Vandag kom ons by die tweede helfte van Daniël. Dit is egter belangrik om uit die staanspoor te noem dat hierdie hoofstukke moeilik is om te verstaan. Hierdie word apokaliptiese literatuur genoem en behoort nie letterlik geïnterpreteer te word nie. As ek byvoorbeeld sê: “Die sterre sal uit die hemel val en die son sal ophou skyn en die maan sal drup van bloed”, dan weet jy dat die sin nie soos volg sal eindig nie: “… en die res van die Wes-Kaap sal deels bewolk wees met verspreide buie”. So ja, dit is nie maklik nie, maar gelukkig het ons die hele Bybel om ons te help om hierdie gedeeltes te interpreteer, en die konteks verskaf baie leidrade. Hierdie literatuur verkondig hoop aan diegene wat deur die wêreld gemarginaliseer en misbruik word. Dit herinner ons daaraan dat God op die troon sit en dat Hy sal triomfeer. Getrouheid is dus die enigste weg.
Indien jy egter hierdie week tuis moeite daarmee gehad het: moenie bekommerd wees nie, jy is nie die enigste nie. Professors en predikante regdeur die geskiedenis het met hierdie hoofstukke geworstel. Ek gaan nie al die antwoorde gee, of voorgee dat ek weet waaroor dit alles gaan nie. Ek erken daar is baie dinge in hierdie hoofstukke waarvan ek onseker is. Maar ek weet wel dat hierdie God se Woord is en dat dit ter wille van ons geskryf is. Ons sal dus deur dit gaan wat ons wel verstaan en probeer seker maak ons kry die hoofgedagte van elke hoofstuk, wat ek dink baie duidelik is.
“Die koninkryk van die wêreld is nou die koninkryk van ons God en van sy Christus, en Hy sal vir ewig en ewig heers.”
- Die wêreldkoninkryke woed
- God se Koninkryk heers
- Die oorlog tussen die twee
Die wêreldkoninkryke woed
Nebukadnésar het teen hierdie tyd waarskynlik oud begin word. Een aand, terwyl hy op sy bed lê, maak God ‘n openbaring aan hom in ‘n droom en hy skryf dit neer sodat ons dit ongeveer 2 500 jaar later hier in Kaapstad kan lees en steeds bemoedig word.
In vers 2 lees ons: “Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring”. En hy sien in vers 3 “vier groot diere uit die see opklim, die een verskillend van die ander”.
Kyk mooi elke keer as jy iets uit ‘n onstuimige see aantref. In die Bybel is die see ‘n woeste en gevaarlike plek, ‘n beeld van die nasies. In die boek Psalms is die see die beeld van onbeheerbare politiese magte in die wêreld. Ons lees ook in Jesaja 57:20: “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op”. Hierdie onstuimige, malende see is ‘n beeld van universele chaos.
Ons sien regdeur die geskiedenis hierdie raserny, hierdie verwoede optrede onder die nasies. Daar is tye van vrede, maar oor die algemeen is die nasies in chaos – òf dit stort van binne ineen òf hulle vlieg mekaar konstant in die hare. Hoewel hierdie hoofstuk dus oor ‘n spesifieke tyd in die geskiedenis handel, is dit ook ‘n prentjie van al die koninkryke in hierdie wêreld. Die vier winde verteenwoordig al die rigtings op die aarde: Noord, Suid, Oos en Wes. “Die konings van die aarde staan gereed, en die volke hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde. Hulle sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Psalm 2) Ons wêreld lyk nie juis anders as jy sien hoedat wêreldmoondhede met mekaar meeding om beheer nie. Hulle is soos die stormsee.
Let egter op wie die wind beheer – die hemel. Hoewel die tierende nasies so magtig lyk, beheer God die winde. Die Here is die Een wat die see beheer. Ons lees tereg in Jeremia 5:22: “Sou julle vir My nie bevrees wees nie, spreek die Here, of voor my aangesig nie bewe nie, wat die sand gestel het as grens vir die see, ‘n ewige beperking waaroor hy nie sal gaan nie? Al rol sy golwe, hulle is onmagtig; al bruis hulle, hulle sal daaroor nie gaan nie.”
Daar is ‘n beperking op die mag van die goddelose. As ons dus na die waansinnige wêreldgebeurtenisse om ons kyk, mag hierdie hoofstuk jou die vertroue gee om te weet dat die Here in beheer is.
Kom ons kyk na die diere. Daar is vier. ‘n Mens kan sommer dadelik dink aan die vier koninkryke in Daniël 2. In Daniël 2 is daar vier basiese koninkryke en hier is ook vier. Al vier volg op mekaar en uiteindelik vernietig ‘n koninkryk hulle almal en regeer oor almal. Weens hierdie ooreenkomste dink ek hulle het dieselfde betekenis.
Die gesigte in Daniël 2 en 7 toon ons vier menslike koninkryke wat gekom het voor die koms van die koninkryk van God. Spesifiek die Babiloniese, Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke, hoewel die laaste dier verteenwoordigend kan wees van die res van die geskiedenis tot op hede. Hoe dit ook al sy, hierdie koninkryke word nie by name genoem nie, dit is dus nie die punt wat God maak nie. Die kernsaak is dat hierdie koninkryke ons ‘n beeld gee van die hele menslike projek sonder God. Magtig, vreesaanjaend, iets wat werklik kwaad aanrig, maar uiteindelik aan bande gelê en vernietig word deur God se mag.
Ons lees van die vier diere in vers 4-8. Vers 4: “Die eerste was soos ‘n leeu, en hy het vlerke van ‘n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ‘n mens op twee voete neergesit is en daaraan ‘n mensehart gegee is.” Dit is moontlik die Babiloniese Ryk en die beeld van hierdie dier is baie soortgelyk aan die van Nebukadnésar. Ons lees hier dat dit vlerke soos ‘n arend gehad het en in Daniël 4:33 lees ons: “Sy hare het lank geword soos die vere van arende en sy naels soos dié van voëls”. Maar Nebukadnésar se geestesgesondheid is herstel en hy het weer die hart van ‘n mens gekry.
Die tweede koninkryk is heel waarskynlik die Medo-Persiese Ryk. Hulle het die Babiloniese Ryk oorgeneem nie lank nadat Daniël hierdie gesig gehad het nie. Net soos wat silwer minder werd is as goud, so word die beer onder die diere ook minder gevrees as die leeu. Aan hierdie ryk word gesê: “eet baie vleis”. Dit is presies wat gebeur het. Die Persiese oorloë was groot en bloedige ondernemings en baie mense het gesterf. Hulle is gedryf deur ‘n honger na mag, grond en oorheersing. Daar het nie baie verander in 2 000 jaar nie. Slegs 80 jaar gelede het ons ‘n ryk gesien wat meeding om wêreldoorheersing.
Die derde koninkryk was ‘n luiperd met vier vlerke. Dit verwys waarskynlik na die Griekse Ryk wat begin het onder Alexander die Grote, ‘n ongelooflike generaal wat die toendertydse wêreld op die ouderdom van 32 verower het. Ek weet nie wat jy in jou laat twintigs en dertigs gedoen het nie, maar hierdie man het die wêreld oorgeneem. Hy het so ver soos Indië gegaan en sou verder gegaan het as dit nie was vir sy soldate wat moeg geveg was en geweier het om te gaan nie. Ironies genoeg het hy in Babel of Susan gesterf, in die paleis van Nebukadnésar. Wat ‘n mens hier kan opmerk is dat almal op die ou end dieselfde ding begeer – ‘n aardse koninkryk sonder God – en dat almal sterf en nie meer daar is nie.
Die laaste dier is so skrikwekkend dat Daniël hom nie eers beskryf nie. Al wat hy kan sien, is die dier se enorme tande. Let daarop dat die tande van yster was, net soos die bene van die Nebukadnésar-beeld in hoofstuk 2. Net soos in daardie gesig word daar baie aandag gegee aan die beskrywing van hierdie koninkryk. Daar is weer eens baie gedebatteer oor wie hierdie koninkryk is. Dit kan Antiochus Epiphanes wees; dit kan Caesar wees; dit kan ‘n ryk wees wat nog moet kom. Volgens vers 24-25 is dit moontlik ‘n hele aantal konings. Op die ou end sê Daniël nie wie dit is nie; ons hoef dus ook nie. Wanneer ons kyk na hoe die diere uitgebeeld word en dit vergelyk met party van die diere in Openbaring, dink ek ons kan sê dit is verteenwoordigend van die Antichris van elke era. Dit is die mensdom los van God. Outonoom. Die uiteinde daarvan moet konflik met die soewereine God wees.
Let daarop dat nie een van die eerste drie diere onafhanklike mag het nie. Die leeu is opgehef en op twee voete neergesit en het ‘n mensehart ontvang. Aan die beer is opdrag gegee om baie vleis te eet. Aan die luiperd is heerskappy gegee. Slegs die laaste skrikwekkende dier lyk of dit geen teken van afhanklikheid het nie.
Die punt is dat hierdie koninkryke verteenwoordigend is van die pogings van die wêreldryke om ‘n blywende en enorme bewind onder die mense op aarde te vestig. Hulle staan in kontras met die Koninkryk van God. Daniël is geskok wanneer hy hulle weer sien. Onthou, hierdie man is nie naïef nie. Hy was betrokke by die bestuur van mense. Hy weet hoe korrup mense kan wees. Maar selfs hierdie man wat sy hele lewe by regering betrokke was, is geskok deur die boosheid en brutaliteit van hierdie aardse koninkryke. Selfs Daniël – wat leeus, of nog erger, Nebukadnésar se humeur, getrotseer het – was verskrik by die aanskouing van wat hierdie nasies sal doen. Maar selfs terwyl hy hierdie dier beskryf, kyk sy oë op in die hemelse troonkamer.
God se Koninkryk heers
Hierdie toneel neem ons weg van die aarde en die wêreldse koninkryke na die hemelse troonkamer. In vers 9 tot 14 kom ons by die gesig van God en sy troonkamer. In teenstelling met die oënskynlike mag en ooglopende verdorwenheid van die koninkryke van hierdie wêreld, sien ons hier die werklike mag en soewereiniteit van God en die regverdigheid van God Almagtig.
In teenstelling met die aardse wanorde, strydlus en doodslag het ons hier te make met ‘n kamer vol orde en vrede. Ons lees in vers 9 en 10: “trone is reggesit en ‘n Oue van dae het gaan sit; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur”.
Die Oue van dae sit op sy troon en die wêreld is in sy mag. Hemelse kalmte word in kontras gestel met aardse chaos. Die boodskap is weer eens dat God volledig in beheer is, ongeag wat sy mense deurmaak. In hierdie gedeelte is nog ‘n paar dinge waarop ons kan let.
Eerstens – let op wat God genoem word. Wat is die doel van elke aardse koninkryk? Om ‘n lang, lang tyd te bestaan. Wat word God hier genoem? Die Oue van dae. Hierdie diere, so skrikwekkend en magtig as wat hulle is, is blote sprinkane – klein onbenullige goggas – in die Oue van dae se oë. Koninkryke kom en gaan. Dit wat vandag magtig is, sal môre weg wees – ons het dit tot sover herhaaldelik in die boek Daniël gesien. Maar die Oue van dae is steeds op die troon.
Let ook daarop dat die Oue van dae so wit soos sneeu is. Daniël het sopas die wêreldregering op sy boosste beskryf. In teenstelling met die boosheid van menslike regering (ons sien dit oral om ons in hierdie land) beskryf hy die Oue van dae as wit soos sneeu, wat sy geregtigheid en onverdorwenheid simboliseer. Sommige regerings se bedoelings is dalk goed, maar so lank as wat daar sonde is, ontmenslik hulle altyd op die een of ander manier hulle onderdane.
En Hy sit op sy troon. Hy regeer. Hy is ongetwyfeld in beheer. Hy is in die posisie van outoriteit. Wat ‘n vertroosting vir Daniël om tydens die bewind van daardie niksbeduidende man, Nebukadnésar, sy God op die troon te sien. Mag ons hierdie gesig vandag deur die Woord van God sien! Hy regeer! In heiligheid, onverdorwenheid en geregtigheid. Hy is die groot Regter van hemel en aarde. Dit is presies die punt van die verkondiging van hierdie boek, sodat ek en jy aangemoedig kan word om deur moeilike tye gelowig in hierdie wêreld te wees, want ons God is soewerein, en Hy sal die lewendes en die dooies in hierdie lewe en in die volgende lewe oordeel.
Daar is nog ‘n bemoediging vir Daniël. In vers 10 staan daar tienduisend maal tienduisende voor die troon. Een kommentator sê dat hierdie een van die vriendelikste dele van hierdie gesig is. Hoe dikwels het Daniël alleen voor sy God gestaan? So baie keer in sy lewe het hy alleen gestaan, en nou sien hy miljoene! En sy hart word opgehef na ‘n plek waar daar duisende en duisende en tienduisende is wat God Almagtig dien. Daar sal hy tuis wees en nie alleen nie. Hier mag ons dalk geroep word om in die minderheid wees. Daar aan die ander kant sal daar nie net een persoon wees nie!
Voordat ons kortliks na die einde van die hoofstuk aanbeweeg, is daar ‘n paar laaste dinge wat ek wil uitwys in vers 11 – 14. Let daarop dat die boeke oop is. Ons is in die hofsaal. Dit is die oordeelsdag. God is nie net in beheer nie; dit is ook Hy wat die wêreld sal oordeel. Dit is interessant dat daar in die middel van hierdie reusagtige toneel in vers 11 en 12 ‘n terugblik op die vierde dier is.
Dit is egter amper teleurstellend. Dit spyt my as jy dalk ‘n epiese oor-en-weer-stryd verwag het, maar daar is net geen vergelyking tussen die mag van die Oue van dae en hierdie dier nie. Die diere is verslaan en baie min word daaroor gesê. Dit is amper asof Brasilië se sokkerspan teen die GLB speel. Geen vergelyking nie. Wie is ‘n gelyke teenstander vir God Almagtig? Hy verskyn, wis die vierde dier uit en die saak is afgehandel. Daar is geen uitgerekte, epiese stryd wat oor vyf hoofstukke afspeel nie. Dit is in ‘n oogwink oor en verby. Hy wis almal uit wat teen sy mense is.
Laastens kry ons daardie skitterende beeld in vers 13 van Iemand wat genoem word die Seun van ‘n mens, wat met die wolke kom. Hy reis op die manier waarop God Self uitgebeeld word. Daar is 70 plekke in die Bybel waar God uitgebeeld word as Iemand wat op die wolke vaar. Niemand anders word uitgebeeld as iemand wat op die wolke vaar nie. Daarmee saam lees ons in vers 14 hierdie Seun van die mens word vereer. Wie is waardig om vereer te word? Slegs God. Hierdie Seun van die mens moet dus een van ons wees (‘n mens) en tog God. Teen hierdie tyd behoort julle almal te dink: “Jesus! Dit is Jesus!” Julle is reg, Jesus pas hierdie teks op Homself toe. Hy verwys die heeltyd na Homself as die Seun van die mens. Let op wat Hy sê in Markus 14:62: “Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.”
Hierdie ware mens is alles wat die mens as beeld van God bedoel was om te wees, maar waarin hy misluk het.
In hierdie hoofstuk vind ons ‘n beeld wat ons weer al die pad terug neem na Genesis 2, waar die seun van die mens Adam mag kry om oor die diere te heers. Dink ook aan Psalm 8, waar die vraag gevra word: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Daarna volg ‘n uiteensetting van die mens se heerskappy oor die diere van die veld. Jy sien, die mens is geroep om oor die skepping te heers, nie om daardeur oorheers te word nie. Maar omdat hulle hul rug op God gekeer het, het die slang – die dier – die heerskappy geneem wat aan die mens gegee is. Daniël sou uiteraard deeglik bewus gewees het van hierdie tekste. Hy was ‘n Jood wat die Bybel geken het en hierdie teks voeg dus baie betekenis by ons eie tekste. Vir hom, maar ook vir ons, as ons by hom aansluit in hierdie wonderlike verhaal van die Skepping tot die Nuwe Skepping. Die mens sal weer herstel word in sy regmatige plek!
Deur die werk van Jesus Christus is die konimkryk van hierdie wêreld die nekslag toegedien. Hy het opgevaar en regeer terwyl menigtes uitroep: “Waardig is die Lam wat geslag is!” God het Hom tot die troon verhef oor almal. Hy sal nie as ‘n swak mens terugkeer nie, maar in mag en glorie om die lewendes en die dooies te oordeel, soos ons bely! Hy het in swakheid gekom; Hy sal in mag terugkeer. Ons staan onder sy gesag! Dit wat van geen ander koninkryk op aarde waar was nie, is waar van hierdie Koninkryk. Dit is: ‘n ewigdurende heerskappy wat nie sal verbygaan nie.
Psalm 2 is pragtig gepas:
“Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van my, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf.”
Let op dat Daniël 7:14 noem dat alle heerskappy en eer en koningskap aan Hom gegee is. Wat het Jesus gesê voordat Hy na die hemel opgevaar het? “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Watter groot seën moes dit nie gewees het vir Daniël en God se mense om hierdie toekoms te sien nie! God sal nie die dier vir ewig laat heers nie. Sy gesag sal van hom af weggeskeur word en aan die Seun van die mens gegee word.
Die oorlog tussen die twee
Ons kyk laastens kortliks na vers 15-28, veral vers 19-28. Hierdie laaste verse volg ‘n patroon wat ons alreeds gesien het. ‘n Patroon wat ons nie moet vergeet nie. Ons sien dit in vers 11 en 12, weer in vers 21 en 22, en weer in vers 25 en 26. Ons vind hierdie siklus herhaaldelik in Openbaring en dit sal voortgaan totdat dit op ‘n hoogtepunt eindig wanneer die Antichris volledig en finaal vernietig word en die heiliges die koninkryk van God beërwe. Die stryd is egter nie verby nie; dit is nie maklik nie en ‘n groot prys word daarvoor betaal.
Hierdie oorlog is die rede waarom Daniël sê hy was diep verontrus en waarom sy gelaatskleur bleek geword het. Al wat Daniël kan sien is dat God se mense in sy koninkryk selfs tot die einde van hulle lewe vervolg gaan word deur ‘n dier en dat God se mense baie sal ly voordat die koninkryk van God kom om te heers. Geliefdes, die dier is nog steeds soos ‘n brullende leeu uit op roof, maar God se planne kan nie gedwarsboom word nie! Vestig jou oë op Jesus! Hy heers as Oorwinnaar!
Dit is veel meer as die blote terugneem van die Israeliete na hulle tuisland; God het planne vir ‘n Koninkryk wat oor die hele wêreld sal strek en mans, vroue, seuns en meisies van elke taal en nasie byeen sal bring om die lewende God te aanbid.
Dit sal egter ondenkbare lyding inhou. Ons kry ‘n kykie in Daniël se hart as ons lees dat sy hart gebreek is oor die mense wat hy nooit sal ken nie.
In Openbaring hoor ons steeds die hartsversugting van God se mense: “Hoe lank, o Heer?!” Hierdie koninkryke dui ook op iets meer. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede van hierdie bose wêreld – teen die onheilige drie-eenheid van vlees, wêreld en Satan.
Ek sluit af met drie praktiese implikasies van hierdie gesig. Eerstens, God se mense moet nooit naïef wees oor die krag, realiteit en blywendheid van die bose nie. Dit is saam met ons in hierdie sondige wêreld. Dit is ‘n bose mag wat kwaad wil aanrig en ons moet nooit sy vermoëns onderskat nie.
Tweedens moet ons onthou dat God se Koninkryk van teenswoordig ‘n koninkryk van lyding is. Ons moet nie net self daarop voorbereid wees nie, maar ons moet een wees met al ons medegelowiges wat swaarkry onder vervolging en verdrukking. Ons moet vir hulle omgee en bid.
Laastens leer Daniël 7 ons dat gebeurtenisse in die geskiedenis nie geïsoleer is van gebeurtenisse buite die geskiedenis nie. Die vraag vir ons is: waar kom ons geskiedenisperspektief vandaan – van onder of van Bo? Die verloop van die mensdom word bepaal in die troonkamer van God Almagtig en dit is ‘n boodskap wat ons almal vandag moet hoor. Christus sit op die troon, geliefdes. Die boodskap van die evangelie het nie aan die kruis geëindig nie – dit het daar begin. Die geskiedenis behoort aan Hom en sy heerskappy het begin. Hierdie hoofstuk toon ons die oorkoepelende konflik tussen die twee koninkryke en gee ons die belofte van oorwinning. Selfs vandag deur die verkondiging van die evangelie word die finale stryd gestry in die koninkryk van die dier. Dit sal in ‘n oogwink vernietig word wanneer ons daardie wonderlike trompetgeskal hoor. Kom ons glo dus dat ons toekoms in sy hande is en dat ons in Jesus Christus sal oorwin.
Amen.