Geliefde broers en susters in die Here Jesus Christus.
Hoekom begin ek die preek só? Omdat ons in Christus ’n familie is. En na vandag gaan agt jongmanne en -vroue volgende week saam met ons rondom die familie se etenstafel sit. Dit is ’n tafel vir die wat rein van hart is, dit is ’n tafel van vrede.
Die geseëndheid hou aan vloei van binne na buite:
- Die wat rein van hart is
- Die vredemaker
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Dit is waaroor die hart gaan. Dit is wat ons as leiers probeer bereik het in die gesprekke met hierdie jongmense tot vandag toe. Waar is jou hart? Is daar nie dubbele oortuigings nie? Het hulle begeer om dit te doen bloot omdat ander mense dit gedoen het? Pas hulle lewe by hulle geloof? Was daar sonde wat bely moes word?
Psalm 24 sê: “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. [...] Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat U aangesig soek – dit is Jakob.”
Dit is diegene met skoon hande en rein harte, dit is diegene wat God soek – en Hom in sy heilige tempel vind. Dit is aan hulle wat Hy Homself as hulle Verbondsgod openbaar. Hulle ontmoet die Lewende God en het ’n lewendige verhouding met hom – want hulle harte is oop voor Hom – daar is geen verborge paaie in hul harte nie. Geen diep geheime kompartemente wat hulle toegesluit hou nie. Hulle roep saam met die psalmdigter in Psalm 139:23 uit: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes.”
Die dissipel wat rein van hart is, is geheel en al aan die Here toegewy. Hy het nie dubbelsinnige oortuigings nie. Hy sê nie die een of die ander nie. Of sê een ding en dink iets anders nie. Wat jy sien, is wat jy kry. Wanneer hierdie jongmanne en -vroue vandag “ja” sê, dan glo ons dat hulle “ja” bedoel. Jakobus 4:8 sê: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” Die reinheid wat God wil hê, is ’n eenvoudige en totale toewyding daaraan om sy wil te doen, sy paaie te volg.
Ons kan almal voorgee. Ons kan almal kamma-vriendelik wees, terwyl jy aan die binnekant kook en dink: “hierdie en daardie persoon maak my mal, en ek kan hulle glad nie verdra nie.”
Ek sal eerder 'n eerlike, sukkelnde sondaar verkies wat selfs 'n ernstige sonde bely, soos soveel sondaars in Jesus se tyd gedoen het, as ’n “heilige” wat lieg en weier om sy sonde te bely. Soos die fariseërs wat witgekalkte grafte was. Hulle het aan die buitekant perfek skoon gelyk, terwyl die binnekant besig was om te vrot. Slegs in Jesus kan ons rein van hart wees. Slegs in Jesus kan ons vrylik bely, en nie bang wees om elke hoekie van ons lewe en hart voor Hom oop te lê nie.
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Die wat die lewe van die dissipels volg, weet wat dit beteken om ’n verhouding met God te ervaar. 1 Johannes 3:2 sê: “maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig Homself soos Hy rein is.” Ons sal soos Hy (Jesus) wees en Hom (God) sien soos wat Hy is – almal wat hierdie hoop het, reinig hulself. Sien jy hoe reinheid en om God te sien, hand aan hand gaan? My gebed is dat julle reis, jongmanne en -vroue, ’n reis sal wees om God al hoe meer te sien. Dit beteken om openlik te wees, kwesbaar te wees, berou te hê, te bely en Christus te ontvang.
Luister na wat 1 Johannes 3:6 sê: “Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.” As jy in sonde lewe, of onder die heerskappy van die sonde, dan sal jy God nie sien nie!
Maar as jy jou sonde bely! O, geliefdes, daar is vergewing vir jou. Daar is werklik lewe, nuwe lewe, ewige lewe. Word dus elke keer weer by die nagmaal in Christus gevoed. En hou aan om eerlik te wees. En eendag sal jy Hom sien – die Een waarop jy al jou hoop gestel het – die Een wat jou selfs nou alreeds ken en jou sien. Ja, jy sal Hom sien – die Here Jesus Christus – in heerlikheid, in reinheid, in heiligheid.
Jy sien, ’rein van hart’ beteken nie perfek nie. Dit beteken dat jy sondes kan aanspreek, onmiddellik, konsekwent, eerlik en openlik – en jou heeltemal daarvan bekeer. Sodat jy voortdurend jouself sal reinig in die krag van die Gees, en God voortdurend sal sien.
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word
Reinheid van hart baan die weg na ware vrede.
Al hierdie saligsprekinge bou ook op mekaar. Daar is ’n rede waarom die eerste saligsprekinge eerste is en hierdie saligsprekinge laaste. Nie omdat ons die een of ander tyd klaar is met die eerstes nie, maar omdat jy, as jy werklik ’n vredemaker wil wees, jy eers vrede met God moet hê, en dit kom net as jy jou armoede erken en na die kruis gaan. Vredemakers maak vrede omdat hulle sagmoedig is – nederige mense wat saam loop met die mense wat worstel, om hulle tot ’n verhouding met God en met mekaar te bring.
Waar kom vrede vandaan? Van God. Waar kom konflik vandaan? Van my hart. Soos Jakobus 4:1-2 dit so duidelik stel: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog.” Nog ’n skrywer stel dit as volg: “Ons wil ons eie manier hê, op die manier wat ons gekies het in die tyd wat ons die beste geag het. En as jy in my pad staan, dan gaan jy betaal.” Met ander woorde, dit kom vanuit die binnekant – die begeertes wat binne-in ons oorlog voer.
Christene is vredemakers, want hulle het vrede met God in Christus deur die Heilige Gees. Julle, jongmanne en -vroue, is mense wat met vrede gevul is. En jy maak vrede met die mense rondom jou.
Hoe maak ’n mens vrede?
Daar is vier maniere waarop jy vrede kan maak, maar net een daarvan is die regte pad na vrede.
Eerstens, jy kan jouself onttrek. Ontken dat daar ’n probleem is. Vlug. Hardloop. Maak asof niks verkeerd is nie. Dit is nie die Bybelse manier om vrede te maak nie.
Tweedens, jy kan toegee. Iemand wat mense gelukkig maak. Gee net in. Stop die konflik met ’n vinnige oplossing so gou as moontlik. Laat alles net verbygaan. Maar hierdie manier maak net die buitekant reg en dit bou op die langtermyn weersin aan die binnekant. Jesus het dit nie gedoen nie. Hy het met vrymoedigheid die waarheid in liefde gepraat, selfs as dit seergemaak het, selfs al was dit die dissipels naaste aan Hom, soos Petrus.
Of, derdens, wen. Val aan. Sonder rede. Geen toegeeflikheid nie. Dit is wanneer iemand druk en geen toegeeflikheid bied nie. Meer besorg daaroor om te wen as oor die verhouding. Dit is nie wat Jesus gedoen het nie. Vertrap alle sondes, en sondaars. Nee, Hy het gekom om sondaars met Homself te versoen.
Die eerste twee maniere: onttrek, of toegee, is maniere om kamma-vrede te bewerkstellig. Die derde manier, om te wen, verbreek die vrede.
En dan die vierde manier – versoen. Dit is die Bybelse manier. Dit is wat Christus vir ons gedoen het. En in Hom word ons geroep om dit te doen. In Christus – in sy teenwoordigheid – kan jy eerlik wees sonder om bekommerd te wees oor die ander se reaksie. Feite en gevoelens is alles op die tafel. Daar is geen vrees vir veroordeling nie. Al die opsies word ter tafel gelê. Dit is die manier om ander in Christus lief te hê. Dit is mos die punt, is dit nie? Om vir hulle meer van Christus te wys is belangriker as om reg te wees. Die beste plek hiervoor is die kerk. Net in Christus is hierdie totale vrede moontlik – ’n vrede wat volgende week aan die familie se etenstafel ervaar sal word.
Watter styl is jy? In sommige verhoudings tree jy verskillend op in verskillende situasies. Jy mag miskien die wen-styl aanneem by die huis met jou ouers of dalk met jou toekomstige man of vrou, waar alles daaroor gaan om te wen, terwyl jy by die werk eerder meer ’n onttrek- of toegee-styl aanneem. Maar hopelik werk jy daarnatoe om ’n versoener te wees op elke plek waar jy gaan.
Om dit te laat gebeur, moet jy aan elke konflik dink as ’n manier om God te verheerlik. Jou verhoudings is nie iets wat jy besit nie. Dit is God se gereedskap om ons te vorm. Dit verander ons. Dit wys vir ons ons sonde en swakhede. Dit herinner my aan ’n boek genaamd “Sacred Marriage. What if God Designed Marriage to Make us Holy rather than to make us Happy”. Ek sê nie dat die huwelik nie geluk bring nie, inteendeel, daar is ongelooflike vreugde deur die strewe na heiligheid. Maar wanneer ons ons verhoudings in die eerste plek sien as iets waardeur ons God verheerlik eerder as dat dit oor ons gaan, dan begin ons om konflik te sien as iets wat nie vermy moet word nie, of as ‘n oorlas, maar as iets waardeur ons aan God kan verheerlik.
Op die manier fokus ons minder daarop om net deur konflik te gaan en meer daarop om deur konflik te groei. As jy op God se heerlikheid fokus, sal jy minder afhanklik van die resultate van die konflik wees. Die wêreld wil weet watter resultate jy behaal het. God wil weet: “Was jy getrou aan My – lewe jy in gehoorsaamheid?”
Liewe gemeente, net Jesus kan hierdie krag gee. Net die Man wat hier praat, is die uiteindelike Vredemaker en net in Hom kan ons vrede maak. Laat ek die krag van die Evangelie hier illustreer, en hoe jy, deur ‘n vredemaker te wees, soos Jesus, die Seun van God, sal wees.
Eerstens, die Evangelie dwing ons om ander mense te vergewe. Dink daaraan hoe genadig God jou behandel het in Jesus. Begin hier. Kolossense 3:13 sê: “vergewe mekaar [...] soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” Omdat God my verdra, kan ek ander verdra. Omdat Hy my vergewe, kan ek ander vergewe.
Tweedens, die Evangelie dwing ons om ander lief te hê. Jesus se voorbeeld wys ons dat ons ander kan liefhê – selfs ons vyande. Romeine 5:8 sê: “Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Jesus het vir ons gesterf terwyl ons nog sy vyande was. Ons kan Hom dus naboots deur dieselfde te doen. Hy beveel dit. Hy sal ons die krag gee. Lukas 6:27-28 sê: “Julle moet julle vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.”
Derdens, die Evangelie dwing ons om inisiatief te neem. Christus het inisiatief geneem. Hy het gekom om ons te versoen. Ons wou dit nie eers hê nie. Jy mag dalk by jouself dink: as hy dit nie wil hê nie, gaan ek nie eers probeer nie. As God dit sou gedoen het, dan sou ons nog steeds in sonde en ellende verlore gewees het. Ons kan inisiatief neem. Ons hoef nie te wag tot hulle na ons toe kom nie.
Vierdens, die Evangelie dwing ons om vrylik te bely en te erken waar ons verkeerd gegaan het. Die dodelike gebrek aan menslike wysheid is dat jy jou verhouding kan verander sonder om jouself te verander. Dit gaan hier oor die balk en die splinter. Ons dink dat ons splinters uit ander mense se oë moet haal terwyl daar ’n balk in ons eie oog is wat mense seermaak waar ons ook al gaan. Jesus sien al jou sondes, elke grafies detail. En Hy het ons lief. Hy vergewe jou, was jou skoon, en gee vir jou ’n nuwe lewe, sodat ons die vryheid kan hê om ons sondes voor hom neer te lê. Vars genade en reiniging.
Laastens, daar is tye wanneer ons oortredings ook oor die hoof sal sien. Dit is ’n bewuste keuse om die ander persoon die voordeel van die twyfel te gee. Dit is nie vermyding nie, maar om iets te laat gaan. Die punt is dat, as my vrou my die hele tyd sou vertel wat ek verkeerd doen, dan sal ek die hele tyd in die moeilikheid wees. Spreuke 19:11 sê: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe.” Of Spreuke 17: 14 sê: “Die begin van onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.” Of 1 Petrus 4:8 sê: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.”
Sal jy Christus aan die wêreld wys, en Hom volg, deur met ander mense die pad na versoening te loop? Ek kan dit vir jou sê dat, wanneer dit oor korttermynvoordele gaan, dan sal die wêreld se manier na die beste opsie lyk – dit sal oppervlakkige vrede wees, waar daar geen konflik is nie. Maar eerder as wat ons besig is om te genees, bevind ons onsself dan op ’n pad van nog dieper betrokkenheid by mekaar.
Die vrede van Christus is ’n diep en bloeiende vrede, ’n heelheid wat nie net gaan oor die afwesigheid van iets nie, maar oor die aanwesigheid van ’n ware verhouding – die aanwesigheid van oorvloedige liefde en vrede. Verhoudings met mense wat jy gedink het nooit moontlik sal wees nie. Christus bring vrede vir sy vyande, sodat hulle nuwe paaie van vrede kan smee.
Net soos in elke kerk, het God toegelaat dat hierdie kerk onstuimige tye beleef. Tye waarin verhoudings gebreek en seergemaak is. Nie net onlangs nie, maar ook in die verre verlede. Ek sien nog steeds hoe die ouer lidmate hulle koppe hartseer skud wanneer hulle terugdink aan daardie tye. Vertroue en hoop is verloor. Daar was nie vrede in die gemeente of in die hart nie.
Hoe gaan ons vorentoe? Hoe gaan ons as ’n kerkgemeenskap vorentoe sodat dit nie weer gebeur nie? Ons loop die pad van hierdie saligsprekinge, individueel en gemeenskaplik. Memoriseer dit, en bid dat die Gees hulle sal toelaat om elke aspek van jou lewe te vorm. En laat ons ons saam daaraan toewy. Saam – ons is die liggaam van Christus. Saam erken ons ons armoede, rou ons, verootmoedig ons onsself voor mekaar. Saam roep ons om geregtigheid. Saam bewys ons genade aan mekaar, praat ons die waarheid en het ons mekaar lief vanuit ons hart – met geen geheime agendas nie, maar ons wil ons Here Jesus Christus eer, en saam rus ons in die vrede van Christus wat alle verstand te bowe gaan – 'n vrede wat vloei na die lewens rondom ons. Welkom by hierdie samesyn, geliefde broeders en susters!
Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Ons is ’n familie. Is daar ’n meer vredevolle prentjie as ’n familie wat in volmaakte vrede met mekaar lewe? Ons smag almal daarna, dan nie? Wie is my familie? vra ons Here, “Hy wat die wil van My Vader doen – hy is my familie”. Wil jy deel wees van hierdie familie? Wees dan in een Gees met Jesus verenig en wandel in sy weë.
Hy is die Prins van Vrede – en sy Koninkryk is die Koninkryk van Vrede.
Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
Amen.