Jerusalem, die dal van die gesig, gaan onder omdat sy nie alleen wil leef van God se leiding by monde van sy profeet nie

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria
Date: 
2022-05-22
Text: 
Jesaja 22:1-14
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

In tyd van krisis en ellende word duidelik op wie jy vertrou. Is dit op God, die Vader van ons Here Jesus Christus of op jouself en jou vermoë soos baie mense met wie jy te doen het? Hoe treurig en trietsig is dit wanneer kinders van God soos die mense van die wêreld leef en werk en nie op God vertrou nie.

In die lewe vanuit Christus, in die kerk behoort ons nie God se beskermende hand mis te kyk nie, want ons kyk vanuit geloof omdat ons God se Woord hoor, waardeur sy Gees vir ons lei. Soos Jesaja in ons teks Jerusalem die dal van die gesig genoem het, so mag ons gemeente ook heet in terme van die Woord wat ons duidelik toon hoedat ons God, God van die leërskare alles beheers. Hy lei ons lewe ter wille van sy Seun Jesus Christus.

Mense is geneig om in moeilike situasies alles te doen behalwe om alleen op God te vertrou. Terwyl God alles beheers en vir sy kinders alles ten goede laat meewerk maar ons nie in ons eiegeregtigheid te versterk nie.

Ons word vermaan om te leef van God se heerskappy oor ons en oor alles ter wille van sy Seun Jesus Christus, ook wanneer dit met ons voorspoedig gaan. Hy hou ons, sy kinders in sy vaderhand in alle omstandighede. Ons hoef op geen menslike arm staat te maak nie.

Die verkondiging van die Woord van God van Jesaja 22 oor Jerusalem het, lei ons af, plaasgevind in die laaste gedeelte van koning Hiskia se koningskap van Juda, rondom 715vC. Die grootmoëndheid Assirië het Jerusalem bedreig. Samaria het reeds in 722 voor hierdie mag geval. Vroom koning Hiskia het die volk gelei om Jerusalem te versterk in voorbereiding op ‘n aanval sodat sy behoue bly. 

Dit was egter God self wat die stad van ‘n Assiriese inval gered het, 2 Kronieke 32. 

Daar is verskillende raakpunte tussen die agtergrond van 2 Kronieke 32 en die besonderhede van die Godspraak of profesie van Jesaja 22:1-14. Maar nou verskil die gebeure van die profesie van Jesaja 22:1-14, van die gebeure van 2 Kronieke 32. Want ons weet van 2 Kronieke 32 Hiskia het persoonlik op God vertrou maar ons lei af dat Jesaja 22 wat ‘n profesie oor die ondergang van Jerusalem is, omdat die volk nie op God vertrou het nie, ‘n toekomstige aanval, inval en verwoesting van Jerusalem aandui. Jesaja spreek God se Woord tot Jerusalem van sy dag onder koning Hiskia, maar hy gee van God ‘n gesig van die verwoesting wat sal kom, (berou op hierdie Woord en terugkeer tot God sal hulle redding wees, maar hulle sal nie wil terugkeer nie, en daarom is hulle toekomstige ondergang verseker). Hierdie profesie van Jesaja 22:1-14, dui op die Babiloniëse aanval en die verwoesting van Jerusalem in 586 vC (2 Kon. 25). 

Dit word verder bevestig deur die eenheid van Jesaja hoofstukke 21 en 22: 1-14. Want in Jesaja 22:1-14 word daar deur Jerusalem nie op God vertrou nie en dit volg op die profesie teen Babilonië, Edom en Arabië in Jesaja 21. Ons teks vorm ‘n groter eenheid met hoofstuk 21. Jerusalem is die dogter van God se volk. God se volk wat sy dogter is en wat Hy oneindig liefhet. Dit sal nie goed gaan met haar nie. Die vyand sal haar aanval, onteer en vertrap. Daar sal oorlogsrumoer en verwarring wees. Sy sal in moedswilligheid ‘n deterministiese vrolikheid hê sonder blydskap van lewe met haar God. Sy sal optree soos iemand wat nie op God vertrou nie in die krisis waarin sy haar bevind. Sy is die dogter van God se liefde maar sy is blind vir God en sy liefde vir haar. Want in die dal van die gesig kyk sy nie, wil sy God en sy hand nie sien nie.

Waarom hierdie profesie van Jesaja? Jerusalem tree op as een van die nasies. Sy soek die nasies en probeer hulle in alles nadoen. Soos hulle vertrou sy op mense in plaas van op God. Sy doen alles behalwe om op God te vertrou. Daarom stuur God sy profeet om ‘n Godspraak of profesie of gesig aan Jerusalem voor te hou. Hoofstuk 21 lees ons reeds van drie Godsprake, naamlik oor Babilonië, Edom en Arabie. In hoofstuk 22 is die Godspraak oor Jerusalem die vierde profesie in die ry, en dit deel met die eerste drie die gevolge van ‘n geweldige storm wat ontketen word. In 21:1, kom uit die woestyn uit ‘n verskriklike stormwind. Met gevolge vir hierdie drie nasies. Nou bars die storm in hoofstuk 22 ook oor Jerusalem of soos sy hier genoem word die dal van die gesig of visioen los. Want wat volg wys daarop dat met hierdie dal van die gesig, Jerusalem bedoel word. Dit wys op die stad in sy geheel met al sy inwoners. Die dogter van my volk (vers4), God se volk is ‘n vrou wat verlaat word. Dit is ‘n tere beskrywing. Sy wat my volk is, is vernietig. Jesaja openbaar die Here se hart vir sy volk. As sy tog maar wou sien die dinge wat die profeet verkondig, die dinge wat tot Jerusalem se vrede dien, haar tot God keer.

Bo en agter hierdie krisis staan die Here van die leërskare wat hierdie verskriklike dinge oor sy dogter sal bring en wat die oorlogsrumoer en vertrapping en verwarring sal gee om sy volk op te roep tot berou. Sy sal voorgee of die krisis haar nie raak nie, sy die verskrikking nie sien nie, verse 1-3,5,13. En as sy nog enige reaksie sal toon, dan berei sy haar voor in afwagting van haar eie vermoëns en oordeel, verse 8-11. En dit sal sy doen omdat sy vertrou op ‘n menslike arm, 2 Kronieke 32:7,8. Sy vergeet dat die Here God die een is wat haar help en vir Juda oorlog voer.

Hierdie profesie wys aan Juda dat sy deur die vyand binnegeval sal word en dat die vyand deur die muur van Jerusalem sal breek en die stad Jerusalem binne masjeer. Dit het veel later so gebeur met die Babiloniëse aanval (2 Kon. 25: 3-5). 

Tema: Jerusalem, die dal van die gesig, gaan onder omdat sy nie alleen wil leef van God se leiding by monde van sy profeet nie

Eerstens: Jesaja is bedroef en wil nie getroos wees nie omdat Jerusalem nie op God vertrou nie

Jesaja se boodskap begin in vers 1 met ‘n vraag van verbasing. God vra: Wat is dit dan met jou my dogter? Of: Wat pla jou? Dit gee afkeur en teregwysing weer van God se dogter. Haar optrede strook nie daarmee dat sy woon in die dal van die gesig, op die plek waar God haar met sy profetiese Woord laat hoor en sien hoe hy haar lei nie. Dat sy God en sy leiding ken nie.

Jesaja wend hom in ons teks, tot die stad asof tot ‘n enkele persoon. Wat is dit met jou, (maar hy spreek tot die hele bevolking, dat julle almal op die dakke geklim het?) Rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting. Dit is nie hoe ‘n stad reageer wat op God se Woord vertrou nie. Mense staan op die dakke en kyk na die gevaar maar hulle sien nie God se hand bo al die onrus en gevaar nie. Daar was, vers 2 verwarring en geroep. ‘n Groot geraas van stemme. Opgewondenheid. ‘n Menigte van mense wat hulle lewe tog so liefhet en hulle lewens op eiewyse wil behou. Hoe kan die stad dan so uitgelate wees? Op onverskillige, uitdagende manier. Die weerbare manne word nie deur die swaard verslaan nie. Hulle is nie in die geveg dood nie. Die profeet maak dit duidelik. Hulle was wel verslaan, en wel deur oorlog, maar dan nie deur oorlogstuig nie, maar as gevolg van die oorlog. Deur honger en siektes. Ons het gelees van die laaste dae van Jerusalem toe sy binnegeval is in 2Konings 25:3-5.

Die Godspraak van 22:1-14 moet gesien word as die aantog van die vyand en die verskriklike verwereldliking en heidendom in Jerusalem wanneer sy aangeval word. Die aanslae van die Assiriërs het nie by die inwoners van Jerusalem tot bekering gelei nie, en in die toekoms sal dit ook nie met die Babiloniëse mag in die persoon van Nebukadneser nie. Wanneer die stad van God, hulp soek van die stad van die heidendom sal sy gou beheer word deur daardie stad. Dit gaan om die stryd tussen die stad van vrede en lig en die stad van heidendom en donkerte.

Wat hier aangewys word dui op die finale vernietiging van Jerusalem. Jerusalem het op Babilonië staatgemaak, hulle sal na Babilonië gaan.

Wat is die punt vra die profeet, in so ‘n lydingstyd, so ‘n krisis, om rumoerig op die dakke te staan en raas?

Die beskutting van Juda sal weggeneem word. Jesaja gee die agtergrond van die regeringstyd van die onlangse geskiedenis van die gelowige Hiskia en wat gebeur het. Verse 9-11. Hiskia het, hoewel Hy op God vertrou het, maatreëls geneem en dinge gedoen, waardeur die inwoners al hoe meer op hulleself vertrou het. Soos hulle vertroue in wapens, die bou van vestingmure, die beskikbaarheid van water wanneer die stad onder beleg is.

Dit skep ‘n beeld van somberheid. Die stad sal nie langer die stad wees waar die heerlikheid van God gesien word nie. Die inwoners sterf van honger, en haar regeerders wat maatreëls moes tref om haar te verdedig, en tot die einde by haar moes bly, vlug weg, op ‘n groot afstand, maar almal word gevang en in boeie geslaan. 

Jesaja se stad sal verwoes word, daarom breek hy uit in hartseer en klaaglied. Hy het getreur oor Moab, 16:11 en selfs oor Babilon, 21:3, so daarom kan ons des te meer sy bitter geween oor Jerusalem verwag en verstaan. Hy tree op asof sommige hom probeer troos het, en hy op hulle reageer. Ek het gesê…Maar so praat hy oor die toekoms, en hy doen dit so om uit te beeld dat hierdie val van Jerusalem sekerlik sal kom. Jesaja was so deur sy eie hartseer meegevoer dat sy gehuil geen geheim was nie. Hy het die regering van God self van Jerusalem geglo. Hy is bedroef omdat die inwoners van Jerusalem wat moes optree as ‘n heilige priesterdom, deur hulle sondige en sorgelose optrede die oorsaak is van die stad se verwoesting. 

Hierdie openbare uiting van hartseer maak duidelik dat die situasie baie ernstig is en dat Jesaja se woorde nie ligtelik geneem moet word nie. Geen menslike troos kan iets beteken in hierdie verdrukking nie. Die hou wat Jerusalem haarself sal toedien sou gemik wees teen God, om hom te tref, en daarom Jesaja se droefheid oor God se dogter. Moet daarom nie aandring om my te vertroos nie. Hierdie is nie die tyd van vertroosting nie. Hierdie tyd moes alle ware diensknegte van die Koning huil en ‘n klaaglied aanhef. Woorde van die Here oor Jerusalem, is die woorde oor die dogter van my volk, sy is in haar moedswillige optrede verlate. Dit is ‘n tere beskrywing van ‘n vrou wat verlaat word. Sy wat my volk is, is vernietig. Jesaja openbaar die Here se hart vir sy volk. Hoe verkeerd om die profeet te wil vertroos as hy oorweldig word deur droefheid oor haar opstandigheid. As hulle tog maar wou sien die dinge wat die profeet verkondig, die dinge wat tot Jerusalem se vrede dien, hulle tot God keer. As hulle tog maar wou opleef na die Naam wat hulle dra vanweë God se liefde vir hulle: stad van die gesig. Stad waar jy dus ver kon sien omdat God laat jou laat sien wat Hy doen deur sy profetiese Woord aan jou te verkondig.

So het Jesus oor Jerusalem gehuil. Toe Jesus op pad was Jerusalem toe het hy twee dissipels gestuur om vir Hom ‘n eselsvul in die dorp te gaan haal. Luk 19:41-42:  En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.  Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit.  En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie. 

Tweedens: Jesaja sien die Here beheers alles maar Hy red nie

Nadat die profeet sy droefheid oor die komende ondergang van die stad uitgespreek het, gee hy in vers 5 ‘n verduideliking van wat hy sien. Hy sien die Here van die leërskare. God maak nie gereed om te vlug nie. Hy is in beheer van die situasie. Want dit is ‘n dag, dit is ‘n dag deur die Here, ‘n dag wat aan die Here behoort, aan die Here van die leërskare, ‘n dag wat verwarring en vertrapping bring. ‘n Dag soos Moses reeds profeteer het. Eeue vantevore. Deut 28:20: Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het. Dit beteken verwarring, wanorde en vrees. Vertrapping sien op ondergang, tot niet making. Dit gaan hier om onsekerheid, doelloosheid, gebrek om die regte beslissing te kan maak. En hoe duidelik is dit nie. Wanneer ons ons in vrees laat oorweldig deur wat ons rondom ons sien, reageer ons op ‘n ongelowige wyse. Want ons sien nie God nie, en ons sien nie wat God ons laat sien in die lig van sy Woord nie.

Die profeet treur en weier om vertroos te word, want die dag van verwarring en vertrapping kom.

Hierdie dag behoort aan die Here die God van die leërskare, en dit sal plaasvind in die dal van die gesig. Dit wil sê in Jerusalem self. In die omgooi van die stad se mure en die geskreeu van die inwoners na die berge toe. Dit is ‘n verwysing na die binneval van die vyand in die stad, wanneer Jerusalem se mure afgebreek word. 2 Konings 25:10: En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom omgegooi. Moontlik bedoel die profeet met die geskreeu na die berge toe dat die geroep van die inwoners so erg is dat die berge dit eggo. In die stad sal jy hoor die klippe van die mure wat omval en die verskrikte en verskriklike geroep van die inwoners.

Jesaja wys op die geweldige omvang van die oprukkende leërmag. Daarom noem hy Elam en Kir. Dit kan wees dat Jesaja twee baie ver plekke aanwys, wat altwee deel het aan die oorlog. Die Elamiete het nie maar net per voet gekom nie, maar boonop met waens en ruiters. Kir weer het die skild ontbloot, dus die wapentuig gereedgemaak vir oorlog. Die punt wat Jesaja wil maak is die oormag en die toegerustheid en gereedheid en doelgerigtheid van die leer wat van ‘n baie ver plek sal kom om Jerusalem te verwoes.

Van die aankomende vyand verskuif Jesaja na die aanval op Jerusalem. So rig hy hom vers 7 tot Jerusalem self. Die storm sal Jerusalem tref. Jerusalem se beste valleie word gevul met oorlogswaens, die vyand dring in, nie op ‘n sydelingse weg nie maar langs die weg van inisiatief, wat die vyand wat in beheer is, neem. Dit sien op die vallei waarin die stad staan of wat rondom die stad is. Die valleie word vinnig, doelgerig, strategies, gevul met oorlogstuig. En die ruiters staan voor Jerusalem se poorte. 2 Konings 25:1-4: En in die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadnésar, die koning van Babel, gekom, hy en sy hele leër, teen Jerusalem en daarteen laer opgeslaan en daarteen skanse rondom gebou.  En die stad het in beleëring geraak tot die elfde jaar van koning Sedekía.  Op die negende van die vierde maand, toe die hongersnood sterk was in die stad en die mense van die land geen brood gehad het nie,  is in die stad ingebreek, en al die krygsmanne is in die nag deur die poort, tussen die twee mure wat by die koning se tuin is, terwyl die Chaldeërs rondom teen die stad was; en die koning het getrek op pad na die Vlakte toe.

Nou is die vraag wat dit beteken dat die beskutting van Juda weggeneem sal word. Beteken dit dat die skille van hulle oë verwyder word? Paulus in 2 Korinthiërs 3:15,16:  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart;  maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Natuurlik was daar daardie tyd ‘n bedekking oor die oë van God se volk. Dit sal verander. Jesaja 25:7 lees ons die profesie: En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.

Daarom het die Jode nie werklik die gevaar wat op hulle afgekom het verstaan nie. Die krisis het hulle ware gesindheid en benadering openbaar. Die bedekking van Jerusalem wat weggeneem word wys op die skande en die oneer en die vernedering van die volk wat openbaar word. In die Oosterse lande is ‘n vrou wat onbedek is, gestempel in terme van oneer.

Alles wat tot haar eer was is weggeneem. Nou wat presies is hierdie bedekking? Ons moet in die situasie dink aan die bedekkings en versterkings van die stadspoort. Toe dit weggeneem is was die stad se eer daarmee heen. 

Maar wat gebeur nou? Bekeer die volk hulle tot God? Aanvaar hulle die krisis en lyding uit sy hand? Werp hulle hulle sonder teenspraak op Hom?

Derdens: Jesaja sien Jerusalem doen alles behalwe om op God te vertrou

Die inwoners kyk steeds na wapens om hulle te red. Hulle kyk na die wapens in die huis van die bos. Hierdie magasyn of wapen opgaarplek was nog gebou deur Salomo met seders uit die Libanon, en was bekend as die huis van die bos van die Libanon. Daar was onder andere goue skilde wat Salomo laat maak het gehou en die voorwerpe waarmee koning Hiskia gespog het voor die gestuurdes van Merodag-Baladan. Jesaja. 39:1-8. Die Here sou al die voorwerpe wat Hiskia en sy vaders opgehoop het, en waarmee hy so gespog het, asook sy nageslag, laat wegvoer na Babel.

Daar was geen ware bekering tot die enigste een wat kon help, hier was net verdere aanleuen op die arm van die vlees wat nie kan red nie.

Al die heenwysings in die Psalms na die heerlike stad (soos 87) is vergeet deur die inwoners. Die verskriklike is dat die inwoners van die stad van die Here, die Koning, gemaak het asof die koning niks met die stad te doen het nie. Hulle het hulle nie tot Hom gekeer nie. Maar hulle het alle moontlike menslike werkswyses gesoek om hulleself te red en die slegte toestand te ontkom. Nie alleen vang hulle water op om te kan oorleef nie, maar hulle gee ook aan die huise nommers. Waarskynlik dat die mense sou weet watter huise kon gelaat word en watter huise afgebreek moes word om die muur met bou materiaal te versterk. 

Noodmaatreëls is gereeld getref maar die inwoners van die stad het nie gekyk, na God wat die krisis gebring het nie. Dit bly so vreemd want die stad was die vallei van gesig. Hoe vleeslik maar vir ons so herkenbaar, om in krisis nie op te kyk na God se hand nie. Hier sou sy kon sien, God en sy hand, maar Hom het sy glad nie raakgesien nie. 
Hoe maklik vergeet ook ons om op die Here van die leërskare te vertrou en dan vergeet ons die glans van sy kerk. …Sien die heerlikheid van God wat ons vergader in die gemeente van Christus. Leef en werk as God se volk in die uitverkore plek waar sy Woord ons laat sien.

Die profesie gaan voort met ‘n beskrywing van wat God self aan sy dogter opgedra het. God is die Here van die leërskare, wat die mag het om te besluit en wat Israel lei en oor haar beskik en wat ook die magtige nasies beheers. Sy mag word hier aangedui deurdat hy genoem word Here van die leërskare. 

In die tyd van die krisis het Hy die volk deur die profete opgeroep tot gehoorsaamheid. Dit het by hulle verbygegaan. Maar die krisisgebeure self was ook ‘n roep van God tot hulle bekering. Alles wat gebeur moes hulle lei om weg te draai van hulle verkeerde weg. Maar hulle het in hulle luidrugtige uitgelatenheid en eiewysheid hulle verhard teen Hom. Terwyl Hy bekering van harte gevra het in uiterlike tekens en berou, vers 12. 

Hulle het nie gegee wat God van hulle wou hê nie. Geloof…vertroue op Hom alleen… Kyk!, roep die profeet. 13. Hulle bied aan God die teenoorgestelde van wat Hy gevra het. Hier is vreugde en vrolikheid. Maar nie blydskap in God nie. Vrye en roekelose vreugde. ‘n Ongelowige, heidense selfvertroue en lewensbeskouing met die slagspreuk: Laat ons eet en drink want more sterf ons.

Die Here het Hom in die ore van Jesaja geopenbaar. Voortgaande. Die waarheid kan nie verander word nie. Waarlik – word dit gestel, in ‘n eed. Hierdie ongeregtigheid sal nie versoen word voordat julle sterwe nie, dus in julle leeftyd nie. Die mense wat nie na die woorde van die Godspraak luister nie, sal sterf sonder dat hulle sondes versoen is. 

Hoe groot is God se genade vir ons gemeente, dat ons deur sy Woord en die verkondiging van die evangelie, in benoudheid en lyding in en deur Jesus Christus met mekaar mag leef in die vallei van die gesig, met die gesig wat die Heilige Gees ons skenk in hierdie laaste dae. Leef van God se belofte. Luister wat die Gees sê.

Amen

Liturgie: 

Votum:
  Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Groet:
  Gemeente genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Amen

Sing: Psalm 48:4,5

Lees die wet. Eksodus 20.
Sing: Psalm 34:6,8

Gebed: Vergewing van sonde en gebed om God se seën op die diens

Teks: Jesaja 22:1-14

Sing: Psalm 86:6

Lees:  2 Kron.32:1-8, 2 Kon. 25:1-6

Preek

Sing Amenlied: Psalm 138:1,2,3,4

Dankgebed

Geleentheid om die Here te dien met gawes

Slot: sing Psalm 139:1,9

Uitspreek van die seën:
  Die Here sal julle seën en julle behoed
  die Here sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees
  die Here sal sy aangesig oor julle verhef en aan julle vrede gee. Sing AMEN