In min lande is die oproep van Jakobus so aktueel as in Suid-Afrika.
Laat jou ja ja wees en jou nee nee.
Mens kan dink aan hoe daar meineed in die howe gepleeg word.
Dit beteken dat die eed afgelê word, maar dat mense tog vir die regter lieg.
Maar nie net dit nie.
Ook in die alledaagse lewe gebeur dit so dikwels dat mense se ja nie ja is nie.
Hoe dikwels hoor ek nie, ja dominee, en dan wonder ek: Bedoel die persoon dit nou regtig, of probeer hy of sy net van my af te kom?
Hoe dikwels sê kinders nie ja vir hulle ouers, maar met so ‘n stemtoon dat die ouers by voorbaat al weet hulle gaan nie doen wat hulle belowe nie.
Hoe dikwels hoor ‘n onderwyser nie, ja juffrou, as sy die klas vra om stil te bly, maar ‘n minuut of twee later gons dit weer van die klets.
En dan kan mens net dink aan hoeveel skade oneerlikheid in die sakewêreld veroorsaak.
As ‘n bouer inderdaad begin bou op die dag wat hy belowe het, dan is ons eintlik verras, ons het dit nie verwag nie.
As ‘n pasiënt inderdaad die doktersrekening betaal direk nadat hy dit telefonies belowe het, dit is uitsonderlik.
As ‘n persoon inderdaad die skade vergoed, nadat hy jou kar gestamp het, en nie skielik ‘n ander storie vir die versekering vertel nie.
Die samelewing gaan gebuk onder mense se oneerlikheid.
Grondliggend daaraan is selfsug, mense wat hulleself en hulle belange eerste plaas.
Die gebod dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, is ver te soeke.
En daaronder lê dat die vernaamste gebod, liefde vir God en eerbied vir sy naam, ook ver te soeke is.
Tema: Eerbied vir God se naam maak die lewe gesond
Nou gaan dit in vers 12 van Jakobus 5 nie net oor naasteliefde nie, maar ook oor die liefde vir God.
En dit is die verband met die derde gebod, wat kom uit die eerste tafel van die wet, hoe ons vir God moet liefhê bo alles.
Jakobus skryf: Moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie.
Ons glo dat Jakobus hierdie in opdrag van die Heilige Gees geskryf het.
Wat bedoel die Heilige Gees hiermee?
Hierdie vraag is aktueel, omdat Sondag 37, wat ons vanaand gelees het, in stryd klink hiermee.
In Sondag 37 word naamlik wel die ruimte gegee om ‘n eed af te lê.
Kom ons begin by die volgende woorde van Jakobus:
Moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie.
Die Jode van daardie tyd het uiteraard die derde gebod goed geken.
Die mense aan wie Jakobus sy brief skryf, onder hulle was daar baie Jode wat Christene geword het.
Hulle het goed verstaan wat Jakobus hier bedoel.
Want die Jode van daardie tyd het die gewoonte begin ontwikkel om by ander dinge te sweer.
Hulle het geweet dat jy nie die Naam van die HERE ydelik mag gebruik nie.
Dus het hulle by die hemel begin sweer, of by die aarde, of by Jerusalem.
Wel, Jakobus is duidelik daaroor dat dit ‘n slegte gewoonte is.
Om ‘n eed af te lê, roep altyd die herinnering aan God se naam op, ook so ‘n indirekte eed.
Sy naam word wel nie eksplisiet gebruik nie, maar tog ... sy naam skyn ook in al sy werke!
Mens kan dit bietjie vergelyk met mense wat tegnies nie God se naam ydelik gebruik nie.
Hulle sê byvoorbeeld nie O my God nie.
Maar hulle sal sê: O my gosh.
Of mense sal in Afrikaans jisses of jis sê.
Dit klink tegnies nie soos Jesus nie, maar is wel ‘n verbastering van sy naam.
Met hierdie tipe gewoontes bevind jy jou in ‘n grys gebied.
Jakobus is duidelik: Bly weg daarvan af.
Dit is ‘n hellende vlak.
Dit lei tot direkte misbruik van sy naam.
Om saam te vat: Dit is duidelik wat hier bedoel word.
Jakobus, in opdrag van die Gees, keur hierdie gewoonte duidelik af.
Maar nou kom ons by die volgende woorde, waar Jakobus eksplisiet sê:
Moenie sweer nie. En ook geen ander eed nie.
Hoe moet ons dit verstaan?
Is ‘n eed aflê onder alle omstandighede verbode?
Duidelik is die Kategismus van ‘n ander mening.
Sondag 37 verwys na voorbeelde in die Bybel waar gelowiges wel die eed afgelê het, beginnende by Abraham – Genesis 21.
Toe Abimeleg van Abraham versoek het om ‘n eed by God af te lê, het Abraham gesê:
“Ek sweer.” (Gen 21:24)
En soos ons weet, Abraham was ‘n gelowige.
Die feit dat hy gesweer het, word in Genesis nie beskryf asof dit ‘n sonde was nie.
Dan was daar Jakob wat ook gesweer het – Genesis 31:53.
Ook Dawid het gesweer.
Toe Saul vir hom vra om te sweer dat hy sy nageslag nie sal uitroei nie, het Dawid daardie eed inderdaad afgelê.
En daar is nog meer voorbeelde uit Dawid se lewe waar hy by God gesweer het (bv. 2 Sam 3:35).
Byvoorbeeld toe Batseba doodsbenoud was vir haar seun Salomo se lewe, omdat toe Dawid op sy sterfbed lê, sy ander seun Adonia die mag probeer oorneem het.
Batseba het Dawid toe herinner aan sy eed dat Salomo sy opvolger sou word.
En Dawid het daardie eed bevestig deur opnuut te sweer: “So waar as die HERE leef wat my uit alle benoudheid verlos het, sekerlik, soos ek u by die HERE, die God van Israel, gesweer en gesê het dat u seun Salomo na my koning moet word en hy op my troon moet sit in my plek, sekerlik so doen ek vandag nog.” – 1 Konings 1:29-30.
Ook Dawid was ‘n gelowige en die feit dat hy gesweer het, het God hom nie kwalik geneem nie.
Uit Dawid se lewe, uit die Psalms wat hy gedig het, kan ons nie agterkom dat hy ondeurdag, oneerbiedig, gewoond was om te sweer nie.
Wel het hy – soos die Kategismus verwoord – dit tot eer van God en tot heil van sy naaste gedoen.
Nou is daar mense wat beweer:
Ja, in die Ou Testament het die mense nog gesweer.
Maar nadat Jesus gekom het, het dinge verander.
Jesus het ons opgeroep in sy Bergrede, Mattheüs 5:34-37: “Sweer hoegenaamd nie – nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning ... Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.”
En wat Jakobus skryf, kom woordeliks met Jesus se oproep ooreen.
Jesus, word beweer, het dus ‘n nuwe standaard vir die Nuwe Testament ingestel.
Voortaan is die eed verbode.
So is daar sommige kerklike groeperings – hulle was daar in die 16de eeu toe die Kategismus geskryf is, hulle is ook nog daar vandag – wat in alle omstandighede weier om die eed af te lê.
Weer eens dus die vraag: Is die Kategismus verkeerd met sy uitleg dat die eed wel nog gebruik mag word, op voorwaarde dat dit met eerbied gebeur?
Gemeente, wat opvallend is, is dat daar onderaan die v/a 37 nie net bewystekste uit die Ou Testament staan nie, maar ook uit die Nuwe.
Daar was inderdaad ook gelowiges waaroor ons in die Nuwe Testament lees, wat die eed gebruik het, en dan ook reg gebruik het.
Dink aan Paulus, daar is ‘n paar voorbeelde uit sy briewe.
Romeine 1:9: “Want God ... is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink”.
Die wese van ‘n eed is dat jy God as getuie aanroep, omdat slegs Hy jou hart ken, jou gedagtes kan lees.
Dis wat Paulus doen, hy roep God as sy getuie aan.
Ook skryf Paulus in Romeine 9:1: “Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie – my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees – dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.”
Wat was hier die geval?
Die Jode was baie negatief oor Paulus.
Hy, die apostel van die heidene, is beskuldig dat hy die Jode totaal afgeskryf het.
Nee, sê Paulus, en dan skryf hy dat die Heilige Gees saam met sy gewete getuig: dit is nie so nie.
Dan volg daar ‘n hele gedeelte in die Romeinebrief waaruit ons kan opmaak hoe ongelooflik verdrietig Paulus was, hoe groot smart daar in sy hart was oor die feit dat die Jode die Messias verwerp het.
Hy sou selfs, skryf hy, self verlore gaan in ruil daarvoor dat heel Israel gered kan word.
Sterker kon hy dit nie gestel het nie.
Daar is nog ‘n voorbeeld in die Bybel waar Paulus baie duidelik ‘n eed sweer.
2 Korinthiërs 1:23: “Maar ek roep God as getuie aan oor my siel dat ek om julle te spaar nog nie na Korinthe gekom het nie”.
Ook hier het ons te make met ‘n situasie wat deur Sondag 37 getipeer word met die woorde: “as die nood dit vereis.”
Ook hier, net soos in Romeine, was Paulus se verhouding met sommige mense versteur.
Daar het ‘n diepgewortelde wantroue posgevat onder die Korinthiërs.
Die Korinthiërs het Paulus beskuldig dat hy mooi woorde skryf, maar dat hy te bang is om weer na Korinthe te kom.
Hy is soos ‘n hond wat blaf, maar sonder tande.
In hierdie konteks verduidelik Paulus dan hoekom hy nog nie weer in Korinthe was nie.
Paulus het hierdie wantroue so ernstig opgevat, dat dit vir hom die gebruik van ‘n eed geregverdig het.
Dit was wat hom betref ‘n noodsituasie – dink aan Sondag 37 se woorde: “as die nood dit vereis”.
Om saam te vat: In die Nuwe Testament is daar dus ook voorbeelde van gelowiges wat die eed sweer.
Nou moet ons vra: Was hulle dan ongehoorsaam aan Jesus se oproep om glad nie te sweer nie?
Gemeente, daar is nog ‘n voorbeeld in die Nuwe Testament, ‘n voorbeeld wat deurslaggewend is.
Want in Mattheüs 26 sien ons dat ook Jesus ‘n eed aflê.
Jesus staan daar voor die Joodse raad, wat Hom ondervra.
Die hoëpriester sê dan vir Hom: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?” (vers 63)
Hy vra dus vir Jesus om ’n eed af te lê.
En dan, nadat Hy lank stilgebly het, antwoord Jesus: “U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.”
Jesus se woorde “U het dit gesê” kan mens vergelyk met hoe mense deesdae in die hof hulle vingers moet opsteek, as teken dat hulle ’n eed sweer.
Nou staan ons oënskynlik voor ‘n dilemma.
Aan die een kant sê Jesus in die Bergrede: “Sweer hoegenaamd nie” (Matt 5:34).
Aan die ander kant lê Jesus self die eed af.
Moet ons nou vir Jesus sê: Practise what you preach ... U dade stem nie ooreen met u woorde nie?
Nee, gemeente, en wat dit betref gee Sondag 37 die regte uitleg.
As die owerheid dit van sy onderdane eis, dan moet ons dit gehoorsaam.
Christus was gehoorsaam aan die owerhede wat bo Hom gestel was op aarde.
En toe Hy moes sweer, het Hy dit gedoen om trou en waarheid te bevestig.
Ons kan daarom die Skrif se onderrig oor die eed in kort soos volg opsom:
Beperk die aflê van die eed tot die minimum.
Moet veral nie ‘n gewoonte daarvan maak, soos van: ek sweer dit, ek sweer dat, ...
By wie die hele tyd sweer, as dit oor alledaagse sake gaan, kan jy by voorbaat al sê dat daardie persoon onbetroubaar is.
Onder gelowiges onderling behoort die eed glad nie nodig te wees nie.
Ons leef in ‘n land waar iemand se ja-woord amper niksseggend geword het.
Maar in die gemeente van Christus moet dit anders wees.
Hier is ons ja, ja, en ons nee, nee.
Nie dat dit verbode is dat gelowiges die eed teenoor mekaar aflê nie.
Paulus het teenoor die Korinthiërs ‘n eed gesweer.
Maar dit was ‘n noodsituasie, dit was ‘n situasie waar daar sistemiese wantroue ontstaan het.
In die gemeente van Christus behoort ons mekaar te vertrou, in alle opsigte.
Ons mag ook nie agterdogtig raak nie, maar moet gewoon uitgaan van ons mede-gemeentelede se integriteit.
Dit dus ten eerste: ‘n eed kan afgelê word as die nood dit eis, in die samelewing en by hoë uitsondering tussen gelowiges.
En dan tweedens het die owerheid die reg om van sy onderdane die eed te eis.
‘n Reg wat Christus self eerbiedig het.
Ons kom terug by Jakobus, en by Jesus se uitspraak in die Bergrede.
Eie vir die Bergrede is die geweldig kragtige manier hoe Jesus sy onderrig verwoord.
Byvoorbeeld: “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af” (Matt 5:29).
En: “En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af” (Matt 5:30).
Jesus het tydens sy bediening op aarde nie geëis dat sy dissipels hulle hande moes afkap of hulle oë moes uitruk nie, al was daar ongetwyfeld voorvalle wat dit sou geregverdig het.
Jakobus, wat Jesus woordeliks volg, neem ook hierdie baie kragtige taalgebruik oor.
Baie eksplisiet keur hy hierdie slegte gewoonte om ligvaardig te sweer af.
Maar dit geld nie vir as die eed terughoudend en met eerbied gebruik word nie.
In die konteks van die res van die Skrif verstaan ons dat die eed wel gebruik mag word, onder hierdie voorwaardes.
Jesus se woorde onderstreep wel die erns daarvan.
Jakobus beklemtoon dit ook met die opmerking: “sodat julle nie onder ’n oordeel val nie” (Jak 5:12).
Dit stem heeltemal ooreen met die derde gebod, waaraan die HERE ook ’n baie ernstige bedreiging toevoeg: “die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Ex 20:7).
Jesus het gekom om die wet te vervul.
In sy Bergrede kondig Hy die koms van sy koninkryk aan.
As sy koninkryk op aarde gevestig is, sal dit inderdaad so wees dat die eed nie meer nodig sal wees nie.
Vanweë die verdorwenheid, die onbetroubaarheid, die skelmheid van die menslike geslag moes die eed ingestel word.
Maar in Christus se koninkryk sal dit verlede tyd wees.
Christus se gemeente is al ’n voorbode van sy koninkryk.
Daarom dat in sy gemeente die eed so goed as oorbodig is.
Wat ’n voorreg om in so ’n geloofsgemeenskap te mag lewe.
Hier pluk ons die vrugte van die Gees, wat ons lewens vernuwe, wat vertroue terugbring te midde van ’n onbetroubare mensheid.
En dit begin alles by liefde vir God – die eerste tafel van die wet; eerbied vir sy naam.
As dit ’n realiteit is in ons lewens, in ons huwelike en gesinne, in ons gemeente, dan raak ons onderlinge verhoudings ook gesond.
Eerbied vir God se naam maak die lewe gesond.
Onderhouding van die derde gebod, eerbied vir God se naam, lei tot die vervulling van die tweede tafel van die wet.
Dit kom dan as ’t ware outomaties.
Ons sal dan ook ons naaste se naam hooghou – dink aan die negende gebod.
Ja ook in ons naaste kry ons te make met die heerlike naam van ons God.
In die lig van alles wat Christus ons skenk, wat ons vandag aan die nagmaal weer by stilgestaan het, in die lig daarvan, wie sal dit nog in sy kop haal om sy naam te misbruik, ydellik, goedkoop in die mond te neem?
So word ons lewens en ons saamleef gesond, omdat die heerlikheid van God se naam daaroor skyn.
Ons mog aan die nagmaal die heerlike naam van ons Heiland verhoog.
Hy het sy naam – Jesus – wat Redder beteken, eer aangedoen, toe Hy vir ons sondes gesterf het.
Ons sal daarom sy naam prys, nou en vir die res van ons lewe.
“Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam.” (Ps 103:1)
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Matthëus 5:33-37; Jakobus 5:12
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 36-37
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Watter invloed het die derde gebod op die tweede tafel van die wet?
- Watter gewoontes kan ‘n opstappie wees om die derde gebod te oortree?
- Noem ‘n paar gelowiges uit die Bybel wat ‘n eed gesweer het.
- Daar is mense wat beweer dat gelowiges in die Nuwe Testamentiese tyd glad nie meer ‘n eed mag aflê nie. Verduidelik hoekom dit nie korrek is nie.
- Onder watter omstandighede word ons opgeroep om die eed te gebruik?
- Het jy al die eed afgelê? Wanneer?
Votum
Seën
Ps 144:3-5
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Nagmaalsviering
Skriflesing: Matthëus 5:33-37; Jakobus 5:12
Ps 89:2
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 36-37
Preek
Ps 103:1
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 110:5
Kollekte
Ps 105:1,2,6
Seën