Hierdie week is daar ’n ander koning op die wêreld se verhoog. Sy naam is Darius of Darius die grote. Hy was die vierde koning van die Persiese Ryk, toe die ryk op sy sterkste was. Die grootste gedeelte van Wes-Asië, ’n groot deel van Oos-Europa, Sentraal-Asië, so ver soos die Indus Vallei en gedeeltes van noordelike en noordoostelike Afrika, insluitend Egipte, Libië en die kuslyn van Soedan. Die geskiedenis vertel vir ons dat hy hierdie uitgestrekte en pragtige koninkryk in provinsies verdeel het en landvoogde oor elkeen aangestel.
Dit is presies waaroor ons lees in vers 2-3: “Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd-en-twintig landvoogde aan te stel wat in die hele koninkryk sou wees; en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.” Ek is mal oor goeie storievertelling. Een van hierdie drie is toevallig Daniël, wat regeer oor die 120, wat oor die Persiese Ryk regeer. Dit alles net sodat Daríus nie enige verlies sou ly nie. Konings, en almal wat baie mag het, is altyd bang dat hulle sal uitmis; korrupsie was so erg toe soos wat dit nou is. Die mens se hart het nie verander nie. Maar watter beter oplossing as om ’n Christen wie se integriteit en eerlikheid veronderstel is om sonder verwyt te wees, oor jou hele koninkryk te laat waak.
Wel, Daniël se integriteit, eerlikheid en vaardighede was so fenominaal dat Daríus van plan was om hom oor sy hele koninkryk aan te stel, soos ons in vers 4 lees. Hy kom nie van hierdie wêreld nie, maar hy is verseker betrokke daarby. Altyd getrou in sy diens. Hy was regverdig in alles wat hy gedoen het. Hy het die regte ding gedoen. En die res van die manne kon dit nie aanstaan nie. Hulle was verenig in hulle begeerte om ontslae te raak van hom. Hy sou hulle nooit toelaat om bietjie belastinggeld in hul eie sakke te steek, omkoopgeld te aanvaar of voordeel uit iemand te probeer trek nie. Hulle was tevrede daarmee dat hy een van drie was, want hulle kon altyd na die ander twee gaan. Maar dit was net een te veel om hulle aan outoriteit te hou wat tussen reg en verkeerd onderskei. Die hoë standaard van regverdigheid wat hulle verantwoordbaar sou hou, was net te veel gevra.
Dit is steeds vandag moeilik vir baie mense. Om onder outoriteit te staan. Iemand wat hulle nie kan manipuleer, omkoop of mislei. Iemand wat outoriteit het en besluit wat reg en verkeerd is. Mense hou van beheer. Ons wil besluit wat is reg en verkeerd.
So die politikusse het besluit om van hom ontslae te raak. Soos julle goed weet, is die maklikste manier om van ’n politikus ontslae te raak om net bietjie skandalige inligting oor hom te gaan opsoek. Ongelukkig blyk dit in vandag se leeftyd nie so moeilik te wees nie. Dit lyk of skandale daagliks die koerante se voorblaaie haal. Maar hierdie ouens het gesukkel om selfs net een besmette onderhandeling by hom te vind, selfs net een keer waar Daniël belastinggeld in sy eie sak gesteek het, selfs net een keer waar hy iemand omgekoop het. Niks. Sy rekord was smetteloos. Ek wonder hoeveel Christene se lewens sal onder so ’n soeklig bly staan, waar niemand iets verkeerd kan vind nie. Ons is hier besig met die Bybel, en soos ons deur die verhaal beweeg hoop ek dat dit jou sal begin herinner aan iemand...
Die regverdige word tot die dood veroordeel as gevolg van sy getrouheid aan God.
- Sameswering
- Oordeel
- Verlossing
Sameswering
So wat doen hierdie manne? Wat is die sameswering? Ons sien die planne in die begin van vers 5: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.”
As ons verse 1 tot 6 lees, tref dit my hoe baie hierdie gedeelte in gemeen het met 1 Petrus 2:12-17: “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.”
As Daniël nie ’n lewende bewys is van wat dit is om ’n heilige lewe in ballingskap te leef nie, dan weet ek nie wat is nie. Hy dien die koning met alles wat in hom is. Hy is passievol betrokke, selfs al weet hy dat hierdie koninkryke nie sal bly bestaan nie. Hier is so iemand wat ’n lewe lei onder die heidene waarin niemand enigiets verkeerd kan vind nie. So hulle draai na sy geloof. Kom ons vang hom uit in iets waarvoor ons weet hy nie sal terugstaan nie. Die wet van sy God. Dit herinner my aan Timótheüs waar Paulus vir hom sê dat elkeen wat ’n godvresende lewe vervolg sal word.
So dan beraam hulle hierdie plan waarvan jy in vers 7-10 kan lees. Hulle het die koning oorreed om ’n wet te maak wat niemand toelaat om enige god behalwe die koning te aanbid nie. Hulle kry hom ook so ver om dit in skrif neer te pen, soos ons in vers 9-10 lees: “Stel nou ’n verbod vas, o koning, en laat ’n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van die Meders en Perse onherroeplik is. Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.”
Hier is twee wette wat nie verander mag word nie: Die wet van die Meders en Perse en die wet van God. Daar is net een probleem: hierdie wet staan teenoor ’n hoër wet, wat ook nie verander kan word nie. Hier ontmoet die wet van die mensdom die wet van God. Die wet waarvan Jesus gesê het: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Die wet van die mensdom en die wet van God. ’n Mens moet uiteindelik gee. ’n Mens moet altyd gehoorsaam wees: Altyd in elke omstandigheid. Ten alle tye. In privaatheid en in die publiek.
Ja, ons sal in vrede lewe met alle mense so ver soos wat dit moontlik is. Ons sal ons regering eer. Ons sal bid vir die mense in gesagsposisies. Ons sal werk vir hulle welstand. Maar ons is nie deel van hulle koninkryk nie. Ons is onder ’n hoër wet. Jy kan nie tegelyk God en die koninkryk van die wêreld dien nie. Dit is die een of die ander. Hierdie keuse staan voor Daniël. Die lyn moet weer getrek word.
Maar ek wil hê dat ons op nog iets moet let, iets wat minder opvallend is. Hier word iemand, wat regverdig is, onder die vloek van ’n onveranderlike wet geplaas. Is dit nie presies wat met Christus gebeur het nie? Was dit nie die Regverdige wat onder die vloek van die wet geplaas is nie, juis omdat God se wet onveranderd is en mense tot ’n hoër standaard verantwoordbaar hou: iets wat ’n gewone sondaar nie in staat is om te bereik nie? Hy het gesterf, sy lewe vir ons gegee, sodat ons weer mag lewe volgens die wet van sy lewe.
So wat doen Daniël? Ons lees daaroor in vers 11: “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” Ek is mal oor hierdie gedetaileerde beskrywing van sy gebedslewe. Drie keer op ’n dag het hy tyd gemaak om met sy God te praat. Hy het selfs ’n plek gehad waarheen hy elke dag gegaan het om te bid. Wanneer hy daar was het niemand hom gepla nie. Daar kan hy na die weste kyk in die rigting van Jerusalem, die plek waar God beloof het om sy mense te ontmoet. Die beloofde land. Daar het hy neergekniel en dank gegee. Wat so opmerkbaar is, is dat dit nie die krisis is wat hom op sy knieë gedwing het nie, maar dat hy nie toegelaat het dat dit sy daaglikse roetine ontwrig nie. Soms as die lewe chaoties raak, as ons ’n krisis beleef of as dinge in ons lewe skeefloop, bid ons minder. Nie Daniël nie. Hy het nie meer of minder gebid in tye van krisis of in goeie tye nie. Beide kom van sy Vader in die hemel.
En dan in vers 12 word genoem dat hy vir hulp gevra het. Ironies! Hy het vir God om hulp gesmeek, terwyl sy dood daarvan afgehang het of hy met God praat. Dit is geloof, dat God bestaan, en dat Hy jou kan red van die dood. Wat doen Jesus voor Hy sterf? Hy bid. Sien jy die patroon? ’n Lewe wat in die mees kritieke tye nie probeer om die koning te oorreed, of dinge self te probeer regmaak nie, maar bid. Dit is moeilik. Ons is geneig om dinge self reg te maak. Hier is geloof wat in die publiek ontbloot word en ondersteun word deur ’n gebedslewe in totale afhanklikheid van God. Hy lewe in ’n noue gemeenskap met sy God. Hy het geweet dat hy sonder gemeenskap met God dood sou wees. Maar hy het die suurstof van gebedslewe ingeasem; hy kon nie daarsonder lewe nie.
En dit is waarin hulle hom uitvang. Dit is die fondament van sy lewe. Die ding wat hulle kan kan aanstaan nie: Sy gemeenskap met God. ’n Nederige onderdanigheid aan Sy wil.
Dertig dae is nie lank as dit binne die groter prentjie gesien word nie. Maar vir Daniël was die dood ’n beter opsie as ’n lewe sonder God. Dit bring ons by die tweede punt: die oordeel.
Oordeel
Wel, sy kollegas kan nie wag om hom te verraai nie. Hulle hardloop na die koning nadat hulle seker gemaak het dat hy nie die reëls wat hy gemaak het sou verander nie. Hulle noem hom ’n balling van Juda. As jy twyfel oor iemand wil laat blyk, noem daardie persoon ’n immigrant, of ‘een van daardie mense.’ Identiteitspolitiek. ’n Bekende truuk onder korrupte politikusse. Dis oral rondom ons. Daai is mense van dáárdie groep. Moenie hulle vertrou nie. Hy is nie een van ons nie. Hy is nie betroubaar nie. Selfs in die kerk kan dit so wees. Hy is van dáárdie familie, of sy is hierdie en daardie se dogter. Of, ek ken hulle... hulle sal nie verander nie. Beswaddering, eerder as om jou oordeel te baseer op die individu se integriteit.
Ons lees van die koning se reaksie in vers 15: “Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red.” Die oordeel is die dood. En gee nie om hoe hard hierdie koning probeer nie, hy kan hom nie red nie. Hy kan nie mense red wat veroordeel is om onder die wet te sterf nie. Vir Daniël het daar ’n kuil vol honger leeus gewag. Die dood was Daniël voorland.
Dit is ironies dat hy ’n wet gemaak het waarby hy nie eers kan verbykom om sy eie onderdane te kan red nie. Maar God red sy mense juis omdat hulle wel sy wet onderhou. Hier is ’n man wat onregverdig gely het onder die hande van sondaars. Hy het niks verkeerd gedoen nie. En tog was hy gestraf daarvoor. Die waarheid van woorde se Petrus kom hier weer sterk navore: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete van God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie.” Toe hulle Hom met beledegings gegooi het, het Hy nie teruggestaan nie; toe Hy gely het het Hy niemand gedreig nie. In plaas daarvan het Hy Hom oorgegee aan die Een wat regverdig oordeel.
Hy het homself oorgegee aan die Een wat regverdig oordeel. Dit is die lewe van die Christen; dit is geweldige lewe van Jesus. Die hele hoofstuk is die Bybel se verhaal na die sondeval. Verlossing deur die oordeel. En jy vind die hoogte daarvan by die kruis.
So die koning gooi dan vir Daniël in die leeukuil en bedek die opening met ’n rots wat hy met sy ring verseël sodat sy situasie nie mag verander nie. Toe het die koning huis toe gegaan en nadat hy glad nie kon slaap nie het hy weer na die kuil gehardloop om te sien of Daniël steeds lewend is en Daniël se stem het teruggeroep na hom toe. God het hierdie man van die dood gered.
Nou wil ek net gou ’n paar dinge vergelyk: Daniël, wat regverdig was, was aangekla deur die mense wat jaloers was op hom, deurdat hulle hom skuldig laat lyk het (Dan. 6:5-14). Die koning het die onreg in Daniël se aanklag raakgesien en het probeer om hom te red (6:15). Nogtans was Daniël veroordeel, oorgegee aan ’n definitiewe dood; hy was in ’n kuil gegooi met ’n rots wat die opening bedek en die seël van die koning se ring dra sodat sy situasie nie sou verander nie (6:16-18). Teen dagbreek het die wat oor Daniël se dood gerou het, gekom en gevind dat sy God hom van die dood gered het (6:20-24).
Jesus was ook onskuldig verklaar (Mat. 27:24; vgl Luk. 23:4, 14-15, 22, 41) maar Hy was aangekla deur die wat jaloers was op hom (Mat. 27:18) op grond van valse beskuldigings (Mat. 26:59-61, 27:15-19). Pilatus het die onreg van sy aanklag raakgesien en probeer om Jesus vry te laat (Mat. 27:15-19). Nogtans was Jesus tot die dood veroordeel (Mat. 27:26), en nadat hulle Hom gekruisig is is Hy in ’n graf neergelê met ’n steen wat voor die ingang gerol is (Mat. 27:60) wat later geseël is sodat Sy situasie nie sou verander nie (Mat. 27:66). Teen dagbreek op die eerste dag van die week het die wat gerou het oor die manier waarop Jesus behandel is, gekom en gevind dat God Hom uit die dood opgewek het (Mat. 28:1-10).
Dit is verstommend. Omdat Christus gesterf het, het Daniël nie gesterf nie. Geloof in God beteken nie dat jy nie lyding, vervolging, werksverlies en familie verdriet in die gesig sal staar nie, maar dit beteken wel dat God deur dit alles langs ons sal staan. Jy het geen idee wat jou te wagte is nie. Vertrou altyd op Hom. Dink jy Daniël het geweet wat aangaan, toe meer as honderd van die magtigste manne in die wêreld saamgesweer het om hom van die ‘troon’ te stoot? Toe hulle sy lewe moeisaam gemaak het. Teen daardie tyd begin jy dalk wonder: Waar is God? Maar hy het aanhou bid en God gedank. Dink jy hy het geweet dat God hom sal beskerm? Hy het nie. Tog het hy vertrou. Hy het ’n standvastige geloof gehad daarin dat dit die moeite werd was. Dit was die moeite werd. Want hy het ’n sekuriteit gehad wat die koning nie eers gehad het nie.
Dit bring ons kortliks by die derde punt.
Verlossing
Soos ons reeds gesien het daag die koning daar op om te sien of die een man waarop hy kon staatmaak nog daar was. Al sy mag kon hom nie red van sy eie wet nie, miskien kon God hom red. Dit is presies wat gebeur het, die koning was profeties: Mag jou God jou red, “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.” God het hom gered op grond van sy regverdigheid. Oor en oor en oor is dit die regverdiges wat verhef word en die trotses en goddelose wat verneder word. Hier is ’n man wat verstaan het dat God die regverdige, wat sy toevlug vind by Hom, sal red. Selfs van die dood.
Die een wat op God vertrou sal nie verlaat word nie. Dit is beter om ’n kind van geloof in ’n kuil vol leeus te wees as ’n koning in ’n paleis sonder geloof. Die een is rustig, die ander een moeg, gespanne en angstig. Daríus het gedink dat hy die graf van ’n dooie persoon sal vind. In plaas daarvan het Daniël vir hom gesit en wag, waar hy ’n voorsmaak gekry het van die komende skepping, waar die leeu by die lam sal lê.
’n Kneg van God is onsterflik totdat sy werk klaar is, en dan wag hy om geklee te word met die ware onsterflikheid. Dit beteken nie dat ons nie gaan sukkel, siek word of ly nie. Nee, Daniël moes die leeukuil beleef. Maar God sal niemand van ons laat sterf as ons werk nog nie voltooi is nie, of eerder as Hy klaar is met ons.
In ’n gevalle wêreld besef ons dat daar ’n sombere gebroke kant van verlossing is. Die bevryding van Eva se saad kom altyd met die besering van die enkel. Verlossing deur die oordeel. Maar daar is selfs nog ’n donkerder einde vir die wat teenoor God staan. Hulle word verteer.
Ons sien dit baie duideliker in die Nuwe Testament met die dood van Jesus. Hy moes ’n verskriklike, wrede en pynlike dood sterf. Hy moes deur die pyn en angs van die, letterlike, hel gaan. Maar daardeur is hy opgehef en verheerlik en die koninkryk is aan Hom gegee. En die wat teenoor Hom en sy wet staan, sal verteer word; hulle sal nie in ’n kuil vol leeus gegooi word nie, maar in iets wat die Bybel noem: die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Mag die Heilige Gees die oë open van almal wat hier is, sodat ons ons einde mag sien sonder die bloed van die Verlosser!
Sien jy hoe Jesus presies in die middel staan van die verlossingsgeskiedenis? Die hele boek handel oor Hom. Dit bly ons aan Hom herinner. Aan die manier hoe ons by Hom uit kan kom. Aan sy getrouheid en die uitroep tot gehoorsaamheid. Vanaf Genesis 1:1 tot Openbaring 21 wys die boek vir ons die glorie van Christus, die sentraliteit van sy werk. En hierdie hoofstuk is slegs een tree in daardie glorieryke reis wat Hom meer en meer bekend aan ons maak.
Die regverdige word opgehef en die goddelose word neergewerp. Die koning hef hom op en is oorstelp. Geluk is hier sigbaar net soos dit by die verlossing was. Geliefde gemeente, daar is ’n les vir elkeen van ons in hierdie gedeelte. Jou God is die lewende God. Die enigste Een wat van die dood self kan red! Ons dood is die ingang na die lewe. Die begin van iets buitengewoons mooi.
Jesus het gekom om ons uit die kuil te red, om ons op te hef. Vertrou jy Hom om dit te doen? Hy sal jou verlos. Hy sal jou red. Hy is die Een. Hy het deur die oordeel gegaan om jou te red! Jy sal vir ewig lewe! Volg Hom. Volg die weg van die kruis. En ek is mal oor hoe hierdie historiese gedeelte eindig; dit reik vorentoe en vertel ons van die voorspoed van die regverdige – hulle sal vir ewig en ewig lewe.
Amen.