Die ware Israeliet herleef die geskiedenis van die Ou Testament

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2019-06-23
Text: 
Mattheus 2: 13 - 23
Preek Inhoud: 

Kom ons som gou op waar presies ons nou is in die verhaal.  Jesus is die Seun van Abraham en Dawid – ’n ewige Koning van ’n ewige koninkryk en die seën van die nasies.  Die naam Jesus is aan Hom gegee, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.  Na sy geboorte kom ’n paar wyse manne van ‘n ver land hulle besoek om die Kindjie te aanbid en geskenke aan hom te gee.  Toe die gesin op die punt gestaan het om na Jerusalem terug te keer, verskyn ’n engel aan hulle en sê dat hulle met ’n ander pad huis toe moet gaan.

Nou gaan ons verder met die verhaal in vers 13, waar nog ’n engel aan Josef verskyn.  En as julle gewonder het wat dit tog kan wees met al hierdie engele wat verskyn: dit is God wat te kenne gee: Ek is aan die werk!  God beweeg persoonlik deur die menslike geskiedenis.  Hy gryp in, in dit wat ons sal noem: die normale verloop van die menslike geskiedenis, en dit ter wille van die menslike geskiedenis.  En Hy doen dit op só ’n manier wat wys dat die hele geskiedenis tot op hierdie punt alles oor hierdie persoon Jesus gegaan het.  Dat die hele Israelitiese geskiedenis ’n beeld van hierdie een Man is.

Die ware Israeliet herleef die geskiedenis van die Ou Testament

  1. Exodus
  2. Terugkeer
     

1.Exodus

“En toe hulle (dit is die wyse manne) teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.”  Die Griekse woord hier vir: “om dood te maak” is dieselfde woord as dié vir: “om te vernietig”.  Jesus was ’n bedreiging wat verwyder moes word.  Hierdie koning, wat gebore is in Herodes se land, was ’n bedreiging vir sy mag, en dit was duidelik uit sy karakter dat niks hom sou keer nie.

Maar Jesus was nie net ’n bedreiging vir die koning van Jerusalem nie, maar ook vir die prins van hierdie wêreld.  Agter Herodes se plan het die magte van die duisternis geskuil.  Dit was nie net ’n stryd tussen koning Jesus en Herodes nie, maar dit het gegaan oor koning Jesus wat gekom het om die koninkryk van Satan uit te wis.  En sy planne sou nie in die wiele gery word nie.

Want God het presies geweet wat Herodes gedink het.  En Hy stuur ’n engel om Josef in ’n droom te waarsku van die komende gevaar vir die Kind.  Dit is waaroor hierdie verhaal uiteindelik gaan:  Die bewaring van die Kind.  Dit is waaroor die verhaal nog die heeltyd gaan.  Vanaf die eerste belofte aan Eva in die Tuin dat die saad eendag die slang sal vermorsel tot die geboorte van die Kind toe, draai alles rondom Hom.  Hierdie Kind.  Aan Hom was alle beloftes van God verbind.  Ons kan dit sien in die manier waarop hierdie verhaal geskryf is – die Kind is altyd die verwysingspunt.  Daar staan nie: “Staan op en neem die Kind en jou vrou” of “Jesus en Maria” nie, maar daar staan: “Neem die Kindjie en sy moeder.”  Kind kom voor moeder in die Grieks.  En dit is ongewoon.

Maar waarom Egipte?  Wel, Egipte maak ’n belangrike deel uit van Israel se verhaal.  En Matthéüs wys vir hulle dat daardie verhaal van so lank gelede, eintlik hierdie verhaal is!  Jesus herleef op ’n manier die geskiedenis van Israel.  Daardie verhaal was ’n voorafskaduwing van wat nog sou kom.

Hier het ons dus ’n beeld van die groter profeet Jesus, wat, net soos Moses, ook gered is uit die hand van ’n koning wat aan bewind wou bly en elke Israelitiese babaseuntjie wat gebore is, sou doodmaak.  Dus, hierdie Koning word bewaar van ’n bose koning wat elke babaseuntjie in Betlehem wou doodmaak.  Die Ou Testament was die voorbereiding van die weg vir Christus, verwagtend op Hom, verwysend na Hom.

Josef gaan dus, in gehoorsaamheid aan God se Woord, na Egipte.  Ons lees: “Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.  En hy was daar tot die dood van Herodes.” Gehoorsaamheid is baie belangrik in Matthéüs en hy maak dit ook duidelik in die manier waarop hy skryf.  Hy sê nie net dat Josef gehoorsaam was nie, maar hy herskryf die opdrag met dieselfde woorde.  Die Here het hom beveel:  “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte.”  Wat het Josef gedoen?  Hy het toe opgestaan.  Hy het die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek.  Presiese gehoorsaamheid. Onmiddellike gehoorsaamheid.  Geen woorde soos:  “Kan U nie aan ’n ander plan dink nie?  Hierdie plan gaan regtig inmeng met die familie se skrynwerkersbesigheid by die huis.  Ek was van plan om na Nasaret te gaan” nie.  Kan jy jou hulle jong lewe voorstel?  Hy het van Nasaret na Betlehem gereis met ’n swanger vrou, in Betlehem gebly – miskien vir ’n jaar of twee – en nou word hulle beveel om na Egipte te trek.  Jy sou kon verstaan as Josef net huis toe wou gaan.  Maar slegs volkome gehoorsaamheid aan God sou hulle red.  Let op dat hulle ook in die nag vlug, net soos die Israeliete.

So gaan hy dan daarheen en bly daar tot die dood van Herodes.  Dit was nie koning Jesus se lewe wat beëindig is nie, maar die vyand se lewe.

En dan gaan Matthéüs voort en vertel vir ons in vers 15:  “sodat vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet:  Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”  Dit word aan ons vertel deur die Woord van die Here in die boek van die profeet Hosea, in hoofstuk 11:1.  Let op dat Matthéüs die Ou Testament as die Woord van God beskou het – hy sê: “wat die Here gespreek het deur die profeet.”  Dit is nie eerstens wat Hosea tot Matthéüs gespreek het nie, maar wat God gespreek het.  Die voorsetsels in hierdie sin is noukeurig geplaas.  Die Here het dit gespreek. Hy het die profeet gebruik.  Dit is goddelik geïnspireer.  Dit was die Woord van God wat na God gewys het, in die Persoon van Jesus Christus.  In die Ou Testament was Israel God se aangenome kind; hiér praat Hy van sy enigste Geliefde Seun.

Dit is interessant dat hierdie aanhaling hier in die teks geplaas is, waar hulle Israel verlaat om na Egipte te gaan, en nie by die verse waar hulle Egipte verlaat om na Israel te gaan nie, soos wat ’n mens sou verwag.  Dit is amper asof Israel Egipte was.

En in ’n sekere sin het die volk gedurende daardie tyd steeds geglo, alhoewel hulle in Israel was, dat hulle steeds in ballingskap was.  Hulle het steeds op verlossing gewag.  Die mense was steeds in ballingskap.  Steeds onder slawerny.  Daar was ’n Farao-figuur in Herodes:  Een wat alle babatjies in Betlehem sou doodmaak.  Josef se vlug in die nag herinner ons daaraan hoe die Israeliete in die nag gevlug het.  Jesus is die nuwe Moses, en dit was in Egipte waar Moses die kindermoord van Farao ontvlug het, en vanuit Egipte het hy as volwassene gevlug van Farao se woede.  Uiteindelik het hy weer teruggekeer na Egipte toe die mense wat sy lewe gesoek het, dood was.

Israel se eerste exodus uit die land van slawerny was in baie opsigte ’n mislukking.  Hosea vertel selfs vir ons in dieselfde hoofstuk:  “Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop.” (11:2)  Hierdie weglopery het uiteindelik gelei tot ’n nuwe vorm van slawerny.  Hulle was steeds in ballingskap.  Matthéüs wys vir ons dat Jesus die Redder vir Israel uit ballingskap, uit die land Egipte, moes lei.  Hulle het steeds onder die slawerny van die sonde geleef.

Hulle het ’n Verlosser nodig gehad om hulle uit slawerny uit te lei.  Uit onderworpenheid.  Uit gevangenskap.  Uit die duisternis.  Jesus skenk die finale en ware exodus.  Hy is die Seun.  Hy sal nie weghardloop wanneer Hy geroep word nie.  Hy keer terug huis toe en lei ander ook daarheen.  Op die ou end is die verhaal van die Ou Testament eintlik HIERDIE verhaal!  Hy is die WARE ISRAELIET!

Ons sien dit in die volgende vyf hoofstukke, soos John Stott so mooi uitwys:  “Soos wat Israel verdruk was in Egipte onder die despotiese heerskappy van Farao, so het die kindjie Jesus ’n vlugteling in Egipte geword onder die despotiese heerskappy van Herodes.  Soos wat Israel deur die Rooi See gegaan het, so het Jesus deur die water van Johannes die Doper in die Jordaanrivier gegaan.  Soos wat Israel vir 40 jaar in die woestyn van Sin beproef is, so is Jesus vir 40 dae in die woestyn van Judea bepreof.  Soos wat Moses vanaf die berg Sinai die wet vir Israel gegee het, so het Jesus vanaf die berg die Saligsprekinge vir sy dissipels gegee om daardeur die ware interpretasie en versterking van die wet te verduidelik.”

2.Terugkeer

Twee van die belangrikste gebeurtenisse in die Ou Testament is die exodus en die terugkeer uit ballingskap.  Dit is die twee dinge wat Matthéüs hier uitwys.  Hy sê: Kyk na die exodus, kyk na Jesus, en kyk nou hoe verse 16-18 wys dat die terugkeer naby is!  Spesifiek verse 17 en 18.  Maar eers vers 16:

“Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword.”  O, die ironie, hy het hulle probeer mislei, maar toe word hy deur hulle mislei.  En dit was eintlik nie hulle wat hom uitoorlê het nie, maar dit was God wat hulle uitoorlê het.  En hy is woedend.  Hy sal hierdie kind agternajaag en kyk of hy Hom kan inhaal.  Kyk wat hy besluit, vers 16:  “Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.”

SJOE, gepraat van onsekerheid!  Gepraat van alle verontagsaming van die swakkes, die onskuldiges!  O, hoe staan hierdie koning nie in kontras met die Koning wat gebore is nie.

Nou is daar baie mense wat van duisende babas praat, maar Betlehem was ’n klein dorpie van omtrent 300 tot 400 mense, dus sou daar nie so baie babas van daardie ouderdom gewees het nie.  Dit maak die gebeurtenis nie minder gruwelik nie, want dit is nie die grootte nie, maar die betekenis van hierdie gebeurtenis wat saak maak.

Ons lees in vers 17-18:  “Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: ’n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.”  Dit is ’n aanhaling uit Jeremia 31.  Rama was ’n dorp omtrent agt kilometer noord van Jerusalem, waar baie Judese mense gedurende die Babiloniese ballingskap gevange gehou is, insluitend Jeremia.  En dit is die dorp waardeur Israel sou trek op hulle pad na ballingskap.  En Jeremia beeld vir ons die wenende moeder van Israel uit asof sy lewend in haar graf (wat waarskynlik ook daar geleë was) huil oor haar kinders wat in ballingskap is.  Menslike tragedie.  Boosheid.  Maar dit word geïnterpreteer deur die lens van God se Woord.  En dit is wat altyd moet gebeur.  In hierdie hoofstuk sien ons hoop.

Matthéüs sê dat die trane hul klimaks bereik het in die moeders van Betlehem, en met Jesus begin die spoor van trane opdroog.  Kyk net na die konteks van hierdie hoofstuk, dan sal dit duidelik raaksien.  Jy sal tot jou verbasing ’n pragtige hoofstuk van Hoop in Jeremia vind.  Daar is nie baie van hulle nie, maar hier is een van hulle; in werklikheid, die volgende vers, wat nie hier aangehaal word nie, sê: “Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane.”  Hoekom?  Want, soos Jeremia verder verduidelik, God se volk “sal uit die land van die vyand terugkom”.  Die nuwe verbond op hande.

Maar hier, in die begin van Jesus se Bediening, word hierdie moeders ongetroos gelaat, wagtend op iemand om hulle te vertroos, te bemoedig.  ’n Geroep na God self om vertroosting, waarop daar nog gewag word, en waarop net God kan antwoord.  En hierdie profesie uit hierdie hoofstuk maak duidelik dat God die trane sal wegvee deur die dood en opstanding van sy eie Seun.

Die enigste troos wat meer as blote woorde is, sal die opstanding wees.  Is dit nie waar van enige moeder wat trane gestort het oor die verlies van haar eie nie?  Dat hulle mekaar eendag weer sal sien.  Jeremia 31 gaan oor God wat die toekoms van Israel herstel, wat ’n nuwe verbond met hulle sluit.  Vers 9 sê: “Ek sal hulle bring by waterstrome, op ’n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie, want Ek is vir Israel ’n Vader, en Efraim is my eersgeborene.”  Hierdie hele hoofstuk is ’n beeld van ’n uiteindelike finale terugkeer uit ballingskap.  Die trane wat deur die moeders van Betlehem gestort is, huldig die regering in van die Een wat trane van bloed sal stort vir die vergifnis van sonde, en wat, in die herstel van alle dinge, elke traan sal wegvee.  En dit is waaroor die ware beloofde land gaan.  Nuwe lewe.  Opgewekte lewe in ’n nuwe skepping.

Ons lees in vers 19:  “En ná die dood van Herodes het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê:  Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.”  Let op dat dit hier steeds oor die Kind gaan.  Let ook op die meervoud.  Dit lyk asof dit net Herodes was wat Jesus wou doodmaak.  Maar weer neem hy sy aanwysings vanuit die Ou Testament, waar God vir Moses sê: “Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.”  Exodus 4:19

Weer sien ons die gehoorsaamheid en Josef gaan terug, maar hy vind uit dat Herodes se seun in sy plek regeer en dit maak hom bang.  En weer word hy gewaarsku in ’n droom, en daarom het hy gegaan en hom gaan vestig in ’n dorpie met die naam Nasaret.

Vers 23:  “En hy het gaan woon in ’n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.”  Menige kommentator het met hierdie vers gesukkel.  Dit is moeilik, want daar is geen direkte aanhaling nie en die profete is in die meervoud, wat nogal ‘n groot kategorie blyk te wees.  Dit sou makliker gewees het as Matthéüs ’n bietjie meer spesifiek sou wees.

Ek dink Matthéüs is besig om hier twee idees byeen te bring.  Die eerste idee is die verwagting van die uiteindelike groot Dawidiese koning, dikwels “die seun van Dawid” genoem.  En dan is daar ook die skynbaar kontrasterende idee, minstens in die tyd waarin Jesus geleef het, dat die heidene onder die heerskappy van God se volk sou kom.  Wanneer Matthéüs sê: “Hy [sal] Nasaréner genoem ... word,” bring hy hierdie twee idees byeen.  Ek sal nou verduidelik hoekom ek dit sê.

Die Hebreeuse woord vir tak is ‘neser’.  Jesaja 11:1, ’n belangrike messiaanse teks, gebruik daardie woord. “Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ’n loot (‘neser’) uit sy wortels sal vrugte dra.”  Die dorpie Nasaret was vermoedelik vernoem na Jesaja 11:1.  Dit is gevestig deur ’n oorblyfsel van Israel wat uit ballingskap teruggekeer het, uit die geslag van Dawid, soos Josef; en wat hulle nuwe vesting ’n messiaanse naam gegee het.  Hulle het dit Neser-et genoem.  Die dorp van die loot.  Jy kan jou net voorstel hoedat mense besoekers verwelkom het!  Welkom by die stad van die loot.  Maar waar was dit geleë?

Nasaret is in Galilea.  ’n Streek waar beide Grieke en Jode gewoond het.  Die getroue konserwatiewe Jode was meestal in die klein dorpies, en die Griekse kultuur was te vinde in die groot stede.  As gevolg van die diversiteit is daar neergekyk op hierdie area.  Nataniël sê: “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” Dit was die gevoel by baie mense.  Baie mense het nie eers van die dorpie geweet nie.  Dit was onherkenbaar. Hy was onherkenbaar.  Maar dit is juis die punt!  Hy is die Koning!  Die Seun van Dawid, die Loot.  Maar Hy het in nederigheid gekom.  Na die veragtes.  Hy kom na die nasies.  En nie na die grotes nie, maar na die kleintjies.  Na Nasaret van alle plekke.  Die Ou Testament vertel ons hiervan.  Dit was eintlik in die algemeen ’n term van belediging.

Dus, die feit dat Hy ’n Nasaréner genoem is, sê eintlik dat die Joodse Messias asof van nêrens sou verskyn en as gevolg daarvan onbegrip en verwerping in die gesig sou staar.  Die feit dat Hy van Nasaret is, vertel selfs vir ons dat dit die man is waarop die Ou Testamentiese profete gewag het.

Dit is duidelik dat dit wat die Skrif in baie gedeeltes bedoel om te sê, eers nou deur hierdie nuwe verhaal duidelik word.  Dit is ’n verhaal wat ten volle in die Skrif gewortel is en tog bring dit nou eers die volle betekenis van die Woord na vore.  Matthéüs wys vir ons dat Jesus nie slegs ’n illustrasie van daardie antieke woorde is nie, maar Hy is die realiteit van dit waarna hulle verwys.  Ons kan net die ware betekenis van die verhaal in die lig van daardie woorde sien, en ons kan daardie woorde net in die lig van die verhaal werklik verstaan. Die een kan nie sonder die ander nie.  Matthéüs maak dit baie duidelik.  Hierdie woorde vind hulle ware betekenis in hierdie verhaal, en hierdie verhaal gee die ware betekenis aan daardie woorde.  Die woorde van die Ou Testament het gewag op hulle eienaar.  En in Jesus het hulle hom gevind.

Dus, net om af te sluit!  Wanneer jy die Ou Testament lees, lees jy die verhaal van Jesus.  Ken jy die verhaal van Moses en Farao en die exodus?  Dit handel oor Jesus.  ’n Man wat na sy eie mense sou kom om hulle uit slawerny te verlos.  Om jou van jou sondes te verlos.  Ons is die Israeliete wat bang is, en in slawerny.  Dink aan die huilende moeders wat gesien het hoe hulle seuns vermoor en in ballingskap weggevoer is.  Dit laat ons na Jesus en sy verhaal kyk, en hoe Hy ’n antwoord op tragedie sal gee.  Dink aan die gedeeltes oor ’n Messias wat verwerp, verag en nie herken sou word nie.  Dit is Jesus.  Hy is ’n Nasaréner genoem.  ’n Niemand.

Hierdie hele verhaal gaan daaroor om Jesus se werk vir jou aan te toon.  Hoe God die hele geskiedenis beheer het om vir die wêreld te wys: DIT IS MY SEUN!  Aanbid Hom.  Glo in Hom!  Geliefde gemeente, Jesus het gekom; Hy het ons vrygemaak; die ballingskap is finaal verby.  Ons word nou al, soos ons hier spreek, in die land ingelei.  Deur sy opstanding het Hy die laaste woord gespreek.  Daardie groot Amen wat weerklink teen die agtergrond van alle tragedies en wat betekenis gee aan lyding!

Amen.