Wanneer die vryheid in Christus op die spel is

Minister: 
Ds J Bruintjes
Church: 
Kaapstad
Date: 
2017-08-13
Text: 
Galasiërs 2: 1 - 10
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van Jesus Christus. 

ʼn Bekende Amerikaanse psigiater, wyle Karl Menninger het die volgende gesê:  “Ek kan hierdie psigiatriese saal met 70% beddens verminder as ek my pasiënte van 4 woorde kan oortuig. ‘Jou sondes is vergewe.’” 70%!  Angs, depressie, in ons oomblikke van swakheid – is baie maal as gevolg van hierdie gees van selfveroordeling.  Dit is waaroor Paulus wroeg: dat hulle die enigste, unieke oplossing vir die mensdom se grootste probleem (om skuldig voor God te staan) weggee.  Hierdie kerk is daarvan deurdring, dit is aanwesig in die hele mensdom.

Sir Conan Arthur Doyle was die skrywer van Sherlock Holmes speurverhale, maar hy was ook ʼn groot poetsbakker.  Hy het eendag presies dieselfde telegram na twaalf van sy beste vriende in Engeland gestuur.  Dit het gelees, “Vlug onmiddellik: alles is oopgevlek.” Dit is ʼn wrede grap.  Die geskiedenis vertel ons dat hulle almal binne 24 uur Engeland verlaat het.

Jou sondes is vergewe.  Dit is vryheid.  Vergewe:  totaal, vry in Christus, ongeag alles wat jy voorheen gedoen het, en ten spyte van alles wat jy later sal doen – bloot deur geloof in Christus.  Niks behalwe Christus.  Enige iets anders as dit sal ons slaaf maak van die spanning, angs, vrees vir sonde – dit is geen vryheid.  Dit is die stryd in vandag se teks.  Is Christus alles – vryheid;  of is Hy byna alles – slaaf van die sonde. 

Daar is een oplossing.  Jesus Christus.  Toe Hy op Golgota gekruisig is, het Hy ons plek ingeneem.  En sy geregtigheid is ons sʼn , sodat ek, met respek kan sê, “Ons het in Christus net soveel reg om hemel toe te gaan as Jesus Christus.  Hierdie vryheid van lewe in Christus was op die spel.

Die apostel gaan na Jerusalem om sy vryheid te verdedig – ʼn evangelie wat hy reeds ʼn lang tyd verkondig het.  Veertien jaar om presies te wees.  Ek weet nie wat jy 14 jaar gelede gedoen het nie – ek was ʼn tiener in graad 11.  Baie het sedertdien verander – in elke aspek van my lewe, ook my denke. As ʼn mens daaraan dink dat Paulus die evangelie vir 14 jaar verkondig het, dan sou ʼn mens veronderstel dat dit wat hy verkondig het, redelik helder uiteengesit was.  Sodra ʼn mens dieselfde ding vir 14 jaar doen, is dit redelik gevestig.  Hy het die ondervinding in Jerusalem nodig gehad, omdat die vryheid in op die spel was.  Ek verkondig aan julle onder die volgende tema:

Wanneer die vryheid in Christus op die spel is

  1. Staan saam in die waarheid
  2. Werk saam in die waarheid
  3. Dien saam in die waarheid

Staan saam in die waarheid

Net gou ʼn oorsig:  Die valse predikers het gesê dat Paulus se boodskap nie van Jerusalem gekom het nie en dat hy minder outoriteit het as die ander predikers.  ʼn Paar weke gelede het ons gehoor dat Paulus die punt gemaak het dat sy boodskap van Jesus Christus self kom en nie van die dissipels in Jerusalem nie.  Nou maak hy die stelling dat alhoewel die boodskap van Jesus gekom het, dit dieselfde boodskap is wat Jesus aan die dissipels in Jerusalem gegee het, dat dit nie verskil nie.

Hierdie boek is vroeg in Paulus se bediening geskryf.  Hy was bekend as ʼn missionaris, maar waarskynlik nie ʼn leier nie.  Toe hulle na Jerusalem gegaan het, was Barnabas steeds die leier van die groep.  Dit is nie Barnabas en Titus wat met Paulus saamgegaan het nie.  Nee, vers 1 sê, “ek het weer na Jerusalem opgegaan met Barnabas, en Titus ook saamgeneem.”  Drie vriende – verenig in een Here – saam vegtend vir die evangelie.  Hierdie drie kon nie meer verskillend gewees het nie: ʼn Fariseër, ʼn Jood van Ciprus en ʼn Christen uit die heidendom.  Drie vriende wat op pad is na Jerusalem en saamstaan in die waarheid.

 Paulus het saam met Barnabas gegaan en Titus saamgeneem – ʼn heiden wat nie besny was nie, in die hart van Jerusalem.  Sommige mense sou gedink het dit is belaglik.  Wat besiel jou om ʼn heiden na ʼn Joodse land te neem?  Hy gaan uitstaan soos ʼn seer duim.  Soos ʼn All Black-ondersteuner by ʼn Springbok wedstryd in Pretoria.  Jy let hulle op, veral as hulle langs jou sit en hul span luidkeels aanmoedig.  Paulus weet dit is gevaarlik, maar hy doen dit in elk geval.  Titus was ʼn getuienis van sy evangelieverkondiging aan die heidene. 

Hy wou ʼn punt bewys – almal is welkom in die kerk.  Daar is nie verskillende spanne nie.  Nie ʼn Joodse span en ʼn heidense span nie.  Daar was een kerk – die kerk van Jesus Christus.  En daardie kerk het geen inisiasie rituele voordat jy lid mag word nie.   Daar was nie proewe waar die swakste spelers uitgelaat is nie.  Jy kon vry by die voorste poort ingaan, maak nie saak wie jy is nie, maak nie saak wat jou agtergrond is, maak nie saak wat jou etnisiteit is nie. Die poort is Jesus Christus.

So hier gaan ons drie vriende soos ons lees in vers 2 “op grond van ʼn openbaring en lê hulle die evangelie voor wat ek onder die heidene verkondig.”  Dit is nie hy wat ʼn groot ding hiervan wil maak nie, dit is God wat dit belangrik ag.  Dit was ʼn opdrag van God.  Die vryheid in Christus was op die spel, daarom is hierdie drie mans gestuur om van die waarheid te getuig in Jerusalem.

Paulus het geweet dat hy na die leiers moes gaan – want as die leiers van die kerk verenig is, ongeag hoe verskillend hulle is, sal die res van die kerk volg.  Ek dink ons kan almal uit ondervinding sê dat wanneer die leierskap verdeeld is, is die kerk verdeeld.  Dus gaan Paulus na hulle afsonderlik om seker te maak dat hulle dieselfde oor die saak dink. In vers 2b lees ons, “afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.” Dit moes privaat en op ʼn sensitiewe manier gedoen word. 

Dit is vir ons vandag moeilik om te sien hoe belangrik dit was.  Die mens se hele identiteit was op die spel.  Om die enigste ware God te aanbid, het hand aan hand gegaan met die mosaïese wette van ʼn duisend jaar oud!  Dit is soos om ʼn Afrikaner te wees en te braai, ʼn mens kan nie daardie twee van mekaar los maak nie. Daar is sekere dinge wat net deel is van jou identiteit.  En vir hierdie Jode sou dit gevoel het of daardie einste identiteit van die kerk op die spel was!  Sou dit Joods bly of Christelik.  Waar was hul lojaliteit – Christus of Moses.

Paulus het verstaan hoe belangrik dit was en hoe belangrik dit vir die leiers was om saam te staan vir die waarheid van die evangelie.  Hy doen dit sensitief, maar ferm.  Hy was bang dat hulle nie saam met hom sou staan vir die evangelie nie.  Die vrees van enige predikant is dat ʼn valse leer die jare-lange verkondiging van Christus sal ondermyn. Dit is Paulus se vrees.   ʼn Mens kan dit aanvoel in die woorde “dat ek nie tevergeefs sou loop of geloop het nie”.  Hy het geweet dat hy nou al sy kaarte op die tafel moes sit, anders sou dit ʼn faktor wees wat al die werk wat hy gedoen het, kon vernietig.

ʼn Mens kan byna sy opgewondenheid hoor op die manier waarop hy met vers 3 begin... “afsonderlik aan die wat in aansien was, dat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.” Maar RAAI WAT?!  “Maar selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ʼn Griek is;”  Dit was nie asof hulle nie probeer het nie, soos vers 4 verduidelik, “dit vanweë die ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid te bespied wat ons in Christus Jesus het, sodat hulle ons in diensbaarheid kon bring;”  Nietemin was die hoofsaak dat Titus nie besny was nie.

Hoekom is dit so belangrik?  Omdat hulle menslike kriteria opgebring het om ʼn Christen te wees en sodoende slawe van hulle te maak.  Dit is soos in ons kultuur wat sê dat ʼn mens maer moet wees om mooi te wees.  Jy moet universiteit toe gaan om ʼn stem in die wêreld te hê.  Jy het nie nodig om dit te doen om ʼn Christen te wees nie.  Hierdie dinge maak van ons slawe.  Ons word slawe van ʼn sekere liggaamsbeeld, ons aanbid hoër onderwys.  Skoonheid is nie beperk tot dié wat maer is nie, om ʼn stem te hê is nie beperk tot ʼn universiteitsgraad nie, om ʼn Christen te wees is NIE beperk tot enige christelike norm of menslike kriteria nie.  Westerse kultuur het net so min ʼn monopolie tot Christenskap as wat die Jode gehad het.  Die meerderheid in die kerk kan net sowel nie-blank en nie-Jood wees nie.

Hoekom sou dit so wees?  Omdat die leiers in Jerusalem saamgestaan het vir die waarheid 2000 jaar gelede soos ons in vers 5 lees, “aan wie ons selfs nie ʼn oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.”  Paulus het geweet dat die goeie nuus van Jesus Christus se dood en opstanding nie verbeter kon word nie.  Dit is ʼn alewige gevaar:  om sekere aspekte van Christenskap te verhoog tot ʼn verhewe plek:  selfs iets goeds.  Soos ʼn kenmerkende leer of styl van aanbidding, ʼn politieke of sosiale doel, soos om iets te doen of nie te doen wat die wêreld doen nie.

Maar vir die evangelie om evangelie te wees, moet dit op sy eie staan.  Die evangelie is Christus plus niks.  “Ons hoop is gebou op niks minder as Jesus se bloed en geregtigheid.”  Ons hoop is ook op niks meer gebou as op Jesus se bloed en geregtigheid nie.  Daar is geen toevoegings nie.  Geen alternatief vir Jesus nie.  Gelukkig het die leiers van die vroeë kerk dit besef en het hulle nie vir ʼn oomblik ingegee nie.  Hulle het saamgestaan in waarheid en mekaar as broeders in Jesus Christus herken.  Wat ons by die tweede punt bring....

Werk saam in die Waarheid

Paulus sê in vers 6, “Maar van die wat in aansien was – wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie;  God neem die persoon van die mense nie aan nie – hulle wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie.” Die leiers in Jerusalem van wie die valse leraars gesê het dat hulle die regte leiers van die Christendom is, het niks meer aan Paulus opgelê nie.  Sy evangelie was die boodskap van genade – en genade plaas almal op gelyke speelveld.  Ons is almal gelyk voor die kruis.  Ek gee nie om of jy die koning in ʼn kasteel of die hawelose onder die brug by Frans Conradie is nie – in die kerk van Christus is julle gelykes.  Populariteit en rykdom beteken niks voor God nie.  In feite “wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”  Die boodskap van die evangelie is ʼn groot gelykmaker:  dit verneder die trotses en arrogantes en verhoog die nederiges.  En dit was hierdie evangelie waaraan die dissipels in Jerusalem niks toegevoeg het nie, maar eerder met hom ʼn vennootskap aangegaan het in die bediening van die evangelie.

Jy kan sien dat Paulus se doel was om die nuwe mensdom onder een vaandel te verenig:  die vaandel van Jesus Christus.  My een wens met hierdie preekserie is dat daardie vaandel hoog gehou word.  Dit beteken NIE om homogeen (almal dieselfde) te wees nie, dit beteken eenheid in verskeidenheid.  Dit beteken Jood en heiden wat in dieselfde gebou sit.  Daar was nie meer twee teenoorgestelde groepe nie.  Dit beteken om jou broer en suster, wat nie met al jou standpunte saamstem nie, in die oë te kyk en te sê:  “ons stem miskien nie met alles saam nie, maar ek is lief vir jou, omdat ons een is in Christus.  In Christus het ons almal dieselfde vader, ons is almal verwant.  Ek kan sê dat almal in my kerk my broer en my suster, moeder en vader, seun en dogter is. Dit geld nie net binne die kerk nie, maar is ook waar vir ons verhouding met ander kerke wat Christus verkondig.   Die laaste ding wat Paulus wou hê was ʼn miljoen verskillende kerke en federasies met hulle eie kenmerke.  Hy wou een algemene kerk hê -  ʼn gemeenskap van Jode en heidene.  Gee missie het superieure waarde nie! Almal een in Christus! 

Dit het nie saak gemaak of jy Nederlander, Suid-Afrikaner, Amerikaner of Asiër is nie:  julle is een in Christus.  Besnydenis is nie verkeerd op sigself nie – hy het Timoteus immers besny – maar hierdie dinge is nie langer tekens van verlossing nie.  Dít is vryheid.  Om nog steeds jou eie tradisies en gewoontes te hê, maar om terselfdertyd te besef dat dit jou nie beter as ander maak nie.  Die vryheid is nie een of ander innerlike spirituele ding nie – dit is vryheid wat toelaat dat geen enkele tradisie die hoogste gesag in die kerk het nie.  En dit is presies wat die kerk in vers 7 bely – twee kulture – een boodskap.

Vers 7, “Maar inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos Petrus dié vir die besnedenes.’  Dieselfde evangelie wat aan verskillende mense gepredik word.  Dit is pragtig.  Hulle was een in die waarheid.  Hoekom?  Want dieselfde God was werksaam in beide – die God van waarheid.  En Hy het dieselfde koninkrykboodskap vir alle mense wat vandag wil luister – Wil jy ʼn nuwe lewe hê?  Sluit jou by ons aan by die kruis.

Dus is die dissipels verenig, maar elkeen het ʼn spesifieke taak.  Die punt is dat die kerk slegs ‘n verskeidenheid van missies kan toelaat wanneer daar eenheid in die boodskap is.  En noudat hulle saamstem, kan elkeen sy eie pad gaan. 

Vers 8 sê, “want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene.”  In vers 7 sien ons dat  “hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is” en hier het ons ”hulle merk die genade wat aan my gegee is.” Hoe het hulle daardie genade opgemerk? – omdat dit aan hulle self gewys is in Christus.  ʼn Mens kan nie iets opmerk as jy dit nie eers self gesien het nie.  Ek hou daarvan om die genade aan die werk te sien in ander, hulle wat genade in ander mense opmerk, en nie bang is om dit vir hulle te vertel nie.  Hierdie mense is stadig om te kritiseer en stadig om kwaad te word.  Ek is dankbaar dat daar so baie van julle in hierdie kerk is.  God se genade open ons oë vir die genade in ander.  Open julle oë en verheug julle in God se genade vir jou naaste.

En omdat hulle die genade opgemerk het, het hulle dit verseël met die regterhand van gemeenskap.  Vers 9, “Jakobus en Cefas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee.”

Daar is hierdie legende van Churchill, die eerste minister van Engeland gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat aan die ontvangkant was van ʼn tou mense en almal se hand moes skud en baie verveeld geraak het.  Hy besluit toe om vir die mense wat sy hand geskud het te sê, “Ek is ʼn Duitse spioen,” net om te kyk wat die reaksie is wat hy sou kry.  Hy het dit met ʼn baie vriendelike stem gesê, net soos wat hy “Hello” gesê het en die meeste mense het geantwoord, “Dit is gaaf.  Is dit nie ʼn mooi aand nie.”  Hulle het dit nie eers opgelet nie!  Een man het toe in Churchill se oor gefluister, “Geen wonder dat die Duitsers verloor nie.”

Hoe gereeld skud ons nie hand en dit beteken nie rêrig veel nie?  Maar nie in die eerste eeu nie.  Wanneer hulle “die regterhand van gemeenskap” gegee het, het hulle ʼn vennootskap gevorm.  Hulle het ooreengekom om ʼn gesamentlike taak te deel.  Hulle het daarop hand geskud!  In hierdie geval was dit die taak om die evangelie te verkondig en hulle het nie net besluit om dit saam te verkondig nie.  Hulle het ooreengekom om saam te staan.  En deur dit te doen het hulle besluit om saam te dien.  Dit bring ons kortliks by die laaste punt.

Om saam te dien

Een van die eienskappe van Christenskap, is die feit dat dit omgee.  Dit is dit.  Dit gee om, dit gee om vir ander.  Dit gee om vir ʼn ander se ewige welstand sowel as die huidige.  Diensbare liefde is die hartklop van ons geloof – omdat dit die hartklop van God is – die rede waarom Christus se hart aan die kruis ophou klop het.  Terwyl die wêreld veg vir mag, geld, invloed en aansien, gaan die kerk van Jesus Christus rustig voort om te dien en lief te hê – nie op soek na erkenning nie – maar omdat hulle in Christus besef dat nie een van ons beter as die ander een is nie.

Dit is geen wonder dat die laaste vers van ons teks lees, “alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.”  Die evangelie van genade is prakties – die evangelie van genade gee om vir dié wat niks het nie.  Dit terwyl die valse leraars hulle bekommer het oor populariteit en die prestige van die dissipels in Jerusalem.  Paulus en die res van die kerk hef aan die einde van ons teksgedeelte die armes op.  ʼn Deel van die hartklop van hierdie kerk is om te sorg vir die armes, eers in ons eie gemeente, maar ook in die gemeenskap, soos wat ons gesien het deur die werk van die diakens die afgelope paar maande deur middel van kollektes vir Knysna en Straatwerk.

Sommige mense leef nog in die waan van ʼn vals godsdiens waar wêreldse status en aansien iets beteken en jou waardig maak.  Hulle sê dat afhangende van wie jy is en na watter kerk jy gaan, jy waardig is.  Maar hulle het nie die vaagste idee van wat dit beteken dat Christus gesterf het vir die goddelose nie.  Lees deur hierdie Bybel en jy sal baie vinnig agterkom vir wie God omgee.  Hy gee om vir die gebrokene, nederige, sondige mens.  Hy gee om vir die weduwee en die wees.  Hy gee om vir die armes. Hy sorg vir ons.

God se kriteria vir waarde is nie soos ons sʼn nie.  Hy gee geen aandag aan reg en hoe ver jy en ek op die sosiale leer geklim het nie.  In ʼn gemeenskap van genade sal jy iets wonderliks vind, jy sal vind dat die wat as die grootstes geag word, hulle is wat die kleinstes dien.  Die armes in die tyd van Paulus is as ‘kultureel waardeloos’ gesien.  Hulle het niks om aan die samelewing toe te voeg nie.  Die houding was dat hulle hulself daar gekry het en hulself maar weer daaruit moes kry.  Maar die kerk het besef dat as God so gedink het, sou daar nie ʼn kerk gewees het nie.  So as hulle soos Christus wou wees, kon hulle nie so dink nie.

Net ʼn paar jaar gelede (2012) het Princeton Peter Brown se massiewe studie van rykdom en armoede in die antieke samelewing gepubliseer.  Hy het opgemerk dat daar ʼn radikale verskuiwing in die samelewing se siening van die armes in die 4de en 5de eeu was as gevolg van die invloed van Christendom.  Brown het toe geskryf, “Die armes is baiemaal gesien as verteenwoordigend van die ekstreme van die menslike toestand, mense wat huiwer op die rand van vernietiging en verdoem is tot die uithoeke van die samelewing.”  Die armes is gesien as ANDER, as DAARDIE MENSE.

Toe het die goeie nuus van Christus oor die Romeinse ryk gespoel en ʼn dramatiese verandering gebring.  Brown skryf, “Die armes was nie bloot ANDER nie – skepsels wat op die rand van die samelewing gehuiwer het, wagtend om deur die rykes gered te word nie. Hulle was ook BROEDERS.  Hulle het die reg gehad om ‘uit te roep’ vir geregtigheid in die gesig van die verdrukkers saam met al die ander lede van ‘God se mense’.

Jy sien, wanneer ons waarlik glo dat God ALMAL wat op Sy Seun vertrou, aanvaar, dan maak ons geen onderskeid tussen ryk en arm, blou- en witboordjie, ons mense en hulle mense, Kleurling, Blank en Swart nie.  Daar is geen ANDER in die kerk van Jesus Christus nie.  Eerder is ons almal BROEDERS en susters in God se familie, wat oor tyd en plek heen strek.

Ons is verenig, kerk.  Een familie, verskillende agtergronde, opinies, toekomsvisies.  Dit is OK.  Selfs goed, so lank as wat ons aan die einde van die dag na die Skrif kan teruggaan en weet dat ons verenig is in die boodskap van hierdie boek.  Alleen in Christus.  Dieselfde boodskap vir elke stam, taal en nasie onder die hemel.  Elke mens, of hy nou in China, Amerika, Europa of Afrika is het dieselfde probleem en het dieselfde oplossing nodig.  As Christenskap vasgemaak moes word aan die Joodse kultuur, sou die boodskap gebind wees.  Dit is soos om Christenskap vas te maak aan die Nederlandse kultuur of Nederlandse kerk.

En as jy hierdie week ingaan, dan is dit my bede dat jy die genade van God in die mense rondom jou, in jou familie, in jou medewerkers, in jou gemeente, in jouself sal raaksien.  En as jy daardie genade in jouself besef, is dit my bede dat jy aan die armes, die verstotenes, sal dink hierdie week.  Want dit was jy, dit was ek, voordat God ons aangeneem het.  Daarom was hierdie vraag wat daardie dag in Jerusalem beantwoord is van uiterste belang.  Sou Christus deur mense vasgevang wees, of sou die evangelie tot in die uithoeke van die wêreld ontplof?  Die feit dat ek en jy hier sit is die antwoord op daardie vraag.

Amen