Tema: Christus skenk twee genadesleutels
Ons skenk vanaand na aanleiding van Sondag 31 aandag aan die sleutels van die koninkryk van Christus.
Twee sleutels – die prediking van die Evangelie en die tug.
Wat is nou die posisie van die nagmaal hierin?
Die sakramente maak hierdie sleutels vir ons sigbaar.
In die sin is die nagmaal die sigbare sleutels.
Dit beklemtoon die belofte aan die gelowiges dat al hulle sondes vergewe is danksy die verdienste van Christus.
‘n Sleutel word gebruik om oop en toe te sluit.
Wie na die prediking luister, hoor hoe die deur na die koninkryk oopgesluit word.
Wie nagmaal vier, sien hoe die deur na die koninkryk oopgesluit word.
Aan die nagmaal ervaar ons dat ons in al Christus se rykdom deel, die ewige lewe, geregtigheid en heerlikheid.
Ons ervaar die voorsmakie, soos wat ons nou deelneem aan die maaltyd, so sal ons eendag ook aanwesig wees by die bruilof van die Lam.
Nou word daar in Sondag 31 ‘n duidelike onderskeid gemaak tussen gelowiges en ongelowiges.
Die twee sleutels sluit oop vir die gelowiges, hulle sluit toe vir die ongelowiges.
En dit is ‘n onderskeid wat die sakramente ook sigbaar maak.
Nie elkeen word aan die nagmaal toegelaat nie.
Slegs die wat hulle geloof publiek bely het, en wat steeds van Christus se genade bly leef, en so suiwer bly in woord en daad danksy sy werk in hulle.
Maar die wat nie Christus bely nie, of wat, ook al roem hulle met die mond in Hom, tog uit hulle lewe laat blyk dat hulle hulle nie aan sy wil steur nie, hulle word nie aan die nagmaal toegelaat nie.
Aan hulle word inteendeel verkondig dat hulle geen deel het aan die ryk van Christus nie, tensy hulle hulle bekeer.
Hulle word gewaarsku om juis nie die nagmaal te gebruik nie, sodat hulle oordeel en verdoemenis nie nog swaarder word nie.
In hierdie woorde hoor ons hoe die sleutels aan die een kant oopsluit, maar aan die ander kant toesluit.
Wat dit betref maak die nagmaal sigbaar dat daar ‘n wesenlike skeiding is op aarde, ‘n antitese.
Lig en duisternis kan mekaar nie verdra nie.
Hierdie skeidslyn loop nie tussen die wat nie sondig en die wat wel sondig nie.
Alle mense sondig.
Hierdie skeidslyn loop tussen hulle wat alles van Christus verwag, en hulle wat nie uit sy genade lewe nie.
Die feit dat ons ‘n sogenaamde geslote tafel het, het hiermee te make.
Die uitdrukking geslote tafel beteken dat daar nie ‘n oop uitnodiging is aan enigiemand om vorentoe te kom en nagmaal saam te vier nie.
Hulle wat hulle soos ongelowiges gedra in woord of wandel, is nie welkom aan tafel nie.
En as hulle tog kom, hou dit ‘n gevaar in in twee opsigte.
Eerstens, hulle verswaar hulle eie oordeel.
As hulle onverskillig of huigelagtig na die tafel kom, is dit nie ‘n middelmatige saak nie.
God hou dit teen hulle, hulle maak die geskenk van sy Seun bespotlik.
En tweedens, hulle ontheilig ook die tafel vir iedereen.
Die tafelkleed wat wit gewas is in die bloed van Christus, kry vuil vlekke.
En as dit so aangaan, dan gaan die ander aan tafel begin dink dit is normaal.
Jy kan maar verkeerd lewe, jy kan maar verkeerd dink, en dan terselfdertyd ook nagmaal toe kom.
Die tafel ontheilig ... dis wat gebeur.
Dus is daar ‘n geslote tafel.
Eerstens is die verantwoordelikheid op elkeen se eie skouers om hom- of haarself te ondersoek.
Daarom dat daar in die nagmaalsformulier, wat voor die viering gelees word, eksplisiet aandag aan geskenk word.
Sodat niemand oppervlakkig die tafel benader nie.
En tweedens is dit ook die ampsdraers se taak om die tafelwagte te wees.
Dit is nie net die feit dat tydens die viering simbolies twee ouderlinge aan beide kante van die nagmaal staan nie.
Dit is veral wanneer die kerkraad vooraf besluit om ‘n gemeentelid af te hou van die nagmaal, juis om hom en die gemeente te beskerm.
Dit is nie iets wat sommer gebeur nie.
Maar dat dit soms moet gebeur, is ‘n feit.
So tree die tweede sleutel in werking, die Christelike tug.
Daardie sleutel word nie eers ter hand geneem as die kerkraad besluit om iemand af te hou nie.
Dit gebeur al veel eerder, soos die Kategismus skryf:
Eers word iemand herhaaldelik broederlik vermaan.
Daar word ‘n pad gestap, en dan nog ‘n ekstra myl, en dan dikwels nóg ‘n ekstra myl, voordat dit gebeur.
Ook dit is onderdeel van die tug.
So is beide sleutels konstant in gebruik in die kerk, juis ook rondom die nagmaalsviering.
Die tug, die tweede sleutel:
Elke gemeentelid moet homself, haarself ondersoek, in aanloop tot die Nagmaalsondag.
Die kerkraad moet die gemeente ondersoek.
Soms word iemand afgehou.
Maar dit kan ook gebeur dat die tafel weer oopgemaak word vir iemand.
En dan is daar natuurlik diepe vreugde.
Die genadesleutel van die kerklike tug sluit nie net toe nie, dit sluit ook oop.
As gemeentelede wat afgedwaal het, werklike verbetering belowe en bewys, word hulle hartlik weer toegelaat.
Nou mag iemand dalk vra, wie gee die kerkraad die reg om mense van die nagmaal af te hou?
Is dit nie iets tussen elke mens en God nie?
Hoe kan die kerkraad in iemand se hart kyk?
Gemeente, die kerkraad het hierdie bevoegdheid van Christus ontvang.
In Johannes 20:23 sê Christus: “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”
En in Mattheüs 16:19 sê Jesus aan Petrus: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
Petrus en die ander apostels het op hulle sendingsreise, orals waar hulle oudstes aangestel het, hierdie bevoegdheid op hulle oorgedra.
Dus inderdaad, ‘n kerkraad is ‘n geregtig om mense uit te nooi na die nagmaal, maar ook om mense af te hou van die nagmaal.
Die tug is ‘n sleutel van die koninkryk van die hemel, wat Christus aan die onderherders toevertrou het.
En net soos die tug oop- en toesluit, net so sluit die genadesleutel van die Evangelieverkondiging ook oop en toe.
Want tydens die nagmaalsdiens gaan die Skrif oop.
Die ryke Evangelie van vrye genade klink, met die Skriflesing, met die prediking, tydens die lesing van die formulier.
Ook vanaand se teks ontvou die Evangelie van vrye genade.
Paulus skryf aan die Efesiërs dat hulle dood was deur hulle misdade en sondes.
Nou hierdie mense was nie misdadigers in die gewone sin van die woord nie.
Hulle was nie in die tronk nie.
Dit was omgekeerd, toe Paulus hierdie brief skryf, was hy self in die tronk (Ef 4:1), die gevangene in die Here, soos hy sy situasie beskryf.
Maar tog was die Efesiërs se sondes so erg, en dit geld net so vir ons, dat die woord misdade heeltemal op sy plek is.
Al het hulle dit dalk nie besef nie, hulle lewe was in diens van die duiwel.
Hulle lewe is beheers deur die begeerlikhede van die sondige vlees, om dit te bevredig.
Van nature het ons daarom onder die toorn gelê, onder God se regverdige oordeel, skryf Paulus.
Maar uit onbegryplike barmhatigheid het God besluit om ons saam met Christus lewend te maak.
Ja God se motief was onbegryplik, daar was niks in onsself om dit te regverdig nie.
Dit was net sy grote liefde.
Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie, dit is die gawe van God.
En saam met Christus is julle opgewek in ‘n nuwe lewe.
Dit vier ons op hierdie Nagmaalsondag.
Ons vier nie ons eie werke nie, niemand is in staat om in homself te roem nie.
Maar ons is sy maaksel, nuwe skepsels in Christus wat in staat is om goeie werke te doen, daardie werke wat God voorberei het.
Nuwe skepsels, nuut geskape in Christus.
Dit is wat die Efesiërs was, altans die gelowiges in Efese.
Efese was ‘n stad vol heidendom.
Ook die gelowiges in hierdie stad het ‘n duister heidense verlede gehad.
Paulus verwys daarna, as hy skryf: Julle wat vroeër ver was.
Nou wat is ver?
Dit hang af vanaf watter punt mens meet.
Hier word ver gemeet vanaf die punt Jerusalem.
Jerusalem was die stad in die Ou Testament waar die Here sy volk ontmoet het.
Van ver af het die stamme van Israel elke jaar na Jerusalem opgetrek om die Here te ontmoet.
En die Here het beloof dat Hy na die ballingskap al die stamme van Israel, wat ver onder die nasies verstrooi is, weer sou terugbring (Jes 59:21).
Maar gemeente, in die Nuwe Testament word ver egter nog verder.
Dit hoor ons as Petrus op Pinksterdag sê: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is ...” (Hand 2:39)
Hierdie ver moet gemeet word aan Jesus se eie woorde in sy sendingsopdrag: “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand 1:8)
So het die Evangelie ook die Efesiërs bereik, hulle wat ver was nie net in geografiese sin nie, maar veral ook in godsdienstige sin – volbloed heidene, afgodsdienaars, mense wat agter die begeerlikhede van hulle sondige vlees aangelewe het.
Maar Christus se genade het hulle ook gered.
God hef die skeidsmuur op tussen Jood en heiden.
Beide word uit genade gered.
Paulus kan nie uitgepraat raak daaroor nie.
Hy was self vroeër ‘n streng Fariseër, hy het nie met die heidene gemeng nie.
Maar Christus se Evangelie het sy oë oopgemaak vir die nuwe bedeling.
Een keer, toe Paulus die tempel besoek het, is hy nog daaraan herinner.
Dit was die keer toe hy saam met Trofimus in Jerusalem was, en Trofimus was nota bene uit Efese afkomstig (Hand 21:27v).
Toe het die Jode hom beskuldig dat hy vir Trofimus, ‘n heiden, in die tempel gebring het, wat hy nie gedoen het nie.
Iets waarop die doodstraf gestaan het.
Daar was ‘n Lletterlike muur by die tempel wat die heidene buite gehou het.
Maar hierdie skeidsmuur is dus in Christus afgebreek!
Heidene word uit genade deur geloof in Christus gered.
En net so word die Jode nie uit die onderhouding van die wet van Moses nie, maar ook uit genade deur geloof in Christus gered.
Beide se redding kom enkel deur die genadesleutels, wat Christus in die nuwe verbond skenk.
En net so geld dit vir ons, gemeente.
Aan die een kant is ook ons is afstammelinge van hulle wat daar ver was.
Aan die ander kant kan ons ook assosieer met die Jode, omdat die meeste van ons nou al vir generasies in die kerk is.
Maar desnieteenstaande, ons het nog net soveel die genade nodig as die gemeentelede in Soshanguve en Mamelodi, wat nog nie ‘n gereformeerde lewensstyl het soos ons nie.
As die Here ons nie vashou nie, kan ons net so maklik en dit amper in ‘n oogwink teruggly in ‘n lewe van die begeertes van ons sondige vlees.
Vasgevang word in pornografieverslawing, of onderdeel word van ‘n familiefete, of vir Mammon begin lewe, of ‘n wrok in onsself ontwikkel teen mense van ander kleure of kulture.
Dit is alles duister begeertes van ons sondige vlees, ‘n lewe in diens van die duiwel.
Aan die einde van elke dag kan ons maar net die Here Jesus dank, dat Hy ons vasgehou het.
En aan die begin van elke nuwe dag kan ons nie daarsonder om Hom te vra dat ons nie onder versoekings beswyk nie.
Die troos is dat wie by Hom krag soek, dit ook sal vind.
Ja die Evangelie word ook vir jou aangebied, jy wat daar ver is (vers 17).
Daardie Evangelie is vandag sigbaar uitgebeeld.
Ons mag vanaand huis toe gaan met die sekerheid dat die wat Hy aan sy tafel genooi het, dat Hy hulle sal vashou.
Ons lewe word gebou op die fondament van sy Woord, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.
Geliefde gemeente, bly bou op hierdie fondament.
Sy Woord sluit die koninkryk van Christus vir jou oop, elke keer weer as jy dit in geloof aanneem.
Die brief aan die Efesiërs kan basies in twee dele verdeel word.
Die eerste helfte is een groot uiteensetting van God se genade in Christus.
Een groot geskenk waarmee ons oorlaai word.
Dan, in die tweede deel van die brief, vind ons oproepe, opdragte, bevele.
Noudat ons Christus ontvang het en alles in Hom, leef dan nou ook soos Christene!
So was dit ook vandag, gemeente.
U is oorlaai met genade tydens die erediens van Woord en sakrament.
Christus het sy twee genadesleutels aan jou geskenk.
En nou mag u huis toe gaan vergesel van die opdrag: Leef voluit vir jou Here.
Dit is ‘n blye opdrag.
En sy Gees gaan met jou mee, Hy gee jou die krag vir jou dankbaarheidslewe.
Amen.
Vrae na aanleiding van die preek:
Skriflesing: Efesiërs 2
Preek nav Heidelbergse Kategismus Sondag 31
Om hierdie preek te verwerk en verder daaruit te leer, volg hier ‘n paar vrae. Die antwoord kan in die preek gevind word, en sommige vrae vereis ook persoonlike oordenking.
- Wat is die eerste sleutel van die koninkryk van die hemel? Sluit dit oop of toe?
- Wat is die tweede sleutel van die koninkryk van die hemel? Sluit dit oop of toe?
- Hoe word hierdie twee sleutels hanteer by die nagmaal?
- Het ouderlinge die bevoegdheid om iemand van die nagmaal af te hou? Motiveer uit die Skrif.
- Wat bedoel Paulus as hy skryf dat die Efesiërs “vroeër ver was”?
- Die Efesiërsbrief kan basies in twee dele verdeel word. Watter twee dele? Het dit ‘n dieper betekenis?
Votum
Seën
Ps 9:9,10
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 31:17
1e tafel: Skriflesing: Efesiërs 2; Ps 92:6
Lofverheffing & Gebed
Teks: Nav Heidelbergse Kategismus Sondag 31
Preek
Ps 84:3,5,6
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 32:3
Kollekte
Sb 43:1,2,4,5