Lees tussen die lyne, kyk verby die gesig, en sien wat jou Here sien!

Minister: 
Ds HH van Alten
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-08-28
Text: 
Jakobus 2:1-13
Reference: 
Jakobus-reeks #3
Preek Inhoud: 

Seuns en dogters,

Hoe kyk jy na die ander kinders in jou klas? Jy is waarskynlik nie met almal in jou klas vriende nie... Dis ook moeilik – jy kan nie met almal vriende wees nie. Maar hoekom is jy vriende met sommige en nie met ander nie? Wat het gemaak dat jy hom of haar as jou beste vriend/vriendin gekies het? Dalk omdat sy pa en ma ryk is? Dalk is dit lekker om by hulle huis te speel, want hulle het altyd lekker kos en duur speelgoed? Of dalk is sy mooi en gewild en dra sy altyd nuwe klere, en dink jy dat jy daardeur ook gewild kan wees? En hoekom is daar sommige kinders wat, helaas, nie regtig maats het nie? Wat tydens pouses alleen rondloop, wat voel dat niemand vir hulle omgee nie. Nou, daar kan natuurlik verskillende redes daarvoor wees – sommige kan by die persoon self lê. Maar dink bietjie mooi na: wil jy dalk nie met hulle speel nie, omdat hulle minder geld en speelgoed het? Of omdat hulle familie nie so bekend of belangrik is nie? Of omdat sy nie so mooi is nie, of dalk klere aantrek wat nou nie heeltemal in die mode is nie? Is jy bereid om ook met daardie een te speel en vriende te wees?

Dis moeilike vrae, nie waar nie? Veral as ‘n mens nog jonk is, en as jy – soos die meeste kinders – eenvoudig aanvaar wil word. Maar, seuns en dogters, moenie dink dat, wanneer ‘n mens ouer word, dit noodwendig makliker word nie. Ook in die grootmens-wêreld sukkel ons hiermee. Ook volwassenes kyk dikwels net na die gesig – dis die woord wat Jakobus in vers 1 gebruik. Dis ‘n Woord wat slegs in die Bybel voorkom, en wat beteken dat ons net na die uiterlike dinge kyk, net na dít wat voorhande is, en dat ons op grond daarvan die een persoon voortrek en die ander een benadeel. Ook grootmense sukkel hiermee. En daarom moet ons almal, jonk en oud, vandag by Jakobus se voete gaan sit om te leer; of beter gesê: ons moet almal by Jesus se voete gaan sit. Want dis uiteindelik Hy wat ons leer...

Tema: Lees tussen die lyne, kyk verby die gesig, en sien wat jou Here sien!

 

Op die oog af is die tema wat Jakobus in hoofstuk 2 aanspreek, redelik duidelik en eenvoudig. Dis ‘n tema waarmee, ek vermoed, selfs baie ongelowiges sal saamstem, ook al is dit dan net in beginsel: jy mag nie mense beoordeel en behandel op grond van hulle uiterlike nie, of op grond van hulle rykdom en hulle status nie – en sodoende sommiges voortrek bo ander. Maar Jakobus gaan dieper as dit. En daarom het ek die tema doelbewus geformuleer: lees tussen die lyne! Ja, op die oppervlakte gaan dit oor hoe ons ander behoort te behandel en dat ons niemand mag voortrek nie, maar onder die oppervlakte lê Jakobus vir ons ‘n baie deeglike teologiese fondament. Maar ons sal tussen die lyne moet lees om dit raak te sien. Kom ons kyk daarom saam...

Jakobus begin in vers 1 deur te sê dat aanneming van die persoon (of beoordeling op grond van die uiterlike, soos die 2020-vertaling dit het) nie pas by ons geloof in Jesus Christus nie. Dis die eerste ding wat ons moet opmerk: hoe ons met ander mense omgaan, of ons hulle voortrek of benadeel – dit het alles te make met ons geloof in Jesus Christus. Maar dan voeg Jakobus nog ‘n opmerklike uitdrukking by: hy praat van Jesus Christus “die Here van die heerlikheid” – doksa in Grieks. Die katkisante sal hooplik nog kan onthou dat ons die afsluiting van die Onse Vader-gebed ook die doksologie noem: “want aan U behoort die koninkryk, en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid.” Nou, dis presies hoe Jakobus die Here Jesus beskryf: die Here van doksa, die Here van die heerlikheid. En daarmee gee hy indirek antwoord op die vraag wat ons voor die preek in Psalm 24 gesing het: “Wie is die Vors vol majesteit?” Of soos dit in ons Bybels vertaal is: “Wie is tog die Erekoning?” (Ps. 24:8 & 10). Letterlik: “Wie is tog die Koning van heerlikheid?” Jakobus se antwoord op hierdie vraag is: Jesus Christus is die Koning van heerlikheid! Sy heerlikheid, sy majesteit is so oorweldigend dat daarmee al die glorie van hierdie wêreld oorskadu word. As Hy ons Koning is, as ons in Hom glo, dan word al die glorie van hierdie wêreld vir ons onbelangrik.

 

Maar ons moet nog verder tussen die lyne lees, want in vers 5 sê Jakobus vir ons dat hierdie Koning – die Here van die heerlikheid van vers 1 – dat Hy die gelowiges uitverkies het as erfgename van sy koninkryk. Die gelowiges het dus nie net ‘n Koning vol heerlikheid nie (vers 1), hulle word ook burgers van sy koninkryk (vers 5)! Maar ons moet mooi lees hoe Jakobus dit stel; hy sê dat die Koning “die armes van hierdie wêreld uitverkies het as rykes in die geloof”. Die gelowiges, hulle wat ryk is in die geloof – hulle is die armes van hierdie wêreld. Wat presies bedoel Jakobus hiermee? Ons weet naamlik dat die sogenaamde bevrydingsteologie (onthou maar hierdie naam; in Engels: ‘liberation theology’) hulleself baie graag op hierdie vers beroep. Die bevrydingsteologie glo dat Jesus gekom het om die onderdruktes van hierdie wêreld te bevry. Dus, Jesus se taak was nie om vir die sondes van mense te sterf nie, maar eerder om dié mense wat materieel arm is en wat polities onderdruk word, te kom bevry; en daarmee saam het Hy ook gekom om die strukture wat armoede en onderdrukking in stand hou, omver te werp. Dit is daarom verstaanbaar dat hierdie bevrydingsteologie veral in Latyns-Amerika en Afrika floreer – dáár waar die meeste armoede en politieke onderdrukking te vinde is. En dit is verstaanbaar dat ‘n vers soos hierdie vir hulle so sentraal staan.

Maar is dit wat Jakobus hier bedoel? Nee, gemeente, met die ‘armes’ bedoel Jakobus nie nét en nie in die eerste plek mense wat materieel arm is nie. Nee, vir Jakobus gaan dit baie breër – dit gaan vir hom hier oor almal wat nie aan die standaarde van hierdie wêreld voldoen nie – wat nie die standaarde van rykdom en skoonheid en status en mag, wat vir hierdie wêreld so belangrik is, navolg nie. Dikwels in die geskiedenis was dit juis húlle wat tot geloof gekom het. Dis presies wat Paulus in 1 Korinthiërs 1:26-29 bevestig; hy sê daar vir die gelowiges in Korinthe: “... julle is nie baie wyse na die vlees [volgens wêreldse maatstawwe] nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” Ook hier gaan dit dus oor mense wat oor die volle breedte van die samelewing nie aan die maatstawwe van hierdie wêreld voldoen nie. Maar dis juis hulle wat uitverkies is as rykes in die geloof – en hulle rykdom, so sê Jakobus verder in vers 5, bestaan hierin dat hulle erfgename van die koninkryk mag wees. Hulle word burgers van die koninkryk van die hemele wat die Koning beloof het aan die wat Hom liefhet. Hierdie laaste is ‘n belangrike toevoeging – want dit bewys vir ons dat die armes (dié wat nie aan die maatstawwe van die wêreld voldoen nie) nie die koninkryk verkry eenvoudig omdat hulle arm is nie; armoede en onderdrukking gee ons op sigself nog nie die reg op die koninkryk nie. Nee, dit is die wat Hom liefhet wat die koninkryk as erfenis verkry... en vir die armes is die liefhê soms net effens makliker.

 

Maar ons moet nog verder tussen die lyne lees... Ons glo in die Here van die heerlikheid, die Erekoning (vers 1); ons word deur die geloof burgers van sy koninkryk (vers 5); maar dan is dit mos logies dat ons ook volgens die wet van sy koninkryk sal lewe, nie waar nie? Dis mos goed vir onderdane van Koning Jesus om volgens die wet van die koninkryk te lewe? Nou, dit is presies wat Jakobus enkele verse later in vers 8 sê: “As julle ewenwel die koninklike wet volbring...” – let op, die ‘koninklike wet’. Dus, ons het die Koning, ons het sy koninkryk, en nou het ons ook sy koninklike wet. En daardie koninklike wet, só sê Jakobus verder in vers 8, vind ons in die Skrif, en dit leer vir ons: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (ons het daarvan gelees in Levitikus 19, en dit word herhaal deur die Here Jesus in Mattheus 22). As julle dit doen, sê Jakobus, dan doen julle goed! Dan lewe julle nie net volgens die kóninklike wet nie, maar meer nog: dan lewe julle volgens die wet van vryheid. Kyk maar na vers 12: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.” In die koninkryk van Jesus Christus is daar nie dwang nie, broers en susters. In die koninkryk van Jesus Christus word ons nie opnuut gebind in slawerny nie. In die koninkryk van Jesus Christus is daar vryheid – vryheid deur die Koning se genadewerk aan die kruis, sodat ons vir Hom kan lewe, vryheid om gewilliglik sy wil na te kom, vryheid om God en ons naaste lief te hê. En wie so lewe, hoef nie bang te wees vir wanneer die Koning terugkom om te oordeel nie (vers 13).

--------------------

Sien u, broers en susters, watter geweldige teologiese fondament daar onder Jakobus se etiese behandeling hier in hoofstuk 2 lê? Ons spring weg, ons lees hoofstuk 2, en ons dink onmiddellik dat dit hier gaan oor hoe ons ander mense behoort te hanteer, dat ons nie die een persoon mag voortrek bo die ander nie. Maar dit gaan baie dieper as dit. Dit gaan heel eerste oor die Erekoning – sy heerlikheid en majesteit is so geweldig groot! Dit is Hy van wie die ontelbare skare engele in Openbaring 5:12 uitroep: “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” En dit word vervolgens bevestig deur alle skepsele in die hemel en op die aarde: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid” (Op. 5:14). So skitterend is sy heerlikheid dat alle eer en glorie en rykdom en status, wat ons mense so belangrik ag, volledig in die niet verdwyn. Wie kan kers vashou by die ontoeganklike lig wat die Koning van die konings en die Here van die here bewoon?” (1 Tim. 6:15-16). Hoe kan menslike aansien en aardse rykdom en skoonheid vir ons nog belangrik wees, hoe kan hierdie dinge nog ons maatstaf vir beoordeling wees as ons gekonfronteer word met die heerlikheid van die Erekoning?

Maar dit gaan buiten die Erekoning in sy heerlikheid ook oor ons, die gelowiges – die armes van hierdie wêreld. Wat beteken ons werklik in hierdie wêreld? Ag, soms dink ons dat ons belangrik is, soms dink ons dat ons iets beteken as ons, byvoorbeeld, meer geld as ander het, of as ons ‘n leerling by ‘n gesogte skool is, of as ons ‘n A-kandidaat in akademie is, of as ons foto in die koerant verskyn. Maar nee, broers en susters, ons is regtig nie belangrik nie. In wêreldse terme is niemand van ons van adellike afkoms nie, in wêreldse terme is ons regtig nie baie invloedryk nie, en as ons onsself vergelyk met die superrykes van hierdie wêreld, dan het ons regtig nie so baie nie. Tussen die 8 biljoen mense wat hierdie aarde bewandel, word daar nie eintlik aandag aan die Christene gegee nie. En tussen die amper 200 lande wat deur die Verenigde Nasies erken word, word die koninkryk van die hemel waarvan ons burgers is, nie saamgetel nie. Die paspoort van die hemelse koninkryk, waarvan ons besitters mag wees deur die geloof, gaan ons nie deur die doeane by Schiphol of Heathrow vat nie.

Sien u – die Koning in sy heerlikheid, en die armes van hierdie wêreld as sy onderdane. En tussen hierdie twee – tussen die heerlikheid van die Koning, en die kleinheid van die burgers van sy koninkryk – lê daar die koninklike gebod om eenvoudig lief te hê sonder aansien van die persoon. Dit is eers wanneer ons hierdie teologiese onderbou verstaan, dis eers wanneer ons tussen die lyne gelees het, dat ons kan begin nadink oor die onderwerp wat Jakobus hier in hoofstuk 2 behandel.  

-------------------

Eers dan kan ons begin nadink oor die hipotetiese geval wat Jakobus in verse 2-4 vir ons gee. Veronderstel, sê hy, daar kom in julle vergadering ‘n man met goue ringe aan die vingers en met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan. Kan jy jouself voorstel, in die lig van wat ons in die eerste deel van die preek gehoor het, dat ons vir die ryk man sal sê: kom sit jy op hierdie goeie plek; en vir die arm man sê ons: gaan staan jy daar, of gaan sit daar op die grond. Kom ons maak dit ‘n bietjie meer konkreet – ‘n gesiene persoon uit die Moot en ‘n boemelaar, altwee besoek vandag ons erediens; vir die gesiene persoon nooi ons om hier by die ouderlinge te kom sit, vir die boemelaar sê ons om daar agter in die hoekie op die grond te gaan sit. Dan vra Jakobus: “Het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?” Jakobus plaas sy lesers – én ons – op een lyn met regters wat hulleself tydens ‘n hofsaak deur verkeerde oorwegings laat lei. Dit vat ons nogmaals terug na Levitikus 19, waar ons in vers 15 lees: “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy jou naaste oordeel.” Dit is die konteks waarbinne Jakobus sy hipotetiese geval plaas – die konteks van die regspraak. En dit is belangrik dat ons hierdie konteks sal raaksien – want dink hieroor na, as die Erekoning, die Here van die heerlikheid, óns volgens óns uiterlike sou beoordeel het (volgens ons rykdom of skoonheid of status), sou ons dan nog steeds erfgename van sy koninkryk geword het? As Koning Jesus sou oordeel op die manier waarop ons dikwels ander oordeel – as Hy sou gekyk het na rykdom en aansien en status en skoonheid, soos wat ons maar al te dikwels doen – wat sou dan van ons geword het? Die maatstawwe waarvolgens julle oordeel, is dus verkeerd, sê Jakobus.

En daarby is julle ook nog vergeetagtig... Want is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? (vers 6) Let op, weer die konteks van die regspraak! Dit gaan hier vir Jakobus oor ryk Jode, wat nie in Christus glo nie, wat hulle christelike volksgenote (onthou: Jakobus se lesers is gelowiges uit die Jodendom) onderdruk en vervolg. Dit word nog duideliker wanneer ons vers 7 daarmee saam lees: “Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie?” Dit gaan dus hier oor sowel maatskaplike as godsdienstige verdrukking deur die ryk Jode. Julle, sê Jakobus vir sy lesers, gebruik wêreldse maatstawwe om die rykes voor te trek en die armes te benadeel, maar kyk mooi: die rykes gebruik daardie einste wêreldse maatstawwe om julle te onderdruk en voor die regbanke te sleep. Julle is burgers van die koninkryk van die hemele, maar julle verlaag julleself tot wêrelde standaarde.

Dink na oor wat julle doen: die wet van die koninkryk veroordeel julle as oortreders wanneer julle partydig is (vers 9) – vir ‘n derde keer gebruik Jakobus die konteks van die regspraak. En moenie dink, sê hy in verse 10 en 11, dat omdat julle die hele wet onderhou, maar net in hierdie een opsig verkeerd optree, julle vrygespreek sal word nie. Nee, wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword. Sien jy, dis hoe ernstig die Here partydigheid, aanneming van die persoon, beoordeel – jy het dalk nie egbreuk gepleeg nie, maar moenie dink dat jy daarmee onskuldig voor die wet staan nie. Want as jy partydig is, as jy sommiges benadeel op grond van wêreldse maatstawwe, dan is jy skuldig aan moord. Jy tree liefdeloos teenoor daardie persoon op, en in die Bybel is ‘n gebrek aan liefde teenoor die naaste gelyk aan moord. Wie in die koninkryk van die hemel opgeneem is, maar dan nogtans sy naaste liefdeloos behandel en hom benadeel, word van moord aangekla – Koning Jesus, in al sy heerlikheid, word dan jou Regter. En sy heerlikheid word dan ‘n verterende vuur.

------------------------

Broers en susters, in die gemeente sal daar altyd verskille wees. Verskille in rykdom, verskille in sosiale status, verskille in opleidingsvlak, verskille in uiterlike skoonheid, verskille in besigheidsukses, verskille in kleredrag en -styl. Maar wanneer ons deur die Here van die heerlikheid aangeneem word as burgers van sy hemelse koninkryk, dan kry ons die opdrag om verby die ‘gesig’, om verby die uiterlike dinge te kyk. Net soos wat Hy verby jou uiterlike dinge gekyk het en jou uit pure genade aangeneem het, so moet ons ook mekaar aanneem. Dit kan nie, dit mag nie wees nie dat ons hier in die gemeente (wat die vergestalting van die koninkryk op aarde is) mense uitsluit omdat hulle arm is, omdat hulle uit ‘n minder gegoede omgewing kom, omdat hulle eenvoudige werk doen, of om enige ander uiterlike rede nie. En niemand van ons sal dit waarskynlik openlik doen nie, maar so maklik kan dit subtiel gebeur. So maklik kan ons – en dit is een van die dinge wat genoem is tydens die gemeentevergadering waar ons oor die swak en sterk punte van die gemeente gepraat het – so maklik kan ons ons groepies vorm. Nou, na die erediens, gaan staan ons in ons groepies, want ons praat nie graag met daardie ander een nie; hy of sy pas nie heeltemal by my status nie. So maklik kan die kerkraad, wanneer die talstelling binnekort weer gedoen word, mense vir ouderling of diaken voorstel omdat hulle gesiene mense in die samelewing is. So maklik word mense uitgeskuif omdat hulle nie inpas binne ons norm van sosiale aanvaarbaarheid nie. So maklik, seuns en dogters, kan julle by die skool maats kies omdat hulle ryk of mooi is, en so maklik kan ander uitgesluit word omdat hulle arm is en ou klere dra.

Kom ons ondersoek onsself, kom ons kyk na ons optrede teenoor ander in die lig van die heerlikheid van ons Koning. En dan begin ons anders kyk, dan begin ons kyk soos wat Paulus ons leer in 1 Korinthiërs 12: “... veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee.” Sien u, God meet met ander maatstawwe. In sy koninkryk is genade en liefde die norm. Dank Hom daarvoor, want sodoende het jy en ek – wat armes in die wêreld is – erfgename van die koninkryk geword. Gaan en doen jy nou net so!

Amen

 

Liturgie: 

Votum & Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 145:1, 8, 10, 12

Wetslesing

Sing Ps. 86:3 en 6

Gebed

Lees: Levitikus 19:14-18

Teks: Jakobus 2:1-13

Sing Ps. 24:4 en 5

Preek

Amenlied Skr. 21:4-6

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 9:3-5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.