Romeine 3:28: “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” Ons lees verder uit hoofstuk 4:5 en 6: “... aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke...” Kom ons blaai ook nog gou na Galasiërs 2:16: “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus.” Dís taal wat ons ken! Dís die taal van ons gereformeerde erfenis! Maar plaas dít nou teenoor Jakobus 2:24: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Ja, dan voel ‘n mens sommer dadelik aan – hier pas iets nie lekker nie! Dit lyk asof ons hier met twee verskillende evangelies te make het: Paulus verkondig die regverdiging deur die geloof sónder die werke; Jakobus verkondig die regverdiging deur die geloof mét die werke. Hoe ontrafel ons hierdie knoop?
Wel, gemeente, ons moet eenvoudig begin deur Paulus en Jakobus elkeen in sy eie konteks te verstaan. In Romeine en Galasiërs, waaruit ons sopas gelees het, skryf Paulus aan gelowiges wat onder druk geplaas word deur Jode wat meen dat regverdiging (die herstel van die verhouding met God) slegs verwerf kan word deur streng onderhouding van die wet; die Mosaiëse wette is deur hierdie Jode as onmisbaar beskou, ook vir die Christene. In Jakobus vind ons glad nie hierdie stryd nie: Jakobus rig hom eerder tot die Christene uit die Jodendom wat gemeen het dat, wanneer jy tot geloof kom, jy nie nodig het om die egtheid van jou geloof te bewys in dade nie. Dus, by Paulus – aan die een kant – gaan dit oor die vraag watter maatstaf gebruik moet word wanneer iemand vanuit die heidendom tot die christelike geloof wil oorgaan: moet hy dan ook die Joodse wette onderhou? Paulus sê: nee, jy hoef nie die Joode wette te onderhou nie; jy word ‘n Christen deur die geloof alleen! Aan die ander kant het ons Jakobus, wat vir die christelike gemeente moet verduidelik dat die belydenis dat jy ‘n Christen is, nooit gebruik kan word as ‘n dekmantel om nalatig te wees in goeie werke nie.
En natuurlik was Paulus baie goed bewus van die gevaar waarteen Jakobus stryd gevoer het. Paulus was baie goed bewus van die feit dat mense sy evangelie van ‘geloof alleen’ misbruik en verdraai het. Dink aan wat hy skryf in Romeine 6:1: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?” Dis presies wat Paulus se teenstanders gesê het: kom ons bly sondig, want dan word die genade meer! En dan antwoord Paulus in vers 2: “Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” Dink ook aan Galasiërs 5:13: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie.” Dus, Paulus was baie goed bewus van die gevaar dat mense wil glo, maar nie dink dat dit nodig is om hulle lewens te verander nie. En daarom skroom hy ook nie om op te roep tot werke van geloof nie. Dink aan Galasiërs 5:6: “Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.” En in 1 Thessalonicense 1:3 praat hy van die werk van julle geloof. Dus, in hierdie opsig is Paulus en Jakobus volledig op een lyn!
Maar hulle primêre geveg was verskillend; hulle het op verskillende fronte vir Koning Jesus geveg. Ons kan Paulus en Jakobus vergelyk met twee stryders, twee swaardvegters, wat met hulle rûe teen mekaar staan en elkeen afsonderlik die vyand bestry wat op hom afkom. Hulle staan rug teen rug, hulle staan saam, hulle is ‘n span – maar hulle veg teen verskillende vyande. Paulus veg teen diegene wat gedink het dat mense die Joodse wette (soos die besnydenis) moet nakom om Christene te kan word, en daarom sê hy: nee, geloof alleen! Jakobus veg teen diegene wat gedink het dat die geloof in Christus nie sigbaar en tasbaar in jou lewe hoef te wees nie, en daarom sê hy: nee, geloof én werke! Dus, wanneer Paulus die regverdiging deur werke afwys, dan wys hy die gedagte af dat enige iets wat óns doen ‘n bydrae tot ons regverdiging kan lewer. Slegs geloof verleen aan ons vryspraak, geen werke kan daartoe bydrae nie. Maar wanneer Jakobus die regverdiging deur werke bevestig, dan wys hy dat die geloof van die Christen nooit sonder werke kan bly nie. Egte geloof, dáárdie geloof waardeur ons geregverdig word, is nooit sonder vrugte nie! Wanneer Paulus sê dat ons geregverdig word deur die geloof alleen, dan bedoel hy daarmee dat die enigste manier hoe ons met Christus verbind word, is slegs deur op Hom te vertrou; wanneer Jakobus sê dat ons nie deur die geloof alleen geregverdig word nie, dan bedoel hy daarmee dat daardie geloof waardeur ons regverdig word nooit dadeloos bly nie, maar aktief werksaam is! Om slegs op Christus te vertrou, broers en susters, dit is hoe ons geregverdig word én dit is hoe ons geheilig word – Paulus het die een beklemtoon, Jakobus die ander. En so kon hierdie twee mekaar die broederhand gee...
Die volgende paar persone waarop ons gaan let, is Abraham en Ragab.
2. Abraham en Ragab: Jakobus gebruik hierdie twee persone uit die Ou Testament om sy punt te illustreer, sy punt dat geloof nooit sonder werke kan bly nie. Nou, Abraham (vv. 21-23) in besonder is ‘n baie interessante illustrasie – vir die eenvoudige rede dat Paulus ook na Abraham verwys om sý punt te illustreer. Kom ons blaai gou weer terug na Romeine 4 [lees verse 1-3]. Paulus haal hier (in vers 3) aan uit Genesis 15:6: “En hy (Abraham) het in die HERE geglo; en [die HERE] het hom dit tot geregtigheid gereken.” Dus, Paulus fokus hier op die begin van Abraham se verhouding met die Here (Jahwe), en hy beklemtoon die feit dat Abraham die beloftes van land en nageslag, wat die Here aan hom gegee het, in geloof aanvaar het – en dat dít hom deur die Here tot geregtigheid gereken is. Dit is die rede waarom Paulus hierdie vers uit Genesis 15 gebruik.
Jakobus gebruik presies dieselfde vers in hoofstuk 2:23, maar hy gaan nog ‘n bietjie verder. Jakobus stop nie by die begin van Abraham se verhouding met die Here nie, hy wys ook hoe Abraham se geloof in die res van sy lewe tot uitwerking gekom het – by uitstek toe Abraham van die Here die opdrag gekry het om sy seun, Isak, te gaan offer (Genesis 22). Dus, Jakobus sê: ja, dis waar, Abraham het in Genesis 15 in God geglo, maar hy het ook in die res van sy lewe deur sy dade gewys dat sy geloof ‘n egte geloof was. En uit al die voorbeelde in Abraham se lewe waarin hy sy geloof sigbaar gemaak het in dade, kies Jakobus dan hierdie een voorbeeld: ‘n bejaarde vader wat sy enigste seun op die altaar laat lê het om hom te offer, eenvoudig omdat sy God hom dit opgedra het. Sien jy daarom, sê Jakobus in vers 22, dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? Ja, Paulus kyk na daardie een oomblik toe Abraham God se beloftes in geloof aanvaar het, Jakobus kyk na Abraham se hele lewe en wys dat sy geloof ‘n lewende geloof was, ‘n geloof wat sigbaar geword het in sy werke. Abraham se geloof was ‘n heel geloof (onthou u nog, dit is Jakobus se tema in hierdie brief: heelheid van geloof). Abraham se geloof was ‘n heel geloof, wat volkome geword het (die woord in vers 22) uit sy werke.
Dan is daar nog Jakobus se tweede illustrasie: Ragab (v. 25). Ragab het in God geglo. Jakobus sê dit nie in soveel woorde nie, maar ons weet dit vanuit ander dele van die Skrif. Ons weet dit vanuit Josua 2 (die geskiedenis van die verspieders), maar dit word nog duideliker wanneer van Ragab in Hebreërs 11:31 gesê word: “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.” En dit is hierdie geloofsdáád waarop Jakobus fokus wanneer hy in vers 25 sê: “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” Dit is haar werke wat haar geloof bevestig het; dit is deur haar werke dat Ragab gewys het dat sy werklik ‘n lewende geloof gehad het in die God van Israel.
Twee illustrasies, dus, van gelowiges uit die Ou Testament wat hulle geloof sigbaar gemaak het in dade. Hoekom juis hierdie twee? Dit is nie heeltemal duidelik nie, maar dit het waarskynlik te make met die feit dat sowel Abraham as Ragab onder die Jode (en ons weet Jakobus skryf aan Joodse Christene) bekend gestaan het vir hulle gasvryheid – Abraham, toe hy die drie manne ontvang en vir hulle ‘n maaltyd voorberei het; Ragab, toe sy die verspieders ontvang en weggesteek en met ‘n ander pad weggestuur het. Gasvryheid! En dis interessant: gasvryheid – of eerder die gebrek daaraan – is juis die illustrasie wat Jakobus vroeër in hierdie gedeelte gebruik het om te wys wat die probleem is met ‘n geloof wat nie in dade tot uiting kom nie; verse 15 en 16: “As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?” Hierdie negatiewe illustrasie staan teenoor die positiewe illustrasie van Abraham en Ragab. Die een wys ‘n gebrek aan gasvryheid by iemand wat sê dat hy glo maar dit nie uitleef nie; die ander wys ware gasvryheid as ‘n daad van geloof. So konkreet maak Jakobus dit, broers en susters. So konkreet is dit vir hom: as geloof nie uiting vind in dade van liefde en gasvryheid teenoor die naaste nie, dan is dit geen egte geloof nie.
Dit kom nog nader in die derde paar waarop ek wil let: gereformeerde duiwels en duiwelse gereformeerdes.
3. Jakobus voorsien dat daar ‘n beswaar teen sy boodskap gaan wees (sy boodskap dat geloof ook in werke sigbaar moet word) – vers 18: “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke.” Dus, Jakobus verwag dat iemand gaan sê: Is dit nie maar ‘n kwessie van verskillende gawes nie? Sommige het die gawe van geloof, ander het die gawe van werke? Wel, reageer Jakobus dan in vers 18 (en hier volg ek die 2020-vertaling): “wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys”. As jy dan die gawe van geloof het, wys dit dan vir my! Maar jy doen dit nie; jy kán dit nie doen! Ja, jy het dalk ‘n baie mooi geloofsbelydenis, vers 19: “Jy glo dat God één is” – hierdie is die sogenaamde sjema, wat alle Jode geken het, die baie bekende belydenis van Deuteronomium 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” Jakobus se teenstander handhaaf hierdie belydenis, maar – sê Jakobus – wat help hierdie belydenis jou as jy nie daarop reageer nie? As jy nie daarvolgens lewe nie? Die duiwels het ook hierdie belydenis, die duiwels is ook gereformeerd in die leer – hulle glo ook dat God een is. En weet jy wat? Ten minste reageer hulle op daardie belydenis, ten minste doen dit iets aan hulle – hulle sidder, hulle bewe! Gereformeerde duiwels is daarom amper nog meer verkieslik as mense wat die regte geloofsbelydenis het, maar by wie daardie belydenis nie in dade sigbaar word nie. Gereformeerde duiwels reageer darem nog, maar by duiwelse gereformeerdes sien ‘n mens niks van hulle geloof nie. Hulle geloof is dood (vers 20).
Gemeente, dit is skerp taal, maar dit is hoe ernstig Jakobus is oor die geloof van sy lesers. En ons moet mooi verstaan: dit gaan vir Jakobus nie in die eerste plek oor die werke nie, nee, dit gaan vir hom oor die geloof. Dit gaan vir hom oor egte geloof. En egte geloof kan nooit volstaan met net ‘n mondelingse belydenis nie, egte geloof kan nooit tevrede wees met net die aanvanklike herstel van die verhouding met God nie, hoe kosbaar daardie herstelde verhouding ook al is; nee, egte geloof sal altyd verder groei en uiting vind in dade; egte geloof sal altyd, soos ‘n goeie boom, vrugte begin dra. Dit is die eie aard van ware geloof. Dus, Jakobus sê nie: goed, jy het nou geloof (dis die eerste laag), maar nou moet jy nog ‘n tweede laag daaroor heen sit: die werke. Hy maak geen skeiding tussen geloof en werke as twee aparte dade nie. Nee, Jakobus wil graag wys dat geloof in Jesus Christus altyd ‘n werkgeloof is; geloof in Jesus Christus is altyd ‘n oortuiging / ‘n oorgawe / ‘n lewenswyse wat sigbaar word in werke van liefde – net soos wat ‘n vyeboom sigbaar word aan vye, en ‘n druiwestok sigbaar word aan druiwe. Dit is nie so dat as jy geloof het, maar nog nie die werke nie, dat jy dan ten minste al 50% gevorder het nie. Nee, Jakobus sê: geloof sonder werke is geen geloof nie. As jy sê dat jy geloof het, maar jy het nie werke wat dit bevestig nie, dan het jy eintlik niks nie.
Gemeente, watter geloof het jy? Let daarop, ek vra nie waar is jou werke nie, want dit gaan ten diepste oor die soort geloof wat jy het. Ons moet terugvra na die kern, na die wortel. En dit bring ons dan ook by ons laaste paar persone: Christus en ek.
4. Onthou hoe Jakobus hoofstuk 2 begin het: die geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid. Vir ‘n ware geloof, wat sigbaar word in werke, moet ons teruggaan daarheen. Na Jesus Christus! Dit keer dat ons almal angsvallig aan die werk spring en uit vrees allerhande goeie dade begin doen. Nee, terug na die wortel, elke keer, elke dag, elke oomblik moet ons teruggaan na Jesus Christus. Dit is slegs deur ons verbondenheid met Hom dat die vrugte sal volg. Pragtig word dit vir ons verwoord in die Dordtse Leerreëls – kom ons blaai gou daarheen:
* DL 1:12 – vrugte
* DL 1:16 – middele (Bybellees, gebed, eredienste, sang, ens.)
* DL 3/4:11 – goeie werke
* DL 5:12 – sorgeloosheid is onmoontlik
Dit was sommer ‘n keur uit die Dordtse Leerreëls om vir ons te wys dat as jy die vrugte in jou lewe wil sien, dan moet jy teruggaan na die wortel. En dit is Jesus Christus. En hoe doen jy dit? Jy maak elke dag jou Bybel oop, jy lees gelowig die Here se Woord, jy bid, jy sing die Psalms, jy sorg dat jy Sondae in die kerk is, jy besoek die Bybelstudies en die katkisasies. So wil die Here werk dat die ware geloof sigbaar word in dade. En dit gaan by die een vinniger as by die ander – die Here werk nie met almal teen dieselfde spoed nie. Moet daarom nie na die ander een kyk en dink: ek wens ek kon so gelowig soos hy/sy lewe nie. Nee, moenie fokus verloor nie: kyk na Jesus Christus. Gaan elke dag opnuut deur die kruisboom, sodat die doringboom van jou lewe (wat van nature net dorings en distels dra) geleidelik ‘n vrugteboom kan word. ‘n Vrugteboom wat gevoed word vanuit ‘n lewende geloof in Jesus Christus. Sodat jou geloof saam kan werk met jou werke en sodat jou geloof volkome kan word uit jou werke (vers 22).
Amen
Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 108:1
Gebed
Doopsbediening
- Lees formulier
- Vrae + beantwoording
- Doopsbediening
- Dankgebed
- Sing Ps. 100:2 en 4
Lees: Jakobus 2:1-26 (twee dele van 13 verse elk, wat op presies dieselfde manier opgebou is: stelling, illustrasie, gevolgtrekking, dialoog, bewyse uit die Skrif, finale gevolgtrekking)
Teks: Jakobus 2:14-26
Sing Ps. 105:4 en 5
Preek
Amenlied Skr. 41:2, 5 en 7
Wetlesing
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 24:6 & 33:3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.